God se swaard en sy roede

God's sword

Wanneer dit by God se swaard en sy roede kom, bestaan daar ‘n paar gevare.  Belinda dra die gevolge van haar sonde, maar blameer die duiwel en sien nie die Here se hand in haar tugtiging nie.  Riaan dink nie baie oor God se heilige geregtigheid nie, en dink dat Hy net liefde is.  Gevolglik dink hy nie wanneer hy sondig nie, en vrees hy ook nie die Here se tugtiging nie.

 

Hilda is ‘n bietjie soos Eeyore:  wanneer die Here haar tugtig, sien sy geen liefde agter die roede nie, en dink sy dat Hy haar met sy swaard straf.  Penny is ‘n ateïs.  Sy glo nie in die Here óf sy swaard nie, en is in vir ‘n aangename verrassing.  Jes. 27 praat tog duidelik van die Here se swaard en sy tugroede.

 

Leviatan (v.1)

Oral in die wêreld hoor ‘n mens stories van drake.  In ou Engeland het mense vir hulle kinders vertel van ridders wat drake doodmaak.  In Jes. 27:1 praat Jesaja van die Here wat ‘n draak met sy swaard doodmaak.  Sy swaard is hard en onbreekbaar; dit is groot en kan baie skade aanrig; dit is sterk, omdat die Een wat dit gebruik almagtig is (v.1).  Dit is beter as king Arthur se swaard, Excalibur.  Met sy swaard sal die Here vir Leviatan straf (v.1).

 

Wie is Leviatan?  Hy is die vinnige en kronkelende slang, die draak wat in die see is (v.1).  Hy is vinniger as ‘n swart mamba, maar nie vinnig genoeg om vir die Here te vlug nie.  Hy het soos ‘n luislang gekronkel, maar was ook slinks of kronkelend in sy karakter (Gen. 3:1).

 

Leviatan was ‘n tipe draak of dinosourus wat in die see gewoon het (v.1, Job 40-41, Ps.104:26).[1]  Jesaja gebruik dit as ‘n simbool vir God se vyande.  In 51:9-10, Ps. 74:13-14 en Eseg. 29:3-5 is dit duidelik dat die draak of Leviatan na Egipte verwys.  In Op. 12:9 praat Johannes van Satan as die slang en die draak.

 

Volgens v.1 sal die Here hierdie vyande met die swaard tref.  God het vir Egipte, Assirië en Babilon geoordeel.  Hy het ook deur Jesus se lewe, kruisdood en opstanding die duiwel geoordeel (Gen. 3:15, Matt. 12:28-29, Luk. 10:18, Ef. 4:8, Kol. 2:15, Heb. 2:14-15, 1Joh. 3:8, Op. 12:9-11).

 

Maar al het Hy die draak of slang dodelik gewond, spartel hy om met sy laaste krag om te verwoes (1Pet. 5:8).  Hy is soos ‘n buffel wat die doodskoot gekry het, maar met mag en mening kom om jou uit te haal.  By die wederkoms sal Jesus hom finaal in die hel werp (v.1, Op. 20:10).

 

As jy in sonde lewe, sal jy saam met die duiwel daar wees, omdat jy aan die verkeerde kant van God se swaard was.  Die skild en borsharnas van jou goeie werke en self geregtigheid was nie hard of sterk genoeg om te keer dat God se swaard deurdring en jou hart penetreer nie (Heb. 4:12, Op. 19:15).

 

As jy jou bekeer en in Jesus glo, sal God jou nie met hierdie swaard deurboor nie.  Hy sal sy Seun se kruisdood beskou asof dit joune is.  Op Golgota het God die swaard van sy geregtigheid uit die skede getrek, en vir Jesus daarmee deurboor.  Die pyn het soos ‘n dolk deur die Vader se hart gesteek, maar Hy het dit uit liefde vir sondaars gedoen.

 

As jy aan die Here behoort, kan jy hierdie selfde swaard gebruik om teen Satan te veg (Ef. 6:17).  Met God se groot, sterk en harde swaard, sal jy die duiwel se swaard uit sy hande uitslaan, en sal hy vlug (Jak. 4:7).

 

Die wingerd (v.2-6)

Toe ons Kempton Park toe getrek het, het ons drie vrugte bome in ons erf gehad.  Die termiete het die appelkoosboom opgevreet.  Die pruimboom staan nog, maar dra skaars vrugte.  Die perskeboom het elke jaar groen vrugte wat uitdroog en swart word.

 

In Jesaja se tyd was Israel so.  Maar in die toekoms sal dit verander.  Wanneer God sy volk se vyande oordeel (v.1), sal Hy ook die slegte wingerd van Jes. 5 in ‘n lieflike wingerd van skuimende wyn verander, sodat die klaaglied in ‘n loflied verander (v.2).

 

Hy sal sy wingerd natlei en dag en nag bewaar; Hy sal dit nie aan die dorings, distels, bosvarke en droogte oorgee soos in 5:5-6 en Ps. 80:13-14 nie (v.3).  Wie is die wingerd?  Dit is Israel, maar uiteindelik word dit in Christus vervul.  Dié wat deur geloof met Hom verenig is, is deel van die Ware Wingerd (Joh. 15:1-8).

 

Die Here is nie meer kwaad vir hulle soos in Jes. 5 nie (v.4).  Die toorn wat op hulle moes kom, het Hy soos ‘n waterval van lawa oor Jesus uitgestort (Matt. 27:46, 2Kor. 5:21, Gal. 3:13).  Om sy volk te beskerm sal die Here ook die dorings en distels – sy volk se vyande – wat tussen die wingerd groei, verbrand (v.4, vgl. 5:6, 10:17).

 

En tog het die vyand nog ‘n kans om die Here se beskerming aan te gryp soos ‘n man wat ‘n stewige tak vasgryp as hy in dryfsand wegsink (v.5).  As die vyand deur geloof en bekering vrede met die Here maak (v.5, Rom. 5:1), sal Hy nie teen hulle baklei nie (v.4).

 

In die toekoms sal Jakob of Israel wortel skiet, bloeisels dra, lote uitskiet en vrugte dra (v.6, 37:31).  Israel se vrugte sal nie net die land vul nie (Ps.80:12), maar die hele wêreld (v.6).  Die vrug verwys na die vrug van bekering, asook na die vrug van nuwe bekeerlinge (Matt. 3:8, Rom. 1:13).

 

Deur ons eenheid met Jesus Christus, sal ons hierdie vrugte dra.  In die toekoms sal daar baie bekerings onder die Jode en die heidene wees; die wêreld sal God se wingerd wees wat met vrugte oordek is.  Die druiwe sal nie suur of wild wees soos in Jes. 5 nie, maar soet en sappig.

 

Diep in elke gelowige se hart het hy ‘n begeerte om ‘n wingerd van skuimende wyn te wees wat goeie vrugte vir Jesus dra, sodat die Vader verheerlik kan word (v.2, Joh. 15:8, Fil. 1:11).  Dit bedroef hom as hy die suur korrels van jaloesie, wellus, ongehoorsaamheid, woede, verslawing, twis, angs en ander sondes in sy hart sien.

 

Omdat die takke egter aan die wingerd verbind is, is suur korrels die uitsondering en nie die norm nie.  As die Vader ‘n tros pluk, sal Hy meestal die soet korrels van bekering proe:  ‘n gelowige wat die Here en sy naaste liefhet, wat geduldig is met ander mense, wat goeie werke doen wanneer niemand kyk nie, wat homself dissiplineer om te bid, ens.

 

Maar as die Here ‘n droë tak vind wat nie vrugte dra nie, weet Hy dat iemand dit met gom daar geplak het.  Hy sal die tak afbreek en saam met die dorings en distels verbrand (Eseg. 15, Joh. 15:6, Matt. 3:10).

 

Iemand wat m.a.w. sê dat hy ‘n Christen is en kerk toe kom, maar nie die vrug van bekering dra nie, sal saam met die moordenaars en verkragters in die hel gestraf word.  Sy straf sal erger wees as hulle s’n (Luk. 12:47-48).  Om van die Here se straf te vlug, moet hy ná Hom toe vlug (v.5).  Net Hý kan ons teen sy eie straf beskerm (v.5).

 

Die ballingskap (v.7-9)

‘n Goeie tuinier werk nie met sy rose soos met die onkruid nie.  Hy snoei die rose, maar die onkruid trek hy wortel en al uit.  Toe die Here vir Israel getugtig het, het Hy hulle nie so hard getref soos Hy dit met hulle vyande gedoen het nie (v.7).  Hy het hulle nooit met die tien plae getref, in die Rooi See verdrink, of uitgewis nie.

 

Hy het hulle nou wel met die vurige toorn van sy geweldige wind na ander lande toe verdryf, soos op die dag wat die skroeiende oostewind waai (v.8, Jer. 18:17, Gen. 41:6, Jona 4:8).  Maar Hy het altyd teruggehou en hulle nie in volle mate gestraf nie (v.8, Jer. 4:27, 5:10, 18).

 

Dit is omdat Hy beplan het om hulle in die toekoms te red.  Deur die bloed van Jesus het God Jakob se skuld weggevat (v.9, Rom. 11:26-27, kontra 22:14).  Om te wys dat hulle met die Here versoen is, sal Israel in die toekoms van hulle afgode ontslae raak en vir Jesus Christus aanbid (v.9b, afgode in Rigters, 1 & 2 Konings, die groot en die klein profete, Matt. 15:8-9, Hand. 7:40-43, 1Joh. 5:20-21).  Dit sal die volle vrug of bewys wees dat God hulle sonde weggevat het (v.9a, 6).

 

Hoe moet ons hierdie drie verse toepas?  Soms raak ons moedeloos wanneer die Here ons tugtig.  Ons dink dat Hy teen ons is, dat Hy ons nie liefhet nie, en dat Hy van ons vergeet het.  Maar is dit die doel en motief as jy jóú kind moet tugtig?  Hoekom sal ‘n volmaakte Vader dit dan doen?

 

Wanneer die Here ons tugtig is Hy vir ons.  Hy wil nie hê ons moet op die pad van sonde loop en onsself beskadig nie, en daarom tugtig Hy ons uit liefde.  Dit voel miskien of die Here ver is, maar eintlik is Hy baie naby wanneer Hy jou oor sy skoot trek.  Hy doen dit om goeie vrugte in jou lewe voort te bring, en om karakter in jou te kweek (v.9b, Heb. 12:5-11).

 

Moenie moedeloos raak wanneer die Here jou tugtig nie.  Hy tugtig jou nie volgens wat jy verdien nie, maar werk saggies met jou soos ‘n pa wat nie al sy krag gebruik wanneer hy sy tweejarige pak gee nie (Ps. 103:10, 13, 130:3).  Die Here tref jou nie met sy swaard nie, maar met sy roede (v.7-8).

 

Met die swaard van sy oordeel het God sy Seun in volle mate soos ‘n ongelowige getref, sodat Hy óns nie so hoef te tref nie (v.7-8).  Wees lief vir Hom, en raak ontslae van die dinge wat jou van Hom af weghou (v.9b).

 

Die stad (v.10-11)

Ek bly nou 13 jaar in Kempton Park.  Van wat ek hoor, was die ou Kempton hospitaal baie goed.  Vandag staan die geboue leeg en groei daar onkruid in die parkeer area.  Die staatshospitale wat nog oop is lyk nie veel beter nie.  Die vervalle geboue wys dat dié wat in hoë plekke is geen onderskeid het nie, en dat hulle die geld wanbestee.

 

Jerusalem was so.  God het die stad met haar afgode vernietig (v.9-10, 24:10).  Dit was so leeg, eensaam en verlate soos ‘n woestyn; die vee het tussen die bouvalle gewei en die bome se takke kaalgevreet (v.10).  Vroue het die droë takke afgebreek om vuur te maak (v.11).

 

Hoekom het die Here Jerusalem so vernietig; hoekom het Hy Hom nie oor haar ontferm en guns aan haar bewys nie (v.11)?  Dit is omdat hulle God nie geken of erken het nie; hulle het nie tussen goed en kwaad onderskei nie (v.11, 1:3, 5:20, 6:9-10, Deut. 32:28, Hos. 4:6).  Hy moes hulle eers met die roede slaan (v.7-11), voordat hulle kon vrugte dra (v.2-6).

 

Wat het hierdie verse met ons te doen?  Geen vesting kan God se swaard keer nie (v.10-11).  Party mense bou vir hulle ‘n koninkryk van geld, en vind hulle sekuriteit daarin (soos Hugh Hefner).  Ander soek hulle beskerming by mense:  hulle voel veilig as iemand hulle aanvaar, en verlore as mense hulle verwerp.

 

Vir ander is hulle posisie by die werk, hulle kwalifikasie, die plek waar hulle studeer het, hulle familie se reputasie, hulle taal en nasionaliteit, hulle kennis, ens. die vesting waarop hulle vertrou.  Volgens v.10-11 het hierdie mense geen onderskeid nie.  Net as jy op die Here vertrou en Hom vrees, sal jy en jou kinders ‘n veilige vesting hê (v.13, Spr. 14:26).

 

Die oes (v.12-13)

Christene verskil oor wat in die toekoms met Israel gaan gebeur.  Sommige dink dat daar glad nie vir hulle hoop is nie, en dat hulle nie na Israel toe sal terugkeer nie.  Ander dink dat God die land aan hulle belowe het, en dat hulle in die toekoms weer daar sal bly.  Persoonlik lyk dit vir my of hulle na die land toe sal terugkeer.

 

Die Eufraat rivier en die spruit van Egipte was die ideale noordelike en suidelike grense van Israel (v.12, Gen. 15:18).  Oral in die land – van noord tot suid – sal die Here sy volk een vir een soos druiwe of olywe afoes en in die Koninkryk insamel (v.12, Matt. 3:12a).  God se tugtig (v.11) sal goeie vrugte voortbring (v.12).

 

Wanneer die groot trompet geblaas word, sal God se verlore skape onder die heidene (Jesaja gebruik Assirië en Egipte as voorbeelde) na die hemelse Jerusalem toe kom om die Here te aanbid (v.13, 2:2-3, 11:11, 19:23-25, 25:6).  Dit het begin toe die heidene deur Jesus se kruisdood deel van Israel geword het (Joh. 10:16, 11:51-52, Ef. 2:11-22).  In die toekoms sal dit vermenigvuldig wanneer die Jode en heidene in groot getalle tot bekering kom (v.12-13).

