Vrae en antwoorde oor die evangelie

Questions and Answers

Ek het ‘n paar weke gelede vir jou gesê dat die gemiddelde Afrikaanse kerkganger nie die evangelie verstaan nie.  Die ‘evangelie’ wat ek oor die afgelope paar jaar uit Afrikaners se monde gehoor het klink só:

 

‘Jy moet jou beste doen om in die hemel te kom.  Niemand kan dit op sy eie regkry nie, maar met God se hulp is alles moontlik.  Ek probeer om volgens die Bybel te leef, en as ek fouteer vra ek God se vergifnis.

 

‘Ek hoop dat die Here my poging sal aanvaar.  Ek is nie perfek nie, maar ten minste probeer ek.  Ek glo die Here sal verstaan; Hy is mos ‘n genadige God.’

 

Maar dit is nie hoe Paulus die goeie nuus of evangelie verstaan het nie – ten minste nie volgens Rom. 1:1-7 nie.

 

  1. Waar kom dit vandaan? (v.1-2)

Omtrent 14 jaar gelede het ‘n Hindoe vir my gesê dat sy godsdiens 5000 jaar oud is, en dat die evangelie nou maar eers 2000 jaar oud is.  ‘Jou godsdiens is ‘n baba teen myne,’ het hy gesê.

 

Volgens Paulus is hy verkeerd.  Die evangelie kom van God af en het in sy hart bestaan nog voor Hy die wêreld gemaak het (v.2, Tit. 1:2).  In die Ou Testament het Hy dit deur die profete belowe (v.2, 3:21, 1Kor. 15:3-4, Luk. 24:25-27, 44).  Deur hulle het Hy dit in die Bybel laat opteken (v.2, 2Pet. 1:20-21).

 

Onthou dit as jy ooit weer die evangelie betwyfel of bevraagteken.  Hoe kan ‘n boodskap wat honderde en duisende jare voor die tyd in detail voorspel is, onwaar wees?  Hoe anders verduidelik jy dat Jes. 53 en Ps. 22 tot op die letter in Jesus se kruisdood vervul is?

 

‘n Jood genaamd Rich Ganz vertel hoe ene Hans van Seventer Jes. 53 vir hom gelees het.  Hy was woedend dat Hans dit gedurf het om vir hom, ‘n Jood, uit die Nuwe Testament te lees.  Hy was geskok toe Hans die oop Bybel vir hom gee en hy ‘Jesaja’ bo-aan die bladsy sien.

 

Hy kon nie glo dat Jesaja hierdie woorde 700 jaar voor Jesus se dood geskryf het nie.  God het dit gebruik om hom te oortuig dat die Nuwe Testamentiese evangelie waar is, en het hom daardeur tot bekering gebring.[1]

 

Paulus het hierdie einste evangelie verkondig (v.1).  Hy was ‘n apostel en dienskneg daarvan (v.1).  Voor sy bekering het hy Christene gehaat en hulle vervolg (Hand. 8:1-3, 9:1-2, Gal. 1:13, 1Tim. 1:13a).  Maar terwyl hy Damaskus toe gereis het om hulle te arresteer, het Jesus hom koud in sy spore gestop.  Hy het hom gered en geroep om ‘n apostel of gestuurde te wees (v.1, Gal. 1:1, Hand. 9:3-19, 1 Kor. 9:1, 1Tim. 1:13b-16).

 

Paulus kon die roeping nie weerstaan nie.  Hy wou ook nie.  Hy kon nie glo dat Jesus hom voor sy geboorte reeds hiervoor afgesonder het nie (v.1, Gal. 1:15).  Hy was bly dat hy nie meer ‘n slaaf van sy sonde was nie (6:16), en het dit as ‘n voorreg beskou om ‘n slaaf van Jesus Christus te wees (v.1).

 

Deur die Gees het Jesus hom afgesonder en gestuur om die evangelie aan verlorenes te verkondig (v.1, Hand. 9:15, 13:2, 26:17).  Die ywer waarmee hy voorheen die kerk vervolg het, het hy nou gebruik om die evangelie met mense te deel (Hand. 9:20-30, 13:1-28:31, Gal. 1:23).

 

Die evangelie waardeur die Here vir Paulus verander het, is dieselfde evangelie waardeur Hy in 2018 mense se lewens omkeer.  As jy ooit gedink het dat jy of iemand wat jy ken te ver heen is om gered te word, onthou vir Paulus.  Laat dít jou opnuut aanvuur om vir die slegste sondaars te bid en die evangelie met hulle te deel.

