Moet Christene Kersfees vier?

Jesus or Santa

Toe ek op hoërskool was, was daar ‘n gesin in ons gemeente wat nie Kersfees gevier het nie.  ‘n Paar jaar gelede het iemand vir my gesê dat Kersfees van ‘n heidense feesdag af kom.  Omtrent ‘n maand terug het nóg iemand dit vir my gesê.  In die afgelope week het ‘n kollega my oor die saak genader, omdat iemand in sy gemeente hom hieroor aangevat het.

 

Die vraag is dan of Christene Kersfees moet vier?  Wat as hierdie mense reg is, en dit van ‘n heidense feesdag af kom – moet ons dit dan nog vier?  Mag ons dit vier, maar net nie op 25 Desember nie?  Indien ons dit wél mag vier, hoe moet ons dit doen?  Mag ons kersbome, liggies, geskenke en Kersvader hê?

 

Terme soos Kersfees, 25 Desember, kersboom en Kersvader kom nie direk in die Bybel voor nie, en daarom moet ons sekere Bybelse beginsels volg om tot ‘n besluit te kom.  Ek probeer nie om ‘n debat te wen nie, maar om te help dat jy met ‘n rein gewete oor die saak kan besluit.  Ek hoop ook om vir jou te wys dat die kwessie nie so swart en wit is soos party mense dink nie; dit is baie meer grys as wat ons bereid is om te erken.

 

Ek wil begin deur te wys hoekom Christene 25 Desember gekies het as die dag waarop hulle Jesus se geboorte vier.  Daarna wil ek Kersfees in 2017 bespreek, en Bybelse riglyne gebruik wat ons sal help om die saak reg toe te pas.

 

Hoekom 25 Desember?

Toe die kerk in die eerste paar eeue n.C. deur die Romeinse Ryk versprei het, het dit in twee groepe bestaan.  Ek bedoel nie dat dit verdeeld was nie, maar dat dit in sekere geografiese gebiede verdeel is.  Die kerk in Israel, Sirië, Egipte, Persië, Turkye (dit het uit verskeie provinsies bestaan) en Griekeland het in die ooste gelê, terwyl die kerk in Italië, Frankryk, Spanje, Brittanje en Noord-Afrika in die weste was.[1]  Een van my gunsteling geskiedkundiges (Nick Needham) reken dat die Westerse kerk in 336 n.C. begin het om Kersfees op 25 Desember te vier.  Volgens hom is hulle deur die heidene beïnvloed.  Omtrent 60 jaar voor hierdie datum (in 274 v.C.) het keiser Aurelianus ‘n tempel vir die son gebou.  Hy het ‘n fees ingestel om die son se geboorte te vier, en dit Natale Solis Invicti genoem:  die geboorte van die onoorwonne son.  Hierdie fees was baie dieselfde as Saturnalia wat voor dit gehou is.  Tydens die fees het mense kerse aangesteek en geskenke uitgedeel.[2]

 

Maar is dit ‘n feit dat Christene a.g.v. hierdie feeste begin het om Jesus se geboorte op 25 Desember te vier?  Nee.  Saturnalia is immers nie op 25 Desember gehou nie, maar op 17-23 Desember.[3]  Dit mag wees dat Solis Invicti op 25 Desember gehou is, maar volgens Williston Walker was die kerk se viering van Kersfees ‘n reaksie hierop.  Hulle wou wys dat Jesus die Son van Geregtigheid is wat aanbid moet word (Mal. 4:2).[4]

 

Volgens Alvin Schmidt het die kerk in Noord Afrika (veral in Egipte) 30 jaar voor Solis Invicti (243 v.C.) al Christus se geboorte op 25 Desember gevier.[5]  Dit is dan nie ‘n voldonge feit dat Kersdag uit Aurelianus se heidense fees uit ontstaan het nie.  Omtrent 70 jaar voor Solis Invicti, het Hippolytus van Rome (170-235 v.C.) gesê dat Jesus op 25 Desember gebore is.  Clement van Alexandrië (150-215 n.C.) het geglo dat Jesus naby aan hierdie datum op 6 Januarie gebore is.[6]