 

Wat wil Jesaja in v.12-13 vir ons leer?  Ek glo nie dat Israel in die toekoms ‘n spesiale plek onder die nasies sal hê nie.  En tog wil ek byvoeg dat die Here nie klaar is met hulle nie.  Die Here het hulle vir ‘n tyd lank verwerp, maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rom. 11:25-26).  Hy het sy volk soos ‘n olyfboom afgekap, maar sal hulle in die toekoms in hulle eie stam terug ent (Rom. 11:23-24).

 

Ons moet onsself dan nie bo Israel verhef en op hulle neersien, omdat die Here van hulle af weggedraai het om ons te red nie (Rom. 11:17-22).  Ons moet eerder uit hulle voorbeeld leer en sien hoe die Here hulle getugtig het.  As ons uiterlik in die Here deel, maar nie ‘n nuwe hart het nie, sal die Here ons ook afbreek.

 

Bid eerder vir ‘n herlewing onder Israel en die heidene, en glo dat die Here jou gebede sal beantwoord.  Hy sal sy swaard en sy roede teen Israel bêre, en hulle vergewe.  In C.S. Lewis se boek, The Horse and his Boy, skryf hy van ‘n leeu wat ‘n seun en ‘n meisie op hulle perde gejaag het.  Hulle was verskriklik bang, maar gelukkig het hulle weggekom.

 

Later het hulle uitgevind dat die leeu eintlik die groot en sagmoedige Aslan was.  Hy het hulle gejaag, sodat die perde hulle betyds by die koning kon uitbring.[2]  Net so gebruik die Here ook sy roede om ons te bevoordeel.  Dit is net as jy Hom verwerp dat Hy sy swaard teen jou sal gebruik.

 

[1] Die Afrikaanse Bybel sê dat die dier in Job 40-41 ‘n krokodil is.  Die beskrywing klink egter nie na ‘n krokodil nie, maar na ‘n tipe dinosourus wat in die see gewoon het.

[2] C.S. Lewis, The Chronicles of Narnia: The Horse and his Boy, HarperCollinsPublishers, New York: NY, 1954, pp.271, 281

Die kraampyne en hoop van verlossing

Labour pains

My suster is byna 9 maande swanger.  Sy is baie ongemaklik, loop swaar, sukkel om te slaap, kan nie vir lank sit nie, en vind dit moeilik om op te staan.  Die pyn gaan binnekort erger raak.  Maar as sy volgende week die baba vashou, sal sy gou van die ongemak en pyn vergeet.  Die vreugde waarvoor sy gehoop het, sal ‘n realiteit word.

 

Dit is presies wat in Jes. 26 aan die gang is:  ons kan die kraampyne van hierdie wêreld verduur, omdat die hoop van ons verlossing ten volle vervul sal word.

 

Die sterk stad (v.1-6)

Hoe weet jy of die stad waarin jy bly sterk is?  Waaraan meet ‘n mens dit?  Aan die welvaart, bevoegdheid van die plaaslike munisipaliteit, dienslewering, beskikbaarheid van produkte, water, elektrisiteit en mediese versorging, hoe goed die skole is, hoeveel goeie kerke daar is, die effektiwiteit van die polisie, of wat?

 

In Jesaja se tyd was ‘n stad sterk as dit hoë mure gehad het, sodat vyande dit nie kon binnedring nie.  In v.1-6 beskryf Jesaja hoeveel sterker God se stad as die stede van hierdie wêreld is.

 

In die dag wanneer God sy volk verlos en haar vyande vernietig (hfst. 25), sal sy die lied van Jes. 26 in Juda sing:  ‘God het die vyand se vestingstede vernietig om sýne te bou’ (v.1, 25:2, 12).  Sy verlossing is die mure en skanse om sy volk te beskerm (v.1, 60:18).  God se volk het in hierdie verlossing geroem (v.1, vgl. Gal. 6:14).

 

Die stadspoorte was oop, sodat die regverdige en getroue volk – die Jode en heidene wat in Jesus glo (Tit. 2:14, 1Pet. 2:9-10) – daardeur kon ingaan na die Here toe (v.2).  Die oop poorte wys dat die stad veilig is, en dat almal welkom is (Op. 21:25).  Dié wat egter wil inkom, moet heilig en regverdig wees (v.2, Op. 21:27, 22:3, 14-15).

 

Deur wedergeboorte, geloof en bekering kan jy deur die stad se poorte ingaan (v.2, Joh. 3:5, Ef. 2:6).  Kom in, kom in!  Hoe wonderlik sal dit nie wees om in ‘n plek te lewe waar skelms nie in die nag in jou huis inkom nie?  Dink gereeld aan die hemelse stad; vul jou gedagtes met God en sy verlossing; vertrou altyd op die Here; bedink die dinge daarbo.  So sal die vrede van God jou hart en lewe bewaar (v.3, Fil. 4:6-8, Kol. 3:1-2).  Dit sal nie ‘n vals vrede wees waarin jy maak of alles reg is nie, maar ‘n ware vrede te midde van die storm.

 

As jy aanhoudend op die Here vertrou, sal niks en niemand hierdie vrede kan wegvat nie (v.4).  Die Een op wie jy vertrou is immers die ewige, onveranderlike, onbeweeglike Rots (v.4, Mal. 3:6, Heb. 13:8).  As jy op Hom vertrou sal jy meer standvastig as die groot piramide van Giza wees, en sal die aardbewings van Satan, God se oordeel en hierdie wêreld jou nie skud nie (v.4, 44:8, Deut. 32:4, 15, 18, 30-31, 1Sam. 2:2, Ps. 18:32, 62:3, 7-8, Matt. 7:24-25, 1Kor. 10:4).

 

As jy nié op God vertrou nie maar hoogmoedig is, sal Hy jou afbring aarde toe, sodat jy en die dinge waarop jy vertrou in die stof lê (v.5, 25:12).  Jou drome, planne, toekoms, rykdom en lewe sal in skerwe lê (v.5).  Op die einde sal die armes wat onder jou was, jou onder hulle voete vertrap (v.6, 25:4, 10, 12, Rom. 16:20, Op. 3:9).

 

Dit is nie genoeg om te jy vertrou op die Here nie.  Wys jou gebedslewe en die manier waarop jy jou lewe volgens die Bybel inrig, dat jy op die Here vertrou en nie op jouself nie?  Is die Woord en gebed sentraal wanneer jy besluite neem, jou kinders opvoed en vir die toekoms beplan?  Hoeveel keer moet jy nóg misluk voordat jy na die Here toe draai en op Hom vertrou?

 

Die lang nag (v.7-18)

Ek ken ‘n man wat nie in die aande kan slaap nie.  Dit is vir hom baie erg.  Dit gebeur nie net nou en dan nie, maar die meeste van die aande uit ‘n week.  Daar is blykbaar niks wat dit veroorsaak nie; hy kan net nie slaap nie.  Almal van ons weet hoe lank twee of drie ure kan voel as jy in die nag wakker lê.

 

Hoe lank voel ‘die nag’ van ‘n gelowige se lewe in hierdie bose wêreld dan nie?  Hoe lank het Israel nie vir die Messias se eerste koms gewag nie?  En hoe lank wag ons nie al vir sy tweede koms nie?  Dit is waaroor v.7-18 gaan.

 

God sal die regverdige volk van v.2 se pad gelyk maak; Hy sal die hindernisse wegvat en die slaggate opvul (v.7, Ps. 143:10, Spr. 3:6).  Hy sal sy volk se vyande uit die pad verwyder (v.8, 35:9).  Hy sal na sy wagtende volk toe kom (v.8, 25:9).  Hulle het sy Naam en Gedenknaam – alles wat Hy is en vir sy volk gedoen het (Eks. 3:14-15) – in die diepte van hulle siele begeer, soos wat ‘n mens of dier in die woestyn na koue water smag (v.8, Ps. 42:2-3, 63:2, Joh. 7:37-38).

 

Laat ons ook so na die Here dors, omdat net Hý ons kan versadig.  Om Hom só te begeer nie, moet jy die Woord biddend oordink, totdat jou hart met liefde vir Hom brand en jy honger is vir Jesus.  Dink in die nagmaal aan sy Gedenknaam; aan wie Hy is en aan wat Hy vir jou gedoen het (v.8, 1Kor. 11:24-25).

 

Wees ook soos Jesaja wat snags op sy bed die Here in gebed gesoek het, en oor Hom gepeins het (v.9, Ps. 63:7, 119:55, 62, 131, 147-148, 149:5).  Hy het vir die Here gevra om sy rebelse volk te oordeel, sodat hulle hulle kan bekeer (v.9, 16).  Wanneer alles goed gaan, dink goddelose mense dat die Here nie ‘n probleem met hulle lewens het nie (v.10, 5:12).

 

Dus is voorspoed nie noodwendig ‘n goeie ding, of teëspoed ‘n slegte ding nie.  In baie gevalle is teëspoed beter as voorspoed, omdat voorspoed ons makliker van die Here af weghou, terwyl teëspoed ons op ons knieë dwing (v.10, Deut. 28:47, 2Kron. 33:12, Dan. 4:28-37, Mark. 10:21-23).

 

John Newton het byna sy lewe in ‘n storm verloor voor hy na Jesus toe gedraai het.  Ander moet eers deur ‘n egskeiding gaan of ‘n kind verloor, voordat hulle tot bekering kom, hulle korrupsie los, en God se majesteit in die evangelie sien (v.10, 2Kor. 4:6).  God moet ‘n mens aan die einde van homself bring, sodat hy geen hoop in homself het nie.  Eers dán kan hy sien dat die Here sy enigste hoop is, en kan hy soos ‘n drenkeling na die reddingsboei van Jesus se kruisdood en opstanding gryp.

 

‘n Tragedie op sy eie is egter nie genoeg om iemand na die Here toe te draai nie.  Daarvoor het ons God se genade nodig.  Die Heilige Gees moet eers die persoon se hart oopmaak (Hand. 16:14).  As dit nie gebeur nie, sal die tragedie niks doen nie.  Die persoon sal blind bly en sy hart verhard (v.11, Op. 16:9-11).  Hy sien nie God se hand in sy moeilike omstandighede nie (v.11).  Hy ignoreer die brande in Knysna, die droogte in die Kaap, die siklone in Amerika, en sê dat dit toevallig is.

 

Hy sien ook nie dat die Here besig is om sy volk te verlos nie (v.11).  Hy besef nie dat God sy redding begeer, en dat hy deel van hierdie volk kan wees as hy hom bekeer nie.  Omdat hy op homself staatmaak, sal hy skaamkry wanneer die Here met vurige ywer kom om sy kinders te red (v.11).  Hy sal nie God se lieflike teenwoordigheid geniet nie, maar deur die vuur van sy oordeel verteer word (v.11, 2Tess. 1:7-9, Heb. 12:29, Op. 20:9).

 

Deur die evangelie van Jesus sal God vrede oor sy volk beskik (v.12, 9:5-6, Rom. 5:1, Kol. 1:20).  Ons het niks gedoen om hierdie vrede te verdien nie; alles kom van Hóm af (v.12).  Jou en my verlossing is monergisties (God alleen red) en nie sinergisties nie (God en die mens werk saam in verlossing).  Kan jy eerlik sê dat jy ‘n aandeel in jou redding gehad het?  Sal jy dit waag om soos Charles Finney te sê dat die sondaar soewerein is in verlossing, en nie die Here nie?  Diep in jou hart weet jy dat selfs jou geloof en bekering van God af kom (Hand. 5:31, 11:18, Ef. 2:8-9, Fil. 1:29).  Die feit dat jy lofliedere vir Jesus sing en nie vir jouself nie, asook die feit dat jy vir God vra om jou ongeredde geliefdes se oë oop te maak, bevestig dit.

 

Deur die geskiedenis het ander heersers oor God se volk regeer:  die Farao’s van Egipte, die Filistyne in die dae van die Rigters, en die Babiloniërs (v.13).  Maar deur al hierdie dinge was die Here altyd die ware koning wat sy volk verlos het (v.13).  God het die tiranne wat sy volk onderdruk het, doodgemaak (v.14, Eks. 2:23, 14:23-30).  Hulle het as skimme na die onderwêreld toe neergedaal (v.14, 14:9).  Hulle sou nie weer opkom om oor sy volk te heers, of eers onthou word nie (v.14).  God alleen sal onthou word (v.13).

 

Soos God Israel se harde meesters geoordeel het, het Hy ook die harde meesters van sonde en die duiwel deur sy kruisdood geoordeel; hulle sal nie weer opkom om jou te onderdruk nie (v.13-14).  Hulle het geen mag oor jou nie, omdat Jesus jou koning is (v.13-14, Rom. 6:14, 1Joh. 5:18).  As hulle dan kom en vir jou sê dat jy vir hulle moet luister, kan jy vir hulle sê:  ‘Talk to my Lawyer’ (1Joh. 2:1).  Jesus het immers die prys vir jou sonde betaal en jou vrygemaak.  As hulle iets te sê het, kan hulle dit vir Hom sê (Rom. 8:33).

 

Alhoewel Israel se vyande haar uitgedun het (1:9), sal God haar in die toekoms vermeerder (v.15).  Dit sal nie nét deur biologiese voortplanting plaasvind nie, maar deur bekerings.  Dit het begin toe al die nasies van die aarde in Abraham se nageslag, nl. Christus, geseën is en deel van God se volk geword het (Gen. 12:3, Gal. 3:7, 16, 29, Ef. 2:11-22).

 

Dit sal ook in die toekoms gebeur, wanneer God die Jode en baie heidene red.  Paulus sê in Rom. 11:12, 15, 25-26 dat Israel in die toekoms gered sal word, en dat dit soos ‘n vuurhoutjie op petrol onder die heidene sal wees.  Dit sal m.a.w. ‘n wêreldwye herlewing meebring.  Die kerk sal grootliks vermeerder (v.15, Matt. 13:31-32).  God se tent sal te klein wees vir almal om in te pas (Jes. 54:1-3).  Israel se grense sal verbreed moet word om almal te akkommodeer (v.15).  In al hierdie dinge sal die Here verheerlik word (v.15).

