Onbeskaamd evangelies

Unashamed of the Gospel

My vrou se Amerikaanse vriendin het haar dogtertjie aangespreek, omdat sy met die landsvlag wou speel.  ‘You must never disgrace the flag!’ het sy gesê.

 

Ek hou van ons land, maar voel nie patrioties daaroor nie.  Ek het van die ou volkslied gehou, maar stem nie saam met die reëltjie wat sê: ‘Ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou, Suid-Afrika’ nie.  Ek voel verseker nie so sterk oor my land dat ek daarvoor sal sterf nie.

 

Ek voel ook nie so oor enige politieke party nie, en sal nie vir my taal sterf nie.  Nie eers my denominasie is vir my so belangrik nie, en dus steur ek my nie aan mense wat sê: ‘Ek is gebore Baptis!’ nie.  Ek wil weet of jy ‘n wedergebore Baptis is?  Is jy onbeskaamd evangelies?

 

Met evangelies verwys ek nie na alles en almal wat Jesus en die kerk se naam daaraan gekoppel het nie.  Ek verwys na mense wat die evangelie glo soos wat Paulus dit gepreek het.  Is dit jou lewe, sodat jy bereid is om daarvoor te sterf?  In Rom. 1:16 gee Paulus vier redes hoekom hy hom nie vir hiérdie evangelie skaam nie.

 

  1. Dit is die KRAG van God

Omtrent ‘n jaar gelede het Ford ‘n slegte naam gekry toe hulle Kuga-modelle aan die brand slaan.  Gestel jy het Kuga’s verkoop.  Sou jy jou kliënte in die oë kon kyk en aan hulle ‘n probleem-vrye rit verseker?  Soos Enterprise sou jy jou kop in skaamte moes sak.

 

Maar met die evangelie is dit nie so nie.  Omdat dit betroubaar en kragtig is om mense te red, hoef jy jou nie daarvoor te skaam nie (v.16).  Niemand het nog ooit kop onderstebo na die Here toe terugkeer en gesê: ‘Ek het die evangelie geglo en dit het nie gewerk nie’ (9:33).

 

Die evangelie is nie ‘n stukkende muurprop nie, maar die krag van God waardeur Hy mense wat geestelik dood is lewend maak (v.16, 1Kor. 1:18).

 

Wys vir my iets of iemand anders wat dit kan doen?  Wys vir my hoe jy deur slim redenasies, dreigemente, skuldgevoelens, beloftes van rykdom en plesier of selfs wonderwerke iemand se bose natuur verander (Luk. 16:31, Hand. 4:16-17, 1Kor. 1:22).

 

Die sondaar kan homself nie eers deur sy wil verander nie.  As jy wat ‘n Christen is dit nie eers sonder sweet en gebed kan regkry nie, hoe moet ‘n ongelowige sy hart verander?

 

Net soos ‘n luiperd nie sy kolle kan verander of ‘n Etiopiër sy vel nie, kan geen mens homself wederbaar en in ‘n Christen verander nie (Jer. 13:23).  Hy het God se krag in die evangelie nodig, omdat net Hý die mens kan nuut maak, wederbaar, en aan hom ‘n nuwe hart kan gee (v.16, Eseg. 36:25-27, Joh. 3:3, 2Kor. 5:17, Tit. 3:5).

 

Was dit nie so met Paulus nie?  Of het hy op ‘n dag besluit om sy hart vir die Here te gee en nie meer Christene dood te maak nie (Hand. 9)?  En wat van Paulus se prediking: is dit nie so dat die Here Lidia se hart geopen het om Paulus se evangelie te verstaan nie (Hand. 16:14)?

 

My Bybel sê vir my dat dit die Here is wat mense wederbaar en hulle in staat stel om hulle te bekeer en die evangelie te glo (Joh. 1:13, 3:6, 8, Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:1, 5, 8-9, Fil. 1:29, 2Tim. 2:25, 1Pet. 1:3).

 

Kan iemand na Jesus toe kom as die Vader hom nie trek nie (Joh. 6:44, 65)?  Kan hy die Vader ken as Jesus nie sy blinde oë oopmaak nie (Luk. 10:21-22)?

 

Die dag voordat Derek Thomas tot bekering gekom het, het hy nie geglo daar is nie ‘n God nie.  ‘n Ateïs in die 1700’s het probeer om mense van sy siening te oortuig, maar toe George Whitefield die evangelie preek het hy kragdadig tot bekering gekom.[1]

 

Het hierdie mense deur hulle vrye wil tot bekering gekom?  Of het God die ewige lewe in hulle harte ingeblaas?  Wat van jou bekering: het jy op ‘n dag besluit om jouself te wederbaar?  Of is jy soos die res van ons uit God gebore (Joh. 1:13)?