 

  1. 2. Waaroor gaan dit? (v.3-4)

John Piper het ‘n boek hieroor geskryf.  Die titel is: God is the Gospel.  Hy is reg.  Die evangelie gaan nie oor iets nie, maar oor Iemand.  Dit is o.a. hoekom Paulus dit die evangelie van God noem (v.1).  In v.3-4 wys hy dat Jesus hierdie God is.  Hý is die inhoud van die evangelie; dit gaan oor Hóm.  Stuart Olyott sê: ‘The gospel is a Person.  He is a Man, and He is God.’[2]

 

Paulus begin deur te sê dat Jesus uit die nageslag van Dawid is (v.3, Matt. 1:1).  Hy is dus die Messias en regmatige Koning van Israel (Ps. 132:11).  Soos ons, is die Seun van God uit ‘n vrou gebore en het Hy mens geword (v.3, Joh. 1:14, Gal. 4:4).

 

Om te wys dat Hy nie nét ‘n mens is nie maar volkome God, is Hy uit ‘n maagd gebore (Matt. 1:18, 20, 23, Luk. 1:34-35).  Jesus is volkome God en volkome mens, twee nature in een Persoon.

 

Sy Goddelike natuur het duidelik geword toe die Heilige Gees Hom uit die dood uit opwek (v.4, Hand. 13:29-33, Rom. 8:11).  Sy opstanding het Hom nie die Seun van God gemaak nie – Hy was dit nog altyd – maar kragtig verklaar dat Hy die Seun van God is (v.4).

 

Sy opstanding impliseer ook dat Hy dood was.  Hoe het Hy gesterf?  Hy is soos ‘n misdadiger gekruisig.  Toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy die galbitter wyn van God se toorn gedrink (Matt. 27:46, Gal. 3:13).  God het Hom vir óns sonde gestraf (Jes. 53:4-6, 10, 2Kor. 5:21).

 

Drie dae na sy dood het God Hom opgewek om te wys dat Hy Jesus se offer in ons plek aanvaar (4:25).  Jesus se opstanding het ook gewys dat Hy die soewereine Here is (v.4).  Jy moet onder sy heerskappy lewe en erken dat Hy jóú Here is (v.4).

 

Daar is gans te veel mense wat sê dat Jesus hulle Verlosser is, maar wat Hom nie as Here wil erken nie.  O, met hulle lippe bely hulle dit, maar wanneer dit by hulle lewens kom is dit ‘n ander storie.  Dit is aan súlke mense wat Jesus in Luk. 6:46 sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?”

 

Hoekom noem jy jouself ‘n Christen as skindertaal, bitterheid, vuil grappe, seksuele sonde, materialisme, bakleiery, leuens, jaloesie, woede, dronkenskap, oneerlikheid, diefstal, onenigheid, verdeeldheid, ens. jou lewe kenmerk?

 

As jy in sonde lewe sal jy die koninkryk van God nie sien nie (Gal. 5:21b).  Moet dus nie net vir Jesus as Verlosser ontvang nie, maar ook as Here.  Erken dat jy teen Hom gesondig het.  Hou op om jou sonde te koester.  Moet dit nie so liefhê dat jy dit nie kan los nie, maar sê vir Here dat jy dit nie meer wil hê nie.

 

Vra dat Hy jou sal help om dit te los.  Bely dat jy dit nie self kan doen nie, maar dat Hy jou enigste hoop is en dat die evangelie genoeg is om jou van jou sonde en God se oordeel te red.

 

Volgens Paulus is die evangelie die “krag van God tot redding vir elkeen wat glo” (v.16).  Jesus het gesê: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).  Glo jy dit?  En wat gaan jy daaromtrent doen?

 

Al is jy ‘n Christen behoort dit jou te help om nie met ‘n slaaf-mentaliteit te lewe, asof jy verslaaf is nie kan help om ‘n sekere sonde te doen nie.  Toe die Amerikaanse Negers in 1865 bevry is, het baie van hulle vir die res van hulle lewens soos slawe gelewe.  Alhoewel hulle vry was, kon hulle eenvoudig nie die slawe-mentaliteit afskud nie.[3]

 

Moenie soos hulle wees nie.  “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” (Gal. 5:1).  Jy hóéf nie ‘ja’ te sê vir sonde nie, maar is vry en kan ‘nee’ sê.  “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.” (6:14).