 

Persoonlik dink ek dat ons te min vir die Jode se redding bid.  As hulle redding seën vir die wêreld sal beteken, verbaas dit my dat ons so min vir hulle bid.  Ek het tot verlede jaar nooit vir hulle gebid nie.  Wanneer laas het jý vir hulle gebid?  Paulus sê:  “Broeders, die verlange van my hart en die gebed wat ek tot God vir Israel doen, is tot hulle redding.” (Rom. 10:1).

 

As jy nog nie vir hulle bid nie, wil ek jou aanspoor om te begin.  ‘n Vriend van my het die afgelope week ‘n vir my aanhaling van D.A. Robertson gestuur.  Volgens Robertson het die Skotse prediker, Robert Murray McCheyne, elke dag ‘n uur lank vir die Jode gebid.[1]  ‘n Puritein genaamd Robert Leighton het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[2]

 

Die vermeerdering van God se volk in v.15, was ‘n antwoord op die gebed in v.16.  God het hulle gedissiplineer; in hulle benoudheid het hulle Hom gesoek en ‘n gebed gefluister (v.16, vgl. Eks. 2:23, Rigt. 3:15, 4:3, 6:7, 10:10, Ps. 137:1, Dan. 9:1-3).  By tye voel jy so moedeloos, dat jy skaars ‘n gebed kan fluister.  Die Here hoor jou en sal jou help.  Het Hy nie vir Jona gehelp toe hy nie eers kon fluister nie, omdat hy onder die golwe was (Jona 2:5, 7)?  En sal Hy nie hoor as jy sug, omdat jy nie weet hoe of wat jy moet bid nie (Rom. 8:26-27)?

 

A.g.v. God se tugtiging, was Israel soos ‘n vrou wat geboorte gee:  die krampe was erg en die trane intens (v.16-17).  Maar anders as met ‘n ma wat geboorte gee, het Israel se pyn nie in vreugde verander nie.  Dit was ‘n miskraam; hulle het wind gebaar (v.18).  Wat beteken dit?  Israel was onvrugbaar.  In hulle eie krag kon hulle niks doen om te vermeerder nie.  Toe hulle egter in gebed na die Here kyk, het Hy hulle vermeerder (v.15-16, Eseg. 36:37).

 

Is dit nie ook die rede hoekom baie gemeentes nie groei nie (insluitend ons eie)?  Ons hou vergaderings en beraam planne om vrugbaar te wees.  Maar as jy die bidure bywoon, hoef jy nie te wonder hoekom Christene ‘musical churches’ speel, terwyl daar bitter min bekerings is nie.  Dit help nie om planne vir groei te maak, terwyl daar vyf of tien mense by die biduur is nie.  En as ons by die biduur is, moet ons nie net vir tannie Kotie in die hospitaal bid nie (nie dat dit verkeerd is nie), maar ook dat die Here sy kerk sal bou, dat mense tot bekering sal kom, en dat die Here ‘n ware herlewing stuur.

 

Wil jy dit nie asb. oorweeg om by ‘n gemeente biduur in te skakel nie?  Die vroeë kerk het groei gesien, omdat hulle gebid het (Hand. 1:14, 2:42, 6:4, 4:31, 13:2-3).  Ek is oortuig dat wyle dr. Martin Holdt groei in sy bediening gesien het, omdat hy ‘n man van gebed was, en omdat sy gemeente vir hom gebid het.  Soos die apostel Paulus, wil ek vra dat jy hiervoor sal bid:  “Verder, broeders, bid vir ons dat die woord van die Here sy snelle loop mag hê en verheerlik word net soos by julle” (2Tess. 3:1).

 

Die môredou (v.19-21)

‘n Eks-Baptiste ds. het gesê dat die Ou Testament nooit van die opstanding praat nie.  Dit laat my aan die Sadduseërs dink wat dieselfde gesê het.  Volgens Jesus het hulle gedwaal, “omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.” (Matt. 22:29).

 

Daar is ‘n paar tekste in die Ou Testament wat van die opstanding praat.  Jes. 26:19 is een van hulle.  Toe God se volk hopeloos was (v.16-18), het Hy ingegryp (v.19).  Toe Hy hulle uit Babilon teruggebring het, was dit soos ‘n opstanding uit die dood (Eseg. 37:12).  Toe Jesus aarde toe gekom het, het Hy opgestaan en ons in Hom (Joh. 5:24-25, Ef. 2:5-6).  Wanneer Israel in die toekoms tot bekering kom, sal die herlewing wat daaruit ontstaan soos ‘n opstanding wees (Rom. 11:15).  Wanneer Jesus uiteindelik na die aarde toe terugkeer, sal ons liggame uit die grafte uit opstaan (v.19, Job 19:25-27, Dan. 12:2, Joh. 5:28-29, 1Kor. 15).

 

Wanneer die Here sy kinders só opwek, sal ons van blydskap sing en Hom prys (v.19).  Dit is tog Hý wat ons laat lewe, net soos wat dou en lig die woestynplante laat lewe (v.19, Hos. 14:6).  Hý het die aarde beveel om aan die dooies se liggame geboorte te gee (v.19).  Die kraampyne van v.17-18 was nie verniet nie, maar dit sal uitloop op die verlossing van ons liggame (v.19, Rom. 8:22-23).

 

God se vyande is in die stof en die hel gewerp (v.5, 14), maar sy kinders sal uit die stof uit opstaan (v.19).  Wanneer Jesus terugkeer om ons só te verlos (v.19), sal Hy ook sy vyande oordeel (v.20-21).  Hy sal van sy troon af opstaan en uit die hemel uit neerdaal om met absolute verwoesting die goddelose te oordeel (v.21).

 

Niemand sal wegkom nie (v.21).  Die mense wat vir jare hulle sonde weggesteek het, sal uitgevang word (v.21).  Die aarde sal hulle weggee, soos wat ‘n klein seuntjie sy ouers se donker geheime verklap (v.21, Gen. 4:10).  Die aarde sal die vermoordes se lyke uitwys en die moordenaars aankondig, soos wat luminol bloed op die moordtoneel blou laat skyn (v.19, 21).  As die Here klaar die wêreld geoordeel het, sal daar geen ongeregtigheid oorbly nie.

 

Die moordenaar sal stomgeslaan wees, want ‘hoe die Here dít geweet?’  Dit geld vir elke sonde.  Daarom moet jy nie vir die duiwel luister as hy vir jou sê dat jy daarmee kan wegkom nie.  Jou sonde sal jou uitvind, en wat jy in die geheim gesê het, sal van die dakke af verkondig word (Num. 32:23, Luk. 12:3).

 

Ek weet van iemand wat onlangs haar werk verloor het, omdat sy in die geheim iets gesê het wat ‘per ongeluk’ openbaar geraak het.  Maar selfs as daar nie ‘n enkele persoon is wat van jou sonde weet nie, kan jy maar weet dat Jesus dit op die laaste dag gaan uitbring – Hy sien en weet alles (v.21, Joh. 16:30).

 

Jou enigste hoop is om jou te bekeer en met ‘n berouvolle hart na Jesus toe te kom.  As jy in Hom glo, kan jou gewete rus en hoef dit jou nie meer te pla nie.  Hy het die skuld vir sondaars op Homself geneem aan die kruis, en dus hoef jy nie meer skuldig te voel nie.  Omdat Jesus ons straf gedra het, sal God jou nie straf nie (Rom. 8:1).

 

Jy sal soos Israel in Egipte wees.  Toe God die Egiptenare se eersgeborenes getref het, het Israel agter bloedbesmeerde deurkosyne geskuil (Eks. 12).  Net so moet God se kinders hulle in hulle kamers toesluit, en bid dat die Here hulle genadig sal wees (v.20, Matt. 6:6).  Wanneer die storm van God se oordeel verby is, sal die son van sy genade vir ewig oor ons skyn (v.20).  Die storm sal ons nie tref nie, omdat ons in die ark van Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding skuil.  Omdat ons huise op die Rots gebou is, sal dit nie inmekaar tuimel wanneer die storm van God se oordeel oor die aarde losbreek nie (v.4, 20, Matt. 7:24-25).

 

As die storm verby is, sal alles waarvoor jy ooit gehoop het ‘n werklikheid word.  Dit sal soos Petro se troudag wees.  Sewe maande voor die tyd het sy al in haar kop gesien hoe mooi alles gaan lyk, en hoe wonderlik die vakansie daarná gaan wees.  Toe die troudag en wittebrood uiteindelik aanbreek, het dit haar wildste drome oortref.  Net so sal die blydskap geweldig wees wanneer die kraampyne en hoop van verlossing ten volle vervul word.  Dit sal soos ‘n ruspe wees wat in ‘n skoenlapper verander.

 

[1] Timothy Larsen, Ed., Biographical Dictionary of Evangelicals, Inter-Varsity Press, Leceister: England, p.382

[2] Iain Murray, The Puritan Hope, The Banner of Truth Trust, Edinburgh, 1971, 1998, p.75

Hoe om te keer dat jou kind rebelleer

Angry toddler

Het iemand al vir jou gesê dat alle jong mense op een of ander stadium rebels raak?  Wanneer jou laerskool kinders nader aan die hoërskool kom, vrees jy dat hulle rebels sal raak.  Maar dit is eenvoudig nie waar dat alle jong mense deur ‘n fase van rebelsheid gaan nie.[1]  Josef het nie.  Dawid het nie.  Jeremia het nie.  Daniël en sy drie vriende het nie.  Die apostel Johannes het nie.  Timoteus het nie.  Titus het nie.  Jesus het nie.

 

Die bg. karakters leer vir ons dat jongmense ‘n diep verhouding met die Here kan hê, en dat hulle hulle lewens volgens die Woord van God rein kan hou (Ps. 119:9, 1Tim. 4:12, 2Tim. 2:22).  God wil hê dat jongmense se ouers hulle hiermee moet help.  Buiten vir die positiewe insette wat ons moet hê, moet ons ook sekere dinge vermy om nie rebelsheid in hulle aan te moedig nie.  Dit is wat Paulus in Ef. 6:4 bedoel:  “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie…”

 

Wat is dan die dinge wat ons moet vermy, om te keer dat ons kinders nie rebels raak nie?[2]

 

[1] Onbetrokkenheid

Willem is geskok dat sy 14-jarige seun skielik hierdie jaar rebels geraak het.  Die waarheid is dat hy al in sy hart gerebelleer het toe hy 9 was, omdat Willem nie in sy lewe betrokke was nie.  Salomo het gesê:  “Soos ‘n voël wat van sy nes af rondvlieg, so is ‘n man wat ver van sy tuisplek af rondswerwe.” (Spr. 27:8).

 

Geld en geskenke kan nie opmaak vir onbetrokkenheid nie.  Wees daar vir jou kinders.  Jou dogter het jou liefde, leiding en beskerming nodig.  Jou seun het ‘n sterk pa nodig wat vir hom sal leer hoe om ‘n man te wees.

 

[2] Te veel dissipline

Is medisyne goed vir ‘n kind?  Net as hy siek is.  Wat sal gebeur as jy jou kind se gewone dieet met medisyne vervang?  Hy sal siek word.  Wat sal gebeur as dissipline jou kind se stapel dieet is?  Hy sal opstandig raak.  Jy kan nie nét jou kind op die medisyne van dissipline grootmaak nie; gee ook vir hom die aartappels, vleis, groente en vrugte (en soms ook roomys) van Bybelse instruksie, omgee, tyd en aandag.

 

[3] Mishandeling

Ek het een berading sessie gehad waarin ‘n pa sy seun met ‘n leer gordel oor die rug geslaan het.  Ek en sy vrou het opgespring om hom te keer.  ‘n Paar maande later het ek uitgevind dat dit al vir jare aangaan.  Vandag is die kind ‘n rebel.  ‘n Pakslae is Bybels; mishandeling nie.  Slaan jou kind op die boude en nie met die vuis nie.  Moet hom nie só slaan dat hy mediese hulp benodig nie.

 

[4] Te min dissipline

Van kleins af het Peter nie sy seun pak gegee nie.  Reeds op 12-jarige ouderdom het sy seun dagga gerook.  Peter was geskok, maar het hom nie gedissiplineer nie.  Toe die seun 19 is, het hy sterker dwelms gebruik en op 22 is hy tronk toe.  Hy het sy pa gehaat, omdat hy hom nie gedissiplineer het en teen die pynlike gevolge van sonde gewaarsku het nie (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).

 

Ouers wat hulle kinders nie dissiplineer nie pluk vir hulleself ‘n lat, omdat sulke kinders dikwels rebels raak (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[3]

 

[5] ‘n Kritiese gees

Michael leer hard en kry ‘n B vir wiskunde.  Sy pa sê nie vir hom geluk nie, maar wil weet hoekom hy nie ‘n A gekry nie.  Moenie alewig fout vind met jou kind nie; jy sal hom moedeloos maak (Kol. 3:21).

 

[6] Afbrekende woorde

Die spreekwoord sê:  ‘Sticks and stones may break my bones, but words can never harm me.’  Almal weet dis nie waar nie, en dat woorde ‘n mens baie seer kan maak.  Moenie vir jou kind sê:  ‘Jou idioot; jy sal ook niks in die lewe bereik nie!  Ek wens jy is nooit gebore nie!’ (vgl. 1Sam. 20:30-34).  Moenie jou kind se gees breek nie (Spr. 12:18, 15:4b).  Bou hom eerder op – selfs wanneer jy hom dissiplineer.

 

[7] Voortrekkery

Verlede jaar toe hoor ek van twee sussies wat bitter is.  ‘Ons het swaargekry omdat pa jóú in ‘n privaat skool gesit het,’ het hulle vir hulle broer gesê.  Ons mag onder geen omstandighede hulle bitterheid regverdig nie, maar ons moet ‘n les daaruit leer.  Onthou jy wat met Josef gebeur het toe sy pa hom voorgetrek het?  Kan jy onthou hoe sy broers gevoel het en wat hulle gedoen het?  Die gevolge was lelik (Gen. 37).  Maak asb. seker dat jy nie witbroodjies en swart skape het nie.