 

Volgens v.16 is die evangelie die krag van God tot redding.  Dit is nie die krag van God plus die vasberadenheid van die sondaar nie.  God se krag in die evangelie is sterk genoeg.  Dit is so sterk dat Hy die slegste sondaar in ‘n goeie mens kan verander.

 

Glo jy dat sy krag in die evangelie jóú kan verander?  Glo jy dat dit sterk genoeg is om jou slegte vriend, familielid, kollega, kind in jou klas of boelie by die skool te verander?  Of het jy nie veel hoop vir hulle nie?  In daardie geval wil ek jou aanraai om weer oor v.16 te dink.

 

Omdat die evangelie die krag van God is vir elkeen wat glo, het Paulus hom nie daarvoor geskaam nie (v.16).  Ek moet eerlik sê dat ek my vir die evangelie sou skaam as ek soos party Christene glo jy kan jou redding verloor.

 

Sal jy nie skaam wees om vir iemand te sê: ‘Die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo’ (v.16), terwyl jy in jou agterkop dink: ‘Ongelukkig kan dit nie jou finale redding verseker nie, want as jy êrens langs die pad droogmaak kan jy jou redding verloor’ nie?

 

Ek sal my doodskaam vir ‘n evangelie wat van mense se flou en feilbare pogings afhang.  Paulus se evangelie is die krag van God om sondaars veilig in die hemel te bring (Fil. 1:6, Heb. 7:25, 1Pet. 1:5).  God maak nie beloftes van ‘n ewige lewe vir dié wat in sy Seun glo (Tit. 1:2, 1Joh. 2:25), terwyl Hy nie eintlik die krag het om dit te vervul nie (v.16).

 

Die Here is nie soos Allah nie.  Sura 3:54 en 8:30 in die Koran noem hom die groot bedrieër [Arab. makr].  Toe Mohammed sy opvolger (Abu Bakr) van ‘n plek in die paradys verseker, het hy gesê: ‘Ву Allah! I would not rest assured and feel safe from the deception [Arab. makr] of Allah, еvеn if I had onе foot in Paradise.’[2]

 

As die Here so onbetroubaar soos Allah was, sou dit heeltemal rasioneel gewees het om jou vir die evangelie te skaam.  Maar Hy is nie so nie.  God se belofte in v.16 is waar: die evangelie is die krag van God tot redding vir elkeen wat glo.

 

Jy kan dit dus met oortuiging deel en vir mense sê dat dit werk.  Moet jou nie daarvoor skaam nie, maar wees onbeskaamd evangelies (v.16, Mark. 8:38, 2Tim. 1:8).

 

Dit help nie om maar net die evangelie in jou kop te ken nie.  Die duiwel ken dit ook.  Die vraag is of jy al hierdie verlossingskrag in die evangelie ervaar het (v.16)?  Of jy net dat jy ‘n Christen is, terwyl jy nog nooit die krag gehad het om jou sondige begeertes en gewoontes af te lê nie (v.16, 2Tim. 3:5)?

 

In daardie geval is jy soos ‘n ou tannie in Kanada.  Sy was baie vrygewig en voorbeeldig, en het gereeld kerk toe gegaan.  Almal het gedink sy is ‘n Christen, maar na baie jare het sy besef dat sy nog nooit God se krag in die evangelie ervaar het nie; sy was nie weergebore nie![3]

 

Voor ek vir jou sê hoe jy God se krag in die evangelie kan ervaar, gaan ek jou vertel wat dit doen.

 

  1. 2. Dit is krag van God tot REDDING

Toe John Bunyan jonk was het hy vreeslike gevloek.  Om aan sy woorde gesag te gee, het hy ‘n vloekwoord voor en na elke gewone woord gesê.[4]  Iets het gebeur sodat hy sy vuil taal gelos het.  Maar hy het nog nie tot bekering gekom nie.

 

Dit is dus heeltemal moontlik om sekere sondes te los sonder dat jy tot bekering kom.  Dink maar aan ‘n ongelowige dronkaard wat deur die AA gerehabiliteer word, maar nie tot bekering kom nie.

