‘n Man na God se hart

Man after God's own heart

Toe ek op hoërskool was moes jy rugby speel en ‘n meisie hê om ‘n man te wees.  As jy in die koor gesing het of tik geneem het, was jy ‘n sissie (die koor gedeelte het verander toe ek in gr. 10 kom).  As jy ‘n student op universiteit is moet jy immoreel wees en drink om ‘n man te wees.  As jy in die sekulêre sektor werk is die kar wat jy ry, op watse landgoed [Eng. estate] jy bly, hoeveel jy drink en of jy ‘n vakansie huis het, deel van wat dit beteken om ‘n man te wees.

 

Volgens die Bybel gaan manlikheid oor iemand se karakter, en nie oor hoe sterk, sportief, aantreklik, onemosioneel of macho jy is nie.  Dawid is ‘n goeie voorbeeld van wat dit beteken om ‘n man te wees.  Volgens 1Sam. 13:14 en Hand. 13:22 was hy ‘n man na God se hart.  Sy naam kom meer as 1100 keer in die Bybel voor (meer as Moses en Abraham s’n saam).  Volgens Rom. 15:4 en 1Kor. 10:11 is dit opgeteken dat ons daaruit kan leer.

 

Wat is positiewe en negatiewe karaktertrekke uit Dawid se lewe, en wat moet ons daaruit leer?

 

Wees toegewyd

Het jy al die plakker gesien wat sê:  ‘Real men follow Jesus’?  Dis waar.  Dawid, die man na God se hart, het die Here gevolg en ‘n in noue verhouding met Hom geleef.  Sy toewyding het soos volg gelyk:

 

[1] Hy het in God geglo; hy is een van die Bybel se geloofshelde (Heb. 11:32).  Sy geloof was nie bloot ‘n intellektuele belydenis van God se bestaan nie, maar ‘n persoonlike verhouding met Hom.  Om in die volle sin van die woord man te wees, moet jy ‘n persoonlike verhouding met Jesus hê.  Hy is immers die volmaakte Man na wie se beeld ons gevorm moet word (Rom. 8:29, 2Kor. 3:18).  Hoe meet jy op?  Staan jy in ‘n lewende en persoonlike verhouding met Hom; is jy ‘n regte man?

 

[2] Hy was ‘n man van gebed.  Volgens Ps. 5:3-4 het hy elke oggend met die Here gepraat.  In tye van beproewing het hy drie keer per dag gebid (Ps. 55:18).  Die meeste van sy Psalms is gebede en sê vir ons hoe sy gebede geklink het.

 

  • Hy was dors vir God en het sy gedagtes met Hom gevul, totdat hy nie anders kon as om Hom te prys nie (Ps. 63:2-7). Lofprysing was deel van sy lewe (bv. Ps. 139, 145).  Uit 150 Psalms het hy 75 geskryf (vgl. die Psalms se opskrifte, Hand. 4:25 en Heb. 4:7).
  • Sonde belydenis was deel van sy gebede. Hy het egbreuk en moord gepleeg (2Sam. 11), en in sy militêre sukses geroem (2Sam. 24).  Maar hy het ook berou gehad, hom bekeer, die Here om vergifnis gesmeek, en die pynlike gevolge van sy sonde gedra (2Sam. 12, 24, Ps. 32, 38, 51).
  • Hy het die Here in sy gebede gedank (2Sam. 22, Ps. 23, 103). Hy was nie soos baie Suid-Afrikaners wat vir reën bid, maar nalaat om dankie te sê wanneer die Here hulle gebede beantwoord nie.
  • Hy het sy behoeftes voor die Here gebring en erken dat hy Hom nodig het (Ps. 141, 143). Hy was nie soos die wêreld wat dink dat dit ‘n teken van swakheid is om te erken jy het hulp nodig nie.  Voordat Dawid ‘n skuif gemaak het, het hy God se hulp gevra (1Sam. 23:2-4, 9-12, 30:7-8, 2Sam. 2:1, 5:19, 23-25).

 

Dawid was soos Jesus, Paulus en Martin Holdt wat baie gebid het.  Hy was nie soos baie mans wat sê dat hulle Christene is, maar nie eers 2 minute per dag bid nie.  Ek wil jou uitdaag om ‘n regte man te wees en meer te bid.  Vra die Here om jou met selfdissipline te help.  Jare gelede het iemand my met konstantheid gehelp.  ‘Selfs as jy verslaap het is dit beter om vir ‘n kort rukkie te bid as wat jy glad nie bid nie,’ is wat hy gesê het.  ‘En as jy konstantheid geleer het, kan jy aan die tyd werk.’

 

Bid soos Dawid.  Begin met lofprysing:  prys die Here vir wie Hy is.  Bely ook jou sonde.  Moenie dat dit soos vuil skottelgoed ophoop nie, maar bely dit elke dag (Matt. 6:12).  Sê dankie dat die Here jou gered het, asook vir wat Hy in jou lewe doen (sy daaglikse sorg, beskerming, genade, ens.).  Lê ook jou en ander mense se behoeftes aan sy voete neer.  Erken dat jy Hom nodig het, en dat jy nie sonder Hom kan lewe nie (Joh. 15:5, Hand. 17:25).

 

[3] Hy het die Woord liefgehad.  Ps. 19:8-15 wys dat dit sy lewe was.  Hy het dit nie net geken nie, maar gedoen (1 Kon. 3:14, Hand. 13:22).  Met sy hele hart was hy getrou, regverdig, opreg, en ‘n man van integriteit  (2Sam. 8:15, 1Kon. 3:6).  Sý lewe was die standaard waarvolgens God ander konings se gehoorsaamheid gemeet het (1Kon. 9:4, 11:4, 6, 34, 14:8, 15:3, 5, 11, 2Kon. 14:3, 16:2, 18:3, 22:2, 2Kron. 17:3).

 

Om soos Dawid te lewe moet jy daarna streef om die Skrif beter te ken en te doen.  Wees uiterlik netjies, maar werk ook daaraan om innerlik ‘n man van karakter te wees.  God kyk immers meer na die hart as na jou uiterlike voorkoms (1Sam. 16:7, 12, 18).  Koop vir jou ‘n ESV Study Bible, kry ‘n Bybellees program op die internet, en laai tonne van Stuart Olyott, John Piper, John MacArthur, R.C. Sproul, Voddie Baucham, D.A. Carson, Conrad Mbewe se preke af.  Maak ook seker dat jy goeie boeke lees:  Martyn-Lloyd Jones, Charles Spurgeon, Iain Murray, Randy Alcorn, Jerry Bridges, Paul Tripp en meer.

 

[4] Hy het God se huis en sy mense liefgehad.  Hy wou in die tempel wees om die Here saam met ander gelowiges te prys (Ps. 16:3, 23:6, 26:8, 27:4, 122:1).  A.g.v. sy groot liefde vir God se huis, het hy mildelik daartoe bygedra (1Kron. 22:14, 29:2, 4).

 

Is jy soos Dawid?  Is Christus en sy gemeente jou lewe?  Is jy gereeld by die gemeentelike samekomste, omdat jy die Here saam met jou broers en susters wil aanbid (Heb. 10:24-25)?  Gee jy vir God se werk en vir die uitbreiding van sy Koninkryk in Tembisa, Peru, Zimbabwe en op ander plekke?

 

Wees dapper

Wat is die verbod wat die meeste in die Bybel voorkom?  Moenie bang wees nie.  Wees dapper.  Om dapper te wees beteken nie dat daar geen vrese in jou lewe is nie, maar dat jy hulle oorkom.  Jy is nie so dom dat jy die gevaar uitsoek nie, maar wanneer dit oor jou pad kom vertrou jy die Here om jou te help.  Dit is wat dapperheid beteken.

 

Dawid was so:  “…’n dapper held en ‘n krysman… en die Here is met hom.” (1Sam. 16:18).  Toe almal Goliat gevrees het, het Dawid sy slingervel gevat en die gewapende reus doodgemaak (1Sam. 17:48-51).  Hy was dapper, omdat hy geweet het die Here is met hom (1Sam. 18:14, 28, 2Sam. 5:10, 8:6, 14).

 

As jy gered is en jou sonde vergewe is, is die Here met jou (Matt. 1:23, 28:20, Heb. 13:5).  Dus hoef jy nie bang te wees nie.  Met God se krag en die vlymskerp swaard van sy Woord, kan jy die sterkste vyande in jou lewe doodmaak:  onsekerheid oor jou en jou gesin se toekoms, vrees vir die dood, Satan se versoekings om onrein te wees, ongedissiplineerde gedagtes, sondige gewoontes soos dronkenskap en pornografie, ‘n los tong, finansiële stres, passiewe geestelike leierskap in jou huis, vrees vir verwerping, ens.

 

Dalk het die duiwel, jou eie sonde en jou omstandighede jou teen die grond geslaan.  Moenie bly lê, of in ‘n hoek sit en jouself bejammer nie.  Staan op.  Vra die Here om jou te help.  Tel jou swaard op en stry die goeie stryd.

 

  • “die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.” (Gen. 4:7).
  • “wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here.” (Rom. 12:11).
  • “Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie; ek slaan met die vuis soos een wat nie in die lug slaan nie. Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.” (1Kor. 9:26-27).
  • “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk. Laat alles by julle in liefde geskied.” (1Kor. 16:13-14).
  • “oefen jou in die godsaligheid” (1Tim. 4:7).
  • “Maar jy, man van God, vlug van hierdie dinge weg, en jaag ná die geregtigheid, godsaligheid, geloof, liefde, lydsaamheid, sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe…” (1Tim. 6:11-12).
  • “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” (2Tim. 1:7).
  • “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” (2Tim. 4:7).
  • “onthou [julle] van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel” (1Pet. 2:11).

 

Moenie soos ‘n bangbroek van jou moeilike omstandighede af wegvlug, of vir beter dae wag nie.  Wees ‘n man.  Staan op.  Ruk jouself reg.  Skud die stof van jou klere af.  Moenie bang wees vir ‘n bietjie seerkry nie.  As mans deur die geskiedenis vir hulle vryheid geveg het, kan jy sekerlik jou swaard optel en vir jou Koning, sy eer en sy Koninkryk veg.  As jy dapper is sal jy ander beïnvloed om in jou voetspore te volg (2Sam. 21:22, 23:8-39).

 

Wees sagmoedig

Dit is maklik om ander mense te beheer, maar moeilik om jouself te beheer.  ‘n Sagmoedige man is iemand wat geleer het om homself te beheer.  Sy sagmoedigheid is nie ‘n teken van swakheid nie, maar van sterkte.  Hy is soos ‘n olifant wat dik stompe met sy slurp kan optel, maar dit gebruik om ‘n fyn blaartjie te pluk; hy is soos ‘n gimnas wat sy krag beheer om stadig in ‘n Maltese kruis in te sak.

 

Jesus en Moses was so (Matt. 11:29, 12:20, 2Kor. 10:1, Num. 12:3).  Dawid ook.  Toe Simeï hom vloek en Saul hom vervolg, het hy hulle nie teruggekry nie.  Hy het dit in die Here se hande gelos om wraak te neem (1Sam. 24, 26, 2Sam. 16, Rom. 12:19).[1]

 

Ons moet so wees.  Wees sagmoedig met jou vrou en kinders (1Pet. 3:7, Ef. 5:25, 29, Kol. 3:19).  Moenie so streng wees dat jou vrou bang is om haar opinie te gee, of jou kinders vrees jy sal uitvind hulle het ‘n toets gedruip nie.  Dalk is jy té streng en moet jy leer om meer sagmoedig te wees.  As jou vrou of kinders gesondig het, moet jy hulle nie verkleineer nie maar met ‘n sagmoedige gesindheid reghelp, en onthou dat jy self ook God se genade nodig het (Gal. 6:1-2).

 

Wees nederig

In een van my vrou se beradingklasse het die dosent gesê:  ‘Mans, niks is belangriker in jou huwelik as nederigheid nie.’  Ons sien dit miskien nie in Dawid se huwelik nie, maar in sy lewe is dit duidelik sigbaar.  In 1Sam. 25:32, 34-35 het hy bv. ‘n vrou se raad gevolg en nie gedink hy weet alles nie.  Sommige mans dink dat dit benede hulle is om so iets te doen.  Maar die man wat homself verneder om sy vrou se insette te vra, is beter af as die man wat dink dat hy haar nie nodig het nie (Gen. 2:18).

 

Dawid was ook nederig genoeg om sy vyande lief te hê en te vergewe.  Hy het vir Simeï vergewe (2Sam. 16, 19).  Hy het getreur toe Saul en Absalom – sy vyande – dood is (2Sam. 1, 18).  Beide Abner en Isboset was aan Saul se kant.  Maar toe hulle dood is, was Dawid hartseer en het hy hulle moordenaars bestraf (2Sam. 3-4).

 

Sal Dawid sy vyande liefhê en vergewe, en kan jy nie eers met jou vrou oor die weg kom nie?  Dit wys iets van die hoogmoed wat daar nog in jou hart is.  Jy dink te veel van jouself.  As jy nederig was sou dit jou nie so gepla het dat mense nie volgens jóú pype dans nie.  Maar nou raak jy kwaad en baklei jy, omdat jy vir jouself te belangrik is (Jak. 4:1-2).  Jy kan dit nie glo dat jou vrou so arrogant is om jóú wil te kruis nie.  ‘Hoekom wil sy altyd dinge op háár manier gedoen hê?’ wonder jy.  Jy kom nie eers agter dat jy kwaad is, omdat sy nie dinge op jóú manier wil doen nie.

 

Dit sal help as jy jouself weer aan God se heiligheid meet, sodat jy kan sien jy is glad nie so belangrik soos wat jy dink nie.  ‘n Nederige man sal nie dink dat hy te goed is om ‘n ‘vrou se werk’ te doen nie.  Hy sal sy vrou help en die kind se doek ruil, skottelgoed was, die huis opruim, die kinders oppas, ‘n siek kind dokter, kruideniers koop, ens.  Om ‘n leier te wees moet jy nederig wees en soos Jesus dien (Matt. 20:25-28).

 

Iemand wat regtig nederig is sal dit nie agterkom nie, maar erken dat hy baie hoogmoedig is.  Omdat hy dit besef, sal hy soos Dawid wees toe hy in sy militêre sukses geroem het:  hy het hom bekeer en vir die Here gevra om hom te vergewe (2Sam. 24).

 

Wees rein

Toe ek laas week vir die vroue gepreek het, het ek my vrou iets oor die onderwerp gevra.  ‘Kyk op Cosmopolitan se webblad,’ het sy gesê.  ‘As jy die teenoorgestelde sê sal jy reg wees.’