 

[8] Voorwaardelike liefde

Marié se ma sê vir haar:  ‘Pappa is lief vir jou as jy soet is.’  Sy weet dis waar, want wanneer sy stout is praat haar pa vir twee dae nie met haar nie.  God is nie so nie, maar het ons liefgehad toe ons nog sondaars was (Rom. 5:8).  Volg sy voorbeeld.

 

[9] Kloning

Was jy al ooit by ‘n sport byeenkoms waar ‘n ouer sy humeur verloor het, omdat sy kind nie gewen het nie?  Hoekom doen hy dit?  Is dit nie omdat hy wil hê dat sy kind soos hý moet wees nie?  ‘Toe ék op skool was het ek vir die eerste span gespeel en provinsiale kleure gekry,’ sê Adriaan se pa vir hom.  Hy druk sy seun om ‘n goeie sportman te wees, omdat hy deur sy seun wil goed lyk.

 

[10] ‘n Slegte huwelik

Markus breek sy vrou af en baklei voor die kinders met haar.  Die kinders is bitter en kan nie wag om eendag uit te trek nie.  Hulle hou nie daarvan om by die huis te wees nie.  Hulle sit die hele middag in die kamer, en wens om by hulle vriende se huise te wees.  Hulle kry skaam om vriende oor te nooi.

 

[11] ‘n Ongelyke juk

Riana volg haar eie kop en trou met ‘n ongelowige.  Vandag wil haar kinders niks met die Here te doen hê nie.  As jy met ‘n ongelowige trou is die kanse goed dat jou kinders rebels sal raak en nie die Here sal dien nie.  Dit is hoekom Mal. 2:15 sê ons moet met gelowiges trou (lees gerus die konteks):  “Hy het ‘n geslag van God gesoek.”  Die ESV praat van ‘godly offspring’.   As jy wil hê jou kinders moet rebels raak, trou met ‘n ongelowige.

 

[12] Skynheiligheid

Marcia se pa sê vir haar om eerlik te wees, maar hý is nie.  John Bunyan het gesê:  ‘Many children learn that wickedness of their parents for which they beat and chastise them.’[4]  As jy skynheilig is, kan ek jou amper waarborg dat jou kinders opstandig sal raak.

 

[13] Doofheid

Ek kan partykeer so besig raak, dat ek nie eers hoor as my kinders met my praat nie.  In een berading kursus het ek iets geleer wat ek probeer toepas.  As my kinders na my lessenaar toe kom, sê ek:  ‘Wag net gou.’  Ek maak klaar waarmee ek besig is, draai na die kind toe, en luister na wat hy of sy vir my wil sê.

 

[14] Tergery

Het jy al ‘n ma met drie kinders hoor sê dat sy eintlik vier kinders het?  Sy praat van haar man, omdat pa’s soms soos kinders aangaan.  Simon terg sy dogter en weet nie wanneer om op te hou nie.  As sy kwaad raak gee hy haar pak omdat sy hom nie respekteer nie.  Dit maak haar moedeloos.

 

[15] Te veel werk

Toe Ruan klein was moes hy op Saterdae van vroeg tot laat op die plaas werk, terwyl sy maatjies buite gespeel het.  Hy het die plaas gehaat en wou net wegkom.  Oor die afgelope 15 jaar was hy nog nie weer daar nie.

 

[16] Perfeksionisme

As 5-jarige Klara haar bed nie soos ‘n grootmens s’n opmaak nie, kry sy pak.  Fanie se maatjies het vir hom karretjies gegee vir sy verjaarsdag.  Dit staan op ‘n rak in sy kamer.  Hy mag nie daarmee speel nie, omdat hy die kamer sal omkrap.

 

[17] Wettisisme

Trevor gee vir sy kinders ‘n verkeerde idee van God en van hoe hulle Hom tevrede moet stel.  As hulle nie hulle groente klaar eet nie, sê hy:  ‘Jy maak die Here se hart seer.’  In húlle gedagtes moet hulle ‘n klomp reëls nakom om God se guns te wen.

 

Hulle verstaan nie dat Jesus namens ons die wet perfek onderhou het, dat Hy vir ons sonde aan die kruis gesterf het, dat Hy uit die dood opgestaan het sodat ons kan lewe, en dat elkeen wat in Hom glo die Heilige Gees ontvang om hulle te help om reg te lewe nie.  Gevolglik raak hulle opstandig, omdat hulle dit nie regkry om al die reëls te hou nie.

 

[18] Onduidelikheid

Kobus kry soms pak sonder dat hy weet hoekom.  Hy weet nie wat hy verkeerd gedoen het nie.  As hy vir sy pa wil verduidelik wat gebeur het, dan sê hy:  ‘Ek wil níks hoor nie; buk!’  Dink jy Kobus sal moedeloos, bitter en opstandig raak?

 

Iemand wat die bg. 18 punte reg doen, kan nie daardeur waarborg dat sy kind glad nie rebels sal wees nie.  Ek weet dat sommige mense Spr. 22:6 sal aanhaal:  “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”  Onthou egter dat Spreuke dikwels vir ons wys hoe dinge oor die algemeen werk.  Dit beteken nie dat daar geen uitsonderings is nie.

 

God voed sý kinders reg op, en tog rebelleer ons partykeer teen Hom (Jes. 1:2, Jer. 2:30).  Deur die geskiedenis was daar gelowiges wat hulle kinders reg geleer het, en tog het hulle kinders rebels geraak.  Daar was ook al ouers wat ‘n gemors gemaak het, en dan raak hulle kinders nié rebels nie.  Die algemene reël is egter dat ‘n getroue toepassing van Ef. 6:4 rebelsheid sal voorkom.

 

[19] Hoop vir ouers met rebelse kinders

Ek het ‘n storie gelees van ‘n man wie se seun so erg gerebelleer het, dat hy vir 20 jaar van die kerk afvallig geraak het.  Dit het gebeur nadat sy pa ‘n ernstige verhouding met die Here gehad het, en ook sy kinders van die Here geleer het.

 

Dalk het so iets met jou gebeur.  Jy het jou kinders reg grootgemaak en vir hulle ‘n voorbeeld gestel, en tog het hulle rebels geraak.  Indien dít die geval is, hoef jy jouself nie te kasty nie.

 

In Eseg. 18:20 lees ons:  “Die siel wat sondig, dié moet sterwe; die seun sal nie die ongeregtigheid van die vader help dra nie, en die vader sal nie die ongeregtigheid van die seun help dra nie; die geregtigheid van die regverdige sal op hom wees, en die goddeloosheid van die goddelose sal op hom wees.”

 

Dalk het jy bygedra tot jou kind se rebelsheid.  Wat moet jy doen?

 

  • Onthou dat jou situasie nie hopeloos is nie. Die Here kan jou vergewe.  Bely jou sonde en vra Hom om jou te vergewe.
  • Vra ook vir jou kinders om jou te vergewe. As hulle jou nie wil vergewe nie, kan jy jou hande in onskuld was (Rom. 12:18).
  • Bid vir hulle en doen moeite om na hulle toe uit te reik. “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” (Rom. 12:21).
  • Onthou dat die Here ook hiérdie situasie vir die goeie kan uitwerk (Rom. 8:28).
  • Vra volwasse gelowiges vir raad (Spr. 15:22).
  • Aanvaar die feit dat jou kind waarskynlik nie gered is nie. Moenie dink hy is gered omdat hy die sondaarsgebed gebid het toe hy vier was nie.  As jy dít dink, sal jy nie die regte medisyne gee nie, nl. om vir sy redding te bid en die evangelie met hom te deel.
  • Pasop om nie altyd oor die rebelse kind te praat, sodat jy die ander kinders afskeep nie.
  • Onthou dat God die rebel se hart kan verander (Luk. 15).
  • Moenie opgee as dit vir jou lyk of daar niks gebeur nie; volhard.

 

Het jou ouers miskien dinge gedoen wat jou tot rebelsheid versoek het?  As jy bitter voel moet jy dit bely en vir die Here vra om dit weg te vat.  Vergewe jou ouers en sê vir hulle dat jy dit met hulle wil uitpraat.  Indien hulle nie daaroor wil praat nie, moet jy dit in gebed vir die Here gee; Hý sal hulle oordeel.  As hulle hulle bekeer, sal Hy hulle vergewe.

 

As jy vandag hierdie dinge hoor en jou nié bekeer, is Jesus se waarskuwing in Matt. 18:6-7 vir jou:  “maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see.  Wee die wêreld weens die struikelblokke!  Want dit is noodsaaklik dat daar struikelblokke kom, maar wee die mens deur wie die struikelblok kom.”

 

[20] Die hoogste doel

Jare gelede het iemand vir my gesê:  ‘You must learn to relax.’  Blykbaar het ek nie my les geleer nie, want laas maand het iemand anders vir my gesê:  ‘Hoor hier, moenie die bediening so ernstig opneem nie.’

 

Nou moet ek dit vir jóú sê.  Jy kan vandag baie moedeloos hier uitstap en dink dat jy dit nooit gaan regkry nie.  Ontspan en vertrou die Here.  Moet dit nie jou hoogste doel maak om te keer dat jou kinders rebels raak nie.  Sorg eenvoudig dat jy as ‘n gelowige groei, dat jy in ‘n verhouding met die Here lewe, en dat jy Hom verheerlik.  Dít moet jou hoogste doel wees.

 

Verlede jaar was ek by ‘n diens waarin ‘n vrou met trane vir die gemeente gevra het om vir haar rebelse kind te bid.  ‘n Paar weke gelede het iemand by ons kerk se Bybelstudie gevra dat ons vir die jongmense in die gemeente moet bid.  Die punt is dat ons die ouers in ons gemeente moet ondersteun.  Hulle het ‘n groot taak.  Moenie vergeet om vir mekaar en vir ons kinders te bid nie.

 

[1] Ek weet dat alle mense van nature teen God rebelleer, maar dit is nie wat ek bedoel nie.  Ek praat hier van die rebelse ‘tiener fase’ soos mense dit noem.  Ek praat van die fase waarin jong mense nie vir hulle ouers wil luister nie, maar losbandig lewe.

[2] Party van die dinge het ek in Wayne Mack se boek, Strengthening Your Marriage geleer.  My doel in hierdie preek is om te wys hoe ons rebelsheid in ons kinders kan keer, en nie hoe ons dit moet oplos waar dit reeds bestaan nie.  As jy hulp soek met rebelse kinders, kan ek Wayne Mack se klasnotas vir jou aanstuur.

[3] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p.139

[4] Ibid., p.293

Hoe moet jy jou kinders tugtig?

Spanking child

Die bure agter ons het eenkeer hulle seuns geslaan tot hulle lê.  Hulle het skaars krag gehad om verder te huil.  Ek het oor die muur gekyk en vir die ma gevra wat aangaan.  Hulle het blykbaar die bure langsaan se fiets gesteel.  Wat hulle gedoen het was verkeerd, maar sy moes hulle nie so erg geslaan het nie.  In Ef. 6:4 leer die Here vir ons hoe ons ons kinders móét dissiplineer.[1]

 

God se tug

Toe ek in Nelspruit gebly het, het ek rondgebel om geborduurde hoede vir die kinders te maak.  Een ongelowige pa was baie ongelukkig dat ek hoede vir sy dogters wou bestel.  Toe ek hom sien het hy my aangevat en aanhoudend vir my gesê:  ‘Dis mý dogters… Hierdie is mý dogters, mý dogters…’  Hy het hulle ook grootgemaak asof hulle sý eiendom is, en nie die Here s’n nie.

 

Ons kinders behoort nie aan ons nie; hulle is vir ons geleen.  As hulle dus sonde doen, moet ons hulle in die Here se tug opvoed (v.4).  Wanneer jy jou kinders tugtig is dit Gód se dissipline wat jy toepas.  As jy nalaat om hulle te dissiplineer, sê jy dat die Here nie omgee as hulle sonde doen nie.  Jy sê dat Hy hulle nie liefhet nie, omdat dit Hom nie pla dat hulle op die verkeerde pad is nie.

 

‘Die tug van die Here’ impliseer verder dat jy jou kind moet tug omdat hy of sy teen die Here gesondig het, en nie omdat jy genoeg gehad het nie.  Die ouer wat dít onthou, sal kalm bly wanneer hy sy kinders moet tugtig.

 

Wat tug nié is nie

Ouers is sondaars, en daarom het elkeen van ons al ons kinders op verkeerde maniere getug.  Ek onthou ‘n man in die Metodistekerk wat vir sy seun gegrom het.  Die seuntjie was so bang dat hy soos ‘n hondjie getjank het.  God wil hê dat jy jou kinders volgens die Bybel moet tugtig.  Moenie jou eie metodes gebruik, of die wêreld s’n volg nie.  Wat is hierdie maniere?

 

[1] Skuldgevoelens

Sommige ouers sit hulle kinders op ‘n ‘guilt trip’ as hulle oortree het.  Moet dit nie doen nie.  Moenie sê:  ‘Ek en jou ma spandeer tienduisende rande om jou in die skool te sit, en dít is die rapport wat jy huis toe bring!’ nie.  Dit laat net die kind skuldig voel, en help hom nie om te verander nie.

 

[2] Vrees

Het jy al ‘n pa gehoor wat sy kind met vrees dreig:  ‘As jy nou wéér jou sussie terg, gaan ek jou doodslaan!’?  Of ‘n ma wat sê:  ‘Wat tot jou pa vanaand by die huis kom mannetjie; hy gaan die velle van jou lyf aftrek!’?  As jy dít doen sal jou kind net luister totdat hy so groot is soos jy, of totdat ‘n pak slae hom nie meer afskrik nie.

 

[3] Manipulasie

Dit gebeur wanneer Maretha se dogtertjie ‘n tantrum in die winkel gooi en sy vir haar sê:  ‘As jy soet is sal mamma vir jou ‘n sweetie koop.’  Ander ouers koop hulle kinders om met geld en geskenke.  Natuurlik sal die kind soet wees om iets te kry, en nie a.g.v. die rede wat Paulus in Ef. 6:1 gee nie:  “Kinders, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.”  As jy niks het om vir jou kind te gee nie, sal hy nie luister nie.

