Die laaste dae volgens Jesus

Last days clock

‘n Amerikaanse teoloog genaamd R.C. Sproul het ‘n boek met die bg. titel geskryf.  Hoe het Jesus die laaste dae verstaan en wat het Hy daarvan gesê?  Vir die volgende paar weke gaan ons Matt. 24-25 van nader bekyk.  Vandag sal ons net die eerste drie verse van Matt. 24 bestudeer.

 

  1. Die agtergrond (v.1-2)

Stuart Olyott is ‘n Walliese prediker.  Hy het by ‘n konferensie gesê dat ons vlugtig deur Luk. 21 moet lees (Matt. 24:1-35 se eweknie).  ‘Iemand wat sê dat dit oor die wederkoms gaan, het dit nie behoorlik bestudeer nie,’ het hy gesê.  Die konteks wys dat hy reg was.

 

In Matt. 23 het Jesus die Joodse leiers se skynheiligheid aangespreek.  Hulle was geldgierig, korrup, en het die armes uitgebuit.  Hulle het nie eers gehuiwer om dit in die tempel te doen nie (21:12-13, Luk. 20:47-21:4).  Die res van die volk het hulle voorbeeld gevolg.

 

Dwarsdeur die geskiedenis het Israel die profete vermoor en uiteindelik haar eie Messias gekruisig (23:34-37, vgl. 21:33-39, 27:20, 23, 25, Hand. 2:22-23, 36, 7:52).  Gevolglik het Jesus besluit om die tempel en stad te verwoes, en die evangelie na die heidene toe te stuur (23:38, 21:41).

 

Jesus het die tempel verlaat (v.1).  Dit beteken nie net dat Hy weggeloop het nie, maar dat God se heerlikheid die tempel verlaat het (vgl. Eseg. 10).  Hy het sy rug op die volk gekeer en besluit om die tempel te verwoes (vgl. Jer. 7:12-15).

 

Jesus het in 23:38 gesê dat die tempel ‘n hoop bou rommel gaan word.  Dit het die dissipels verwar.  Terwyl Hy van die tempel af wegloop het een van die dissipels die tempel se massiewe wit marmer stene (sommige van hulle 12 x 3.6 x 3.6 meter) en goue versierings uitgewys (Mark. 13:1).  Die ander dissipels was net so in hulle skik (v.1, Luk. 21:5).[1]

 

Maar uiterlike skoonheid het nie vir Jesus beïndruk nie.  Hy het gesien dat die volk se harte korrup is (hfst. 23, Joh. 2:24-25), en het gesê dat die tempel heeltemal verwoes sal word: daar sou nie een klip op ‘n ander bly staan nie (v.2).

 

Dit het inderdaad so gebeur.  In 70 n.C. het die Romeinse generaal Titus hout stellasies teen die tempel mure laat oprig en dit aan die brand gesteek.  Die intense hitte het die stene laat krummel.  Die Romeine het dit gesif om die goud uit te kry, en die bou rommel in die Kidron vallei gaan stort.[2]

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?  As ons s’n ‘n uiterlike godsdiens sonder lewe is, sal die Here ons verlaat (v.1, hfst. 23, Op. 3:16).  Hy gee nie om hoe goed, mooi, godsdienstig en indrukwekkend jy vir ander lyk nie; wat saak maak is die hart (v.1, hfst. 23, 1Sam. 16:7).

 

Is jy dieselfde persoon voor mense as wat jy is waar niemand jou sien nie?  Leef jy by die huis soos wat jy by die werk, skool, kerk en ander publieke plekke lewe?  Ken ander mense jou soos wat jou man, vrou, ouers of kinders jou ken?

 

Of is jy soos ‘n verkleurmannetjie wat by jou omgewing aanpas?  Hoe sien die Here jou?  Dalk het jy al die gesegde gehoor: ‘What a man is on his knees before God, that he is, and nothing more.’

 

Wat ek eintlik vir jou vra is of jy skynheilig is?  Leef jy ‘n dubbele lewe?  Behoort jou hart aan die Here alleen, of staan jy soos Simson met een voet in die wêreld (Rigt. 14:1-3, 16:1, 4, 20-21, Jak. 1:8, 1Joh. 2:15-16)?

 

Kan jy Christenskap vlot praat, sonder dat jy die krag daarvan ken (23:3, 2Tim. 3:5)?  Leef jy heilig?  Kan jy goed voor ander bid, maar jy weet nie wat dit beteken om agter ‘n toe deur op jou knieë te gaan en met die Here te praat nie (23:5, 6:5)?

 

Beoefen jy jou godsdiens voor ander, maar jy het nie ‘n persoonlike verhouding met die Here waarin jy gedurende die dag aan Hom dink en tot Hom bid nie (23:5, 6:5)?

