‘n Profesie oor die Nuwe Jerusalem

New Jerusalem

Daar is Amerikaner in Alberton vir wie ek baie respek het.  Sy naam is Jeff Gage.  Ek het hom al ‘n paar keer gebel as daar dinge in Jesaja is wat ek nie verstaan nie.  Hy het my gehelp om te sien dat Jesaja se profesieë oor die Nuwe Jerusalem nie net oor die hemel gaan nie, maar dat dit die hele nuwe verbond – die tydperk tussen Jesus se eerste koms en die vervulling van alle dinge by die wederkoms – beskryf.

 

Tekste soos Gal. 4:26, Ef. 2:6, Fil. 3:20, Heb. 12:22 bevestig dit en wys dat ons alreeds in die Nuwe Jerusalem deel.  Die fondasie is in die 1ste eeu gelê, en is deur die geskiedenis besig om gebou te word.  Wanneer Jesus weer kom sal die stad in haar volle heerlikheid uit die hemel uit neerdaal (Op. 21).

 

Om ‘n ander illustrasie te gebruik kan ons sê dat die hemelse stad soos ‘n eikeboom is.  Die akker het in Hand. 2 ontkiem en gou opgeskiet toe 3000 mense op een dag tot bekering kom.  Tien duisende is daarna by die gemeentes gevoeg (Hand. 3-28).

 

Meer as 2000 jaar later staan die boom sterk, en het sy takke tot aan die eindes van die aarde versprei.  Die boom sal groei totdat Jesus kom.  Dit sal so groot wees dat die nasies in groot getalle onder die boom se groen sambreel sit en sy koelte geniet (Matt. 13:31-32).

 

Uit Jes. 33:13-24 lyk dit of die bg. interpretasie van God se Koninkryk en die Nuwe Jerusalem reg is.

 

Haar inwoners (v.13-16)

Laasjaar Oktober het ek en my gesin in die Tsitsikamma reënwoud gaan stap.  Die bome is pragtig en lok verskillende soorte voëls en diere.  So is dit ook met die Nuwe Jerusalem of die Koninkryk van God: “[dit] maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.” (Mark. 4:32).  Mense uit alle nasies word m.a.w. deur die boom aangetrek: die Jode wat naby is, sowel as die nasies wat daar ver is (v.13, 57:19, Hand. 2:39, Ef. 2:13, 17).  Almal sal die Here se werk van verlossing en sy almag erken (v.13, Hand. 2:11, Op. 5:9).  Ons het dit ook in óns taal gehoor, en prys die Here in Afrikaans!

 

Nie almal juig egter wanneer hulle van die Here hoor nie.  Die sondaars in Jerusalem was bang; hulle het geweet dat hulle die teiken van God se toorn is (v.14, 30:33, 66:15, Deut. 4:24, Heb. 12:29).  “Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?” (Jes. 33:14).

 

Dit verduidelik hoekom ongelowiges op ‘n Sondag in die mall rondloop eerder as om in die kerk te wees.  Dié van hulle wat wel in die kerk sit, doen dit om hulle gewetens te sus.  Tydens die Skriflesings, boodskap, gebede en liede blok hulle die Here uit en dink hulle aan ander dinge.

 

Indien hulle iets hoor, voel hulle ongemaklik – veral as dit oor sonde gaan.  Ek onthou hoe ‘n ongelowige verskriklik gekriewel en rondgekyk het toe ek oor God se oordeel preek.

 

Ongelowiges vermy ook gemeentes wat kerkdissipline toepas.  Toe die Here vir Ananias en Safirra dissiplineer, het niemand dit gewaag om by die gemeente aan te sluit nie (Hand. 5:13).  In 2005 het iets soortgelyk in ons gemeente gebeur.  ‘n Ongelowige het uitgevind dat ons dissipline toepas en onmiddellik die gemeente verlaat.  “Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?” (Jes. 33:14).

 

Ongelowiges vlug soos vlieë vir Doom as jy heilig lewe.  Hulle sal ook spore maak as hulle uitvind dat jy met die evangelie geassosieer is.  Ek het dit al gesien met mense wat my nie goed ken nie.  Ek het niks oor Jesus of die Bybel gesê nie, maar toe ek opdaag het hulle in hulle karre geklim en gery.