 

Dit is dan glad nie onmoontlik dat Jesus op of naby 25 Desember gebore is nie.[7]  Ons weet dat Jesus tussen 6 en 4 v.C. gebore is (die persone wat ons kalender ontwikkel het, het ‘n berekeningsfout gemaak).  Koning Herodes het op 12 April in die jaar 4 v.C. gesterf.  Josefus sê dat daar kort voor sy dood, op 13 Maart 4 v.C., ‘n maansverduistering was.[8]  Voor Herodes se dood is Maria ook saam met Jesus en Josef Egipte toe.  Ons moet nog plek los vir die 40 dae van Maria se reiniging na Jesus se geboorte (Lev. 12:1-4, Luk. 2:21-22), vir Herodes wat die babas onder 2 vermoor het en vir die wyse manne wat Jesus besoek het.  Altesaam kon hierdie dinge maklik 3 maande gevat het, wat ons terugvat na die einde van Desember toe.

 

Die Betlehem ster dui ook aan dat Jesus moontlik in Desember gebore is.  ‘n Christen wetenskaplike genaamd Johannes Kepler (1571-1630) het gesê dat die ster waarskynlik die oorvleueling van Jupiter en Saturnus was.  Hierdie oorvleueling gebeur elke 800 jaar.  Twee jaar voor Jesus se geboorte kon dit drie keer gesien word:  Mei, Oktober, en Desember (vgl. Matt. 2:7, 16).  Die jaar daarna kon Mars saam met die ander twee planete gesien word.  Kepler het dit ook in sy leeftyd gesien.

 

Tydens hierdie oorvleueling verskyn daar ‘n helder gekleurde ster tussen Jupiter en Saturnus (volgens Kepler se eie getuienis).  In die Chinese geskiedenis lees ons van so ‘n ster wat in Februarie van die jaar 4 v.C. in die noordelike hemel verskyn het.[9]  Dit mag miskien dieselfde ster wees wat die wyse manne gesien het.  Onthou asb. dat die wyse manne nie op die nag van Jesus se geboorte saam met die herders by die krippie was nie.  Volgens Matt. 2:11 was Jesus in ‘n huis toe die wyse manne Hom besoek het.  Dit is moontlik dat Hy naby aan 25 Desember gebore is, en dat die wyse manne Hom ‘n week of ‘n maand later gesien het.

 

‘n Algemene beswaar is dat Desember koud is die noordelike halfrond, en dat die herders nie op ‘n wintersnag buite in die veld sou wees nie.  James Kelso is ‘n argeoloog wat vir ‘n paar jaar in Israel gebly en gewerk het.  Volgens hom bly die skaapwagters juis in die veld, omdat Israel ‘n winter reënval het.  Terwyl die weiding groen is, wil hulle die maksimum voeding vir hulle skape kry.  Hy sê dat dit ‘n algemene gesig is om in dié tyd die herders met hulle skape in die veld te sien.[10]

 

William Hendriksen vertel van ‘n Nederlandse Nuwe Testament teoloog (Dr. Harry Mulder) wat op 16 Januarie 1967 die volgende brief geskryf het:  ‘During the brief Christmas vacation my wife and I traveled from Beirut…to Jerusalem. In this connection I can also answer your question regarding the presence of sheep around Bethlehem in the month of Desember…Right near us a few flocks of sheep were nestled.  Even the lambs were not lacking…It is therefore definitely not impossible that the Lord Jesus was born in December.’[11]

 

Alfred Edersheim gee nog vier punte om te wys dat Jesus op of naby 25 Desember gebore is.[12]  My punt is nie om oor ‘n datum te stry, of eers te sê dat 25 Desember noodwendig die presiese datum is nie.  Ek probeer eerder om te wys dat ons nie te maklik moet sê dat Kersdag op 25 Desember van ‘n heidense feesdag af kom nie.  Maar selfs as Kersdag ‘n reaksie op keiser Aurelianus se fees was, vier Christene dit nog steeds nie as ‘n aanbidding van die songod nie.  Ken jy Christene wat op 25 Desember die son aanbid?