 

Wanneer dit by seksuele reinheid kom is dit ook so.  Om te weet wat jy moet doen, moet jy 2Sam. 11 lees (Dawid se egbreuk met Batseba) en die teenoorgestelde doen.  Eintlik het Dawid se sonde nie hier begin nie.  Die Here het al in Deut. 17:17 gesê dat die koning nie baie vroue moet hê nie, maar Dawid was ongehoorsaam (2Sam. 3:2-5, 5:13-16).  Sy huwelike met al hierdie vroue het ook gemaak dat hy nie eintlik ‘n verhouding met sy kinders gehad het nie (bv. Amnon en Absalom).

 

Al was hy dan ‘n man na God se hart, is sy gesinslewe nie juis die beste voorbeeld om na te volg nie.  Sy sonde met Batseba moet veral vir ons ‘n waarskuwing wees.  Manne, ek weet dat dit partykeer ‘n stryd is om jou begeertes in toom te hou.  Maar jy is nie hulpeloos nie.  As jy volgende stappe toepas, kán jy rein wees.

 

[1] Glo dat Jesus se kruisdood en opstanding genoeg is om jou sonde te oorkom (1Kor. 6:11, 9-10, Tit. 2:11-12).  Moet dit nie net weet nie, maar glo in Hom.

 

[2] Aanvaar persoonlike verantwoordelikheid.  Moenie sê dat pornografie ‘n siekte in jou brein is nie.  As jy saam met jou meisie slaap, is dit nie omdat jy uit ‘n gebroke huisgesin kom nie.  Jy kan nie jou egbreuk of emosionele gehegtheid aan jou sekretaresse op jou vrou blameer nie.  Ek sê nie dat jou vrou onskuldig is nie, maar moenie soos Adam die skuld van jouself wil afskuif en dink jy gaan daarmee wegkom nie (Gen. 3:12).  Erken eerder saam met Dawid dat dit jou eie skuld is, en dat jy teen die Here gesondig het (Ps. 32, 51).  Totdat jy dít nie doen nie, kan jy nie vergewe word nie (1Joh. 1:9).

 

[3] Bid baie vir die Heilige Gees se hulp (Luk. 11:13, Rom. 8:13).

 

[4] Memoriseer gepaste Bybelverse en gebruik dit wanneer jy versoek word (Ps. 119:11, Ef. 6:17).  As jy jou gedagtes met goeie dinge vul, sal dit die vuil dinge uitsuiwer (Rom. 12:2, Fil. 4:8).

 

[5] Vra jou vrou en ‘n betroubare Christen-vriend om vir jou te bid en jou aanspreeklik te hou.

 

[6] Onthou dat jy saam met Christus begrawe is, en dat jy as ‘n nuwe mens saam met Hom opgewek is – jy hóéf nie te sondig nie (Rom. 6:3-4, 11-14, 2Kor. 5:17).

 

[7] Herinner jouself aan die erns van sonde en aan die rykdom van God se vergifnis as jy die nagmaal gebruik.

 

[8] Maak ‘n skoon breek in sondige verhoudings (Spr. 5:8).  Raak ontslae van jou TV, die internet, jou selfoon, ens. as dit jou versoek om onrein te wees (Matt. 5:28-29, Rom. 13:14).

 

[9] Onthou dat mense wat in seksuele sonde volhard, hel toe gaan (1Kor. 6:9-10, Op. 21:8).

 

[10] Moenie ledig wees nie – dit is hoe Dawid geval het (2Sam. 11:1-2).

 

[11] Neem Num. 32:23 en Luk. 12:2 ernstig op:  “…weet dan dat julle sonde julle sal uitvind … En daar is niks bedek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”

 

[12] Trou as jy enkel is.  Dit sal nie al jou probleme oplos nie, maar dit is ‘n oplossing (1Kor. 7:2, 9, 1 Tess. 4:4).

 

[13] Werk hard aan jou huwelik.  Jou vrou is soos ‘n plant wat tyd en aandag nodig het.  As jy haar afskeep moet jy nie verbaas wees dat jou huwelik soos ‘n verlepte plant lyk nie.  “In enige moeitevolle arbeid is voordeel, maar praatjies is net tot gebrek.” (Spr. 14:23).

 

Moet dan nie net dat jou vrou nr. 1 in jou lewe is nie; wys dit.  Hou op om jou kinders, vriende, familie, kerk, werk, en stokperdjies bo haar te stel.  Maak tyd om met haar te gesels en nie net om saam met haar te slaap nie.

 

[14] Moet jouself nie seksueel uithonger nie, maar geniet jou vrou as jy getroud is (1Kor. 7:3-5).

 

[15] Wellus is die saad waaruit die onkruid van egbreuk en pornografie groei (Matt. 5:27-28, Jak. 1:14-15).  Roei die saad uit en moenie net bossies uittrek nie.

 

[16] Lees The Purity Principle van Randy Alcorn.

 

[17] Vroue, help asb. julle broers in die Here.  Moenie so aantrek dat jy hulle versoek nie (Matt. 18:7, 1Tim. 2:9).

 

Ek glo jy het agtergekom dat Dawid ‘n goeie voorbeeld is, maar dat hy nie die perfekte voorbeeld is nie.  Hy is immers nie die Messias nie, maar ‘n sterflike mens soos ons (Hand. 2:29).  Die 15 helde wie se potlood sketse in my studeerkamer hang is ook nie volmaak nie.

 

Daar is net een volmaakte Verlosser en voorbeeld:  die seun van Dawid, Jesus Christus.  Behoort jy aan Hom?  “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1Joh. 2:6).  Uiteindelik is Jesus, nie Dawid nie, die Man na God se hart:  “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het.  Luister na Hom!” (Matt. 17:5).

[1] Dawid het een keer besluit om wraak te neem.  Nadat hy goed was vir Nabal, het die dwaas hom kwaad aangedoen:  stank vir dank (1Sam. 25).  Dawid het besluit om hom dood te maak, maar terwyl hy oppad was het die Here Nabal se vrou na hom toe gestuur.  Sy het hom afgeraai en gesê dat die Here met Nabal sal afreken.  Dawid was dankbaar Abigail hom gekeer het.  Hy het haar raad gevolg en nié wraak geneem nie.  Tien dae later het die Here vir Nabal doodgemaak.

‘n Boodskap vir vroue

Women discipling women 2

In 1979 het John MacArthur ‘n boodskap uit Tit. 2 gepreek.  Tit. 2 sê o.a. dat vroue hulle mans en kinders moet liefhê, tuisteskeppers moet wees, en aan hulle mans onderdanig moet wees.  Op 3 Feb. 1979 het die Los Angeles Times gesê dat Grace Community Church (MacArthur se kerk) ná die preek vyf of ses sekretaresses afgedank het.  Maar dit was ‘n leuen.  Die vroue het self bedank, omdat hulle besluit het om meer tyd aan hulle gesinne te gee.[1]

 

Ek hoop nie dat enigiemand hierdie boodskap uit Tit. 2:3-5 verkeerd sal verstaan nie.  Die doel is nie dat vroue onderdruk moet word nie, maar dat hulle die ereplek moet inneem waarvoor die Here hulle geskep het.

 

Ouer vroue (v.3-4a)

Sonder ouer vroue kan die gemeente en samelewing nie voortbestaan nie.  Hulle beïnvloed immers die jonger vroue, wat op hulle beurt weer húlle kinders beïnvloed.  Jonathan Edwards se vrou Sarah is ‘n goeie voorbeeld hiervan.  Die wyse waarop sy en haar man hulle 11 kinders grootgemaak het, het die geslagte ná hulle beïnvloed.[2]  In die jaar 1900, het ‘n sekere A.E. Winship ‘n studie van twee families gemaak.  Die eerste familie se honderde nasate was ‘n las vir die samelewing, terwyl Jonathan en Sarah Edwards se nageslag ‘n suksesvolle bydrae gelewer het.

 

Tussen 1728 (toe Sarah se eerste kind gebore is) en 1900, het Jonathan en Sarah meer as 1400 nasate gehad.  Onder hulle was daar:

 

  • 13 Kollege hoofde
  • 65 Professors
  • 100 Prokureurs en ‘n dekaan van ‘n regskool
  • 30 Magistrate
  • 66 Dokters en ‘n dekaan van ‘n mediese skool
  • 80 Mense in publieke ampte, insluitend:

[a] 3 Amerikaanse senators

[b] 3 Burgemeesters van groot stede

[c] 3 Amerikaanse goewerneurs

[d] ‘n Amerikaanse Visie-President

[e] Iemand in beheer van die V.S. Tesourie

 

Baie van Edwards se nasate het eienaars en direkteure van groot Amerikaanse maatskappye geword.  Groot getalle het ook predikante geword.  Teen 1900 het Edwards se nasate 135 boeke geskryf, op sendingkomitees gedien, en 100 sendelinge oorsee gestuur.

 

In die lig van die bg. inligting skryf Elizabeth Dodds:  ‘Has any other mother contributed more vitally to the leadership of a nation?’[3]  Mnr. Winship stem saam, en reken dat die sukses en karakter van Edwards se nageslag grootliks te danke is aan Sarah Edwards.[4]  Ons weet natuurlik dat hulle sukses van die Here af kom, maar dit is ook so dat Hy vroue gebruik om die volgende geslag te beïnvloed.  Dit is waaroor Tit. 2:3-5 gaan.  Vir nou wil ek veral op v.3 fokus.

 

Soos die ouer mans in v.2, moet die ouer vroue karakter hê (v.3).  Haar eerbare en waardige optrede moet wees soos dit by ‘n Christen vrou pas (v.3).  Sy moenie kwaadpraat van ander nie (v.3).  Wanneer sy by ‘n vriendin tee drink, moet sy nie oor haar skoondogter, buurvrou, man, ds., of die meenthuis kompleks se opsigter skinder nie.  Sy moenie sê:  ‘Hoor hier, ons moet vir Hettie bid,’ en dan oor haar skinder nie.

 

Wanneer sy op die foon praat moet sy nie soos die Huisgenoot wees en almal se besigheid ken nie.  Sy moet haar eerder by haar eie sake hou, en goeie dinge van ander mense sê.  As sy dit nie doen nie is sy soos die duiwel (v.3, Gk. diabolos].

 

Sy moenie aan baie wyn verslaaf wees nie – of aan hoesstroop, pynpille, slaappille, anti-depressante, koeksisters, melktert, 7de Laan, ens. nie (v.3).  Sy moet haarself daaraan wy om goeie lering te gee (v.3).  Sy mag nie die gemeente leer nie (1Tim. 2:12), maar sy kan die jonger vroue leer (v.3-4).  Sy het meer lewenservaring as hulle, en stap al ‘n langer pad met die Here.  As sy sien dat hulle verkeerd lewe, kan sy hulle vir koffie nooi en hulle op ‘n mooi manier reghelp.  Haar leefwyse as ‘n Christen moet ook vir hulle ‘n leerskool wees.

 

Die Griekse woord vir leer [v.4, sõphronizõ] beteken ook ‘oplei, dissipeleer, dissiplineer, korrigeer, vermaan’.  Dit is soos in die film War Room waar ‘n ouer vrou ‘n jonger een help om haar verhouding met die Here, lewe, huwelik, gesin en prioriteite in orde te kry.  Wil jy nie dieselfde doen nie?

 

Nooi ‘n jonger vrou na jou huis toe om ‘n goeie boek saam met jou deur te werk.  Dalk kan jy met Womanly Dominion van Mark Chanski begin.  Iemand het vir my gesê dat dit die beste boek op die onderwerp is.  A Woman After God’s Own Heart van Elizabeth George, Lies Women Believe van Nancy Leigh DeMoss, en Disciplines of A Godly Woman van Barbara Hughes is ook goeie opsies.

 

Bid saam met ‘n jonger vrou.  Bid in jou stiltetyd vir haar.  Nooi haar vir koffie.  Stuur vir haar ‘n Bybelvers.  Wie gaan haar dissipeleer as jý dit nie doen nie?  ‘n Man kan dit nie doen nie; hy verstaan nie ‘n vrou se probleme nie.  Dit is ook gevaarlik, omdat hy maklik verlief kan raak op die jong meisie wat elke week haar hart met hom deel.  As dit ooit gebeur dat jy vir ‘n vrou móét raad gee, is dit belangrik dat jou vrou by jou is, of dat die vertrek se deur oop is en jou vrou by die huis is.

 

Eintlik is dit beter dat jou vrou of ‘n ander vrou met die jong vrou gesels.  Omdat jy self ook ‘n jong vrou was, weet jy hoe hulle dink, en verstaan jy hulle unieke probleme, uitdagings, versoekings en sondes.  Kies vir jou ‘n jong vrou, en doen moeite om haar te dissipeleer.  As jy dit doen sal sy later die vrymoedigheid hê om raad te vra, en sal sy heel moontlik in die toekoms iemand anders dissipeleer, soos jy dit met haar gedoen het.

 

Jonger vroue (v.4b-5)

Ek het ‘n Amerikaanse sendeling-vriend wat in Limpopo werk.  ‘n Paar jaar gelede het hy vir my gesê:  ‘Die ding wat ek die meeste op die sendingveld mis, is die invloed van iemand met grys hare.’  Kort daarna het hy ‘n ou Bybelvertaler ontmoet, en het hulle goeie vriende geraak.  My vriend praat gedurig van die positiewe invloed wat die ou man op hom het.

 

Die jonger vroue moet soos my vriend wees:  nie eiewys wees nie, maar gretig om by die ouer vroue te leer (v.3-5).  Wat moet die ouer vroue vir hulle leer?  Paulus noem ses dinge.

 

[1] Hulle moet hulle mans en kinders liefhê (v.4).  Dié wat nog gaan trou en kinders hê moet ook leer wat die Here van hulle verwag.  Ek sal in v.5 wys hoe ‘n vrou haar man moet liefhê en respekteer.  Vir eers wil op haar ouerlike plig fokus:  hoe moet sy haar kinders liefhê?

 

Sy moet hulle nie afskeep nie.  Sy moenie die TV, X-Box of i-Pad aansit om hulle groot te maak, omdat sy haar eie ding wil doen nie.  Daar is ‘n tyd en plek vir ontspanning, maar sy moet hulle nie los om hulle eie kos te maak, omdat sy vir ure op ‘n dag boek lees, TV kyk, in die mall is, op die bed lê, met ‘n vriendin kuier, studeer, op haar slimfoon of Facebook sit, of by die werk is nie.  Dit is sleg as haar kind vir ‘n halwe dag met ‘n vuil doek moet rondloop, omdat sy te lui is om dit te ruil.

