‘n Boodskap oor vermetelheid en dronkenskap

Drinking

Tydens een aanddiens het ‘n dronk vrou aanhoudend die preek onderbreek.  ‘Amen!  Ja, is pastoor!  Amen!’ het sy gesê.  By drie ander geleenthede het mense wat vol van dwelms was my straat prediking geopponeer.  Een man het my gevloek, ‘n ander een met my sleggesê, en die ander een het uitgeroep dat ons nie van God af is nie.

 

So het die dronk mense in Jes. 28:1-13 vir Jesaja geopponeer.  Die Here het hom met ‘n boodskap teen hulle gestuur.  Dit was hoofsaaklik ‘n boodskap oor hulle vermetelheid en dronkenskap.

 

Samaria se gemak (v.1-6)

Holland is ‘n streek aan die weskus van Nederland, maar die naam word ook gebruik om na die land in sy geheel te verwys.  Dieselfde was waar van Efraim:  dit was een van die twaalf stamme, maar is later gebruik om na die hele noordelike ryk van Israel te verwys (bv. in Hosea).

 

Toe Salomo dood is, het Israel in twee geskeur.  Samaria was die hoofstad van die noordelike ryk, terwyl Jerusalem die hoofstad van die suidelike ryk was.  In v.1-6 het Jesaja God se weë of oordele oor die noordelike ryk uitgespreek.

 

Samaria was op ‘n heuwel gebou (1Kon. 16:24).  Die stadsmure het soos ‘n kroon op iemand se kop gelyk (v.1).  ‘n Groen vallei van wingerde het Samaria omring; die stad het soos ‘n pragtige blom uitgestaan (v.1).  Samaria se inwoners was trots op hulle ‘kroon’ (v.1).  As God se volk het hulle vas geglo dat hulle veilig is.  Gevolglik het hulle ‘n gemaklike lewe van dronk partytjies gelei (v.1, Amos 2:8, 4:1, 6:6).

 

Hulle het nie opgemerk dat die blom besig is om te verlep nie (v.1, 40:6-8).  In 722 v.C. het die Here Assirië soos ‘n verwoestende haelstorm teen Samaria gestuur en haar in die vloed van sy oordele verdrink (v.2, 8:7).  Hy het die stad op die grond gegooi, die kroon en die pragtige blom onder sy voete vertrap (v.2-4a).  Deur Assirië het Hy Samaria soos die eerste ryp na-vy van die seisoen gepluk en ingesluk (v.4b).

 

Deur die Messias se Koninkryk sal God self ‘n kroon van heerlike skoonheid vir die oorblyfsel van sy volk sal wees, en sal Hy die ongeregtigheid uit Israel en die res van die aarde verwyder; Hy sal ‘n gees van geregtigheid in Israel en die wêreld se regsisteme gee (v.5-6, 11:2).  Hy sal ook sy kinders versterk om die vyand van die stadspoorte af weg te hou (v.6).  Hy sal m.a.w. sy volk beskerm.

 

Hoe moet ons v.1-6 op onsself toepas?  Soos Samaria is die mens van nature hoogmoedig en dink hy dat God se oordele hom nie sal tref nie (v.1).  Hy dink dat hy die hemel verdien, en dat dit nie dieselfde sal wees sonder hom nie.[1]

 

Jonathan Edwards het gesê:  ‘Byna elke ongelowige wat van die hel hoor, vlei homself dat hy dit sal ontvlug.  Hy maak op homself staat vir sy eie veiligheid.  Hy vlei homself op grond van wat hy gedoen het, wat hy nou doen, en wat hy beplan om te doen.  Hy dink hoe hy God se verdoemenis kan vermy, en vlei homself dat hy ‘n goeie plan uitgedink het, en dat sy planne nie sal misluk nie.  Hy hoor dat min mense gered is, en dat die meeste van hulle gesterf het en hel toe is.  Maar hy verbeel hom dat hy beter as ander mense vir sy ontvlugting beplan het.’[2]

 

Dit gebeur veral met dié wat sê dat hulle God se kinders is, maar dit nie is nie (soos Samaria).  Hulle dink dat hulle doop, kerklidmaatskap, tiendes, getuienis van redding of ouderlingskap hulle teen God se oordele sal beskerm, en dat hulle dus in hulle sonde kan voortleef.  Hulle sit snoesig en veilig in die kerkbanke, en dink dat God se toorn hulle nie daar kan bereik nie (Jer. 7:4, Amos 6:1, Matt. 22:11-13).