 

  1. 3. Waarvoor is dit bedoel? (v.5-7)

My vrou het ‘n elektriese pot vir haar verjaarsdag gekry.  Dit kan kos stadig gaar maak, dit stoom, jogurt maak, vleis en uie braai, en meer.  Dit het meer as een doel.

 

Die evangelie is so, en het nie net een doel nie.  In sy groot genade het Jesus vir Paulus ‘n apostel gemaak (v.5) om ten minste vier doele met die evangelie te bereik.  Die tweede doel is die hoof een, met die ander drie wat daaraan onderhewig is.

 

[a] Om die nasies tot geloofsgehoorsaamheid te bring (v.5)

God het aan mense die opdrag gegee om hulle te bekeer en in sy Seun te glo (Hand. 17:30, 1Joh. 3:23).  Dié wat positief hierop reageer beoefen geloofsgehoorsaamheid.  Hulle is m.a.w. gehoorsaam aan die opdrag om in Jesus te glo (10:16, Joh. 3:36, 2Tess. 1:8).  Verder lei ware geloof tot ‘n lewe van gehoorsaamheid (6:17, Jak. 2:14-26).  Dit is ook wat met geloofsgehoorsaamheid bedoel word.

 

Die uiteindelike doel is dat al die nasies – ook die Romeine – só in Jesus moet glo en aan Hom gehoorsaam moet wees (v.5-7, Ps. 22:28, 86:9, Matt. 28:19-20, Fil. 2:10-11, Op. 5:9, 7:9-10).

 

Hoe vaar Afrikaners, Engelse, Zoeloes, Indiërs, Vendas en die ander nasies van ons land?  Het hulle al die knie voor Koning Jesus gebuig?  Sal ons dapper genoeg wees om vir hulle te sê hulle moet hulle bekeer?  Wie sal die goeie nuus van God se vergifnis op Golgota met hulle deel?

 

Hoe sal die arme Shangaans in Jesus glo en ‘n lewe van gehoorsaamheid lei, as niemand die evangelie met hulle deel nie?  Bid dat die Here mense sal stuur om met die nasies te praat, en wees self bereid om te gaan as die geleentheid hom voordoen (Matt. 9:37-10:1).

 

[b] Om Jesus se Naam te verheerlik (v.5)

Dit is nie verkeerd as jy ‘n dringende begeerte vir mense se bekering het nie, maar dit moenie die hoof doel wees nie.  Die eintlike rede hoekom ons die evangelie met mense moet deel, is sodat God se Naam verheerlik kan word.  Mense moet die Here prys (Jes. 43:7, 21).  Die nasies moet voor Jesus se troon buig en Hom aanbid.

 

As dit nie ons hoof doel is nie, sal ons mens-gesentreerd raak.  En as dit gebeur sal ons enigiets doen om mense tot bekering te lei.  Ons sal hulle met dreigende uitnodigings en herhalende musiek manipuleer: ‘As jy nie vandag vorentoe kom nie, mag dit dalk net jou laaste kans wees.’

 

Ons móét dringend wees (2Kor. 5:20, 6:2), maar ons moenie maak asof iemand se hart outomaties saam met sy voete beweeg nie.  Kan die Here die persoon nie ná die byeenkoms by sy huis red nie?

 

Mens-gesentreerde evangelisasie sal maak dat jy die evangelie afwater.  Jy sal Jesus as die Verlosser verkondig, maar nie as die Here wat verwag dat jy alles moet prysgee om Hom te volg nie.  Jy sal vir mense sê dat hulle in Jesus moet glo om gered te word, maar nie dat hulle hulle sonde moet los nie.

 

Jy sal tevrede wees as mense die feite van die evangelie glo, maar sal nie eers agterkom dat hulle nie berou het oor hulle sonde nie.  Sien jy nou hoekom dit belangrik is dat jy ‘n God-gesentreerde fokus moet hê as jy die evangelie met ongelowiges deel?

 

[c] Sodat Jesus mense kan roep om syne te wees (v.6-7)

Vir iemand om tot bekering te kom is dit nie genoeg om die evangelie te hoor nie.  God moet hulle roep en hulle harte oopmaak om die evangelie te verstaan (Hand. 16:14).  Dit is die roeping waarna Paulus in v.6-7 verwys (vgl. 8:28-30).