 

Iemand wat hulle ken en daar was het later vir my gesê dat hulle ongemaklik voel omdat ek ‘n predikant is.  Hulle skram weg van dinge wat met die Here te doen het.  “Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?” (Jes. 33:14).

 

Omdat God se heilige teenwoordigheid vir ongelowiges soos vuur is, wil hulle nie in die hemel wees nie.  Hulle sal baie ongemaklik voel; die hemel sal vir hulle ‘n tipe hel wees.  “Wie van ons kan woon by ‘n verterende vuur, wie van ons kan woon by ‘n ewige gloed?” (Jes. 33:14).

 

Net gelowiges kan in hierdie vuur woon en nie verteer word nie (v.14-16, 43:2, Eks. 3:2, Dan. 3:25, 27).  ‘n Gelowige is iemand wat besef dat hy so verlore is soos Nemo die narvis [Eng. clown fish] in die diep blou see.  Hy besef dat hy in sy wese ‘n sondaar is, soos wat dit in ‘n muishond se aard is om te stink.

 

Hy besef dat die parfuum van sy goeie werke nie die stank van sy sonde kan wegvat nie, maar dat die Here sy hele natuur moet verander.  Hy sien nie hoop in homself nie, en draai dan in geloof na Jesus toe.  Hy vind uit dat die Vader Jesus se perfekte lewe en kruisdood in sy plek aanvaar.

 

Soos met iemand wat by die French Foreign Legion aansluit, word sy ou identiteit met ‘n ander een vervang.  Maar anders as met die Legion, kom daar nie nuwe oortredings op sy rekord nie.  Jesus het met die sonde van sy verlede, hede en toekoms afgereken.  Hy gee ook die rekord van sy perfekte lewe aan dié wat hulle hoop en vertroue in Hom stel.

 

Maar dit is nie net ‘n ‘identiteitsding’ nie.  Die Heilige Gees verander die persoon van binne af.  Hy het ‘n nuwe natuur; hy is ‘n ander mens.  Sy begeertes, gedagtes, emosies, woorde, dade – alles is nuut.  Hy is stadig maar seker besig om soos Jesus te word.

 

Hy is nog nie perfek nie en weet dit ook.  Maar oor die algemeen is sy lewe regverdig en wys sy woorde dat hy opreg is (v.15).  Vloekwoorde, skindertaal, geskreeu en leuens is nie meer deel van sy woordeskat nie (v.15).  Hy kroek en onderdruk nie die armes om ryk te word nie, maar help hulle eerder (v.15).  Hy skud as’t ware sy hande uit om te wys dat hy nie omkoopgeld vashou nie (v.15).  Hy druk sy ore toe vir dié wat hom aanhits om ander seer te maak (v.15).  Hy kyk ander pad, sodat vieslike dinge nie deur die vensters van sy oë in sy siel inklim nie (v.15).

 

Die persoon wie se lewe só verander is, sal saam met die Here in die hoogte bly (v.16, Ps. 15, 24:3-4).  Wat beteken dit?  Hy sal soos ‘n Witkruisarend wees wat sy nes in die Baviaanskloof bou waar niemand kan uitkom nie.  Die Here sal vir hom ‘n rotsvesting en beskutting wees (v.16).  Hy sal veilig in God se teenwoordigheid op die hemelse berg Sion woon.

 

Daar sal die Here vir hom water en brood voorsien (v.16).  Soos ‘n goeie Vader sal Hy toesien dat sy kinders niks kortkom nie (Ps. 23:1, Op. 7:16-17).  Die beskrywing van die kerk en die hemel as ‘n berg spreek nie net van veiligheid nie, maar van skoonheid.  Om dus by die Here te wees, is soos om op ‘n hoë berg in Oostenryk te staan en oor ‘n pragtige vallei uit te kyk.  Dit is ten minste die idee wat ek in v.17 e.v. kry.

