God se prioriteite vir 2018 en die res van jou lewe

Resolutions 2018

Toe Jonathan Edwards 19 was, het hy 70 voornemens vir homself neergeskryf.[1]  Hier is ‘n paar van hulle:

 

‘#7. Voorgeneem, Om nooit iets te doen wat ek bang sou wees om te doen as dit die laaste uur van my lewe was nie.

 

#10. Voorgeneem, As ek pyn voel, om aan die pyne van marteling en die hel te dink.

 

#15. Voorgeneem, Om nooit in die minste kwaad te word vir irrasionele wesens [bv. honde] nie.

 

#46. Voorgeneem, Om nie toe te laat dat ek in die minste geïrriteerd of omgekrap raak met my ouers nie…

 

#56. Voorgeneem, Om nooit op te gee of te verslap in my stryd met sonde nie, al is ek ook hoe onsuksesvol.’

 

Hoe het Edwards hierdie voornemens onthou; hoe het hy daarin geslaag om dit in sy lewe toe te pas?  Ek glo dat daar ‘n paar redes vir sy sukses is.

 

Eerstens:  Hy het nie op sy vasberadenheid, selfdissipline en geheue staatgemaak het nie.  Reg aan die begin van die voornemens sê hy:  ‘Ek besef dat ek tot niks in staat is sonder God se hulp nie.  Daarom smeek ek Hom nederig om my deur sy genade in staat te stel om hierdie voornemens te hou, in soverre dit ooreenstem met sy wil en vir Christus se onthalwe.’

 

Tweedens:  Voordat hy die voornemens begin sê hy:  ‘Onthou om elke week hierdie voornemens deur te lees.’  Sodoende het hy dit beter onthou.  Omdat hierdie lewensvoornemens was en nie net voornemens vir die nuwe jaar nie, het hy nie na 3 maande opgegee nie maar daarin volhard.

 

Derdens:  In die eerste voorneme sê hy dat hy hierdie dinge vir God se eer wil nakom.  Is dit dan enige wonder dat die Here hom hierin geseën het?

 

Vierdens:  Edwards se voornemens was hoofsaaklik geestelik.  Sy doel in die lewe was nie om wêreldse sukses, rykdom of ‘n mooi liggaam te hê nie.  Hy het op geestelike dinge gefokus.

 

Die doel, motivering en krag agter Edwards se voornemens klink nogal soos Paulus s’n in 2Tess. 1:11-12.  As jy hierdie verse ernstig opneem, sal dit meer as net 2018 verander – dit sal jou hele lewe verander.

 

Hoe moet jy bid? (v.11)

Wyle dr. Martin Holdt het ‘n groot invloed op my gehad.  Hy het wonderlike dinge gesê, maar sy lewe het my die meeste beïndruk.  Met Paulus se gebede is dit ook so.  Dit is nie net sy lering oor gebed wat ons help nie, maar sy voorbeeld.

 

Toe die gelowiges in Tessalonika vervolg is (1Tess. 2:14-16, 3:3-4, 2Tess. 1:4), het Paulus só vir hulle gebid:  “Daarom bid ons ook altyd vir julle dat onse God julle die roeping waardig mag ag, en dat Hy alle welgevalle aan wat goed is, en alle werk van die geloof met krag volkome mag maak” (v.11).  Die Nuwe Lewende Vertaling stel dit soos volg:  “Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle.  Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het.  Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot uitvoering bring.”

 

Wat leer ons uit hierdie gebed?

 

Soos in 1Tess. 3:12-13, 5:23 bid Paulus hier in die konteks van die wederkoms (v.11, 7-10).  Dit was ook in hierdie konteks wat die gelowiges in Tessalonika hulle voornemens moes maak.  Dit was nie genoeg om net voornemens vir die nuwe jaar te hê nie.  Paulus het vir hulle lewensvoornemens gebid.

 

Ons moet dieselfde doen.  ‘Waarvoor lewe jy?’ is die vraag wat jy jouself moet afvra.  Lewe jy om suksesvol te wees, ‘n top posisie by die werk te hê, akademiese grade te hê, mooi te lyk, fiks te wees, geld te maak, in luuksheid af te tree, jou gesin bymekaar te hou, in die kollig te wees, of wat?

 

Dalk het jy nog nie hieroor gedink nie.  Dit sal goed wees om daaroor te dink as jy jou planne vir die nuwe jaar maak.  Die doel en voorneme wat jy vir jou lewe het, moet groter as jou kort bestaan van 70 of 80 jaar wees.  Dit moenie stop as jy jou asem uitblaas nie, maar dit moet voortleef as jy nie meer hier is nie.  Jy moet dus nie net voornemens en planne vir 2018 hê nie, maar vir jou hele lewe.  Die voornemens wat jy maak moet jou lewe hierna beïnvloed.

 

As jy net vir hierdie wêreld lewe sal jy teleurgesteld wees, “want die gedaante van hierdie wêreld gaan verby.” (1Kor. 7:31).  “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid” (1Joh. 2:17).  Binnekort sal jy in die graf lê.  En wat sal jou skoonheid, geleerdheid, rykdom, gesondheid, roem, status, geluk, ens. dán beteken?  Jy kan nie eers seker wees dat jou lewensmaat en kinders die erfdeel sal kry wat jy vir hulle agtergelaat het nie.

 

Leef daarom vir Christus.  Sorg dat Hý en nie jý nie, die middelpunt van jou voornemens is.  Dink daaraan dat jy eendag voor Hom gaan moet staan.  Wat gaan jy vir Hom sê as Hy jou oor jou lewe vra?  Wat gaan jy sê as Hy jou vra hoekom jy vir jouself en hierdie wêreld gelewe het, en nie vir Hom wat lewe, asem en alles vir jou gegee het nie?  Hoe gaan jy jou begeertes, motiewe, gedagtes, woorde, dade en lewe vir sy alsiende oë wegsteek?

 

Pla dit jou nie dat die God van hemel en aarde van jou rekenskap gaan eis nie?  Sal die plankhuisie van jou lewe voor die geweldige stormwind van sy regverdige oordele staan?  Gaan jy maar net hoop dat jy meer goed as sleg gedoen het, en dat jou goeie werke swaarder geweeg het as jou sonde?  Dink jy die Here gaan daarmee tevrede wees?

 

Verseker nie (Ps. 1:5, 5:5-6, Jes. 64:6, Hab. 1:13, Rom. 3:10-12, 23).  Om vir God aanneemlik te wees kan daar nie een fout op jou rekord wees nie – jy moet ‘n perfekte ‘track’ rekord hê (Matt. 5:20, 48).  Dit werk nie soos by jou skool nie.  As jy by die Here selfs net een demeriete teen jou naam het, sal Hy jou nie aanvaar nie (Jak. 2:10).  In sy hof is daar nie ‘n eerste, tweede en derde dissiplinêre verhoor soos by jou werk nie.  As jy een keer oortree het is jy vervloek, en kan jy nie in sy heilige teenwoordigheid inkom nie (Gal. 3:10).

 

Miskien wonder jy watse hoop daar dan vir jou is.  Deur Jesus Christus kan jy na die Vader toe kom (Joh. 14:6, 1Tim. 2:5).  Moet dan nie langer op jou Christelike opvoeding, goeie werke of godsdienstige pogings vertrou nie.  Dit kan so min maak dat die Here jou aanneem, as wat ‘n swart sak vol gemors vir jou ‘n Ferrari kan koop.  Beskou jou eie pogings en werke as gemors, en moet asb. nie daarop staatmaak om jou in die hemel te kry nie (Fil. 3:4-7).  Draai 180° weg van jou sonde en jou eie pogings af na die Here toe.  Ontvang sy vergifnis en die perfekte rekord van sy geregtigheid deur die geloof (Fil. 3:8-9).  Jy kan niks doen om dit te verdien nie; dit is ‘n gratis geskenk – ontvang dit net (Rom. 3:24, 6:23b, Ef. 2:8-9).

 

Vir die mense in Tessalonika wat dit ontvang het, het Paulus twee dinge gebid:

 

[1] Dat die Here hulle sou help om waardig te lewe soos mense wat uit die dood na die lewe geroep is (v.11, vgl. 2:14, 1Tess. 2:12, Ef. 4:1, Fil. 1:27, Kol. 1:10).  Hy het m.a.w. gebid dat hulle nie ‘n swak advertensie vir die evangelie sou wees nie, maar dat hulle soos Christene sou lewe.  Deur hulle heilige lewens moes hulle Jesus se Naam hoog hou, en dit nie deur die modder sleep nie (v.3-4, 1Tess. 1:8-9, 3:6).

 

Ons moet dit ook vir onsself en ons kinders bid.  Leef jy soos ‘n Christen by die kerk?  Is jy getrou aan die liggaam van Christus?  Dien jy ander gelowiges en bid jy vir hulle?  Gebruik jy jou geld om die Here se werk te bevorder?  Prys jy die Here uit ‘n opregte hart?  Doen jy wat Hy in die Bybel vir jou sê?  Bid jy saam met ander Christene?

 

Leef jy soos ‘n Christen in jou gesin?  Is jy lief vir jou vrou?  Stel jy haar belange bo jou eie?  Spandeer jy tyd met haar?  Is haar geestelike groei vir jou belangrik?  Hou jy jouself rein vir haar?  Stel jy haar bo jou kinders?

 

Is jy onderdanig aan jou man?  Respekteer jy hom in die manier waarop jy met hom praat?  Ondersteun jy hom?  Bid jy vir hom?  Behoort jou hart aan hom alleen, en aan niemand anders nie?  Stel jy hom bo jou kinders?

 

Is jy lief vir jou kinders?  Spandeer jy tyd met hulle, of is jy te besig?  Gesels jy met hulle?  Leer jy hulle van die Here?  Verloor jy jou humeur met hulle, of dissiplineer jy hulle met waardigheid en liefde?

 

Respekteer jy jou ouers?  Gehoorsaam jy onmiddellik wanneer hulle met jou praat, of praat jy terug?  Bid jy vir hulle?  Is jy lief vir hulle?  Sê jy dankie dat hulle jou versorg en liefhet?

 

Leef jy soos ‘n Christen by die skool en by die werk?  Doen jy jou beste?  Werk jy hard?  Luister jy vir die mense wat oor jou aangestel is?  Werk jy eerlik en opreg, of kroek jy?  Mors jy jou ouers of baas se tyd en geld?  Praat jy terug?  Hou jy jou lewe skoon?  Is jy stiptelik?  Praat jy soos ‘n Christen?

 

Leef jy soos ‘n Christen in jou wyer familie, vriendskappe, stokperdjies, vermaak, ontspanning, ens.?  Wat van jou kinders:  bid jy dat húlle die Here sal dien en soos Christene sal lewe?  Volgens D.A. Carson bid ons meer dat ons kinders hulle eksamens sal deurkom, ‘n goeie werk sal hê, gelukkig sal wees en nie sal wegdwaal nie, as wat ons bid dat hulle vir die Here sal lewe.

 

‘Many of us have had the experience of asking a parent, “How are your children doing?” only to get an answer like this:  “Oh, Johnny’s doing very well now.  His career as a research physicist has really taken off.  He is the youngest person in his company to have been appointed to the board.  And Evelyn is doing very well, too.  She’s into computer programming and is already ahead of her section.”

 

“And how are they doing spiritually?”

 

A long pause.

 

“I’m afraid they’re not really walking with the Lord at the moment.  But we’re hoping they’ll come back some day.”’

 

Carson is reg as hy sê dat sulke antwoorde iets van ons verdraaide prioriteite wys.  Ons is verheug oor ons kinders se materiële voorspoed, maar dit pla ons nie juis dat hulle traak-my-nie-agtig is oor die God wat hulle gemaak het nie.  Maar hoe sal jou kinders se toewyding aan wêreldse waardes hulle in die ewige toekoms help?[2]

 

Verstaan jy hoekom jy geestelike dinge vir jouself, jou kinders en ander gelowiges moet bid, en nie net materiële en tydelike dinge nie?  Wees soos die jong dame in 1892 wat op die innerlike en geestelike dinge gefokus het.  Sy het die volgende in haar dagboek geskryf:

 

Resolved, not to talk about myself or my feelings.  To think before speaking.  To work seriously.  To be self restrained in conversation and actions.  Not to let my thoughts wander.  To be dignified.  Interest myself more in others.’[3]

 

Kontrasteer dit met ‘n tienermeisie se dagboek inskrywing in die 1990’s:

 

‘I will try to make myself better in any way I possibly can with the help of my budget and baby-sitting money.  I will lose weight, get new lenses, already got new haircut, good makeup, new clothes and accessories.’[4]

 

Laat ons in ons voornemens op die innerlik mens en ons verhouding met die Here fokus, en nie op uiterlike dinge nie.  Dit is tog wat vir die Here belangrik is (1Sam. 16:7, Spr. 31:30, 1Pet. 3:3-4).

 

[2] Paulus het verder gebid dat God die gelowiges se goeie voornemens sal vervul (v.11).  Weereens gaan dit hier oor voornemens wat jy vir jou lewe het, en nie net oor nuwejaarsvoornemens nie.  Dit gaan oor goeie voornemens.  Die Here weet wat goed is vir jou, en soos ‘n goeie Vader sal Hy nie dinge in jou lewe vervul as dit jou gaan benadeel nie (Matt. 7:9-11, Rom. 8:28).  Oor 20 jaar sal jy terugkyk en dankie sê dat Hy partykeer ‘nee’ gesê het.  Soms sal Hy ‘nee’ sê, omdat Hy jou karakter wil vorm en jou meer soos Jesus wil maak.

 

Jy bid bv. dat die Here ‘n sekere probleem moet wegvat, omdat dit vir jou te moeilik is.  Jy is soos ‘n atleet wat te moeg is om verder te hardloop.  Maar sodra jy wil uitsak skreeu die afrigter van die kantlyn af dat jy nie mag ophou nie.  Aanvanklik is jy vies, maar as jy eerste oor die wenstreep hardloop is jy bly dat hy ‘nee’ gesê het.

 

Jy is soos Paulus.  Hy het drie keer vir iets gebid, maar die Here het ‘nee’ gesê.  Toe hy later terugkyk, toe besef hy dat die Here iets beter vir hom gegee het (2Kor. 12:7-10).  So sal die Here ook vir jou ‘nee’ sê, omdat Hy iets beter vir jou wil gee.

 

Wanneer dinge nie uitwerk soos jy gehoop het nie, sal jy dink dat die Here teen jou is en soos Jakob sê:  “Alles is teen my! … vol teëspoed was die dae van my lewensjare” (Gen. 42:36, 47:9).  Later sal jy egter terugkyk en saam met Jakob getuig van die God “wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het” (Gen. 48:15-16).

 

God is getrou en sal al jou goeie voornemens vervul (v.11).  Daar is twee maniere hoe Hy dit doen.

