Hoe kan ’n mens reg wees met God?

Cour gravel

Dit is wat John Cennick in die vroeë tot mid-1700’s wou weet.  ‘Hoe kan ek wéét dat die Here my eendag sal aanvaar?’ het hy gewonder.  Hy het alles in sy vermoë gedoen om vrede met God te hê.  Hy het gevas, gehuil, gebid, die Bybel gelees, sy sondes bely, akkers, blare, krappe en gras geëet.

 

Maar niks het gewerk nie.  Hy moes eers aan die einde van homself kom en besef dat Jesus sy verlossing aan die kruis gekoop het.  Daarna het hy hom nie meer op sy onskuld, pogings of werke beroem nie, maar bely dat Jesus se bloed en lyding sy enigste hoop is.

 

Sy sondelas en vrees vir die hel het verdwyn.  Hy het geweet dat Jesus hom liefhet en vir hom gesterf het.  God se vrede het soos ‘n lig in sy hart ingeskyn en hom met ‘n onbeskryflike vrede gevul.[1]

 

Cennick se belewenis is nie uniek nie.  Meer as 4000 jaar gelede het een van Job se vriende gevra: “Hoe sou dan ‘n mens regverdig wees by God?” (Job 25:4).  Dít is die vraag wat Paulus in Rom. 1:17 beantwoord.

 

  1. Die geregtigheid van God

Voor Martin Luther se bekering het hy gedink Rom. 1:17 verwys na die regverdige oordele van God waardeur Hy ons oordeel.  ‘Ek het die geregtigheid van God gehaat…en was kwaad vir die Here,’ het hy gesê.

 

Na ‘n intense stryd het hy Paulus se woorde verstaan: God gee sy eie geregtigheid as ‘n gratis geskenk aan dié wat in sy Seun glo.  Luther was oorstelp van vreugde: ‘Dit het gevoel of ek geheel en al weergebore is en deur die oop hekke van die paradys ingegaan het.’[2]

 

Kom ons kyk of ons kan sien wat Luther gesien het.  Paulus begin die vers met ‘want’ om te wys hoekom hy in v.16 gesê het dat die evangelie die krag van God tot redding is van elkeen wat glo: dit is omdat God daarin die geregtigheid voorsien wat ons nodig het om voor Hom te staan (v.17).

 

In onsself is ons nie goed genoeg om in sy heilige teenwoordigheid in te kom nie.  Volgens Paulus in Fil. 3:8 is ons geregtigheid soos jou baba se vuil doek of jou hond se mis wat op die gras lê.  Ons beste pogings is so smerig soos ‘n ‘mechanic’ se olie lap of vingernaels, en kan ons nie aanneemlik maak voor God nie (Jes. 64:6).

 

Dit sal dus heeltemal regverdig wees as die Here besluit om ons op die ashoop van die hel te gooi.  Tog het Hy in sy genade gekies om mens te word en onder sy eie wet te staan (Gal. 4:4).  Hy het die wet volmaak gehoorsaam en toe soos ‘n geharde misdadiger gesterf asof Hy dit oortree het (2Kor. 5:21, Gal. 3:13).

 

Dit het Hy vir óns gedoen.  Hoekom was dit nodig?  Ons het die Koning ‘n oneindige bedrag geskuld.  Hy het gesien dat ons dit nie kan betaal nie en ons innig jammer gekry.  Uit sy groot liefde het Hy self die skuld betaal en dit afgeskryf (Matt. 18:23-27, Kol. 2:14).

 

Die rekening het op R0 gestaan.  Ons het nie meer skuld gehad nie, maar was nog steeds brandarm.  Om aan ons die hemel se rykdom te gee, het God die oneindige bedrag van Christus se geregtigheid vir ons inbetaal.  Nou is die hemelse Boekhouer en Bankbestuurder tevrede.

 

Om op te som kan ons sê dat Jesus se kruisdood ons skuld betaal het, en dat sy lewe van geregtigheid ons so ver in die krediet plaas, dat ons dit nie sal kan uitput nie.  Die genade wat Hy vir ons inbetaal het kan nie opraak nie.  Ons is inderdaad skatryk (2Kor. 8:9)!

