Oorlog, blydskap en vrede

War and Peace

Wat beteken Jerusalem?  Volgens party kom dit van twee Hebreeuse woorde af (‘îyr en shâlôm) wat ‘stad’ en ‘vrede’ beteken.  Dit is m.a.w. die stad van vrede.  Ander dink dat dit ‘fondasie of lering van vrede’ beteken.  Hoe dit ook al sy, dit het iets te doen met vrede.

 

Maar in die praktyk is dit nie so nie.  Dwarsdeur die geskiedenis het Jerusalem oorloë gehad.  In 586 v.C. het die Babiloniërs die stad en die tempel verwoes, en in 70 n.C. het die Romeine dit gedoen.  In die Middeleeue het die Moslems en Katolieke daaroor baklei, en vandag doen die Jode en Palestyne dit.

 

Jes. 29 beskryf hoe God Jerusalem se vyande teen haar gestuur het, en hoe sy net deur Hóm vrede kan hê.

 

Jerusalem se vyande (v.1-8)

Jerusalem het gedurig geestelike egbreuk gepleeg.  Sy het haar rug op die Here gedraai en agter ander gode aangeloop.  Sy was soos ‘n vrou van wie iemand my vertel het.  Soms het sy spoorloos verdwyn, en moes haar man haar soek.  Ander kere het sy bewusteloos op die vloer gelê as hy by die huis kom.  Maar ten spyte van haar ‘affair’ met dwelms, het hy haar nog steeds liefgehad.

 

God se liefde vir sy volk was so (vgl. Hosea).  En tog was sy liefde nie sentimenteel nie.  Toe Jerusalem teen Hom gesondig het, het Hy haar nie oorgesien nie maar gedissiplineer.  “Wee Ariël, Ariël, stad waar Dawid laer opgeslaan het!” het Jesaja teen haar uitgeroep (v.1).  ‘n Vergelyking met v.8 en 2Sam. 5:6-9, wys vir ons dat Ariël ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

 

Ariël het meer as een betekenis, maar in die konteks pas ‘vuurherd of altaar’ die beste [vgl. Eseg. 43:15-16, Hebreeus].  Jerusalem was immers die plek waar diere op die vuurherd of altaar geoffer is.  Dié voorreg het gemaak dat sy dink sy kan met haar sonde aanhou:  ‘Dit maak nie saak of ons sonde doen nie; oor ‘n paar maande sal ons ‘n fees bywoon en offers bring, en oor ‘n jaar of twee sal alles vergewe wees’ (v.1).

 

Maar dit het nie so gebeur nie.  Toe die Here vyande teen haar stuur, was sy bedroef en benoud (v.2).  Die hele stad het nou ‘n vuurherd of Ariël geword (v.2).  Wat beteken dit?  Nadat die offerdiere se bloed op die altaar gestort is, is hulle verbrand.  Jerusalem was ‘n vuurherd waarin die mense se bloed gevloei het en die stad verbrand is.  God het die stad omsingel en skanse teen haar oprig (v.3).  Toe Hy klaar teen haar geveg het, was sy niks meer as die dowwe fluisterstem van ‘n gees in die doderyk nie (v.4).

 

Daarna het Hy ook haar vyande geoordeel (v.5-8).  Hy het hulle soos kaf en stof gemaak wat deur die wind wegwaai word (v.5).  Sy oordele was so kragtig, verwoestend en skielik soos donderweer, ‘n aardbewing, ‘n warrelwind, ‘n storm en vuur (v.5-6, 37:36-38).  Jerusalem se vyande sou soos ‘n slegte droom verdwyn (v.7).  Hulle was gereed om God se volk in te sluk, maar is teleurgestel soos ‘n man wat van kos droom en honger wakker word, soos iemand wat van koue water droom en dors wakker word (v.8).

 

Wat moet ons uit v.1-8 leer?  Omdat Jerusalem die Ariël of plek van brandoffers was, het sy gedink niks kan met haar gebeur nie.  Sy het haarself oortuig dat godsdiens plus tyd God se toorn sal bedaar en dit laat afkoel (v.1).  Maar sy was verkeerd.  In Jeremia se tyd nog het die Here haar hierteen gewaarsku:  “Vertrou nie op bedrieglike woorde nie – wat sê:  Die Here se tempel, die Here se tempel, die Here se tempel is dit!” (Jer. 7:4).