 

Sy kan eerder tyd maak om vir haar kinders boekies te lees, met hulle te speel, of om hulle op die swaai te stoot.  Sy moet hulle dissiplineer, vir hulle bid en Bybelstories vir hulle lees.  As haar kinders ouer is kan sy by hulle op die bed lê en gesels, hulle vir ‘n melkskommel vat, hulle met hulle skoolwerk help, hulle saam met haar winkel toe vat, frisbee saam met hulle gooi, met hulle praat oor die Here en hulle verhouding met Hom, saam met hulle bid en die Bybel lees, haar dogter leer om koek te bak of ‘n spyskaart uit te werk, met hulle oor seks praat (as sy dit nie doen nie, sal haar dogter se vriendinne dit doen!), vir haar seun sê sy is trots op hom as hy die braai skoongemaak het, ens.

 

[2] Hulle moet ingetoë wees (v.5).  Dit beteken o.a. dat ‘n jong vrou selfbeheersing moet hê.  Sy moet haar tong, emosies en aptyte beheer.  Sy moenie nors en humeurig wees, net omdat dit ‘n sekere tyd van die maand is nie.  Sy moet ook die paradokse van die Christelike lewe leer.  ‘n Paradoks is iets wat soos ‘n kontras lyk, maar nie eintlik een is nie.  ‘n Belangrike paradoks is bv. dat die Christelike lewe radikaal is, maar nie uitspattig nie.  Jy moet jouself verloën en jou kruis opneem as jy vir Jesus wil volg (Luk. 9:23), maar jy moet ook ingetoë of matig wees (v.2, 5, 6, 12, 1:8).  Kom ons neem kos as ‘n praktiese voorbeeld.  ‘n Jong vrou kan dit geniet om lekker kos te maak, maar dit moenie haar afgod wees nie (Fil. 3:19).  Aan die ander kant moet sy nie haar liggaam aanbid, sodat sy van een dieet na die volgende toe te spring, en ‘n obsessie het met oefening nie.  Sy moet matig wees (v.5).

 

[3] Hulle moet kuislik of rein wees (v.5).  Daar is sekere storieboeke, tydskrifte, DVD’s en internet blaaie wat nie in ‘n jong vrou se lewe hoort nie.  Sy moet getrou wees aan haar eie man, en nie ander mans se geselskap uitsoek nie.  Sy moet ook nie so aantrek dat sy ander mans verlei nie.  As sy enkel is kan sy bid dat die Here vir haar ‘n man stuur, maar sy moet nog steeds rein bly.

 

[4] Hulle moet huislik wees (v.5).  ‘n Jong vrou se huis moet vir haar ‘n prioriteit moet wees.  Dit is nie sonde as sy ‘n buitewerk het nie, maar dit moenie haar prioriteit wees nie.  Haar werk moet haar nie so besig hou, dat sy nie tyd het vir haar gesin nie.  Dit moenie soveel tyd in beslag neem, dat sy nie by haar huislike pligte uitkom nie.  Ek weet dat die man ook in die huis moet help, maar vroue het ‘n gawe wat mans nie het nie.  Hulle weet net hoe om ‘n huis te versier en seker te maak dat dinge glad verloop.  Die ouer vroue moet die jonger vroue help om nie hierdie gawe te minag of te verwaarloos nie.

 

Indien ‘n jong vrou nie haar sekulêre werk en haar God-gegewe huislike pligte kan nakom nie, moet sy haar gesin kies en ‘n huisvrou wees.  Dalk sê jy:  ‘Maar ons het die tweede werk nodig.’  Bid dan dat die Here vir jou ‘n halfdag werk sal gee, sodat jy meer by jou kinders kan wees.  Dit sal ook goed wees as jy weer deur jou begroting werk.  Het julle miskien die tweede werk nodig, omdat jy nie jou BMW op ‘n kleiner karretjie wil inruil nie, of omdat jy nie bereid is om DSTV op te gee en op ander maniere af te skaal nie?

 

Dalk is dit glad nie die geval nie, en sukkel julle regtig.  Kyk mooi na jou begroting.  Dalk gee jy onnodig geld uit omdat jy werk:  ‘n tweede kar, ekstra brandstof, die kleuterskool of naskool, ‘n bediende om te was en te kook omdat jy nie tyd het nie, ekstra wiskunde klasse omdat jy by die werk is en nie tyd het om jou kind te help nie, ens.

 

Dalk is dit nie die rede hoekom julle sukkel nie, en is dinge regtig net moeilik.  Jou kinders benodig jou liefde en tyd meer as jou geld.  “Liewer ‘n porsie groente waar liefde by is, as ‘n vetgevoerde bees en haat daarby.” (Spr. 15:17).  Dalk sukkel jy omdat jy ‘n enkel ma is.  In daardie geval moet jy seker maak dat die kind se pa onderhoud betaal.  Probeer om die saak mooi met hom uit te praat.  Indien dit nie help nie, moet jy met sy ouderlinge praat.  As hy ongered is, kan jy ‘n Christen prokureur vir raad vra.  As jy op Bybelse gronde geskei is, moet jy vir ‘n man bid, trou, jou kinders opvoed en jou huislike pligte nakom (1Tim. 5:14).

 

As jy regtig nie ‘n man kry nie, kan jy jou familie nader en vra of jy by hulle kan bly.  Soek ‘n halfdag werk om by te dra vir kos, water en ligte.  Dalk kan jy jou kind tuisskool (dit is goedkoper as ‘n publieke skool).  Dalk kan jy van die huis af werk om geld te maak (bv. beskuit bak of klere maak).  Is daar ‘n ouer vrou in die kerk wat vir jou ‘n vaardigheid kan leer?  Kan sy jou miskien met jou begroting help?  As jy alles probeer het en daar geen ander uitweg is nie, kan jy met die ouderlinge praat.  Dalk het jy iets misgekyk.  Of dalk is jy regtig net arm, en moet die kerk aan maniere dink om jou te help.

 

Wat as jy graag by die huis wil werk, maar jou man verbied jou?  Bid vir jou man.  Wys uit Tit. 2:5 en 1Tim. 5:14 vir hom hoekom jy graag by die huis wil werk.  Sê vir hom dat jy van die huis af dinge sal doen om ekstra geld te maak.  Indien hy ná dit nog daarop aandring dat jy moet werk, moet jy jou op ‘n sagmoedige wyse aan hom onderwerp en bid dat die Here hom sal verander.

 

[5] Hulle moet goed doen en vriendelik wees (v.5).  Jong vroue moenie humeurig en geïrriteerd wees met hulle mans en kinders nie.  Goeie werke moet vir hulle belangrik wees (1Tim. 2:10, 5:10).  Hulle huise moet oop wees, en as hulle mense ontvang moet hulle vriendelik wees (1Pet. 4:9).

 

[6] Hulle moet aan hulle eie mans onderdanig wees, sodat die Woord van God nie belaster word nie (v.5, Ef. 5:22-23, Kol. 3:18, 1Pet. 3:1-6).  In ons samelewing het onderdanigheid ‘n vloekwoord geword.  Maar in die konteks van die Bybel het onderdanigheid niks te doen met ‘n man wat sy vrou boelie, beheer, onderdruk of met ‘n ystervuis regeer nie.  Dit beteken nie dat sy geen besluite mag neem, of dat sy soos ‘n slaaf voor haar man se voete moet val nie.

 

Dit beteken eerder dat sy haar man moet respekteer (Ef. 5:33).  Sy het die mag om haar man op te bou of af te breek, om hom te laat kwyn of te laat floreer (Spr. 31:12).  Wanneer sy by ander mense is, moet sy haar man se goeie punte uitlig, en hom nie afbreek nie.  Sy moet hom nie verkleineer, met hom baklei, hom ‘nag’, opdragte gee, sy vuil wasgoed ophang, oor hom kla, hom soos ‘n kind hanteer, of disrespekvol met hom praat nie.  Sy moet eerder voorstelle maak, en hom eenkant op ‘n sagmoedige wyse korrigeer.

 

Om hom te respekteer moet sy ook op haar voorkoms let.  Sy moenie 11 uur in die oggend nog in haar nagklere wees, en die hele dag nie haar tande borsel nie.  Sy hoef nie soos ‘n model te lyk nie, maar sy moet netjies wees vir haar man (Spr. 31:22).

 

Om respek te wys moet sy hom bemoedig, vir hom bid, en dankie sê dat hy hard werk om vir hulle te sorg.  Sy moenie lui wees om etes voor te berei nie.  Sy moet haar man vir raad vra.  As hy ‘n seksuele behoefte het, moet sy nie verskonings gebruik soos:  ‘Wag tot môre… ek het hoofpyn… ek is moeg, ens.’ nie.

 

Wat moet ‘n vrou doen as haar man nie die gesin goed lei nie; moet sy haar man se rol oorneem?  As ‘n losskakel nie sy posisie goed speel nie, beteken dit nie die slot moet sý posisie los en die losskakel s’n oorneem nie.  Die afrigter sal met die losskakel afreken; die slot moet sy posisie speel.  Vervul jou rol en moenie jou ongehoorsame man s’n wil oorneem nie; die Here sal met hom afreken.

 

Hoekom moet ‘n vrou haar man respekteer?  “…sodat die Woord van God nie belaster word nie.” (v.5, 8, 10, Rom. 2:24, 1Tim. 6:1).  ‘n Illustrasie sal v.5 verduidelik.  Toe ons onlangs in Jeffreysbaai was, het ‘n Christen jong man gesê dat sy ateïs-vriend met ‘n Christen wil trou, omdat Christen meisies nie soos ongelowiges is nie.  A.g.v. die Christen-vroue se seksuele reinheid, en toewyding aan hulle mans en kinders, het ‘n sekere heiden (Libanius) in die vierde eeu gesê:  ‘What women these Christians have!’[5]

 

As ‘n Christen vrou haar man respekteer, sal die wêreld sien dat God se Woord waar is, en dat Jesus inderdaad mense se lewens verander (v.11, vgl. 1:12).  Dit sal hulle verstom dat hierdie vrou nie met haar man baklei nie, maar dat sy sagmoedig, eerbiedig en onderdanig is (Matt. 5:16, 1Pet. 2:12, 3:15).  As sy egter disrespekvol is, sal ongelowiges die Bybel uitlag en sê dat hulle nie Christene wil wees nie.  As ongelowiges hoor hoe sy haar man slegsê, verloor sy kredietwaardigheid en kan sy nie met hulle oor die Here praat nie.  Haar lewe weerspreek haar getuienis.

 

Dalk hoor jy hierdie dinge en sê jy:  ‘Niemand kan dit regkry nie; jy leef in ‘n onrealistiese wêreld.’  Natuurlik kan jy dit nie self regkry nie, maar met die Here is alle dinge moontlik.  Deur die genade van God in Jesus se kruisdood, kan ons ‘nee’ sê vir sonde en ‘ja’ vir goeie werke (v.11-14).

 

As jy dit nie regkry om uit liefde vir God aan jou man onderdanig te wees nie, moet jy wonder of jy gered is.  Die rede hoekom jy teen jou man se gesag rebelleer, is omdat jy jou nie aan die Woord van God (bv. Tit. 2:5) wil onderwerp nie.  Jy is op ‘n gevaarlike pad, want volgens 1Sam. 15:23 is rebelsheid vir die Here so ernstig soos heksery.  Bekeer jou en glo dat Jesus jou deur sy kruisdood kan vergewe.  Verneder jou voor die Here.  Los jou rebelsheid en vra Hom om jou te verander, sodat jy uit liefde vir Hom aan jou man onderdanig kan wees.

 

Uiteindelik gaan dit nie eers oor jou man, kinders of enigiemand anders nie, maar oor die Here (1Pet. 3:4).  Dit is hoe dit vir Sarah Edwards was.  ‘Oh how good…is it to work for God in the daytime, and at night to lie down under his smiles!’ het sy gesê.  Vir haar was haar huislike take deel van haar diens aan God, en so wonderlik soos gebed.[6]  Mag dit so wees vir elke vrou wat bely dat sy die Here ken.

 

[1] Iain Murray, John MacArthur: Servant of the Word and Flock, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 2011, pp. 46-47

[2] John Piper & Justin Taylor (Red.), A God Entranced Vision of All Things: The Legacy of Jonathan Edwards, Crossway Books, Wheaton: Illinois, 2004, pp. 62-63

[3] Aangehaal in Ibid., p. 63

[4] Aangehaal in Ibid., p. 62

[5] Alvin J. Schmidt, How Christianity Changed the World, Zondervan, Grand Rapids: Michigan, 2001, 2004, p. 85

[6] Piper & Taylor, p. 71

God se siening van kinders en diere

Kids playing with dog

Die wêreld dink nie reg oor kinders en diere nie; hulle is verward.  Aan die een kant vermoor hulle ongebore babas, en aan die ander kant sê hulle dat jy nie eers jou eie kind mag pak gee nie.  Jy mag jou kind doodmaak, maar jy moet hom net nie seermaak nie (!?).

 

Wat diere betref glo hulle dat die mens ‘n soort dier is wat verder as hulle in die evolusie proses gevorder het.  Hy is dus bo hulle, maar hulle is ook bo hom.  Elke maand koop Bennie van Dyk spesiale hondekos wat hom R900 kos, maar as hy ‘n arm familielid moet help sê hy hy’t nie geld nie.

 

God het Gen. 1:26, 28 in die Bybel gesit om vir ons ‘n regte siening van kinders en diere te gee.  Mag die Here dit gebruik om jou denke hieroor te beïnvloed.

 

Kinders (v.28)

Die Playboy ikoon Hugh Hefner, is op 27 September 2017 op 91-jarige ouderdom oorlede.  In Desember 1953 het hy die eerste uitgawe van sy Playboy pornografiese tydskrif vrygestel.  Hefner het geglo dat seks nie tot die huwelik beperk is nie, en dat mense vry is om hulle seksualiteit uit te leef soos hulle wil.

 

Sedert die sondeval was die mens immoreel, maar a.g.v. Hefner se invloed het seks buite die huwelik, egbreuk en homoseksualiteit drasties toegeneem.  En in so ‘n wêreld kan dit nie anders as dat vrugbaarheid afneem nie.  Twee mense van dieselfde geslag kan immers nie kinders hê nie, kan hulle?