 

Hoekom sê Paulus dan dat die evangelie die krag van God tot redding is, as ander godsdienste en morele programme ons ook van afbrekende en sondige gewoontes kan red?

 

Menslike pogings kan jou help om jou morele sokkies op te trek.  Dit kan jou help om een of twee sondes te los.  Maar dit kan nie maak dat jy heeltemal anders is nie.  Dit kan jou nie van selfsugtige begeertes bevry nie.  Dit kan nie selfregverdige, geldgierige, hoogmoedige, wellustige en bitter gedagtes wegvat nie.

 

Die evangelie kan, en is dus meer as net ‘n sentimentele boodskap op iemand se yskas.  Dit is die goeie nuus waardeur God mense se lewens van binne af verander.  Die evangelie red ons van sewe dinge (v.16).

 

[a] Die duiwel

Toe die duiwel ons versoek om sy wil te doen, het ons soos zombies agter hom aangeloop (Ef. 2:2, 1Joh. 5:19).  Maar deur Jesus se kruisdood het Hy die duiwel se mag oor ons gebreek (16:20, 2Kor. 4:4, 6, 1Joh. 3:8).  Nou is ons nie meer sy slawe nie, maar behoort ons aan Jesus.

 

[b] Die wêreld

Jou lewe het soos die res van die mense by jou skool en werk s’n gelyk.  Jy het dieselfde belange en doelstellings gehad, en in jou taalgebruik, verhoudings en vermaak was jy soos hulle (1Joh. 2:16).

 

Al was jy nie deel van die populêre groep nie, het jy vir jouself en jou plesiere gelewe.  Niemand was vir jou belangriker as jý nie.  Jou dagdromery, selfbejammering en obsessie met jouself het dit gewys.

 

Maar Jesus het jou daarvan bevry.  Jy haat dit dat jy so baie aan jouself dink, en sug omdat jy die Here en ander mense eerste wil stel.

 

[c] Die dood

Voorheen het jy die dood gevrees maar deur sy kruisdood en opstanding het Jesus dit oorwin.  Nou is ons nie meer bang vir die dood nie (Ps. 23:4, 1Kor. 15:55, Heb. 2:14-15).  Dit is maar net die geroeste traliehek waardeur ons in God se heerlike teenwoordigheid inkom (2Kor. 5:8, Fil. 1:21, 23).

 

Wanneer Jesus weer kom sal Hy ook jou liggaam uit die dood uit opwek (1Kor. 15).  Die Here red dus nie net jou siel nie, maar ook jou liggaam (8:23).  Die evangelie is goeie nuus vir Christene wat kanker het, asook vir dié wat langs ‘n medegelowige se graf staan.

 

[d] Die straf van sonde

Ons het op allerhande lelike maniere teen die Here gesondig en verdien om vir ewig in die hel gestraf te word (Op. 21:8).

 

Maar op Golgota het die Vader se toorn soos ‘n verterende vuur op sy Seun geval (Jes. 53:4, 10).  Jesus het gewilliglik die straf in ons plek gedra, sodat ons nie in die vuur van God se toorn hoef te ly nie (Jes. 53:5-6, Gal. 3:13).

 

[e] Die mag van sonde

Soos ‘n vlieg in ‘n spinnerak was ons in die net van ons sonde vasgevang.  Ons kon nie loskom nie en wou ook nie (8:7-8).  Ons het dit geniet om dronk te word, te skinder, selfsugtig te wees, seksueel losbandig te wees, te steel sonder dat iemand ons uitgevang, en ander sondes te doen.

 

Die Heilige Gees het ons oë geopen om ons onsself in die spieël van God se wet te sien.  Ons het probeer om te verander maar kon nie.  Jesus het soos ‘n held gekom en die ysterboeie van ons sonde gebreek (Joh. 8:34, 36).  Nou is sonde nie meer ons baas nie (Rom. 6).

 

[f] Die plesier van sonde

Voorheen was dit lekker om sonde te doen, net soos wat dit vir ‘n baba lekker is om grond te eet.  Maar noudat ons die roomys en biltong van die evangelie geproe het, is dit nie meer lekker om die grond van sonde te eet nie (6:21, 7:19, Luk. 22:62).

 

[g] Die teenwoordigheid van sonde

Sonde is soos ‘n dodelik virus wat jy nie kan afskud nie.  A.g.v. Jesus se kruisdood kan dit jou nie doodmaak nie, en met die Gees se hulp kan jy dit domineer.  Maar partykeer maak dit jou nog siek (Gal. 5:17).

