Die gat in ons opvoeding

Family Worship

Daar is ‘n predikant in Johannesburg vir wie ek die wêreld se respek het.  En tog het hy voete van klei soos die res van ons.  Oor huisgodsdiens het hy vir my gesê:  ‘It is a cultural monkey we need to get off our backs.’  Ps. 78:1-8 stem nie met hom saam nie, maar dink dat huisgodsdiens baie belangrik is.

 

Hoe moet jy jou kinders leer? (v.1-5)

M.b.t. huisgodsdiens en die huwelik, het ‘n vriend van my in Limpopo my baie beïnvloed.  Van die dinge wat ons oor die jare in ons huisgodsdiens gedoen het, het ek by hom geleer.  A.g.v. hulle ouerskap en huisgodsdiens, vra hulle vyfjarige uit die bloute vir kuiergaste:  ‘Can I get you something?’  Volgens Ps. 78 is die invloed wat ‘n ouer op sy of haar kinders het, veel groter as wat ons besef.

 

Asaf het hierdie Psalm en elf ander geskryf (v.1, Pss. 50, 73-83).  Hy was ‘n musikant wat in Dawid se tyd die koor gelei het (1Kron. 15:16-17, 19, 16:4-5, 7).  Hy het hierdie Psalm geskryf om vir sy lesers lesse uit Israel se geskiedenis te leer (v.1).  Hy het musiek gebruik [Heb. maskîyl], sodat hulle dit makliker kon onthou (v.1).

 

Omdat die mens nog steeds so leer, is dit belangrik dat jy God se Woord vir jou kinders sing.  Leer vir hulle Bybelverse in sang.  Vermy maar die meeste kinderliede, omdat dit oppervlakkig is en nie ‘n hoë siening van God kweek nie.  Leer eerder vir hulle liede wat diep waarhede bevat, en sê vir hulle wat die woorde beteken.

 

Israel moes hulle ore vir Asaf se onderrig gespits het (v.1, kontra Hand. 7:51).  Ons moet dit ook doen, sodat ons ons kinders reg kan leer.  Ons moet ‘n hoë siening van die Bybel hê en glo dat dit nie die opinies van mense is nie, maar die Woord van God (v.1, 1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).  Ons moet dit gereeld inneem en toepas.  Ons ore moet oop wees vir die Woord, en ons kinders s’n ook.  Hoe kan jy dit regkry?

 

  • Moenie toelaat dat jou kinders gereeld huisgodsdiens mis, omdat hulle moet leer, by vriende is, uitgaan of skool aktiwiteite het nie.
  • Sorg ook dat jý dit nie mis, omdat jy altyd by die werk is nie.
  • Moet dit nie te laat in die aand doen wanneer almal moeg is nie.
  • Moenie toelaat dat jou kinders lê of speel terwyl jy met die Bybel besig is nie. Hulle moet regop sit en nie die res se aandag aftrek nie.
  • Vat jou kinders gereeld kerk toe. Moet hulle nie alleen stuur, omdat jy op Sondae jou eie ding doen nie.  Onthou dat dit die Here se dag is.  Doen jou werk, inkopies, sport, partytjies, wasgoed, ens. in die week of op ‘n Saterdag.  Moenie toelaat dat hierdie dinge jou van die Woord af weghou nie.
  • Probeer om die Woord in te neem wanneer jy dit op ‘n Sondag hoor. Rus genoeg op Saterdae, sodat jy nie op Sondae tydens die diens slaap nie.
  • Maak vooraf jou hart stil, sodat jy nie gedurende die preek aan die week se probleme dink nie. Pasop vir die duiwel wat jou aandag wil aftrek.
  • Bely en laat staan jou sonde, sodat dit jou nie doof maak vir die Woord nie.
  • Dissiplineer jouself om stil te sit en te luister. Moenie rondloop tydens die preek nie.