 

  • Jy moet bid. Dit help nie dat jy net harder probeer en op jouself staatmaak om te verander nie (bv. diëte).  Jy moet aanhoudend die Here se hulp vra en op sy krag steun (v.11).
  • Jy moet werk. Dit help nie dat jy oor jou goeie voornemens bid, maar passief sit en wag dat die Here vir jou die krag moet gee om dit te doen nie.  Neem aksie.  Doen wat die Here jou beveel, en glo dat Hy vir jou die krag sal gee om sy wil uit te voer (v.11).

 

Daar is ‘n Latynse spreekwoord wat sê:  ora et labora – bid en werk.  Jy kan nie net een of die ander doen nie.  Volgens Paulus in 2Tess. 1:11 moet jy beide doen.

 

As jy in gebed op die Here se krag staatmaak, is enigiets moontlik (Matt. 17:20).  Dink jy dat jy nie vermoë het om ‘n Bybelstudie by die werk te begin of siek mense te besoek nie?  Dalk wil jy met iemand die evangelie deel of by ‘n biduur inskakel, maar jy het nie die vrymoedigheid om voor ander te bid of met hulle oor die Here te praat nie.  Bid daaroor, tree uit in die geloof, en vertrou dat die Here vir jou die krag sal gee om dit te doen (v.11).

 

Miskien lê hierdie dinge soos ‘n berg voor jou en dink jy dat jy dit nooit sal regkry nie.  By die Here is niks onmoontlik nie.  As jy glo dat Hy jou kan help en in geloof uittree, sal Hy vir jou vlerke gee om oor die berg te vlieg.  Nee, ek jok!  Hy sal die berg verwyder.  “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.  Wie is jy, groot berg?  Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word!” (Sag. 4:6-7).  “Want, voorwaar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir hierdie berg sê:  Hef jou op en werp jou in die see—en nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, sal gebeur—hy sal verkry net wat hy sê.” (Mark. 11:23).

 

Waarvoor wag jy dan?  Moenie ‘n sekonde langer aan die voet van die berg staan en wonder nie; gee die eerste tree.  Kom aanddiens toe, lees jou Bybel meer, dissipeleer ‘n jong Christen, kry ‘n jeug bediening van die grond af, bestel traktaatjies en begin om dit uit te deel, gaan slaap vroeër en staan 15 minute vroeër op sodat jy langer kan bid, trek R100 en gee dit vir ‘n sendeling, stuur vandag vir jou ongelowige kollega ‘n boodskap en nooi hom kerk toe, bel hierdie week ‘n broer of suster en nooi hulle vir ete.

 

Dalk is jy skepties, omdat jy al in die verlede probeer het om te verander, maar dit het nie gewerk nie.  Jy is soos 8-jarige Jannie wat eendag vir die Springbokke wil speel.  Hy vra sy ma om vir hom ‘n bal te koop, en gaan vol ywer na die eerste oefening toe.  Na die derde oefening kla hy dat dit hom te moeg maak, en dat hy nooit ‘n Springbok sal wees nie.

 

Jy moet eerder soos Brandon Burlsworth (1976-1999) wees.  Hy was ‘n oorgewig jong man wat professionele voetbal wou speel.  Almal het vir hom gelag; dit het gelyk of sy drome onrealisties is.  Na sy eerste jaar op kollege het hy nie die span gemaak nie.  Maar hy was vasberade en het nie opgegee nie.  Met toewyding en harde oefening het hy sy vet omgesit in spiermassa.  Uiteindelik was hy een van die mees geëerde spelers in die geskiedenis van Amerikaanse voetbal in die staat van Arkansas.

 

Wat kan jy doen om op ‘n geestelike vlak so te volhard?

 

  1. Bely jou sonde en raak ontslae van die dinge wat keer dat jy die Here se wil uitvoer (Matt. 5:29-30). Dit geld vir slegte vriende en ander verkeerde invloede in jou lewe (Rom. 13:14, 1Kor. 15:33, 1Tess. 5:22, Heb. 12:1).

 

  1. Bid, bid, bid (v.11, 1Tess. 5:17). Salomo sê: “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hy jou paaie gelykmaak.” (Spr. 3:5-6).  Vra elke oggend dat die Here jou sal help om deur die dag te kom (Klaagl. 3:23).

 

  1. Onthou dat jy die Here se krag tot jou beskikking het (v.11). By Hom is niks onmoontlik nie; Hy kan doen ver bo wat jy kan bid of dink (Matt. 19:26, Ef. 3:20).

 

  1. Neem een tree op ‘n slag, en moenie ‘n kits oplossing verwag nie. Jy gaan elke dag die Here moet volg (Luk. 9:23). Dit gaan tyd neem om te verander.  ‘n Gewoonte van 15 jaar verander nie binne 2 maande nie.

 

  1. Moenie opgee as jy geval het nie. Staan op, bely jou sonde en probeer weer… en weer… en weer. As jy ‘n slegte gewoonte kan aanleer, kan jy dit afleer en met ‘n goeie een vervang.  Gal. 6:9 sê:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.”

 

  1. Vra ander gelowiges om vir jou te bid en jou aan te moedig (v.11, Heb. 3:13, 10:24). Hiervoor is dit belangrik dat jy aktief deel moet wees van ‘n goeie gemeente.

 

  1. Hou die wederkoms voor oë, omdat jou goeie voornemens dán eers finaal vervul sal wees (v.11, 1Tess. 5:23). Dit is makliker om in die wedloop te volhard as jy die wenpaal sien (Heb. 12:2).

 

Wat moet jou doel wees? (v.12a)

Soms het ons goeie voornemens met slegte motiewe.  Dit is soos Hans wat ‘n oor boek nederigheid skryf, maar hoogmoedig is omdat hy die nie-fiksie titel van die jaar gewen het.

 

Net so kan jy jou voorneem om die Here met jou eetgewoontes te eer, en dan met jou neus in die lug te loop omdat jy baie gewig verloor het.  Jy kan jou voorneem om meer vir die armes te gee, en dan in jou hart wens dat iemand dit sal raaksien en iets daaroor sal sê.  Jy kan besluit om meer te bid, terwyl jy in die geheim hoop dat mense jou as ‘n man of vrou van gebed sal ken.

 

Hoe weet jy of jou motiewe verkeerd is?

 

[1] Jy dagdroom oor hoe mense jou goeie werke sien en jou prys.  Jy is soos die Fariseërs:  hulle het goed gedoen om deur die mense gesien te word (Matt. 6:1-5, 16-18).

 

[2] Jy is kwaad of depressief, omdat niemand vir jou dankie gesê het nie.  Iemand met suiwer motiewe soek nie die lof van mense nie, maar van God (Joh. 12:43, Rom. 2:29, 1Tess. 2:4).

 

[3] Jy doen goed, omdat jy ‘n beter huwelik, ‘n soet kind, meer geld of iets anders by die Here soek.  Maar die Here sal nie toelaat dat jy Hom met goeie werke omkoop nie.  Jy kan nie sy genade verdien nie.  Hy gee dit soos Hy wil, wanneer Hy wil, vir wie Hy wil.  As jy goed gedoen het moet jy nie ‘n dankie verwag nie, maar erken dat selfs jou goeie werke van die Here af kom, en selfs dít ‘n genade is (Ef. 2:10).

 

“Bedank [die Meester sy] dienskneg, omdat hy gedoen het wat hom beveel is?  Ek glo nie.  So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, sê dan:  Ons is onverdienstelike diensknegte, want ons het gedoen wat ons verplig was om te doen.” (Luk. 17:9-10).

 

[4] Jy roem oor die sukses wat jy bereik het.  Die Bybel beveel jou om in die Here te roem en nie in jouself nie (Jer. 9:23-24, 1Kor. 1:31, 2Kor. 10:17-18).  Laat iemand anders se lippe jou prys en nie jou eie nie (Spr. 27:2).

 

As jy jou voornemens reg wil uitvoer, moet jy mik om die Here verheerlik en nie jouself nie (v.12).  Doen goed, omdat jy wil hê dat mense deur jou die Here sal ken en Hom sal prys (Matt. 5:16), en nie omdat jy die aandag op jouself wil vestig nie.  By die wederkoms sal jy ‘n verheerlikte liggaam ontvang, en sal almal Christus se heerlikheid in jou sien (v.12, 10, Rom. 8:18).  Dit moet jou doel wees, die teiken waarvoor jy mik (Fil. 3:10-11).  As jy enige ander motief het, is jou voornemens tevergeefs.

 

Hoe sal jy dit regkry? (v.12b)

Ons kan 2Tess. 1:11-12 soos volg illustreer.  Jou lewe is die kar, God se krag die enjin, sy genade die petrol, en jou goeie voornemens die pad waarop jy moet ry.  Gebed is die tweerigting radio waardeur jy die Here vra om die pad aan te wys en nog petrol te voorsien.

 

Om die reis suksesvol te voltooi het jy al hierdie dinge nodig – jy kan nie iets uitlos nie.  Vir nou wil ek jou oor die petrol van God se genade leer.  God se genade kos nie geld nie – dit is gratis.  Dit is tog wat sy genade genade maak, want as jy dit verdien het is dit nie meer genade nie.

 

Genade is God se onverdiende guns waardeur Hy sy Seun en baie ander goeie dinge vir ons gee (Rom. 8:32).  Dit is hierdie genade wat ons elke dag nodig het om ons goeie voornemens te vervul (v.11-12):  “sonder My kan julle niks doen nie … deur die genade van God is ek wat ek is” (Joh. 15:5, 1Kor. 15:10).

 

Hoe kan jy hierdie genade ontvang?  Bely dat sonde jou arm gemaak het, dat jy niks kan bydra om God se genade te koop nie.  Glo dat Jesus hierdie peperduur genade aan die kruis gekoop het, en dat dit gratis beskikbaar is vir almal wat vra (Jes. 55:1, Op. 21:6, 22:17).  Gebruik gedurig die tou en emmer van geloof en gebed om uit die put van God se genade te skep.  Laat God se genade ook deur lofprysing, die Woord, die doop, die nagmaal, broederlike gemeenskap, diensbaarheid, dissipline, offergawes, evangelisasie en ander se geestelike gawes na jou toe vloei.

 

Deur die Gees wat in jou woon, sal die Vader en die Seun se genade jou help om v.11-12 te vervul:  om aan te hou bid, soos ‘n Christen te lewe, jou goeie voornemens uit te voer, nie op jou eie krag te steun nie maar op syne, ‘n God-gesentreerde doel te hê.  Om hierdie dinge te doen maak jou nie ‘n Christen nie, maar dit wys verseker dat die Here se genade in jou lewe teenwoordig is.

 

Op hierdie punt is dit belangrik dat jy nie net jou voornemens vir 2018 aan die Bybel meet nie, maar dat jy jouself toets om te sien of jy ‘n Christen is (2Kor. 13:5).

 

  • Is Jesus se wederkoms iets waaraan jy dink, of is jy te besig met jou lewe in hierdie wêreld (v.11, 7-10)?
  • Bid jy gedurig, of bid jy net as jy die Here nodig het (v.11)?
  • Leef jy soos ‘n Christen, of lyk jou lewe nie anders as die wêreld s’n nie (v.11)?
  • Het jy heilige voornemens en begeertes, of beheer sondige drange jou hart (v.11)?
  • Kry jy dit reg om die Bybel se goeie begeertes uit te voer (v.11)?
  • Het jy die krag om daarmee vol te hou, of gee jy op (v.11)?
  • Is dit jou begeerte om die Here te verheerlik (v.12)?
  • Besef jy dat jy God se genade nodig het, of dink dat Hy jou goeie dinge skuld (v.12)?

 

As jy eerlik kan sê dat Paulus se begeerte in hierdie verse joune is, wil ek Dawid se woorde vir jou bid:  “Mag [die Here] u gee na u hart en al u voornemens vervul! … Mag die HERE al u begeertes vervul!” (Ps. 20:5-6).  “U het hom die wens van sy hart gegee en die begeerte van sy lippe nie geweier nie.” (Ps. 21:3).  “en verlustig jou in die HERE; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.” (Ps. 37:4).

 

Mag die Here jou in 2018 en die res van jou lewe help om sy prioriteite joune te maak, en dit dan in jou lewe vervul.

 

‘…Ek stuur my seilboot die onbekende waters van hierdie jaar in,

met U, O Vader, as my hawe,

met U, O Seun, aan die stuur,

met U, O Heilige Gees, wat my seile [vul].

 

Lei my na die hemel, voorberei vir die stryd,

met my lamp wat brand,

my ore oop vir U roepstem,

my hart vol liefde

en my siel vry.

 

Gee my U genade om my te heilig,

U troos om my op te beur,

U wysheid om my te leer,

U regterhand om my te lei,

U raad om my te onderrig,

U wet om my te oordeel,

U teenwoordigheid om my standvastig te maak.

 

Mag eerbied aan U my doel wees,

U oorwinnings my vreugde.’[5]

 

[1] Vry vertaal uit The Works of Jonathan Edwards: Vol.1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, pp. xx-xxii

[2] D.A. Carson, A Call to Spiritual Reformation, Baker Academic, Grand Rapids: Michigan, 1992, 2009, p. 55

[3] Aangehaal in C.J. Mahaney (Red.), Worldliness, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2008, p. 134

[4] Ibid.

[5] Arthur Bennett, Vallei van Gebed, WoordVerspreiding: Vereeniging, 2009, p. 122.  Vertaal deur Antoinette van Rooyen uit Arthur Bennett, The Valley of Vision, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland: 1975, p. 112

Die Koning van die engele

Christ's two crowns

Reeds in die 2de eeu n.C. het Christene Bybelse simbole soos ‘n herder, brood, ‘n duif, ens. op hulle was seëls en klei breekware gebruik.  In die 4de eeu het hulle hulle kerkgeboue met hierdie en ander simbole versier.  Party Christene was sterk hierteen gekant, maar vir ander was dit nie ‘n probleem nie.  Epifanius van Salamis (315-403 n.C.) het vurig baklei en gesê dat hulle hierdie kunswerke moet uitgooi.  Omdat hy egter in die minderheid was, het die debat doodgeloop.[1]

 

In die 8ste en 9de eeu n.C. het dit ‘n tweede asem gekry, sodat die Oostelike kerk byna geskeur het.  Baie mense het voor die kunswerke gebuig, dit gesoen, voor dit gebid of kerse voor dit aangesteek.  Volgens hulle het hulle nie die kunswerke aanbid nie, maar respek betoon aan die engel of afgestorwe gelowige wat daarin uitgebeeld is.

