Die kraampyne en hoop van verlossing

Labour pains

My suster is byna 9 maande swanger.  Sy is baie ongemaklik, loop swaar, sukkel om te slaap, kan nie vir lank sit nie, en vind dit moeilik om op te staan.  Die pyn gaan binnekort erger raak.  Maar as sy volgende week die baba vashou, sal sy gou van die ongemak en pyn vergeet.  Die vreugde waarvoor sy gehoop het, sal ‘n realiteit word.

 

Dit is presies wat in Jes. 26 aan die gang is:  ons kan die kraampyne van hierdie wêreld verduur, omdat die hoop van ons verlossing ten volle vervul sal word.

 

Die sterk stad (v.1-6)

Hoe weet jy of die stad waarin jy bly sterk is?  Waaraan meet ‘n mens dit?  Aan die welvaart, bevoegdheid van die plaaslike munisipaliteit, dienslewering, beskikbaarheid van produkte, water, elektrisiteit en mediese versorging, hoe goed die skole is, hoeveel goeie kerke daar is, die effektiwiteit van die polisie, of wat?

 

In Jesaja se tyd was ‘n stad sterk as dit hoë mure gehad het, sodat vyande dit nie kon binnedring nie.  In v.1-6 beskryf Jesaja hoeveel sterker God se stad as die stede van hierdie wêreld is.

 

In die dag wanneer God sy volk verlos en haar vyande vernietig (hfst. 25), sal sy die lied van Jes. 26 in Juda sing:  ‘God het die vyand se vestingstede vernietig om sýne te bou’ (v.1, 25:2, 12).  Sy verlossing is die mure en skanse om sy volk te beskerm (v.1, 60:18).  God se volk het in hierdie verlossing geroem (v.1, vgl. Gal. 6:14).

 

Die stadspoorte was oop, sodat die regverdige en getroue volk – die Jode en heidene wat in Jesus glo (Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10) – daardeur kon ingaan na die Here toe (v.2).  Die oop poorte wys dat die stad veilig is, en dat almal welkom is (Op. 21:25).  Dié wat egter wil inkom, moet heilig en regverdig wees (v.2, Op. 21:27, 22:3, 14-15).

 

Deur wedergeboorte, geloof en bekering kan jy deur die stad se poorte ingaan (v.2, Joh. 3:5, Ef. 2:6).  Kom in, kom in!  Hoe wonderlik sal dit nie wees om in ‘n plek te lewe waar skelms nie in die nag in jou huis inkom nie?  Dink gereeld aan die hemelse stad; vul jou gedagtes met God en sy verlossing; vertrou altyd op die Here; bedink die dinge daarbo.  So sal die vrede van God jou hart en lewe bewaar (v.3, Fil. 4:6-8, Kol. 3:1-2).  Dit sal nie ‘n vals vrede wees waarin jy maak of alles reg is nie, maar ‘n ware vrede te midde van die storm.

 

As jy aanhoudend op die Here vertrou, sal niks en niemand hierdie vrede kan wegvat nie (v.4).  Die Een op wie jy vertrou is immers die ewige, onveranderlike, onbeweeglike Rots (v.4, Mal. 3:6, Heb. 13:8).  As jy op Hom vertrou sal jy meer standvastig as die groot piramide van Giza wees, en sal die aardbewings van Satan, God se oordeel en hierdie wêreld jou nie skud nie (v.4, 44:8, Deut. 32:4, 15, 18, 30-31, 1Sam. 2:2, Ps. 18:32, 62:3, 7-8, Matt. 7:24-25, 1Kor. 10:4).

 

As jy nié op God vertrou nie maar hoogmoedig is, sal Hy jou afbring aarde toe, sodat jy en die dinge waarop jy vertrou in die stof lê (v.5, 25:12).  Jou drome, planne, toekoms, rykdom en lewe sal in skerwe lê (v.5).  Op die einde sal die armes wat onder jou was, jou onder hulle voete vertrap (v.6, 25:4, 10, 12, Rom. 16:20, Op. 3:9).