 

Die bg. dinge help nie as jy ongered is nie (1Kor. 2:14).  Jy moet eers deur geloof deel van God se volk wees (v.1, 1Pet. 2:9-10).  Die Heilige Gees moet jou dowe ore oopmaak om te verstaan dat jy a.g.v. jou selfsug en sonde ‘n terroris in God se Koninkryk is.  Ek hoef nie vir jou te sê wat God met terroriste doen nie.

 

En tog is jou toestand nie hopeloos nie.  God kan jou uit die straf kamp van jou sonde bevry.  Gebruik die sleutels van geloof en bekering om uit te kom.  Wees dankbaar dat Jesus namens jou in die straf kamp gesterf het.  Wees ook dankbaar dat Hy uit die dood uit opgestaan het, en dat jy saam met Hom in sy Koninkryk van liefde kan lewe en met oop ore die pragtige musiek van die Woord kan geniet.

 

As jy gered is, moet jy hierdie evangelie met die volgende geslag deel.  Hoe moet jy dit doen?  Gebruik gelykenisse, stories, beelde en illustrasies, sodat hulle as’t ware die waarheid in hulle verbeeldings kan sien (v.2, Matt. 13:34-35).  Jy hoef nie eers illustrasies uit te dink nie; die Bybel is vol daarvan.

 

As jy bv. geloof wil verduidelik, kan jy vir hulle vertel hoe ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke wegsteek, sodat die valk hulle nie kan vang nie.  As ons in Jesus glo, is ons veilig onder sy vlerke, en kan die valk van sy toorn ons nie vang nie.  Jesus het reeds aan die kruis die straf gedra wat ons verdien.

 

Om God se verlossing verder te verduidelik, kan jy vir hulle vertel dat ons soos stoute kinders is wat van die huis af wegloop en ons ouers se geld mors.  Bekering is soos ‘n rebelse kind wat alles verloor, tussen die varke beland, tot sy sinne kom, berou het oor wat hy gedoen het, en na sy huis toe terugkeer.  Vergifnis is soos ‘n pa wat na hierdie rebelse kind toe hardloop, hom omhels en soen, vir hom geskenke gee en ‘n groot partytjie hou.

 

Maar om net illustrasies te gebruik is nie genoeg nie.  Sonder die Heilige Gees bly die evangelie ‘n raaisel uit die verlede, en kan mense dit nie verstaan nie (v.2, Matt. 13:9-17).  Moet dan nie net die Bybel vir jou kinders uitlê nie, maar bid dat die Here hulle harte sal oopmaak, sodat hulle die ou ou tyding kan verstaan (v.2, Jer. 6:16, Hand. 16:14).

 

Herhaling is belangrik.  Israel was nie onbekend met die dinge wat Asaf in hierdie Psalm geskryf het nie.  Hulle het die stories by hulle ouers gehoor en goed geken (v.3, 44:2).  En tog het Asaf hulle daaraan herinner.  Doen dieselfde met jou kinders.  Leer hulle aanhoudend, sodat hulle die Woord kan onthou (2Pet. 1:12-15).

 

Verder moet jy ook die lesse in mense se lewens gebruik om jou kinders te leer (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11).  Die lewe van Josef wys bv. hoe God mense se sonde gebruik om sy goeie planne uit te werk.  Maar dit beteken nie dat jy opsetlik moet sondig nie.  Die geskiedenis van Adam en Eva wys dat sonde ernstige gevolge het.  Die storie van Rut wys dat God elke tree van die pad beplan het, al voel dit partykeer of Hy jou verlaat het.  Jesus wat die storm stil maak wys vir ons dat Hy God is, en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

 

Onthou asb. dat God die hoofkarakter in elke storie is, en dat die les altyd oor Hom moet gaan.  As jy jou kinders bv. van Dawid en Goliat vertel, is die punt nie dat God groot potensiaal in onbelangrike mense sien nie, maar dat Hy so sterk is dat Hy ‘n seuntjie met ‘n slingervel kan gebruik om ‘n gewapende reus dood te maak.

