God se hulp in jou krisis

Drowning man

In die mid-1700’s het Jonathan Edwards sy gemeente se verkeerde praktyke oor die nagmaal aangespreek.  Hy is van die gemeente afgesny.  ‘n Vriend van my het onlangs iets soortgelyk ervaar.  Dalk het so iets al met jou gebeur: jy doen wat jy dink reg is, en dan neem dinge ‘n wending vir die ergste?  Skielik beleef jy ‘n krisis, sodat jy nie weet waarheen nie.  Jy besef dat jy nie meer op jouself kan staatmaak nie.  Nou is dit net jy en die Here.  Hy is die enigste hulp in jou krisis.  En soos gewoonlik stel Hy nie teleur nie.  Dit is waaroor Jes. 33:1-12 gaan.

 

  1. Assirië se verraad (v.1)

Voor elke verkiesing is daar politieke werwing of ‘canvassing’.  Politieke partye maak die paaie reg, gee gratis hulp aan die armes en belowe om vir hulle huise te bou.  Wanneer die verkiesing egter verby is, vervul hulle nie hulle beloftes nie, en bly die mense so arm soos wat hulle voor die verkiesing was.

 

Dit is wat Assirië volgens 2Kon. 18:13-17 met Jerusalem gedoen het.  ‘As jy vir my 10 ton silwer en ‘n ton goud gee, sal ek jou nie aanval nie,’ het Sanherib van Assirië vir koning Hiskia van Juda gesê.

 

Hiskia het Sanherib se vereistes nagekom, maar nog steeds het Sanherib met ‘n weermag Jerusalem toe gekom.  Sy plan was om dit te verwoes soos hy die nasies verwoes het (v.1, 16:4, 36:10, 37:12).  Sanherib was ‘n troubreker en het vir Hiskia ‘n rat voor die oë gedraai (v.1).

 

Maar elke hond kry sy dag.  Êrens in die toekoms sou iemand met die Assiriërs trou breek en hulle verwoes (v.1).  Alec Motyer sê: ‘for every trickster there is a trickster to outdo him’.[1]

 

Kort na hierdie gebeure het die Here op een nag 185 000 Assiriërs doodgemaak (37:36).  Sanherib se eie seuns het hom doodgemaak (37:38).  Jare later het God die Babiloniërs gebruik om die Assiriese ryk tot ‘n val te bring.

 

Dalk het mense jou onregverdig behandel en, soos my vriend, afgeskryf.  As jou sonde dit verdien, is dit nie eerbaar nie (1Pe 4:15).  Maar as jy nie verkeerd was nie, sal die Here met jou vyande afreken (v.1).  Moet daarom nie mense terugkry nie, maar staan terug en laat ruimte vir die Here om wraak te neem (Rom. 12:19).  Hy weet hoe om dit te doen, en het nie jou of my hulp nodig nie.

 

  1. Jerusalem se gebed (v.2)

Een van ons lidmate het my Vrydag van ‘n ander lidmaat se moeilike omstandighede vertel.  ‘Dit gaan baie sleg met hom, maar wat sy verhouding met die Here betref gaan dit baie goed.’

 

Is dit nie hoe dit met Israel was nie: sodra hulle voorspoed beleef het, het hulle van die Here af weggedraai (Deut. 6:10-12, 28:47)?  Maar as die Here die bankskroef van hulle omstandighede stywer gedraai het, was hulle geestelik op ‘n goeie plek.  Dit is die les in v.2

 

In reaksie op Sanherib se aanval, het Jesaja, Hiskia en die volk in gebed na die Here toe gedraai.  “HERE, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!” het hulle gebid (v.2).  Hulle het besef dat hulle ‘n dag op ‘n slag moes neem, en dat hulle elke dag op die Here moes staatmaak.

 

Soos reeds gesê besef ons dit nie altyd wanneer dit goed gaan nie.  Ons dink dat ons onsself kan help, en is soos ‘n stout kind wat nie sy pa se hand wil vashou om oor die besige pad te kom nie.  Ons steun op ons lewenservaring, geld, talente, dissipline, die internet, geleerdheid en nie op die Here nie.

 

Omdat ons op onsself staatmaak, bid ons nie soos ons moet nie.  Dit is hoekom die Here ons partykeer deur moeilike tye laat gaan, sodat ons op Hom kan vertrou en kan weet waar ons hulp vandaan kom.  As Hy dit nie doen nie, sal ons self oor die pad wil hardloop en raakgery word.  Ons sal onsself m.a.w. geestelik benadeel.