 

‘n Groep gelowiges het gesê dat hierdie mense die tweede gebod oortree.  In reaksie hierop het hulle gesê dat God sy volk verbied het om voor drie dimensionele beelde te buig, en dat dit nie verkeerd is as hulle voor twee dimensionele prente buig nie.  ‘Maar al sou ons ook drie dimensionele beelde maak, wys dinge soos die koper slang en die gerubs op die ark dat dit nie verkeerd is om voor dit te buig nie,’ het hulle gesê.  ‘Die prente help ook die mense wat nie kan lees nie.’[2]

 

Ek het nie ‘n probleem as iemand vir Dawid of die engel by Jesus se graf teken nie.  Maar om voor hierdie prente te buig, dit te soen of voor dit te bid is iets anders, omdat sulke respek die Here alleen toekom.  Kan jy jou indink dat ‘n engel voor ‘n prent van Adam of Petrus buig en dit soen?  Die Engele weet dat hulle net voor Een moet buig, en dit is die Here.  Hy is die Koning van wie die ou lied sê:  ‘Come and behold Him, born the King of angels.’  Dit is o.a. waaroor Heb. 1:6b gaan.

 

Sy realm

In Griekse en Romeinse mitologie het elke god oor ‘n sekere gebied of realm geheers.  Daar was ‘n god van die hemel, die see, oorlog, landbou, liefde, ens.  In Christenskap is dit nie so nie.  Ons God heers oor elke realm (Ps. 103:19, 135:6).  Dit is wat in Heb. 1:6 met ‘wêreld’ bedoel word.

 

[1] Toe die Vader die Seun 2000 jaar gelede in die wêreld inbring (v.6, 10:5), het die engele Hom aanbid en gedien:  Matt. 4:11, 26:53, 28:2-3, Luk. 2:13-14, 22:43, Hand. 1:9-11, 1Tim. 3:16.

 

[2] Toe Jesus ná die hemelvaart in die toekomstige wêreld inkom (v.6, 2:5), het die engele Hom aanbid:  Ps. 24:9, 110:1, Ef. 1:20-22, 1Pet. 3:22.

 

[3] Wanneer Hy eendag na die wêreld toe terugkeer (v.6, 9:28), sal al die engele sy heerlikheid aanskou:  Matt. 25:31, 2Tess. 1:7, 10.

 

Toe Jesus in Betlehem gebore is was Hy in sy menslike natuur vir ‘n kort tydjie minder as die engele (Heb. 2:9).  Na sy hemelvaart het Hy egter die heerlikheid ontvang wat Hy voor Gen. 1 en sy geboorte by die Vader gehad het (Joh. 14:28, 17:5, Fil. 2:6-11).  Volgens Ef. 1:22 het die Vader “alle dinge onder sy voete onderwerp”.  “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde,” het Hy in Matt. 28:18 vir sy dissipels gesê.  Wat in Dan. 4:35 vir die Vader geld, geld ook vir Hom:  “na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde”.

 

Die huidige aarde, die hemel, en die nuwe aarde is dan die realm waar Jesus Christus regeer.  Hy is dus nie net die Koning van die engele nie, maar van alles en almal.  ‘There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry, “Mine!”’ (Abraham Kuyper).[3]

 

Wat beteken sy soewereine heerskappy prakties vir ons?

 

[1] Jesus Christus het vir Robert Mugabe en Jacob Zuma aangestel en afgedank (Dan. 2:21).  Alle konings en leiers kry hulle gesag by Hom (Rom. 13:1).  Hy is die Koning van die konings en die Here van die Here (Op. 19:16).  Praat met Hóm oor die politiek eerder as om daaroor te kla (1Tim. 2:1-2).

 

[2] Die huidige droogte in die Wes-Kaap en die brande wat vroeër vanjaar in Knysna gewoed het, is onder sy beheer (Deut. 28:23-24, Job 5:10, Ps. 148:8, Jer. 14:22).  Hy beheer ook siklone, tsunami’s, sneeustortings, donderstorms, vloede, aardbewings en alle natuur rampe (Gen. 7, 1Sam. 12:18, Job 37:3-6, Ps. 83:16, 107:23-30, 147:16-18, Jes. 29:6, Jona 1).

 

Omdat dit so is, moet ons nie oor die droogte murmureer, of Christus se goedheid bevraagteken nie.  Ons moet Hom eerder vrees en ons van ons sonde bekeer.  Sy beheer oor die natuur beteken logies dat die natuur Hóm nie beheer nie.  Die implikasie is dat Hy vir die Wes-Kaap reën kan gee, al is dit nie nou hulle seisoen vir reën nie.  En sal ons nie hiervoor bid nie?

 

Maar wat as die Here besluit om nie reën te stuur nie?  Ek ken ‘n predikant in Zimbabwe wat R500 per maand verdien.  Hy sorg vir 7 weeskinders en het nie eers genoeg geld om brood te koop nie.  Al wat hulle elke dag eet is pap.  Omdat hulle nie lopende water het nie, het ‘n paar gelowiges geld bygedra om vir hulle ‘n boorgat te sink.  Hulle het 60 meter geboor en nie water gekry nie.

 

In reaksie het hy die volgende sms getik:  ‘A man’s life does not consist of the abundance of the things which he possesses.  Jesus is enough… If Jesus has given me repentance toward God, then I believe that is all that matters.  Yes, the Lord is all I will think about, and I will help my wife not to be distracted.’

 

Dit moet ook ons gesindheid wees indien die Here besluit om nie dadelik ons gebede vir reën in die Wes-Kaap te beantwoord nie:  “Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie – nogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.” (Hab. 3:17-18).  “Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd!” (Job 1:21).

 

[3] Die duiwel en sy demone kan nie ‘n vinger verroer sonder Jesus se toestemming nie; Hý besluit wat hulle mag doen, en vir hoe lank hulle dit mag doen (Job 1:12, 2:6, Matt. 8:31-32, Mark. 1:25-26).  Moet dan nie soos party mense sê dat die duiwel los is wanneer jy finansieel sukkel, siek word, ‘n rebelse kind het, iemand aan die dood afstaan, ‘n miskraam het, ens. nie.  Wanneer sulke dinge gebeur is die duiwel nie ewe skielik in beheer nie – Jesus is.  Bring daarom jou bekommernisse na Hom toe, want Hy sorg vir jou (1Pet. 5:7).

 

[4] Die dood is nie ‘n persoon met ‘n swart kappie en ‘n sekel-maaier in sy hand, wat ter enige tyd kan besluit om jou dood te maak nie.  Jesus is in beheer van die dood, en sal besluit wanneer jy doodgaan (Job 14:5, Op. 1:18).  As jy ongered is moet jy bang wees, omdat daar iets erger as die dood is:  die tweede dood of die hel.  As jy met jou sonde aanhou sal dit jou ewige bestemming wees (Op. 21:8).

 

Maar as jy in Jesus glo is die dood ‘n lelike vissersboot wat jou na ‘n pragtige Paradys toe neem (Luk. 23:43, Fil. 1:21, 23).  Terwyl jy in die boot is sal Jesus by jou wees en jou hand vashou – jy hoef nie te vrees nie (Ps. 23:4, Heb. 2:14-15).  Die dood kan jou so min skade doen soos ‘n goeie nagrus, ‘n leeu in jou droom, of ‘n by wat nie ‘n angel het nie (1Tess. 4:13-14, 1Kor. 15:55).

 

As jy hard en lank genoeg dink, sal jy sien dat Christus se soewereine heerskappy praktiese gevolge vir elke area van jou lewe het.  Dit geld vir terminale siektes soos kanker, slapeloosheid, pyn, tragedies wat oor jou pad kom en meer.  Niks, maar niks, is buite sy beheer nie.  Omdat dit so is, kan jy Hom met jou lewe vertrou:  jy is in veilige hande.

 

Sy dienaars

Roy besit een van die grootste plase in Amerika.  Hy het meer as 3000 mense wat vir hom werk.  Sy laagste vlak werkers verdien R35 000 per maand, terwyl sy voormanne vir meer as R150 000 per maand werk.  Wat is die eerste ding wat jy wil weet as jy dit hoor?  Hoe baie geld het Roy?

 

Dit is presies so met Jesus en die engele:  as ek jou eers van húlle vertel het, sal jy wil weet hoe wonderlik hulle Koning is.  Engele is onsigbare geeste (Kol. 1:16, Heb. 1:14, vgl. Luk. 24:39).  Hulle kan in ‘n liggaam verskyn (Gen. 19:1, Matt. 28:2-3, Heb. 13:2), maar is nie grootmense of babas met vlerke soos in Michelangelo se kunswerke nie.

 

Hulle is baie sterker as mense (2Pet. 2:11).  Hulle is ook sterker as die duiwel en sy magte (Op. 12:7-9).  Dawid beskryf hulle as kragtige helde (Ps. 103:20), en volgens 2Tess. 1:7 is hulle magtig.  God het slegs twee engele gebruik om Sodom en Gomorra te verwoes (Gen. 19:13).  Onder God se bevel kan hulle d.m.v. rampe en plae ‘n populasie uitwis (Op. 7:1, 16:1-21).

 

Hoeveel engele is daar onder Jesus se mag?  As ons ‘n groot getal wil uitdruk, sê ons bv. dat daar op 23 Desember der duisende mense op Durban se strand was.  Die Bybelskrywers doen dit ook, maar vir hulle is tienduisend die syfer wat ‘n onbepaalde getal uitdruk [Gk. murias].  Volgens Deut. 33:2, Ps. 68:18, Dan. 7:10, Heb. 12:22 en Op. 5:11 is die engele duisende maal duisende, tienduisende maal tienduisende.  Die engele is meer as wat enige van ons kan tel.

 

Volgens Heb. 1:6[4] aanbid hierdie magdom van heerlike en magtige hemelwesens die Here (vgl. Ps. 103:20-21, 148:2, Op. 5:11-12, 7:11).  Buiten vir die feit dat dit iets van Jesus se soewereine heerskappy oor die engele sê, is daar ten minste nog twee maniere waarop ons hierdie waarhede moet toepas.[5]

 

[1] Omdat Jesus vir die engele sentraal is, moet ons ons ore toedruk vir mense wat dinge by engele hoor waarin Jesus nie die middelpunt is nie.  Wat moet jy bv. doen as ‘n kollega vir jou sê dat ‘n engel wonderlike dinge in sy drome met hom deel?  Of wat as ‘n charismatiese familielid jou saam met hom kerk toe nooi, en iemand tydens die erediens so iets sê?  Hoe weet jy of hierdie mense die waarheid praat of nie?

 

In die eerste plek moet jy onthou dat God nie meer indirek met ons praat soos in die Ou Testament nie (God sê vir die engel, die engel sê vir Moses, Moses sê vir die volk).  Volgens Heb. 1:1 praat Hy direk met ons deur die geïnspireerde Woord van sy Seun.

 

Verder moet jy ook luister of Jesus en die evangelie die middelpunt van hierdie mense se woorde is.  ‘n Engel wat van God af kom, sal nie dinge sê waarin Jesus en die evangelie nie sentraal is nie.  In Gal. 1:8-9 sê Paulus:  “Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees!  Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!”

 

Dit is interessant dat beide Islam en die Mormone ontstaan het, nadat ‘n engel kamtig aan Mohammed en Joseph Smith verskyn het.  Nie een van die godsdienste wat uit hierdie visioene ontstaan het, aanbid die ware Jesus soos wat die engele in Heb. 1:6 dit doen nie.  Ons kan daarom met sekerheid sê dat die ‘engele’ in hierdie visioene eintlik gevalle engele of demone was.  “En geen wonder nie!  Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig.” (2Kor. 11:14).  “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1Tim. 4:1).

 

[2] Die feit dat die engele vir Jesus aanbid, wys dat hulle skepsels is soos ons.  Gevolglik moet ons hulle nie aanbid of vir hulle vra om ons te help nie (Kol. 2:18, Op. 19:10, 22:8-9).  Ons moet eerder saam met hulle vir Jesus aanbid (v.6).  “Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word?  Wie is soos die HERE onder die hemelinge[?]” (Ps. 89:7).

 

Laat die engele se aanbidding in Heb. 1:6 en die res van die Bybel jou aanspoor om die Here meer te aanbid.  Onthou ook asb. dat hulle jóú aanbidding dophou, en dat dit hulle bly of hartseer maak.  Volgens Heb. 12:22 (sien die konteks) aanbid ons die Here saam met tienduisende engele.

 

Ef. 3:10 sê dat die engele deur óns iets van die evangelie leer.  Volgens 1Kor. 11:10 en 1Tim. 5:21 sien hulle of ons reg optree in die kerk of nie.  As jy jou bekeer en soos hulle die Here aanbid (Heb. 1:6), sal hulle fees vier en bly wees (Luk. 15:10).  Op God se bevel sal hulle jou help en teen gevare beskerm (Gen. 19:15-16, 2Kon. 6:17, Ps. 91:11-12, Dan. 6:23, Matt. 18:10, Hand. 5:19-20, 12:7-10, Heb. 1:14).  Maar as jy met jou sonde aanhou, sal Jesus vir hulle sê om jou dood te maak en in die hel te werp (2Kron. 32:21, Hand. 12:23, Matt. 13:39-42, Op. 14:10).

 

Buig eerder saam met die engele voor Jesus Christus, die Koning van die engele.  As jy dit nie nou wil doen nie, sal jy dit buitendien moet doen wanneer Jesus kom.  Volgens Paulus “het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” (Fil. 2:10-11).

 

‘n Oom in Nelspruit het hierdie vers vir ‘n Jehova’s Getuie aangehaal en gesê dat hy eendag in aanbidding voor Jesus sal moet buig.  ‘I will not bow in worship to Jesus Christ,’ het die Jehova’s Getuie gesê.  ‘You will bow,’ het die oom hom geantwoord, ‘even if He has to break your knees.’  Die oom was reg.  Dit kan tog nie anders nie, omdat Jesus Christus die Koning van die engele, van mense en van die hele skepping is.

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, 1997, 2002, pp. 185-187

[2] Ibid., Part 2, pp. 92-100

[3] Aangehaal in John Piper & Justin Taylor, Red., Sex and the Supremacy of Christ, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2005, p. 41

[4] Volgens die Hebreeuse teks van Ps. 97:7 moet al die gode die Here aanbid, maar volgens die Griekse vertaling van die Ou Testament (die LXX) moet al die engele dit doen.  Heb. 1:6 word uit die Grieks uit aangehaal.  Sommige dink dat Heb. 1:6 uit die Griekse vertaling van Deut. 32:43 aangehaal word, maar dit is onwaarskynlik.  As jy die Hebreeus lees, sal jy geen verband tussen hierdie vers en Heb. 1:6 sien nie.

[5] Wayne Grudem se Systematic Theology het my gehelp (Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1994, 2007, pp. 406-407).

Wie is hierdie baba in die krip?

