Jou stryd teen die duiwel

Sword of the Spirit

Theo is net oor die 7 voet (210 cm) en weeg 135 kg.  Hy het al meer as 80 mense vermoor en is ‘n gevaarlike misdadiger.  Toe die polisie hom vang, het hulle die wagte gewaarsku om nie naby sy sel te kom nie.  ‘Hy sit nou wel agter tralies, maar wees versigtig.  As jy met hom praat sal hy jou oortuig dat hy eintlik baie gaaf is.  Maar as jy te naby die tralies kom, sal hy jou aan die keel gryp en jou verwurg.  Bly weg.’

 

Satan is so:  hy is onverdunde boosheid, maar hy sal jou mislei om te glo dat hy eintlik jou beste belange op die hart dra.  Vermy hom; moenie met hom praat nie.  Al wat jy vir hom moet sê is wat God in die Bybel sê.  Moenie dink dat jy hom met jou eie wysheid en krag kan wen nie.  Hy het 6000 jaar se ervaring en is die meester van versoeking.  Vertrou daarom op die Here.  Dit is wat Paulus in Ef. 6:10-13 vir ons leer.

 

God se mag (v.10-11a, 13)

Jantjie se pa is ‘n soldaat in die weermag.  ‘Pa kan my BB Gun leen,’ sê hy die aand voordat sy pa vlieg.  Ons lag, maar soms dink ons dat ons met menslike wapens teen die duiwel kan veg.  In party kerke ignoreer mense Ef. 6 en wil hulle die duiwel bestraf, vir bevryding gaan, vloeke breek, demone bind en hout renosters wat in Zimbabwe gemaak is in die vuur gooi (omdat demone kamtig deur hierdie ‘vervloekte’ voorwerpe in jou huis inkom).

 

Maar dit gaan nie help nie, want om teen die duiwel te veg moet die Here ons harte versterk, en moet sy heerlike en kragtige wapens deur ons werk (v.10-11, 13, 1:19, 3:16, 20).  “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp” (2Kor. 10:3-4).

 

Dit geld nie net op ‘n individuele vlak, asof jy ‘n skerpskutter, Green Beret of Recce is wat op jou eie werk nie.  Ef. 6:10-20 is vir ‘n gemeente geskryf; jy is deel van ‘n weermag.  Omdat dit so is, moet jy sáám met ander gelowiges teen die duiwel stry.  As jy jouself eenkant hou en nie deel van ‘n gemeente is nie, gaan jy dit nie maak nie.  “Twee is beter as een… Want as hulle val, kan die een sy maat optel, maar wee die een wat val sonder dat daar ‘n tweede is om hom op te tel.” (Pred. 4:9-10).

 

As jy buite die gemeente is, is jy deel van die wêreld, beweeg jy op die duiwel se terrein en verbeur jy God se beskerming (1Kor. 5:4-5, 1Joh. 5:18-19).  Daarom is dit belangrik dat jy deel van ‘n gemeente is.  Soos die vroeë Christene moet jy gereeld saam met ander gelowiges die Woord hoor, geestelike gemeenskap hou, die nagmaal vier en bid (Hand. 2:42).  Dit is tog hoe jy die wapenrusting aantrek om teen die bose magte te stry.

 

Paulus noem dit die wapenrusting van God (v.11, 13).  Hý het dit ontwerp en gedra toe Hy op die aarde was (Jes. 11:5, 59:17).  Dit is heeltemal duiwel-bestand en kan nie faal nie; dit is voldoende vir die stryd.  Dit is nie soos Saul se wapenrusting wat nie vir Dawid gepas het nie.  As jy aan Jesus behoort pas dit perfek.

 

Dit sal jou teen elke versoeking help.  Jy hoef nie kursusse in die okkulte te loop of boeke daaroor te lees om teen die duiwel te veg nie.  Jy hoef nie geboue met olie te salf of sekere formules te gebruik nie.  Jy hoef nie die demone se name te ken of enigiets te doen wat nie in Ef. 6:10-20 staan nie.

 

Trek eenvoudig die volle wapenrusting van God aan (v.11, 13).  Hoe doen mens dit?  Moenie die nuttelose raad van populêre vroue-ontbyt-sprekers volg wat sê dat jy elke oggend voor die spieël moet staan, ‘n sekere ritueel moet volg en vir jouself, die Here en die duiwel moet sê dat jy die wapenrusting aantrek nie.

 

Om die wapenrusting aan te trek beteken eerder dat jy die waarheid leef en praat, heilig lewe, gered is, die evangelie deel, op die Here vertrou, die Woord ken en gebruik, en gereeld bid (v.14-20).  Jy moet m.a.w. die vuil klere van jou ou sondige lewe uittrek en die skoon klere van jou nuwe lewe aantrek (4:22-24).  Jy moet in Jesus glo en nie skaam wees om dit in die doop te bely nie (Gal. 3:26-27, Rom. 13:12, 14).