 

As jy jou kinders só leer, sal hulle die Here vrees, liefhê en bewonder.  As jy egter ‘n Kinderbybel of VeggieTales DVD met snaakse prentjies in gebruik, sal hulle Hom nie ernstig opneem nie.  Dit sal wees soos ‘n preek wat ek 2012 gehoor het.  Dit het oor die erns van sonde gegaan.  Die prediker se uitleg van Agan se sonde in Jos. 7 was goed, maar hy het soveel humor gebruik dat ‘n mens die idee gekry het sonde is glad nie ernstig nie.  Let op wát jy vir jou kinders leer, maar ook op die manier wat jy dit doen.

 

Asaf sê verder dat ons nie die Woord vir ons kinders moet wegsteek nie, maar dat ons hulle van sy heerlike en kragtige dade moet vertel (v.4).  Daar is ouers wat hierdie dinge vir hulle kinders wegsteek, omdat hulle nie tyd maak vir huisgodsdiens nie, omdat hulle hulle ongereeld kerk toe bring, omdat hulle nie van ‘n persoonlike verhouding met die Here getuig nie (hulle kinders sien nie dat hulle die Bybel lees en bid nie), en omdat hulle onheilige lewens die waarheid verbloem.  Moenie so wees nie, maar bely jou sonde.  Vra die Here se hulp om te doen wat reg is.

 

Om die Bybel vir jou kinders te leer is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (v.5).  Jy móét dit doen.  Die Bybel is nie net vir jou persoonlike stiltetyd bedoel nie, maar sodat jy jou kinders van die Here kan leer (v.5).  Dit help nie jy deel die evangelie met die nasies, terwyl jou eie kinders oppad hel toe is nie.  Om jou kinders effektief te leer, moet jy die volgende dinge doen:

 

[1] Voor jy jou kinders leer moet jý die Here vrees, glo dat Hy die enigste God is, Hom met alles in jou liefhê, die Bybel ken, in jou hart bêre en gehoorsaam wees (Deut. 6:1-9).  As jy sê maar nie doen nie, sal hulle jou, die Here, of beide verag.

 

[2] Huisgodsdiens gebeur nie vanself nie; jy moet daarvoor beplan.  Hoe laat gaan jy dit hou en wanneer gaan jy begin?  As jy nie beplan nie, sal jou besige program huisgodsdiens eenkant toe skuif sodat dit nie gebeur nie.

 

[3] Leer jou kinders om die Here in die gemeente te dien (1Kor. 16:15).  In die begin kan hulle klein dinge doen, soos om iets vir ou mense aan te dra.  Sorg ook dat jy gereeld ander gelowiges in jou huis het (Heb. 13:2).  Gasvryheid is ‘n goeie manier om diensbaarheid vir jou kinders te leer.

 

[4] Skerp die Woord by hulle in (Deut. 6:7).  Leer hulle elke dag.  Hou dit kort en eenvoudig as die kinders klein is.  ‘n Puritein genaamd Samuel Lee het gesê:  ‘A young plant may be quickly overloaded with manure and rotted with too much watering.’[1]  As jy dus vir ‘n tweejarige die skeppingsverhaal vertel, moet jy nie die hele hoofstuk lees nie.  Sê eerder:  ‘God het alles gemaak:  die son, die maan, die vissies, die voëltjies, die diere.  Heel laaste het hy mense gemaak.  God is baie sterk en goed.’  As jou kinders ouer is, kan jy ‘n paar verse lees en dit uitlê soos wat jy aangaan.

 

Jy kan ook Bybel Vrae en Antwoorde by Augustine Bookroom in Pretoria bestel.  Dit leer hulle op ‘n vraag en antwoord basis oor God, die skepping, die sondeval, verlossing, Jesus, die Tien Gebooie, die doop en die nagmaal, gebed, die dood, die hemel, die hel en meer.

