‘n Waarskuwing aan Edomiete en Afrikaners

Groot kerk

‘n Groot groep mans, vroue en kinders wil deur Suid-Jordanië reis.  ‘Kan julle asb. vir ons ‘n bietjie water gee?’ vra hulle: ‘ons sal daarvoor betaal.’  Die mense weier en dreig hulle met die dood (Num. 20:14-21).  Die groep het omgedraai en verder gereis.

 

Toe hulle by hulle bestemming kom, het die mense van Suid-Jordanië alewig dinge vir hulle moeilik gemaak (1Sam. 14:47, 2Sam. 8:14, 1Kon. 11:14, 2Kon. 8:20, 14:7, Amos 1:11).  Toe ‘n ander sterk weermag die groep aanval, was die mense van Suid-Jordanië bly (Ps. 137:7, Obad. 10-12).  Hulle het gehelp om die groep se kamp te plunder, vlugtelinge vermoor, en oorlewendes aan die weermag oorhandig (Obad. 13-14).

 

Die groep se Leier het besluit om wraak te neem.  Hy het die mense van Suid-Jordanië uitgewis, sodat wilde diere die land oorgeneem het (Jes. 34).  Wat dink daarvan?

 

Wat as ek vir jou sê dat die groep Israel is, die mense van Suid-Jordanië Edom, die weermag Babilon, en die Leier wat vir Edom uitgewis het God?  Aan die een kant verbly ons ons oor geregtigheid.  Ons is bly as rebelse skoliere geskors word, kapers doodgeskiet word, of ‘n terroriste basis opgeblaas word.

 

Maar sodra die Here dit doen, sê ons dat Hy wreed en onregverdig is: ‘Hoe kan ‘n God van liefde onskuldige mense hel toe stuur?’  Maar dit is presies waar ons die fout maak, omdat geen mens onskuldig is nie, en omdat God se liefde nie sy heiligheid en geregtigheid uitskakel nie.

 

Wat die Here in Jes. 34 met Edom gedoen het, sal Hy met ongehoorsame Afrikaners doen.  Jy sal net-nou sien wat ek bedoel.

 

  1. Dagvaardiging en slagting (v.1-7)

Ek het eenkeer ‘n dagvaardiging in die pos gekry.  Ek het my yskoud geskrik en nie geweet waaroor dit gaan nie.  Ek was verlig toe ek sien dat dit by die verkeerde adres afgelewer is.

 

Die dagvaardiging in v.1 is nie by die verkeerde adres afgelewer nie.  God het die nasies gedagvaar en voor sy hof gedaag.  Hy was kwaad en het besluit om hulle met die banvloek te tref, om hulle uit te wis sodat daar van hulle niks oorbly nie (v.2, Jos. 6:21).  Hulle lyke is nie begrawe nie, maar het op die berge ontbind (v.3).  Dit wys dat die Here hulle vervloek het (1Kon. 14:11-13, 2Kon. 9:34-37).

 

Die hemel het vergaan en is soos ‘n boekrol opgerol; die sterre het soos ‘n wingerd of vyeboom se blare geval (v.4).  Volgens v.11-15 sal daar nog diere wees as dit klaar gebeur het, wat beteken dat Jesaja simboliese taal gebruik.  Sy punt is dat die nasies soos sterre en blare sal val, en dat die Here hulle soos ‘n opgerolde boekrol sal neersit (v.4).  Dit is asof Hy die boek van haar geskiedenis deurgelees en tot ‘n einde gebring het.

 

Hy het hemel en aarde met sy swaard getref (v.5).  Hy het besluit om vir Edom uit te wis (v.5).  “Soos geskrywe is: Jakob het Ek liefgehad en Esau het Ek gehaat.” (Rom. 9:13).  Soos die Here offerdiere met sy swaard geslag het, het Hy die sterk manne van Edom – buffels, stiere en sterk bulle (vgl. Ps. 22:13) – in Bosra geslag (v.6-7, 63:1-6).  God het die offers gebring wat hulle móés bring, maar nie het nie.