 

Hoe moet ons die bg. waarhede toepas?

 

[a] Die self-regverdige persoon

Geen mens is regverdig nie (3:10), en daarom help dit nie dat jy deur jou goeie werke of godsdienstige pogings probeer om God se guns te wen nie (10:3).  Jy kan net sowel $900 triljoen se skuld met 5-sente probeer afbetaal.

 

Dalk dink jy dat jy nie só sleg is nie, en dat jy deur jou goeie lewe die Here se aandag kan trek.  Maar of jy nou R1 of R100 het, jy kan nog steeds nie ‘n eersteklas kaartjie na die Bahamas toe bekostig nie.  God se standaard is volmaaktheid; geen mens kan dit bereik nie.  Christus alleen het dit bereik, en daarom het ons sý geregtigheid nodig.

 

[b] Die hopelose ongelowige

Dalk dink jy dat jy te erg teen die Here gesondig het, en dat Hy jou nie kan vergewe nie.  Maar as jy met ‘n berouvolle hart bid dat die Vader Jesus se perfekte lewe en kruisdood in jou plek aanvaar, sal Hy jou nie wegwys nie.

 

Hy sal jou deur die kristalhelder lense van Jesus se lewe en kruisdood bekyk.  Al kom jy met die vuilste hart na Hom toe, sal Hy jou onmiddellik met die skoon klere van Christus se geregtigheid bedek (Sag. 3:3-5).

 

Voortaan sal Hy jou so heilig en regverdig soos Christus self beskou.  Hy sal nooit vir jou sê dat jy nié na Hom toe kan kom nie; die deur is altyd oop.

 

[c] Die onkundige Christen

Het jy ‘n beter kans om deur die Here aanvaar te word omdat jy vandag jou Bybel gelees het, of omdat jy op ‘n geestelike bergtop is?  Is die kans dat die Here jou aanvaar kleiner omdat jy gister gesondig het, of omdat jy vir twee dae nie gebid het nie?

 

Partykeer dink ons dat ons eers ‘n spul goeie werke moet doen en onsself genoeg moet slaan, voordat die Here ons sal aanvaar.  Ons rus gans te maklik op ons goeie werke, stiltetyd en gebede, en nie in Christus alleen nie.

 

Thomas Brooks het gesê: ‘It is not your [quiet time], but…Christ that must save you.  If a man has no share in Christ, he may perish with “Our Father” in his mouth.’[3]

 

Die Here aanvaar jou op grond van Jesus se lewe en kruisdood, en nie op grond van iets wat jy doen of nié doen nie.  Sê dan vir jou goeie werke, stiltetyd en gebede: ‘I will rest no more in you, but now I will rest only in the bosom of Christ, the love of Christ, the righteousness of Christ.’[4]

 

[d] Die persoon wat afgedwaal het

As Christus jou geregtigheid is, is Hy ook jou heiligmaking (1Kor. 1:30).  Iemand by wie die vrug van heiligmaking afwesig is, moet wonder of hy die wortels van regverdigmaking het.  God het ons tog nie geregverdig om onheilig te wees nie, het Hy (Gal. 1:4, Tit. 2:14)?

 

[e] Die beproefde gelowige

Wonder jy hoekom die Here jou straf?  Dit mag wees dat Hy jou tugtig, maar omdat Hy sy Seun in jou plek gestraf en sy geregtigheid aan jou toegereken het, is jou beproewing nie ‘n veroordeling nie (8:1).  Dit is tot jou voordeel (5:1-5, 8:28, Heb. 12:10-11).

 

  1. 2. Uit geloof tot geloof

As jy skaap tjops met groente en gebakte aartappels eet is dit nie jou keel wat jou versadig nie, maar die kos.  En tog het jy ‘n keel nodig om die kos in jou maag te kry, sodat dit jou kan versadig.

 

Net so is dit nie geloof wat jou red nie, maar God se genade.  En tog het jy die keel van geloof nodig om die smullekker kos van God se genade in te neem en te ontvang.  Wat beteken dit om te glo?