 

Haar Koning (v.17-24)

Ek was nog nie by die Grand Canyon nie, maar van wat ek hoor is dit asemrowend.  Volgens my broer lyk dit soos die Drakensberge, maar onderstebo.  Daar is baie ander plekke op die aarde wat net so mooi is.  Van die plekke wat ek al gesien het is Meiringspoort en die Stormsriviermond die mooiste.

 

Lg. het my eintlik bang gemaak.  Die water wat onderdeur die hangbrug in die see in loop is byna swart.  Die rotsplate teen die rivier se kante is massief.  As die golwe oor die tennisbal-grootte rivierklippe terugtrek, klink dit soos ‘n trein se ysterwiele op ‘n spoor.

 

Die Here het my beïndruk.  In die Stormsriviermond het ek iets van sy skoonheid en krag gesien.  Dit laat my wonder hoe dit moet wees om sy volle heerlikheid en skoonheid te sien?  Dawid het dit met sy hele wese begeer (Ps. 27:4, 63:3), en as jy selfs net ‘n teelepel hiervan proe sal jy dit ook wil hê.

 

Wat mense in die Switserse Alpe of by God’s Window sien is maar net die Here se silhouette.  Jesus se lewe op aarde was soos ‘n 100-karaat diamantring wat in bruinpapier toegedraai is: ‘n menslike liggaam het sy Goddelike skoonheid bedek (Jes. 53:2).  Voor, tydens en na sy lewe hier op aarde het Moses, Jesaja, Daniël, Petrus, Johannes, Jakobus en Paulus dit vir ‘n oomblik gesien (Eks. 33-34, Jes. 6, Dan. 10, Matt. 17, Hand. 9, Op. 1).  Dit het hulle so oorweldig, dat hulle soos dooies op die grond neergeval het.

 

Alhoewel ons nog nie die Here se skoonheid met ons oë gesien het nie, het ons dit deur die spieël van geloof in die evangelie gesien (2Kor. 3:18, 4:6).  Wanneer Hy na die aarde toe terugkeer, sal ons Hom van aangesig tot aangesig sien.  Sy skoonheid sal jou soos ‘n weerligstraal tref, en soos ‘n biljoen volt deur jou verheerlikte wese skiet (v.17, 2Tess. 1:10).

 

Dit sal so aangrypend wees soos om Australië se Great Barrier Reef, die Noorderligte, die Niagara- of Victoria valle, die Grand Canyon, Mont Blanc, en die turquoise Moraine Meer tussen die sneeubedekte berge in Kanada te sien – alles gelyk.  Eintlik sal dit oneindig keer beter wees, omdat hierdie dinge maar net die gereflekteerde lig van sy heerlike skoonheid is.

 

Maar glo dit of nie, daar is mense wat dit nie wíl sien nie.  Hulle wíl nie by die Here wees nie.  Hulle beskou Hom as ‘n monster, ‘n sadis wat dit geniet om mense seer te maak (v.14, Matt. 25:24).  In reaksie op Jonathan Edwards se preek oor die hel, het Phyllis McGinley die volgende gedig geskryf:

 

And if they had been taught aright,

Small children carried bedwards

Would shudder lest they meet that night

The God of Mr. Edwards,

Abraham’s God, the Wrathful One,

Intolerant of error –

Not God the Father or the Son

But God the Holy Terror.[1]

 

Net dié wat aan Jesus behoort, Hom liefhet en vir Hom lewe wil sy heerlike skoonheid sien (v.15-17, Matt. 5:8, Joh. 17:24, Op. 22:4).  C.S. Lewis het gesê: ‘It is safe to tell the pure in heart that they shall see God, for only the pure in heart want to.’[2]

 

Volgens Jesaja sal ons ook die wyd-uitgestrekte land sonder grense sien waaroor die Messias regeer (v.17, 11:9, 54:2, Ps. 72:8).  So ver soos wat die oog kan sien, sal daar nie ‘n bedreiging wees nie (v.17).  Assirië en elke ander vyand sal ‘n vae gedagte van die verre verlede wees (v.18, Ps. 37:10. 36).

 

‘Waar is die vyand wat ons onderdruk het, aan wie ons belasting moes betaal?’ sal Jerusalem vra (v.18, 2Kon. 18:14).  ‘Waar is hy wat die stad se torings getel het, wat gedink het hy sal ons verower?’ (v.18).  Die arrogante Assiriërs met hulle onverstaanbare taal was weg (v.19, vgl. 28:11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).

