God se swaard en sy roede

God's sword

Wanneer dit by God se swaard en sy roede kom, bestaan daar ‘n paar gevare.  Belinda dra die gevolge van haar sonde, maar blameer die duiwel en sien nie die Here se hand in haar tugtiging nie.  Riaan dink nie baie oor God se heilige geregtigheid nie, en dink dat Hy net liefde is.  Gevolglik dink hy nie wanneer hy sondig nie, en vrees hy ook nie die Here se tugtiging nie.

 

Hilda is ‘n bietjie soos Eeyore:  wanneer die Here haar tugtig, sien sy geen liefde agter die roede nie, en dink sy dat Hy haar met sy swaard straf.  Penny is ‘n ateïs.  Sy glo nie in die Here óf sy swaard nie, en is in vir ‘n aangename verrassing.  Jes. 27 praat tog duidelik van die Here se swaard en sy tugroede.

 

Leviatan (v.1)

Oral in die wêreld hoor ‘n mens stories van drake.  In ou Engeland het mense vir hulle kinders vertel van ridders wat drake doodmaak.  In Jes. 27:1 praat Jesaja van die Here wat ‘n draak met sy swaard doodmaak.  Sy swaard is hard en onbreekbaar; dit is groot en kan baie skade aanrig; dit is sterk, omdat die Een wat dit gebruik almagtig is (v.1).  Dit is beter as king Arthur se swaard, Excalibur.  Met sy swaard sal die Here vir Leviatan straf (v.1).

 

Wie is Leviatan?  Hy is die vinnige en kronkelende slang, die draak wat in die see is (v.1).  Hy is vinniger as ‘n swart mamba, maar nie vinnig genoeg om vir die Here te vlug nie.  Hy het soos ‘n luislang gekronkel, maar was ook slinks of kronkelend in sy karakter (Gen. 3:1).

 

Leviatan was ‘n tipe draak of dinosourus wat in die see gewoon het (v.1, Job 40-41, Ps.104:26).[1]  Jesaja gebruik dit as ‘n simbool vir God se vyande.  In 51:9-10, Ps. 74:13-14 en Eseg. 29:3-5 is dit duidelik dat die draak of Leviatan na Egipte verwys.  In Op. 12:9 praat Johannes van Satan as die slang en die draak.

 

Volgens v.1 sal die Here hierdie vyande met die swaard tref.  God het vir Egipte, Assirië en Babilon geoordeel.  Hy het ook deur Jesus se lewe, kruisdood en opstanding die duiwel geoordeel (Gen. 3:15, Matt. 12:28-29, Luk. 10:18, Ef. 4:8, Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, Op. 12:9-11).

 

Maar al het Hy die draak of slang dodelik gewond, spartel hy om met sy laaste krag om te verwoes (1Pet. 5:8).  Hy is soos ‘n buffel wat die doodskoot gekry het, maar met mag en mening kom om jou uit te haal.  By die wederkoms sal Jesus hom finaal in die hel werp (v.1, Op. 20:10).

 

As jy in sonde lewe, sal jy saam met die duiwel daar wees, omdat jy aan die verkeerde kant van God se swaard was.  Die skild en borsharnas van jou goeie werke en self geregtigheid was nie hard of sterk genoeg om te keer dat God se swaard deurdring en jou hart penetreer nie (Heb. 4:12, Op. 19:15).

 

As jy jou bekeer en in Jesus glo, sal God jou nie met hierdie swaard deurboor nie.  Hy sal sy Seun se kruisdood beskou asof dit joune is.  Op Golgota het God die swaard van sy geregtigheid uit die skede getrek, en vir Jesus daarmee deurboor.  Die pyn het soos ‘n dolk deur die Vader se hart gesteek, maar Hy het dit uit liefde vir sondaars gedoen.

 

As jy aan die Here behoort, kan jy hierdie selfde swaard gebruik om teen Satan te veg (Ef. 6:17).  Met God se groot, sterk en harde swaard, sal jy die duiwel se swaard uit sy hande uitslaan, en sal hy vlug (Jak. 4:7).