Baby in manger

Twee maande gelede het ‘n Jehova’s Getuie vir my gesê:  ‘Nêrens in die Bybel het Jesus gesê dat Hy God is nie.’  Omtrent 5 jaar gelede het ‘n Jehova’s Getuie vir my gesê dat Jesus die Seun van God is, maar nie God nie.

 

Volgens my Moslem haarkapper is Jesus uit ‘n maagd gebore, het Hy wonderwerke gedoen, sal Hy na die aarde toe terugkeer, maar is Hy net ‘n belangrike profeet en nie God nie.  Tydens ‘n vergadering oor die nuwe Afrikaanse Bybel het ek langs ‘n liberale teoloog gesit.  Hy het gesê dat Jesus nie die God van die Ou Testament is nie.

 

‘n Sionis (ZCC) het vir my gesê dat Jesus nie die enigste weg na God toe is nie.  ‘n Katoliek het dit ook vir my gesê.  Volgens TV predikers soos Kenneth Copeland en Benny Hinn is Jesus ‘n geestelike Kersvader wat bestaan om ons gelukkig te maak.

 

In 2003 het Dan Brown gesê dat Jesus met Maria Magdalena getrou het, en dat hulle in Indië gaan woon het.  ‘n Oud predikant het in ‘n tydskrif artikel gesê dat Jesus so mitologies soos die tandemuis is, en dat Hy nie bestaan het nie.

 

‘n Seuntjie in Australië het vir sy ouers gesê dat godsdienstige mense by sy skool kom praat het.  ‘Wat het hulle gesê?’ wou die ouers weet.  ‘Hulle het gevloek,’ het hy geantwoord.  Al wat hy van Jesus geweet het, is dat dit ‘n vloekwoord is.

 

Toe ek studeer het, het ons ‘n video oor die Mormone gekyk.  Hulle glo dat Jesus en Satan eens op ‘n tyd geestelike broers was.  Talle van hulle glo ook dat Jesus uit ‘n seksuele verhouding tussen God die Vader en Maria gebore is.

 

Vir die Hindoes is Jesus een van baie gode; vir Boeddhiste is Hy ‘n wyse leermeester.  Volgens die Jode is Hy ‘n vals Messias.  Ek het ‘n DVD gekyk waarin liberale professors sy maagdelike geboorte en opstanding ontken het.  Ateïste glo dieselfde.

 

C.S. Lewis het die volgende oor mense se verdraaide idees van Jesus gesê:  ‘…people often say…“I’m ready to accept Jesus as a great moral teacher, but I don’t accept His claim to be God.”  That is the one thing we must not say.  A man who was merely a man and said the sort of things Jesus said would not a be a great moral teacher.  He would either be a lunatic – on a level with the man who says he is a poached egg – or else he would be the Devil of Hell.

 

‘You must make your choice.  Either this man was, and is, the Son of God:  or else a madman or something worse.  You can shut Him up for a fool, you can spit at Him and kill Him as a demon; or you can fall at His feet and call Him Lord and God.  But let us not come with any patronising nonsense about His being a great human teacher.  He has not left that open to us.  He did not intend to.’[1]

 

Christene het nog altyd geglo dat Jesus volkome God en volkome mens is.  Sy Goddelike natuur is nie mens nie, en sy menslike natuur is nie God nie.  Hy het twee nature, maar is een Persoon.  Iemand wat dit verwerp is nie ‘n Christen nie.  In Joh. 8:24 het Jesus vir die Jode gesê:  “as julle nie glo dat Ek is wat Ek is nie, sal julle in julle sondes sterwe.” (Nuwe Vertaling, vgl. Eks. 3:14).  In 1Joh. 4:3 lees ons:  “elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie”.

 

Jesus se twee nature in een Persoon beteken dat die titel van John MacArthur se boek reg is wanneer hy Jesus as ‘God in a Manger’ beskryf.  Heb. 1:6 bevestig dat die baba in die krip die ewige God is, en dat Hy ons en die engele se aanbidding verdien.  Kom ons bekyk hierdie vers van nader.

 

Jesus se Persoon

Iemand het eenkeer vir my sussie gesê om Johannes Evangelie te lees en te sien dat Jesus nie God is nie.  Maar Johannes wil juis die teendeel bewys, naamlik dat Jesus volkome God is.  Die Hebreër skrywer doen dieselfde.  Reeds in die eerste hoofstuk sê Hy oor Jesus:

 

[1] Hy is die finale Profeet deur wie God gespreek het (v.1).  Noudat die Nuwe Testament voltooi is, soek ons nie meer profete, drome en visioene om ons te lei nie.  Wat Jesus vir ons wou sê het Hy in die Bybel laat opteken.

 

[2] God het die wêreld deur Hom geskep (v.2, Joh. 1:1-3, Kol. 1:16-17).  Omdat Hy dan die Skepper is, kan Hy nie ook ‘n skepsel wees soos die Jehova’s Getuies sê nie.  Volgens Rom. 1:25 is daar net twee kategorieë:  Skepper en skepsel.  Jesus is die Skepper, en daarom moet ons Hom aanbid.

 

[3] Hy is die Erfgenaam van alle dinge (v.2).  In Hom behoort alles ook aan ons (Rom. 8:17, 1Kor. 3:21-23).  Moet dan nie vir TBN se predikers en die wêreld luister, en aardse rykdom najaag nie.  Werk vir skatte in die hemel.  Gaar dit op deur vir die armes en sendelinge te gee (Luk. 12:33, Fil. 4:17).

 

[4] Hy is die helder glans van God se heerlikheid (v.3, vgl. Jes. 48:11, Joh. 17:5).  Sonde en die duiwel keer dat jy hierdie heerlikheid sien, en maak dat Jesus vervelig voorkom (Rom. 3:23, 2Kor. 4:4).  Maar as die Here jou oë oopgemaak het om sy heerlikheid te sien, sal jy nie anders kan as om Hom te bewonder en soos Hy te wil wees nie (2Kor. 3:18, 4:6, 1Pet. 1:8).

 

Eendag sal jy sy heerlikheid sien.  Dit sal helderder as ‘n hele week se sonskyn wees (Jes. 24:23, 30:26).  Wanneer jy dit sien sal jou blydskap dieper en wyer as die Stille- en Atlantiese Oseaan wees (Joh. 17:24, 2Tess. 1:10).

 

[5] Hy is die spieëlbeeld van God (v.3, Kol. 1:15).  Wil jy weet hoe Jesus is?  Kyk na die Vader.  Wil jy weet hoe die Vader is?  Kyk na Jesus.  Moet hulle asb. nie teen mekaar afspeel nie.  “Ek en die Vader is een … Hy wat My gesien het, het die Vader gesien.” (Joh. 10:30, 14:9).  Jesus is so heilig soos die Vader, en die Vader is so liefdevol soos Jesus.  Dit tel ook vir die Heilige Gees.

 

[6] Hy hou die heelal in stand deur die Woord van sy krag (v.3, vgl. Kol. 1:17).  Hy beveel die aarde om op niks te hang (Job 26:7).  Alle dinge is sy diensknegte (Ps. 119:90-91, 148:8, Jona 1:17, 2:10, 4:6-8).  Hy sal sorg dat die wêreld nie deur globale verhitting of ‘n vloed vergaan nie.  Hy sal ook sê wanneer dit in die Wes-Kaap moet reën.  Dus moet ons Hom in gebed vertrou.

 

[7] Hy reinig ons van sonde (v.3).  Volgens Ps. 49:8-10, 16 en Mark. 2:7, 10 kan geen mens dit doen nie; net die Here kan.  Dit bewys weereens dat Jesus God is.  Het jy al gedink dat Hy nie jóú sonde kan wegvat nie, omdat dit te groot is en jy te veel gesondig het?

 

‘n Moordenaar in die tronk het so gedink.  Toe die Christen hom vra of hy al van Jesus gehoor het, het hy ‘ja’ geantwoord.  ‘Weet jy wat Hy gedoen het?’ het die Christen gevra.  ‘Hy het vir sondaars aan die kruis gesterf,’ het die moordenaar geantwoord.  ‘En volgens jou het Hy ‘n groot gemors gemaak,’ het die Christen gesê.

 

‘Nee, ek sê dit nie,’ het die moordenaar vies geantwoord.  ‘Ja, jy sê dit.  Na jou mening kan Hy jou nie vergewe nie.  Hy het m.a.w. net vir klein sondes gesterf, en nie vir groot sondes soos moord nie.’  Die man het begin huil:  ‘Bedoel jy Hy kan my vergewe vir die moord wat ek gepleeg het?’  ‘Hy kan verseker,’ het die Christen geantwoord.  Die moordenaar kon dit nie glo nie, en het na ‘n tydperk tot bekering gekom.  Hy dien vandag nog die Here.

 

Kan Jesus jou van jou sonde reinig?  “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde…As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” (1Joh. 1:7, 9).

 

[8] Hy is die Koning en Here van Ps. 110:1 wat aan die regterhand van God sit (v.3).  Hy is besig om vir jou te bid en sal nie ophou nie (Rom. 8:34, Heb. 7:25).  Hy sit ook as Koning om jou teen jou vyande te beskerm.  Pla jou sonde, die duiwel of die wêreld jou?  Sê vir die Here.

 

[9] Hy is verhewe bo die engele (v.4).  Sy Naam – die openbaring van wie en wat Hy is – is voortrefliker as hulle s’n (v.4).  Hy is van ewigheid af die unieke Seun van God; kan ons dit van enige engel sê (v.5)?  Die engele moet Hom aanbid (v.6).  Hy sit as God op die troon; die engele is maar net diensknegte (v.7-8).

 

Hy is die Here wat alles gemaak het (v.10).  Hy het ook die engele gemaak (Kol. 1:16).  Hy is nie soos die engele wat ‘n begin het nie, maar is ewig (v.10-12).  Die ereplek langs die Vader is syne; geen engel het hierdie voorreg nie (v.13).

 

Alhoewel jy ‘n bietjie minder as die engele is, sal jy a.g.v. jou eenheid met Christus eendag bo hulle wees (Ps. 8, Heb. 2).  Die engele is nie so naby aan Jesus soos jy nie.  Hy het nie ‘n engel geword nie, maar ‘n mens.  Die engele ken nie die vreugde van verlossing soos jy nie (Heb. 2:16, 1Pet. 1:12).  Hulle is Christus se dienaars; jy is sy kind, bruid, liggaam, broer en vriend (Joh. 15:15, Ef. 1:22-23, 5:25, Heb. 2:12-13, 1Joh. 3:1).  Jy het die Gees van Christus in jou, en daarom is Hy nader aan jou as wat jy aan jouself is.  Besef jy hoe bevoorreg jy is?

 

Jesus se posisie

Toe ons kinders klein was het ons eenkeer in Warmbad (Bela-Bela) gaan vakansie hou.  Daar het ek ‘n Jehova’s Getuie raakgeloop.  Volgens hom het Jesus se posisie as die Eersgeborene bewys dat Hy geskep is (voor enigiets of iemand anders), en dat Hy nie God is nie.

 

Maar Jesus se posisie as die Eersgeborene (Heb. 1:6, Rom. 8:29) beteken nie dat Hy eerste geskep of gebore is nie.  Dit beteken eerder dat Hy die Erfgenaam is:  Hy is die belangrikste (1Kron. 5:1-2, Ps. 89:28).  Omdat Hy alles gemaak het is Hy ook die Eersgebore Erfgenaam van alles (v.2, 6, Kol. 1:15-16).

 

Omtrent 2000 jaar gelede het Jesus Maria se Eersgeborene geword (Luk. 2:7), maar Hy is nog altyd die Eersgeborene van God (Heb. 1:6).  Joh. 3:16 noem Hom die Eniggebore Seun van God.  Daar is niemand soos Hy nie; Hy is uniek [Gk. monogenēs].  Die engele is seuns van God deur skepping (Job 1:6, 38:7); ons is dit deur verlossing (Gal. 3:26, Ef. 1:5, Op. 21:7).

 

Maar met Jesus is dit anders.  Sy maagdelike geboorte, wonderwerke, doop, verheerliking en opstanding het Hom nie die Seun van God gemaak nie, maar dit bevestig (Matt. 3:16-17, Luk. 1:35, Joh. 10:36, 38, Rom. 1:4, 2Pet. 1:17).  Hy was nog altyd die een-van-‘n-soort Seun van God; niemand is soos Hy nie.  Hy is die Heilige van God, en daarom in ‘n klas van sy eie.  Niks in die skepping kan met Hom vergelyk nie.

 

Wat John Piper van die Vader sê, geld ook vir die Seun:  ‘God is holy in His absolute uniqueness.  Everything else belongs to a class.  We are human; Rover is a dog; the oak is a tree; Earth is a planet; the Milky Way is one of a billion galaxies; Gabriel is an angel; Satan is a demon.  But only God is God.  And therefore He is holy, utterly different, distinct, unique.’[2]

 

Jesus is nie die aartsengel Migael soos wat die Jehova’s Getuies glo nie.  Hy is nie maar net ‘n supermens nie, en daarom kan ons Hom nie met fiktiewe karakters soos Superman vergelyk nie.  Hy is meer as net ‘n goeie profeet.  Ons moet Hom nie in dieselfde asem as Boeddha of Mohammed noem nie (bv. Hos. 2:15-16).  Hy is nie ‘n sub-god nie, maar is gelyk met die Vader (Joh. 5:17-18).  Alles wat die Vader is is Hy ook, en alles wat die Vader doen kan Hy doen (dit geld ook vir die Heilige Gees).

 

  • Die Vader is God en die Seun ook (1Kor. 8:6, Joh. 20:28, Kol. 2:9).
  • Die Vader is Here en die Seun ook (Ps. 110:1, Matt. 22:41-45, 1Kor. 2:8, Fil. 2:11).
  • Die Vader is Skepper en die Seun ook ( 1:1, Ps. 96:5, Jer. 10:11-12, Kol. 1:16).
  • Die Vader is die Rots en die Seun ook (Dt.32:4, 1 Kor.10:4).
  • Die Vader is Koning en die Seun ook ( 47:8, Op. 19:16).
  • Die Vader is die Verlosser en die Seun ook (Jes. 43:11, Luk. 2:11).
  • Die Vader is die Eerste en die Laaste en die Seun ook (Jes. 44:6, 48:12, Op. 1:17, 2:8).
  • Die Vader is die Alfa en die Omega en die Seun ook (Op. 1:8, 22:13).
  • Die Vader is die Herder en die Seun ook (Ps. 23, Joh. 10).
  • Die Vader is almagtig en die Seun ook (Matt. 19:26, 8:27, Joh. 5:19, 21).
  • Die Vader moet aanbid word en die Seun ook (Joh. 4:23, 5:23, Heb. 1:6).
  • Die Vader het lewe in Homself en die Seun ook (Joh. 5:26).
  • Die Vader is ewig en die Seun ook (Ps. 90:2, Joh. 8:58, Gk.).
  • Die Vader weet alles en die Seun ook (Matt. 6:8, Joh. 16:30).
  • Die Vader is alomteenwoordig en die Seun ook (Jer. 23:24, Matt. 18:20).
  • Die Vader is onveranderlik en die Seun ook (Jak. 1:17, Heb. 13:8).
  • Die Vader is heilig en die Seun ook (Ps. 99:9, Luk. 1:35).
  • Die Vader kan sonde vergewe en die Seun ook (Matt. 6:14, Mark. 2:5-12).