 

  1. God se reaksie (v.3-4)

‘n Bekende aanhaling oor gebed sê:  ‘When man works, man works; but when man prays, God works.’  Dit is wat ons in Jes. 30:2, 31:3, 33:3-4 sien.  Jerusalem wou self die krisis oplos, en het vir Egipte gevra om haar te help.  Sy was onsuksesvol.  Toe sy egter in gebed na die Here toe draai, het Hy eenvoudig opgestaan en soos donderweer gedreun om die Assiriërs te verjaag (v.3, 37:36-38, 1Sam. 7:10).

 

Net so is dit vir die Here kinderspeletjies om jou krisis op te los; NIKS is vir Hom onmoontlik of moeilik nie (2Kon. 3:18, Jer. 32:17, 27, Luk. 1:37, Ef. 3:20).  Volgens v.3-4 was die oorlog verby nog voordat dit begin het.  Soos wat sprinkane ‘n mielieland kaal stroop, het Jerusalem goud, silwer en allerhande buit by die vyand afgeneem (v.4).

 

Alhoewel dit vir die Here maklik is om jou omstandighede te verander, doen Hy dit nie altyd nie.  Indien Hy dinge onveranderd laat, is dit om jou meer soos Jesus te maak (Rom. 8:28-29).  Hy wil jou volharding leer… of sagmoedigheid, nederigheid, liefde, geloof, geduld, ens.

 

Uit eie ervaring weet ek dat dit nie maklik is nie, maar ongelukkig is daar nie ‘n ander manier om dit te leer nie.  ‘Swords get sharpened through heating and beating,’ het iemand eenkeer by ‘n konferensie gesê.

 

  1. Jerusalem se fondasie (v.5-6)

Vyf jarige Martin de Bruin se pa is besig om die kar se remme te vervang.  Terwyl hy besig is, wil Martin die wiel losmaak.  ‘Laat ek jou help,’ sê sy pa.  ‘Ek het nie pa se hulp nodig nie; ek kan dit self doen,’ antwoord hy.  Na 3 minute se gesukkel vra hy dat sy pa hom moet help.

 

Jerusalem was so, en het gedink dat sy nie die Here se hulp teen Assirië nodig het nie.  Kort voor lank het sy besef dat nie sy óf Egipte haar kan help nie.  Sy moes haarself verneder en na die Here toe draai.  Sy moes erken dat sy klein is, en dat Hy in die hoogste hemel verhef is (v.5, 2:11, 17).

 

In antwoord op haar gebede het die Here belowe om Jerusalem of Sion met reg en geregtigheid te vul (v.5).  Jerusalem sou nie meer ‘n stad vol ongeregtigheid wees nie.  In koning Hiskia en Josia se tyd het reg en geregtigheid geheers (2Kon. 18-20, 22-23).  Maar toe hulle oorlede is, het ongeregtigheid weer die oorhand gekry.

 

Volkome reg en geregtigheid kan net deur die Messias kom.  Hy het dit deur sy kruisdood verseker, maar sal dit by die wederkoms vervul (2Pet. 3:13).  Vir mense in ‘n land en wêreld soos ons s’n, is dit iets om na uit te sien.  Geen meer aborsie, moord, korrupsie, rowery, diefstal, rebelse jongmense, dronkenskap, rasse haat, seksuele losbandigheid, ens. nie.

 

Op die nuwe aarde sal mense in Jesus se oorvloedige liefde, blydskap en vrede lewe.  Ons sal altyd ander bo onsself stel.  My vriend sal nie weer deur ander Christene uitgeskuif word nie, en ons sal nie vir ‘n enkele sekonde bitter voel of met iemand baklei nie.

 

God is die Rots wat sal sorg dat sy volk in standvastige tye leef (v.6, 26:4).  Hy het dit in Hiskia en Jesaja se tyd gedoen (39:8), en sal dit in die toekoms herhaal (v.6).  Ons liefde vir die Here, menseverhoudings, die politiek, die ekonomie, die weer, die diereryk, en alles anders sal nie so onstabiel, wispelturig en wisselvallig wees soos nou nie.  Dit kán nie, omdat die Here self die fondasie van sy volk is (v.6).

 

Wanneer sal dit wees?  Premils glo dat dit na die wederkoms in die millennium sal wees.  Postmils dink dat dit êrens voor die wederkoms tydens ‘n goue era sal wees, en volgens amils sal dit op die nuwe aarde gebeur.  Hoe dit ook al sy, ons moet hiervoor bid: “laat u koninkryk kom” (Matt. 6:10).