 

  • Jy móét glo dat God sy Seun gestuur het om ons te red.
  • Jy móét glo dat Jesus volkome God is, en dat Hy volkome mens geword het.
  • Jy móét glo dat Jesus die Vader volmaak gehoorsaam het.
  • Jy móét glo dat Hy op Golgota die straf ontvang het wat ons moes kry.
  • Jy móét glo dat Hy begrawe is en op die derde dag liggaamlik opgestaan het uit die dood.

 

Geloof is nie ‘n sprong in die donker, asof jy dinge blindelings aanvaar, ‘n kans vat, jou oë toeknyp en hoop vir die beste nie.  Nee, geloof is gebaseer op iets wat in die geskiedenis gebeur het.  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” (Heb. 11:1).

 

Geloof is niks minder as om die historiese feite van Christus se Persoon, lewe, kruisdood, begrafnis en opstanding te aanvaar nie.  Maar dit is meer as dit.

 

Om in Jesus te glo beteken dat jy op Hom vertrou, net soos wat jy op die grond vertrou om jou gewig te dra.  Iemand wat op Christus vertrou sal sy sonde na Hom toe bring om vergewe te word.

 

En as Hy jou gered het sal jy deur die geloof lewe: “uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (v.17).  Wat beteken dit?  Daar is vier moontlikhede.

 

[a] In 2017 wou Gavin niks van die Here weet nie.  Vandag glo hy in die Here.  Hoe het dit gebeur?  Volgens Ef. 2:8 en Fil. 1:29 het God hom in staat gestel om te glo.  Die geloof het uit God tot Gavin se hart gekom: ‘uit geloof tot geloof’.

 

[b] Toe Nick die evangelie met Phillip deel en hy tot bekering kom, het hy as’t ware sy geloof met hom gedeel: ‘uit geloof tot geloof’.

 

[c] Rentia is nou al vir 10 jaar ‘n Christen.  Haar geloof het van een vlak na die volgende toe gegroei: ‘uit geloof tot geloof’ (vgl. (2Kor. 3:18).

 

[d] Tannie Martie het in 1942 ‘n Christen geword toe sy in Jesus glo.  Sy het deur die jare in Hom geglo, en noudat sy op haar sterfbed lê glo sy nog steeds in Hom.  Van begin tot einde was haar Christelike lewe een van geloof (2Kor. 5:7, Kol. 1:23): ‘uit geloof tot geloof’.

 

Al vier moontlikhede is waar, maar uit die konteks lyk dit of Paulus die laaste een bedoel.  Sy aanhaling van Hab. 2:4 bevestig dit: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (v.17).  Wat beteken dit?

 

Net soos Maria Magdalena en Timoteus in die Nuwe Testament, is Ou Testament gelowiges deur die geloof geregverdig (4:22-25, Gal. 3:6-7).  Hulle het geglo in die Messias wat sou kom.  Hab. 2:4 illustreer dit.

 

God het vir die profeet gesê dat die Babiloniërs teen Jerusalem sou kom om dit te verwoes.  Daarna sou die Here húlle platvee en die regverdige Jode wat in Hom glo laat lewe.

 

Omdat Jesus 600 jaar later vir hulle sou lewe en sterwe, het Hy hulle onskuldig en regverdig verklaar.  Maar hulle geloof was nie ‘n eenmalige aksie nie: hulle het aangehou glo.

 

Net so word ons deur die geloof geregverdig (hfst. 1-5, Gal. 3:11), maar glo ons voortdurend dat God aan ons die krag sal gee om heilig te lewe (hfst. 6-8, Heb. 10:38).  Ons benodig geloof vir regverdigmaking sowel as vir heiligmaking.  Wat is die verskil?

 

Regverdigmaking is die hof se verklaring oor die misdadiger wat in Jesus glo: ‘Jesus het sy volmaakte rekord met joune geruil en jou skuld betaal.’  Jy is skuldig en verdien om gestraf te word, maar deur Jesus verklaar die Vader jou onskuldig en regverdig.

 

In regverdigmaking doen God nie iets in jou nie, maar aan jou: Hy maak ‘n verklaring oor jou.  Een kommentator sê: ‘…in justification God does not change us but accepts us as we are.’[5]

 

Heiligmaking is die proses waarin God iets in ons doen, waarin Hy ons regverdig maak.  Dit sal aanhou totdat jy jou asem uitblaas en in die hemel is.  Dáár sal jy in realiteit word wat jy nou in status is: onskuldig en regverdig.