 

Dit is nie genoeg om te jy vertrou op die Here nie.  Wys jou gebedslewe en die manier waarop jy jou lewe volgens die Bybel inrig, dat jy op die Here vertrou en nie op jouself nie?  Is die Woord en gebed sentraal wanneer jy besluite neem, jou kinders opvoed en vir die toekoms beplan?  Hoeveel keer moet jy nóg misluk voordat jy na die Here toe draai en op Hom vertrou?

 

Die lang nag (v.7-18)

Ek ken ‘n man wat nie in die aande kan slaap nie.  Dit is vir hom baie erg.  Dit gebeur nie net nou en dan nie, maar die meeste van die aande uit ‘n week.  Daar is blykbaar niks wat dit veroorsaak nie; hy kan net nie slaap nie.  Almal van ons weet hoe lank twee of drie ure kan voel as jy in die nag wakker lê.

 

Hoe lank voel ‘die nag’ van ‘n gelowige se lewe in hierdie bose wêreld dan nie?  Hoe lank het Israel nie vir die Messias se eerste koms gewag nie?  En hoe lank wag ons nie al vir sy tweede koms nie?  Dit is waaroor v.7-18 gaan.

 

God sal die regverdige volk van v.2 se pad gelyk maak; Hy sal die hindernisse wegvat en die slaggate opvul (v.7, Ps. 143:10, Spr. 3:6).  Hy sal sy volk se vyande uit die pad verwyder (v.8, 35:9).  Hy sal na sy wagtende volk toe kom (v.8, 25:9).  Hulle het sy Naam en Gedenknaam – alles wat Hy is en vir sy volk gedoen het (Eks. 3:14-15) – in die diepte van hulle siele begeer, soos wat ‘n mens of dier in die woestyn na koue water smag (v.8, Ps. 42:2-3, 63:2, Joh. 7:37-38).

 

Laat ons ook so na die Here dors, omdat net Hý ons kan versadig.  Om Hom só te begeer nie, moet jy die Woord biddend oordink, totdat jou hart met liefde vir Hom brand en jy honger is vir Jesus.  Dink in die nagmaal aan sy Gedenknaam; aan wie Hy is en aan wat Hy vir jou gedoen het (v.8, 1Kor. 11:24-25).

 

Wees ook soos Jesaja wat snags op sy bed die Here in gebed gesoek het, en oor Hom gepeins het (v.9, Ps. 63:7, 119:55, 62, 131, 147-148, 149:5).  Hy het vir die Here gevra om sy rebelse volk te oordeel, sodat hulle hulle kan bekeer (v.9, 16).  Wanneer alles goed gaan, dink goddelose mense dat die Here nie ‘n probleem met hulle lewens het nie (v.10, 5:12).

 

Dus is voorspoed nie noodwendig ‘n goeie ding, of teëspoed ‘n slegte ding nie.  In baie gevalle is teëspoed beter as voorspoed, omdat voorspoed ons makliker van die Here af weghou, terwyl teëspoed ons op ons knieë dwing (v.10, Deut. 28:47, 2Kron. 33:12, Dan. 4:28-37, Mark. 10:21-23).

 

John Newton het byna sy lewe in ‘n storm verloor voor hy na Jesus toe gedraai het.  Ander moet eers deur ‘n egskeiding gaan of ‘n kind verloor, voordat hulle tot bekering kom, hulle korrupsie los, en God se majesteit in die evangelie sien (v.10, 2Kor. 4:6).  God moet ‘n mens aan die einde van homself bring, sodat hy geen hoop in homself het nie.  Eers dán kan hy sien dat die Here sy enigste hoop is, en kan hy soos ‘n drenkeling na die reddingsboei van Jesus se kruisdood en opstanding gryp.

 

‘n Tragedie op sy eie is egter nie genoeg om iemand na die Here toe te draai nie.  Daarvoor het ons God se genade nodig.  Die Heilige Gees moet eers die persoon se hart oopmaak (Hand. 16:14).  As dit nie gebeur nie, sal die tragedie niks doen nie.  Die persoon sal blind bly en sy hart verhard (v.11, Op. 16:9-11).  Hy sien nie God se hand in sy moeilike omstandighede nie (v.11).  Hy ignoreer die brande in Knysna, die droogte in die Kaap, die siklone in Amerika, en sê dat dit toevallig is.