 

Sommige van my hoorders en lesers het nié die wapenrusting aan om hulle teen die duiwel te beskerm nie, omdat jy leuens vertel, onheilig is, ongered is, nie die evangelie deel nie, op jouself vertrou, nie die Bybel ken nie, nie gereeld bid nie en nie bereid is om in die doop met Jesus te identifiseer nie.  Jy is ‘n oop teiken vir die duiwel, en nog ‘n groter teiken vir God se toorn.

 

As ek jy is sal ek dadelik my sonde los en vir die Here vra om my te vergewe.  Toe ‘n Skotse vrou haar predikant oor die evangelie gevra het, het hy vir haar gesê:  ‘Gaan huis toe en bid elke dag hierdie drie woorde:  “Wys my myself.”  Kom terug as die Here jou gebed beantwoord het.’

 

Sy het teruggekom en gesê dat dit aaklig was, omdat die Here vir haar gewys het hoe lelik haar sonde is.  Die predikant het haar weer weggestuur en vir haar gesê om die volgende drie woorde te bid:  ‘Wys my Uself.’  Na ‘n week of twee het sy teruggekom en getuig dat die Here haar gered het.[1]  As jy nog in jou sonde lewe en jou gewete jou pla, sal ek jou aanraai om dieselfde te doen.

 

Dalk is jy ‘n gelowige wat nagelaat het om sekere dele van die wapenrusting op te neem, omdat dit vir jou swaar en ongemaklik geraak het.  Vra die Here om jou te vergewe en dissiplineer jouself om dit weer op te neem.  Keer terug na die militêre basis toe en hervat jou opleiding.  Praat weer in gebed met die Here, luister na sy stem in die Bybel, woon weer die Bybelstudies, bidure en eredienste by, deel die evangelie met ongelowiges, leef en praat die waarheid, wees anders as die wêreld en vertrou op die Here.

 

As jy dít doen sal jy nie spyt wees wanneer die bose dag van versoeking soos ‘n leeu mannetjie op jou afstorm nie.  Jy sal gereed wees, vasstaan, en aan die einde van die geveg die vyand by jou voete sien lê (v.11, 13, Rom. 16:20).

 

Satan se streke (v.11b)

My vriend het eenkeer ‘n oproep gekry om te sê dat hy ‘n gratis vakansie gewen het.  Om die prys te kry moes hy ‘n seminaar bywoon.  Hy het dit gedoen, maar nie die beloofde prys gekry nie.  Daarna het hy hulle ‘n paar keer gebel, maar hulle het hom geïgnoreer.  Hy het hulle geteister tot hy die vakansie gekry het.  Op die einde moes hy ‘n paar rand inbetaal.

 

Die duiwel weet dat ons nie sy seminare oor sonde sal bywoon nie, en daarom versoek hy ons met aanloklike beloftes.  In v.11b praat Paulus van sy liste of streke.  Die gewone manier waarop die duiwel mense aanval is nie om hulle te liggame te beset nie, maar om hulle te mislei.  Hoe doen hy dit?

 

Die woord vir liste in v.11b [methodeia] kom slegs hier en in 4:14 voor.  In 4:14 praat dit van die misleiding van vals leraars.  Dit is die grootste manier waarop die duiwel mense vang:  hy verdraai die Bybel (2Kor. 10:3-5, 11:3, 13-15, 1Tim. 4:1-3, 1Joh. 4:1-6).  Hy gebruik predikers wat:

 

  • Die konteks ignoreer;
  • Dinge by die Bybel byvoeg of weglaat;
  • Nie die volle raad van God verkondig nie (Hand. 20:27), maar net die mooi goed preek wat mense lekker laat voel (2Tim. 4:3-4);
  • Nuwe dinge sê wat nie deel van ons erfenis en die kerk se geskiedenis is nie (kontra Jer. 6:16).

 

Op ‘n persoonlike vlak versoek en mislei hy ons op die volgende maniere:

 

[1] Hy verdraai die Bybel en haal dit buite konteks aan (Gen. 3:1, Matt. 4:6).  Hy sal bv. vir jou sê om nie ‘n medegelowige oor sy of haar sonde aan te spreek nie, omdat ons nie mag oordeel nie, en omdat hy wat sonder sonde is die eerste klip moet gooi.