 

Die wingerd (v.2-6)

Toe ons Kempton Park toe getrek het, het ons drie vrugte bome in ons erf gehad.  Die termiete het die appelkoosboom opgevreet.  Die pruimboom staan nog, maar dra skaars vrugte.  Die perskeboom het elke jaar groen vrugte wat uitdroog en swart word.

 

In Jesaja se tyd was Israel so.  Maar in die toekoms sal dit verander.  Wanneer God sy volk se vyande oordeel (v.1), sal Hy ook die slegte wingerd van Jes. 5 in ‘n lieflike wingerd van skuimende wyn verander, sodat die klaaglied in ‘n loflied verander (v.2).

 

Hy sal sy wingerd natlei en dag en nag bewaar; Hy sal dit nie aan die dorings, distels, bosvarke en droogte oorgee soos in 5:5-6 en Ps. 80:13-14 nie (v.3).  Wie is die wingerd?  Dit is Israel, maar uiteindelik word dit in Christus vervul.  Dié wat deur geloof met Hom verenig is, is deel van die Ware Wingerd (Joh. 15:1-8).

 

Die Here is nie meer kwaad vir hulle soos in Jes. 5 nie (v.4).  Die toorn wat op hulle moes kom, het Hy soos ‘n waterval van lawa oor Jesus uitgestort (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13).  Om sy volk te beskerm sal die Here ook die dorings en distels – sy volk se vyande – wat tussen die wingerd groei, verbrand (v.4, vgl. 5:6, 10:17).

 

En tog het die vyand nog ‘n kans om die Here se beskerming aan te gryp soos ‘n man wat ‘n stewige tak vasgryp as hy in dryfsand wegsink (v.5).  As die vyand deur geloof en bekering vrede met die Here maak (v.5, Rom. 5:1), sal Hy nie teen hulle baklei nie (v.4).

 

In die toekoms sal Jakob of Israel wortel skiet, bloeisels dra, lote uitskiet en vrugte dra (v.6, 37:31).  Israel se vrugte sal nie net die land vul nie (Ps.80:12), maar die hele wêreld (v.6).  Die vrug verwys na die vrug van bekering, asook na die vrug van nuwe bekeerlinge (Matt. 3:8, Rom. 1:13).

 

Deur ons eenheid met Jesus Christus, sal ons hierdie vrugte dra.  In die toekoms sal daar baie bekerings onder die Jode en die heidene wees; die wêreld sal God se wingerd wees wat met vrugte oordek is.  Die druiwe sal nie suur of wild wees soos in Jes. 5 nie, maar soet en sappig.

 

Diep in elke gelowige se hart het hy ‘n begeerte om ‘n wingerd van skuimende wyn te wees wat goeie vrugte vir Jesus dra, sodat die Vader verheerlik kan word (v.2, Joh. 15:8, Fil. 1:11).  Dit bedroef hom as hy die suur korrels van jaloesie, wellus, ongehoorsaamheid, woede, verslawing, twis, angs en ander sondes in sy hart sien.

 

Omdat die takke egter aan die wingerd verbind is, is suur korrels die uitsondering en nie die norm nie.  As die Vader ‘n tros pluk, sal Hy meestal die soet korrels van bekering proe:  ‘n gelowige wat die Here en sy naaste liefhet, wat geduldig is met ander mense, wat goeie werke doen wanneer niemand kyk nie, wat homself dissiplineer om te bid, ens.

 

Maar as die Here ‘n droë tak vind wat nie vrugte dra nie, weet Hy dat iemand dit met gom daar geplak het.  Hy sal die tak afbreek en saam met die dorings en distels verbrand (Eseg. 15, Joh. 15:6, Matt. 3:10).

 

Iemand wat m.a.w. sê dat hy ‘n Christen is en kerk toe kom, maar nie die vrug van bekering dra nie, sal saam met die moordenaars en verkragters in die hel gestraf word.  Sy straf sal erger wees as hulle s’n (Luk. 12:47-48).  Om van die Here se straf te vlug, moet hy ná Hom toe vlug (v.5).  Net Hý kan ons teen sy eie straf beskerm (v.5).