 

Jerusalem wat in Hiskia se tyd angstig was, sal op die nuwe aarde ‘n plek van Feesviering wees, ‘n tent wat nie afgeslaan word nie (v.20).  Dit sal m.a.w. ongesteurd en stabiel wees; ‘n plek van breë riviere en strome (v.20-21, 6, 32:18, Op. 21:27, 22:15).  Daar sal nie roeiskepe of trotse handelskepe op die riviere wees nie (v.21, 2:16).

 

Wat beteken dit?  Breë riviere en strome wys dat die stad nie soos die Wes-Kaap wegkwyn nie, maar dat dit voorspoedig is (Ps. 46:5, Op. 22:1).  Riviere wat die stad omring en roeiskepe wat nie daarop kan vaar nie, wys dat dit veilig is.  Die afwesigheid van trotse handelskepe wys dat die Here vir die stad voorsien, en dat sy niks van buite af nodig het nie.

 

As jy dus die Here het, het jy alles en meer.  Hy is die Regter, Wetgewer en Koning wat sy volk red (v.22, 17, vgl. Rigt. 2:16).  In haar eie krag was Jerusalem soos ‘n skip waarvan die toue te slap is om die mas regop te hou (v.23).  Sy kon m.a.w. nie self teen die vyand veg nie, maar toe die Here haar verlos, het die gebreklike skip die buit te verdeel (v.23).

 

Toe Jesus op die aarde was het Hy deur sy kruisdood betaal om die skip te herstel.  Hy het sy volk se sonde vergewe, en sal op die nuwe aarde sorg dat hulle nie siek raak nie (v.24, Matt. 1:21, Op. 21:4).  Om ‘n perfekte liggaam en siel te hê is een van die Nuwe Jerusalem se grootste seëninge.

 

Dit is egter ‘n illusie om soos sekere heiligheidsbewegings te dink dat jy in hierdie lewe al ‘n perfekte siel kan hê, of om soos die Word of Faith beweging te dink dat jy op die huidige aarde vry kan wees van siekte en pyn.

 

Ek weet van ‘n man in Natal wat dink hy is volmaak.  ‘n Man in ons eie dorp het vir my gesê dat hy homself gesond praat as dit vir hom lyk of siekte sy lewe wil binnedring.  Volgens hom is dít die rede hoekom hy nie siek raak nie.

 

Wanneer ek sulke dinge hoor wil ek soos Spurgeon op iemand se toon trap om te kyk hoe volmaak hy is.  Vir die mense wat dink dat hulle die mag het om lewe te spreek wil ek vra of hulle nie asb. die siekes in die hospitale wil genees, en die dooies in die begraafplaas wil opwek nie.  Dit sal ook die evangelie help as hulle die Hervormers en Puriteine uit die dood uit opwek.

 

Soos jy kan agterkom is ek sarkasties.  Die waarheid is dat gelowiges se siele en liggame eers anderkant die graf in die Nuwe Jerusalem volmaak sal wees (v.24, 1Kor. 15:42-44, Heb. 12:23).

 

Wat die psalmis van die aardse Jerusalem gesê het, behoort ons van die hemelse een te sê: “Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.” (Ps. 137:6).  ‘n Suksesvolle besigheid, baie geld, ‘n nuwe kar, ‘n mooi huis, jou lewensmaat, kinders, kleinkinders – niks moet vir jou kosbaarder of belangriker wees as die Nuwe Jerusalem nie.  Nee ek jok; Jesus moet.  Thomas Goodwin het gesê:  ‘If I were to go to heaven, and find that Christ was not there, I would leave immediately; for heaven without Christ would be hell to me.’[3]

 

[1] Aangehaal in Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1987, p. xxi

[2] C.S. Lewis, The Problem of Pain, Samizdat University Press, Québec: Canada, based on the public domain e-text, 2016 [originally published in 1940], p. 93

[3] Aangehaal in Don Kistler, Why Read the Puritans Today?, Soli Deo Gloria Publications, Morgan, PA, 1999, p. 3