 

Hulle glo vas dat hulle ‘n blom in Jesus se tuin is, en dat Hy hulle eendag as ‘n pêrel vir sy kroon gaan kom haal.  Hulle herinner hulleself aan God se liefde, en sê vir hulleself dat Hy nie so sterk oor hulle sonde voel soos oor die moordenaar en verkragter s’n nie.  ‘Eens gered, altyd gered!’ is die skuilplek wat hulle oprig om hulle teen God se toorn te beskerm.  Dit is so dat geen gelowige sy redding kan verloor nie, maar hierdie mense gebruik dit as ‘n lisensie om hulle sonde te doen (v.1, Rom. 6:1).

 

So seker as wat die Here leef, Hy sal hulle onder sy voete vertrap, die trotste kroon van hulle koppe afruk en hulle in die hel gooi (v.3-4).  Hy sal hulle in die vloed van sy oordele verdrink (v.2).  Die hel maak sy mond wyd oop om hulle in te sluk (v.4).  Al wat hulle terughou is die genade van God.

 

As jy jou sonde haat en jou daarvan bekeer het, is jy nie die persoon van wie ek sopas gepraat het nie.  Jy hoef daarom nie vanaand wakker te lê nie.  Die persoon wat ek hierbo beskryf het, gebruik God se genade as ‘n dekmantel om sy sonde te regverdig.  Hy weet dat die Here hom vir sy sonde gaan oordeel, maar doen dit in elk geval omdat hy dink dat hy altyd weer vergifnis kan vra.  Hy besef nie dat sy lewe van sonde besig is om hom hard te maak, sodat hy later nie meer ‘n begeerte sal hê om na die Here toe te draai nie.

 

Hy verdedig sy sonde deur te sê dat hy darem nog kerk toe gaan, die Bybel lees en bid.  Hy dink dat sy ‘goeie stiltetye’ ‘n aanduiding is dat sy dronkenskap of egbreuk nie verkeerd is nie, en dat die Here met hom tevrede is.  Hy is al so ver heen, dat sy gewete hom nie meer pla nie.  Hy is soos Jona wat in die storm slaap, en soos Samaria wat rustig sit en drink terwyl die storm van God se oordeel oor hulle broei.

 

Hy is soos die los vrou in Spr. 7:14 wat gedink het dat haar godsdienstige aksies haar sonde uitbalanseer, en dat die Here dit daarom nie ernstig opneem nie.  Ander mense kan sien dat hy op die verkeerde pad is, maar hy ontken dit.  Soos Israel van ouds raak hy kwaad as God se boodskappers sy sonde uitwys (2Kron. 16:10).

 

Hy lees daarom net die verse oor God se genade en liefde, omdat dit hom lekker laat voel (2Tim. 4:3-4).  Hy het geleer om die dele uit te blok wat oor God se heilige karakter, sy oordele en sy haat vir sonde gaan.  Hy het sy eie goedkoop teologie van genade en van Jesus se kruisdood geformuleer.  In sy oë beteken Jesus se kruisdood dat sy sonde vergewe is, en dat hy daarmee kan aanhou.  Wat God se genade betref dink hy dat dit oneindig is, en dat God se geduld nooit opraak nie.