 

Die ballingskap (v.7-9)

‘n Goeie tuinier werk nie met sy rose soos met die onkruid nie.  Hy snoei die rose, maar die onkruid trek hy wortel en al uit.  Toe die Here vir Israel getugtig het, het Hy hulle nie so hard getref soos Hy dit met hulle vyande gedoen het nie (v.7).  Hy het hulle nooit met die tien plae getref, in die Rooi See verdrink, of uitgewis nie.

 

Hy het hulle nou wel met die vurige toorn van sy geweldige wind na ander lande toe verdryf, soos op die dag wat die skroeiende oostewind waai (v.8, Jer. 18:17, Gen. 41:6, Jona 4:8).  Maar Hy het altyd teruggehou en hulle nie in volle mate gestraf nie (v.8, Jer. 4:27, 5:10, 18).

 

Dit is omdat Hy beplan het om hulle in die toekoms te red.  Deur die bloed van Jesus het God Jakob se skuld weggevat (v.9, Rom. 11:26-27, kontra 22:14).  Om te wys dat hulle met die Here versoen is, sal Israel in die toekoms van hulle afgode ontslae raak en vir Jesus Christus aanbid (v.9b, afgode in Rigters, 1 & 2 Konings, die groot en die klein profete, Matt. 15:8-9, Hand. 7:40-43, 1Joh. 5:20-21).  Dit sal die volle vrug of bewys wees dat God hulle sonde weggevat het (v.9a, 6).

 

Hoe moet ons hierdie drie verse toepas?  Soms raak ons moedeloos wanneer die Here ons tugtig.  Ons dink dat Hy teen ons is, dat Hy ons nie liefhet nie, en dat Hy van ons vergeet het.  Maar is dit die doel en motief as jy jóú kind moet tugtig?  Hoekom sal ‘n volmaakte Vader dit dan doen?

 

Wanneer die Here ons tugtig is Hy vir ons.  Hy wil nie hê ons moet op die pad van sonde loop en onsself beskadig nie, en daarom tugtig Hy ons uit liefde.  Dit voel miskien of die Here ver is, maar eintlik is Hy baie naby wanneer Hy jou oor sy skoot trek.  Hy doen dit om goeie vrugte in jou lewe voort te bring, en om karakter in jou te kweek (v.9b, Heb. 12:5-11).

 

Moenie moedeloos raak wanneer die Here jou tugtig nie.  Hy tugtig jou nie volgens wat jy verdien nie, maar werk saggies met jou soos ‘n pa wat nie al sy krag gebruik wanneer hy sy tweejarige pak gee nie (Ps. 103:10, 13, 130:3).  Die Here tref jou nie met sy swaard nie, maar met sy roede (v.7-8).

 

Met die swaard van sy oordeel het God sy Seun in volle mate soos ‘n ongelowige getref, sodat Hy óns nie so hoef te tref nie (v.7-8).  Wees lief vir Hom, en raak ontslae van die dinge wat jou van Hom af weghou (v.9b).

 

Die stad (v.10-11)

Ek bly nou 13 jaar in Kempton Park.  Van wat ek hoor, was die ou Kempton hospitaal baie goed.  Vandag staan die geboue leeg en groei daar onkruid in die parkeer area.  Die staatshospitale wat nog oop is lyk nie veel beter nie.  Die vervalle geboue wys dat dié wat in hoë plekke is geen onderskeid het nie, en dat hulle die geld wanbestee.

 

Jerusalem was so.  God het die stad met haar afgode vernietig (v.9-10, 24:10).  Dit was so leeg, eensaam en verlate soos ‘n woestyn; die vee het tussen die bouvalle gewei en die bome se takke kaalgevreet (v.10).  Vroue het die droë takke afgebreek om vuur te maak (v.11).

 

Hoekom het die Here Jerusalem so vernietig; hoekom het Hy Hom nie oor haar ontferm en guns aan haar bewys nie (v.11)?  Dit is omdat hulle God nie geken of erken het nie; hulle het nie tussen goed en kwaad onderskei nie (v.11, 1:3, 5:20, 6:9-10, Deut. 32:28, Hos. 4:6).  Hy moes hulle eers met die roede slaan (v.7-11), voordat hulle kon vrugte dra (v.2-6).

