Cyril Ramaphosa, Egipte en die Messias

Cyril Ramaphosa

In ‘n desperate poging om leiding te soek, het Cyril Ramaphosa en die land se top 6 regerings amptenare besluit om hulle voormalige leiers se grafte te besoek.  Die koerant artikel sê:  ‘Ramaphosa said the party’s officials did what Africans do in the face of misfortune.  “We go back to our ancestors to talk to them,” he said.’[1]

 

Op Dinsdag, 9 Jan. 2018 het Ramaphosa en sy amptenare Walter Benson Rubusana – een van die eerste ANC leiers – se graf besoek en vir leiding gevra.  Hulle beplan ook om Nelson Mandela se graf te besoek en wysheid te vra.[2]

 

Dit laat my dink aan Saul en Israel wat hekse en towenaars besoek het om die dooies se hulp te vra (1Sam. 28, Jes. 8:19).  Hulle het enigiets gedoen, behalwe om die Here se hulp te vra.  In Jes. 31-32 sien ons hoe God se volk selfs Egipte (die land waar hulle slawe was!) se hulp gevra het, en hoe Jesaja hulle beveel het om na die Messias toe te draai.

 

Egipte (hfst. 31)

Toe ek jonk was het my ma kasette van ‘n sanger genaamd Steve Green gekoop.  In een liedjie sing hy:

 

Some trust in chariots

We trust in the Name of the Lord our God.

Some trust in horses

We trust in the Name of the Lord our God

 

Ek het eers nie geweet dat dit uit Ps. 20:8 kom nie.  Ek het ook nie geweet dat dit in Jes. 31:1 staan nie.  Volgens Jesaja is dit ernstig dat Juda op Egipte se perde en strydwaens vertrou het, en nie op die Here nie (31:1, Jer. 17:5, vgl. 2Kron. 1:16-17).

 

Die Here is nie teen perde en strydwaens nie.  Die probleem was eerder dat Juda Deut. 17:16 oortree het, en weer na Egipte toe teruggekeer het om perde te koop.  Die probleem was dat hulle nie die Here geraadpleeg het nie, maar hulle vertroue in Egipte se mag gestel het (31:1).

 

“Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie.  Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag” (Ps. 33:17-18).  “Hy het geen welbehae in die krag van die perd, geen welgevalle in die bene van die man nie.  Die HERE het ‘n welgevalle in die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop.” (Ps. 147:10-11).  “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die HERE.” (Spr. 21:31).

 

Het Juda dan vergeet hoe die Here Egipte se perde en strydwaens by die Rooi See vernietig het (Eks. 14-15)?  En het Cyril Ramaphosa en die ANC leiers vergeet dat Nelson Mandela in Desember 2013 begrawe is, en dat Walter Rubusana ook dood is?  Kan die dooies die lewendes help?

 

En wat van ons?  Maak ons te veel staat op wetenskap en tegnologie om ons te help nie?  Wie het die Here nodig as jy ‘n slimfoon en Google het?  Ons dink dat ons slim is, maar hoe help hierdie dinge jou as die dood aan jou deur kom klop, of as ‘n tragedie jou gesin tref?  Kan ons land se voormalige leiers en Google die Wes-Kaap se droogte breek?  Of sal ons in sulke tye na die Here toe draai, maar weer na ons sonde toe terugkeer sodra Hy ons gebede verhoor het?

 

Volgens 31:2 is die Here baie wys.  Hy het nie menslike planne nodig om Hom te help nie.  As Hy iets gesê het trek Hy nie sy woorde terug nie (31:2, Num. 23:19).  Hy het belowe om sy vyande te oordeel, en sou dus teen die boosaards (Juda) en hulle helpers (Egipte) opstaan (31:2).  Hulle kon Hom nie keer nie.  Egipte was mens en nie God nie; hulle perde was vlees en nie gees nie (32:3).  Met die beweging van sy hand kon Hy die helper (Egipte) en een wat gehelp word (Juda) wegvee (31:3).

 

Hy kan ons ook maklik met die asem van sy mond doodmaak (Jes. 11:4).  Hy hoef net te dink of ‘n woord te spreek om ons uit te wis.  Hy het die wind, die weer, die see, die hemel, die aarde en alles daarin tot sy beskikking.  Hoe kan ons dan teen Hom baklei?  Kan sy vyande met vliegtuie, helikopters, missiele en koeëls teen Hom veg?  Kan vlees teen ‘n Gees wen?