 

Hy sien ook nie dat die Here besig is om sy volk te verlos nie (v.11).  Hy besef nie dat God sy redding begeer, en dat hy deel van hierdie volk kan wees as hy hom bekeer nie.  Omdat hy op homself staatmaak, sal hy skaamkry wanneer die Here met vurige ywer kom om sy kinders te red (v.11).  Hy sal nie God se lieflike teenwoordigheid geniet nie, maar deur die vuur van sy oordeel verteer word (v.11, 2Tess. 1:7-9, Heb. 12:29, Op. 20:9).

 

Deur die evangelie van Jesus sal God vrede oor sy volk beskik (v.12, 9:5-6, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  Ons het niks gedoen om hierdie vrede te verdien nie; alles kom van Hóm af (v.12).  Jou en my verlossing is monergisties (God alleen red) en nie sinergisties nie (God en die mens werk saam in verlossing).  Kan jy eerlik sê dat jy ‘n aandeel in jou redding gehad het?  Sal jy dit waag om soos Charles Finney te sê dat die sondaar soewerein is in verlossing, en nie die Here nie?  Diep in jou hart weet jy dat selfs jou geloof en bekering van God af kom (Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29).  Die feit dat jy lofliedere vir Jesus sing en nie vir jouself nie, asook die feit dat jy vir God vra om jou ongeredde geliefdes se oë oop te maak, bevestig dit.

 

Deur die geskiedenis het ander heersers oor God se volk regeer:  die Farao’s van Egipte, die Filistyne in die dae van die Rigters, en die Babiloniërs (v.13).  Maar deur al hierdie dinge was die Here altyd die ware koning wat sy volk verlos het (v.13).  God het die tiranne wat sy volk onderdruk het, doodgemaak (v.14, Eks. 2:23, 14:23-30).  Hulle het as skimme na die onderwêreld toe neergedaal (v.14, 14:9).  Hulle sou nie weer opkom om oor sy volk te heers, of eers onthou word nie (v.14).  God alleen sal onthou word (v.13).

 

Soos God Israel se harde meesters geoordeel het, het Hy ook die harde meesters van sonde en die duiwel deur sy kruisdood geoordeel; hulle sal nie weer opkom om jou te onderdruk nie (v.13-14).  Hulle het geen mag oor jou nie, omdat Jesus jou koning is (v.13-14, Rom. 6:14, 1Joh. 5:18).  As hulle dan kom en vir jou sê dat jy vir hulle moet luister, kan jy vir hulle sê:  ‘Talk to my Lawyer’ (1Joh. 2:1).  Jesus het immers die prys vir jou sonde betaal en jou vrygemaak.  As hulle iets te sê het, kan hulle dit vir Hom sê (Rom. 8:33).

 

Alhoewel Israel se vyande haar uitgedun het (1:9), sal God haar in die toekoms vermeerder (v.15).  Dit sal nie nét deur biologiese voortplanting plaasvind nie, maar deur bekerings.  Dit het begin toe al die nasies van die aarde in Abraham se nageslag, nl. Christus, geseën is en deel van God se volk geword het (Gen. 12:3, Gal. 3:7, 16, 29, Ef. 2:11-22).

 

Dit sal ook in die toekoms gebeur, wanneer God die Jode en baie heidene red.  Paulus sê in Rom. 11:12, 15, 25-26 dat Israel in die toekoms gered sal word, en dat dit soos ‘n vuurhoutjie op petrol onder die heidene sal wees.  Dit sal m.a.w. ‘n wêreldwye herlewing meebring.  Die kerk sal grootliks vermeerder (v.15, Matt. 13:31-32).  God se tent sal te klein wees vir almal om in te pas (Jes. 54:1-3).  Israel se grense sal verbreed moet word om almal te akkommodeer (v.15).  In al hierdie dinge sal die Here verheerlik word (v.15).

 

Persoonlik dink ek dat ons te min vir die Jode se redding bid.  As hulle redding seën vir die wêreld sal beteken, verbaas dit my dat ons so min vir hulle bid.  Ek het tot verlede jaar nooit vir hulle gebid nie.  Wanneer laas het jý vir hulle gebid?  Paulus sê:  “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.” (Rom. 10:1).