 

[4] Die tronk

Baie ouers sluit hulle kinders vir ‘n dag in die kamer toe, omdat dit te veel moeite is om die saak ordentlik uit te praat en met ‘n pak slae af te handel.  Maar nêrens sê die Bybel dat jy hulle in ‘n vertrek moet toesluit nie.  Buitendien pas hierdie straf nie by die oortreding nie; jy rek die dissipline onnodiglik uit.  Jy wys ook nie vir die kind wat verkeerd is, en hoe om dit reg te stel nie.

 

Jou en die kind se verhouding is vir ‘n hele dag verbreek.  ‘n Pak slae sou beter gewees het, omdat die verhouding dadelik herstel word (dit is, as jy dit reg doen).  As jy die kind kamer toe stuur, sal hy iets kry om homself besig mee te hou, en is die dissipline oneffektief.

 

[5] Die prokureur

Kom ek illustreer dit met ‘n situasie wat ek eenkeer gesien het.

 

Pa:  Jy is uit; gee asb. die krieket kolf vir so-en-so.

Seun:  Nee, maar ek het per ongeluk die bal mis geslaan.

Pa:  Nee, jy het nie; jy is uit.

Seun:  Nee, die kolf het skeef gedraai en toe slaan ek die bal mis.

Pa:  Nee, jy kan net-nou weer ‘n beurt kry.

Seun:  Nee, elkeen kry twee beurte.

 

So dit aangehou.  Moenie toelaat dat jou kinders met jou redeneer nie.  As hulle met jou redeneer onderwerp hulle hulle nie aan die gesag wat God oor hulle gestel het nie.

 

[6] ‘Ek tel tot tien!’ 

Ted Tripp sê tereg dat vertraagde gehoorsaamheid ongehoorsaamheid is.  As jou kind eers terugpraat, verskonings uitdink of doen wat hý wil voordat hy jou opdragte uitvoer, leer hy om gehoorsaam te wees hoe en wanneer hý wil, en nie omdat jý so sê nie.  Hy wil nie ‘n baas oor hom hê nie, maar wil sy eie baas wees.

 

Jy moet leer om een keer te praat, en die tweede keer pak te gee.  Dit is nie nodig om vyf keer vir jou kind te sê jy gaan hom pak gee nie (en dit dan in elk geval nie doen nie).  As jy een keer praat en die tweede keer pak gee, bly jy in beheer van jouself en verloor jy nie jou humeur nie.  Die kind weet ook waar hy met jou staan, en leer dat hy dadelik gehoorsaam moet wees.

 

[7] Die verkleurmannetjie

Party ouers se reëls is soos ‘n verkleurmannetjie wat elke nou en dan anders lyk.  Sarie het gister pak gekry toe sy met haar ma terugpraat, maar word vandag oorgesien.  ‘Is dit nou verkeerd of nie?’ wonder sy.  Wees asb. konsekwent en konstant.  As jy haar vandag hiervoor pak gee, moet jy dit môre ook doen.

 

[8] Die ‘sonde’ van kindwees

Het jy al ooit ‘n ouer gesien wat sy kind slaan omdat sy per ongeluk ‘n glas melk omgestamp het?  Slaan jou kind vir sonde, en nie omdat sy ‘n kind is nie.

 

[9] Mishandeling

Jy het geen reg om jou kind met die vuis te slaan, of om hom só erg pak te gee dat hy in die hospitaal beland nie.  ‘n Ouer wat dít doen moet in die tronk beland.

 

[10] Geskreeu

Moenie van die kombuis af op jou kinders skreeu, omdat jy te moeg is of nie lus is om hulle te dissiplineer nie.  Bybelse dissipline vat tyd, maar as jy dit nóú reg doen sal jy jouself in toekoms baie tyd, trane en wakker nagte spaar.

 

Die korrekte metode van tug

Ek ken ‘n ma wat nie in pak slae glo nie.  As haar man die kinders wou pak gee, het sy hom gekeer.  Haar jongste seun het al rebels geraak toe hy in die laerskool was.  As sy God se metode gevolg het, is die kanse goed dat haar kind vandag op die regte pad was.

 

God se metode is om jou kind pak te gee as hy of sy teen jou gesag rebelleer.  In die wêreld verwerp baie ouers hierdie metode, maar die Bybel leer duidelik dat ‘n pak slae wat deur liefde gemotiveer word, die kind bevoordeel soos wat ‘n operasiemes die pasiënt bevoordeel (Spr. 22:15, 23:13-14).  Om net te praat help nie; die kind moet fisiese pyn met die oortreding assosieer, sodat hy dit nie weer doen nie (Spr. 29:15, 17, 19).

 

Maar om nét die kind pak te gee help ook nie.  Jy moet met hom praat en vir hom die regte pad leer (Spr. 29:15).  Vat die kind eenkant en praat oor wat gebeur het.  Ek stem saam met Ted Tripp dat dissipline nie ‘n toeskouer sport is om jou kind in die verleentheid te stel nie.  Praat met sagmoedigheid, en beheer jouself wanneer jy dissipline toepas.  Raak eers stil voor die Here of vra vir die ander ouer om dit te hanteer as jy te kwaad is; vra vir vergifnis as jy jou humeur verloor het.

 

Ek het die volgende vrae by Paul Tripp geleer.  Dit sal jou help om by die hart van die probleem uit te kom (Spr. 20:5).

 

  • Wat het gebeur?
  • Wat het jy gedink en gevoel toe jou boetie die speelding by jou gevat het?
  • Wat het jy toe gedoen?
  • Hoekom het jy dit gedoen – wat wou jy gehad het?
  • Wat gaan nou gebeur?

 

So leer die kind dat sy dade die gevolg van sy sondige emosies, begeertes en gedagtes is.  Hy leer dat die probleem dieper is as sy dade, en dat hy nie sy eie hart kan verander nie.  Hy leer ook dat sy sonde negatiewe gevolge het.  As hy dinge op hierdie manier leer, dryf dit hom na Jesus toe.

 

Wanneer jy jou kind tugtig, moet jy ‘n straf gee wat by die oortreding pas.  Sê vir hom hoeveel houe jy gaan gee, sodat jy in beheer van jouself kan bly.  Een hou is genoeg vir kleintjies.  As die kind ouer is kan jy een of twee houe gee, en drie of vier vir ernstige oortredings.

 

Wanneer jy die kind pak gee, moet hy die pyn voel.  Doeke en rompe moenie in die pad kom nie.  As die kind ouer is moet jy nie sy broek aftrek, sodat hy skaam voel nie.  Waarsku ook die kind om nie rond te wikkel of sy hande in die pad te kry nie.  ‘n Kind wat dít doen onderwerp hom nie aan die ouer nie, en moet ‘n ekstra hou kry.

 

Na jy die kind geslaan het, moet jy toelaat dat hy klaar huil.  Verseker hom van jou liefde.  As hy jou nie naby hom soek nie, het die pakslae nie gewerk nie en moet jy vir hom sê dat jy hom weer moet tugtig.  As hy berou het, kan jy saam met hom bid en die evangelie met hom deel.  Sê vir hom dat Jesus aan die kruis gesterf het om ons sondige rekord en harte skoon te was.  Sê vir hom dat Jesus hom sal red as hy sy sonde haat, hom daarvan bekeer en in Jesus glo.  Moet hom egter nie druk om die sondaarsgebed te bid, en dan vir hom sê dat hy nou gered is nie.  Gee wel vir hom ‘n kans om sy sonde te bely.  Leer hom ook om vergifnis te vra waar hy teen sy boeties, sussies, ouers of ander mense gesondig het.

 

Wie moet die dissipline toepas?  Volgens v.4 is dit hoofsaaklik die pa se rol.  Hy moenie op die bank sit en TV kyk, terwyl sy kinders die huis afbreek en vir hulle ma ‘n moeilike tyd gee nie.  Hy moet hulle in orde hou en nie vir sy vrou sê:  ‘Dissiplineer jý hulle!’ nie.  As hy nie by die huis is nie, moet sy vrou hulle dissiplineer.

 

Wat van oupas, oumas, ooms, tannies, die kerk en ander mense wanneer dit by die dissipline van jou kinders kom?  Pakslae moet in die konteks van liefde geskied.  Die persoon wat vir hulle kosmaak, medisyne gee, met hulle speel, by hulle aktiwiteite is, hulle van Jesus leer, hulle bederf, vir hulle drukkies gee, hulle in die bed sit, hulle met hulle huiswerk help, ens., moet ook vir hulle pak gee.  Enigiemand moenie jou kind pak gee nie.  Besluit wie die persone is wat in sy lewe betrokke is, en gee vir húlle toestemming om jou kind te tugtig as jy nie daar is nie.

 

Oupas, oumas en ander volwassenes moet asb. daarop let om nie die ouers teë te gaan as hulle die kind wil pak gee nie.   Moenie God se Woord en sy metodes opponeer nie.  As die ouers dit nie reg doen nie, kan jy eenkant met hulle praat en hulle op ‘n mooi manier reghelp, net soos wat Priscilla en Aquila Apollos oor iets anders reggehelp het (Hand. 18:26).

 

Sommige ouers sê dat pak slae nie vir húlle kind werk nie.  Ted Tripp gee vier redes hoekom pak slae in sommige gevalle nie ‘werk’ nie.  Op ‘n ander plek in die boek gee hy ‘n vyfde rede.

 

  1. Die ouer verloor sy humeur wanneer hy hulle slaan. Dit maak dat die kind bitter raak en hom uit vrees onderwerp.  Wanneer hy ouer raak en nie meer bang is nie, raak hy rebels.

 

  1. Die ouer is nie konsekwent nie. Gevolglik kyk die kind altyd hoe ver hy kan gaan.

 

  1. Die ouer volhard nie. Hy probeer vir twee weke of ‘n maand om sy kinders reg te tugtig, en gee dan op.  Hy vergeet dat kinders nie binne ‘n maand of eers ‘n jaar verander nie.

 

  1. Die ouers slaan nie hard genoeg nie. Die kind voel nie die pyn nie, en om hierdie rede werk die pak slae nie.  Toe ons oudste dogter klein was het dit met ons gebeur.  Ons was moedeloos, omdat die pak slae net nie vir haar ‘gewerk’ het nie.  Ek het met ‘n ouer predikant gaan praat.  Hy het vir my gesê om haar harder te slaan.  Die probleem is binne twee dae opgelos.

 

  1. Die kind is te oud. As jy vir ‘n driejarige pak gee, kan jy nog ‘n indruk op hom maak.  As jy dit egter nagelaat het en hom op sestien wil pak gee, sal dit hom nie afskrik nie.  As jy wil weet hoe jy jou tieners moet opvoed, sal ek Age of Opportunity van Paul Tripp aanbeveel.

 

Ouers wat nalaat of weier om hulle kinders met ‘n Bybelse pak slae en instruksie te tugtig, haat hulle kinders.  Salomo sê:  “want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos ‘n vader die seun in wie hy behae het.” (Spr. 3:12).  “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (Spr. 13:24).

 

Selfdissipline

Toe ek in 1998 my teologiese studies begin het, was ons vier eerstejaars.  Drie van ons het vars uit matriek uitgekom, en een het eers vir twee jaar weermag toe gegaan en daarna vir vier jaar gewerk.  Daar was ‘n duidelike verskil tussen hom en die res van ons.  Die weermag het vir hom selfdissipline geleer.

 

Moenie net jou kinders deur tugtiging dissiplineer nie, maar leer vir hulle selfdissipline.  Dit beteken dat jy nie alles vir hulle moet doen nie.  Moenie hulle kouse en onderklere van die vloer af optel nie.  Moenie altyd hulle beddens opmaak nie, maar leer hulle om dit self te doen.

 

Jy kan nie jou 5-jarige so hard soos jy laat werk nie, maar gee vir hom werkies, sodat hy dissipline kan leer.  Leer ook jou kinders om dissipline te hê in hulle skoolwerk.  Hulle moet hulle huiswerk deeglik, volledig en netjies doen.  Sport is ook goed, omdat dit vir hulle dissipline leer.  Help hulle egter om nie ‘n afgod daarvan te maak nie.  Spansport is goed, omdat dit vir hulle spanwerk leer.

 

As jou kinders ouer is, kan jy vir hulle sê om ‘n vakansiewerk te kry.  Dit sal help as jy dit nie vír hulle reël nie, maar as hulle self moet soek.  Dit sal vir hulle nederigheid leer.  Werk sal ook vir hulle karakter, geduld, opoffering, lojaliteit, selfdissipline, verantwoordelikheid, menseverhoudings, ens. leer.

 

Dit is dan my storie vir vandag.  Jou kinders sal dit nie in die grootmens wêreld maak as jy hulle nie op God se manier dissiplineer nie.  Hulle mag dalk ryk word en in die wêreld se oë suksesvol wees, maar as die Here hulle nie genadig is nie, sal hulle volwasse brats wees.  Hulle sal verhoudingsprobleme hê, omdat alles volgens húlle wil moet gebeur.

 

Hulle sal wees soos iemand wat ek geken het.  In sý oë was hy fantasties, maar volgens die mense wat hom geken het was hy ‘n pyn en ‘n boelie.  Moet asb. nie jou kinders so opvoed dat dít hulle voorland is nie, “maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Ef. 6:4).

 

[1] Oor die jare het ek baie uit Ted en Paul Tripp se boeke en DVD’s geleer.  Ted Tripp se boek, Shepherding a Child’s Heart is baie goed.  Paul Tripp se DVD reeks, Getting to the Heart of Parenting is net so goed.  Ek het die dinge wat ek hierin geleer het, in my eie ouerskap geïmplementeer.  Dit is al so deel van my, dat ek nie spesifieke bladsy nommers gaan aanhaal nie.

Wie moet jou kinders opvoed?

Father and son

George-en-Elna-gemiddelde-Christen voed nie self hulle kinders op nie:  in die oggend doen die skool dit, in die middag die bediende of die na-skool, en in die aand die TV.  Op Vrydae doen die sielkundige en die jeugleier dit, en op Sondae kry die Sondagskool juffrou háár beurt.  Tussendeur voed (voeter?) die kinders se selfone en tablette hulle op.