 

[2] Hy bevraagteken God se Woord (Gen. 3:1).  Hy sal jou bv. versoek om verse oor homoseksualiteit, uitverkiesing en die hel te bevraagteken.  Hoe kan ‘n God van liefde so wreed wees om mense wat gay gebore is hel toe te stuur?  En hoe kan Hy sommige mense uitverkies en ander nie?

 

[3] Hy betwyfel God se goedheid en sê dat Hy goeie dinge van jou weerhou (Gen. 3:1, 5).  ‘Hoe kan ‘n goeie God toelaat dat my kind doodgaan?… ‘n Mens wonder of Hy regtig vir sy kinders omgee:  hoekom gaan dit goed met dié wat Hom verwerp, terwyl dié wat Hom dien finansieel sukkel?’

 

[4] Hy sê vir jou dat daar nie gevolge vir jou sonde sal wees nie (Gen. 3:4).  ‘Jy kan egbreuk pleeg sonder dat dit jou huwelik benadeel, jy kan skei sonder dat dit jou kinders negatief beïnvloed, jy kan skinder sonder dat dit verhoudings versuur.’

 

[5] Hy sê vir jou dat niemand van jou sonde sal weet nie.  Maar deur God se voorsienigheid sal Hy jou sonde aan die lig bring (Num. 32:23, Luk. 12:2-3).  Ek het Maandag ‘n pakkie by die Gereformeerde kerk gaan aflaai.  Toe ek by die erf inry, toe vra die tuinier dat ek om die tuinslang moet ry en nie bo-oor nie.  Toe ek my kar parkeer het, het hy na my toe aangekom.  ‘Is jy Ivor?’  Hoe op aarde het hy dit geweet?

 

Hy het 13 jaar gelede vir ‘n week of twee in my tuin gewerk.  Gestel ek het my humeur met hom verloor en hom gevloek.  Ek sou nie eers geweet het dat hy my ken nie.  Dit sou ‘n slegte getuienis gewees het.  En wat as hy besluit het om kerk toe te kom en vir die gemeente te sê dat ek ‘n slegte voorbeeld is?

 

[6] Hy sê vir jou dat die sonde jou sal bevoordeel (Gen. 3:5).  ‘Met R50 000 kan jy jou skuld afbetaal en jou gesin help.  Die maatskappy se omset is R100 miljoen per jaar.  Hulle sal nie eers die R50 000 mis of agterkom dat dit gesteel is nie.

 

[7] Hy sê vir jou dat niemand vir jou kan sê wat jy moet doen nie (Gen. 3:5).  ‘Dit is jóú lewe en nie jou ouers s’n nie; hulle kan nie vir jou sê dat jy nie met iemand van ‘n ander godsdiens mag trou nie.’

 

[8] Hy sê vir jou dat die sonde lekker sal wees (Gen. 3:6).  Dit sal inderdaad lekker wees om iemand sleg te sê of dronk te word… totdat jou gewete jou pla, mense dit gedurig ophaal, jou verhouding met God en mense versteur is, of jy ‘n kind doodry en in die tronk beland.

 

[9] Hy pla jou, sodat jy nie die Woord kan inneem nie (Mark. 4:15).  ‘Die preek is vervelig, ek wil slaap… Ek wonder hoe lank die preek nog gaan aanhou?… Ek het baie om te doen hierdie week… Ek sien nie uit na môre se vergadering nie… So ‘n vark; hoe durf hy dit vir my sê!… Ek gaan haar nek omdraai… O ja, ons is besig met Ef. 6; by watter vers trek ons nou?’

 

[10] Hy maak jou bang, veral vir die dood (Heb. 2:14-15).  Hy versoek jou bv. om te dagdroom dat skelms by jou huis inbreek en jou doodmaak.  Hy werk in jou verbeelding om te dink dat jou lewensmaat, kind of geliefde dood is, en dat jy alleen agterbly.  Hy maak die versoeking so realisties, dat jou oë vol trane skiet.

 

Satan is die meester-brein agter hierdie streke (v.11).  Maar hy is nie die enigste een wat jou versoek nie (v.12).  Dit bring my by my volgende punt.

 

Satan se helpers (v.12)

In die 1980’s het die Ghostbusters wapens ontwerp waarmee hulle spoke verdryf het.  Ons weet natuurlik dat dit net in stories gebeur, en dat jy nie met menslike wapens teen demone kan veg nie; hulle is bose geeste wat nie liggame het soos ons nie (v.12).  Dit is hoekom ons God se wapens nodig het (v.13).

 

Jesus het reeds die stryd op Golgota gewen, maar dit beteken nie dat ons die duiwel gaan stoomroller nie.  Die Griekse woord [palē] praat van ‘n stoeigeveg (v.12).  Volgens v.12 is dit ‘n intense stryd “teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.”