 

As jy nog nie vir hulle bid nie, wil ek jou aanspoor om te begin.  ‘n Vriend van my het die afgelope week ‘n vir my aanhaling van D.A. Robertson gestuur.  Volgens Robertson het die Skotse prediker, Robert Murray McCheyne, elke dag ‘n uur lank vir die Jode gebid.[1]  ‘n Puritein genaamd Robert Leighton het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[2]

 

Die vermeerdering van God se volk in v.15, was ‘n antwoord op die gebed in v.16.  God het hulle gedissiplineer; in hulle benoudheid het hulle Hom gesoek en ‘n gebed gefluister (v.16, vgl. Eks. 2:23, Rigt. 3:15, 4:3, 6:7, 10:10, Ps. 137:1, Dan. 9:1-3).  By tye voel jy so moedeloos, dat jy skaars ‘n gebed kan fluister.  Die Here hoor jou en sal jou help.  Het Hy nie vir Jona gehelp toe hy nie eers kon fluister nie, omdat hy onder die golwe was (Jona 2:5, 7)?  En sal Hy nie hoor as jy sug, omdat jy nie weet hoe of wat jy moet bid nie (Rom. 8:26-27)?

 

A.g.v. God se tugtiging, was Israel soos ‘n vrou wat geboorte gee:  die krampe was erg en die trane intens (v.16-17).  Maar anders as met ‘n ma wat geboorte gee, het Israel se pyn nie in vreugde verander nie.  Dit was ‘n miskraam; hulle het wind gebaar (v.18).  Wat beteken dit?  Israel was onvrugbaar.  In hulle eie krag kon hulle niks doen om te vermeerder nie.  Toe hulle egter in gebed na die Here kyk, het Hy hulle vermeerder (v.15-16, Eseg. 36:37).

 

Is dit nie ook die rede hoekom baie gemeentes nie groei nie (insluitend ons eie)?  Ons hou vergaderings en beraam planne om vrugbaar te wees.  Maar as jy die bidure bywoon, hoef jy nie te wonder hoekom Christene ‘musical churches’ speel, terwyl daar bitter min bekerings is nie.  Dit help nie om planne vir groei te maak, terwyl daar vyf of tien mense by die biduur is nie.  En as ons by die biduur is, moet ons nie net vir tannie Kotie in die hospitaal bid nie (nie dat dit verkeerd is nie), maar ook dat die Here sy kerk sal bou, dat mense tot bekering sal kom, en dat die Here ‘n ware herlewing stuur.

 

Wil jy dit nie asb. oorweeg om by ‘n gemeente biduur in te skakel nie?  Die vroeë kerk het groei gesien, omdat hulle gebid het (Hand. 1:14, 2:42, 6:4, 4:31, 13:2-3).  Ek is oortuig dat wyle dr. Martin Holdt groei in sy bediening gesien het, omdat hy ‘n man van gebed was, en omdat sy gemeente vir hom gebid het.  Soos die apostel Paulus, wil ek vra dat jy hiervoor sal bid:  “Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle” (2Tess. 3:1).

 

Die môredou (v.19-21)

‘n Eks-Baptiste ds. het gesê dat die Ou Testament nooit van die opstanding praat nie.  Dit laat my aan die Sadduseërs dink wat dieselfde gesê het.  Volgens Jesus het hulle gedwaal, “omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt. 22:29).

 

Daar is ‘n paar tekste in die Ou Testament wat van die opstanding praat.  Jes. 26:19 is een van hulle.  Toe God se volk hopeloos was (v.16-18), het Hy ingegryp (v.19).  Toe Hy hulle uit Babilon teruggebring het, was dit soos ‘n opstanding uit die dood (Eseg. 37:12).  Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy opgestaan en ons in Hom (Joh. 5:24-25, Ef. 2:5-6).  Wanneer Israel in die toekoms tot bekering kom, sal die herlewing wat daaruit ontstaan soos ‘n opstanding wees (Rom. 11:15).  Wanneer Jesus uiteindelik na die aarde toe terugkeer, sal ons liggame uit die grafte uit opstaan (v.19, Job 19:25-27, Dan. 12:2, Joh. 5:28-29, 1Kor. 15).