 

Jou eerste reaksie hierop moet wees om nooit (weer?) te twyfel dat die baba in die krip volkome God is nie, maar om saam met gelowiges uit die 4de eeu te bely:  ‘…[Ons glo] in een Here Jesus Christus, die Eniggebore Seun van God.  Hy is voor al die eeue uit die Vader verwek.  Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God.  Hy is verwek, nie gemaak nie.  Hy is een in wese met die Vader…’[3]

 

Tweedens moet jy Hom saam met die engele, wyse manne, blinde man, dissipels, vroue en die ganse skepping aanbid (v.6, Matt. 2:11, 14:33, 28:9, 17, Luk. 2:13-14, 24:52, Joh. 9:38, Op. 5:11-14).  Maak tyd om Hom in jou stiltetyd en saam met ander gelowiges te aanbid.  Bely jou sonde as jy afvallig geraak het.  Vra die Heilige Gees om jou te help om weer vurig en getrou te wees in jou aanbidding.

 

Derdens en laastens moet jy rotsvas staan wanneer vals leraars jou oor Jesus wil verwar.  Moenie soos die Korintiërs in ‘n ander Jesus glo nie (2Kor. 11:4).  Die Jesus van die Bybel is volkome God en volkome mens, twee nature in een Persoon.  Maak seker dat jy Hom nie net in jou kop ken nie, maar dat jy deur die Woord, gebed en die kerk in ‘n persoonlike verhouding met Hom lewe.

 

Aanbid die baba in die krip, maar moenie daar stop nie.  Jy kan nie een keer per jaar Jesus se geboorte herdenk, en dink dis genoeg nie.  Dink aan sy begrafnis en opstanding wanneer iemand gedoop word.  Dank Hom vir sy vergifnis wanneer jy die nagmaal gebruik.  Geniet sy lewe in jou wanneer jy by ander gelowiges is, die Woord hoor, bid en sien hoe Hy jou gebede beantwoord.  Prys Hom dat Hy jou oë oopgemaak het om meer as net ‘n baba in ‘n krip te sien.

 

[1] C.S. Lewis, Mere Christianity, HarperCollinsPublishers, London: England, 1942, 1943, 1944, p. 52

[2] John Piper, Brothers, We Are NOT Professionals, Broadman & Holman Publishers, Nashville: Tennessee, 2002, p. 12

[3] Vry vertaal uit Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1994, 2000, 2007, p.1169

Jerusalem se toekoms

Donald Trump Jerusalem

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het verlede week ‘n uitlating gemaak wat die wêreld op hol gejaag het.  Hy het gesê:  “I have determined that it is time to officially recognize Jerusalem as the capital of Israel.”[1]  Islam, Westerse lande en die liberale media is hoogs ontsteld.  Die Jode juig, maar hulle blydskap is polities gedrewe.  Talle Christene glo dat die Here deur Trump besig is om sekere profesieë te vervul.

 

Wat moet ons hiervan maak?  Dit is so dat die Here ‘n plan met die Jode het, maar ons moet ook die volgende dinge in gedagte hou:

 

[1] Ek weet van ‘n sendeling wat na verskillende lande toe reis en die Jode aanspoor om na Israel toe terug te keer, sodat die profesieë vervul kan word.  Maar geen mens kan die Here manipuleer om die profesieë te vervul nie.  Dan. 11:14 praat van mense wat optree om ‘n visioen te vervul, maar onsuksesvol is.

 

[2] Toe ‘n kollega van my in Israel was, het twee vroue in sy toergroep gesê dat die Jode God se uitverkore volk is.  ‘Al hierdie Jode gaan hel toe,’ het my kollega gesê.  Die vroue was geskok:  ‘Hoe kan jy dit sê?’  ‘Hulle ontken dan dat Jesus die Messias is,’ het my kollega geantwoord.

 

God se volk bestaan uit Jode en heidene wat in Jesus glo (Rom. 2:28-29, 9:6-8, Gal. 3:7, 14, 16, 29, 6:16, Ef. 2:11-22, 3:6, Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10).  Om deel te wees van God se volk, moet die Jode in Jesus glo.  Die Jode wat Hom verwerp is nie God se uitverkore volk nie, maar kinders van Satan (Joh. 8:44).

 

Hou asb. hierdie dinge in jou agterkop as ons Jes. 30:18-33 bestudeer.

 

Jerusalem se voorspoed (v.18-26)

Volgens Amerikaanse verhoog kunstenaars, Europese leiers, Moslems en Ortodokse priesters, het Donald Trump dinge in Jerusalem vererger.  Maar volgens v.18-26 wag daar ‘n toekoms van voorspoed op die Jode wat in Jesus glo.

 

Toe Israel se vyande haar uitgedun het (v.17), het die Here haar jammer gekry en besluit om haar te herstel (v.18).  Hy wag vir die regte oomblik om dit te doen, om sy vyande regverdig te straf en sy kinders genadig te wees (v.18-19).  Hierdie seën is nie vir almal nie, maar vir dié wat op die vervulling van sy beloftes wag en Hom aanroep (v.18-19).  Sodra hulle Hom aanroep sal Hy hulle hulpgeroep hoor en hulle genadig wees (v.19, 65:24, Luk. 18:7-8).  Hulle sal nie meer treur nie, maar bly wees (v.19).

 

In die verlede was benoudheid Juda se brood en angs haar water (v.20).  Maar in die toekoms sal sy voorspoedig wees en haar Leermeester[2] sien (v.20-26).  Dit is vervul toe Jesus aarde toe gekom het, en Juda haar Leermeester of Rabbi gesien het (v.20, Matt. 26:18, Mark. 13:1, Joh. 13:13, 20:16, 1Joh. 1:1).  Sy het Hom egter verwerp, sodat Hy Homself verberg het (v.20, Joh. 12:36).

 

In die toekoms sal Hy Homself weer aan haar bekend maak (v.20, 29:24, Rom. 11:26-27).  Deur sy Woord en Gees sal Hy haar op die regte pad lei (v.21, vgl. Ps. 119:105, Jer. 31:33, Joh. 14:26, 16:13-15).  So sal sy weet dat Hý die Here is; sy sal nie meer op afgode vertrou om haar te help nie (v.22, 2:20).

 

A.g.v. Israel se bekering sal sy materiële voorspoed geniet (v.23-26).  In die dag wat die Here sy volk seën en haar vyande laat val, sal Hy reën, goeie oeste, voer, weiding en waterstrome gee (v.23-25).  Hy sal die wonde van haar tugtiging genees (v.26, 1:5-6, 61:1-4, Ps. 147:3), die son en maan van sy guns oor haar vermenigvuldig (v.26, 60:19, Mal. 4:2, Luk. 1:78, Joh. 8:12).

 

Hoe moet ons Jesaja se woorde op onsself toepas?

 

[1] Wanneer dit met ons sleg gaan, betwyfel ons die Here se goedheid.  Maar volgens Jesaja ontferm Hy Hom oor ons, en is Hy gretig om aan ons goed te doen (v.18).  Wag dus geduldig op die Here totdat Hy jou help (v.18, 40:31, Ps. 123:2).  Glo dat sy beloftes waar is, en dat Hy nie van jou vergeet het nie (Ps. 27:14, 130:5).

 

[2] Moenie vergeet om vir die Jode te bid nie (Ps. 122:6, Rom. 10:1).  Bid dat die Here Homself aan hulle sal openbaar, dat hulle hulle sal bekeer, en dat Hy hulle sal vergewe (v.19-22).  Bid dit ook vir jouself as jy nog nie tot bekering gekom het nie.  Wat het jou sonde oor die afgelope paar jaar vir jou gedoen?  Niks; dit het net hartseer veroorsaak.  As jy egter na die Here toe draai, sal Hy die trane van jou oë afvee (v.19).

 

As jy sy Naam aanroep sal sy genade soos reën op jou val (v.19).  Hy sal jou hulpgeroep hoor en Jesus se soendood in jou plek aanvaar (v.19, Rom. 10:13).  Hy sal sy Gees stuur om jou op die regte pad te lei (v.21).

 

[3] Is daar dinge in jou lewe wat keer dat jy na die Here toe kom, dat jy Hom voluit dien of dat jy geestelik groei?  Dalk is dit voorspoed, sukses en vreugde.  Ironies kan dit jou nie gelukkig maak as jy dit verafgod nie.  Eers as jy jou daarvan bekeer en jou vreugde in die Here vind, sal jy ware voorspoed en sukses geniet (v.22, 23-26, Ps. 1:1-3, 37:4).

 

[4] Materiële rykdom moet nooit die trek pleister wees vir hoekom jy die Here dien nie, maar partykeer is dit die direkte gevolg daarvan.  Tydens ‘n herlewing geniet mense God se geestelike rykdom (Joh. 10:10, 2Kor. 8:9, Ef. 1:3).  Soms lei dit ook tot materiële voorspoed (v.23-26, Ps. 85:7, 12-13).  God seën die land met reën, en mense se werk etiek verander.  Hulle is nie meer lui of skelm nie, maar hardwerkend en eerlik.  Dit het ‘n positiewe effek op die ekonomie, sodat die land suksesvol is.

 

[5] Israel se ongehoorsaamheid het haar gebreek; God het haar met ‘n harde hou geslaan.  Deur Israel se geskiedenis het sy een ramp na die ander beleef.  In die boek Rigters het haar bure haar verniel, en in die profete se tyd het die Babiloniërs en Assiriërs dit gedoen.  Omtrent 160 jaar v.C. het Antiochus Epifanes der duisende Jode vermoor.  In 70 n.C. het die Romeine 1.1 miljoen van hulle uitgewis.  Die Moslems baklei al vir meer as 1000 jaar met hulle.  In die 20ste eeu het Adolf Hitler sowat 6 miljoen Jode doodgemaak.  In ooreenstemming met God se belofte in Deut. 4:27, 28:64, het Hy die Jode oor die hele aarde verstrooi.

 

Maar in die toekoms sal die Here hulle vergewe, herstel en hulle gebroke harte genees (v.26).  Dit het reeds in Hand. 2:5 e.v. begin, toe Jode uit elke nasie onder die hemel vir die Pinksterfees in Jerusalem was, en tot bekering gekom het.  Aan die einde van die dae sal God sy verbond met Abraham, Isak en Jakob onthou, die Jode red, en hulle terugbring na hulle land toe (Deut. 4:29-31, Rom. 11:25-29).

 

Wanneer dit gebeur sal groot getalle Indiërs, Chinese, Arabiere, Zoeloes, Afrikaners, Koreane, Skotte, Grieke, Duitsers, Russe, Vendas en mense uit alle nasies tot bekering kom.  Soos onder die Jode, sal daar ook onder die heidene ‘n herlewing wees (Eseg. 37:1-14, Rom. 11:12, 15).  ‘And Christ will have the prize for which he died:  An inheritance of nations.’[3]

 

Christus sal ‘n groot nageslag hê, voorspoedig wees, die moeitevolle arbeid van sy siel sien en versadig word, baie regverdig maak, nasies erf, die eindes van die aarde as sy besitting verkry, ‘n ontelbare menigte van volke wat Hom aanbid, konings wat Hom prys en bewonder (49:7, 53:10-12, Ps. 2:8, 22:28, 67:4-5, 72:10-11, 86:9, 138:4-5, Op. 7:9).  Hulle sal sy heerlikheid sien, ‘n heerlikheid wat helderder as sewe sonne skyn (v.26, 24:23, Joh. 17:24, Hand. 26:13, Op. 21:23, 22:5).

 

Jerusalem se vyande (v.27-33)

Hannes ry teen 280 km/h in sy BMW 760li oor ‘n spoedlokval.  Die jong verkeerskonstabel is so geskok dat hy sommer die verkeershoof bel.  Dié sê vir hom om die man te arresteer en na die naaste polisie stasie toe te vat.  Die verkeerskonstabel is so kwaad vir Hannes dat hy hom klap, sy BMW se leer banke stukkend sny, en die deur vol gate skiet.  Alhoewel die verkeershoof gesê het hy moet vir Hannes arresteer, het hy nie vir hom gesê om hom te mishandel of sy kar te verniel nie.  Nou sal die gereg nie net vir Hannes straf nie, maar ook die konstabel wat hom gearresteer het.

 

Die Here is so.  Hy het goddelose Jerusalem se vyande teen haar gestuur.  Maar Hy het nie vir hulle gesê om boos te wees nie.  Daarom het die Here besluit om nie net sy volk te straf nie, maar ook haar vyande.  Sy Naam en die volle openbaring daarvan in Christus sal van die hemel af teen hulle kom (v.27, Ps. 18:10-11).  In sy vurige toorn sal Hy soos swaar donderwolke teen hulle kom; “sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos ‘n verterende vuur” (v.27).  Hy sal hulle dus met die skerp swaard van sy Woord doodmaak en in die hel werp (v.27, 11:4, Heb. 4:12, Op. 19:15).

 

Die vloed van sy oordeel sal tot by hulle nekke kom, sodat hulle daarin verdrink (v.28, vgl. 8:8).  Met sy alsiende oë sal Hy die nasies se boosheid uitsif en hulle straf (v.28, Pred. 12:14, Matt. 3:12, Rom. 2:16).  Met ‘n toom in hulle kakebene sal Hy hulle na die plek van verwoesting toe lei (v.28, 37:29).  As dit gebeur sal God se volk ‘n lied sing (v.29).  Sy sal bly wees soos tydens die Pasga toe die Here haar uit Egiptiese slawerny verlos het (v.29).  Dit sal klink soos mense wat op fluite speel terwyl hulle op pad is na berg Sion toe om die Here, die Rots van Israel, te aanbid (v.29).

 

Jerusalem se vyande sal nie die musiek hoor nie, maar die Here se stem vol van majesteit (v.30).  Hulle sal sien hoe sy kragtige arm – die Messias (51:9, 52:10, 53:1) – neerdaal om hulle te oordeel (v.30).  Hulle sal sy vurige woede sien (v.30).  Dit sal so verwoestend wees soos ‘n verterende vuur, ‘n wolkbreek en ‘n haelstorm (v.30).