 

Ons hoef egter nie tot in die toekoms te wag voordat ons die rykdom van hierdie lewe kan smaak nie.  In Christus is die rykdom van God se verlossing, wysheid en kennis ons s’n (v.6, Joh. 10:10, 1Kor. 1:30, Kol. 2:3, 2Pet. 1:2).  Wat beteken dit in die praktyk?

 

God se oorvloedige verlossing beteken dat Hy jou tot die uiterste toe kan red.  Sy verlossing is m.a.w. nie tydelik nie.  Dit is nie net vir hierdie lewe bedoel nie.  Jy verloor dit nie as jy jou asem uitblaas nie.  As jy by die Here is, sal jy dit eers geniet.  Wanneer Jesus weer kom en jy jou nuwe liggaam het, sal die volheid van God se verlossing jou oorweldig soos ‘n vis wat uit ‘n seetenk in die oseaan vrygelaat word.

 

Maar die feit dat ons die rykdom van God se verlossing op die nuwe aarde sal geniet, beteken nie dat jy dit nie nou al kan geniet nie.  Wat ek bedoel is dat jy nie in hierdie wêreld misrabel hoef te wees, omdat jy eers op die nuwe aarde vreugde kan hê nie.  As jy in Jesus glo het jy reeds sy lewe in jou.  Dit beteken dat jy in die midde van die grootste krisis die Here se lewe, liefde en krag kan ervaar – sy oorvloedige verlossing.

 

Sy oorvloedige verlossing beteken verder dat dit nie opraak nie.  Hy kan m.a.w. nie op ‘n punt kom waar Hy vir iemand sal moet sê: ‘Ek weet jy het gevra Ek moet jou red, maar ongelukkig het die fontein van my verlossing opgedroog en kan Ek jou nie help nie.’

 

Ek het eenkeer met ‘n man gewerk wat gedink het sy sonde is te groot.  Hy het geglo dat die Here hom nie kan red nie.  Hy het gedink dat Jesus se kruisdood vir ander mense was, maar nie vir hom nie.

 

Ek het hom van die oorvloedige verlossing vertel wat van Golgota afstroom.  Hy moes leer dat daar genoeg verlossing is vir almal wat in berouvolle geloof na Jesus toe draai.  As jy vir die Here vra om jou te red, sal Hy jou nie wegwys nie.  “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (Joh. 6:37).

 

Die oorvloed van God se verlossing beteken laastens dat die Here jou kan vergewe as jy vir baie jare met dieselfde sonde sukkel.  Ek bedoel nie dat jy met jou sonde moet aanhou nie (Rom. 6:1-2), maar sê dit as ‘n bemoediging vir die gelowige wat alweer in dieselfde strik getrap het, en depressief voel omdat hy dink die Here kan hom nie hiérdie keer vergewe nie.

 

God se verlossing is oorvloedig.  As jy jou sonde bely en jou daarvan bekeer, sal die Here jou vergewe… al is dit ook 70 x 7, so hoog soos Berg Everest, of so diep soos die Stille Oseaan (Matt. 18:21-35, Ef. 3:17-19, 1Joh. 1:9).

 

There is a fountain filled with blood

Drawn from Immanuel’s veins

And sinners plunged beneath that flood

Lose all their guilty stains

-William Cowper-

 

Omdat die Here ons God is, het ons ook ‘n oorvloed van wysheid en kennis (v.6).  In Hom maak al jou vrae oor God, jouself, die lewe, die dood, sonde en die ewigheid sin.

 

Waar kom God vandaan?  Waar het alles begin?  Hoe kan ons besluit wat reg en verkeerd is?  Wat is die doel van die lewe?  Wat is die sin daarvan om vir 70 of 80 jaar ‘n eindelose siklus te volg:  opstaan, werk, slaap, opstaan, werk, slaap… naweek… opstaan, werk, slaap… naweek… aftree, oud word, doodgaan?

 

Hoe het die dood in die wêreld ingekom, en wat gebeur wanneer iemand sterf?  Jesus is die bron van alle wysheid en kennis (v.6), en daarom kan net Hý hierdie vrae beantwoord.  Hy hét dit ook in die Bybel gedoen.

 

Deur Jerusalem se kennis van die Here (v.6b), sou hulle leer om Hom te vrees (v.6c).  Die vrees van die Here sou vir hulle ‘n skat wees (v.6c), want saam met dit kry ons baie ander voordele:

 

  • Kennis en wysheid (v.6, Spr. 1:7, 9:10, 15:33).
  • Haat vir sonde (Spr. 3:7, 8:13, 16:6).
  • Goeie gesondheid (Spr. 3:7-8).
  • ‘n Vol, gelukkige en lang lewe; beskerming teen die strikke wat tot die dood lei (Spr. 10:27, 14:27, 19:23, 22:4).
  • Sterk sekerheid en ‘n veilige vesting vir jou kinders (Spr. 14:26).
  • Rykdom en eer (Spr. 22:4).