 

Wanneer die Here sy kinders só opwek, sal ons van blydskap sing en Hom prys (v.19).  Dit is tog Hý wat ons laat lewe, net soos wat dou en lig die woestynplante laat lewe (v.19, Hos. 14:6).  Hý het die aarde beveel om aan die dooies se liggame geboorte te gee (v.19).  Die kraampyne van v.17-18 was nie verniet nie, maar dit sal uitloop op die verlossing van ons liggame (v.19, Rom. 8:22-23).

 

God se vyande is in die stof en die hel gewerp (v.5, 14), maar sy kinders sal uit die stof uit opstaan (v.19).  Wanneer Jesus terugkeer om ons só te verlos (v.19), sal Hy ook sy vyande oordeel (v.20-21).  Hy sal van sy troon af opstaan en uit die hemel uit neerdaal om met absolute verwoesting die goddelose te oordeel (v.21).

 

Niemand sal wegkom nie (v.21).  Die mense wat vir jare hulle sonde weggesteek het, sal uitgevang word (v.21).  Die aarde sal hulle weggee, soos wat ‘n klein seuntjie sy ouers se donker geheime verklap (v.21, Gen. 4:10).  Die aarde sal die vermoordes se lyke uitwys en die moordenaars aankondig, soos wat luminol bloed op die moordtoneel blou laat skyn (v.19, 21).  As die Here klaar die wêreld geoordeel het, sal daar geen ongeregtigheid oorbly nie.

 

Die moordenaar sal stomgeslaan wees, want ‘hoe die Here dít geweet?’  Dit geld vir elke sonde.  Daarom moet jy nie vir die duiwel luister as hy vir jou sê dat jy daarmee kan wegkom nie.  Jou sonde sal jou uitvind, en wat jy in die geheim gesê het, sal van die dakke af verkondig word (Num. 32:23, Luk. 12:3).

 

Ek weet van iemand wat onlangs haar werk verloor het, omdat sy in die geheim iets gesê het wat ‘per ongeluk’ openbaar geraak het.  Maar selfs as daar nie ‘n enkele persoon is wat van jou sonde weet nie, kan jy maar weet dat Jesus dit op die laaste dag gaan uitbring – Hy sien en weet alles (v.21, Joh. 16:30).

 

Jou enigste hoop is om jou te bekeer en met ‘n berouvolle hart na Jesus toe te kom.  As jy in Hom glo, kan jou gewete rus en hoef dit jou nie meer te pla nie.  Hy het die skuld vir sondaars op Homself geneem aan die kruis, en dus hoef jy nie meer skuldig te voel nie.  Omdat Jesus ons straf gedra het, sal God jou nie straf nie (Rom. 8:1).

 

Jy sal soos Israel in Egipte wees.  Toe God die Egiptenare se eersgeborenes getref het, het Israel agter bloedbesmeerde deurkosyne geskuil (Eks. 12).  Net so moet God se kinders hulle in hulle kamers toesluit, en bid dat die Here hulle genadig sal wees (v.20, Matt. 6:6).  Wanneer die storm van God se oordeel verby is, sal die son van sy genade vir ewig oor ons skyn (v.20).  Die storm sal ons nie tref nie, omdat ons in die ark van Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding skuil.  Omdat ons huise op die Rots gebou is, sal dit nie inmekaar tuimel wanneer die storm van God se oordeel oor die aarde losbreek nie (v.4, 20, Matt. 7:24-25).

 

As die storm verby is, sal alles waarvoor jy ooit gehoop het ‘n werklikheid word.  Dit sal soos Petro se troudag wees.  Sewe maande voor die tyd het sy al in haar kop gesien hoe mooi alles gaan lyk, en hoe wonderlik die vakansie daarná gaan wees.  Toe die troudag en wittebrood uiteindelik aanbreek, het dit haar wildste drome oortref.  Net so sal die blydskap geweldig wees wanneer die kraampyne en hoop van verlossing ten volle vervul word.  Dit sal soos ‘n ruspe wees wat in ‘n skoenlapper verander.

 

[1] Timothy Larsen, Ed., Biographical Dictionary of Evangelicals, Inter-Varsity Press, Leceister: England, p.382

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1971, 1998, p.75