 

Dalk is jy nie soos ‘n ateïs wat die Here vloek en teen Hom baklei nie.  Maar twis ons nie soms met die Here, omdat Hy nie dinge op ons manier doen, of omdat ons nie sy weë verstaan nie?  Maar hoekom wil jy poog om teen Hom te baklei as jy nie kan wen nie?  Met verwysing na Jakob se stoei geveg met die Here, sê R.C. Sproul:  ‘There are no draws with God, no split decisions.  When we wrestle with the Almighty, we lose,  He is the undefeated champion of the universe.’[3]

 

Duidelik is dit baie beter dat God vir jou is, as wat Hy jou vyand is.  Dit is beter dat Hy aan jou kant is, as wat jy op Egipte of enigiemand anders se vleeslike arm vertrou (2Kron. 32:8).  Want “As God vír ons is, wie kan teen ons wees?” (Rom. 8:31).

 

Die Here wou hê sy volk moet hierdie waarheid verstaan.  Hulle het nie Egipte se hulp nodig gehad nie.  Die Here was soos ‘n leeu wat ‘n skaap vang:  Hy was nie bang vir ‘n klomp Assiriese herders wat probeer het om Hom te verdryf nie (31:4).  Hy sou uit die hemel neerdaal om op berg Sion of die heuwel van Jerusalem teen Assirië te veg (31:4).  Soos ‘n voël oor haar nes fladder om haar kleintjies te beskerm, sou die Here van die Leërskare Jerusalem beskerm, verlos, spaar en red (31:5, Deut. 32:11).

 

God het hierdie dinge gesê om sy volk aan te spoor om van Egipte af weg te draai na Hom toe (31:6, 1-3).  Hulle moes ook nie meer op hulle goue en silwer gode vertrou nie, maar op Hom (31:6-7, 2:20, 30:22).  Hý sou die Assiriese koning deur die swaard laat val, en sy dapper jong soldate soos slawe laat werk (31:8, 37:36).  Die weermag wat soos ‘n rots onder die Assiriese koning gestaan het, het meegegee (31:9).  Die Engel van die Here het op een nag 185 000 van hulle doodgemaak (37:36).  Die offisiere het paniekbevange gevlug en hulle oorlogsbaniere net so agterlaat (31:9).  Die Here het Jerusalem soos ‘n vuuroond beskerm en haar vyande verteer (31:9, 30:33, 33:14, Ps. 21:10, Heb. 12:29).

 

Ek wonder wat die Here met Suid-Afrika gaan doen?  Hoe lank sal Hy uithou met leiers wat grafte besoek en vir die duiwel vra om hulle te help?  Hoe lank sal ons nog doof wees en nie ag gee op die droogte, misdaad en brande nie?  C.S. Lewis het gesê:  ‘God whispers to us in our pleasures, speaks in our conscience, but shouts in our pain: it is His megaphone to rouse a deaf world.’[4]

 

Maar laat ons nie te gou wees om vir Ramaphosa te kritiseer nie.  Hoe gereeld bid jy dat die Here ons land se leiers sal red (1Tim. 2:1-7)?  Glo jy dat Hy jou gebede kan beantwoord, of doen jy dit bloot as ‘n formaliteit?  En wat van jou:  is jý gered?  Vertrou jý op die Here, en nie op iets of iemand anders om jou te red nie?  Hoop jy bloot op die Here vir tydelike dinge, of vertrou jy dat Hy jou van jou sonde en sy ewige oordeel sal red?

 

Die Messias (hfst. 32)

Toe Robert Mugabe aan die einde van verlede jaar tot ‘n val gekom het, het die nuwe leier belowe om die land weer op sy voete te bring.  Dalk hoop party mense dat Cyril Ramaphosa dit vir óns land sal doen.  Maar uiteindelik sal geen land ware vrede geniet, totdat die Messias sy vyande onder sy voete het nie.

 

Die Here het die koning van Assirië oorwin om sy eie Koning daar te stel (32:1).  Volgens Salomo en Jesaja sal die Messias in geregtigheid heers, en sal daar geen meer korrupsie wees nie (32:1, Ps. 72:1-4).  Christus en die prinse wat onder Hom regeer (die apostels en gelowiges wat saam met Hom oor die aarde heers, vgl. Matt. 19:28, Op. 2:26-27, 5:10) sal reg doen (32:1).  Hulle sal ‘n skuilplek teen die wind, en ‘n skuiling teen die storm wees (4:6, 25:4-5).  Soos strome in die woestyn en die skaduwee van ‘n groot rots, sal hulle mense se siele verkwik en verfris (32:2).