 

Maar waar het die Here ooit gesê dat sy genade geen perke het nie?  Wys tekste soos Heb. 6:4-6 nie duidelik dat sommige mense die grens van God se genade oorskry, en dat hulle daarna nie weer kan terugkeer nie?  En het Jesus nie self gesê dat daar so iets soos die onvergeeflike sonde is nie?

 

As jy jouself dan ‘n Christen noem en met sonde besig is, moet jy jou ore spits.

 

Jerusalem se feesviering (v.7-13)

Paul Kruger het drank gehaat en net melk gedrink.  En tog het hy geglo dat dit nie sonde is as iemand drank gebruik nie.  ‘Drank is ‘n gawe van God aan die mens, en as dit in matigheid gebruik word is dit nie sonde nie,’ het hy gesê.  Hy het verstaan dat dit verfrissend kan wees na ‘n dag se harde werk.  Wat hy gehaat het was dronkenskap.[3]  En dit is presies die punt in v.7-13.

 

Samaria het hulleself dronk gedrink en onder God se oordeel beland.  En het die leiers van Jerusalem regtig gedink dat húlle daarmee gaan wegkom?  Die priesters en profete moes God se Woord vir die volk bring en vir hulle wys hoe om dit in hulle lewens toe te pas.  Maar hulle kon dit nie doen nie, omdat hulle dronk was (v.7, 5:11, 22).  Hulle was so dronk dat die tafels vol van opgooi was (v.8).

 

Hoekom was hulle dronk?  Hulle het fees gevier, omdat Egipte belowe het om hulle teen Assirië te help (v.15, 30:1-7).  Soos met baie ongelowiges, het hulle die goeie tyding met drank gevier.  Hulle het die wyn ingesluk, maar op die einde het dit hulle ingesluk (v.7).  Die drank het hulle verwar en gemaak dat hulle nie goeie leiding kon neem nie (v.7).  Hulle visioene het nie van die Here af gekom nie, maar die alkohol het gemaak dat hulle snaakse dinge sien (v.7).  Hulle kon nie meer tussen reg en verkeerd onderskei nie; die drank het gemaak dat hulle die reg verdraai en verkeerde dinge sê (v.7).  Dié wat hulle geraadpleeg het kon net sowel ‘n dronk predikant vir berading gevra het, of vir ‘n dronk prokureur gevra het om hulle saak te beveg.

 

Terwyl die geestelike leiers dronk om die tafel gesit het, het Jesaja ingestap.  ‘Vir wie wil jy kennis leer en God se boodskap verduidelik – vir babas wat nog melkies drink?’ het hulle gesê (v.9).  ‘Jy gee mos melk vir die volk, asof hulle kinders is:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie.’ (v.10).

 

Maar Jesaja het juis so gepreek, omdat die volk a.g.v. sulke leiers geestelike babas was, en nie die vleis en aartappels van God se Woord kon verteer nie – hulle het melk nodig gehad.  Hy het dus eenvoudig gepreek, sodat almal dit kon verstaan, en sodat hulle nie ‘n verskoning gehad het vir waarom hulle hulle nie bekeer het nie.  Jesaja het die volle waarheid van God vir die volk gegee; Hy het niks uitgelos of oorgeslaan nie (v.10).  Maar Jerusalem en haar leiers het sy prediking geïgnoreer (2Kron. 36:15-16).

 

Gevolglik sou die Here hulle deur mense van ‘n vreemde taal getugtig het (v.11).  In die Ou Testament was Assirië en Babilon die vreemde nasies deur wie Hy sy volk getugtig het (v.11, Deut. 28:49, Jer. 5:15).  In die Nuwe Testament was ander lande se tale die teken dat die Here sy volk deur die Romeine – ‘n volk wat ‘n ander taal gepraat het – sou tugtig, en dat Hy die evangelie van die Jode af sou wegneem om dit na alle tale toe te versprei (Hand. 2:4-13, 14-23, 36).