 

Volgens Paulus in v.4 moet pa’s hulle kinders opvoed.  In v.1-2 sien ons dat hy ma’s insluit.  In v.4 fokus hy egter op die pa, omdat hy die hoof van die huis is (5:23, Gen. 18:19, 1Tim. 3:4-5, 12).  Hy praat ook met pa’s, omdat hulle dikwels onbetrokke en passief is.  ‘Dit hoort nie so nie,’ is wat Paulus in v.4 sê.

 

Moenie so besig wees dat iemand anders of jou vrou alleen die kinders moet opvoed nie.  Net soos ons nie die ma se rol kan vervang nie, kan ons ook nie die pa s’n vervang nie.  Kinders benodig ‘n sterk leier om vir hulle te sorg, hulle geestelik te lei, en hulle teen die verkeerde invloede van vriende, verhoudings, vermaak, die internet, sosiale media, boelies, hulle eie sonde, vals lering, ens. te beskerm.  As die pa die Here liefhet en sy gesin volgens die Bybel lei, is die kanse goed dat hulle in sy voetspore sal volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Alhoewel die pa primêr vir sy kinders se welstand verantwoordelik is, is die ma medeverantwoordelik (Spr. 1:8).  ‘n Ma wat haar kinders vir die Here opvoed, kan ‘n reuse invloed op hulle, en sodoende die samelewing hê (1Sam. 1, Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Maar wat as een of beide ouers nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas en oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop dat die Here hulle sal red nie – doen iets.

 

Ander gelowiges kan ook betrokke raak.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as ‘n seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen en hulle kerk toe genooi.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

God se dagboek

God's diary

Tommie is 11 en sy sussie 14.  Hy weet baie meer van haar as wat sy dink, want wanneer sy in die middag by die skool is, lees hy haar dagboek.  Jy kan raai dat sy ‘n hartaanval sal kry as sy dit weet.

 

Met die Here is dit anders:  Hy gee nie om dat ons sý dagboek lees nie.  In Jes. 25 het Hy vir ons die hooftrekke van die geskiedenis in twaalf verse opgesom, van die ewige verlede af tot in die ewige toekoms.

 

Sy planne (v.1-5)

Ek het oor die afgelope 3 jaar probeer om verder te studeer.  Ek het by drie plekke aangeklop, maar my planne het misluk.  God se planne is nie so nie.  As Hy iets besluit gebeur dit.  Hy kan nie onsuksesvol wees nie.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

God het vir Jesaja en Israel gered (Eks. 15:2).  Daarom het hy gesê dat die Here sý God is en het hy Hom daarvoor geprys (v.1).  Hy het ‘n persoonlike verhouding met die Here gehad:  “U is my God!” (v.1).  Omdat hy aan die Here behoort het, was sy hoogste doel in die lewe om Hom te prys (v.1).

 

Hy het die Here vir sy wonderlike dade geprys (v.1).  God se wonderlike dade verwys na:

 

  • Die donker blou Stille Oseaan wat Hy in die holte van sy hand afgemeet het.
  • Sy onderhouding van die sonnestelsel en die res van die heelal.
  • Sy beheer oor die wind en die weer.
  • Sy sorg vir die mens, leeus, wurms en plankton.
  • Sy betrokkenheid in die detail van ons lewens.
  • Sy beheer oor die nasies en hulle konings.
  • Die vervulling van sy planne in die geskiedenis.
  • Jesus se kruisdood vir sondaars en sy opstanding uit die dood.
  • Sy onsigbare werk in die gekruisigde moordenaar se hart, sodat hy daardie oggend nog oppad hel toe was, en die aand saam met Jesus in die hemel was.
  • Die goeie werke wat Hy in en deur ons doen.
  • Die hemelse stad wat Hy gebou en ontwerp het.

 

Hierdie dade het Hy in die ewige verlede beplan (v.1, 46:10, 2Kon 19:25, Matt. 25:34, Hand. 2:23, 4:27-28, 17:26, Ef. 2:10, 2Tim. 1:9, Tit. 1:2, 1Pet. 1:20, Op. 13:8).  Sy planne is so waaragtig en getrou soos Hy; dit kan nie misluk nie (v.1, 14:24, 27, Job 42:2, Ps. 33:11, Spr. 19:21, Dan. 4:35, Ef. 1:11).

 

God het o.a. beplan om sy volk uit die Babiloniërs se mag te bevry, en om hulle vestingstad in bou rommel te verander (v.2).  Hy het besluit om die heidene se paleis af te breek (v.2).  God sou sý stad oprig, maar Babilon sou nie herbou word nie (v.2, 26:1).

 

Hiervoor sou sterk en gevreesde stede en nasies Hom verheerlik en voor Hom bewe (v.3).  Kon dit anders as Hy die magtigste ryk op aarde soos ‘n sandkasteel omgegooi het, en sy verdrukte volk deur dit alles behou het (v.3-4)?  Babilon se vesting kon hulle nie teen God se toorn beskerm nie, maar die Here was Israel se veilige vesting (v.3-4, Ps. 48:4).

 

In Israel se benoudheid en armoede, het die Here hulle soos berge, ‘n muur van vuur, ‘n laer en ‘n skild omring en beskerm (v.4, Ps. 34:5, 115:9-11, 125:2, Sag. 2:5).  Hy was vir hulle ‘n skuilplek, klipmuur en skaduwee teen die hitte en stormwind van Babilon se verdrukking (v.4, 4:5-6, Ps. 105:39).

 

Die hitte was intens en die geraas oorverdowend (v.5).  God het egter die Babiloniërs se monde toegestop en die geraas gedemp; Hy het hulle toorn afgewend soos ‘n groot wolk wat die son se hitte uitblok (v.5).  Babilon het gedink hulle gaan die oorwinningslied sing, maar God het hulle stilgemaak (v.5).

 

Hoe moet jy v.1-5 toepas?  Laat dit jou troos en bemoedig dat God jou redding, die detail van jou lewe en die ganse geskiedenis beplan het.  Die dag van jou geboorte en jou dood is nie aan jouself, die duiwel, mense, toeval of iets anders oorgelaat nie; God het dit bepaal (Gen. 18:14, Job 14:5, Pred. 3:1-2).

 

Hy het ook die detail van jou lewe bepaal (Ps. 139:16, Spr. 16:1, 9, 33, Jak. 4:13, 15).  As iets sleg met jou gebeur, kan jy weet dat dit deel van God se goeie plan is (Job 23:13-14).  As jy Hom liefhet en syne is, sal Hy sorg dat dit jou bevoordeel (Gen. 50:20, Rom. 8:28).

 

Wie beheer die siklone in Amerika, of die dinge wat tans in Suid-Afrika plaasvind?  Klaagl. 3:37-38 sê:  “Wie spreek daar, en dit gebeur?  Het die Here dit nie beveel nie?  Gaan uit die mond van die Allerhoogste nie kwaad sowel as goed nie?”

 

Wat van jou redding – wie het dít bepaal?  Was dit nie die Here nie (Rom. 8:29-30, 2Tess. 2:13, 1Pet. 1:2)?  Moenie vergeet om Hom te prys en dankie te sê dat Hy in sy ewige en liefdevolle raadsplan aan jou gedink het nie (v.1, Ef.1:4-6, Rom. 9:23).

 

Ek het ongelukkig nie tyd om vir jou te sê hoe sonde en die mens se vrywillige keuses in God se raadsplan werk nie.  Ek wil egter die volgende drie foute uitwys.

 

[1] Hiper-Calvinisme:  Jou besluite speel nie ‘n rol in God se planne nie.  Hy gaan sy planne uitwerk, of jy nou die evangelie deel, bid en ongehoorsaam is of nie.

 

[2] Arminianisme:  Voordat God die wêreld gemaak het, het Hy geweet wat jy gaan besluit.  Hy het sy planne volgens jou vrye keuses gemaak.  Sy raadsplan het nie jou redding bepaal nie; jou vrye wil het (a het dit nog nie bestaan nie).

 

[3] ‘Open-Theism’:  God weet nie alles nie.  Hy raai wat mense gaan kies en besluit daarvolgens.  Partykeer raai Hy verkeerd.

 

As jy meer hieroor wil weet, kan jy Randy Alcorn se boek Hand in hand lees.  Na my mening is dit een van die beste boeke oor die onderwerp.

 

Sy fees (v.6)

Ons het eenkeer by mense in die kerk gaan eet.  Die man het twee filette en ‘n rugstring gebraai.  Hy het die vleis met murg gestop.  Hy het my vooraf gewaarsku om handskoene te bring, omdat ek blykbaar my vingers sou afeet.  Ek hét byna.

 

Maar dit is niks in vergelyking met die fees wat God in Jes. 25:6 vir die nasies voorberei het nie.  Die volke van v.3 sal uiteindelik na berg Sion of Jerusalem toe kom (v.6, 2:2-3).  Daar sal hulle ‘n feesmaal van ryk kosse en goeie ou wyn geniet (v.6).  Wanneer sal dit wees?

 

Ons geniet reeds die voorgereg hiervan in Jesus wat die Brood van die Lewe en die Ware Wingerd is (Joh. 2:1-11, 6:35, 15:1, Op. 3:20).  Ons geniet dit o.a. deur die Woord, gebed, die nagmaal en die kerk (Hand. 2:42).  Óns is berg Sion of die Nuwe Jerusalem (Heb. 12:22, Op. 21:9-10).  In die hemel en daarna op die nuwe aarde sal die nasies in die Nuwe Jerusalem inkom en die fees ten volle geniet (Op. 19:7-9, 21:24, 26).

 

Wanneer dit by die fees kom is daar drie soorte mense.  Vir sommige lyk die vrot vrugte en rioolwater van sonde lekkerder as die smaaklike vleis en goeie wyn van Jesus.  Gevolglik ignoreer hulle God se uitnodiging, en kom hulle nie na die fees toe nie (Matt. 22:1-6).  Vir ander lyk die fees aantreklik.  Hulle kom, maar trek nie die feesklere van Christus se geregtigheid aan nie (Matt. 22:11-14).  Op papier is hulle deel van die kerk, maar in hulle harte is hulle nie deel nie.  Dan is daar dié wat met dankbare harte aan die fees smul.  Hulle is lief vir Jesus en kan nie genoeg van Hom kry nie.  Ek hoop jy is deel van die laaste groep.

 

Sy oorwinning (v.7-8)

Lank gelede wou ek met ‘n ongelowige die evangelie deel.  Ek het vir haar van ‘n man vertel wat kanker gehad het.  Toe ek van sy dood praat, het sy die onderwerp verander.  Ek het haar na die onderwerp toe teruggebring, maar toe ek oor die dood praat het sy wéér die onderwerp verander.

 

Ongelowiges is bang vir die dood, maar gelowiges het geen rede om die dood te vrees nie.  Jes. 25:7-8 sê vir ons hoekom.  Soos wat die graf en die hel mense insluk, sal die Here op berg Sion die dood insluk (v.7-8).  Hy sal afreken met die dood wat ‘n laken oor Adam se nageslag gegooi het (v.7, Rom. 5:12, 1Kor. 15:22).  Hy sal die sluier afhaal waarmee die dood sy bedroefde kinders se gesigte bedek het (v.7).  Hy sal die trane van hulle oë afvee (v.8, Op. 7:17, 21:4).  Hy sal die skande van die dood en die hartseer gevolge daarvan wegvat (v.8).

 

Deur sy kruisdood en opstanding op berg Sion in Jerusalem het Hy die dood oorwin (Heb. 2:14-15, Op. 1:18).  Dié wat in Hom glo sal in die hemel voortlewe, en by die wederkoms opstaan en die dood oorwin (Joh. 11:25-26, 1Kor. 15:54-55).  Daarna sal Jesus die dood in die poel van swael en vuur gooi, sodat dit ons nie weer kan skaad nie (v.7-8, 1Kor. 15:26, Op. 20:14).

 

Op die nuwe aarde sal daar nie begrafnisse en grafte wees nie, maar ons sal vir ewig bly wees.  Hoe weet jy dit?  Want die Here het so gesê (v.8).  Kan ons dan sê dat Christen so-en-so die stryd teen kanker verloor het?  Of sal kanker uiteindelik die stryd teen háár verloor?  En wat van al die Christene wat voor jou gesterf het oor wie jy hartseer is:  sal jy hulle weer sien?  Gaan jy hulle herken?  Dit blyk die punt van 1Tess. 4:13-18 te wees.  As dit jou nie oortuig nie, lees asb. 2Kor. 1:14 en 1Tess. 2:19-20.

 

Alhoewel die dood eers by Christus se wederkoms vernietig gaan word, kan dit nou al vir jou ‘n wins wees.  Maar dan moet die lewe vir jou oor Jesus gaan (Fil. 1:21).  As Hy alles vir jou is, is die dood ‘n wins omdat dit jou na Hom toe neem.  Alhoewel die dood die laaste vyand is, is dit ook die goue koets wat jou hemel toe vat.

 

Sy verlossing (v.9)

In die 1600’s het John Owen ‘n boek met ‘n treffende titel geskryf:  The Death of death in the death of Christ.  Dit is ook waaroor die nasies in v.9 bly was:  Jesus het die dood doodgemaak.  Wanneer die Here kom om die dood te oorwin (v.7-8), sal die volke van v.3 en 6 sê:  “Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het:  laat ons juig en bly wees oor sy hulp.” (v.9).  Hulle sal nie kan glo dat dit Hy is nie; hulle sal hulle oë uit staar en sy heerlike skoonheid bewonder (v.9, 2Tess. 1:10, Op. 22:4).  Hulle sal trots wees dat Hy húlle God is (v.9, 1).

 

Soos Jesaja in v.1, sal hulle juig en bly wees; hulle sal Hom vir sy verlossing prys (v.9).  Hulle was vir eeue in die donker greep van die dood, maar nou het Jesus hulle verlos.  Toe Hy aan die kruis gesterf het, het Hy die dood gevonnis; by die wederkoms sal Hy dit teregstel.  Hiervoor sal die nasies Hom prys en erken dat Hy die soewereine Here is (v.9).  Hulle sal weet dat hulle nie verniet op Hom gewag het nie (v.9).

