Leer uit ander mense se foute

Learn from mistakes of others 1

Ek het eenkeer vir ‘n ouer Christen gevra hoekom hy so baie in geskiedenis belangstel.  ‘Dit help o.a. dat ek nie die foute herhaal wat ander mense gemaak het nie,’ het hy gesê.  Hy het m.a.w. uit ander mense se foute geleer.

 

Volgens Rom. 15:4, 1Kor. 10:11 is dit ‘n Bybelse beginsel.  Paulus sê: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe… Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons…”

 

Vandag wil ek hierdie beginsel gebruik om uit koning Hiskia se foute te leer.  Maak asb. jou Bybel oop by Jes. 38-39.

 

  1. Hiskia se siekte (38:1-8, 21-22)

‘n Oom wat ek geken het, het eenkeer in die hospitaal beland.  Terwyl hy daar gelê het, het hy van koning Hiskia se siekte gelees: “In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die HERE: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.” (38:1).

 

Op grond hiervan het hy gedink hy gaan nie gesond word nie.  Toe hy dit vir sy vrou sê was sy glad nie beïndruk nie.  Hiskia was ook nie bly toe Jesaja die nuus met hom deel nie.  Hoe sal jý voel as iemand vir jou sê om jou familie bymekaar te roep, en vir hulle opdrag te gee oor wat hulle met jou geld en besittings moet doen as jy weg is?

 

Toe Hiskia die slegte nuus hoor het hy sy gesig na die muur toe gedraai en gebid (38:2).  Hy het bitterlik gehuil en by die Here gepleit om sy lewe te spaar (38:3).  Ons sal later sien hoekom hy bang was en nie soos Paulus uitgesien het om by die Here te wees nie.

 

Hiskia het die Here aan sy opregte lewe herinner (38:3).  Hy het inderdaad reg gelewe (2Kon 18:3, 5-6, 2Kron. 31:20-21), maar het ook ernstige foute begaan soos om Egipte se hulp bo die Here s’n te kies (Jes. 30-31).

 

Hiskia was dus verkeerd om te dink dat die Here hom op grond van sy goeie lewe moet verhoor.  Nogtans het die Here sy trane gesien en sy gebed verhoor.  Jesaja was nog nie behoorlik deur die voorhof van die paleis nie, toe die Here hom met hierdie woorde na Hiskia toe terugstuur (38:4, 2Kon. 20:4):

 

“Gaan sê vir Hiskía: So spreek die HERE, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg” (38:5).  Hiskia was bly toe die Here sy lewe spaar, maar dit het nadelige gevolge gehad.  Sy seun Manasse is kort hierna gebore, en was die slegste koning wat Jerusalem ooit gehad het (2Kron. 32:33-33:1).

 

Die Here het verder belowe om vir Hiskia en Jerusalem uit Assirië se hand te red (38:6).  Saam met 38:1 (“in dié dae”) dui hierdie vers aan dat Hiskia se siekte vóór Assirië se aanval op Jerusalem gebeur het.  Dit is asof Jesaja Assirië se aanval in hfst. 36-37 beskryf, en dan in hfst. 38-39 sê: ‘Kom ek wys vir jou hoekom dit gebeur het.’  Ek sal later hierop uitbrei.

 

Hiskia wou nie ongelowig wees soos sy pa Agas nie, en het daarom vir ‘n teken gevra (vgl. 7:10-14).  ‘Wat is die teken dat die Here my sal genees en dat ek Hom op die derde dag in die tempel sal aanbid?’ het hy gevra (38:22, 2Kon. 20:5, 8).

 

‘Moet die Here die skaduwee op jou pa se sonhorlosie tien trappies vorentoe, of tien trappies agtertoe beweeg?’ het Jesaja gevra (2Kon. 20:9).  ‘Agtertoe asb.,’ het Hiskia gesê (2Kon. 20:10).    Toe Jesaja die Here aanroep het dit so gebeur (37:8, 2Kon. 20:11).

 

Het die aarde agtertoe gedraai, of het die Here die lig gemanipuleer en die skaduwee terug geskuif?  Die teks sê nie vir ons nie.  Hiskia het wel besef dat die Here wat die son beheer (Jos. 10:12-13), hom van sy siekte kon genees.

 

God het hom nie deur ‘n wonderwerk genees nie, maar het deur Jesaja gesê hulle moet medisyne gebruik (38:21).  Hulle het ‘n vyekoek op sy sweer gesit.  Die sweer het waarskynlik ‘n dodelike infeksie veroorsaak.  Gedroogte vye is baie goed om swere te behandel, en help vir meer as 40 ander siektes (kyk gerus op die internet).