 

God het die evangelie by sy volk weggevat, omdat hulle die eenvoudige verkondiging daarvan in hulle eie taal verwerp het (v.9-10).  Hulle wou nie die rus van sy verlossing gehad het nie, maar het dit van die hand gewys (v.12, 30:15, Matt. 11:28-30).  Hulle het eerder in Egipte en hulle eie planne gerus as in die Here (v.12, 15-16).

 

Israel het God se volledige Woord in hulle eie taal verwerp, en daarom het Hy sy oordele in ‘n taal aangekondig wat hulle nie verstaan nie (v.11, 13).  Het Jesus nie in gelykenisse gepreek wat die volk nie verstaan het nie (Matt. 13:10-17)?  Dit is byna of Hy gesê het:  ‘Toe dit verstaanbaar was, wou julle nie luister nie.  Nou sal Ek dit so eenvoudig maak, dat wyse en geleerde mense dit nie kan uitwerk nie, maar dat net geestelike kinders dit kan verstaan’ (Matt. 11:25).

 

Omdat die Jode se geestelike leiers die boodskap nie verstaan het nie, het hulle hulle nie bekeer nie.  En omdat hulle hulle nie bekeer het nie, het hulle in die vyand se vangnet beland en is hulle weggevoer (8:15).

 

So was dit ook in die Nuwe Testament.  Die volk en haar geestelike leiers het die Woord nie verstaan nie.  Gevolglik het hulle hulle nie tot die Messias bekeer nie, maar Hom gekruisig.  In 70 n.C. het die Here hulle hiervoor geoordeel.  Hy het sy Woord vir die Jode weggesteek en dit na die heidene toe gestuur (6:9-10, Amos 8:11, Hand. 28:25-28).  Dit is wat gebeur wanneer mense elke geleentheid in die wêreld het om die Woord eenvoudig te hoor (gesonde kerke, goeie preke op die internet, goeie Christelike boeke, ens.), maar nie daarop ag gee nie.

 

Wat het v.7-13 vir ons te sê?

 

[1] Persoonlik verkies ek dit om glad nie te drink nie.  Ek wil nie aspris iets voor iemand drink as dit hom in die versoeking gaan bring, of as dit sy gewete gaan pla nie (Rom. 14:21, 1Kor. 8:13).

 

En tog sê die Bybel nie dat dit sonde is as iemand ‘n glas wyn of ‘n bier drink nie.  In Deut. 14:26 het die Here vir Israel gesê dat hulle wyn of sterk drank by hulle feeste mag drink.  Ps. 104:15 sê dat wyn ‘n gawe van God is om die mens ontspanne en gelukkig te maak.  In 1Tim. 5:23 het Paulus vir sy jong vriend gesê om nie net water te drink nie maar ook wyn, sodat die alkohol die kieme in sy maag kan doodmaak.

 

Ons weet ook dat Jesus wyn gedrink het (Matt. 11:19).  Party mense dink dat die wyn in Jesus se tyd met water verdun is, en dat daar skaars alkohol in was.  Maar dit was nie altyd die geval nie.  Jesus het bv. die water in wyn verander, en nie die goeie ‘ou’ wyn met water verdun nie.  Ons weet ook dat daar genoeg alkohol in die wyn was om ‘n mens dronk te maak (v.7, 1Kor. 11:21).

 

En dít is juis waar die probleem lê:  ons moenie so baie drink dat ons dronk word nie (v.1, 7-8).  Ongelowiges gebruik elke geleentheid om dronk te word:  restaurante, motorfiets klubs, sosiale geleenthede, sport byeenkomste, partytjies, jaareindfunksies, jag, visvang, Kersfees, ens.  Wanneer ongelowiges rustig en gemaklik voel, drink hulle.  Wanneer hulle bly is, drink hulle.  Wanneer hulle depressief is, drink hulle.  Wanneer hulle bekommerd is, drink hulle.  Wanneer hulle probleme het, drink hulle.  Wanneer hulle verward en verlore voel, drink hulle.