 

Selfs waar mense in ‘n heteroseksuele verhouding immoreel is, het dit ‘n negatiewe effek op vrugbaarheid.  In ‘n samelewing waar mense meer as een maat soek – hetsy deur egbreuk of seks voor die huwelik – soek hulle nie die ‘las’ van ongewensde kinders nie.  In baie gevalle wil hulle ook nie uitgevang word nie.  Gevolglik gebruik hulle sekere middele om swangerskap te voorkom.  As die middel nie goed werk nie en die vrou swanger word, vermoor hulle die ongebore baba.

 

God se siening van kinders is heeltemal anders.  Hy het ‘n sagte plek vir hulle, en wil hê hulle moet na Hom toe kom (Mark. 10:13-16).  Hy wou van die begin af gehad het dat daar baie kinders op die aarde moet wees (v.28).  Om dit reg te kry het Hy die man en sy vrou geseën en vir hulle gesê hulle moet vrugbaar wees (v.28).  Kinders moet dus uit ‘n seksuele verhouding tussen ‘n man en ‘n vrou gebore word.

 

God het ook die diere geseën en gesê hulle moet vrugbaar wees (v.22).  Daar is egter ‘n verskil tussen God se opdrag aan die diere en aan die mens.  In sy opdrag aan die diere het Hy eenvoudig gesê hulle moet vrugbaar wees.  Soos die lig in v.3, het die diere nie ‘n keuse gehad nie – hulle móés vrugbaar wees.  ‘n Hond, ‘n donkie of ‘n haas kan nie kies of hy vrugbaar wil wees of nie:  wanneer dit paartyd is kan hy homself nie inhou nie, en neem instink oor.

 

Met die mens is dit anders.  Toe die Here Adam en Eva in v.28 geseën het, het Hy vir hulle gesê:  “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde”.  God het vir die mens ‘n wil gegee, sodat hy kon besluit of hy gehoorsaam wil wees of nie.  Adam was nie soos die diere wat nie anders kan as om volgens hulle luste te lewe nie; hy kon sy drange beheer.

 

Maar toe sonde in die wêreld ingekom het, het Adam en Eva slawe van hulle sondige begeertes geword.  Paulus sê dat ongelowiges se gedagtes vol sonde is, dat hulle God nie kán behaag nie (Rom. 8:7-8).  Hulle is slawe van die duiwel en hulle eie sonde (Joh. 8:34, 44, Ef. 2:1-3).  Hulle is soos ‘n leeu wat tussen ‘n sebra en groen gras kan kies, maar elke keer die sebra kies.  Hulle is soos ‘n dronk man wat nie reguit kán ry nie.  As die ongelowige tussen dwelms, pornografie, mense se applous en ‘n lewe van selfverloëning moet kies, kies hy elke keer die sonde.  Sy wil is nie vry soos wat Adam en Eva s’n voor die sondeval was nie.  Luther was reg toe hy gesê het dat die sondaar se wil gebonde is.  Hy kan nie deur ‘n wilsbesluit die bande van sy sonde breek nie.  Iets sterker is nodig.

 

Dit is waar Jesus in die prentjie inkom.  Hy het gesien dat ons onsself nie kan bevry nie, en het as mens na die aarde toe gekom om ons te red, “om aan gevangenes vrylating te verkondig” (Luk. 4:19).  “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees.” (Joh. 8:36).  “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1Joh. 3:8).  Paulus sê dat God “ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:13, vgl. Heb. 2:15).

 

Wat die Here van jou wil hê is dat jy jou rug op jouself en jou sonde moet draai, en in sy Seun moet glo.  Glo dat sy kruisdood vir sondaars meer as voldoende is om jou sondige hart en rekord skoon te was.  Kom in geloof en gebed na Hom toe, plaas die volle gewig van jou sonde op Hom, en vra dat Hy jou sal vergewe.  Erken dat jy niks tot jou redding kan bydra nie, en dat Jesus in sy lewe, kruisdood en opstanding alles vir jou gedoen het.  Die prys is betaal, die skuld is afgeskryf, jy is vry.

 

Omdat Hy jou uit die tronk van jou sonde bevry het, moet jy nie meer met ‘n geestelike tronkvoël mentaliteit rondloop nie.  “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.” (Rom. 6:14).  “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.” (Gal. 5:1).

 

As gelowiges is ons nie meer gebonde nie; ons wil is vry soos wat Adam en Eva s’n voor die sondeval was.  Jy kán jou seksuele drange beheer (Gen. 1:28).  Jy hóéf nie losbandig te wees soos vóór jou bekering nie.  Paulus sê:  “Want dit is die wil van God:  julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie.” (1Tess. 4:3-5).

 

Die Here wil hê dat daar uit hierdie verhouding kinders gebore moet word, sodat die aarde vol kan wees (v.28).  In ons kultuur lag mense as jy baie kinders het, maar dit is hoe die Here dit wil hê (v.28).  Kenners sê dat die wêreld oorbevolk is, maar dit is loutere onsin.  Jy hoef skaars 500 km deur ons land te ry om te sien dat daar meer as genoeg plek is.  ‘Ja, maar die bronne is uitgeput,’ sal iemand sê.  Nee, dit is nie.  Mense is selfsugtig.  Hulle soek alles vir hulleself en verroer nie ‘n vinger om die armes te help nie.  Ander mense mors weer die bronne wat God tot ons beskikking gestel het.

 

Maar dit verander nie die feit dat ons baie kinders moet hê nie.  Om 10 kinders te hê is nie ‘weird’ soos wat die wêreld dink nie.  Moenie vir dié met baie kinders vra of hulle niks beter het om met hulle tyd te doen, en ander snedige opmerkings maak nie.  By ‘n onlangse konferensie het iemand vir die spreker gevra hoekom hy 9 kinders het.  ‘Omdat ons nie 10 kon hê nie,’ het die spreker geantwoord.

 

Ons ongehoorsaamheid om die aarde te vul het nadelige gevolge.  Op 24 September 2015 het Jeremy Page bv. in The Times (Verenigde Koninkryk) geskryf:  ‘Mother Russia Now Sees More Abortions Than Babies Born.’[1]  As hulle so aanhou sal Rusland binne ‘n paar geslagte ‘n bedreigde nasie word.  Uiteindelik sal jou kleinkind vir sý kleinkinders vertel van die Russe wat eens op die aarde was.  Soos die Amalekiete en die Filistyne, sal die Russe uitsterf.

 

Vir ‘n samelewing om te bestaan, moet vroue ‘n gemiddeld van 2.1 kinders hê.  In Europa is die gemiddeld 1.4.  Moslem immigrante is besig om Europa oor te neem.  In Engeland en Wallis is Mohammed reeds ‘n meer populêre baba-naam as George.[2]  In lande soos China en Amerika is dit ‘n las om baie kinders te hê.  In Suid-Afrika word babas doodgemaak nog voordat hulle gebore word.

 

Maar volgens die Bybel is baie kinders ‘n seën (Gen. 1:28, Ps. 127:3-5, 128:3).  Dit is ook ‘n opdrag dat ons baie kinders moet hê (Gen. 1:28).  Ek weet dat daar mense is wat nie kinders kán hê nie.  God is die Een wat die moederskoot oop- en toesluit (Gen. 4:1, 20:17, 21:1-2. 25:21, 29:31, 30:1-2, 22, Rut 4:13, 1Sam. 1:19-20, 2:21, ens.).  Maar as ‘n paartjie kinders kán hê en dit as ‘n oorlas beskou, sondig hulle.

 

Beteken die opdrag om vrugbaar te wees dat jy nie kan kies wanneer jy kinders wil hê, en hoeveel jy soek nie?  Ja en nee.

 

[1] Jy het geen reg om familie-beplanning te doen as jy nie wil trou nie.  Homoseksuele mense het ook nie die reg om ‘n kind aan te neem nie.  Om kinders te hê is ‘n voorreg wat God aan getroude mense gee (Gen. 1:27-28).  As ‘n getroude man en vrou nie kinders kán hê nie, staan dit hulle vry om kinders aan te neem of om van mediese tegnologie gebruik te maak.  Ek dink bv. aan iets soos in vitro bevrugting.

 

In vitro bevrugting is wanneer ‘n getroude paartjie sukkel om swanger te raak en dan ‘n dokter gaan sien.  Die man se saad word geoes.  In ‘n laboratorium sit hulle dit in ‘n glasbakkie saam met die vrou se saad om dit te bevrug.  Die bevrugte eierselle word in die vrou se baarmoeder ingeplant.

 

Uit ‘n Bybels-etiese oogpunt moet ons ‘n paar dinge onthou.  Sodra die man se saad die vrou s’n bevrug, is dit ‘n mens (Ps. 51:7).  Alle bevrugte eierselle moet dus in die vrou se baarmoeder ingeplant word, en nie doodgemaak word nie.  Dit is ook nie wys om vier selle te bevrug, as jy weet dat hulle nie almal in die baarmoeder sal oorleef nie.

 

Omdat vrugbaarheid vir ‘n man en sy vrou bedoel is, moet die paartjie nie van ‘n derde persoon se saad gebruik maak nie.  Die paartjie moet ook nie toelaat dat die bevrugte eiersel in iemand anders ingeplant word nie (‘n surrogaat ma).  God wil nie hê dat daar ‘n derde party betrokke moet wees nie, aangesien dit probleme veroorsaak (Gen. 16).

 

Dit ís so dat mediese tegnologie, vrugbaarheid en kinders ‘n gawe van die Here is.  Maar ons moenie ‘n afgod daarvan maak, sodat ons nie kan funksioneer tensy die Here vir ons kinders gee nie.  As die Here besluit om nie vir jou kinders gee nie, moet jy weet dat Hy iets beter in gedagte het.  Vir mense wat die Here dien en nie kán kinders hê nie, sê Jesaja:  “never think that because [you] cannot have children, [you] can never be part of God’s people… If you honor Me…then your name will be remembered…longer than if you had sons and daughters.  You will never be forgotten.” (Jes. 56:3-5, Good News Bible).

 

[2] Party mense dink dat familie-beplanning sonde is.  Jy moet m.a.w. soveel kinders kry as wat jy moontlik kan hê.  Ek stem nie hiermee saam nie.  Om baie kinders te hê is goed, maar dan moet jy vir hulle kan sorg.  As jy dit nié doen nie “het [jy] die geloof verloën en is [jy] slegter as ‘n ongelowige.” (1Tim. 5:8).  Verder moet jy ook nie baie kinders hê as jy hulle nie kan opvoed nie.  Dit help nie jy het 17 kinders, maar die ouer kinders moet die jongeres grootmaak nie.  Dit is jóú plig en nie 15-jarige Sannie s’n nie, om jou kinders op te voed.

 

Wat voorbehoedmiddels betref kan ‘n man en vrou vir ‘n kort tydjie van mekaar af wegbly.  Op hierdie manier kan hulle besluit om nie dadelik swanger te raak nie.  Hulle motiewe moet egter nie selfsugtig wees nie, en hulle moet ook nie te lank van mekaar af wegbly dat die duiwel hulle tot immoraliteit versoek nie (1Kor. 7:5).

 

Wat van pille?  Ons mag nie medikasie gebruik wat die bevrugte eiersel doodmaak nie.  Ek glo egter dat voorbehoedpille as sulks nie sonde is nie.  Dalk het jy ‘n sterk opinie hieroor.  Wees asb. oortuig van jou mening, maar moenie met ander gelowiges stry nie (Rom. 14).  As jy meer oor die saak wil weet, kan jy hfst. 8 van John MacArthur (Red.) se boek, Right Thinking in a World Gone Wrong, lees.  Die hoofstuk se titel is:  Planned Parenthood? (Birth Control, In Vitro Fertilization, and Surrogacy).

 

‘n Laaste woord voordat ek oor diere praat.  Onthou asb. dat God vir die man en die vrou gesê het om vrugbaar te wees.  Ouerskap is ‘n span poging.  Moet asb. nie ‘n spul kinders hê en hulle dan afskeep, omdat jy onbetrokke of geskei is nie.  Dit is nie net een ouer se werk om die kinders groot te maak nie.  Beide ouers is verantwoordelik.

 

Diere (v.26, 28)

God het vir Adam en Eva gesê hulle moet die aarde onderwerp en oor die diere heers (Gen. 1:26, 28).  Wat beteken dit?  Volgens Benny Hinn beteken die Hebreeuse woord dat Adam presies kon doen wat die skepsels onder hom kon doen:  hy kon soos ‘n vis swem en soos ‘n voël vlieg.  Verder kon hy ook met ‘n enkele gedagte op die maan wees.[3]  Jy weet seker dat Hinn lieg, en dat dit glad nie is wat die Hebreeuse woord beteken nie.  Die Hebreeuse woord râdâh in Gen. 1:26, 28 is reg vertaal.  Dit beteken eenvoudig om te heers, te regeer, en om iets te onderwerp.[4]

 

In baie gevalle het die wêreld hierdie opdrag omgekeer, sodat diere bo mense is.  Dit kom van Gen. 3 af toe die duiwel ‘n slang se liggaam gebruik het om vir Eva te versoek.  In Gen. 3 het Eva nie meer oor die diere geheers nie, maar het ‘n dier oor haar geheers.  Dit hoort nie so nie.  Ons moet oor die skepping heers.  Die mens is nie ‘n indringer wat inmeng as hy dit doen nie.

 

Minder as twee maande gelede het my vriend in die bosveld gaan vakansie hou.  Hy het gesien hoe ‘n klein blouwildebees in die modder vasgevang is.  ‘n Man wat naby gestaan het, het gesê dat ‘n mens nie met die natuur moet inmeng nie.  My vriend en sý vriend het die man geïgnoreer en die wildbewaarders laat roep om die dier uit te help.  Hulle het reg gedoen, omdat God ons aangestel het om oor die diere te heers.

 

Dit is dus nie verkeerd wanneer mense dele van ‘n woud uitkap om ‘n meenthuis kompleks te bou nie.  Tensy die wet dit verbied, is dit nie verkeerd as ‘n boer ‘n luiperd doodskiet wat sy beeste vang nie.  Uit ‘n Bybelse oogpunt moet ons die natuur soos volg beskou:

 

Moet dit nie vernietig nie

Die aarde en alles daarin behoort aan die Here (Ps. 24:1, 50:10-12).  God het ons aangestel om sy eiendom op te pas (v.26, 28, Ps. 8:7-9).  Ons moenie die renosters uitwis of ons drinkwater besoedel nie.