 

Deur die heerskappy van die Messias raak Hy mense se oë, ore, harte en tonge aan (32:3-4).  Jesus se genesing van blindes, dowes en stommes, is ‘n illustrasie van die geestelike herstel wat Hy gebring het.  Hy maak hulle harte oop om die waarheid te verstaan (32:4, 6:9-10, Eseg. 36:26, 2Kor. 4:4, 6).

 

Het jy dit al gesien?  Of het jy die terme al honderde kere gehoor, maar jy weet nie wat dit beteken nie?  Jy dink dat jy gered is, maar het nog nooit ‘n geestelike ‘aha!’ oomblik gehad nie.  Jy het nog nie erken dat jy geestelik doof, blind, dood en stom is nie, maar dink dat alles tussen jou en die Here reg is, omdat jy ‘n krisis beleef het, en Hy jou uitgehelp het.

 

Die vraag is of jy die waarheid sien en die Here se stem in die Bybel hoor.  Is dit soos kleure in die lente en musiek in jou ore, of lees jy dit, maar jy verstaan nie eintlik wat dit sê nie?  Is jy opgewonde as jy die goeie nuus van Jesus hoor, of ‘tune’ jy uit omdat jy dit al soveel keer gehoor het?

 

Tydens Christus se heerskappy sal die dwase en skelms nie meer geprys word nie (32:5, 5:20).  Deur die swaard van die Gees sal Hy hulle sonde uitwys, en sal almal weet dat hulle dwaas en moreel onverantwoordelik is (32:5-6, Luk. 2:35, Heb. 4:12-13).  Hulle slegte woorde, bose dade, en onsensitiwiteit teenoor die armes, sal vir almal wys dat hulle harte sleg is (32:6-7, Matt. 21:12-13, 25:42-45, Mark. 12:40, 42, Joh. 12:6).  Net so sal die edel persoon se planne ook in sy edele dade gesien word (32:8).

 

Vir tyd en wyl was Jerusalem se vroue nie edel nie.  Hulle was gemaklik asof die Here se oordeel nie oppad was nie, en asof niks met Jerusalem kon fout gaan nie (32:9, Amos 6:1).  Soos Jacob Zuma het dit hulle nie gepla dat die wêreld om hulle vergaan nie – solank húlle luuks kon lewe (32:9, 3:16).

 

Jesaja het vir hulle gesê om nie meer terug te sit nie, maar om op te staan en na sy woorde te luister (32:9).  Oor ‘n jaar of so sou die druiwe- en vrugte oeste nie inkom nie (32:10).  Gevolglik sou hulle sidder en nie meer soos rykes kon wyn drink en vrugte eet nie (32:11).  Die vyand sou hulle mooi klere afskeur en hulle in rouklere na ‘n vreemde land toe wegvoer (32:11, 3:24, 20:2-3).  A.g.v. die vernielde lande en wingerde, sou hulle volgens die antieke rou gebruik op hulle borste slaan (32:12, Luk. 18:13, 23:48).

 

God het die vrugbare land vervloek en dit met dorings en distels besaai (32:13, 5:6, 7:23, Gen. 3:18).  Die stad en paleis wat eens vreugdevol was het nou soos ‘n grot leeg gestaan (32:13-14, Luk. 21:24).  Daar was niemand in die wagtoring om die stad te bewaak nie (32:14).  Dit het ‘n plek vir wilde donkies en skape geword (32:14).

 

Ons land is nog nie so erg nie, maar as ons met ons sonde aanhou sal dit binne 15 of 20 jaar soos Zimbabwe lyk.  Soos Jerusalem se vroue en die president s’n, leef ons luuks.  Ons kla dat hy geld steel, maar ons dink dat ons die reg het om nie met die armes te deel nie, omdat ons eerlik vir ons geld werk.

 

Gauteng is stink ryk.  Ons ry karre wat oor ‘n miljoen rand kos, maar trek ons neuse op as ons R5 vir die karwag moet gee.  Ons sê dat ons sukkel as ons nie elke dag vleis eet nie.  Ons het ‘n verdraaide definisie van wat dit beteken om te sukkel.  As ek die Woord van God reg lees behoort ons baie meer dankbaar en vrygewig te wees… BAIE meer.