 

Dit lyk of hierdie ‘n rangorde van demone is (v.12, 1:21, 2:2, Kol. 1:16).  Jy hoef egter nie die presiese orde te ken nie.  As dit belangrik was sou die Bybel dit vir ons gesê het.  Wat jy móét weet is dat demone sterker as jy is, en dat jy Goddelike wapens teen hulle benodig.  Paulus se beskrywing van die demone impliseer dit.

 

Hy praat van owerhede, wêreldheersers en magte (v.12).  Hulle versoek wêreld leiers om hulle gesag te misbruik en mense te onderdruk (Jes. 14, Eseg. 28, Dan. 10, Op. 13).  Die demone hits hulle aan om geldgierig en korrup te wees, om die kerk te vervolg, en om sondes soos aborsie, gay huwelike, prostitusie, dwelm misbruik en seksuele immoraliteit wettig te maak.

 

Omdat die probleem geestelik is, kan geld, politiek en opvoeding dit nie omkeer nie.  Om mense uit Satan se mag te bevry, het ons die wapens van v.14-18 nodig.  Sonder die Woord, gebed, die evangelie, waarheid, geregtigheid en geloof, sal hulle in die donker tronksel van die wêreld sit waar die duiwel hulle oppas (v.12, 1Joh. 5:19).  Die donker sel beteken dat hulle nie God se lig in die evangelie sien nie, en dat hulle nog in die duisternis van hulle sonde lewe.

 

Hoe hou die duiwel hulle daar?  Ons het reeds gesien dat hy vals lering gebruik.  Hy gooi ook die stroop van versoeking oor die giftige appel van sonde.  Deur musiek, die internet, TV, die filmbedryf, ens., maak hy sonde aanloklik.  Verder gee hy vir ongelowiges die idee dat Jesus en die kerk ‘weird’ en vervelig is, en dat ons radikaal teen plesier is.  Met vaal kleure skilder hy die kerk as ‘n plek waar mense ‘n klomp reëls moet hou en na lang toesprake moet luister.

 

Die duisternis van v.12 beteken ook dat hy mense versoek om geheime motiewe en versteekte agendas te hê, om slegte begeertes te hê maar voor mense te maak of hulle goed is, om agteraf te wees, om dinge in die geheim te doen.  Maar geen Christen moet so privaat wees dat mense nie eintlik weet wie of wat hulle regtig is nie (1Joh. 1:5-7).

 

Hoekom is demone se versoeking so subtiel en so erg vir ‘n ware Christen?  Dit is erg omdat sonde teen ons nuwe natuur is, en omdat demone pure boosheid is (v.12).  Daar is nie een krummel van goedheid in hulle nie; hulle is een groot massa van sonde en nie in staat om goed te doen nie.  Alles wat hulle dink, doen, sê en begeer is boos.  Hulle is vuil, boos, pervers, goddeloos en haatlik.

 

Die versoeking is subtiel omdat demone onsigbare geeste is (v.12).  Omdat hulle nie liggame het nie, kan ‘n paar duisend van hulle een mens se liggaam beset (Mark. 5:13, Luk. 8:30, 32).  Omdat die Heilige Gees in ons woon, kan hulle nie ‘n Christen se liggaam beset nie (Joh. 14:16-17).  Sal God ons harte met die duiwel deel?

 

Alhoewel demone nie ons liggame beset nie, kan hulle ons gedagtes beïnvloed.  Dit is subtiel, omdat jy hulle nie kan sien nie en soms dink dat dit jóú gedagtes is.  Dit is ook erg omdat hulle oral om jou is (v.12).  Maar onthou asb. dat God se heilige engele ook om jou is, dat hulle meer en sterker as demone is, en dat demone banger vir die Here is as wat honde vir donderweer en klappers is (Mark. 1:23-26, Luk. 8:28, 31, Heb. 1:14, Jak. 2:19, Op. 12:7-9).

 

Wees bly dat hierdie God aan jou kant is, dat Hy jou nie sal verlaat nie, dat Satan nie jou redding kan steel nie, en dat God sy wapenrusting vir jou gee om Satan se versoekings te weerstaan.  In die volgende preek sal ek Ef. 6:14-20 uitlê en in meer detail vir jou sê hoe om die wapenrusting te gebruik.[1]  As jy dit getrou toepas, sal jy jou wapens so goed, effektief en dodelik kan gebruik soos wat die legendariese Robin Hood sy pyl-en-boog gebruik het.

 

[1] Die preek se titel is:  Wat jy oor geestelike oorlogvoering moet weet.

 

[1] Ek het hierdie illustrasie in ‘n preek van Stuart Olyott gehoor.  Die preek se titel is:  ‘Where Luther got it wrong’.