 

Hoe doen mense dit vandag?  Hulle vlei hulleself dat hulle met hulle sonde kan aanhou en nog steeds hemel toe sal gaan.  “Moenie dwaal nie!” sê Paulus.  “Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” (1Kor. 6:10).  Moenie dink die Here is tevrede met jou omdat jy stiltetyd hou, kerk toe gaan, tiendes gee en ander godsdienstige dinge doen nie.  Die vraag is of jy jou bekeer het en op Jesus se kruisdood vertrou?  Wys jou gehoorsame dade dat jou geloof eg is?

 

Party mense dink hulle is gered, omdat hulle vrede het.  Ek het onlangs met iemand gepraat wat dit dink.  ‘Hoe weet jy jy’s gered?’ het ek gevra.  ‘Ek voel lekker aan die binnekant,’ het hy gesê.  ‘Ek kan nie die warm gevoel in my bors beskryf nie.’  Maar die feit dat jou gewete jou nie pla nie en jy vrede het, wys nie noodwendig jy is reg met die Here nie (1Kor. 4:4).  Om vrede te hê terwyl jy met jou sonde aanhou, is ‘n vals vrede (Jer. 6:14).  Jy is rustig, maar eintlik is die Here kwaad vir jou (Jona 1:5, 1-4).  Om vrede te hê terwyl jy met sonde besig is, wys dat jy mak geraak het.  Jy is gewoond aan jou sonde, sodat jou gewete so hard en gevoelloos is soos ‘n Boesman se hak.  In die begin het jou gewete jou gepla, maar nou hoor jy nie meer die sagte stemmetjie in jou binneste nie.  Jy is in die moeilikheid.

 

As die dinge wat ek sopas gesê het jou soos ‘n skerp naald prik, is daar hoop.  Jou gewete werk nog.  Vat die kans wat die Here jou gee en bekeer jou.  As jy dit nie doen nie, mag die Here dalk net besluit om jou gewete heeltemal te verhard (Spr. 29:1, Dan. 5).  Jy sal soos Farao wees en nie die begeerte hê om jou te bekeer nie (Eks. 5-12, Rom. 9:17-18).  En as dít gebeur het is dit nie lank voordat jy die onvergeeflike sonde pleeg nie.

 

Sorg asb. dat jy vandag nog dinge met die Here regmaak.  As jy met ‘n berouvolle hart na die Here toe kom is daar altyd hoop.  As jy na Hom toe kom sal Hy jou nie wegwys nie.  Maar as jy volstrek weier, sal jy soos Jerusalem ‘n vuurherd of Ariël wees (v.2):  jou bloed sal vloei en jy sal vir ewig in die ‘vuurherd’ van die hel brand.  Die Here sal skielik en onverwags soos ‘n natuurramp op jou afkom (v.5-6).  In die hel sal niemand jou dors les of jou honger stil nie (v.8, Luk. 16:24-25).

 

Jerusalem se blindheid (v.9-16)

Sesjarige Hennie het in die stad groot geword; hy was nog nooit op die plaas nie.  Toe hy laas maand vir die eerste keer op die plaas kom, het hy ‘n varkie in die modder sien ‘vassit’.  Hy het hom uitgehelp en onder die kraan gaan afspoel.  Hy was bly dat hy die varkie kon help, maar was teleurgesteld toe die varkie aspris na die modder toe terugkeer om daarin ‘vas te sit’.

 

Jerusalem was soos die varkie.  Toe die Here haar klaar gehelp het (v.5-8), het sy na die modder van haar sonde toe teruggekeer (v.9-16).  God se verlossing was ‘n ervaring waaroor sy haar verwonder het, maar sy het nog steeds nie na Hom toe gedraai nie.  Sy kón nie die waarheid sien nie (v.9).  Sy en haar leiers was geestelik blind, dronk en aan die slaap (v.9-10).  Dié wat die Woord kon lees wou dit nie doen nie, omdat dit te veel moeite was (v.11); dié wat dit nié kon lees nie, het nie juis die moeite gedoen om te leer hóé nie (v.12).