 

Het jy onlangs oor Satan se versoeking gesug?  Het jy dalk gesug, omdat die wêreld se boosheid vir jou erg is?  Het jy miskien oor jou eie sonde gesug, omdat dit ‘n moeilike stryd is?  Sug jy oor die droogte in die Kaap en die gebrek aan reën in die res van die land?  Sug jy oor jou ongeredde kinders, oor siekte, of oor ‘n beproewing wat jy moet deurmaak?

 

Die lyding wat jy hier ervaar is so lig soos ‘n veer teen die triljoen ton gewig van God se heerlikheid en blydskap wat op ons wag (v.9, Rom. 8:18, 2Kor. 4:17).  Vyf sekondes in die hemel sal opmaak vir al die lyding wat jy op die aarde deurgemaak het.  ‘Earth has no sorrows that heaven cannot heal.’[1]

 

Sy straf (v.10-12)

Saartjie het vandag verjaar.  Dit was die beste verjaarsdag wat sy nóg gehad het.  Vandat sy wakker geword het, het elke oomblik net beter en beter geword.  Die geskenke in die oggend, haar vriende in die dag, die lekkergoed in die middag, haar oupa en ouma toe die son sak, ‘n fliek en uiteet in die aand.  Dit was fantasties, maar nou is dit verby.

 

Wanneer Jesus kom sal dit nie so wees nie.  Dit sal vir ewig beter word en nie ophou nie.  Nooit weer sal jy hartseer wees nie (v.8), maar vir ewig op die bergtop van blydskap te wees (v.9).  Kan dit anders wees as God se hand op die hemelse berg Sion rus, en jy altyd in sy direkte teenwoordigheid is (v.10)?  Dit is nie asof Hy nie rééds met ons is nie, maar daar sal jy dit nie vir ‘n oomblik betwyfel nie.

 

Goddelose volke soos Moab sal gestraf word (v.10).  Soos met al sy vyande, sal die Messias hulle koppe onder sy voete verbrysel (v.10, Gen. 3:15, Num. 24:17, Ps. 110:1).  Hy sal hulle vertrap soos wat ‘n mens strooi op die mishoop vertrap (v.10, vgl. 63:1-6).  God se vyande sal op die mishoop wees, terwyl sy kinders by ‘n feesmaal aansit (v.10, 6)!

 

Wanneer die Here Moab en sy vyande so vertrap, sal hulle nie poog om hulle te bekeer nie.  Hulle sal hulle hande soos ‘n swemmer oopsprei en probeer om uit die toiletwater van hulle hopelose omstandighede uit te swem (v.11)!  In hulle hoogmoed sal hulle nog steeds nie na die Here toe draai nie, maar hulle hande na hulle mensgemaakte gode toe uitstrek (v.11, 16:3-6, 12).  Gevolglik sal die Here hulle en hulle kunstig-gemaakte gode verbrysel (v.11).  Hy sal die hoë vestings van hulle mure afbreek totdat daar net stof oorbly (v.12, 2-3).

 

Die les is duidelik:  geen mens se goeie werke, toewyding, godsdiens, afgode, rykdom, status, doop, lidmaatskap, amp in die gemeente, of enigiets anders kan hom of haar teen God se oordele beskerm nie.  Net Jesus kan.  Toe Hy aan die kruis gesterf het, het die volle straf van God soos vallende rotse op Hom neergekom.  Dié wat deur geloof en bekering in die berg van sy kruisdood skuil, sal nie deur die rotse verpletter word nie.  Vlug na Hom toe as jy nog in die oopte ronddwaal (Spr. 18:10).  As jy dít doen sal jy mettertyd agterkom dat jou naam op ‘n ander plek in sy dagboek geskryf staan.  As jy my nie glo nie, kan jy wag tot jy in die hemel kom en Hom self vra.

 

[1] Iain Murray, D. Martyn Lloyd-Jones: The Fight of Faith, p.742

Die gat in ons opvoeding

Family Worship

Daar is ‘n predikant in Johannesburg vir wie ek die wêreld se respek het.  En tog het hy voete van klei soos die res van ons.  Oor huisgodsdiens het hy vir my gesê:  ‘It is a cultural monkey we need to get off our backs.’  Ps. 78:1-8 stem nie met hom saam nie, maar dink dat huisgodsdiens baie belangrik is.

 

Hoe moet jy jou kinders leer? (v.1-5)

M.b.t. huisgodsdiens en die huwelik, het ‘n vriend van my in Limpopo my baie beïnvloed.  Van die dinge wat ons oor die jare in ons huisgodsdiens gedoen het, het ek by hom geleer.  A.g.v. hulle ouerskap en huisgodsdiens, vra hulle vyfjarige uit die bloute vir kuiergaste:  ‘Can I get you something?’  Volgens Ps. 78 is die invloed wat ‘n ouer op sy of haar kinders het, veel groter as wat ons besef.

 

Asaf het hierdie Psalm en elf ander geskryf (v.1, Pss. 50, 73-83).  Hy was ‘n musikant wat in Dawid se tyd die koor gelei het (1Kron. 15:16-17, 19, 16:4-5, 7).  Hy het hierdie Psalm geskryf om vir sy lesers lesse uit Israel se geskiedenis te leer (v.1).  Hy het musiek gebruik [Heb. maskîyl], sodat hulle dit makliker kon onthou (v.1).

 

Omdat die mens nog steeds so leer, is dit belangrik dat jy God se Woord vir jou kinders sing.  Leer vir hulle Bybelverse in sang.  Vermy maar die meeste kinderliede, omdat dit oppervlakkig is en nie ‘n hoë siening van God kweek nie.  Leer eerder vir hulle liede wat diep waarhede bevat, en sê vir hulle wat die woorde beteken.

 

Israel moes hulle ore vir Asaf se onderrig gespits het (v.1, kontra Hand. 7:51).  Ons moet dit ook doen, sodat ons ons kinders reg kan leer.  Ons moet ‘n hoë siening van die Bybel hê en glo dat dit nie die opinies van mense is nie, maar die Woord van God (v.1, 1Tess. 2:13, 2Tim. 3:16, 2Pet. 1:20-21).  Ons moet dit gereeld inneem en toepas.  Ons ore moet oop wees vir die Woord, en ons kinders s’n ook.  Hoe kan jy dit regkry?

 

  • Moenie toelaat dat jou kinders gereeld huisgodsdiens mis, omdat hulle moet leer, by vriende is, uitgaan of skool aktiwiteite het nie.
  • Sorg ook dat jý dit nie mis, omdat jy altyd by die werk is nie.
  • Moet dit nie te laat in die aand doen wanneer almal moeg is nie.
  • Moenie toelaat dat jou kinders lê of speel terwyl jy met die Bybel besig is nie. Hulle moet regop sit en nie die res se aandag aftrek nie.
  • Vat jou kinders gereeld kerk toe. Moet hulle nie alleen stuur, omdat jy op Sondae jou eie ding doen nie.  Onthou dat dit die Here se dag is.  Doen jou werk, inkopies, sport, partytjies, wasgoed, ens. in die week of op ‘n Saterdag.  Moenie toelaat dat hierdie dinge jou van die Woord af weghou nie.
  • Probeer om die Woord in te neem wanneer jy dit op ‘n Sondag hoor. Rus genoeg op Saterdae, sodat jy nie op Sondae tydens die diens slaap nie.
  • Maak vooraf jou hart stil, sodat jy nie gedurende die preek aan die week se probleme dink nie. Pasop vir die duiwel wat jou aandag wil aftrek.
  • Bely en laat staan jou sonde, sodat dit jou nie doof maak vir die Woord nie.
  • Dissiplineer jouself om stil te sit en te luister. Moenie rondloop tydens die preek nie.

 

Die bg. dinge help nie as jy ongered is nie (1Kor. 2:14).  Jy moet eers deur geloof deel van God se volk wees (v.1, 1Pet. 2:9-10).  Die Heilige Gees moet jou dowe ore oopmaak om te verstaan dat jy a.g.v. jou selfsug en sonde ‘n terroris in God se Koninkryk is.  Ek hoef nie vir jou te sê wat God met terroriste doen nie.

 

En tog is jou toestand nie hopeloos nie.  God kan jou uit die straf kamp van jou sonde bevry.  Gebruik die sleutels van geloof en bekering om uit te kom.  Wees dankbaar dat Jesus namens jou in die straf kamp gesterf het.  Wees ook dankbaar dat Hy uit die dood uit opgestaan het, en dat jy saam met Hom in sy Koninkryk van liefde kan lewe en met oop ore die pragtige musiek van die Woord kan geniet.

 

As jy gered is, moet jy hierdie evangelie met die volgende geslag deel.  Hoe moet jy dit doen?  Gebruik gelykenisse, stories, beelde en illustrasies, sodat hulle as’t ware die waarheid in hulle verbeeldings kan sien (v.2, Matt. 13:34-35).  Jy hoef nie eers illustrasies uit te dink nie; die Bybel is vol daarvan.

 

As jy bv. geloof wil verduidelik, kan jy vir hulle vertel hoe ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke wegsteek, sodat die valk hulle nie kan vang nie.  As ons in Jesus glo, is ons veilig onder sy vlerke, en kan die valk van sy toorn ons nie vang nie.  Jesus het reeds aan die kruis die straf gedra wat ons verdien.

 

Om God se verlossing verder te verduidelik, kan jy vir hulle vertel dat ons soos stoute kinders is wat van die huis af wegloop en ons ouers se geld mors.  Bekering is soos ‘n rebelse kind wat alles verloor, tussen die varke beland, tot sy sinne kom, berou het oor wat hy gedoen het, en na sy huis toe terugkeer.  Vergifnis is soos ‘n pa wat na hierdie rebelse kind toe hardloop, hom omhels en soen, vir hom geskenke gee en ‘n groot partytjie hou.

 

Maar om net illustrasies te gebruik is nie genoeg nie.  Sonder die Heilige Gees bly die evangelie ‘n raaisel uit die verlede, en kan mense dit nie verstaan nie (v.2, Matt. 13:9-17).  Moet dan nie net die Bybel vir jou kinders uitlê nie, maar bid dat die Here hulle harte sal oopmaak, sodat hulle die ou ou tyding kan verstaan (v.2, Jer. 6:16, Hand. 16:14).

 

Herhaling is belangrik.  Israel was nie onbekend met die dinge wat Asaf in hierdie Psalm geskryf het nie.  Hulle het die stories by hulle ouers gehoor en goed geken (v.3, 44:2).  En tog het Asaf hulle daaraan herinner.  Doen dieselfde met jou kinders.  Leer hulle aanhoudend, sodat hulle die Woord kan onthou (2Pet. 1:12-15).

 

Verder moet jy ook die lesse in mense se lewens gebruik om jou kinders te leer (Rom. 15:4, 1Kor. 10:11).  Die lewe van Josef wys bv. hoe God mense se sonde gebruik om sy goeie planne uit te werk.  Maar dit beteken nie dat jy opsetlik moet sondig nie.  Die geskiedenis van Adam en Eva wys dat sonde ernstige gevolge het.  Die storie van Rut wys dat God elke tree van die pad beplan het, al voel dit partykeer of Hy jou verlaat het.  Jesus wat die storm stil maak wys vir ons dat Hy God is, en dat niks vir Hom onmoontlik is nie.

 

Onthou asb. dat God die hoofkarakter in elke storie is, en dat die les altyd oor Hom moet gaan.  As jy jou kinders bv. van Dawid en Goliat vertel, is die punt nie dat God groot potensiaal in onbelangrike mense sien nie, maar dat Hy so sterk is dat Hy ‘n seuntjie met ‘n slingervel kan gebruik om ‘n gewapende reus dood te maak.

 

As jy jou kinders só leer, sal hulle die Here vrees, liefhê en bewonder.  As jy egter ‘n Kinderbybel of VeggieTales DVD met snaakse prentjies in gebruik, sal hulle Hom nie ernstig opneem nie.  Dit sal wees soos ‘n preek wat ek 2012 gehoor het.  Dit het oor die erns van sonde gegaan.  Die prediker se uitleg van Agan se sonde in Jos. 7 was goed, maar hy het soveel humor gebruik dat ‘n mens die idee gekry het sonde is glad nie ernstig nie.  Let op wát jy vir jou kinders leer, maar ook op die manier wat jy dit doen.

 

Asaf sê verder dat ons nie die Woord vir ons kinders moet wegsteek nie, maar dat ons hulle van sy heerlike en kragtige dade moet vertel (v.4).  Daar is ouers wat hierdie dinge vir hulle kinders wegsteek, omdat hulle nie tyd maak vir huisgodsdiens nie, omdat hulle hulle ongereeld kerk toe bring, omdat hulle nie van ‘n persoonlike verhouding met die Here getuig nie (hulle kinders sien nie dat hulle die Bybel lees en bid nie), en omdat hulle onheilige lewens die waarheid verbloem.  Moenie so wees nie, maar bely jou sonde.  Vra die Here se hulp om te doen wat reg is.

 

Om die Bybel vir jou kinders te leer is nie ‘n opsie nie, maar ‘n opdrag (v.5).  Jy móét dit doen.  Die Bybel is nie net vir jou persoonlike stiltetyd bedoel nie, maar sodat jy jou kinders van die Here kan leer (v.5).  Dit help nie jy deel die evangelie met die nasies, terwyl jou eie kinders oppad hel toe is nie.  Om jou kinders effektief te leer, moet jy die volgende dinge doen:

 

[1] Voor jy jou kinders leer moet jý die Here vrees, glo dat Hy die enigste God is, Hom met alles in jou liefhê, die Bybel ken, in jou hart bêre en gehoorsaam wees (Deut. 6:1-9).  As jy sê maar nie doen nie, sal hulle jou, die Here, of beide verag.

 

[2] Huisgodsdiens gebeur nie vanself nie; jy moet daarvoor beplan.  Hoe laat gaan jy dit hou en wanneer gaan jy begin?  As jy nie beplan nie, sal jou besige program huisgodsdiens eenkant toe skuif sodat dit nie gebeur nie.