 

Moet dit nie verafgod nie

Moenie meer geld aan jou troeteldiere spandeer as aan mense wat na God se beeld gemaak is nie.  Ek ken nie ‘Green Peace’ mense wat glo dat dit verkeerd is om bome af te kap, of vroue wat honderde duisende rande op hulle handsak-brakkies (chihuahua’s) spandeer nie.  Maar ek wonder of ons soms in die strik trap as ons R15 000 uithaal om die beste bloedlyn hond of kat te koop, maar nie iets kan bydra vir ons ma wat in die oue tehuis is nie?  Sommige mense spandeer R10 000 op hulle hond se operasie, maar sê dat hulle nie geld het om sendelinge te ondersteun nie.  Vir my klink dit na afgodery.

 

Moet dit nie ignoreer nie

Sorg vir jou diere (Spr. 12:10), moenie toelaat dat die ivy jou muur omtrek nie, doen iets aan die mier of rot probleem in jou huis, sit die hond uit wat ‘n kind se gesig vermink, sny die gras in jou agterplaas wat so hoog soos jou enkels groei.  God wil hê jy moet aktief oor die skepping heers (v.26, 28).

 

Die mens se heerskappy oor die skepping impliseer twee dinge:

 

[1] Die skepping moenie oor óns heers nie.  Prakties beteken dit dat gegiste hops of druiwe, kos, dagga, tabak, en metaal wat uit die aarde ontgin word (goud en silwer; geld), nie jou baas moet wees nie.

 

[2] Ons moet oor die diere heers, en nie oor ander mense nie.  As God jou in ‘n magsposisie geplaas het, mag jy gesag oor ander mense uitoefen (Rom. 13:1).  Jy mag hulle egter nie soos diere behandel nie.  Jy mag nie jou vrou slaan nie.  Jy mag nie ongebore babas se lewe beëindig nie.  Jy mag nie met ‘n ystervuis oor ander mense regeer nie, hetsy in jou huis, oor jou mede-landsburgers (‘n diktator), of oor ‘n groep mense nie (apartheid en BEE).

 

Jy mag nie ‘n mens doodmaak soos jy dit met ‘n mier of muskiet doen nie.  Jy mag nie iemand se seksuele privaatheid betree, en hulle dwing om met jou te slaap nie (verkragting).  Jy kan plante geneties manipuleer en diere kloon, maar jy mag dit nie met ‘n mens doen nie.  Jy mag nie die armes uitbuit of iemand by die skool boelie nie.  Jy mag nie jou liggaam gebruik om mense te manipuleer nie (pornografiese modelle).

 

Jy mag met diere handel, maar nie met mense nie.  Jy mag nie God speel oor iemand se gewete en hulle vryheid wegneem, sodat hulle nie hulle eie besluite mag neem nie (soos wat kultus leiers met hulle mense doen).  Jy mag nie op ‘n mens skreeu nie.  Jy mag nie mense met die dood dreig as hulle nie voor jou god wil buig nie (bv. in Saudi-Arabië).  Jy mag nie soos Nebukadneser en Kim Jong-un van Noord Korea dink dat jy ‘n god is, en mense beveel om voor jou te buig nie.  Heers oor die diere (v.26, 28), en nie oor ander mense nie.

 

Die enigste mens oor wie jy met ‘n ystervuis moet regeer, is oor jou eie sondige begeertes, gedagtes, woorde en dade (Jak. 3:7-8).  Wat help dit jy kan oor die skepping heers, maar jy kan jouself nie in toom hou nie?  Natuurlik sal jy dit nie in jou eie krag regkry nie.  As jy jou bekeer en die Heilige Gees woon in jou, kán jy ‘nee’ sê vir sonde en doen wat reg is (Tit. 2:12).

 

Een van die dinge wat jy moet doen, is om reg te dink oor kinders en diere.  Wees soos die Here.  Hy is lief vir kinders en gee meer om oor diere, as wat ons oor mense omgee (Jona 4:11).  Wees soos Jonathan Edwards wat hom voorgeneem het om nooit sy humeur te verloor met irrasionele diere nie.[5]  Wees soos ‘n tannie in ons gemeente wat altyd ‘n klomp kinders om haar het.  Gee om vir diere, wees lief vir kinders en aanbid die Here.

 

[1] Mark Chanski, Womanly Dominion, Calvary Press Publishing, 2008, p. 36

[2] Ibid., pp. 35-36

[3] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson: Nashville, p. 2

[4] H7287, Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions, 1906, http://www.e-sword.net

[5] Jonathan Edwards, Works: Vol.1, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1974, xxi: Resolution 15

Manlikheid, vroulikheid en die gay agenda

Gay agenda

Die gay agenda verwys na die gay en lesbian gemeenskap se poging om seks tussen mense van dieselfde geslag te normaliseer.  In lande soos Kanada, Amerika en selfs Suid-Afrika, het hulle God se definisie van die huisgesin en die huwelik op sy kop gekeer.  D.m.v. TV-programme, films, die internet, sosiale media, Whatsapp, tydskrifte ens., het die gay gemeenskap ons met hulle ‘reënboog’ agenda gebreinspoel.  Soos jy seker weet het hulle ook ‘n voet in die kerk se deur gekry, sodat daar vandag hele denominasies is wat manlikheid en vroulikheid misverstaan.  My gebed is dat die Here Gen. 1:26-27 sal gebruik om die kraaines uit te sorteer.

 

Wat is die huwelik?

Die homoseksuele gemeenskap se verkeerde verstaan van manlikheid en vroulikheid, lei outomaties tot ‘n verkeerde verstaan van die huwelik.  Die twee is onlosmaaklik aan mekaar verbind.  Kom ons definieer die huwelik voor ons na ‘n Bybelse definisie van manlikheid en vroulikheid kyk.

 

Die wêreld het nog altyd probeer om die huwelik te herdefinieer.  Jare gelede het iemand vir my gesê dat ‘n man en vrou wat saam slaap, getroud is in God se oë.  Vir hom was dit nie ‘n probleem dat twee ongetroudes in ‘n seksuele verhouding saambly nie.  Indirek het hy gesê dat daar nie so iets soos seks voor die huwelik is nie, omdat seks die huwelik is.  Toe ek hom oor Joh. 4:18 vra, het hy nie ‘n antwoord gehad het nie:  “want vyf mans het jy gehad; en die een wat jy nou het, is nie jou man nie.”

 

Duidelik is gay mense nie die enigstes wat die huwelik herdefinieer nie.  Maar van die mense wat seksueel immoreel is, is geen groep so aktief en aggressief teen die Bybel gekant soos die gay en lesbian gemeenskap nie.  Waar het jy al gesien dat mense wat egbreuk pleeg, optogte hou en in die hof baklei om hulle sonde te normaliseer?

 

Verskeie lande het aan die intimidasie van die gay agenda toegegee.  Maar as Christene moet ons nie onder die gewig van die kultuur se druk knak nie.  Geen groep of individu het die reg om die huwelik volgens hulle persoonlike voorkeure te definieer nie.  Van die begin af was die huwelik Gód se idee, en daarom het net Hý die reg om dit te definieer.  Kom ons bekyk sy definisie van nader.

 

God het die mens as man en vrou gemaak en hulle vir mekaar gegee (Gen. 1:27, 2:18-25).  Hy het nie twee mense van dieselfde geslag vir mekaar gegee nie, en daarom is homoseksualiteit onnatuurlik en sonde.  Die Ou- en die Nuwe Testament bevestig dit (Gen. 19, Lev. 18:22, 20:13, Rigt. 19, Rom. 1:26-27, 1Kor. 6:9-10, 1Tim. 1:10, Jud. 7).[1]  Volgens God se definisie dan is ‘n sg. ‘huwelik’ tussen twee mense van dieselfde geslag geen huwelik nie.

 

God se definisie beteken ook dat jy nie meer as een lewensmaat mag hê nie, al is dit ook deel van jou godsdiens of kultuur.  Poligamie is uit.  Wat egskeiding betref het God twee uitsonderings gegee, maar dit was nie deel van die oorspronklike plan nie (Matt. 19:8-9, 1Kor. 7:15).  Selfs as Adam moeg geraak het vir Eva, was daar nie iemand anders om mee te trou nie, en daarom moes hy met haar getroud bly.

 

Omdat Gen. 1:27, 2:18-25 die huwelik beskryf, is dit ook sonde vir mense wat ongetroud is om saam te slaap (Heb. 13:4).  In God se oë is seks ‘n uitdrukking van die eenheid tussen mense wat met mekaar getroud is, maar dit is nie gelyk aan daardie eenheid nie.  Die huwelik gaan oor baie meer as seksuele eenheid.

 

As ons ‘n Bybelse definisie vir die huwelik moet gee, kan ons dit soos volg opsom:  ‘Die huwelik is ‘n lewenslange verbond tussen een man en een vrou, ‘n verbond waarin hulle belowe om unieke en intieme vriende te bly totdat die dood hulle van mekaar skei.’

 

Twee spesifieke tekste wys vir ons dat die bg. definisie akkuraat is.  Spr. 2:17 beskryf die getroude vrou se huwelik as ‘n verhouding met “die vriend van haar jeug” en “die verbond van haar God”.  Mal. 2:14 praat van die getroude man se huwelik met “die vrou van [sy] jeug” en “die vrou van [sy] verbond.”  In Matt. 19:4-5 het Jesus een man en een vrou by sy definisie van die huwelik ingesluit.  Jesus het Gen. 2:24 aangehaal om te wys dat hierdie man en vrou een word wanneer hulle met mekaar trou.  Omdat God hulle op hierdie manier een gemaak het, mag hulle dit nie self beëindig nie; net Hý mag (Mal. 2:14-16, Matt. 19:6).

 

Dit help nie dat jy God se definisie van die huwelik verstaan as dit nie ook deel van jou lewe is nie.  Hoe moet jy dit prakties toepas?  Ons kan sê dat enkel mense nie immoreel moet wees nie, dat ouers dit nie moet goedkeur nie, dat getroude mense getrou moet bly en nie moet skei nie, en dat jong mense moet trou as hulle die regte persoon ontmoet het, eerder as om vir 7 jaar uit te gaan.  Ek wil egter my toepassing tot homoseksualiteit beperk, aangesien daar selfs in die kerk verwarring is hieroor.

 

Ek het vroeër gesê dat ‘n homoseksuele huwelik geen huwelik is nie.  Wanneer ‘n gay vriend, familielid of kollega jou dus na sy troue of verlowingspartytjie toe nooi, moet jy ‘nee’ sê.  As jy so ‘n geleentheid bywoon, sê jy indirek dat jy die persoon se sonde goedkeur, en dat God se definisie van die huwelik nie akkuraat is of saak maak nie.

 

Dit is beter om direk vir die persoon te sê dat jy hom of haar liefhet, en dat jy nie wil hê hulle moet hel toe gaan nie.  Sê vir hulle dat almal God se oordeel verdien.  Soos met enige sondaar kan Jesus hulle van hulle sonde bevry (Joh. 8:34, 36, 1Kor. 6:9-11, Tit. 2:11-14).  Vertel vir hulle dat Jesus op Golgota die straf vir sulke en ander sondes gedra het, dat Hy begrawe is en dat Hy na drie dae opgestaan het uit die dood.  As die persoon sy sonde haat, dit laat staan, en glo dat Jesus hom van God se oordeel en sy sonde kan red, sal God hom vergewe.  Maar as hy met sy sonde aanhou, sal die Here hom oordeel.

 

As jy gay mense liefhet, sal jy hierdie dinge vir hulle sê.  Meer as 150 jaar gelede het die 29-jarige Skotse prediker, Robert Murray McCheyne, die volgende gesê:  ‘They do not love you that do not warn you, poor hell-deserving sinners.  O! remember that love warns.’[2]  Onthou dit asb. wanneer jy met gay mense praat.  Moenie bang wees om vir hulle te sê dat hulle geestelike VIGS het, en dat God hulle vir hulle sonde gaan oordeel nie.  Maar jy moet ook nie nalaat om vir hulle te sê dat Jesus se bloed hulle van die terminale siekte van hulle siele (sonde) kan genees nie.

 

Vir die ouers van gay kinders wil ek sê:  ek glo dat dit nie maklik kan wees wanneer jou kind die nuus breek en vir jou sê hy is gay nie.  Maar ek wil jou in liefde vermaan om nie jou geloof in die Bybel prys te gee wanneer jy dit hoor nie.  Daar is ouers wat glo dat homoseksualiteit sonde is.  Wanneer hulle egter uitvind dat hulle seun of dogter gay is, verander hulle van mening.  Dalk het jý dit gedoen.  In daardie geval moet jy Jesus se woorde in Matt. 10:37 onthou:  “wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.”

 

Sê eerder vir jou kind wat ek hierbo gesê het.  Bid vir jou kinders dat die Here hulle oë sal oopmaak.  As jy hulle liefhet, sal jy nie hulle sonde goedkeur of toesmeer nie, maar die evangelie met hulle deel.  Sê vir hulle dat hulle altyd welkom is in jou huis, maar dat hulle ongelukkig nie met hulle ‘maatjie’ by jou huis kan oorslaap nie.  As jy dít sê is die kanse goed dat hulle jou verwerp en niks met jou te doen wil hê nie.  Mense sal sê dat jy liefdeloos en onsensitief is.  Jý weet dat dit nie so is nie, en dat jou optrede juis deur liefde gemotiveer is.  Jy weet ook dat jou kind se woede teen jou ‘n tipe vervolging vir die waarheid is (2Tim. 3:12).

 

Wat moet jy doen as jou gay kind sê dat hy of sy ‘n Christen is?  Volgens Jesus sal jy die boom aan sy vrugte ken.  Moet dus nie op jou kind se belydenis gaan nie, maar op sy lewe.  In sy hart rebelleer hy teen die God van Bybel.  Hy het ‘n god geskep waarmee hy gemaklik is, ‘n god wat sy sonde aanvaar en hom nie daarvoor sal oordeel nie.  Help hom om dit te sien, en bid dat die Here hom tot sy sinne sal bring.  Soos met die verlore seun in Luk. 15, is die Here heeltemal in staat om kinders wat in hulle sonde gesink het, terug te bring.

 

Wat is manlikheid en vroulikheid?

Jare gelede het ‘n man van die Bahá’i godsdiens vir my gesê:  ‘Die probleem wat ek met Christene het, is dat julle dink net júlle is reg.’  Ek het Joh. 14:6 aangehaal.  Nie alleen het Jesus gesê dat Hy die enigste weg is nie; Hy het ook gesê dat Hy die waarheid is.  Hy is die standaard waarvolgens ons alle waarheid moet meet om te besluit of dit reg of verkeerd, waar of vals is.