 

Die vrees wat die Assiriërs beetgepak het toe hulle die Here se stem hoor en sy roede voel, sal oor al God se vyande kom (v.31, hfst. 37).  Hy het hulle as ‘n roede teen die Jode gebruik (hfst. 10), maar eendag sal die tafels draai (v.32).  Elke hou wat Hy teen sy vyande (bv. Assirië) bestem het, sal onder die geklank van tamboeryne en liere op hulle val (v.32).  Dit is asof God se houe die drom is, terwyl sy volk die melodie maak.  God se volk sal juig, bly wees en feesvier wanneer die Here sy arm teen haar vyande uitstrek (v.32, Eks. 15:20-21).  Hy het Tofet vir hulle voorberei (v.33).  Wat beteken dit?

 

Tofet was ‘n plek in die Hinnom vallei buite Jerusalem.  Hier het mense hulle kinders vir Molog geoffer (2Kon. 23:10, Jer. 7:31).  Jesaja gebruik hierdie beeld om te sê dat God ‘n brandstapel vir die koning van Assirië gereed gekry het (v.33).

 

Alec Motyer sê dat die Assiriese koning wat op Jerusalem afgestorm het, as’t ware sy eie begrafnis brandstapel uitgeklim het.  Die Assiriërs het nie besef dat hulle vordering na Jerusalem die begrafnis stoet was wat hulle na die brandstapel toe gelei het nie.[4]

 

Natuurlik is v.33 ‘n voorskou van die hel, wat die bestemming van al God se vyande is (2Pet. 2:6, Jud. 7).  God self sal die brandstapel laai, sodat dit diep en wyd is (v.33).  Sy asem sal die stroom van swael wees wat dit aan die brand steek (v.33, Ps. 18:9).  Uit Jesus se lering weet ons dat hierdie vuur nie geblus sal word nie, maar dat dit vir ewig sal brand (Matt. 3:12, Mark. 9:43-48).  Johannes stel dit nog meer grafies:  “En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie” (Op. 14:11).

 

Hoe kan jy hierdie oordeel vryspring?  Volgens sommige mense moet jy pro-Israel wees om hemel toe te gaan.  Natuurlik beteken dit ook dat jy aan Donald Trump se kant van die debat moet wees.  Dit is hoe hierdie mense Matt. 25:31-46 interpreteer:  as jy goed was vir die Jode (Jesus se broers, volgens hulle), was jy goed vir Jesus en gaan jy hemel toe.  As jy die Jode geïgnoreer het, het jy vir Jesus geïgnoreer en gaan jy hel toe.

 

Natuurlik moet ons alle mense liefhê (ook die Jode).  Maar hoe jy oor Israel en die eindtyd dink, bepaal nie of jy hemel toe gaan of nie.  As dit so was beteken dit dat sommige post- en amils hel toe gaan, net omdat hulle nie premil is nie.[5]  Ons weet dat dit nie waar is nie, maar dat Jesus, sy kruisdood, opstanding, en jou verhouding met Hom jou bestemming bepaal.  As jy in Hom glo om jou van jou sonde en God se vurige toorn te red, gaan jy hemel toe.  As jy Hom verwerp, met jou sonde aanhou, op jouself en jou eie pogings vertrou om in die hemel te kom, gaan jy hel toe – so eenvoudig soos dit.  Hoekom is dit so?

 

Toe Jesus in ons plek aan die kruis gehang het, het God se toorn en die stormwolke van sy oordeel teen Hom gekom (v.27).  “En van die sesde uur af het daar duisternis gekom oor die hele aarde tot die negende uur toe; en omtrent die negende uur het Jesus met ‘n groot stem geroep en gesê…My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Matt. 27:45-46).  Dis asof die vuur van God se oordeel Hom verteer het, en Hy in die vloed van sy toorn verdrink het (v.27-28, 33).

 

God het Hom soos koring uitgesif en gestraf (v.28).  Soos jy ‘n perd met ‘n toom lei, het Hy sy Seun na die kruis toe gelei (v.28).  Daar het Hy “sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van ‘n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.” (v.30).

 

Jesus was vreesbevange toe die Vader se roede Hom tref (v.31).  “Toe sê Hy vir hulle:  My siel is diep bedroef tot die dood toe… En Hy het ‘n bietjie verder gegaan en op sy aangesig geval en gebid en gesê:  My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie soos Ek wil nie, maar soos U wil… En toe Hy in ‘n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.” (Matt. 26:38-39, Luk. 22:44).

 

Iemand het gesê:  ‘Golgota is waar Jesus se liggaam gekruisig is; Getsemane is waar sy siel gekruisig is.’  Hoe moet ons dit verstaan dat die Vader sy sterk arm ontbloot het om teen sy eie Seun te veg (v.32)?  Steve Green en Twila Paris sing:

 

This must be a cross of love
for God to bruise His only Son.
Jesus, what a sacrifice to reach us.
It had to be a cross of love.[6]

 

Deur die Vader en die Seun se liefde in die Heilige Gees, kan jy die vuur van Jes. 30:33 vryspring.  Jerusalem sal dit ook vryspring as sy in geloof na die Messias toe draai, en dit haar berou dat sy Hom gekruisig het.  Jerusalem soos ons dit tans ken sal nie vir haar die belangrikste wees nie; sy sal op die hemelse Jerusalem fokus (Gal. 4:26, Heb. 11:10, 16, 12:22, 13:14, Op. 21).  Die waarheid van Isaac Watts se lied sal in haar hart weergalm:

 

We’re marching to Zion,
Beautiful, beautiful Zion;
We’re marching upward to Zion,
The beautiful city of God.[7]

 

[1] https://www.theguardian.com/us-news/2017/dec/06/donald-trump-us-jerusalem-israel-capital

[2] Die Ou Vertaling praat van leermeesters in die meervoud, maar een kommentator sê:  ‘The translation teachers is permissible, but the context requires the singular, which the form also allows, i.e. ‘your Teacher’, referring to the Lord as the law/instruction-giver (Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 250).  In Motyer se voetnota op hierdie bladsy, gee hy ‘n tegniese verduideliking van die Hebreeus.

[3] Keith Getty & Stuart Townend, O Church Arise, Copyright © 2005, Thankyou Music

[4] Motyer, Ibid., p. 251, 253

[5] Pre-, post- en amil is verskillende sienings oor die eindtyd.  Premils glo dat Israel ‘n spesiale plek in die toekoms het.  Sommige post- en amils glo dat baie Jode in die toekoms gered sal word, maar baie van hulle verwerp hierdie siening.

[6] Geskryf deur Bob Farrell en Greg Nelson

[7] Come, we that love the Lord deur Isaac Watts (1674-1748).  Die koortjie is blykbaar deur Robert Lowry (1826-1899) bygevoeg.

Moet Christene Kersfees vier?

Jesus or Santa

Toe ek op hoërskool was, was daar ‘n gesin in ons gemeente wat nie Kersfees gevier het nie.  ‘n Paar jaar gelede het iemand vir my gesê dat Kersfees van ‘n heidense feesdag af kom.  Omtrent ‘n maand terug het nóg iemand dit vir my gesê.  In die afgelope week het ‘n kollega my oor die saak genader, omdat iemand in sy gemeente hom hieroor aangevat het.

 

Die vraag is dan of Christene Kersfees moet vier?  Wat as hierdie mense reg is, en dit van ‘n heidense feesdag af kom – moet ons dit dan nog vier?  Mag ons dit vier, maar net nie op 25 Desember nie?  Indien ons dit wél mag vier, hoe moet ons dit doen?  Mag ons kersbome, liggies, geskenke en Kersvader hê?

 

Terme soos Kersfees, 25 Desember, kersboom en Kersvader kom nie direk in die Bybel voor nie, en daarom moet ons sekere Bybelse beginsels volg om tot ‘n besluit te kom.  Ek probeer nie om ‘n debat te wen nie, maar om te help dat jy met ‘n rein gewete oor die saak kan besluit.  Ek hoop ook om vir jou te wys dat die kwessie nie so swart en wit is soos party mense dink nie; dit is baie meer grys as wat ons bereid is om te erken.

 

Ek wil begin deur te wys hoekom Christene 25 Desember gekies het as die dag waarop hulle Jesus se geboorte vier.  Daarna wil ek Kersfees in 2017 bespreek, en Bybelse riglyne gebruik wat ons sal help om die saak reg toe te pas.

 

Hoekom 25 Desember?

Toe die kerk in die eerste paar eeue n.C. deur die Romeinse Ryk versprei het, het dit in twee groepe bestaan.  Ek bedoel nie dat dit verdeeld was nie, maar dat dit in sekere geografiese gebiede verdeel is.  Die kerk in Israel, Sirië, Egipte, Persië, Turkye (dit het uit verskeie provinsies bestaan) en Griekeland het in die ooste gelê, terwyl die kerk in Italië, Frankryk, Spanje, Brittanje en Noord-Afrika in die weste was.[1]  Een van my gunsteling geskiedkundiges (Nick Needham) reken dat die Westerse kerk in 336 n.C. begin het om Kersfees op 25 Desember te vier.  Volgens hom is hulle deur die heidene beïnvloed.  Omtrent 60 jaar voor hierdie datum (in 274 v.C.) het keiser Aurelianus ‘n tempel vir die son gebou.  Hy het ‘n fees ingestel om die son se geboorte te vier, en dit Natale Solis Invicti genoem:  die geboorte van die onoorwonne son.  Hierdie fees was baie dieselfde as Saturnalia wat voor dit gehou is.  Tydens die fees het mense kerse aangesteek en geskenke uitgedeel.[2]

 

Maar is dit ‘n feit dat Christene a.g.v. hierdie feeste begin het om Jesus se geboorte op 25 Desember te vier?  Nee.  Saturnalia is immers nie op 25 Desember gehou nie, maar op 17-23 Desember.[3]  Dit mag wees dat Solis Invicti op 25 Desember gehou is, maar volgens Williston Walker was die kerk se viering van Kersfees ‘n reaksie hierop.  Hulle wou wys dat Jesus die Son van Geregtigheid is wat aanbid moet word (Mal. 4:2).[4]

 

Volgens Alvin Schmidt het die kerk in Noord Afrika (veral in Egipte) 30 jaar voor Solis Invicti (243 v.C.) al Christus se geboorte op 25 Desember gevier.[5]  Dit is dan nie ‘n voldonge feit dat Kersdag uit Aurelianus se heidense fees uit ontstaan het nie.  Omtrent 70 jaar voor Solis Invicti, het Hippolytus van Rome (170-235 v.C.) gesê dat Jesus op 25 Desember gebore is.  Clement van Alexandrië (150-215 n.C.) het geglo dat Jesus naby aan hierdie datum op 6 Januarie gebore is.[6]

 

Dit is dan glad nie onmoontlik dat Jesus op of naby 25 Desember gebore is nie.[7]  Ons weet dat Jesus tussen 6 en 4 v.C. gebore is (die persone wat ons kalender ontwikkel het, het ‘n berekeningsfout gemaak).  Koning Herodes het op 12 April in die jaar 4 v.C. gesterf.  Josefus sê dat daar kort voor sy dood, op 13 Maart 4 v.C., ‘n maansverduistering was.[8]  Voor Herodes se dood is Maria ook saam met Jesus en Josef Egipte toe.  Ons moet nog plek los vir die 40 dae van Maria se reiniging na Jesus se geboorte (Lev. 12:1-4, Luk. 2:21-22), vir Herodes wat die babas onder 2 vermoor het en vir die wyse manne wat Jesus besoek het.  Altesaam kon hierdie dinge maklik 3 maande gevat het, wat ons terugvat na die einde van Desember toe.

 

Die Betlehem ster dui ook aan dat Jesus moontlik in Desember gebore is.  ‘n Christen wetenskaplike genaamd Johannes Kepler (1571-1630) het gesê dat die ster waarskynlik die oorvleueling van Jupiter en Saturnus was.  Hierdie oorvleueling gebeur elke 800 jaar.  Twee jaar voor Jesus se geboorte kon dit drie keer gesien word:  Mei, Oktober, en Desember (vgl. Matt. 2:7, 16).  Die jaar daarna kon Mars saam met die ander twee planete gesien word.  Kepler het dit ook in sy leeftyd gesien.

 

Tydens hierdie oorvleueling verskyn daar ‘n helder gekleurde ster tussen Jupiter en Saturnus (volgens Kepler se eie getuienis).  In die Chinese geskiedenis lees ons van so ‘n ster wat in Februarie van die jaar 4 v.C. in die noordelike hemel verskyn het.[9]  Dit mag miskien dieselfde ster wees wat die wyse manne gesien het.  Onthou asb. dat die wyse manne nie op die nag van Jesus se geboorte saam met die herders by die krippie was nie.  Volgens Matt. 2:11 was Jesus in ‘n huis toe die wyse manne Hom besoek het.  Dit is moontlik dat Hy naby aan 25 Desember gebore is, en dat die wyse manne Hom ‘n week of ‘n maand later gesien het.

 

‘n Algemene beswaar is dat Desember koud is die noordelike halfrond, en dat die herders nie op ‘n wintersnag buite in die veld sou wees nie.  James Kelso is ‘n argeoloog wat vir ‘n paar jaar in Israel gebly en gewerk het.  Volgens hom bly die skaapwagters juis in die veld, omdat Israel ‘n winter reënval het.  Terwyl die weiding groen is, wil hulle die maksimum voeding vir hulle skape kry.  Hy sê dat dit ‘n algemene gesig is om in dié tyd die herders met hulle skape in die veld te sien.[10]

 

William Hendriksen vertel van ‘n Nederlandse Nuwe Testament teoloog (Dr. Harry Mulder) wat op 16 Januarie 1967 die volgende brief geskryf het:  ‘During the brief Christmas vacation my wife and I traveled from Beirut…to Jerusalem. In this connection I can also answer your question regarding the presence of sheep around Bethlehem in the month of Desember…Right near us a few flocks of sheep were nestled.  Even the lambs were not lacking…It is therefore definitely not impossible that the Lord Jesus was born in December.’[11]

 

Alfred Edersheim gee nog vier punte om te wys dat Jesus op of naby 25 Desember gebore is.[12]  My punt is nie om oor ‘n datum te stry, of eers te sê dat 25 Desember noodwendig die presiese datum is nie.  Ek probeer eerder om te wys dat ons nie te maklik moet sê dat Kersdag op 25 Desember van ‘n heidense feesdag af kom nie.  Maar selfs as Kersdag ‘n reaksie op keiser Aurelianus se fees was, vier Christene dit nog steeds nie as ‘n aanbidding van die songod nie.  Ken jy Christene wat op 25 Desember die son aanbid?