 

As ons Kersfees moet vermy omdat die heidene op hierdie datum fees gevier het, moet ons op geen dag van die jaar fees vier nie, aangesien die heidene al ons weeksdae na hulle gode vernoem het.  Sunday en Monday gaan oor die aanbidding van die son en die maan.  Tuesday is afgelei van Tiwaz’s day, wat die Germaanse god van oorlog was.  Wodin (Wodin’s day of Wednesday) was hulle oppergod, Thor die god van donderweer (Thor’s day of Thursday), Freya die vrugbaarheidsgodin (Freya’s day of Friday), en Saeter die watergod (Saeter’s day of Saturday).[13]

 

Ek stem dus dat dit nie verkeerd is om op 25 Desember fees te vier en bly te wees dat Jesus aarde toe gekom het om ons te red nie.  Hóé ons dit doen is wat die verskil maak.

 

Wat van Kersfees in 2017?

Daar is ‘n Engelse gesegde wat sê:  ‘In essentials unity, in non-essentials liberty, in all things charity.’  Daar sit ‘n groot mate van waarheid hierin.  Ons moenie soos Tukkies se liberale professors die maagdelike geboorte ontken, of sê dat Jesus nie ten volle God en ten volle mens is nie.  Hierin moet ons een wees.  Ons mag egter oor dinge soos Kersfees verskil, maar ons moet dit in ‘n gesindheid van liefde doen.

 

Dit is die punt wat Paulus in Rom. 14 wil maak.  Hy gebruik wel sekere kossoorte en spesiale dae as voorbeelde, maar die beginsels wat hy in hierdie hoofstuk neerlê geld vir enige grys area (dinge wat nie swart en wit is nie, waaroor die Bybel nie eksplisiet praat nie).  Kersfees val in hierdie kategorie.  Die Bybel beveel ons nie om dit te vier nie, maar dit verbied ons ook nie.  Ons is dus vry om dit te vier… of nie.  “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk.  Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” (Rom. 14:5).

 

Besluit dan wat jy wil glo, en moet dit nie vier as jy onseker is nie (Rom. 14:23).  Moet ook nie met ander mense stry, hulle oordeel, op hulle neersien, of jou siening op hulle wil afdwing nie (Rom. 14:1-4).  Los jou broer as hy nie met jou saamstem nie; die Here sal hom help (Rom. 14:4).  Moenie die regter wil wees aan wie mense hulle standpunte moet verduidelik nie – los dit vir die Here (Rom. 14:10-12).  Sorg jý net dat jy Kersfees vier of vermy, omdat jy die Here wil eer (Rom. 14:6).

 

‘Maar moet Christene Kersfees vier as dinge soos kersbome, kersliggies, geskenke en Kersvader ‘n heidense afkoms het?’ wil iemand weet.  Nie almal stem saam oor waar hierdie dinge vandaan kom nie.  Volgens sommige het Martin Luther ‘n boom afgekap en dit met liggies versier, omdat hy die sterrehemel bo die dennebome vir sy kinders wou uitbeeld.

 

Ander dink weer dat Bonifacius dit in die 8ste eeu begin het.  Hy het blykbaar gesien hoe die heidene hulle kinders tydens die winter fees onder die eikebome offer.  Hy het vir hulle gesê om eerder ‘n denneboom af te kap, dit huis toe te vat en saam met hulle kinders fees te vier.[14]

 

Ander koppel dit aan heidense gebruike.  In 2006 het iemand Tiaan Gildenhuys se ‘Maak jou huis skoon’ DVD vir my geleen.  Daarin het hy gesê dat kersbome ‘n oortreding van Jer. 10:3-4 is, omdat Israel bome afgekap, en dit met goud en silwer versier het.  Maar as hy die konteks gelees het, sou hy gesien het dat dit nie oor kersbome gaan nie, maar oor afgode.  Nie Jeremia óf sy lesers het naastenby gedink dat dit oor kersbome gaan nie.  Ek weet ook nie van enige gelowiges wat op 25 Desember sy of haar kersboom aanbid nie.