 

  1. Hiskia se psalm (38:9-20)

Partykeer raak Christene teleurgesteld, omdat die Bybel nie met die realiteit strook nie.  As jy só voel, moet jy een van twee dinge doen.

 

[1] Lees Prediker.  Salomo het met dieselfde vrae as jy gesukkel.  Jy sal gou agterkom dat die Bybel nie lugkastele bou nie, maar dat dit met die harde realiteit te doen het.

 

[2] Onthou dat die Bybel-skrywers soms hulle persoonlike omstandighede beskryf.  Dit beteken nie noodwendig dat jy dinge soos hulle gaan ervaar nie.  As Dawid bv. in Ps. 103:3 sê dat die Here al sy siektes genees het, bedoel hy nie dat die Here alle gelowige se siektes gaan genees nie (sien bv. 2Kon. 13:14, 20).

 

Hou dit asb. in gedagte wanneer jy Hiskia se psalm lees.  Hy probeer nie om ‘n teologie van lewe na die dood te formuleer nie, maar beskryf sy persoonlike omstandighede (38:9).  Hy het gedink dat die Here hom in die middel van sy lewensjare vir die doderyk bestem het (38:10).

 

‘Ek sal nie meer die Here, sy werk en ander mense in die land van die lewendes sien nie,’ het hy gesê (38:11).  ‘Soos ‘n herder sy tent afslaan, sal die Here my lewe afslaan; soos ‘n wewer sy materiaal afsny en oprol, sal Hy my lewe kortknip en oprol (38:12, Job 7:6).  So gou soos wat die dag in nag verander, sal die Here my lewe beëindig (38:12-13).

 

‘Ek het probeer om in die nag kalm te bly, maar dit het nie gehelp nie.  Die Here was soos ‘n leeu wat my bene breek (38:13).  Daar was nie ‘n kans dat ek hierdie siekte sou oorleef nie.  Ek kon skaars praat en het nie eers die krag gehad om op te kyk nie (38:14).  Ek het soos ‘n swaeltjie of kraanvoël getjirp, en soos ‘n duif gekerm (38:14).  “Kan die Here nie my genesing waarborg nie?” het ek gewonder (38:14, 7-8).

 

‘Hy het!  Hy het!  Die Here het my van my bitter siekte genees.  Voortaan sal ek versigtig lewe en nie weer sonde doen, sodat die Here my daarvoor moet tugtig nie (38:15, 17).  Ek het my les geleer, en glo dat ander ook daaruit sal leer om nie die weg van sonde te kies nie (38:16).

 

‘Diep in my hart weet ek dat die Here hierdie bitter siekte gestuur het om my te bevoordeel (38:17).  In sy groot liefde het Hy my van die graf of kuil van verwoesting gered (38:17).  Hy het die sonde wat sy tugtiging oor my gebring het agter Hom gesit (38:17, Ps. 103:12, Miga 7:19).

 

‘As ek gesterf het sonder dat my sonde vergewe is (38:17), sou ek hel toe gaan waar die dooies nie die Here prys of dank nie, en waar daar vir hulle geen hoop is om uit te kom nie (38:18).  Die Here het my sonde vergewe en my laat lewe, en daarom prys ek Hom saam met die lewendes (38:19)!

 

‘Ek sal God se getrouheid aan die volgende geslag verkondig (38:19, Gen. 18:19, Deut. 6:7, Ps. 78:1-8).  As ons die Here met snarespel in die tempel prys, sal almal weet dat Hy my genees en van die dood gered het (38:20).

 

  1. Hiskia se sonde (39:1-8)

‘n Bietjie agtergrond sal ons help om Jes. 39 beter te verstaan.  Soos ek in die vorige preke gewys het, was Assirië die wêreld se supermag.  Babilon wou egter die titel oorneem, en daarom het koning Merodag Baladan teen die Assiriërs gerebelleer.

 

In 721 v.C. het hy homself die koning van Babilon gemaak.  In 709 v.C. het koning Sargon van Assirië hom gevange geneem.  Toe Sargon in 705 v.C. oorlede is, het Merodag Baladan weer teen Assirië gerebelleer en sy koningskap opgeneem.

 

In 703 v.C. het hy ‘n veldslag teen die Assiriërs gewen.  Met ‘n paar helpers kon hy die Assiriërs finaal van die tafel afvee.  Terwyl hy sy planne gemaak het, het hy gehoor dat Hiskia siek was, gesond geword het, en dat die skaduwee op die sonhorlosie tien trappies agtertoe beweeg het (39:1, 38:8, 2Kron. 32:31).