 

As ons Kersfees moet vermy omdat die heidene op hierdie datum fees gevier het, moet ons op geen dag van die jaar fees vier nie, aangesien die heidene al ons weeksdae na hulle gode vernoem het.  Sunday en Monday gaan oor die aanbidding van die son en die maan.  Tuesday is afgelei van Tiwaz’s day, wat die Germaanse god van oorlog was.  Wodin (Wodin’s day of Wednesday) was hulle oppergod, Thor die god van donderweer (Thor’s day of Thursday), Freya die vrugbaarheidsgodin (Freya’s day of Friday), en Saeter die watergod (Saeter’s day of Saturday).[13]

 

Ek stem dus dat dit nie verkeerd is om op 25 Desember fees te vier en bly te wees dat Jesus aarde toe gekom het om ons te red nie.  Hóé ons dit doen is wat die verskil maak.

 

Wat van Kersfees in 2017?

Daar is ‘n Engelse gesegde wat sê:  ‘In essentials unity, in non-essentials liberty, in all things charity.’  Daar sit ‘n groot mate van waarheid hierin.  Ons moenie soos Tukkies se liberale professors die maagdelike geboorte ontken, of sê dat Jesus nie ten volle God en ten volle mens is nie.  Hierin moet ons een wees.  Ons mag egter oor dinge soos Kersfees verskil, maar ons moet dit in ‘n gesindheid van liefde doen.

 

Dit is die punt wat Paulus in Rom. 14 wil maak.  Hy gebruik wel sekere kossoorte en spesiale dae as voorbeelde, maar die beginsels wat hy in hierdie hoofstuk neerlê geld vir enige grys area (dinge wat nie swart en wit is nie, waaroor die Bybel nie eksplisiet praat nie).  Kersfees val in hierdie kategorie.  Die Bybel beveel ons nie om dit te vier nie, maar dit verbied ons ook nie.  Ons is dus vry om dit te vier… of nie.  “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk.  Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.” (Rom. 14:5).

 

Besluit dan wat jy wil glo, en moet dit nie vier as jy onseker is nie (Rom. 14:23).  Moet ook nie met ander mense stry, hulle oordeel, op hulle neersien, of jou siening op hulle wil afdwing nie (Rom. 14:1-4).  Los jou broer as hy nie met jou saamstem nie; die Here sal hom help (Rom. 14:4).  Moenie die regter wil wees aan wie mense hulle standpunte moet verduidelik nie – los dit vir die Here (Rom. 14:10-12).  Sorg jý net dat jy Kersfees vier of vermy, omdat jy die Here wil eer (Rom. 14:6).

 

‘Maar moet Christene Kersfees vier as dinge soos kersbome, kersliggies, geskenke en Kersvader ‘n heidense afkoms het?’ wil iemand weet.  Nie almal stem saam oor waar hierdie dinge vandaan kom nie.  Volgens sommige het Martin Luther ‘n boom afgekap en dit met liggies versier, omdat hy die sterrehemel bo die dennebome vir sy kinders wou uitbeeld.

 

Ander dink weer dat Bonifacius dit in die 8ste eeu begin het.  Hy het blykbaar gesien hoe die heidene hulle kinders tydens die winter fees onder die eikebome offer.  Hy het vir hulle gesê om eerder ‘n denneboom af te kap, dit huis toe te vat en saam met hulle kinders fees te vier.[14]

 

Ander koppel dit aan heidense gebruike.  In 2006 het iemand Tiaan Gildenhuys se ‘Maak jou huis skoon’ DVD vir my geleen.  Daarin het hy gesê dat kersbome ‘n oortreding van Jer. 10:3-4 is, omdat Israel bome afgekap, en dit met goud en silwer versier het.  Maar as hy die konteks gelees het, sou hy gesien het dat dit nie oor kersbome gaan nie, maar oor afgode.  Nie Jeremia óf sy lesers het naastenby gedink dat dit oor kersbome gaan nie.  Ek weet ook nie van enige gelowiges wat op 25 Desember sy of haar kersboom aanbid nie.

 

Wat geskenke betref hoef ons nie te dink dat dit van die heidene afstam nie.  Soos die wyse manne geskenke vir Jesus gebring het, kan ons vir mekaar geskenke gee.  Dit verheerlik die Here as ons dit doen, want as ons met mekaar deel, deel ons ook met Jesus (Matt. 25:40, 35-39).  Ons moet egter versigtig wees dat ons nie net op Kersdag goed doen nie; ons moet aanhoudend met ander deel (Heb. 13:16).

 

Wat van Kersvader of Sinterklaas (‘Santa Claus’)?  Blykbaar kom dit van ‘n Christen in die vierde eeu wat Nicholas genoem is.  Hy was van Myra in Turkye.  Sy ouers het gesterf toe hy jonk was, en hy het ryk geërf.  Hy het sy rykdom gebruik om arm mense te help.  Hy is op 6 Desember 343 n.C. oorlede.[15]  Ander reken weer dat Kersvader van Nicholas van Sion af kom.  Hy het in die sesde eeu geleef, en elke jaar op 6 Desember vir kinders geskenke uitgedeel.[16]

 

Ek is nie seker wie reg is nie, maar in ons tyd is dit ‘n feit dat Kersvader die aandag van Jesus aftrek.  Kinders beskou hom as ‘n tipe god wat alles van hulle af weet:  ‘He sees you when you are sleeping, he knows when you’re awake, he knows when you’ve been bad or good, so be good for goodness sake.’[17]  Kersvader verdraai ook ons kinders se siening van God, omdat hulle volgens die legende goed genoeg moet wees om sy guns te verdien (kontra. Rom. 5:8).

 

Verder verwar dit hulle, omdat jy na 6 of 7 jaar vir hulle sê hy nie regtig bestaan nie.  En hoekom moet hulle jou dan glo as jy vir hulle sê dat Jesus regtig is?  Clint Archer skryf:  ‘I never want my children to have this existential monologue in junior high:  “Daddy told me about a six day creation, virgin birth, Easter Bunny, Santa Claus, angels, and fairies.  Then he said he was only joking about half the stuff.  I felt gullible for falling for it.  Mmm.  I wonder if my science teacher is right about Evolution?  What other nonsense has been fed to me as fact?”’[18]

 

Ek dink dit sal beter wees as ons heeltemal van Kersvader ontslae raak, sodat ons op Jesus kan fokus.  John Piper sê:  “Christmas is first Christ, second Christ, third Christ, and again and again Christ!”[19]  Moet dus nie vir jou kinders oor Kersvader jok nie, maar vertel eerder vir hulle hoe goed en vrygewig Jesus Christus is.

 

As jy Kersfees soos die wêreld vier sal jou kinders nie Jesus in jou sien nie, al jy ook vir hulle dat dit oor Hóm gaan.  Wat ek bedoel is dat jy nie aan die een kant ‘n erediens kan bywoon, terwyl jy aan die ander kant ‘n wilde partytjie hou, hope geld mors, en fokus op wat jy vir jouself kan kry nie.

 

Onthou eerder dat Kersfees – en eintlik jou hele lewe – oor Christus gaan.  “Want vir my is die lewe Christus” (Fil. 1:21).  Vir Christene is Kersfees net nóg ‘n geleentheid om die goeie nuus van Jesus Christus met mense te deel.  Dit maak jou nie meer of minder geestelik, omdat jy Kersfees vier of nie (1Kor. 8:8, Gal. 4:10, Kol. 2:16-17).  Eintlik is die vraag nie eers of jy Kersfees vier nie, maar of jy vir Jesus Christus ken?  Dit help nie dat jy Kersfees vier of vermy, as jy die res van die jaar in sonde lewe nie.  Jou standpunt oor Kersfees beteken niks as jy nie die evangelie verstaan nie.

 

Wat maak dit saak as jy die datum van Jesus se geboorte ken as jou sonde nie vergewe is nie?  Jou siening oor Kersfees maak nie ‘n verskil as jy nie die ware betekenis van Jesus se geboorte, lewe, kruisdood en opstanding verstaan nie.  Weet jy dat die Jesus die ware God is, dat Hy uit ‘n maagd gebore is, en dat Hy volkome mens geword het?  Weet jy dat Hy ‘n sondelose lewe gelei het?  Weet jy dat Hy op Golgota die straf vir sondaars gedra het?  Weet jy dat Hy gesterf het, begrawe is en op die derde dag uit die dood uit opgestaan het?

 

Weet jy dat jou sonde Hom bedroef en dat jy sy ewige oordeel verdien?  Weet jy dat Hy jou sal vergewe as jy jou sonde haat, jou bekeer en op Hom vertrou om jou daarvan te red?  Nou waarvoor wag jy dan – wil jy Hom nie vandag vra om jou te red nie?  Jy sal nie spyt wees nie.  Die fees wat jy eendag in die hemel sal vier, sal beter wees as enige fees wat jy al ooit op die aarde gevier het (of jy nou in Kersfees glo of nie).

 

Jy sal agterkom dat Jesus se vleeswording in Betlehem maar net die agterdeur was om jou na beeldskone, asemrowende en ruim paleis van sy heerlikheid toe te lei.  Jy sal in groter verwondering oor sy heerlikheid wees, as wat die herders en engele dit op daardie eerste Kersfees nag was.  Dan sal jy nie omgee op watse dag Jesus gebore is nie.  Jy sal net bly wees dat God aarde toe gekom het om sondaars te red.  Saam die engele in Luk. 2:14 sal jy sê:

Eer aan God

in die hoogste hemele

en vrede op aarde,

in die mense ‘n welbehae!

 

[1] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, Grace Publications Trust, London: England, Kaarte op openingsbladsye

[2] Ibid., p. 146, 181 en Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004, pp. 377-378

[3] Ibid.

[4] Williston Walker, A History of the Christian Church: 4th Edition, T&T Clark Ltd., Edinburgh: Scotland, 1919, 1986, p. 120

[5] Schmidt, Ibid.

[6] http://thecripplegate.com/is-christmas-rooted-in-paganism/

Robert T. Beckwith, Calendar and Chronology, Jewish and Christian: Biblical, Intertestamental and Patristic Studies, E.J. Brill, Leiden: The Netherlands, 1996, pp. 70-79; Susan K. Roll, Toward the Origins of Christmas, Kok Pharos Publishing House, The Netherlands, 1995; http://penelope.uchicago.edu/~grout/encyclopaedia_romana/calendar/invictus.html

[7] Alfred Edersheim, The Life and Times of Jesus the Messiah, Wm. B. Eerdmans, Grand Rapids, MI: Christian Classics Ethereal Library, 1953, Appendix VII (On the date of the Nativity of our Lord), pp. 1527-1529

[8] Falvius Josephus, Complete Works: The Antiquities of the Jews, Book 17, 6:4 en voetnota, Kregel Publications, Grand Rapids: Michigan, 1960, p. 365

[9] Edersheim, Ibid., pp. 631-632

[10] James Kelso, An Archaeologist Looks At The Gospels, pp. 23-24 aangehaal in https://bible.org/article/should-christians-celebrate-christmas.  Sien ook Edersheim, p. 611 en voetnota 954

[11] Aangehaal in William Hendriksen, Matthew: New Testament Commentary, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1971, p. 182

[12] Edersheim, pp. 1527-1529

[13] Needham, p. 288

[14] Schmidt, pp. 385-386

[15] https://calledconvictedconverted.com/2013/12/02/redeeming-santa-claus/

[16] Schmidt, p. 393

[17] Aangehaal in http://thecripplegate.com/christmas-confessions-why-lie-to-kids-about-santa-claus/

[18] Ibid.

[19] https://www.desiringgod.org/articles/how-we-see-christmas-symbols

Openbaring – Gister en Vandag

Openbaring Gister en Vandag

Vir omtrent 15 maande het ek deur die boek Openbaring gepreek.  Aan die einde van die reeks het ‘n paar mense gevra of ek dit in boek vorm kan sit.  Ek het vir die ouderlinge gevra of ek 5 dae kan kry om die preke in boek formaat te verander.  Dit was meer werk as wat ek gedink het.  Die 5 dae was gans te min.  Dit is ses keer geproeflees, en na baie ure voor die rekenaar het ek dit uiteindelik laat druk.  Die boek is op Amazon Kindle beskikbaar teen $1.14, en vir harde kopieë teen R60 elk kan jy my persoonlik kontak (084 699 2030 of i4@absamail.co.za).

 

Ek glo dat die boek ‘n vars perspektief op Openbaring is.  Daar is ook praktiese toepassings aan die einde van elke hoofstuk.

God se rebelse kinders

Rejecting Bible

Kallie is 16 jaar oud.  As sy pa vir hom sê om iets te doen, doen hy die teenoorgestelde.  Hy doen wat sy vriende wil en volg nie sy ouers se raad nie.  Hulle het hom al gedreig, gestraf, gewaarsku, mooi gepraat en hom beloon, maar niks werk nie – hy is rebels en hardkoppig.

 

Deur die geskiedenis was Juda soos Kallie.  In Deut. 9:24 het Moses vir die volk gesê:  “Wederstrewig was julle teen die Here van die dag af dat ek julle ken.”  Stefanus se boodskap aan die Jode was:  “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.” (Hand. 7:51).  In Jes. 30:1-17 wys die profeet dat die volk ook in sy tyd rebels was.

 

Juda se ongeloof (v.1-7)

Rebelse kinders glo nie wat hulle ouers sê nie.  Wendy se ouers waarsku haar om nie met Leonard uit te gaan nie.  ‘Hy is nie die man vir jou nie,’ sê hulle.  Sy glo hulle nie en dink hulle wil hê sy moenie gelukkig wees nie.  ‘Julle hou net nie van hom nie,’ sê sy vir hulle.  Vir haar vriendinne sê sy:  ‘My pa en ma weet nie waarvan hulle praat nie.  Hulle ken nie vir Leonard nie.  Ek ken hom; hy is ‘n oulike man.’  Drie maande ná sy vir Leonard ontmoet het, trou hulle.  Ses maande later is hulle geskei.

 

Juda was so rebels soos Wendy (v.1, 1:2).  Omdat Juda nie geglo het die Here kan haar help nie, het sy slim planne beraam wat nie in lyn was met God se wil nie (v.1).  Sy het vir Egipte gevra om haar teen Assirië te beskerm, maar dit was nie die Heilige Gees wat haar gelei het om hierdie ooreenkoms te sluit nie (v.1).  Dit was sonde om God se leiding te verag en onder Farao se vlerke skuiling te soek; dit sou haar niks in die sak bring nie (v.1-3).

 

Maar dit het haar nie gepla nie.  Juda se afgevaardigdes het na Soan en Hanes toe gereis om Farao se amptenare te ontmoet en ‘n verbond te sluit (v.4).  Die verbond was egter so leeg soos Dingaan se beloftes aan Piet Retief:  dit het nie vir Juda bevoordeel nie, en uiteindelik tot hulle en Egipte se vernedering en skande gelei (v.5, 3).