 

Wat geskenke betref hoef ons nie te dink dat dit van die heidene afstam nie.  Soos die wyse manne geskenke vir Jesus gebring het, kan ons vir mekaar geskenke gee.  Dit verheerlik die Here as ons dit doen, want as ons met mekaar deel, deel ons ook met Jesus (Matt. 25:40, 35-39).  Ons moet egter versigtig wees dat ons nie net op Kersdag goed doen nie; ons moet aanhoudend met ander deel (Heb. 13:16).

 

Wat van Kersvader of Sinterklaas (‘Santa Claus’)?  Blykbaar kom dit van ‘n Christen in die vierde eeu wat Nicholas genoem is.  Hy was van Myra in Turkye.  Sy ouers het gesterf toe hy jonk was, en hy het ryk geërf.  Hy het sy rykdom gebruik om arm mense te help.  Hy is op 6 Desember 343 n.C. oorlede.[15]  Ander reken weer dat Kersvader van Nicholas van Sion af kom.  Hy het in die sesde eeu geleef, en elke jaar op 6 Desember vir kinders geskenke uitgedeel.[16]

 

Ek is nie seker wie reg is nie, maar in ons tyd is dit ‘n feit dat Kersvader die aandag van Jesus aftrek.  Kinders beskou hom as ‘n tipe god wat alles van hulle af weet:  ‘He sees you when you are sleeping, he knows when you’re awake, he knows when you’ve been bad or good, so be good for goodness sake.’[17]  Kersvader verdraai ook ons kinders se siening van God, omdat hulle volgens die legende goed genoeg moet wees om sy guns te verdien (kontra. Rom. 5:8).

 

Verder verwar dit hulle, omdat jy na 6 of 7 jaar vir hulle sê hy nie regtig bestaan nie.  En hoekom moet hulle jou dan glo as jy vir hulle sê dat Jesus regtig is?  Clint Archer skryf:  ‘I never want my children to have this existential monologue in junior high:  “Daddy told me about a six day creation, virgin birth, Easter Bunny, Santa Claus, angels, and fairies.  Then he said he was only joking about half the stuff.  I felt gullible for falling for it.  Mmm.  I wonder if my science teacher is right about Evolution?  What other nonsense has been fed to me as fact?”’[18]

 

Ek dink dit sal beter wees as ons heeltemal van Kersvader ontslae raak, sodat ons op Jesus kan fokus.  John Piper sê:  “Christmas is first Christ, second Christ, third Christ, and again and again Christ!”[19]  Moet dus nie vir jou kinders oor Kersvader jok nie, maar vertel eerder vir hulle hoe goed en vrygewig Jesus Christus is.

 

As jy Kersfees soos die wêreld vier sal jou kinders nie Jesus in jou sien nie, al jy ook vir hulle dat dit oor Hóm gaan.  Wat ek bedoel is dat jy nie aan die een kant ‘n erediens kan bywoon, terwyl jy aan die ander kant ‘n wilde partytjie hou, hope geld mors, en fokus op wat jy vir jouself kan kry nie.

 

Onthou eerder dat Kersfees – en eintlik jou hele lewe – oor Christus gaan.  “Want vir my is die lewe Christus” (Fil. 1:21).  Vir Christene is Kersfees net nóg ‘n geleentheid om die goeie nuus van Jesus Christus met mense te deel.  Dit maak jou nie meer of minder geestelik, omdat jy Kersfees vier of nie (1Kor. 8:8, Gal. 4:10, Kol. 2:16-17).  Eintlik is die vraag nie eers of jy Kersfees vier nie, maar of jy vir Jesus Christus ken?  Dit help nie dat jy Kersfees vier of vermy, as jy die res van die jaar in sonde lewe nie.  Jou standpunt oor Kersfees beteken niks as jy nie die evangelie verstaan nie.