 

  1. Jerusalem se krisis (v.7-9)

Ek ken ‘n sendeling wat in Etiopië gewerk het.  Hy het my vertel hoe die polisie sommer in die strate op mense losbrand.  In sulke plekke huil mense in die strate, en bly hulle liewer in hulle huise.

 

In Jerusalem was dit ook so.  Die boodskappers wat na die Assiriërs toe uitgegaan het om vrede te bewerk was onsuksesvol.  Die koning van Assirië het besluit om die stad aan te val en dit te vernietig.  Toe Hiskia se boodskappers na die stad toe terugkeer het hulle bitterlik gehuil (v.7, 36:22).  Jerusalem was in beroering, sodat selfs die dapperste helde in die strate geskreeu het (v.7).

 

Niemand het dit gewaag om op die hoofweë te reis nie (v.8).  Alles was verlate; Jerusalem was letterlik van die buitewêreld afgesny (v.8, vgl. Rigt. 5:6).  Assirië het haar vredesverbond met Jerusalem gebreek; sy was gereed om voor die voet dood te maak en die stad te vernietig (v.8, 1).

 

A.g.v. die Assiriërs het die land getreur en weggekwyn (v.9).  Om skanse te bou het hulle die Libanon woud en Basan – vandag se Golan hoogte in Sirië – se bome afgekap (v.9, 2:13).  Met duisende perde het hulle die Saron vlakte, Basan en berg Karmel se prentjiemooi-weivelde in ‘n woestyn verander (v.9, 1Kron. 5:16, 6:71, Jer. 50:19, Nah. 1:4).

 

Maar selfs in die ergste krisis kan die Here jou woestyn in ‘n paradys verander, jou trane in gejuig en jou geween in voete wat dans (35:1-2, Ps. 30:6, 12).  Soms beteken dit dat Hy jou omstandighede verander.  Maar partykeer verander Hy jóú, sodat jy in jou krisis ‘n vrede en blydskap ervaar wat jy nie kan beskryf nie (Hand. 16:25, Fil. 4:4, 7).

 

  1. God se toorn (v.10-12)

Partykeer kyk ek op my dag af stories saam met my vrou en kinders.  In een film was daar ‘n klein vroutjie wat in die biblioteek gewerk het.  Sy het kwaad geword as iemand in die biblioteek raas.

 

Toe een van die karakters dit hoor, toe sê hy:  ‘Who’s afraid of a little librarian?’  Toe die klein vroutjie agter die toonbank opstaan was sy glad nie so klein nie; sy was amper so hoog soos die dak.

 

Assirië het haarself verhef… totdat die Here van sy troon af opgestaan en Homself oor haar verhef het (v.10).  Toe dit gebeur was dit asof Assirië met strooi swanger was, stoppels gebaar het, en haarself met haar eie vurige asem aan die brand gesteek het (v.11).  Haar sonde het soos ‘n boemerang na haar toe teruggekom; sy het haarself vernietig (37:38).

 

Soos kalksteen het die Here haar tot poeier verbrand; soos doringtakke het Hy haar in vlamme laat opgaan (v.12).  Dit is nie net die lot van die Assiriërs nie, maar van Moslems, Kommuniste, ateïste en elke vyand wat God se kinders onderdruk: “wie julle aanraak, raak sy oogappel aan.” (Sag. 2:8).

 

Dit is hartseer om te sê, maar op die einde van die dag is dit nie God se kinders wat die krisis het nie.  Dit is dié wat op sy liefde spoeg en nie wil luister om hulle te bekeer en in Jesus te glo nie (Joh. 3:16, 36).  Hulle sal ‘n ewige krisis beleef, en die Here sal hulle nie help om daaruit te kom nie.  Hulle wou nie sy hulp hê toe hulle op die aarde was nie, en sal dit ook nie in die hel kry nie.  Hoekom nie?

 

C.S. Lewis het gesê: ‘Sin is man’s saying to God throughout life, “Go away and leave me alone.”  Hell is God’s finally saying to man, “You may have your wish.”  It is God’s leaving man to himself, as man has chosen.’[2]

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 263

[2] C.S. Lewis, The Problem of Pain, MacMillan, New York, 1962, p. 28 aangehaal in Millard J. Erickson, Christian Theology, Baker Book House, Grand Rapids: Michigan, 1983, p. 1240