 

Begin as jou kinders ‘n paar maande oud is – jy sal verbaas wees hoe gou hulle leer.  Vra ‘n vraag tot hulle dit ken (‘Wie het jou gemaak? God’), en beweeg dan na die volgende vraag toe.  Hersien die vrae wat hulle ken.  As hulle ouer is, kan jy die antwoorde bespreek:  ‘Is jy deur toeval of evolusie hier?  Nee, God het my oor ‘n tydperk van 9 maande in die baarmoeder gevorm.’

 

Spreuke werk ook vir ouer kinders, aangesien dit geskryf is om vir hulle basiese lewenswysheid te leer (Spr. 1:4, 8, 2:1, 3:1, 4:1, 5:1, 6:1, 7:1, ens.).  Dit sal hulle leer om hard te werk en nie lui te wees nie, die regte vriende te kies, goed te werk met geld, te veel drank te vermy, hulle emosies en hormone te verstaan en te beheer, ens.

 

Karaktertrekke werk ook goed.  Leer bv. vir hulle ‘n maklike definisie van volharding (‘moenie gou opgee nie’), en memoriseer ‘n gepaste Bybelvers:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal. 6:9).  As hulle die karaktertrekke goed ken, kan jy dit handig gebruik:  ‘Ek weet jy wil graag in die eerste span wees, maar moenie so gou opgee nie; hou aan om hard te oefen.’

 

Saam met al hierdie dinge moet jy die evangelie met jou kinders deel.  Dit is nie genoeg om hulle van die tien plae of Daniël in die leeukuil te vertel nie.  Te veel ouers neem aan dat hulle kinders gered is, omdat hulle in ‘n Christelike huis grootword, of omdat hulle as babas gedoop is.

 

Jy móét vir jou kinders sê dat hulle nie a.g.v. jóú geloof gered is nie.  Hulle is met ‘n sondige natuur gebore en sondig van kleins af (Ps. 51:7, 58:4).  Omdat die Here heilig is, gaan Hy hulle hiervoor oordeel (Op. 20:12, ‘klein en groot’).  Maar as hulle jammer is oor hulle sonde, dit haat, en in geloof na die Here toe draai, sal Hy hulle red, vergewe en as sy kinders aanneem.

 

[5] Bid saam met jou kinders.  Hou dit kort as hulle klein is.  Jy kan bv. vir ‘n eenjarige sê om agter jou aan te bid:  ‘Sê:  Dankie… Jesus… Amen.’  Jou kinders sal ook uit jóú gebede leer.  Bid daarom met eerbied en respek, sodat hulle kan leer dat die Here groot en heilig is.  Wees vars in jou gebede; moenie elke dag dieselfde ding bid nie (bv. rympies).  Om vars te bly, moet jy self ‘n gebedslewe hê.

 

Waarvoor moet jy bid?  Bid heel eerste vir mekaar en vir die redding van jou kinders se siele.  Moenie die impak van jou gebede onderskat nie.  As jy gereeld en getrou vir jou kinders bid, sal jy ‘n invloed in hulle lewens hê.  Bid ook vir die leraar en die ouderlinge, bekerings, mense in die kerk, sendelinge en siek mense.  Leer hulle om nie vaag te bid nie, maar spesifiek.  ‘Here, help asb. vir Arrie om werk te kry…’ is beter as:  ‘Here, help asb. al die mense in die hospitale en langs die strate…’

 

Gee vir elkeen ‘n beurt om te bid.  Moenie jou kinders se gees demp as hulle gebede onvolmaak is nie.  Jy self bid nie perfek nie.  Wanneer jy jou kinders help om Bybels te bid, moet jy dit in ‘n gees van sagmoedigheid en liefde doen.

 

Bid spesiaal voor die nagmaal.  Gee vir elkeen ‘n kans om sy of haar sonde te bely.  Dalk wil jy nie jou sonde voor jou kinders bely nie, maar eintlik sal dit hulle help om gereeld te hoor dat jy, soos hulle, ‘n sondaar is, en dat jy ook die Here se genade nodig het.