 

Juda sou skade lei nog voordat sy in Egipte aangekom het.  Die pad daarheen deur die Negev woestyn (die Suidland) was gevaarlik.  Soos in die Kalahari of die Namib woestyn, was daar leeus en giftige slange (v.6, Deut. 8:15).  Volgens die Ou Vertaling was daar ook vlieënde drake (v.6).  Selfs as Juda veilig by haar bestemming uitgekom het, was Egipte so nutteloos soos ‘n draak wat stilsit of ‘n riet kierie wat in jou hand breek (v.6-7, 36:6, 51:9, Ps. 89:11).  Egipte se blaf was erger as haar byt.

 

Moet dan nie soos Juda op nuttelose hulp vertrou nie, maar vertrou op God se Gees en sy planne (v.1).  Dit is makliker gesê as gedaan, omdat talle mense in ons tyd nie weet hoe die Gees se leiding in die praktyk lyk nie.  Moenie die Heilige Gees se leiding met emosionele impulse verwar nie.  Onthou dat die duiwel, die vlees, jou hormone, te min slaap, siekte, drank, dwelms, en baie ander dinge jou emosies kan beïnvloed.

 

As jy op jou impulse staatmaak, sal jy dom dinge sê, soos dat die Heilige Gees vir jou gesê het om te skei.  Jou emosies sal jou bedrieg om te dink dat die Here dit op jou hart gelê om R2500 vir ‘n dwelm verslaafde boemelaar te gee, en dan vir jou kinders te sê dat jy nie geld het om vir hulle nuwe skoene te koop nie.  Jy sal jou onsensitiewe, lelike en harde woorde verskoon deur te sê dat die Heilige Gees vir jou gesê het om dit vir iemand te sê.

 

Iemand wat op sy of haar impulse staatmaak, sal ook die Bybel afskeep, misverstaan of misbruik.  Sommige mense sal soos mev. X sê:  ‘As die sang lekker was, gee ek nie om of die preek sleg is nie.’  Ander lees weer die Bybel soos ‘n geheime kode boek om sekere probleme uit te werk en op te los.  Hierdie mense lees bv. van Filippus wat suid gereis het, en glo dat die Here vir hulle sê om Bloemfontein of Kaapstad toe te trek (hoekom nie Vereeniging of Colesberg toe nie?).

 

Ander skeep die Bybel af, omdat die Here kamtig direk met hulle praat.  Sowat vyf jaar gelede het iemand vir my gesê:  ‘As my Christenskap net uit die Bybel bestaan, wil ek nie ‘n Christen wees nie.’  In haar teologie is die Bybel nie die primêre manier waarop die Here met ons praat nie – ons impulse en intuïsie is.

 

In sommige gevalle raak dit so erg, dat mense in die Here se Naam sonde doen.  ‘n Kanadese prediker genaamd Todd Bentley het bv. ‘n ou tannie in die gesig geskop, omdat die ‘Gees’ vir hom gesê het om haar op dié manier van kanker te genees.[1]

 

Wees asb. versigtig om nie te maklik sê:  ‘Die Here het vir my gesê… die Here het dit op my hart gelê… die Heilige Gees het my gelei om…’ nie.  Dink voor jy dit sê, want as jy dinge aan die Heilige Gees toeskryf wat Hy nie gesê het nie, sal Hy jou oordeel (Jer. 23:21, 31-32).  Hy sal jou as ‘n rebel beskou wat besig is om leuens te versprei.

 

Hoe kan jy weet of die Heilige Gees met jou praat, en of dit Hý is wat sê:  “Dit is die weg, wandel daarop!” (v.21)?  Die Heilige Gees sal jou nooit lei om sonde te doen nie, maar om gehoorsaam te wees (Gal. 5:19-23).  Hy sal jou ook nie lei om beheer te verloor oor jou emosies, gedagtes, woorde en dade nie (1Kor. 14:32, Gal. 5:22-23).

 

Hy sal jou in die waarheid lei (Joh. 16:13).  Hy sal nie dinge in jou plant wat met die Bybel bots nie, maar Hy sal jou aan Jesus se woorde herinner (Joh. 14:26, 16:14-15).  As die Heilige Gees jou lei, sal Jesus en die Bybel prominent wees.  Om God se leiding te volg moet jy die Bybel volg.  Dit is immers die boek wat Hy geïnspireer het (2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).

 

Omdat die Bybel dan die geïnspireerde, algenoegsame, onfeilbare, foutlose en gesaghebbende Woord van God is, durf ons dit nie afwater om op onsself, ons impulse en die wêreld te vertrou nie.  Hoe is dit dat belydende Christene die Bybel se raad rakende ouerskap, die huwelik, verhoudings, werk, geld, ens. ignoreer, en vir ongelowiges (vriende, sielkundiges en beraders) vra om hulle te help?  Ps. 1:1 sê baie duidelik dat ons nié die wêreld se raad moet volg nie.  Soms volg ons dit nie direk nie, maar sonder dat ons dit besef beïnvloed die wêreld ons.  Ons glo hulle twak soos om in jouself te glo en jou hart te volg.  As ons die Bybel geken het, sou ons geweet het dat dit slegte raad is (v.1-7).  “Wie op sy eie hart vertrou, hy is ‘n dwaas” (Spr. 28:26).  “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jer. 17:9).

 

‘Maar het die Here nie vir ons ‘n gesonde verstand gegee nie?’ wil iemand weet.  Ja, Hy het.  Maar die Bybel moet nog steeds die finale gesag wees.  Dit is die maatstaf waarvolgens jy moet meet of jou verstand ‘gesond’ is of nie.  Dit geld ook vir die vrede wat jy ervaar wanneer jy ‘n besluit geneem het.  Jy kan nie bloot op grond van die rustigheid of angs wat jy ervaar, sê dat ‘n besluit reg of verkeerd is nie.  Die Bybel bly die maatstaf.  As die Bybel bv. in Matt. 18:15 sê jy moet ‘n broer oor sy sonde aanspreek, moet jy dit doen – al is angstig.  En as die Bybel in 1Kor. 7:39 sê jy moenie met ‘n ongelowige trou nie, moet jy dit nie doen nie – al voel jy heeltemal rustig.

 

Wat van oop en geslote deure?  Soos jou verstand en emosies, speel gunstige of ongunstige omstandighede ‘n rol, maar weereens moet dit nie die finale gesag wees nie.  Die vraag bly steeds:  wat sê die Bybel?  As die deur skielik vir jou oopgaan om in Switserland te bly maar jy skuld die bank R750 000, is die gunstige omstandighede nie die Here wat vir jou sê om te immigreer nie.

 

Om ander gelowiges vir raad te vra is goed en reg (Spr. 11:14), maar dit kan nooit die Bybel vervang nie.  Net die Bybel kan vir jou die sekerheid gee dat dit regtig die Heilige Gees is wat jou lei, en nie die duiwel of jou emosies nie.  “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad.” (Ps. 119:105).  As jy nie die Bybel volg nie, sal jou lewe en planne op die einde van die dag soos ‘n vliegtuig in die see verongeluk.

 

Juda se ongehoorsaamheid (v.8-17)

Ek het by ‘n vorige geleentheid vertel dat mense vir my gesê het:  ‘Ons glo in ‘n God van liefde en soek nie ‘n gemeente wat dissipline toepas nie.’  Soos hierdie mense, wou Juda nie God se Woord hoor nie.  Hulle het profete gesoek wat nie die gladde oppervlak van hulle lewens sou omroer nie.[2]  Hulle wou dinge op húlle manier doen, en dus het Jesaja die Woord van God as ‘n permanente getuienis teen hulle geskryf (v.8).  Maar t.s.v. sy getuienis het hulle God soos rebelse en bedrieglike kinders geïgnoreer (v.9).  Hulle wou sieners en profete hê wat nie op hulle tone trap nie, wat nie oor God se heiligheid preek nie, wat net goeie dinge sê en nie teen hulle sonde preek nie (v.10-11, 1Kon. 22:8, 13, Amos 2:12, Miga 2:11).

 

Omdat hulle die Woord van God verag het, kan ons sê dat hulle op verdrukking en slinksheid vertrou het (v.12).  Dit is wat afgodery doen:  dit bedrieg en verdruk die mense wat daaraan vashou.  ‘n Toordokter sê bv. vir iemand wat dodelik siek is om nie hospitaal toe te gaan nie, maar ‘n mengsel van modderwater en kruie te drink.  Soos jy kan raai sterf die persoon.

 

Omdat Juda haar rug op God se Woord gedraai en op Egipte vertrou het, was sy soos ‘n hoë muur met los klippe wat enige oomblik sou omval (v.13).  God sou haar soos ‘n kleipot stukkend slaan (v.14, Ps. 2:9).  Die skerwe was te klein om kole uit die kaggel te skep of water te hou (v.14).  Die verwoesting sou m.a.w. totaal wees.

 

Maar die Here was nie oorhaastig om vir Juda te oordeel nie.  Hy het haar tyd gegee om haar te bekeer (v.15).  Om gered te word moes sy na Hom toe terugkeer, en deur stille geloof en vertroue in Hom rus (v.15).  Sy was egter nie bereid om dit te doen nie, maar het op Egipte se vinnige perde vertrou (v.15-16, 31:1, Ps. 20:8, 33:17, 147:10-11, Spr. 21:31).  Om haar te oordeel het die Here Assirië se perde vinniger as Egipte s’n gemaak (v.16, Deut. 28:49, Jer. 4:13, Hab. 1:8).

 

A.g.v. God se oordeel sou een Assiriër ‘n duisend Jode op hol jaag; vyf Assiriërs sou Juda se hele weermag laat vlug (v.17, Deut. 32:30, kontra Lev. 26:8).  Toe die Here klaar sy volk geoordeel het, was daar byna niks van haar oor nie – net ‘n vlagpaal en ‘n banier om te wys dat daar eens op ‘n tyd mense was (v.17).

 

Laat dit vir ons ‘n waarskuwing wees om nie rebels en ongehoorsaam te wees soos Juda nie.  Moenie soos Juda vir jou ‘n ds. soek om jou ore te streel nie (v.10-11, 2Tim. 4:3-4).  In ons tyd soek mense ‘n ds. wat sê dat homoseksualiteit en saambly nie sonde is nie.  Hulle soek ‘n ds. wat sê hulle kan in sonde lewe en nog steeds hemel toe gaan.  Hulle soek ‘n ds. wat sê dat hulle iets kan doen om hulle redding te verdien.

 

Hulle soek ‘n ds. wat hulle motiveer om goed oor hulleself te voel, wat sê dat Jesus vir hulle gesterf het omdat hulle spesiaal is.  Hulle soek ‘n ds. wat nie oor die hel preek nie, omdat God ‘n God van liefde is.  Hulle soek ‘n ds. wat sê dat hulle wonderwerke, geld en gesondheid sal kry as hulle die Here volg.

 

Hulle soek nie ‘n ds. wie se preke hulle skuldig laat voel nie.  Hulle soek nie een wat sê dat God heilig is en sonde haat, dat die hel regtig is, dat jy hel toe gaan as jy met jou sonde aanhou, dat jy niks kan doen om die hemel te verdien nie, dat jy jou moet bekeer, dat jy jouself moet verloën, dat geloof nie bloot ‘n intellektuele oefening is nie, maar dat dit tot ‘n lewe van gehoorsaamheid lei, ens. nie.  ‘n Ds. wat die waarheid preek sal een van die volgende reaksies kry:

 

  • Hy is nie populêr nie, maar het min dissipels (Joh. 6:66).
  • Hy word vervolg. Die bokke wil van hom ontslae raak en hom met iemand anders vervang.
  • Mense verlaat die kerk en soek ‘n ds. wie se boodskappe sagter op die oor val.
  • Mense bly by die huis, en soek op die internet ‘n ds. wat preek soos wat húlle daarvan hou.

 

Die punt wat ek wil maak is nie dat ‘n ds. hard en gevoelloos moet wees nie.  Hy moet met deernis en liefde preek.  Maar hy moenie God se waarheid verdraai, omdat hy mense se opinies vrees nie.  Hy moet sê wat die Here sê en die resultate in sý hande los.  Die vraag is nie of mense aanstoot neem nie, maar of dit wat hy sê waar is, en of die Here daarmee tevrede is (1Tess. 2:4, 2Tim. 4:1-2).

 

‘n Ds. moet soos my vriend wees.  Iemand het hom streng bestraf oor ‘n artikel wat hy geskryf het.  Hy het nie die bestraffing aanvaar nie, maar gesê:  ‘Is it true?’  Wanneer iemand ná die preek ‘n e-pos vir die ds. skryf en sê:  ‘Ek stem nie saam met wat jy gesê het nie en gaan vir my ‘n ander gemeente soek,’ moet hy sê:  ‘Het ek gesê wat die teks sê?’  Weë hom as hy sy eie gedagtes preek en nie die Bybel verkondig nie.  Maar as hy wél die Bybel gepreek het, rus God se oordeel op dié wat dit verwerp en ‘n ds. soek om hulle ore te streel.

 

Hierdie mense is rebelle wat die Here uitnooi om sy toorn soos lawa oor hulle uit te stort.  Iemand wat die geskrewe Woord van God verwerp, verwerp ook die vleesgeworde Woord (Jesus).  Moet dan nie soos Juda rebels wees nie.  Wees lief vir die Bybel en luister wanneer die Here deur sy Woord met jou praat.

 

“Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het…?” (Heb. 2:2-3).  “As iemand die wet van Moses verwerp het, sterf hy sonder ontferming op die getuienis van twee of drie; hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:28-29).

 

Is jy ‘n rebel wat God se Woord en sy Gees ignoreer en op jouself vertrou?  Jou enigste hoop is om deur geloof en bekering onder die graniet sambreel van Jesus se kruisdood te staan.  As jy in enige ander skuiling wegkruip, sal die stormwind, vloed en haelstene van God se oordeel jou daar kom uithaal.  Draai daarom met vrees en bewing na die Here toe, sodat Hy jou kan omhels en deel van sy gelukkige familie kan maak (Luk. 15:20-24).

 

Jy sal wees soos die rebelse seun wat van sy ouerhuis af weggeloop het.  Na ‘n baie jare het hy tot sy sinne gekom en was hy jammer oor wat hy gedoen het.  In ‘n brief het hy vir sy pa gesê hy wil huis toe kom.  ‘Bind asb. ‘n wit sakdoek aan ‘n tak naby die trein stasie as pa my vergewe het,’ het hy gesê.  Toe die trein by die stasie inkom, was daar ‘n wit sakdoek aan elke tak van al die bome langs die stasie.  Sy pa het hom ten volle vergewe.

 

En sal die Here dit nie ook met jou doen as jy jou bekeer nie (v.15)?  Is dit nie wat Hy in Hos. 14:5 belowe het nie:  “Ek sal hulle afkerigheid genees, hulle vrywillig liefhê, want my toorn is van hulle afgewend”?

 

[1] https://www.youtube.com/watch?v=OeAZ5IuydBA

[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, Inter-Varsity Press, Leicester: England, 1993, p. 248