 

Dit was die kans waarvoor hy gewag het.  Hy het afgevaardigdes met geskenke Jerusalem toe gestuur (39:1).  Hy het ook briewe geskryf waarin hy vir Hiskia gevra het om saam met hom teen die Assiriërs te veg (39:1).[1]

 

Die Here dit gebruik om te wys hoeveel hoogmoed daar in Hiskia se hart is (2Kron. 32:25, 31).  Hiskia was bly dat iemand hom teen die Assiriërs kon help (39:2).  Hy het met sy rykdom en voorraad gespog, so asof hy gesê het: ‘Ek is heeltemal daartoe in staat om jou teen die Assiriërs te help’ (39:2, 2Kron. 32:27-30).

 

Hiskia het nie erken dat die Here was wat Hom ryk gemaak het nie (2Kor. 32:29).  Hy het nie vertel hoe die Here hom genees het nie.  Hy het nie gesê dat die Here daartoe in staat is om tyd terug te draai nie.

 

Hiskia het nie in die Here geroem nie, maar in homself.  Jesaja het hom hieroor uitgevra.  Hy het met trots vertel hoe hy al sy rykdom vir die Babiloniërs gewys het (39:3-4).

 

‘Jou rykdom beteken niks nie Hiskia!’ het Jesaja hom bestraf.  ‘Eendag sal die Babiloniërs jou skatte na hulle eie land toe wegvoer.  Hulle sal jou nageslag wegvoer en hulle amptenare in die koning van Babilon se paleis maak’ (39:5-7, 2Kon. 24:12-13, 25:6-7, 13-17, Dan. 1:2-3, 7).

 

Dit het nie eers vir Hiskia gepla nie.  Hy was net dankbaar dat dit in die toekoms gelê het, en dat daar in sy tyd vrede sou wees (39:8).

 

Wat leer hierdie twee hoofstukke vir ons?

 

[1] Soos met Hiskia is die dag van jou dood en die res van jou lewe in God se raadsplan (38:5, 46:10, Job 14:5, Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 19:21, 20:24, Pred. 3:1-8, Jer. 10:23, Ef. 1:11, Jak. 4:13-15).

 

Beteken dit jy moenie bid nie, omdat die Here buitendien sy planne in jou lewe gaan vervul?  Nee.  Die Here bepaal nie net die einddoel nie, maar ook die middele.  Hy het besluit om sy planne deur gebed in jou lewe te vervul.

 

Toe Daniël bv. in Jer. 29 lees dat Juda vir 70 jaar in Babilon sou wees, het hy nie gesê: ‘Die Here het dit bepaal, en daarom hoef ek nie te bid nie.’  Hy het eerder gesê:  ‘Omdat die Here dit bepaal het, gaan ek bid en vra dat Hy sy planne volbring’ (sien Dan. 9).

 

Dít is hoe jy moet redeneer.  God se soewereiniteit moet jou nie minder laat bid nie, maar meer.  As jy nié bid nie, skiet jy jouself in die voet: “julle het nie, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4:2).

 

[2] Hiskia het gedink dat die Here hom op grond van sy goeie lewe sal verhoor (38:3).  Maar t.s.v. sy verkeerde idee het die Here hom verhoor (38:4-6).  Die Here word nie beperk omdat jy verkeerd bid nie (38:3).  Hy antwoord jou tog nie op grond van jou elegante woorde nie, maar op grond van Jesus wat vir jou gesterf het, sy getrouheid aan Homself en sy beloftes, en sy goedheid aan dié wat in Hom glo.

 

[3] Nog voordat Assirië in hfst. 36-37 teen Jerusalem geveg het, het die Here belowe om die stad te beskerm (38:6).  Maar ten spyte daarvan was Hiskia benoud (37:1, 3).

 

Is ons nie ook so nie?  Die Here belowe om in jou behoeftes te voorsien, en sê vir jou om nie angstig te wees nie (Matt. 6:25-34).  Jy werk hard en mors nie jou geld nie, maar sodra daar ‘n nood ontstaan wat jy nie voorsien het nie raak jy angstig.  Moenie so wees nie, maar glo die Here se beloftes en herinner Hom daaraan (Jes. 62:6-7).

 

[4] As die Here wil, kan Hy ons op buitengewone maniere help.  Ons moet egter nie verwag dat dit altyd so moet gebeur nie.  As ons alewig ‘n wonderwerk soek, sal ons nalaat om die Here te dank as Hy besluit om ons op gewone maniere te help.