 

As jy in Jesaja se tyd geleef het, sou jy nie dadelik agterkom dat die volk geestelik blind is nie.  Hulle het die regte woorde gesê, maar in hulle harte was hulle ver van God af (v.13, Jer. 12:2, Matt. 15:8).  Hulle het sy Woord eenkant toe geskuif en hulle eie reëls opgemaak (Matt. 15:9).  Uiteindelik het hierdie reëls die Bybel vervang, sodat die Jode in Jesus se tyd ‘n spul ekstra reëls gehad het (bv. Mark. 7:1-5, Joh. 5:9-10).

 

Soos moderne wetenskaplikes het hulle gedink hulle het te slim geraak vir die Here, en dat Hy nie hulle diep wysheid verstaan nie (v.15).  Hulle was so ‘wys’ dat hulle die Skepper-skepsel orde op sy kop gekeer het (v.16, 10:15, Rom. 1:22-23).  So asof die klei die pottebakker gevorm het en nie andersom nie (v.16).  Deur sy wonderbare dade sou die Here hulle sg. ‘wysheid’ en ‘onderskeid’ tot niet maak (v.14, vgl. 1Kor. 1:19, Hab. 1:5).

 

Hoe moet ons v.9-16 in die 21ste eeu toepas?  Om te weet hoe dit met ‘n volk gaan, moet jy kyk na wat hulle met die Bybel doen.  Moenie dink hulle het verander omdat hulle oor God se groot werke (reën en die afdanking van Robert Mugabe) praat nie (v.9).  Die vraag is:  wat doen hulle met die Bybel?

 

Beskou hulle dit as die onwetenskaplike opinies van feilbare mense?  Sê hulle dat dit ouderwets en oudmodies is?  Ignoreer hulle dit geheel en al, omdat dit nie meer relevant is vir vandag nie?  Beskou hulle dit op die vlak van enigiemand se opinie?  Sê hulle dat dit gelyk is met boeke soos die Koran?  Verban hulle dit?  Glo hulle dat dit nie meer ‘n plek het in die kansel nie?

 

Of preek hulle dit as die Gees-geïnspireerde, algenoegsame, onfeilbare, foutlose, gesaghebbende, duidelike Woord van God, wat noodsaaklik is vir redding en vir lewe?  Respekteer en gehoorsaam hulle dit (66:2)?  Of is hulle soos die diaken wat ek in Nelspruit ontmoet het:  gedurende die koor oefening het hy die Here geprys, maar tydens die breek het hy gevloek?  Is hulle soos die ouderling in ‘n ander dorp, wat daarvoor bekend is dat hy te veel drink?

 

Hulle eer God met hulle lippe, maar hulle harte is ver van Hom af (v.13).  Soos die Rooms-Katolieke Kerk hou hulle ‘n spul kerklike reëls, terwyl hulle nie omgee wat die Bybel sê nie.  In sommige kweekskole bevraagteken hulle die Bybel, in kontemporêre gemeentes gebruik hulle dit om mense lekker te laat voel, en in charismatiese kringe verlaag hulle dit tot op die vlak van hulle ekstatiese ervarings.

 

Soos Jerusalem sluit Suid-Afrikaners hulle oë vir hierdie waarheid.  As ons ons nie bekeer nie, sal die Here ons blind maak.  Daar sal nog Christene, preke, Bybels en kerke wees (of nie), maar mense sal die waarheid nie begryp nie, omdat God hulle verblind het (v.9-12, 6:9-10, Matt. 11:25, 13:10-17, Rom. 11:8, 1Kor. 2:14).

 

In hulle blindheid sal hulle dink dat ateïste wetenskaplik dink, en dat hulle hulle breins gebruik.  Een van ons oorlede lidmate se seun is ‘n ateïs.  Toe hy jonk was, het sy pa hom van die Here geleer.  Maar toe hy ‘n ateïs word, toe sê hy:  ‘Die oogklappe het nou van my oë afgeval, pa.’  Ateïste roem daarin dat hulle wys is, en dat jy nie sommer ‘n onintelligente ateïs sal raakloop nie.

 

Baie mense is deur hierdie sg. ‘wysheid’ beïnvloed; hulle oortuig hulleself dat Darwin se evolusie teorie wetenskap is.  Maar hoe is dit wetenskap om te sê dat lewe uit iets ontstaan het wat nie lewe is nie, of dat die heelal homself gemaak het?  Volgens ateïste het God nie die mens gemaak nie, maar het hulle Hóm uitgedink (v.16).  En dan noem hulle dit wysheid, dinge wat te diep is vir die Bybel (v.14-15).