 

Drank is hulle baas, omdat Jesus nie is nie (v.12, 7).  As hulle net na Jesus toe wil kom sal Hy hulle vry maak en die leemte in hulle siele vul (Joh. 4:14, 8:36).  Sy Persoon, kruisdood, opstanding en die Heilige Gees is meer as bekwaam om met hulle drank probleem af te reken.  Jesus kan hulle dors beter les as wat die drank kan, maar hulle glo dit nie, en daarom bly hulle vasgevang in die net van hulle sonde.

 

[2] ‘n Ongelowige wat jare gelede ons dienste bygewoon het, het by ‘n ander gemeente se kerkkamp vir die leraar gevra of sy en haar kêrel ‘n kamer kan deel.  Hy het nee gesê.  ‘Maar ons is mos nie meer kinders nie,’ was die vrou se reaksie.  Soos die vals profete in v.9-10 het sy gemaak of die Bybel se verbod teen seks buite die huwelik kinderagtig is.

 

Mense soek allerhande verskonings om nie dit-en-dat in die Bybel te aanvaar nie.  Soms sê hulle dat dit nie duidelik genoeg is nie.  Ek dink bv. aan God se lering oor homoseksualiteit en seks voor die huwelik.  Mense sê dat dit nie duidelik genoeg is nie, terwyl die waarheid is dat ‘n kind dit kan verstaan (v.9-10).  Maar die rede hoekom dit volgens hulle nie ‘duidelik’ is nie, is omdat hulle nie hulle sonde wil los nie.

 

[3] Ons moet die volle raad van God verkondig:  gebod op gebod, reëltjie vir reëltjie, bietjie vir bietjie (v.10, Hand. 20:27).  Om hierdie rede glo ek dat Skrif verklarende- of eksposerende prediking die beste is (Neh. 8:9).  Jy preek nie net die tekste waarvan jy hou nie, maar ook die dele wat moeilik is om te sluk.  As ‘n mens vers vir vers deur boeke van die Bybel preek, kan niemand sê:  ‘Jy het aspris daardie teks gekies om my aan te spreek’ nie.  Nee, ek het nie.  Ek het net die volgende gedeelte gepreek.

 

Eksposerende prediking gee vir die skape ‘n gesonde, gebalanseerde dieet van die Woord.  God het die Bybel in boeke, verse en hoofstukke geskryf, en daarom moet ons dit ook so preek.  Hy het elke detail daarvan geïnspireer, en daarom moet ons elke detail daarvan preek (2Tim. 3:16-4:2).

 

[4] In 1Kor. 14:21 haal Paulus Jes. 28:11 aan om te wys dat gemeentes wat in tale praat sonder dat dit uitgelê word, onder God se oordeel is (vgl. Gen. 11:1-9, 1Kor. 14:22).  Wees dan versigtig vir charismate wat in tale praat, sonder dat daar ‘n uitleg is.

 

Rowland Hill was ‘n Engelse prediker in die 18de en 19de eeu.  ‘n Dronk man het eenkeer na hom toe gekom en vir hom gesê.  ‘I am one of your converts, Mr. Hill.’  ‘I dare say you are, but you are none of the Lord’s, or you would not be drunk,’ het die wyse mnr. Hill geantwoord.[4]

 

Behoort jy aan die Here?  Moet dan nie soos Samaria en Jerusalem toelaat dat alkohol of enige iets anders jou beheer nie, maar word vervul met die Heilige Gees (Ef. 5:18).

 

[1] R.C. Sproul, The Holiness of God, Tyndale House Publishers, Carol Stream: Illinois, 1985, 1998, p.150

[2] Vry vertaal uit Jonathan Edwards, Works: Vol. 2, The Banner of Truth Trust, Edinburgh: Scotland, 1834, 1974, 1976, p.8

[3] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, PublicAffairs, New York, 2007, 2008, p.170

[4] Aangehaal in C.H. Spurgeon, The Soul Winner, Whitaker House, New Kensington: PA, 1995, p.32