 

Mense is geneig om die orde van regverdigmaking en heiligmaking om te keer.  ‘As ek goed genoeg lewe sal die Here sê dat ek regverdig is en my in die hemel toelaat,’ is hoe hulle redeneer.  Dit het een van twee dinge tot gevolg.

 

Aan die een kant is mense self-regverdig en hoogmoedig, omdat hulle dink hulle is goed genoeg om in God se teenwoordigheid in te kom.  Hulle sien neer op dié wat (in hulle oë) nie so goed is soos hulle nie.

 

Aan die ander kant raak mense mismoedig en leef hulle in onsekerheid.  Hulle weet nooit of hulle genoeg gedoen het om God se guns te wen nie.  Later beskou hulle Hom as ‘n harde Regter wat hulle nie wíl red nie.

 

Maar dit is omdat hulle die kar van heiligmaking voor die perde van regverdigmaking span.  Hulle is gewoonlik die tipe mense wat hulleself eers wil verander voordat hulle na die Here toe kom.

 

Maar as hulle regverdigmaking en heiligmaking in die regte volgorde gesit het, sou hulle eerste met ‘n berouvolle hart na die Here toe kom en die evangelie glo.  Hulle sou hulle sonde gebring het en vir die Here gevra het om hulle te verander.

 

Heiligmaking sou die gevolg van hulle regverdigmaking wees, en nie die oorsaak nie.  Ons doen nie goeie werke om gered te word nie, maar omdat ons gered is (Ef. 2:8-10).

 

Goeie werke is die toets van ware geloof (Jak. 2:14-26).  Indien jy dus onheilig lewe moet jy nie roem en sê dat die Here jou regverdig verklaar het nie (selfs al glo jy dat Jesus vir jou aan die kruis gesterf het).

 

Die hervormers het Paulus se leer oor regverdigmaking deur die geloof soos volg saamgevat: ‘It is faith alone which justifies, but the faith which justifies is not alone.’[6]  Regverdigmaking lei altyd tot heiligmaking.

 

Die implikasie hiervan is dat jy nie in jou biduur by die werk saam met iemand kan bid wat hierdie lering verwerp nie.  Iemand wat sê dat ons nie deur geloof alleen gered word nie, verkondig ‘n ander evangelie en is nie ‘n Christen nie (Gal. 1:8-9).

 

Nog ‘n implikasie is dat jy nie gemeenskap moet hê met mense wat sê dat hulle die evangelie glo, terwyl hulle onheilige lewens wys dat hulle nie deur die geloof geregverdig is nie.  Met so iemand moet jy nie eers saam eet nie (1Kor. 5:11).

 

Dit beteken nie dat iemand eers goed genoeg moet wees voordat die Here hom aanneem nie.  Te veel kerkmense trap in hierdie strik.  Tannie Sarie sal bv. soos volg oor haar oulike kleinseun spog: ‘Ooo, dis ‘n goeie kind daai.  Ek is seker dat hy reguit hemel toe gaan!’

 

Dalk het jy by oom Frik se begrafnis gehoor hoe iemand sê: ‘Hy was ‘n fantastiese mens.  Hy het so goed gelewe.  As hý nie in die hemel is nie, weet ek nie wie is nie.’

 

Sulke gesprekke laat dit klink of God sy geregtigheid aan goeie mense gee wat dit verdien.  Maar v.17 en die res van die Nuwe Testament (3:22, 28, 4:3, 5, 22-24, 5:17, 9:30, Fil. 3:9) sê dat God dit gratis gee aan slegte mense wat in sy Seun glo.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970, pp. 299-302

[2] Vry vertaal uit Michael Reeves, The Unquenchable Flame, B&H Academic, Nashville: Tennessee, 2009, pp. 47-48

[3] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2006 (1665), p. 196

[4] Thomas Brooks, Precious Remedies Against Satan’s Devices, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1984 (1652), p. 141

[5] Douglas Moo, The NIV Application Commentary: Romans, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2000, p. 57

[6] John Piper, Future Grace, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1995, p. 21