 

[6] Bring jou kinders na die eredienste en Bybelstudies toe (Jos. 8:34-35, Hand. 10:24-33).  Wees opgewonde oor Sondae.  Sê vir hulle:  ‘Dis die Here se Dag!  Ons gaan God se kinders sien, Hom prys en sy Woord hoor!’  Praat na die erediens oor God se Woord en die mense.  ‘Dit was lekker om weer vir tannie Hannie te sien; sy was lank in die hospitaal.’  As jou kinders ouer is, kan jy die preek bespreek.  Moenie van individue, die kerk of die leraar skinder nie.  Jy sal jou kinders negatief maak teen die Here, sy Woord en sy liggaam.

 

[7] Leer jou kinders op ‘n informele vlak.  Met kleintjies werk gelykenisse goed:  ‘God sorg vir die mossies en nog meer vir sy kinders; mense is belangriker as voëltjies.’  Met ouer kinders kan jy in die kar praat oor wat by die skool gebeur het (Deut. 6:7).  Gee vir hulle Bybelse antwoorde oor boelies, kinders wat gespot word, rassisme, kinders wat vloek, rook, drank, seks, watse rol uiterlike voorkoms speel, respek vir onderwysers, huiswerk, evolusie in die handboek, ‘n goeie sportmangees, karakter, ens.  Werk hard om vir hulle ‘n Bybelse wêreldbeskouing te gee.

 

As jy by ‘n advertensie bord verby ry, kan jy hulle leer wat God van uiterlike voorkoms en rykdom dink.  Leer hulle oor ware liefde as hulle in Frozen of Tangled sien hoe ‘n man en vrou mekaar ontmoet, en binne 24 uur verloof raak.  Sê vir hulle dat egskeiding, homoseksualiteit, saambly en aborsie nie God se goedkeuring wegdra nie.

 

[8] Dissiplineer jou kinders (Spr. 22:15, 29:15, Ef. 6:4).  So leer jy hulle die Bybel en help jy hulle om te verstaan dat sonde pynlike gevolge het (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).  Moet hulle nie oordissiplineer nie.  Jy kan nie ‘n kind op medisyne grootmaak nie.  Moet hulle ook nie onderdissiplineer nie.  As jy nalaat om hulle pak te gee, beskadig jy hulle siele en pluk jy vir jouself ‘n lat (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[2]

 

Dalk vrees jy dat al hierdie ‘toewyding’ jou kinders opstandig sal maak en vir hulle ‘n weersin in God, die Bybel en die kerk sal gee.  Dit sal nie.  Hulle sal net opstandig raak as jy skynheilig is, as jy nie dieselfde persoon by die kerk is as by die huis nie.  Hulle sal opstandig raak as jy altyd by die kerk moet wees, maar te besig is om húlle aktiwiteite by te woon.  Hulle sal die Bybel verag as jy dit net gebruik wanneer hulle verkeerd doen:  ‘Die Bybel sê…!’

 

Wie se plig is dit om jou kinders van die Here te leer?  Dit is nie die skool, Sondagskool, jeugleier, sielkundige, bediende, TV of iemand anders se plig nie.  As hoof van die huis is die pa hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik (v.3, 5, Gen. 18:19, Ef. 6:4, 1Tim. 3:4-5, 12).  As die pa die Here liefhet en vir sy gesin die Bybel leer, gebeur dit gewoonlik dat hulle sy voorbeeld volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Saam met die pa is die ma mede-verantwoordelik.  Sy moet ook die kinders leer (Spr. 1:8).  As sy pligsgetrou is, kan sy ‘n groot invloed op haar kinders se lewens, en sodoende op die samelewing hê (Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Wat as ‘n kind se pa, ma of beide nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas, oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop die Here red hulle nie – doen iets.