 

As Christene behoort ons dit nie net te doen nie, maar is ons heeltemal bevoeg om anders as die wêreld te lewe.  Jesus het immers die Heilige Gees soos reën op ons uitgestort (32:15, Joël 2:28, Hand. 2, Tit. 3:5-6).  Die transformasie wat Hy bring is so groot soos ‘n woestyn wat in ‘n vrugteboord verander, en dan in ‘n woud (32:15, 29:17, 35:1-2).

 

Mense wat vloek verander in mense wie se harte en monde gewas is.  Mense wat lieg verander in mense wat die waarheid praat.  Mense wat rondslaap verander in mense wat rein is.  Mense wat hulleself bo ander verhef verander in mense wat ander dien.  Mense wat ander haat verander in mense wat ander liefhet.  Mense wat moord pleeg verander in mense wat ander se lewens beskut en bevorder.

 

Mense wat hulleself liefhet verander in mense wat God liefhet.  Mense wat afgode aanbid verander in mense wat die ware God aanbid.  Mense wat God se Naam vloek verander in mense wat Hom prys.  Mense wat ondankbaar is en kla verander in mense wat dankbaar is.  Mense wat steel verander in mense wat eerlik werk en uitdeel.

 

Vra maar vir enige ware Christen of dit so is.  Dít is wat ons nodig het as ons wil hê ons land moet verander.  Om dooie mense se grafte te besoek gaan nie help nie.  Ons het die Heilige Gees nodig.  Dán sal daar reg en geregtigheid in die ‘vrugteboord’ en die ‘woestyn’ wees (32:16).  Dán sal mense die vrug van die Gees dra en nie meer in sonde lewe nie (Gal. 5:22-23).

 

Om hierdie geregtigheid te kry moet ons in Jesus Christus glo (Fil. 3:9).  Daar is nie ‘n ander manier om ‘n skoon gewete en vrede met God te hê nie (32:17, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  En as ons vrede met God het, kan daar vrede in ons harte en in die samelewing wees (32:17-18).  Dit sal nie die vals rus en vrede wees wat Suid-Afrika se rykes geniet (v.9), of die vrede wat politieke leiers en die Verenigde Nasies bring nie.  Dit sal die ware vrede wees wat deur Jesus Christus na ons toe kom.

 

In die kerk geniet ons reeds iets hiervan.  Alhoewel ons nog nie perfek is nie, roof, moor en verneuk ons mekaar nie soos in die wêreld nie.  Ons het mekaar lief en leef in vrede met mekaar.  As die geregtigheid en die vrede van Jes. 32:16-18 nie vir jou kosbaar is nie, moet jy wonder of die Heilige Gees van Jes. 32:15 in jou hart woon.

 

As jy nie regverdig is en in vrede wil lewe nie, sal die haelkorrels van God se oordeel jou soos klippe uit ‘n kettie tref (32:19).  Net soos Assirië (die woud van 10:18, 33-34) en Jerusalem tot ‘n val gekom het, sal die Here jou verneder (32:19).  As jy jou egter bekeer sal daar voorspoed en vrede wees, en sal jy die Here se seën geniet (32:20).  Jy sal wees soos iemand wat langs ‘n rivier saai (32:20).  Daar is genoeg water om jou koring nat te lei en ‘n goeie oes in te bring; daar is genoeg weiding om jou osse en donkies te voer, sodat hulle jou in die lande en op die dorsvloer kan help (32:20).

 

In elke opsig sal jy vrugbaar wees.  Ek bedoel nie dat jy nooit probleme sal hê, of dat jy ryk sal wees nie.  Ek bedoel eerder dat die Here alles wat in jou lewe gebeur – selfs die beproewings en probleme – soos kunsmis in jou hart sal inwerk, sodat jy suksesvol is (Rom. 8:28).

 

Jy sal soos die man wees waarvan ons in Ps. 1:3 lees:  “En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.”

 

God is die Vader wat jou liefhet.  Jesus is die Verlosser wat jou sonde vergewe en jou gewete skoon was.  Die Heilige Gees is die Trooster wat sy blydskap, liefde en vrede in jou hart uitstort.  As die Here jou deel is, is jy baie meer suksesvol as iemand wat die baas van ‘n maatskappy is en die nuwe Range Rover ry.  Daar is ook meer hoop vir jou as vir Cyril Ramaphosa en ons land se leiers wat langs ‘n graf vol dooie bene staan.

 

[1] https://www.pressreader.com/south-africa/the-mercury/20180110/281586650993316

[2] Ibid.

[3] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Inc., Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p. 168

[4] C.S. Lewis, The Problem of Pain, HarperSanFrancisco, San Francisco, 1940; repr., 2001, p. 17