 

Jerusalem se verlossing (v.17-24)

In sy boek, The Peacemaker, vertel Ken Sande van ‘n vrou wat haar man geskei het en by iemand anders ingetrek het.  Hy het teen sy eie selfbejammering en bitterheid gestry.  Hy het geweier om sy eks-vrou voor die kinders en ander mense te kritiseer.  Hy het aanhoudend vir haar gebid, en probeer om liefde en respek te wys as hy haar sien.

 

‘n Jaar later het haar verhouding met die ander man verbrokkel.  Sy het besef dat sy ‘n groot fout gemaak het om haar man te los.  ‘Is daar ‘n kans dat ons weer kan probeer?’ het sy gevra.  Hy het ingestem en voorgestel dat hulle dadelik met berading begin.  Agt maande later het hulle weer getrou en is hulle verhouding herstel.[1]

 

God se verhouding met Jerusalem was so.  T.s.v. van dit wat sy met Hom en die Woord gedoen het (v.9-16), het Hy beplan om haar te verlos en vrede te maak (v.17-24).  Die verandering in God se volk sou so groot wees soos die Libanon woud wat in ‘n vrugteboord verander of andersom (v.17, 32:15, 35:1-2).

 

Dit het ‘n paar honderd jaar later in Hand. 2:41 begin, toe 3000 Jode op een dag tot bekering kom.  Daarna het duisende meer in die Here geglo (Hand. 4:4, 5:14, 6:1, 7, 9:35, 42).  Dit gebeur nog steeds wanneer mense tot bekering kom en getransformeer word soos ‘n woud wat in ‘n vrugteboord verander (Hand. 9).  Dit sal gebeur wanneer massas Jode in die toekoms tot bekering kom, en baie heidene as gevolg daarvan in die Here glo (Rom. 11:12, 15, 25-26).

 

Die transformasie van v.17 het met Jesus se eerste koms begin.  Dowes kon die Woord van God hoor, terwyl blindes nie meer in die donker was nie maar kon sien (v.18, 9-12, 35:5, Matt. 9:27-31, Mark. 7:31-37, Luk. 7:22, 18:35-43).  Hierdie wondertekens was ‘n illustrasie van die gehoor en sig wat gekom het vir dié wat geestelik doof en blind is (6:9-10, Hand. 26:18, 2Kor. 4:4, 6, vgl. Joh. 9).

 

Dié wat hierdie transformasie ondergaan, sal nederig voor die Here buig en vars blydskap ervaar (v.19).  Hulle sal vreugde op vreugde smaak in die Here, die soet vrugte van ‘n verhouding met Hom (v.17, 19).  Hulle vreugde sal nie saam met wêreldgebeure, die ekonomie of persoonlike omstandighede fluktueer nie.  Hulle blydskap sal konstant wees, omdat dit nie op veranderlike dinge gebaseer is nie, maar op die vaste Rots van God se onveranderlike karakter (v.19, Fil. 4:4).

 

Om hierdie blydskap te ervaar moet jy geestelik arm wees (v.19, 61:1).  Jy moet erken dat jy niks is nie, dat jy niks vir die Here kan gee nie, dat jy niks tot jou redding kan bydra nie, en dat alles van God af kom.  Jy moet weet dat jý onheilig is en die Here Heilig (v.19).  As jy v.19 ernstig opneem, sal jy hemelse rykdom erf (Matt. 5:3, 5, 2Kor. 8:9).

 

Soos God se volk bly was toe Farao en sy weermag wat in die Rooi See verdrink het (Eks. 14-15), sou hulle bly wees oor die tiranne, spotters en kwaaddoeners wat verwyder is (v.20).  Dit is in Jesaja se tyd vervul (v.5-8, hfst. 36-38), maar ook toe Jesus aarde toe gekom het.  Aan die kruis het Hy die tiranne ‘n nekslag toegedien:  sonde, die dood, die hel, Satan en sy magte (Joh. 12:31, Ef. 2:1-10, Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, Op. 1:5b).  As jy aan Jesus behoort, is sonde en Satan se greep besig om te verswak; in die hemel sal jy glad nie hulle invloed voel nie.