 

  1. Vergelding en verwoesting (v.8-17)

‘n Paar jaar gelede het een van ons kinders gevra hoekom die Here mense mag doodmaak, maar ons nie.  ‘Is dit nie moord nie?’ het sy gesê.  Nee dit is nie.  Vir die Here om dood te maak is soos vir ‘n regering om die doodstraf toe te pas, of soos vir die polisie om ‘n misdadiger dood te skiet.

 

Vir Hom was dit heeltemal reg om die Edomiete met die dood te vergeld (v.8).  Ek het in die inleiding gewys dat Hy dit vir sy volk se onthalwe gedoen het (v.8).  Hy het Edom se strome in pik verander, en die grond in swael (v.9).  Soos Sodom en Gomorra was Edom ‘n voorskou van die hel (v.10, 66:24, Jer. 49:17-18, Jud. 7, Op. 14:11, 21:8).

 

Alhoewel Edom vandag as die suidelike deel van Jordanië bekend staan, is daar geen Edomiete meer nie (v.10, Mal. 1:3-4).  Het jy al ooit een ontmoet?  Teen die einde van die Ou Testament was Edom ‘n woestyn vol dorings en distels, onrein diere en demone: ystervarke, uile, kraaie, pelikane, krimpvarkies, jakkalse, volstruise, hiënas, wildehonde, valke wat ander voëls se neste beroof (kuikendiewe), naggeeste en veldduiwels (v.11, 13-15).[1]

 

Volgens v.11 het die Here die land met sy skietlood of waterpas gemeet en dit verwoes.  Hy het dit so vormloos soos voor die skepping gemaak (v.11, Gen. 1:2, Jer. 4:23).  Daar was nie meer prinse, edeles of eers ‘n koninkryk oor nie (v.12).

 

Dié wat Jesaja se profesie betwyfel het kon die res van sy boek deursoek: wat die Here aangaande Edom bepaal het sou gebeur (v.16).  God se Gees sou verseker dat onrein diere die land volgens Jesaja se profesie oorneem (v.16).  Soos God die Beloofde Land vir Israel afgemeet het (Num. 33:54), sou Hy Edom vir die wilde diere afmeet en hulle vir altyd daar laat woon (v.17).

 

Ek glo dat ons Jes. 34 op verskeie maniere kan toepas, maar ek wil op een aspek fokus, nl. versoening.  Hoe vind versoening plaas, en hoe kan die mens reg wees met God?  Hoe kan jy ‘n skoon gewete hê?  Hoe kan jy maak dat die Here nie meer vir jou kwaad is nie?  Hoe kan jy weet dat Hy jou sonde vergewe het?  Hoe kan jy in vrede sterf?

 

Hierdie is vrae waarmee elke mens worstel.  Hoe ons dit egter beantwoord is waar die probleem lê.  Die meeste mense op aarde dink dat jy iets moet doen om reg te wees met God: ‘As jy genoeg goeie werke doen, sal die Here jou vergewe en kan jy in vrede sterf.’

 

Anders as die res glo Christene dat jy niks kan doen om jouself te red nie, maar dat alles genade is.  Verlossing is m.a.w. ‘n gratis geskenk wat die Here vir jou gee – jy kan dit nie koop of verdien nie.

 

Mense het nog altyd op een van die bg. maniere oor verlossing gedink.  Die oomblik toe sonde in die wêreld inkom het die mens self probeer om sy sonde, skuldige gewete en skande te bedek (Gen. 3:7).  Dit het nie gehelp nie, en daarom het Adam en Eva tussen die bome van die tuin vir die Here weggekruip (Gen. 3:8).  Hý moes die offer voorsien sodat hulle sonde bedek en vergewe kon word (Gen. 3:21).

 

Soos sy ouers het Kain self ‘n poging aangewend om God se guns te wen.  Die Here het dit nie aanvaar nie (Gen. 4:3, 5).  Abel was ‘n profeet en het deur direkte openbaring geleer dat hy ‘n offer moes bring (Luk. 11:50-51, Heb. 11:4).  Die Here het hom en sy offer aanvaar (Gen. 4:4).