 

Gee jy finansiële bydraes vir die kerk waar mense kan sien jy gooi iets in die sakkie, of waar mense jou naam op die bankstate kan sien, maar in jou persoonlike begroting is daar nie plek vir ander om jou wat sukkel nie (23:23, 6:1-2)?

 

Jy sê dat jy nie geld het om sendelinge te ondersteun nie, maar as dit jou pas het jy geld vir McDonald’s of nóg ‘n paar skoene (al is daar 7 pare in jou kas wat jy in meer as ‘n jaar nie gedra het nie).

 

Lyk jy uiterlik soos ‘n goeie mens, terwyl jy innerlik vol van selfsugtige plesiere, gierigheid, boosheid en ander sondes is (23:25-28)?  Haat jy die sonde wat in jou hart is en stry jy daarteen (Rom. 7:18-19), of koester jy dit in die geheim terwyl jy net maak of jy die Here dien (23:28)?

 

Hardloop jy m.a.w. saam met die hase, terwyl jy saam met die honde blaf?  Noem jy jouself ‘n Christen, maar eintlik wil jy jou doodskaam as jy langs ‘n regte Christen staan wat nie bang is om by ‘n braai oor die Here te praat nie?

 

In jou opinie is die persoon te radikaal, maar eintlik is hy of sy net ‘n konsekwente Christen.  Jý is eintlik die een wat nog nie weergebore is nie.  O, jy het ‘n bekeringsdatum en ken ‘n honderd of meer Christelike terme, maar jou lewe wys dat jy nie gered is nie.

 

Ek wil jou aanmoedig om jou te bekeer.  Vra die Here om met sy alsiende oog in jou hart in te kyk.  Erken dat jy nie eers al die sonde sien wat soos bakterieë in die krake van jou hart wegkruip nie.

 

Sê vir Hom dat jy deur jou skynheilige lewe sy goeie Naam deur die modder gesleep het.  Bely dat dit ‘n ernstige oortreding is om sy heilige Naam met jou sondige leefstyl te assosieer: jy het jouself ‘n Christen genoem, maar nie soos een geleef nie.

 

Vra vergifnis dat jy tot nou toe gedink het jy is gered, omdat jy jou met Christelike mense en dinge vereenselwig.  Daardeur het jy die bloed van Jesus goedkoop geag.  Jy het gedink dat jy in jouself goed genoeg is, en dat jy nie sy kruisdood nodig het nie.

 

Wees bowenal dankbaar dat Jesus ook vir skynheilige mense gesterf het.  Weet dat sy bloed jou skynheilige hart kan skoon was.  Hy is almagtig en kan ‘n skynheilige hart in ‘n opregte een verander.  Glo dat Hy daartoe in staat is en verlaat jou op sy genade.  Wag geduldig op Hom.  Hy sal vir jou deurkom en jou nie in die steek laat nie.

 

Maar as jy jou nie bekeer nie, sal jou straf erger as die moordenaar en verkragter s’n wees (Luk. 12:47-48).  “Hulle sal ‘n swaarder oordeel ontvang.” (Luk. 20:47).  Soos die Here Jerusalem en die tempel verwoes het (v.2), sal Hy jou verwoes (10:28, 2Tess. 1:9).

 

Dalk is jy ‘n gelowige en het God die bg. Woorde soos ‘n swaard gebruik om in jou hart in te sny, en vir jou dinge te wys wat jy nie voorheen gesien het nie (Heb. 4:12-13).  Ek het vroeg vanoggend vir jou gebid dat die Here die salf van vertroosting op jou wonde sal smeer.

 

Die Here het jou lief en wil jou nie seermaak nie.  Hy doen dit tot jou beswil en wil hê dat jy soos Jesus moet wees.  Hy is soos ‘n dokter wat jou seermaak omdat Hy jou wil help (Heb. 12:10-11).  Vra vergifnis dat jy jou hart tussen Jesus en die wêreld verdeel het (Jak. 4:4).  Vra dat die Here jou hart sal verenig om net aan Hom te behoort (Ps. 86:11).

 

Miskien het die bg. lering jou glad nie aangespreek nie.  Dit kan een van twee dinge beteken.

 

[1] Jou gewete is al so hard dat hierdie dinge jou nie eers pla nie.  Jy is baie naby daaraan om die onvergeeflike sonde te pleeg, indien jy dit nie alreeds gedoen het nie (Spr. 29:1).

 

[2] Jy lewe naby die Here en haat skynheiligheid soos die pes.  As jy dit in jou hart sien, gebruik jy die wapens van Ef. 6:10-20 om daarteen te veg.  Dank die Here dat Hy jou gehelp het om Hom opreg lief te hê.