 

Bose mense sal ook verdwyn; mense wat soos Jesus en Daniël se vyande planne beraam om gelowiges uit te vang, wat soos Jesus en Stefanus se vyande leuens teen hulle vertel en hulle vir omkoopgeld straf (v.20-21, Amos 5:10, 12, Dan. 6:5-6, Matt. 26:59-60, Luk. 11:53-54, Hand. 6:13).  Dit sal wees soos tydens die herlewing in Jonathan Edwards se tyd.  Omdat daar nie meer misdaad was nie, het die prokureur op Northampton nie werk gehad nie.  Edwards het dit beskryf as ‘a kind of heaven upon earth.’[2]  In die toekoms sal daar weer herlewings wees, en sal dit die einde van korrupte prokureurs, regters en vals getuies beteken (v.21).

 

Die Here wat ‘n maan-aanbidder soos Abraham gered het (Jos. 24:2-3), sal ook sy nageslag red en hulle seën (v.22, Gen. 12:3).  Sy nageslag verwys natuurlik na die Jode en heidene wat in Jesus glo (Gal. 3:7-9, 29).  Jakob sal nie meer skaam kry, bleek word en in sy graf omdraai oor sy  nageslag se sonde nie (v.22).  Hy sal bly wees dat die Here hulle gered het en dat hulle sy Naam heilig (v.23, 8:13, Matt. 6:9).  Hulle sal hulle oor die Here verwonder, en erken dat Jesus die Messias is (v.23).  Hulle sal bely dat hulle die werk van sy hande is, en soos Paulus hulle redding aan Hom toeskryf (Rom. 8:29-30, 11:36, Ef. 2:8-10).  Soli Deo Gloria – aan God alleen die eer!

 

Die volk wat gedurig afgedwaal en gemurmureer het, sal insig verkry en God se lering aanvaar (v.24, Eks. 15:24, 16:2, 7-9, 11, 17:3, Num. 11:1, 4-6, 14:2, 36, 16:11, 41, 17:5, Deut. 9:7, 24, 31:27, Ps. 95:10, Luk. 5:30, 15:2, 19:7, Joh. 6:41, 43, 61, Hand. 7:51).  Dit is my konstante gebed, dat God die Jode tot bekering sal bring (Rom. 10:1).

 

Maar terwyl ons vir die Jode bid, moet ons nie dink ons het gearriveer nie.  Soos hulle, kla ons partykeer omdat ons dink ons verdien beter.  Onthou dat ‘n hart wat oor alles kla kenmerkend is van ongelowiges (v.24, Rom. 1:21, Jud. 16).  As gelowiges moet ons in alle omstandighede dankbaar wees (Ef. 5:20, Fil. 2:14, 1Tess. 5:18, 1Pet. 4:9).  Die Here het jou gered, die Heilige Gees woon in jou, jy het die Bybel in jou eie taal, jy is deel van ‘n geestelike familie, jou Vader sorg vir jou, Jesus is besig om plek vir jou voor te berei in die hemel, ens.

 

Die petrol is duur, maar jy het ‘n kar.  Die e-tol is onnodig, maar daar is ‘n snelweg om op te ry.  Die regering is korrup, maar jy het ten minste nog ‘n mate van vryheid.  Ons het meer as genoeg rede om dankbaar te wees, en elke rede in die wêreld bly te wees.  Die vrede en blydskap wat Jesus gebring het, is nie tydelik soos die vrede en blydskap wat die Verenigde Nasies of Nelson Mandela bring nie.  Dit is nie ‘n vals vrede soos die innerlike vrede wat Boeddhiste ervaar nie.  Dit is nie ‘n filosofie of teorie soos in Leo Tolstoy se boek, War and Peace nie.

 

Die vrede en blydskap wat Jesus gee is ewig en eg.  Hy is die Vredevors deur wie se lewe, kruisdood en opstanding daar vir ons vrede gekom het (9:5, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  “En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees! … En mag Hy, die Here van die vrede, julle altyd vrede gee op allerlei wyse!” (Rom. 15:13, 2Tess. 3:16).

 

[1] Ken Sande, The Peacemaker, Baker Books, Grand Rapids: MI, 1991, 2004, pp. 251-252

[2] Iain Murray, Jonathan Edwards: A New Biography, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, p.270