 

Soos Abel het Noag, Abraham, Isak, Jakob en sy nasate altare vir die Here gebou (Gen. 9:20, 22:13, 26:25, 35:7, Eks. 5:3).  Die Here het vir hulle geleer dat hulle sonde die dood verdien, maar dat Hy ‘n dier sal gee om in hulle plek te sterf: “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie.” (Heb. 9:22).

 

Al hierdie offers het heengewys na die Finale Offer waardeur God sy volk se sonde sou wegneem: “jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos… Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Matt. 1:21, Joh. 1:29).

 

Jesus is die Plaasvervanger wat in ons plek sterf (53:4-6).  God se swaard het Hom getref, sodat dit jou nie hoef te tref nie (v.5-7).  As jy erken dat jy teen God gesondig het, dat jy sy straf verdien, dat jy niks kan doen om sy guns te wen nie, en dat Jesus jou enigste hoop is, sal God sy offer in jou plek aanvaar.

 

Maar as jy sy offer eenkant toe skuif en deur godsdienstige dade of goeie werke probeer om sy guns te wen, sal Hy jou streng bestraf.  Jy het Jesus se offer verwerp en in jouself probeer om reg te wees met God.  Jy het gedink dat jou sonde nie so erg is nie, en dat jy Hom met jou goeie werke kan omkoop.  Jy het gehoop dat jou kerkbywoning, tiendes en ander godsdienstige werke sy toorn kan afwend.  Jy wou nie erken dat jy geestelik brandarm is nie, en het gedink dat jy ryk genoeg is om sy vergifnis te koop.

 

En sal die Here jou nie hiervoor straf nie?  Sal Hy jou nie oordeel as jy die offer van sy liefde verwerp, en dink jý kan beter doen nie (v.6)?  Dit bekommer my dat die gemiddelde Afrikaner soos Edom die Here se offer verwerp.  Ek praat nie hier van rou ongelowiges nie, maar van mense wat al vir jare in evangeliese kerke sit.

 

Ek het oor die afgelope paar jaar met meer as 30 kerkmense gepraat wat nie vir my die evangelie kon sê nie.  Die kern van ons geloof (wie Jesus Christus is en wat Hy gedoen het) was nie eers op hulle geestelike radar nie.  Toe ek hulle oor hulle redding vra het hulle nie ‘n woord oor Jesus se kruisdood en opstanding gesê nie.  Hulle hoop vir die hemel is so te sê uitsluitlik op hulle goeie werke gebaseer.

 

‘n Vriend van my het dieselfde ervaar.  Maar in sy geval was dit erger.  Hy het die predikante in sy dorp besoek.  ‘Wat is die evangelie?’ het hy hulle gevra.  Twee van hulle kon vir hom ‘n duidelike antwoord gee.  Vir die res was Jesus se kruisdood nie deel van die evangelie nie; dit het oor goeie werke gegaan.

 

Ek verstaan dat mense soms geïntimideer voel of senuweeagtig is.  In party gevalle praat mense van bekering en genade, maar nie van Jesus se kruisdood nie.  In sulke gevalle dink ek dat hulle dalk die Here ken, maar nie goeie lering ontvang het nie.

 

Maar in my ervaring is dit die uitsondering en die reël nie.  In die meeste gevalle ken hierdie mense nie die Here nie.  Omdat Jesus se offer nie vir hulle belangrik is nie, sal die Here hulle soos offerdiere slag (v.6-7).  Kan jy Hom hiervoor kwalik neem as Hy alles gedoen het om sondaars te red, en hulle sy offer verag?  Dit is asof hulle sê: ‘Die Here het nie genoeg gedoen om sondaars te red nie; ons moet iets byvoeg.’

 

Sal die Here ons onkunde verskoon as ons duisende kerke, die Bybel in ons eie taal, en baie ander evangelie-voorregte het?  Hiervoor sal die Here sy swaard ekstra skerp maak en ons met ‘n dubbele oordeel vergeld.