 

Die kerk moet ook betrokke raak by die kinders van wie een of beide ouers nie die Here ken nie.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as sy seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

 

Hoekom moet jy jou kinders leer? (v.6-8)

Sammy leer haar kinders, sodat hulle goeie maniere kan hê en mense haar geluk kan wens.  Oliver leer sy kinders, sodat hulle reg sal doen en hom nie in die verleentheid stel nie.  Cornelia leer haar kinders, sodat hulle top atlete, studente en leiers kan wees.  Kenny leer sy kinders, sodat hulle ‘n goeie karakter kan ontwikkel en suksesvol kan wees in die toekoms.  Sonja leer haar kinders, sodat hulle goeie vriendskappe kan bou en eendag gelukkig getroud kan wees.

 

Maar nie een van hierdie redes is goed genoeg nie.  Hoekom móét jy jou kinders leer?  In v.6-8 gee Asaf vir ons die rede:  leer jou kinders, sodat hulle God en sy Woord kan ken en vir húlle kinders kan leer.  As jy dit goed doen, is dit nie net jou kinders wat die Here sal dien nie, maar die geslagte wat kom.

 

‘n Man in ons gemeente het my vertel dat sy vrou se oupa die Here getrou gedien het.  Op sy begrafnis het hulle besef hoe baie van sy kinders en kleinkinders deur sý voorbeeld tot bekering gekom het.  Moenie bang wees dat jou kinders die evangelie sal verwerp nie.  Bid vir hulle, leer die Bybel vir hulle, stel ‘n goeie voorbeeld en los die res vir die Here.

 

As jy nalaat om dit te doen benadeel jy nie net jou kinders nie, maar die geslagte wat kom (v.6-8).  As jý nie hulle gedagtes met die waarheid vul nie, sal die wêreld en haar vals godsdienste dit vul.  Jou kinders sal op hulleself en die wêreld hoop, en nie op die Here nie (v.7).  Hulle sal sy groot werke vergeet en sy Woord ignoreer (v.7).  Hulle sal rebels, hardkoppig en ontrou wees (v.8, Rigt. 2:10-12).

 

Asaf sê vir ons hoekom baie kinders die kerk verlaat wanneer hulle universiteit toe gaan.  Hulle het hulle ouers se lewens dopgehou en gesien dat hulle skynheilige kerkmense is (v.8).  Op ‘n Sondag sing hulle Psalms, maar op ‘n Maandag vloek hulle hulle werkers, veg hulle soos honde in die huis, drink hulle te veel en kyk hulle vuil programme op TV.  In hulle harte het hierdie kinders al die kerk verlaat toe hulle in die laerskool was; dit het eers sigbaar geword toe hulle 18 is.

 

Wil jy hê jou kinders moet hulle hoop in die Here stel, in Hom glo, Hom dien, op Hom vertrou, Hom prys, standvastig en gehoorsaam wees, getrou wees in hulle harte (v.5-8)?  Sorg dan dat jy dit eerste doen en vir hulle die Bybel leer.  Bekeer jou, glo in Jesus Christus en bid dat hulle dieselfde sal doen.  So sal die slegte voorbeeld van party van ons Afrikaanse voorvaders nie na hulle toe deursyfer nie (v.8, 1Pet. 1:18).

 

Moet asb. nie jou kinders aan die duiwel, die wêreld of hulleself oorlaat nie; help hulle.  Wees soos John Paton se pa.  In sy hele lewe het hy nie eenkeer nagelaat om oggend en aand huisgodsdiens te hou nie.  Volgens Paton het nie een van die elf kinders opstandig geraak hieroor nie.  Inteendeel, dit het hulle lewens verander.[3]  Jare later het ‘n hele eiland onder Paton se prediking tot bekering gekom.  Waar het dit begin?  Om ‘n kombuistafel met ‘n oop Bybel.

 

[1] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p. 138

[2] Ibid., p.139

[3] John Paton: Missionary to the New Hebrides, pp.14-17