 

Wanneer mense dan sê:  ‘Net omdat iets vir jóú waar is, beteken dit nie dat dit vir ander mense waar is nie,’ sê hulle in effek dat daar nie eintlik so iets soos reg en verkeerd is nie.  Sulke denke kom uit ‘n evolusionistiese en ateïstiese wêreldbeskouing.  In ‘n wêreld sonder ‘n soewereine en ewige God, is daar nie ‘n absolute wetgewer nie, en kan elkeen seker maar vir homself besluit wat reg en verkeerd is, nie waar nie?

 

Dit is presies wat die gay en lesbian gemeenskap doen:  hulle het die eerste hoofstuk van die Bybel verwerp, en besluit dat ‘n huwelik nie net tussen mense van die teenoorgestelde geslag is nie, maar ook tussen mense van dieselfde geslag.  Om die waarheid te sê bestaan daar nie eintlik vir hulle so iets soos geslag nie, en kan elke mens self besluit wat ‘dit’ wil wees.

 

Die American Psychological Association tref bv. ‘n kunsmatige onderskeid tussen ‘sex’ en ‘gender’.  Volgens hulle kan jy manlike chromosome, hormone en liggaamsdele hê (‘sex’), terwyl jy in jou persoonlikheid, uitdrukkings, kleredrag, haarstyl en optrede ‘n vrou is (‘gender’).[3]  ‘n Man kan dus ‘n handsakkie en ‘n stywe pienk broekie dra, sy gewrig buig en met ‘n fyn stemmetjie praat.  ‘n Vrou kan soos ‘n rugbyspeler loop, ‘n verband styf om haar bors draai, mansklere dra, en haar hare met ‘n nr. 1 kammetjie skeer.  Volgens die wêreld maak Gen. 1:27 nie saak nie, en kan jy self jou seksualiteit en geslag kies.  As jy ‘n operasie wil ondergaan om jou geslag te verander is dit jou keuse, en as jy in ‘n seksuele verhouding met iemand van dieselfde geslag wil lewe is dit ook reg (kontra Rom. 1:26-27).

 

Dit is niks anders as rebellie teen God nie.  Hy haat dit as ‘n man of vrou hulle geslag wil verander, en nie wil wees wat Hy hulle gemaak het nie.  In Deut. 22:5 staan daar:  “’n Vrou mag geen mansklere dra nie, en ‘n man mag geen vrouensklere aantrek nie; want almal wat dit doen, is vir die Here jou God ‘n gruwel.”  Die punt is nie dat daar nie so iets soos vroue kort hare of langbroeke is nie, maar dat jy nie so moet optree of aantrek dat iemand jou vir die teenoorgestelde geslag misken nie.

 

Die wêreld voel natuurlik ‘n veer vir God se Woord.  In hulle gedagtes is elkeen die kaptein van sy of haar eie skip, en kan mense self besluit wat hulle wil wees.  Hulle praat bv. van ‘n persoon se ‘gender identity’, en gee dan die volgende skokkende definisie:  ‘Gender identity refers to a person’s internal sense of being male, female or something else’.[4]  Hulle het dus nie net manlikheid en vroulikheid omgeruil nie, maar ‘n derde kategorie uitgedink:  ‘something else’ (wat dít ook al beteken!?).

 

In liberale dele van die wêreld, het party ouers besluit om hulle kinders so groot te maak.  Ek het ‘n Sweedse speelgoedwinkel advertensie gesien, waarin ‘n seuntjie Spiderman klere dra en ‘n pienk ‘pram’ stoot.  Swede gebruik selfs ‘n geslagsneutrale woord (hen), omdat hulle ‘seksistiese’ woorde soos hy en sy wil vermy.[5]  In hulle verdraaide denke moet die kind self besluit wat dit wil wees wanneer dit eendag groot is.

 

As ek dit hoor wonder ek of hierdie mense oplet as hulle die kind se doek ruil?  Kan hulle nie sien dat daar ‘n duidelike verskil tussen mans en vroue is, en dat hulle liggame verskillend lyk nie?  Weet hulle nie dat die ma en nie die pa nie, die kind vir 9 maande gedra het?  Het hulle vergeet dat jy ‘n man en vrou nodig het (nie twee mense van dieselfde geslag nie!) om kinders te hê (Gen. 1:27-28)?  Weet hulle nie dat mans en vroue se hormone en chromosome verskil nie?  Die manier waarop ons breine saamgestel is, dink en funksioneer verskil selfs.  Ek kan bv. goed op een taak fokus, terwyl my vrou vier of vyf dinge gelyk kan doen.  Ongelowiges weet nie waarvan hulle praat as hulle sê dat daar nie ‘n verskil tussen mans en vroue is nie.

 

Omdat mans en vroue so verskillend is, moet jy jou kind grootmaak volgens die geslag die Here hulle gemaak het.  Dalk bedoel jy nie om jou seun soos ‘n dogter groot te maak of andersom nie.  Maar as jy nie in jou kind se lewe betrokke is nie, is jy onbewustelik besig om hom of haar in ‘n verkeerde rigting te lei.

 

[1] ‘n Seun het ‘n pa nodig om hom van man-wees te leer.  Jy moet hom leer om dapper te wees, nie harde werk te vrees nie (soos om ‘n hoop bakstene te skuif), nie aan sy ma se rokpante vas te klou nie, te huil as hy sy knie geskraap het, maar dan die trane af te vee en verder te speel.  Jy moet hom leer om God te vrees en heilig te wees.  Die invloed wat John Paton se godvresende pa op hom gehad het, kan nie gemeet word nie.[6]

 

‘n Seun moet ook leierskap by sy pa leer, omdat dit onlosmaaklik deel is van manlikheid.  Feministe wil jou skuldig laat dat jy so vermetel is om manlikheid en leierskap in dieselfde asem te noem.  Maar volgens God se orde is die man sy vrou se hoof (Gen. 1:26, 5:1-2, 18:19, 1Kor. 11:3, 8-9, 1Tim. 2:12-13).  Wat waardigheid betref is jy en jou vrou gelyk (Gen. 1:26-27, Gal. 3:28, 1Pet. 3:7).  Maar in die huwelik moet jy jou vrou lei, beskerm, dien en liefhê soos Jesus dit met die kerk gedoen het (Ef. 5:22-25).

 

Jy moet ook onthou dat jou vrou fisies en emosioneel swakker is as jy (1Pet. 3:7).  Jy moet haar dus nie fisies, verbaal, seksueel, emosioneel of intellektueel boelie nie.  Leer ook vir jou seun om saggies met meisies en vroue te werk, om nie perverse opmerkings oor hulle te maak nie, om die deur vir hulle oop te maak, om te help as hulle swaar dra, ens.

 

[2] ‘n Seun het ook sy ma nodig.  Tim Challies sê:  ‘’n Verhouding tussen ‘n seun en sy ma is uniek en kosbaar.  Ongelukkig kyk ons soms met agterdog daarna, asof ‘n hegte verhouding tussen ‘n seun en sy ma gevaarlik is, asof dit onderliggend meisieagtigheid of moontlik selfs homoseksualiteit aandui.  Ons het name vir seuns wat naby – of té naby aan hulle ma’s is – hulle is mama’s boys, sissies of pansies.  ‘n Seun wat te naby aan sy ma is, is ‘n seun wat swak is en nie sterk nie.’[7]

 

Maar ‘n seun het sy ma nodig om vir hom te leer dat hy nie net breins en spiere moet hê nie, maar ‘n hart.  Sy moet hom help om sy emosies te deel, raad te vra, liefde te wys, ‘n Bybelse begrip van vroulikheid te hê, en God lief te hê.  ‘n Ma se invloed op haar seun is baie groter as wat ons besef.  Die gesegde wat sê:  ‘The hand that rocks the cradle, rules world’ is waar.  Groot Godsmanne in die geskiedenis is sterk deur hulle ma’s beïnvloed.[8]  John Welsey het bv. gesê:  “I learned more about Christianity from my mother than from all the theologians of England.”[9]

 

[3] ‘n Dogter benodig haar pa se leiding.  Hy moet haar van die Here leer, haar kerk toe vat, vir haar bid, en ‘n heilige voorbeeld stel.  Hy moet haar teen seuns beskerm wat haar wil misbruik.  Sy het ook ‘n pa nodig om vir haar drukkies te gee, haar te koester, respek vir haar te wys en die nodige sekuriteit te bied.  “In the fear of the Lord one has strong confidence, and his children will have a refuge.” (Spr. 14:26, ESV).  As ‘n pa hierdie dinge vir sy dogter doen, is die kanse goed dat sy geestelik en emosioneel stabiel sal wees as sy eendag die huis verlaat.

 

[4] ‘n Dogter het ook ‘n ma nodig om vroulikheid vir haar te leer.  Haar ma moet haar van die Here leer, en vir haar wys dat daar inderdaad ‘n goeie vrou agter elke goeie man is:  “Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.” (Spr. 31:12).  ‘n Engelse prediker genaamd John Angell James (1785-1859) het gesê:  ‘Woman’s advice, had it been asked for and acted upon, would have saved thousands of men from bankruptcy and ruin.  Few men have ever had to regret their taking counsel from a prudent wife’.[10]  Ek kan uit persoonlike ervaring bevestig dat dit waar is.

 

Verder het ‘n dogter haar ma nodig om vir haar te wys dat vroulikheid meer oor innerlike skoonheid, goeie werke en karakter gaan, as oor uiterlike skoonheid.  Sy het ‘n ma nodig om sagmoedigheid, wysheid, reinheid en geduld vir haar te wys.

 

In die lig van die bg. waarhede wil ek daarop aandring dat jy nie so besig is met jou eie lewe, dat jy jou seun of dogter afskeep, en hulle in effek sonder ‘n pa of ma grootword nie.  Dalk het jy nie gekies dat jou kind sonder een of beide ouers grootword nie.  In daardie geval moet die familie, gemeente, en betroubare vriende in jou kinders se lewe betrokke raak.

 

As ons nie iets vir hierdie kinders doen nie, sal die wêreld hulle harte wen.  Hulle sal wees soos die 17-jarige seun in die film, Courageous.  Hy het met ‘n bende en dwelmhandelaars deurmekaar geraak.  Op die einde het hy in die tronk beland.  Toe die polisieman hom vra hoekom hy met sulke skobbejakke meng, het hy met trane gesê:  ‘I ain’t got nobody man… I just ain’t got nobody.’

 

[1] Ek het hierdie verse in twee ander preke verduidelik: ‘n Reaksie op gay huwelike in die NG-Kerk en Sê die Bybel REGTIG homoseksualiteit is sonde?

[2] Sermons of M’Cheyne, The Banner of Truth Trust, London, 1961, 1972, p. 168

[3] http://www.apa.org/topics/lgbt/transgender.aspx

[4] Ibid.

[5] http://www.bbc.com/news/world-europe-14038419

[6] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1965, 2007, pp. 14-17, 25-26

[7] Vry vertaal uit https://www.challies.com/articles/boys-need-their-moms/

[8] https://www.challies.com/series/christian-men-and-their-godly-moms/

[9] https://www.challies.com/articles/boys-need-their-moms/

[10] Aangehaal in Jeff Pollard & Scott T. Brown, Red., A Theology of the Family, The National Center for Family-Integrated Churches, Wake Forest: NC, 2014, p. 173

Evolusie, rassisme en die beeld van God

Evolution and racism

Die rassehaat in ons land loop dik.  Tydens my verlof het ek baie daaroor gelees, gebid en dit met my vrou en kinders bespreek.  Elke nou en dan hoor ‘n mens van iemand wat a.g.v. rassistiese opmerkings in die moeilikheid beland.

 

Afrikaners dink dat dit eensydig is, terwyl die meeste Afrika stamme in die verlede onderdruk gevoel het.  Na hulle mening is kolonialisme en apartheid die twee groot sondebokke.

 

Dit het selfs in die kerk ‘n kwessie geraak.  Verlede jaar het ek ‘n e-pos ontvang waarin twee leraars mekaar oor die kwessie aangevat het.  ‘n Paar weke gelede het dit weer gebeur.  Ek glo dat ons op hierdie punt deur die wêreld beïnvloed is.

 

Rassisme kom uit ‘n evolusionistiese wêreld beskouing waarin die mens ‘n soort dier is.  Die meeste evolusioniste sal dit ontken, maar rassisme is heeltemal konsekwent met hulle beskouing van die mens.  Evolusioniste het nie rassisme uitgedink nie, maar hulle het verseker petrol op die vuur gegooi.

 

‘n Evolusionis van Harvard Universiteit het gesê dat rassisme geweldig toegeneem het toe die evolusie teorie in 1859 aanvaar is.[1]  Die subtitel van Charles Darwin se Origin of Species is, ‘The Preservation of Favoured Races in the Struggle for Life’.  Volgens sy boek, The Descent of Man, het sommige rasse verder in die evolusie proses gevorder as ander.

 

Vir 150 jaar reeds het die evolusie teorie rassisme bevorder.  Mense het dit gebruik om volksmoorde te regverdig en die Australiese Aborignes soos diere te jag.  In Amerika en Europa het hulle swart mense in hokke gesit om deur die publiek aanskou te word (Ota Benga in 1906 en Sara Baartman in 1810).[2]

 

Christene het ook in die strik getrap en rassisme uit die Bybel probeer regverdig.  Dink maar aan die stigma van die NG-Kerk en apartheid.  ‘n Paar dekades later het ons besef dat hulle hopeloos verkeerd was.

 

In 1994 het baie geglo dat Nelson Mandela ‘n tipe messias is wat gekom het om versoening te bewerk.  Maar na byna 25 jaar is dit duidelik dat daar nie versoening is nie.  BEE, regstellende aksie, die kwota stelsel, plaasmoorde en optogte waarin mense swart klere dra, wys dat die probleme nie opgelos is nie.

 

As daar ooit ‘n oplossing kom, moet dit by die kerk begin.  Die wêreld kan eenvoudig nie hierdie probleme oplos nie.  Vir duisende jare reeds het hulle probeer om vrede tussen die Jode en haar bure, die Hutu en die Tutsi, die Afrikaner en Afrika stamme te bewerk.  Die Verenigde Nasies het al hulle neus in hierdie sake gesteek, maar hulle was onsuksesvol.

 

Net Jesus Christus kan hierdie probleem oplos (Ef. 2:11-22, Kol. 3:11, Op. 5:9).  Ons moet ons aan Hom, sy Woord en die evangelie onderwerp.  As ons dit doen, sal dit ‘n kragtige getuienis vir die wêreld wees.  As hulle sien dat Jode en Palestyne, of sg. blankes en swart mense een is in Christus, sal hulle hulle ore spits.  Jesus self het tog gesê dat mense in Hom sal glo as hulle sien dat ons een is en dat ons mekaar liefhet (Joh. 13:34-35, 17:21).