 

Wat maak dit saak as jy die datum van Jesus se geboorte ken as jou sonde nie vergewe is nie?  Jou siening oor Kersfees maak nie ‘n verskil as jy nie die ware betekenis van Jesus se geboorte, lewe, kruisdood en opstanding verstaan nie.  Weet jy dat die Jesus die ware God is, dat Hy uit ‘n maagd gebore is, en dat Hy volkome mens geword het?  Weet jy dat Hy ‘n sondelose lewe gelei het?  Weet jy dat Hy op Golgota die straf vir sondaars gedra het?  Weet jy dat Hy gesterf het, begrawe is en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het?

 

Weet jy dat jou sonde Hom bedroef en dat jy sy ewige oordeel verdien?  Weet jy dat Hy jou sal vergewe as jy jou sonde haat, jou bekeer en op Hom vertrou om jou daarvan te red?  Nou waarvoor wag jy dan – wil jy Hom nie vandag vra om jou te red nie?  Jy sal nie spyt wees nie.  Die fees wat jy eendag in die hemel sal vier, sal beter wees as enige fees wat jy al ooit op die aarde gevier het (of jy nou in Kersfees glo of nie).

 

Jy sal agterkom dat Jesus se vleeswording in Betlehem maar net die agterdeur was om jou na beeldskone, asemrowende en ruim paleis van sy heerlikheid toe te lei.  Jy sal in groter verwondering oor sy heerlikheid wees, as wat die herders en engele dit op daardie eerste Kersfees nag was.  Dan sal jy nie omgee op watse dag Jesus gebore is nie.  Jy sal net bly wees dat God aarde toe gekom het om sondaars te red.  Saam die engele in Luk. 2:14 sal jy sê:

Eer aan God

in die hoogste hemele

en vrede op aarde,

in die mense ‘n welbehae!

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, Kaarte op openingsbladsye

[2] Ibid., p. 146, 181 en Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004, pp. 377-378

[3] Ibid.

[4] Williston Walker, A History of the Christian Church: 4th Edition, T&T Clark Ltd., Edinburgh: Scotland, 1919, 1986, p. 120

[5] Schmidt, Ibid.

[6] http://thecripplegate.com/is-christmas-rooted-in-paganism/

Robert T. Beckwith, Calendar and Chronology, Jewish and Christian: Biblical, Intertestamental and Patristic Studies, E.J. Brill, Leiden: The Netherlands, 1996, pp. 70-79; Susan K. Roll, Toward the Origins of Christmas, Kok Pharos Publishing House, The Netherlands, 1995; http://penelope.uchicago.edu/~grout/encyclopaedia_romana/calendar/invictus.html

[7] Alfred Edersheim, The Life and Times of Jesus the Messiah, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI: Christian Classics Ethereal Library, 1953, Appendix VII (On the date of the Nativity of our Lord), pp. 1527-1529

[8] Falvius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews, Book 17, 6:4 en voetnota, Kregel Publications, Grand Rapids: Michigan, 1960, p. 365

[9] Edersheim, Ibid., pp. 631-632

[10] James Kelso, An Archaeologist Looks At The Gospels, pp. 23-24 aangehaal in https://bible.org/article/should-christians-celebrate-christmas.  Sien ook Edersheim, p. 611 en voetnota 954

[11] Aangehaal in William Hendriksen, Matthew: New Testament Commentary, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971, p. 182

[12] Edersheim, pp. 1527-1529

[13] Needham, p. 288

[14] Schmidt, pp. 385-386

[15] https://calledconvictedconverted.com/2013/12/02/redeeming-santa-claus/

[16] Schmidt, p. 393

[17] Aangehaal in http://thecripplegate.com/christmas-confessions-why-lie-to-kids-about-santa-claus/

[18] Ibid.

[19] https://www.desiringgod.org/articles/how-we-see-christmas-symbols