 

Wat het hierdie verse met ons te doen?  Geen vesting kan God se swaard keer nie (v.10-11).  Party mense bou vir hulle ‘n koninkryk van geld, en vind hulle sekuriteit daarin (soos Hugh Hefner).  Ander soek hulle beskerming by mense:  hulle voel veilig as iemand hulle aanvaar, en verlore as mense hulle verwerp.

 

Vir ander is hulle posisie by die werk, hulle kwalifikasie, die plek waar hulle studeer het, hulle familie se reputasie, hulle taal en nasionaliteit, hulle kennis, ens. die vesting waarop hulle vertrou.  Volgens v.10-11 het hierdie mense geen onderskeid nie.  Net as jy op die Here vertrou en Hom vrees, sal jy en jou kinders ‘n veilige vesting hê (v.13, Spr. 14:26).

 

Die oes (v.12-13)

Christene verskil oor wat in die toekoms met Israel gaan gebeur.  Sommige dink dat daar glad nie vir hulle hoop is nie, en dat hulle nie na Israel toe sal terugkeer nie.  Ander dink dat God die land aan hulle belowe het, en dat hulle in die toekoms weer daar sal bly.  Persoonlik lyk dit vir my of hulle na die land toe sal terugkeer.

 

Die Eufraat rivier en die spruit van Egipte was die ideale noordelike en suidelike grense van Israel (v.12, Gen. 15:18).  Oral in die land – van noord tot suid – sal die Here sy volk een vir een soos druiwe of olywe afoes en in die Koninkryk insamel (v.12, Matt. 3:12a).  God se tugtig (v.11) sal goeie vrugte voortbring (v.12).

 

Wanneer die groot trompet geblaas word, sal God se verlore skape onder die heidene (Jesaja gebruik Assirië en Egipte as voorbeelde) na die hemelse Jerusalem toe kom om die Here te aanbid (v.13, 2:2-3, 11:11, 19:23-25, 25:6).  Dit het begin toe die heidene deur Jesus se kruisdood deel van Israel geword het (Joh. 10:16, 11:51-52, Ef. 2:11-22).  In die toekoms sal dit vermenigvuldig wanneer die Jode en heidene in groot getalle tot bekering kom (v.12-13).

 

Wat wil Jesaja in v.12-13 vir ons leer?  Ek glo nie dat Israel in die toekoms ‘n spesiale plek onder die nasies sal hê nie.  En tog wil ek byvoeg dat die Here nie klaar is met hulle nie.  Die Here het hulle vir ‘n tyd lank verwerp, maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rom. 11:25-26).  Hy het sy volk soos ‘n olyfboom afgekap, maar sal hulle in die toekoms in hulle eie stam terug ent (Rom. 11:23-24).

 

Ons moet onsself dan nie bo Israel verhef en op hulle neersien, omdat die Here van hulle af weggedraai het om ons te red nie (Rom. 11:17-22).  Ons moet eerder uit hulle voorbeeld leer en sien hoe die Here hulle getugtig het.  As ons uiterlik in die Here deel, maar nie ‘n nuwe hart het nie, sal die Here ons ook afbreek.

 

Bid eerder vir ‘n herlewing onder Israel en die heidene, en glo dat die Here jou gebede sal beantwoord.  Hy sal sy swaard en sy roede teen Israel bêre, en hulle vergewe.  In C.S. Lewis se boek, The Horse and his Boy, skryf hy van ‘n leeu wat ‘n seun en ‘n meisie op hulle perde gejaag het.  Hulle was verskriklik bang, maar gelukkig het hulle weggekom.

 

Later het hulle uitgevind dat die leeu eintlik die groot en sagmoedige Aslan was.  Hy het hulle gejaag, sodat die perde hulle betyds by die koning kon uitbring.[2]  Net so gebruik die Here ook sy roede om ons te bevoordeel.  Dit is net as jy Hom verwerp dat Hy sy swaard teen jou sal gebruik.

 

[1] Die Afrikaanse Bybel sê dat die dier in Job 40-41 ‘n krokodil is.  Die beskrywing klink egter nie na ‘n krokodil nie, maar na ‘n tipe dinosourus wat in die see gewoon het.

[2] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and his Boy, HarperCollinsPublishers, New York: NY, 1954, pp.271, 281