 

As ons egter in die rasse haat deel, sal die wêreld vir ons lag en sê dat ons soos hulle is.  En as ons soos die wêreld is, moet ons nie wonder hoekom mense nie in die evangelie belangstel nie.  ‘n Onheilige kerk sal nooit ‘n onheilige wêreld vir die Here wen nie.

 

As ons mense vir die Here wil wen, moet ons hulle liefhê.  En om hulle lief te hê moet ons hulle sien soos die Here hulle sien.  Hoe is dit?  Gen. 1:26-27 wys vir ons.

 

Wat God se beeld nié is nie

Tydens my verlof het ek ‘n boek oor die prosperity gospel gelees.  Meer as ooit is ek oortuig dat dit glad nie met Christenskap geassosieer moet word nie, maar dat dit kulties en okkulties.  M.b.t. die mens wat na God se beeld gemaak is, sê Kenneth Copeland en Benny Hinn bv. dat Adam ‘n presiese kopie of afdruksel van God was, in vorm en grootte.[3]  Hulle verkondig onbeskaamd dat die mens ‘n god is, en dat hy God se gelyke is.[4]  Copeland sê:  ‘Adam, in the Garden of Eden, was God manifested in the flesh’.[5]

 

Om só te sê is eintlik om God na óns beeld te maak.  En om God na ons beeld te maak is niks anders as afgodery nie (Hand. 17:29).  Ons is ook soms skuldig hieraan.  Ons sê dinge soos:  ‘Die God wat ék aanbid…’  Partykeer skep ons ‘n god wat nie sal omgee as ons net ‘n bietjie sonde doen nie.  Ons skep ‘n god wat nie omgee dat mense hel toe gaan nie, ‘n god wat niks in jou lewe kan doen tensy jy vir Hom toestemming gee nie, ‘n god wat nie in die wêreld kan werk tensy ons Hom toelaat nie, ‘n god wat sekere reëls moet volg wanneer Hy teen die duiwel veg, ‘n god wat daar is om óns te dien, om vir óns materiële voorspoed te gee.

 

Ons maak ook ‘n afgod van allerhande dinge in die skepping:  kos, geld, plesier, ons liggame, ander mense, ons troeteldiere, en meer.  As jy enige iemand anders as die Drie-Enige, almagtige, ewige, genadige, alomteenwoordige, regverdige, heilige, liefdevolle, perfekte, heerlike, onveranderlike, soewereine, ens. God aanbid, aanbid jy ‘n afgod.  Jy het probeer om die Here na jóú beeld te maak, en het vergeet dat jy na sý gemaak is (v.26-27).

 

God se beeld beteken nie dat Hy ‘n liggaam het nie.  Ja, Hy het by tye in die Ou Testament in ‘n menslike liggaam verskyn (bv. aan Abraham in Gen. 18).  Ons weet ook dat Christus in Betlehem as ‘n mens gebore is, en dat Hy vir ewig een sal wees (Luk. 24:36-43, 1Tim. 2:5).  Jesus Christus is een Persoon met twee nature:  Hy is volkome God en volkome mens.  Sy Goddelike natuur is nie sy menslike natuur nie en andersom.  Die punt wat ek wil maak, is dat Jesus in sy menslike natuur ‘n liggaam het, maar dat die Drie-Enige God in sy essensie ‘n onsigbare Gees is wat nie ‘n liggaam het soos ons nie (Deut. 4:12, 15-18, Joh. 4:24, 1Tim. 1:17).  Wat beteken dit dan dat God ons na sy beeld gemaak het?

 

Wat God se beeld beteken

Ek het vir baie jare gewonder wat dit beteken dat ons na God se beeld gemaak is.  Ek het ook maar gedink dat dit iets met ons liggame te doen het.  ‘n Sem student het eendag in die klas met my gestry en gesê dat God ‘n liggaam het.  ‘n Familie-lid het ook vir my gesê dat God ‘n liggaam het, en dat Hy ‘n DNA het.

 

Ek het hierbo gewys dat God ‘n Gees is, en dat Hy nie ‘n liggaam het nie.  As God ‘n liggaam het, is sy voet op een plek en sy hand op ‘n ander plek.  In daardie geval kan Hy nie oneindig, ewig en alomteenwoordig wees nie.  Wanneer die Bybel van God se hande, voete, oë, ens. praat, is dit om óns te help om iets van sy vermoëns te verstaan.  Teoloë noem dit antropomorfismes (anthropos = mens, morphe = vorm).

 

God se beeld beteken eerder dat ons iets van sy karakter reflekteer, weerspieël of weerkaats.  God het die plante, voëls, visse en diere volgens hulle soorte gemaak (v.11-12, 21, 24-25), maar die mens het Hy na sý beeld en gelykenis gemaak (v.26-27).  Die mens is nie volgens die diere se soorte gemaak nie; hy is nie ‘n soort dier wat ver in die proses van evolusie gevorder het nie.  Hy is uniek en anders as enige ander skepsel.  Hy is ten minste op die volgende maniere soos God en daarom anders as die res van die skepping.[6]

 

[1] Kommunikasie

Soos die Here in v.26, kan ons op ‘n diep vlak kommunikeer.  Selfs ‘n kind se kommunikasie is meer ingewikkeld as ‘n walvis s’n.  Walvisse kom nooit bymekaar om die tekort aan plankton of kril te bespreek nie.  Papegaaie kan honderde klanke naboots, maar hulle kan nie Chinese grammatika ontleed nie.

 

[2] Heerskappy

Soos God, heers mense oor die skepping (v.26, 28, Ps. 8:7-9).  Eintlik heers die mens as God se verteenwoordiger.  Hy is ‘n rentmeester van die skepping wat aan God behoort.

 

[3] Geestelikheid

Voëls sing omdat God hulle so gemaak het.  Hulle dink nie bewustelik aan sy goedheid en majesteit nie.  Maar wanneer ons sing doen ons dit bewustelik omdat ons dankbaar is, en omdat ons die Here liefhet.  Ons kan ook bid, die Woord inneem en dit gehoorsaam, ander dien, en ander gelowiges se geselskap geniet.  Het jy al ‘n trop beeste gesien wat dit doen?

 

[4] Moraliteit

God is die oorsprong van moraliteit.  Hy bepaal wat reg en verkeerd is, wat moreel en immoreel is.  Soos God, is die mens ‘n morele wese wat tussen reg en verkeerd kan onderskei.  Ons het ‘n gewete.  Diere kan uit instink of vrees reageer, maar hulle het nie ‘n gewete wat hulle wakker hou as hulle jou roosbome oopgegrawe het nie.  Hulle doen nie sonde nie, en streef ook nie daarna om heilig te wees nie.  Ons kan sonde haat en daarna streef om die Here meer te ken en heilig te wees (Ef. 4:24, Kol. 3:10).

 

[5] Intellek

Diere kan dink en slim toertjies doen, maar hulle kan nie diep redeneer of abstrak dink nie; hulle kan dink, maar hulle kan nie dink dat hulle dink nie.  As ek met my hond oor die Anglo-Boere Oorlog praat, kyk hy vir die gras.  Sjimpansees is intelligent, maar hulle kan nie ‘n matriek wiskunde vraestel skryf nie.

 

[6] Skeppingsvermoë

Ons kan nie uit niks skep soos God nie, maar ons het die vermoë om kreatief en skeppend te wees.  Wewers (‘n soort voël) kan mooi neste maak, maar kan nie op die vlak van ‘n argitek bou en beplan nie.  ‘n Wewer se nes 100 jaar gelede lyk nog steeds soos ‘n wewer se nes vandag – hulle vorder nie tegnologies nie.  Diere kan nie ingewikkelde rekenaars en enjins ontwerp en bou nie.

 

[7] Onsterflikheid

‘All dogs go to heaven’?  Ongelukkig nie.  Diere gaan nie hemel toe wanneer hulle sterf nie (God sal wel diere op die nuwe aarde skep).  Die mens bestaan nie van die ewige verlede af soos God nie, maar as ons liggame gesterf het sal ons siele vir ewig bestaan.  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pred. 3:11, ESV).

 

[8] Emosie

Ons weet dat diere emosies het.  Kyk gerus na hoe jou hond sy stert waai en om jou enkels dans as jy ná ‘n vakansie by die huis kom.  Diere se emosies is egter nie so kompleks soos ons s’n nie.  Wayne Grudem sê:  ‘After watching my son’s baseball game, I can simultaneously feel sad that his team lost, happy that he played well, proud that he was a good sport, thankful to God for giving me a son and giving me the joy of watching him grow up, joyful because of the song of praise that has been echoeing in my mind all afternoon, and anxious because we are going to be late for dinner!’[7]

 

God se beeld, sonde en verlossing

Toe Adam en Eva gesondig het, het hulle nie die beeld van God verloor nie.  Dit is egter beskadig.  Die spieël waarin God sy beeld gesien het, het in stukkies op die vloer geval.  God kan nog steeds dele van sy beeld in ongelowiges sien (Gen. 9:6, Jak. 3:9), maar dit is onduidelik.  ‘n Ongelowige kan bv. diep kommunikeer, maar sy kommunikasie is met vuil taal, leuens, murmurering, ens. besoedel.  ‘n Ongelowige kan tussen sonde en heiligheid onderskei, maar 9 uit 10 keer kies hy sonde.

 

Wanneer iemand tot bekering kom, tel God die spieël se stukke van die vloer af op.  Vir die res van jou lewe hier op aarde is die Here besig om die spieël aanmekaar te sit.  Stadig maar seker begin Hy weer sy beeld in jou sien.  Hy het jou gered om jou na sy beeld, na die beeld van sy Seun, te vorm (Rom. 8:29).  Sy beeld in jou word duideliker soos wat jy geestelik groei (2Kor. 3:18).  Wanneer Jesus kom sal die spieël herstel wees, sodat God weer sy volmaakte beeld in ons kan sien (1Kor. 15:49, 1Joh. 3:2).

 

God se beeld in die praktyk

Toe ek net in Kempton begin het, het ‘n besoeker na die preek vir een van ons lidmate gesê:  ‘So what?’  Sy bedoeling was dat ek die teks uitgelê het, maar dat ek dit nie toegepas het nie.  Dit was nie lekker om dit te hoor nie, maar hy was reg.  Dit help nie ons verstaan ‘n leerstelling (bv. God se beeld in ons), maar ons pas dit nie toe nie.  Hoe moet jy hierdie leerstelling in jou lewe toepas?

 

Verwerp die evolusie teorie wat sê dat die mens eintlik ‘n soort dier is, en dat daar nie ‘n verskil tussen mense en diere is nie.  Glo eerder dat God jou na sy beeld gemaak het, en dat jy nie soos die res van die skepping is nie.  Omdat mense dít verwerp en die evolusie teorie omhels, is bose dinge soos aborsie, genadedood, mensehandel, rassisme, moord, ens. aan die orde van die dag.  Hierdie sondes kom uit die mens se hart, maar soos ek hierbo gewys het, het evolusie dit aangevuur.

 

As evolusie waar is, maak dit nie saak of jy ‘n ongebore baba vermoor en of jy ‘n hoender se eier uit die nes vat nie.  Dit maak ook nie saak of jy ‘n gestremde mens deur sg. ‘genadedood’ vermoor, en of jy ‘n ou Labrador uitsit nie.  En wat maak dit saak of jy ‘n mens aan handelaars verkoop, en of jy ‘n perd verkoop?  As ‘survival of the fittest’ waar is, is mensehandel mos nie verkeerd nie?  En as die mens ‘n soort dier is, kan ons sê dat mense met donkerder (of ligter) velle meer waardevol is as ander, net soos wat ‘n sekere kleur Great Dane meer waardevol is as ander kleure.

 

Ek hoef nie vir jou te sê dat dit belaglik is om so te redeneer nie.  Volgens die Bybel is die mens nie ‘n soort dier nie, maar kom alle mense van Adam af en is hulle na God se beeld gemaak (v.26-27, Hand. 17:26).  Ek het reeds gewys dat daar verskillende soorte plante, voëls en diere is (v.11-12, 21-25).  Dit is egter nie waar dat daar verskillende soorte mense is nie.  Mense kom van verskillende lande af, praat verskillende tale, en is uit verskillende families of stamme.  Maar daar bestaan nie so iets soos verskillende rasse nie.  Daar is net een ras, en dit is die menslike ras.

 

Om dan ‘n mens te onderdruk omdat hy anders as jy lyk, is sonde en ‘n direkte aanval op God se beeld.  Moenie grappe oor iemand maak of hom spot, omdat hy anders as jy lyk nie (dit geld ook vir rassistiese grappe).  Moenie kras woorde van ander nasies gebruik, en dink jy is beter as hulle nie (Jak. 3:9).  Dit bedroef die Here as jy enige mens hanteer asof hy nie na God se beeld gemaak is nie.  Dit geld ook vir gestremde mense.  As ons regtig Gen. 1:26-27 glo, sal ons nie eers daaraan dink om ‘n baba te aborteer omdat hy moontlik ‘down sindroom’ is nie.

 

Jy kan nie ‘n mens soos ‘n plant of ‘n dier behandel nie.  Om vir ‘n hond en vir ‘n mens ‘voetsek’ te sê, is nie dieselfde nie.  Om meer om te gee oor die renoster probleem as oor die moord op ongebore babas, wys dat daar fout is in jou hart.  Jy is deurmekaar en onderstebo; jy moet jou bekeer.

 

As hierdie preek negatiewe gevoelens en woede in jou hart laat opvlam, moet jy dit as sonde bely.  Vra vir die Here om jou te vergewe dat jy sy beeld in ander mense haat.  Vra Hom om jou te help, sodat jy kan doen wat reg is.  Glo dat Jesus se kruisdood voldoende is om sy beeld in jou te herstel, en ook om jou te help om ander lief te hê wat nie soos jy lyk nie.  Moenie God se liefde herdefinieer nie, maar doen wat die barmhartige Samaritaan in Luk. 10 vir sy vyand, die Jood, gedoen het.

 

In die vroeë 1990’s het my predikant in Louis Trichardt dit gedoen.  Hy het besluit dat die kerk oop moet wees vir mense uit alle nasies, en het dit so geadverteer.  Mense het op die advertensie gereageer.  Party het na die kerk toe gekom en tot bekering gekom:  Engelse, Vendas, Afrikaners uit ‘n ‘kleurling’ en ‘blanke’ agtergrond, Russe, Bulgare, Finne, Indiërs en Britte.  Dit was wonderlik.