 

Maar bid ook Dawid se woorde in Ps. 139:23-24: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”

 

  1. 2. Die vraag (v.3)

Uit die aard van my beroep doen ek dikwels berading.  Die man wat my geleer het, het gesê dat jy mooi na iemand moet luister voordat jy vir hom raad gee (Spr. 18:13).

 

Ek het eenkeer verleë gevoel toe ek sy raad ignoreer.  ‘n Man was besig om iets te vra.  Voor ek klaar geluister het, het ek vir hom gewys wat die Bybel oor sy situasie sê.  Toe ek klaar gepraat het, toe sê hy: ‘Dit is nie wat ek bedoel het nie.’  Ek het soos ‘n aap gevoel.

 

Net so dink ek dat mense soms in Matt. 24 te gou na die wederkoms toe spring, omdat hulle nie mooi na die dissipels se vraag luister nie.  Die dissipels was geskok toe Jesus sê dat die tempel verwoes gaan word (v.2).  Dit het hulle hele wêreldbeskouing omgekeer: die tempel met sy offers, priesters, aanbidding en meer.

 

Toe hulle op die Olyfberg kom het Petrus, Johannes, Jakobus en Andreas Hom hieroor gevra (Mark. 13:3).  “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” wou hulle weet (v.3).  In die res van hfst. 24 en 25 beantwoord Jesus hierdie vraag.

 

Ons kan die dissipels se vraag in twee verdeel.  Die eerste deel gaan oor die verwoesting van die tempel, terwyl die tweede deel oor die voleinding van die wêreld gaan.

 

Die dissipels het gedink dat die twee saamval, maar Jesus wys dat dit aparte gebeurtenisse is.  Matt. 24:4-35 gaan oor die verwoesting van die tempel, terwyl Matt. 24:36 tot aan die einde van Matt. 25 oor die wederkoms handel.

 

Hoe weet ons dit?  In v.3 verwys hierdie dinge na die verwoesting van die tempel (v.2), en in v.34 sê Jesus dat al hierdie dinge (die dinge wat in v.4-33 beskryf word) in die eerste eeu sou plaasvind.

 

Jesus sê in geen onsekere terme dat v.4-33 in die leeftyd van ‘hierdie geslag’ sou plaasvind nie (v.34).  Is die res van Matteus verwys ‘hierdie geslag’ na die geslag vir wie Jesus gepreek het (sien 11:16, 12:41, 42, 45, 23:36).

 

Verder sê Jesus in v.36: “Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”  Jesus kontrasteer die verwoesting van Jerusalem met die wederkoms.

 

Dit is asof Hy sê: ‘Daar is duidelike tekens wat die verwoesting van die tempel in 70 n.C. voorafgaan, maar m.b.t. die wederkoms is daar nie tekens nie – dit sal skielik en onverwags gebeur (v.36-51).

 

‘Julle wil graag weet wanneer die tempel verwoes sal word, en kan ook (v.2-3).  Maar niemand behalwe die Vader weet wanneer Ek weer kom nie (v.36, 25:13).’

 

‘Maar hoekom praat die dissipels dan in v.3 van die teken van sy koms?’ wil iemand weet.  Die koms in v.3 dui nie op die wederkoms nie, maar op die Here se koms in oordeel op Jerusalem.  Jesus het op twee plekke in Matteus van hierdie koms gepraat en gesê dat dit in die dissipels se leeftyd sou plaasvind:

 

“voorwaar Ek sê vir julle, julle sal met die stede van Israel sekerlik nie klaar kry voordat die Seun van die mens kom nie.” (10:23).

 

“Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.” (16:28).

 

Volgens sommige verwys lg. teks na Petrus, Johannes en Jakobus wat in Matt. 17 saam met Jesus op die berg van verheerliking was, en ‘n voorskou van sy wederkoms gesien het.

 

Maar as dit Jesus se bedoeling was, maak dit nie sin om te sê dat party van die dissipels sou lewe toe Jesus op die berg geklim het nie.  Almal van hulle het nog gelewe!

 

Matt. 16:28 kan ook nie oor die wederkoms gaan nie, omdat nie een van die apostels nog op die aarde is om dit van hierdie kant af te sien nie.  Dit blyk dus dat hierdie vers Jesus se oordeel oor Jerusalem in 70 n.C. voorspel.

 

Dit beteken egter nie dat daar nie ‘n wederkoms is nie.  Ek glo dat die einde van v.3 die wederkoms voorspel.  Die dissipels het Jesus oor die voleinding van die era [Gk. aiōn] of wêreld gevra.  Volgens 13:39-40, 49 sal dit gebeur wanneer Jesus die wêreld oordeel, en volgens 28:20 sal Hy ons tot dan help om die nasies te dissipeleer.