 

Dié wat gereeld die evangelie hoor maar nie ter harte neem nie, sal nóg strenger geoordeel word.  Ek praat van mense soos ek en jy.  “En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Luk. 12:48).

 

Die strengste oordeel wag egter vir dié wat in die Here se diens staan, maar nie die evangelie verkondig nie: “wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1Kor. 9:16).  “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders, omdat julle weet dat ons ‘n groter oordeel sal ondergaan.” (Jak. 3:1).

 

In die lig hiervan wil ek vir jou sê om nie gerus te wees omdat jy in ‘n gemeente betrokke is, of omdat jou familie darem in ‘n kerk kom nie.  Glo jy die evangelie?  Hoor en glo jou familie dit?  Hoe verstaan hulle verlossing: vertrou hulle op hulle werke, of rus hulle in niks anders as in Jesus Christus en sy kruisdood vir sondaars nie?

 

As ek aan hierdie dinge dink, heg ek nie veel waarde aan mense wat sê dat ons ‘n ‘Christelike volk’ is nie.  Ek dink nie eers dat ons dit in die verlede was nie.  Vir my lyk dit of Afrikaners Christelike waardes gehad het, maar nie geweet het wat dit beteken om weergebore te wees nie.

 

Ek wonder partykeer of ‘n sekere jong predikant in Johannesburg reg is: ‘South Africa is a pre-Christian country.’  Ons neem m.a.w. aan dat mense gered is omdat hulle kerk toe gaan, maar eintlik het ons die evangelie dringend nodig.

 

Ek is seker dat Afrikaners dit vir die eerste twee of drie geslagte geglo het.  Maar daarna het ons van die bus af geval.  Talle Afrikaners het geglo dat hulle op grond van hulle Afrikanerdom, die uitverkiesingsleer, die verbond, die doop, hulle aanneming en voorstelling, hulle ouers se geloof of iets anders gered is.

 

In sommige hoofstroom kerke was dit ongehoord om die evangelie met sg. ‘verbondskinders’ te deel.  Die kerk en kinders se ouers het aangeneem dat die volgende geslag gered is, en nie die evangelie met hulle gedeel nie.  So het hulle ‘n heidense geslag grootgemaak – kerkgangers wat nie die eerste dinge van die evangelie verstaan nie.

 

Toe hierdie geslag groot word, het hulle kinders gesien dat hulle op ‘n Sondag vroom in die kerk sit, maar in die week soos die wêreld lewe.  Nou, 35 en 40 jaar later is hierdie kinders groot.  Baie van hulle voel ‘n veer vir die kerk.  Hulle sal baie eerder op ‘n Sondag fietsry of by ‘n braai wees as om in die kerk te sit.

 

Die ergste van alles is dat hulle nog steeds dink hulle is ‘okay’ met die Here.  Hulle het immers ‘n Christelike agtergrond, is gedoop, en is nog êrens lidmaat by ‘n gemeente.  Wat D.A. Carson se kollega van die Amish gemeenskap in Amerika gesê het, is tot ‘n mate waar van ons eie volk:

 

‘Die eerste geslag het die evangelie geglo en die uitvloeisel daarvan in hulle lewens gehad.  Die tweede geslag het aanvaar dat hulle die evangelie ken, en op die uitvloeisels gefokus.  Die derde geslag het die evangelie verwerp, en al wat hulle oor gehad het was die uitvloeisels.’

 

Vandag het ons skaars die uitvloeisels oor.  Die gevolge van ‘n sterk evangelie-invloed is vinnig besig om te verdwyn.  Soos die res van die tale in ons land, het Afrikaners die evangelie nodig.  Wie sal dit vir hulle bring?  Sal ons te skaam wees om dit met ons eie mense te deel?

 

Paulus wou hê dat sy stamgenote gered moet word (Rom. 9:3).  En sal jy nie soos hy wees nie?  Wat John Knox van Skotland gesê het, moet ek en jy van ons mede-Afrikaners en die res van ons landgenote sê: ‘Give me Scotland or I die!’  Give me South Africa or I die!

 

[1] Vertalers kan nie die identiteit van elke dier vasstel nie.