 

Maar alhoewel die Heilige Gees in mense se harte moet werk, kan hulle nie sonder die evangelie tot bekering kom nie (10:13-15).  Om dus die roepstem van God in hulle harte te hoor, moet hulle die roepstem van die evangelis hoor (10:17).  Of dit nou een tot een, in ‘n pamflet, ‘n preek, of in die Bybel is – iemand moet die goeie nuus van Jesus met hulle deel.

 

In die lig van die bg. waarhede moet ons nie net die evangelie deel en dink dat dit genoeg is nie.  Ons moet bid dat die Here mense se harte sal oopmaak.  Maar ons moet ook nie nét bid en dink dat hulle self tot bekering sal kom nie.  Ons moet die evangelie met hulle deel.

 

Dié wat dit glo ontvang die grootste voorreg wat ons in die evangelie het, naamlik dat God die Vader ons as heiliges [Eng. saints] afsonder om aan Jesus te behoort (v.6-7, Joh. 1:12, 1Kor. 1:2, Ef. 1:5, Gal. 4:5).  Omdat jy God se kind is, ontvang jy al die voorregte wat die hemel jou kan bied:

 

God is nie meer jou Regter nie, maar jou Vader.  Hy vergewe jou, sorg vir jou, voorsien vir jou, gee om vir jou, beskerm jou, leer jou, tugtig jou, gee vir jou die hemel as erfdeel, maak jou deel van sy familie, bemoedig jou, gee sy Gees om in jou te woon, jou te lei, jou te vertroos en meer.

 

[d] Sodat God sy liefde, genade en vrede vir mense kan gee (v.7)

In die evangelie leer sondaars dat God hulle liefhet, en dat Hy hulle voor die skepping reeds liefgehad het (v.7, Jer. 31:3, Ef. 1:4-5).  Hoe weet hulle dat God hulle liefhet?  Jesus het sy lewe vir hulle gegee (Joh. 3:16).  Hy het vir hulle gesterf toe hulle nog sondaars was (5:8).

 

Buiten vir God se liefde, het die Vader en die Seun se genade deur die Gees na ons harte toe gekom, sodat ons nou vrede met God het (v.7).  Ons het nie die eerste stap geneem om vrede te maak nie; Hý het (v.7).

 

Ons het God se oordeel verdien, maar Jesus het gesê dat Hy bereid is om die boete te betaal.  God het Hóm vir ons sonde gestraf, en daarom is Hy nie meer kwaad vir óns nie.  Die vrede wat jy in hart ervaar (v.7) is die direkte gevolg van die vrede wat Hy tussen ons en die Vader bewerk het (5:1).

 

Indien jy dus jy ‘n rustige gevoel in jou hart het, maar nie in Jesus se kruisdood rus nie, beleef jy ‘n vals vrede (Jer. 6:14).  Dalk sal jy selfs op jou sterfbed rustig voel, en met ‘n wrede skok jou oë in die hel oopmaak.

 

Dalk pla jou gewete jou en ervaar jy nie God se vrede nie, omdat jy in sonde leef.  “Geen vrede, sê die HERE, vir die goddelose nie!” (Jes. 48:22).

 

Dit mag ook wees dat jy op Jesus se kruisdood vertrou, maar nie God se vrede ervaar nie.  In daardie geval moet jy onthou dat God se vrede groter as die subjektiewe gevoel in jou hart is.  Rus in die vrede wat Hy deur Jesus se kruisdood bewerk het, en nie in die afwesigheid van ‘n lekker gevoel in jou hart nie.

 

Om dan die openingsverse van Paulus se brief aan die Romeine op te som kan ons die volgende woorde van John Stott aanhaal:  ‘the good news is the gospel of God, about Christ, according to Scripture, for the nations, unto the obedience of faith, and for the sake of the Name.’[4]

 

Ek wil byvoeg dat ons die voorreg van aanneming, asook God se liefde, genade en vrede in die evangelie ontvang.  Indien jy nóg vrae oor die evangelie het, sal ek dit in die res van hierdie reeks beantwoord.

 

My begeerte is dat jy die evangelie na ‘n jaar of meer in Romeine op jou vingerpunte sal ken (nie net in jou gedagtes nie, maar in jou persoonlike belewenis), beter as wat ‘n wiskundige sy maaltafels ken.

 

[1] http://richardganz.com/rich-ganz-testimony.php

[2] Stuart Olyott, The Gospel as it Really is, Evangelical Press, Darlington: England, 1979, p. 7

[3] Sinclair Ferguson, Devoted to God, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 2016, pp. 68-69

[4] John Stott, The Bible Speaks Today: The Message of Romans, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1994, p. 54