 

Ongelukkig het nie almal so gedink nie.  Sommige mense in die dorp het vir die predikant dreigbriewe geskryf en op die kerk se stoep gelos.  Hulle het die Vendas sleggesê, en het gesê dat hy hulle omhels het.

 

Ek hoop van harte dat die mense wat hierdie preek lees en hoor, nie so sal reageer nie, maar dat jy die Here sal prys, omdat Hy ons en alle mense na sy beeld gemaak het.

 

[1] Stephen Jay Gould, Ontogeny and Phylogeny, 1977 https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/did-darwin-promote-racism/

[2] Ibid.

https://answersingenesis.org/charles-darwin/racism/darwins-garden/

https://en.wikipedia.org/wiki/Sarah_Baartman

[3] Hank Hanegraaff, Christianity in Crisis: 21st Century, Thomas Nelson: Nashville, p. 2, 25

[4] Ibid.

[5] Ibid.

[6] Wayne Grudem se Systematic Theology het my baie gehelp in hierdie verband (pp. 442-450).

[7] Ibid., p. 447

Die Drie-Enige God en jou huwelik

Trinity symbol

A.W. Tozer het gesê:  ‘What comes into our minds when we think about God is the most important thing about us.’[1]  Gen. 1:26a lê die fondasie vir hoe ons reg oor die Here moet dink.  As jy dit doen, sal dit jou huwelik vir die goeie beïnvloed.  Hoe kan ons weet dat die Here ‘n Drie-Enige God is en hoe help dit ons huwelike?

 

Mense kon dit nie uitdink nie

‘n Maand gelede het ‘n Jehova’s Getuie by my hek gestaan.  Volgens hom het mense die Drie-Eenheid uitgedink.  ‘Kan jy die Drie-Eenheid verstaan?’ het hy gevra.  ‘Kan jy God se ewigheid verstaan, die feit dat Hy nooit ‘n begin gehad het nie?’ het ek geantwoord.

 

Die feit dat ons die Drie-Eenheid nie kan verstaan nie, beteken nie dat dit nie waar is nie.  As jy God se wese heeltemal kan verstaan, is jy so groot soos Hy.  En as jy so groot soos die Here is, is dit nie die moeite werd om Hom te dien nie.

 

Bloot die feit dat ons die Drie-Eenheid nie kan verstaan nie, wys dat dit nie deur ‘n mens uitgedink is nie en dat dit die waarheid is.  Wie kon ‘n leerstelling uitdink wat sê dat daar net een God is, maar dat Hy in drie Persone bestaan?

shield_trinity

  • Die Vader is God, die Seun is God, die Heilige Gees is God.
  • Die Vader is nie die Seun of die Heilige Gees nie; die Seun is nie die Vader of die Heilige Gees nie; die Heilige Gees is nie die Vader of die Seun nie.
  • Daar is net een God, nie drie nie.
  • God is altyd al drie Persone gelyk, en nie partykeer die Vader, op ander kere die Seun, en by tye die Heilige Gees nie.

 

Die eerste vers in die Bybel leer dit

Ken jy Gen. 1:1 uit jou kop uit?  Baie mense wat die vers ken, het nog nooit diep daaroor gedink nie.  Die vers sê:  “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”  Die Hebreeuse woord vir God is ‘Ĕlôhîym en staan in ‘n meervoud.  Dit dui op God se menigvuldige krag, maar impliseer ook dat Hy in meer as een Persoon bestaan.

 

In Gen. 1:2 lees ons van God se Gees, en in v.3 van sy Woord (‘God het gesê’).  Volgens die res van die Bybel is God se Woord en sy Gees unieke Persone.  Joh. 1:1-3 sê dat die Woord God is, maar dat Hy ‘n aparte Persoon is wat alles geskep het.  Volgens Hand. 5:3-4 is die Heilige Gees God, maar uit Joh. 15:26 weet ons dat Hy nie die Vader of die Seun is nie.  Gen. 1:2, Job 33:4, Ps. 33:6, 104:30 leer vir ons dat Hy lewe en orde in die skepping gebring het.

 

Die res van die Bybel bevestig dit

Meer as 40 persone uit alle vlakke van die samelewing het die Bybel oor ‘n tydperk van 1600 jaar neergeskryf.  As almal van hulle die punte en diagram hierbo bevestig, kan ons met sekerheid weet dat ons nie per ongeluk ‘n vers of twee verkeerd geïnterpreteer het nie.  Waar bevestig die Bybel dit?

 

In Gen.1:26a lees ons:  “En God het gesê:  Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis”.  Die Joodse rabbi’s het gesê dat God in v.26a met engele praat.  Maar dit kan nie wees nie, omdat die engele ons nie gemaak het nie, omdat ons nie na hulle beeld gemaak is nie, en omdat God nie hulle raad gevra het toe Hy ons geskep het nie (Jes. 40:14).

 

Ander dink dat God in v.26a ‘n koninklike meervoud gebruik.  ‘n Koning sal bv. sê:  ‘Dit is vir ons ‘n voorreg om jou in ons midde te hê.’  Ons lees egter nie in die Hebreeuse taal van konings wat só na hulleself verwys nie.[2]

 

Die Skrif leer baie duidelik dat daar net een God is, maar dat Hy in drie Persone bestaan.

 

[1] Daar is net een God

Gen. 1:1, Deut. 6:4, 4:35, 39, 32:39, Jes. 44:6, 8, 45:5-6, 21-22, Joh. 10:30, 1Kor. 8:4-6, 1Tim. 2:5.

 

[2] God bestaan in drie Persone

Gen. 1:26, 3:22, 11:7, Ps. 2:2, 6-7, 45:7-8, 110:1, Jes. 6:8, 48:16, Matt. 3:16-17, 28:19, Joh. 1:1, 14:16, 23, Hand. 2:33, 1Kor. 12:4-6, 2Kor. 13:13, Ef. 2:18, 4:4-6, Heb. 1:1-3, 1Pet. 1:2.

 

God se liefde wys dit

In 2013 het ek Ps. 136 gepreek.  In die ESV sê al 26 verse:  ‘his steadfast love endures forever.’  Op daardie stadium het ek oor God se liefde probeer dink, en kon ek dit nie verstaan nie.  Ek het vir my vrou gevra:  ‘Wat is liefde – ek kan dit nie verstaan nie?’  ‘God is liefde,’ het sy geantwoord.

 

Wat beteken dit dat God liefde is (1Joh. 4:8)?  Dit beteken o.a. dat God in sy diepste wese liefde is.  Hy definieer wat liefde is.  Dit beteken ook dat God in meer as een Persoon bestaan.[3]  Hoe weet jy dit?  As God nog altyd liefde was, moes daar iemand gewees het om lief te hê.  Volgens Joh. 17:24 het die Vader die Seun van ewigheid af liefgehad.  Die Heilige Gees het ook in die liefde tussen die Vader en die Seun gedeel, net soos wat Hy God se liefde aan óns harte kommunikeer (Rom. 5:5).

 

Omdat die Drie-Enige God nog altyd in perfekte liefde en gemeenskap met Homself gelewe het; het Hy ons nie gemaak omdat Hy eensaam of verveeld was, of omdat Hy ons nodig gehad het nie.

 

Die huwelik wys dit

Die maan bewys dat die son bestaan, omdat die lig wat dit afgee ‘n weerkaatsing van die son is.  ‘n Spieël bewys dat die objek wat daarin gereflekteer word bestaan.  Alhoewel dit onvolmaak is, wys die huwelik dat God in meer as een Persoon bestaan:  Adam en Eva was twee persone, maar in die huwelik was hulle een (Gen. 1:27, 2:23-24).

 

As jy aan die Here behoort is jy nie net fisies een in die huwelik nie, maar ook geestelik een (Mal. 2:15).  As jy een is met die Here, is jy immers een met almal wat met Hom verenig is, nie waar nie?  As jy die eenheid in jou huwelik wil versterk, moet jy seker maak dat jy en jou lewensmaat een is met die Here.  Hoe gebeur dit?

 

Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy ons in Christus gekies om sy kinders te wees (Ef. 1:4-5, 2Tim. 1:9).  Deur Jesus se kruisdood het Hy sy plan in werking gestel en ons in Christus verlos en vergewe (Ef. 1:7).  As jy jou bekeer en in Christus glo, sal die Heilige Gees in jou woon en sal jy hierdie wonderlike eenheid ervaar (1Kor. 6:17, Ef. 1:13).  Jy sal een wees met die Drie-Enige God en Hy met jou (Joh. 14:23, 17:21, Gal. 2:20, 1Joh. 2:24, 4:13).  Dit beteken nie dat jy God word nie, maar eerder dat sy lewe in jou is (Joh. 15:4-5, 17:3, 2Pet. 1:4).

 

Jy moet hierdie eenheid bely deur in die Naam van die Drie-Enige God gedoop te word (Matt. 28:19).  Ek het reeds gewys dat jy deur jou eenheid met die Here ook een word met sy liggaam, die kerk (1Kor. 12:12-14).  Hy het ook die Woord en gebed as middele gegee, sodat jy in Hom kan bly en in gemeenskap met Hom kan lewe (Joh. 8:31, 15:7).  Jy moenie net die Woord hoor nie maar dit doen, sodat jy in Hom en sy liefde kan bly (Joh. 15:9-10).

 

As jy en jou lewensmaat só een is met die Here, is daar geen rede om verdeeld te wees nie.  Soos die Vader, die Seun en die Heilige Gees een is en julle een is met Hom, kan julle ook een wees met mekaar (Ef. 4:4-6).  Om hierdie eenheid te bewaar moet jy met die Gees se hulp nederig, vredevol, sagmoedig, geduldig, liefdevol, verdraagsaam en vergewensgesind wees (Ef. 4:1-3, Fil. 2:1-5, Kol. 3:12-15).  As jy selfsugtig is, sal daar verdeeldheid wees (Jak. 4:1-2).

 

Dalk het jy en jou lewensmaat nie dieselfde persoonlikheid, talente of belangstellings nie.  Dit is nie ‘n rede om verdeeld te wees nie.  Die dinge wat julle saambind is baie hegter as julle belangstellings (Ef. 4:4-6).  Buitendien kan julle die verskille gebruik om mekaar aan te vul, net soos wat ‘n klavier verskillende note moet hê om ‘n melodie te maak.  Moet dan nie soos die wêreld skei omdat julle nie ‘compatible’ is nie.  As beide van julle in Christus glo is julle ‘compatible’.

 

As jy met ‘n ongelowige getroud is sal julle tot ‘n sekere mate verdeeld wees, omdat jý een is met die Here en jou maat nie (Matt. 10:34-36).  As jou ongelowige lewensmaat getroud wil bly moet jy nie skei nie, maar eerder Christus se liefde uitleef en verkondig sodat hy of sy gered kan word (1Kor. 7:12-14, 1Pet. 3:1-6).

 

Hoe kan jy prakties in jou huwelik wys dat jy in die Drie-Enige God glo en dat jy aan Hom behoort?  Die Vader, die Seun en die Heilige Gees was nog nooit jaloers op mekaar nie; elkeen dink aan die ander se heerlikheid.  Die Vader en die Seun verheerlik mekaar (Joh. 8:54, 17:1, 5).  Die Heilige Gees verheerlik die Seun (Joh. 16:14).  So moet ‘n man en vrou mekaar in die huwelik eerste stel; elke moenie net aan sy of haar eie belange dink nie (Fil. 2:3-4).

 

Ons moet ook onthou dat ons na God se beeld gemaak is (Gen. 1:26-27).  As jy verdeeld is in jou huwelik straal jy ‘n verkeerde beeld uit.  Jy sê in effek dat die Vader, die Seun en die Heilige Gees verdeeld is.  Jou lewe is ‘n slegte advertensie vir die evangelie.  Jy reflekteer nie die beeld van God soos jy moet nie.

 

Omdat ons soos die Here een is, kan ons nie met ons lewensmaats of ander gelowiges baklei sonder om onsself te beskadig nie.  Paulus sê:  “So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame.  Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente.” (Ef. 5:28-29).  Wat in 1Kor. 12:26, Ef. 4:25 vir die liggaam van Christus geld, geld ook vir die huwelik:  “En as een lid ly, ly al die lede saam … Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.”

 

Kommunikeer jy sleg in jou huwelik?  Kyk hoe die Vader, die Seun en die Heilige Gees met mekaar kommunikeer (v.26, Joh. 15:15, 16:13-15).  As jy aanhoudend deur die Woord en gebed met die Drie-Enige God kommunikeer (Ef. 2:18, 1Joh. 1:3), sal jy leer om met jou lewensmaat te kommunikeer.  Spreuke, Ef. 4:25-32 en Jak. 1:19 sal jou help om reg te praat en te luister.  Vra die Here om jou te help om hierdie gedeeltes toe te pas.

 

Maak tyd en doen moeite om te kommunikeer.  Moenie so besig raak dat jy vergeet om te gesels nie.  As jy ‘n film saam kyk kan jy voor die TV eet, maar moenie ‘n gewoonte daarvan maak nie.  As jy voor die TV sit kyk almal voor hulle en gesels niemand nie.  Pasop ook vir Facebook, Whatsapp en YouTube:  dit steel maklik die tyd wat jy kon gebruik het om te gesels.

 

Lees eerder ‘n boek saam, gesels oor wat in jou dag gebeur het, beplan saam om die huis of die tuin mooi te maak, bid saam, eet saam, drink saam koffie, lees saam uit God se Woord en gaan saam kerk toe.

 

Om jou huwelik te help moet jy in die Drie-Enige God glo.  Sonder Hom is jy soos iemand wat ‘n huis sonder ‘n fondasie bou.  Maar dit is nie genoeg dat jy die Bybelse waarheid oor die Drie-Eenheid ken nie:  jy moet dit toepas en deur Jesus Christus in ‘n persoonlike verhouding met hierdie God lewe.  As jy dit nie doen nie, is jy soos iemand wat ‘n swak fondasie lê en buitendien niks daarop bou nie.

 

[1] A.W. Tozer, The Knowledge of the Holy, HarperCollins, New York, 1961, p. 1

[2] Wayne Grudem, Systematic Theology, Inter-Varsity Press, Nottingham: England, 1994, 2007, p.227

[3] C.S. Lewis, Mere Christianity: Fiftieth Anniversary Edition, HarperCollinsPublishers, London, 1942, 2002, pp. 174-176.  Jonathan Edwards, Essay on the Trinity aangehaal in John Piper, The Pleasures of God, Mentor: Christian Focus Publications, Ross-shire: Great Britain, 2001, pp. 44-45, n. 24