 

[3] Leer jou kinders om die Here in die gemeente te dien (1Kor. 16:15).  In die begin kan hulle klein dinge doen, soos om iets vir ou mense aan te dra.  Sorg ook dat jy gereeld ander gelowiges in jou huis het (Heb. 13:2).  Gasvryheid is ‘n goeie manier om diensbaarheid vir jou kinders te leer.

 

[4] Skerp die Woord by hulle in (Deut. 6:7).  Leer hulle elke dag.  Hou dit kort en eenvoudig as die kinders klein is.  ‘n Puritein genaamd Samuel Lee het gesê:  ‘A young plant may be quickly overloaded with manure and rotted with too much watering.’[1]  As jy dus vir ‘n tweejarige die skeppingsverhaal vertel, moet jy nie die hele hoofstuk lees nie.  Sê eerder:  ‘God het alles gemaak:  die son, die maan, die vissies, die voëltjies, die diere.  Heel laaste het hy mense gemaak.  God is baie sterk en goed.’  As jou kinders ouer is, kan jy ‘n paar verse lees en dit uitlê soos wat jy aangaan.

 

Jy kan ook Bybel Vrae en Antwoorde by Augustine Bookroom in Pretoria bestel.  Dit leer hulle op ‘n vraag en antwoord basis oor God, die skepping, die sondeval, verlossing, Jesus, die Tien Gebooie, die doop en die nagmaal, gebed, die dood, die hemel, die hel en meer.

 

Begin as jou kinders ‘n paar maande oud is – jy sal verbaas wees hoe gou hulle leer.  Vra ‘n vraag tot hulle dit ken (‘Wie het jou gemaak? God’), en beweeg dan na die volgende vraag toe.  Hersien die vrae wat hulle ken.  As hulle ouer is, kan jy die antwoorde bespreek:  ‘Is jy deur toeval of evolusie hier?  Nee, God het my oor ‘n tydperk van 9 maande in die baarmoeder gevorm.’

 

Spreuke werk ook vir ouer kinders, aangesien dit geskryf is om vir hulle basiese lewenswysheid te leer (Spr. 1:4, 8, 2:1, 3:1, 4:1, 5:1, 6:1, 7:1, ens.).  Dit sal hulle leer om hard te werk en nie lui te wees nie, die regte vriende te kies, goed te werk met geld, te veel drank te vermy, hulle emosies en hormone te verstaan en te beheer, ens.

 

Karaktertrekke werk ook goed.  Leer bv. vir hulle ‘n maklike definisie van volharding (‘moenie gou opgee nie’), en memoriseer ‘n gepaste Bybelvers:  “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.” (Gal. 6:9).  As hulle die karaktertrekke goed ken, kan jy dit handig gebruik:  ‘Ek weet jy wil graag in die eerste span wees, maar moenie so gou opgee nie; hou aan om hard te oefen.’

 

Saam met al hierdie dinge moet jy die evangelie met jou kinders deel.  Dit is nie genoeg om hulle van die tien plae of Daniël in die leeukuil te vertel nie.  Te veel ouers neem aan dat hulle kinders gered is, omdat hulle in ‘n Christelike huis grootword, of omdat hulle as babas gedoop is.

 

Jy móét vir jou kinders sê dat hulle nie a.g.v. jóú geloof gered is nie.  Hulle is met ‘n sondige natuur gebore en sondig van kleins af (Ps. 51:7, 58:4).  Omdat die Here heilig is, gaan Hy hulle hiervoor oordeel (Op. 20:12, ‘klein en groot’).  Maar as hulle jammer is oor hulle sonde, dit haat, en in geloof na die Here toe draai, sal Hy hulle red, vergewe en as sy kinders aanneem.

 

[5] Bid saam met jou kinders.  Hou dit kort as hulle klein is.  Jy kan bv. vir ‘n eenjarige sê om agter jou aan te bid:  ‘Sê:  Dankie… Jesus… Amen.’  Jou kinders sal ook uit jóú gebede leer.  Bid daarom met eerbied en respek, sodat hulle kan leer dat die Here groot en heilig is.  Wees vars in jou gebede; moenie elke dag dieselfde ding bid nie (bv. rympies).  Om vars te bly, moet jy self ‘n gebedslewe hê.

 

Waarvoor moet jy bid?  Bid heel eerste vir mekaar en vir die redding van jou kinders se siele.  Moenie die impak van jou gebede onderskat nie.  As jy gereeld en getrou vir jou kinders bid, sal jy ‘n invloed in hulle lewens hê.  Bid ook vir die leraar en die ouderlinge, bekerings, mense in die kerk, sendelinge en siek mense.  Leer hulle om nie vaag te bid nie, maar spesifiek.  ‘Here, help asb. vir Arrie om werk te kry…’ is beter as:  ‘Here, help asb. al die mense in die hospitale en langs die strate…’

 

Gee vir elkeen ‘n beurt om te bid.  Moenie jou kinders se gees demp as hulle gebede onvolmaak is nie.  Jy self bid nie perfek nie.  Wanneer jy jou kinders help om Bybels te bid, moet jy dit in ‘n gees van sagmoedigheid en liefde doen.

 

Bid spesiaal voor die nagmaal.  Gee vir elkeen ‘n kans om sy of haar sonde te bely.  Dalk wil jy nie jou sonde voor jou kinders bely nie, maar eintlik sal dit hulle help om gereeld te hoor dat jy, soos hulle, ‘n sondaar is, en dat jy ook die Here se genade nodig het.

 

[6] Bring jou kinders na die eredienste en Bybelstudies toe (Jos. 8:34-35, Hand. 10:24-33).  Wees opgewonde oor Sondae.  Sê vir hulle:  ‘Dis die Here se Dag!  Ons gaan God se kinders sien, Hom prys en sy Woord hoor!’  Praat na die erediens oor God se Woord en die mense.  ‘Dit was lekker om weer vir tannie Hannie te sien; sy was lank in die hospitaal.’  As jou kinders ouer is, kan jy die preek bespreek.  Moenie van individue, die kerk of die leraar skinder nie.  Jy sal jou kinders negatief maak teen die Here, sy Woord en sy liggaam.

 

[7] Leer jou kinders op ‘n informele vlak.  Met kleintjies werk gelykenisse goed:  ‘God sorg vir die mossies en nog meer vir sy kinders; mense is belangriker as voëltjies.’  Met ouer kinders kan jy in die kar praat oor wat by die skool gebeur het (Deut. 6:7).  Gee vir hulle Bybelse antwoorde oor boelies, kinders wat gespot word, rassisme, kinders wat vloek, rook, drank, seks, watse rol uiterlike voorkoms speel, respek vir onderwysers, huiswerk, evolusie in die handboek, ‘n goeie sportmangees, karakter, ens.  Werk hard om vir hulle ‘n Bybelse wêreldbeskouing te gee.

 

As jy by ‘n advertensie bord verby ry, kan jy hulle leer wat God van uiterlike voorkoms en rykdom dink.  Leer hulle oor ware liefde as hulle in Frozen of Tangled sien hoe ‘n man en vrou mekaar ontmoet, en binne 24 uur verloof raak.  Sê vir hulle dat egskeiding, homoseksualiteit, saambly en aborsie nie God se goedkeuring wegdra nie.

 

[8] Dissiplineer jou kinders (Spr. 22:15, 29:15, Ef. 6:4).  So leer jy hulle die Bybel en help jy hulle om te verstaan dat sonde pynlike gevolge het (Gal. 6:7, Heb. 12:10-11).  Moet hulle nie oordissiplineer nie.  Jy kan nie ‘n kind op medisyne grootmaak nie.  Moet hulle ook nie onderdissiplineer nie.  As jy nalaat om hulle pak te gee, beskadig jy hulle siele en pluk jy vir jouself ‘n lat (Spr. 23:13-14, 17:25, 29:15, 17).  ‘God many times whips an aged parent by that child that was unwhipped at first.’[2]

 

Dalk vrees jy dat al hierdie ‘toewyding’ jou kinders opstandig sal maak en vir hulle ‘n weersin in God, die Bybel en die kerk sal gee.  Dit sal nie.  Hulle sal net opstandig raak as jy skynheilig is, as jy nie dieselfde persoon by die kerk is as by die huis nie.  Hulle sal opstandig raak as jy altyd by die kerk moet wees, maar te besig is om húlle aktiwiteite by te woon.  Hulle sal die Bybel verag as jy dit net gebruik wanneer hulle verkeerd doen:  ‘Die Bybel sê…!’

 

Wie se plig is dit om jou kinders van die Here te leer?  Dit is nie die skool, Sondagskool, jeugleier, sielkundige, bediende, TV of iemand anders se plig nie.  As hoof van die huis is die pa hoofsaaklik hiervoor verantwoordelik (v.3, 5, Gen. 18:19, Ef. 6:4, 1Tim. 3:4-5, 12).  As die pa die Here liefhet en vir sy gesin die Bybel leer, gebeur dit gewoonlik dat hulle sy voorbeeld volg (Jos. 24:15, Spr. 22:6, Joh. 4:53, Hand. 1:14, 16:31-34, 18:8, Rom. 16:10-11, 1Kor. 7:14).

 

Saam met die pa is die ma mede-verantwoordelik.  Sy moet ook die kinders leer (Spr. 1:8).  As sy pligsgetrou is, kan sy ‘n groot invloed op haar kinders se lewens, en sodoende op die samelewing hê (Spr. 31:1, 2-9, 1Tim. 2:15).

 

Wat as ‘n kind se pa, ma of beide nie die Here dien nie?  In sulke gevalle moet gelowige oupas, oumas, ooms en tannies help (Hand. 16:1, 2Tim. 1:5, 3:15).  Praat met hulle oor die Here as jy die geleentheid het.  Stel vir hulle ‘n goeie voorbeeld, skryf briewe, bel hulle, stuur vir hulle ‘n Whatsapp, nooi hulle saam kerk toe, bid vir hulle.  Dit is nie genoeg om te hoop die Here red hulle nie – doen iets.

 

Die kerk moet ook betrokke raak by die kinders van wie een of beide ouers nie die Here ken nie.  Omdat Timoteus se pa nie ‘n gelowige was nie, het Paulus hom as sy seun in die geloof aangeneem (Hand. 16:1, 1Tim. 1:2, 2Tim. 1:2).  Hy het dieselfde met Titus gedoen (Tit. 1:4).  Wyle dr. Martin Holdt het dit met sy bure se dogters gedoen.  Onder sy invloed het hulle tot bekering gekom.  Is daar ‘n kind wat jý vir die Here kan beïnvloed?

 

Hoekom moet jy jou kinders leer? (v.6-8)

Sammy leer haar kinders, sodat hulle goeie maniere kan hê en mense haar geluk kan wens.  Oliver leer sy kinders, sodat hulle reg sal doen en hom nie in die verleentheid stel nie.  Cornelia leer haar kinders, sodat hulle top atlete, studente en leiers kan wees.  Kenny leer sy kinders, sodat hulle ‘n goeie karakter kan ontwikkel en suksesvol kan wees in die toekoms.  Sonja leer haar kinders, sodat hulle goeie vriendskappe kan bou en eendag gelukkig getroud kan wees.

 

Maar nie een van hierdie redes is goed genoeg nie.  Hoekom móét jy jou kinders leer?  In v.6-8 gee Asaf vir ons die rede:  leer jou kinders, sodat hulle God en sy Woord kan ken en vir húlle kinders kan leer.  As jy dit goed doen, is dit nie net jou kinders wat die Here sal dien nie, maar die geslagte wat kom.

 

‘n Man in ons gemeente het my vertel dat sy vrou se oupa die Here getrou gedien het.  Op sy begrafnis het hulle besef hoe baie van sy kinders en kleinkinders deur sý voorbeeld tot bekering gekom het.  Moenie bang wees dat jou kinders die evangelie sal verwerp nie.  Bid vir hulle, leer die Bybel vir hulle, stel ‘n goeie voorbeeld en los die res vir die Here.

 

As jy nalaat om dit te doen benadeel jy nie net jou kinders nie, maar die geslagte wat kom (v.6-8).  As jý nie hulle gedagtes met die waarheid vul nie, sal die wêreld en haar vals godsdienste dit vul.  Jou kinders sal op hulleself en die wêreld hoop, en nie op die Here nie (v.7).  Hulle sal sy groot werke vergeet en sy Woord ignoreer (v.7).  Hulle sal rebels, hardkoppig en ontrou wees (v.8, Rigt. 2:10-12).

 

Asaf sê vir ons hoekom baie kinders die kerk verlaat wanneer hulle universiteit toe gaan.  Hulle het hulle ouers se lewens dopgehou en gesien dat hulle skynheilige kerkmense is (v.8).  Op ‘n Sondag sing hulle Psalms, maar op ‘n Maandag vloek hulle hulle werkers, veg hulle soos honde in die huis, drink hulle te veel en kyk hulle vuil programme op TV.  In hulle harte het hierdie kinders al die kerk verlaat toe hulle in die laerskool was; dit het eers sigbaar geword toe hulle 18 is.

 

Wil jy hê jou kinders moet hulle hoop in die Here stel, in Hom glo, Hom dien, op Hom vertrou, Hom prys, standvastig en gehoorsaam wees, getrou wees in hulle harte (v.5-8)?  Sorg dan dat jy dit eerste doen en vir hulle die Bybel leer.  Bekeer jou, glo in Jesus Christus en bid dat hulle dieselfde sal doen.  So sal die slegte voorbeeld van party van ons Afrikaanse voorvaders nie na hulle toe deursyfer nie (v.8, 1Pet. 1:18).

 

Moet asb. nie jou kinders aan die duiwel, die wêreld of hulleself oorlaat nie; help hulle.  Wees soos John Paton se pa.  In sy hele lewe het hy nie eenkeer nagelaat om oggend en aand huisgodsdiens te hou nie.  Volgens Paton het nie een van die elf kinders opstandig geraak hieroor nie.  Inteendeel, dit het hulle lewens verander.[3]  Jare later het ‘n hele eiland onder Paton se prediking tot bekering gekom.  Waar het dit begin?  Om ‘n kombuistafel met ‘n oop Bybel.

 

[1] Jeff Pollard & Scott T. Brown: red., A Theology of the Family, p. 138

[2] Ibid., p.139

[3] John Paton: Missionary to the New Hebrides, pp.14-17