 

Ons sal bv. vir almal vertel dat die beste dokter in die land aan ons gewerk het, en dat dít die rede is hoekom ons lewe om die storie te vertel.  Maar sonder die Here kon die dokter jou nie help nie (2Kron. 16:12, Luk. 8:43).

 

Gód is immers die een wat sekere middels in die skepping gegee het, sodat ons daardeur genees kan word (38:21).  Hý gee aan mense die wysheid om medisyne in die regte mates en kombinasies af te meet en te meng.  Laat ons dus baie versigtig wees om vir Hóm die krediet te gee as ons gesond word, of as Hy ander krisisse in ons lewens oplos.

 

Omdat dit God is wat ons genees, moet ons nie aan medisyne verslaaf raak of daarby sweer nie.  Aan die ander kant moet ons onthou dat medisyne God se gawe aan ons is.  Ons moet dus nie soos sommige mense weier om dit te gebruik, omdat ons kamtig op die Here vertrou om ons te genees nie.  Dit is nie meer geestelik om sonder medisyne genees te word, as om ‘n pil vir jou rugpyn te drink nie.

 

[5] As jy ‘n gelowige is, is elke beproewing tot jou voordeel (38:17).  Jy sien dit nie nou raak nie, maar later sal die Here vir jou wys dat Hy besig was om jou meer soos Jesus te maak (Ps. 119:67, 71, 75, Rom. 8:28-29, Heb. 12:10-11).  ‘The providence of God is like a Hebrew word – it can only be read backwards.’ (John Flavel).[2]

 

[6] Hiskia het geglo dat sy siekte die direkte gevolg van ‘n persoonlike sonde is (38:17).  Maar dit beteken nie dat almal a.g.v. ‘n persoonlike sonde siek is (Job 1-31, Joh. 9:1-3), of dat almal wat gesond is reg lewe nie.

 

Dit is nie verkeerd om te wonder of jy a.g.v. ‘n persoonlike sonde siek is nie (1Kor. 11:30).  Maar jy moet jouself ook nie kasty om die sonde te vind wat jou siekte veroorsaak het nie.  Rus eenvoudig in die Here se algenoegsame genade (2Kor. 12:7-10).

 

[7] As jy die Here ken en jou sonde vergewe is, hoef jy nie die dood te vrees nie (38:18, Joh. 11:25-26, 1Kor. 15:55, Fil. 1:21, Heb. 2:14-15).  Soos met Paulus, Lasarus en die dief aan die kruis, is die dood die swart perd voor die goue koets wat jou na Jesus toe vat (Luk. 16:22, 23:43, 46, 2Kor. 5:8, Fil. 1:23).  Wanneer Jesus weer kom sal Hy jou liggaam uit die dood uit opwek (1Kor. 15:35-58, 1Tess. 4:13-18).

 

[8] Hiskia het in homself geroem (39:2).  Dit was ook die rede hoekom God die Assiriërs teen hom gestuur het (2Kron. 32:25).  Toe hy en die volk hulle voor die Here verneder, het dinge vir hulle reg geloop (37:1, 14-20, 2Kron. 32:26).

 

Roem dus in die Here en nie in jouself nie (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31, 2Kor. 10:17).  As jy hoogmoedig is, is jy soos die duiwel en sal die Here jou aktief teenstaan; as jy nederig is, is jy soos Jesus en sal God jou genadig wees (Jak. 4:6).

 

Onthou ook dat alles wat ek en jy het van die Here af kom, en dat ons nie in onsself kan roem nie (1Kor. 4:7).  ‘n Jong predikant het eenkeer vir Martyn Lloyd-Jones gevra om te bid dat hy nie hoogmoedig word nie.  ‘Wat het jy om oor hoogmoedig te wees?’ het Lloyd-Jones hom geantwoord.

 

[9] My vrou het ‘n gawe.  Sy kan kyk hoe iemand teëls lê of iets mooi van draad maak, en dit dan self regkry.  Net so moet ons Jes. 38-39 fyn dophou en uit Hiskia se foute leer.

 

[1] [1] Falvius Jospehus, The Antiquities of the Jews, Book 10, ch. 2, par. 2.  [2] D. Guthrie & J.A. Motyer, New Bible Commentary: Third Edition, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1970, p. 364.  [3] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, pp. 291, 296

[2] Ek is nie presies seker waar hierdie aanhaling vandaan kom nie, maar reken dat dit uit Flavel se boek, The Mystery of Providence (Banner of Truth) uit kom.