 

Wat leer v.3 vir ons?  Ek wil een les uitlig.  Moenie die verwoesting van Jerusalem en die wederkoms met mekaar verwar nie.  Ek hoop om jou in die res van die reeks te oortuig dat die groot verdrukking waarvan die Bybel praat in die verlede lê, en nié in die toekoms nie.

 

Ek het reeds uit v.34 gewys dat die groot verdrukking en alles wat in v.1-33 beskryf word in die dissipels se tyd sou plaasvind.  Volgens v.38 sal die omstandighede voor Jesus se wederkoms nié wees soos wat dit voor die verwoesting van Jerusalem was nie.

 

In die tyd van die Puriteine, George Whitefield, Jonathan Edwards en die moderne sendingbeweging (William Carey, David Livingstone en ander), was mense optimisties oor die eindtyd.[3]

 

Kerkvaders soos Origenes (185-254 n.C.) en Athanasius (296-373 n.C.) was ook optimisties.[4]  In die 1500’s het Calvyn geglo dat Christenskap uiteindelik die dominante godsdiens op aarde sal wees, en in die 1800’s het Spurgeon dit geglo.[5]

 

Die oorgrote meerderheid van mense na die hervorming het geglo dat daar voor die wederkoms ‘n wêreldwye herlewing sal wees.  Ek glo dat hulle reg was.  Volgens die Bybel sal Christus se Koninkryk progressief groei, totdat dit die wêreld oorneem (Dan. 2:35, 44, Matt. 13:31-32).

 

Jesus sal aan die regterhand van die Vader regeer totdat sy vyande een vir een aan sy voete onderwerp is (Ps. 110:1, 1Kor. 15:25).  By Jesus se wederkoms sal Hy ons opwek en die laaste vyand (die dood) oorwin (1Kor. 15:26).

 

Islam, Kommunisme, Hindoeïsme, Buddhisme, evolusie, ateïsme, die kultusse, en die res van Jesus se vyande sal voor die wederkoms soos ‘n siek man op ‘n sterfbed lê.

 

Christenskap sal die wêreld domineer.  Israel se bekering sal lei tot ‘n herlewing onder die heidene (Rom. 11:12, 15).  So sal die groot opdrag van Matt. 28:19 suksesvol wees: al die nasies van die aarde sal die Here ken en Hom aanbid (Gen. 12:3, Ps. 22:28, 72:17, 86:9, Mal. 1:11).

 

“die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Jes. 11:9).  “En hy sal heers van see tot see en van die Rivier tot by die eindes van die aarde… En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word!” (Ps. 72:8, 19).

 

In 1536 het Johannes Calvyn ‘n boek oor die basiese leerstellings van die Christelike geloof geskryf: Die Institusie van die Christelike Godsdiens.  In sy voorwoord aan Francis I, die koning van Frankryk, het hy die volgende geskryf:

 

‘Maar ons leer [die Christelike geloof] moet bo al die roem en mag van die wêreld onoorwonne en verhewe wees.  Dit is nie ons leer nie, maar die leer van die lewende God en sy Christus, wat deur die Vader as Koning aangestel is om “van see tot see te heers, en van die riviere tot by die eindes van die aarde” (Ps. 72:8).

 

‘Hy sal so heers dat Hy die hele aarde met sy yster en brons krag, met sy goue en silwer glans tref.  Soos wat mens ‘n kleipot stukkend slaan, sal Hy dit met die roede van sy mond verpletter.  Só het die profete oor die heerlikheid van sy ryk geprofeteer (Dan. 2:32-35, Jes. 11:4, Ps. 2:9).’[6]

 

Alhoewel die laaste dae van die Nuwe Testament sleg begin het, glo ek dat dit goed sal eindig.  Al stem jy nie saam met my siening oor die eindtyd nie, wil ek vra dat die woelinge in ons land en wêreld jou nie so negatief maak dat dit jou aandag van Jesus aftrek nie.

 

[1] John MacArthur, The MacArthur Study Bible, note on Matt. 24:1

[2] Ibid., note on Matt. 24:2

[3] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol.1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970, p. 544.  Sien ook Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971

[4] Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope, P&R Publishing, Phillipsburg: New Jersey, 1999, pp. 28-29

[5] Mathison, Ibid., pp. 39-40; Murray, p. xiv

[6] Vry vertaal uit John Jefferson Davis, Christ’s Victorious Kingdom: Postmillennialism Reconsidered, Audubon Press, Laurel: MS, 2006 (1986), p. 16