 

As jy eendag by die Here is, sal jy nie meer die virus hê nie.  In die hemel en op die nuwe aarde sal sonde nie teenwoordig wees om ons siek te maak nie.

 

Met dít in gedagte kan jy sê dat jy gered is (Ef. 2:8), dat die Here besig is om jou te red (1Kor. 15:2), en dat Hy jou sal red (Heb. 9:28).  In teologie noem ons dit regverdigmaking, heiligmaking en verheerliking.  Om só gered te word moet jy die evangelie glo.

 

  1. 3. Dit is krag van God tot redding vir elkeen wat GLO

Ek onthou hoe iemand eenkeer gevra het ons moet bid dat hy geloof sal verstaan.  Dit is nie ‘n dom vraag nie, aangesien die duiwels in God glo maar ongered is (Jak. 2:19).  Wat beteken dit dan om in Jesus te glo?

 

Ek sal in die volgende preek hierop uitbrei, maar wil ten minste die volgende sê.  Die Grieks vir geloof [Gk. pisteuō] staan in ‘n voortdurende tydsvorm.  Dit is dus nie genoeg om te sê dat jy in 1992 die evangelie geglo het nie.  Die vraag is of jy nóú die evangelie glo?

 

As jy waarlik gered is sal jy, volgens Matt. 10:22 en Kol. 1:23, in die geloof volhard.  As jy jou rug op die Here draai en nie meer in Hom glo nie, was jy nooit waarlik gered nie (1Joh. 2:19).

 

  1. 4. Dit is krag van God tot redding vir ELKEEN wat glo

‘n Paar jaar gelede wou ‘n man my oor sy probleme sien.  Ek het hom by sy huis gaan sien en die evangelie met hom gedeel.  Toe ek hom kerk toe nooi het hy gevra of daar swart mense in ons kerk is.

 

Ek het vir hom gesê dat Jesus vir alle mense gesterf het, dat daar al swart mense in ons dienste was, en dat ons dit verwelkom.  Hy het in geen onduidelike terme vir my gesê dat hy nie na ons kerk toe sal kom nie.

 

In George Whitefield se tyd het mense geglo dat slawe bo diere is, maar onder mense.  Hulle het geglo dat slawe nie met die evangelie bereik kan word nie.  Die slawe het gewonder of hulle gered kan word, en het vir Whitefield gevra: ‘Het ek ‘n siel?’[5]

 

Volgens v.16 is niemand buite die evangelie se bereik nie, en is dit vir almal.  Dit is eerste vir die Jood, omdat God hulle in die Ou Testament gekies het om sy volk te wees.  Jesus was ‘n Jood en het die evangelie eerste aan hulle verkondig (3:2, 9:4-5, Matt. 10:5-6, 15:24, Joh. 4:22).

 

Maar toe hulle dit verwerp, het Hy na die heidene toe gedraai (Matt. 21:41, Hand. 13:45-48, 18:5-6, 28:28).  Daarom is die evangelie ook vir nie-Jode of Grieke (v.16).

 

Laat ons dan nie in ons evangelisasie sekere individue of groepe uitsluit, asof hulle nie gered kan word nie.  Laat ons nie ons land, kultuur, taal, denominasie, persoonlike gemak of iets anders meer liefhê as die Here, die evangelie en ander mense se siele nie.

 

Ons moet soos Spurgeon wees.  Met die opening van hulle nuwe kerkgebou het hy gesê: ‘…the subject of the ministry in this house, as long as this platform shall stand, and as long as this house shall be frequented by worshippers, shall be the person of Jesus Christ.

 

‘I am never ashamed to avow myself a Calvinist; I do not hesitate to take the name of Baptist; but if I am asked what is my creed, I reply, “It is Jesus Christ.”’[6]

 

Ek voel dieselfde en is onbeskaamd evangelies.

 

[1] Arnold Dallimore, George Whitefield: vol. 1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1970, pp. 569-570

[2] Khalid Muhammad Khalid, The Successors of the Messenger [translated by Muhammad Mahdi AI-Sharif], Dar Al-Kotob Al-Imiyah, Beirut-Lebanon, p. 99

[3] Iain Murray, Martyn Lloyd-Jones: The First Forty Years, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1982, p. 270

[4] John Bunyan, Grace Abounding to the Chief of Sinners, Whitaker House, Springdale: PA, 1993, p. 16

[5] Dallimore., pp. 498-499

[6] Arnold Dallimore, Spurgeon – A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1985, p. 99