Drome van rykdom en die nagmerrie van God se oordeel

Dreaming while sleeping

Marli is dol verlief op ‘n man in haar filosofie klas.  Hy weet nie eers van haar nie.  Een middag toe staan sy onder ‘n groot koelteboom op kampus.  Die man van wie sy so baie hou het reguit na haar toe gestap.  Hy het met haar gesels en vir haar gesê hoe oulik sy is.  Net voor hy weggeloop het, het hy haar gesoen.  Op daardie oomblik het Marli wakker geword en gevoel hoe haar boerboel haar in die gesig lek.  Dit was net ‘n droom.

 

Net so het Tirus, Sidon en die ander nasies in Jes.23-24 se drome van rykdom en plesier in ‘n nagmerrie verander.

 

Tirus en Sidon (hfst.23)

‘n Paar jaar gelede het ons ‘n muisplaag in ons huis gehad.  Net sodra jy dink jy het almal uitgeroei, is daar nóg een.  En as jy die laaste een gevang het, is daar nog drie.  Dit is moeiliker as wat jy dink om mev. muis en haar familie van kant te maak.

 

Tirus was so.  Die stad was 36 km van Sidon af.  Die twee stede was noord van Israel in Lebanon aan die kus van die Middellandse See.  Tirus is op ‘n groot rots in die see gebou, 800 m van die kus af.  Baie konings het probeer om die stad te verower, maar was onsuksesvol.

 

Salmaneser van Assirië het probeer.  In 701 v.C. het Sanherib van Assirië die vasteland verower.  Hy kon egter nie die stad inneem nie.  In 586 v.C. het Nebukadnesar van Babilon dit vir 13 jaar beleër, maar ook hý was onsuksesvol.  In 333 v.C. het Artasasta III van Persië dit beleër, maar nie deurgebreek nie.[1]  En toe kom die jaar 332 v.C.

 

Aleksander die Grote van Griekeland het met bouvalle, stompe en klippe ‘n pad deur die see gebou.  Na ‘n lang gesukkel het hy uiteindelik die stad ingeneem.[2]  Jes.23 voorspel die aanvalle en val van Tirus.

 

Tirus was baie ryk.  Skepe het van Tarsis in Spanje af na haar toe gekom om handel te dryf (23:1).  Toe die Spaanse handelaars die eiland Kittim of Siprus bereik het, het hulle gehoor dat Tirus verwoes is, en dat daar nie vir hulle huise was om in te bly, of ‘n hawe om hulle skepe in te los nie (23:1).  Omdat hulle kanse op rykdom daarmee heen was, het hulle getreur (23:1, 14).

 

Sidon se handelaars het gereeld na Tirus toe gekom, maar omdat die stad in puin gelê het, was hulle stil en het hulle skaam gekry (23:2-3).  Sigor se koring langs die Nylrivier in Egipte, sou nie meer na Tirus toe gekom het, sodat hulle dit per skip na ander lande toe kon vat nie (23:3).  Dit het Egipte angstig gemaak (23:5).  Soos ‘n ma wat haar kinders verloor, was die see angstig a.g.v. Tirus se jongmense wat vermoor is, en omdat haar skepe nie meer sou vaar nie (23:4).

 

Die verskrikte en bedroefde inwoners van Tirus het nou na Tarsis in Spanje toe gevlug, en nie andersom nie (23:6).  Soos wat die Nyl vrylik deur Egipte gevloei het, sou Tirus se rykdom nie meer ‘n houvas op die mense van Tarsis gehad het nie, maar sou hulle rustig in hulle eie land geboer het (23:10).

 

‘Kan jy glo dat die vrolike en antieke stad na ‘n ver land toe getrek het?’ het Jesaja vir homself gesê (23:7).  ‘As sy ‘n land in besit geneem het, het sy haar eie koning aangestel; haar handelaars was wêreldberoemde prinse (23:8).  Maar a.g.v. die Here se bepaalde raadsplan, is die hoogmoedige stad op haar knieë gedwing; God het haar en haar geëerde prinse van hulle heerlikheid ontneem en onrein gemaak’ (23:8-9).

 

God het sy hand oor die see uitgestrek en die vestingstede van Kanaän – Tirus en Sidon – geskud (23:11).  ‘Jy sal nie meer juig en in jouself roem nie; jy sal wees soos ‘n maagd wat verkrag word (23:12).  Jy sal 250 km oor die see vaar en na Kittim of Siprus toe verban word.  Ook dáár sal jy nie rus hê nie’ (23:12).

 

Assirië het die magtige Babiloniërs of Chaldeërs tot niet gemaak en kaalgestroop, sodat dit ‘n plek vir wilde diere geword het (23:13).  Hoe sou Tirus en Sidon dan ontsnap het?  As Assirië klaar teen Tirus geveg het, sou sy vir 70 jaar – ‘n koning se leeftyd – vergete gewees het (23:15).  In 701 v.C. het koning Sanherib van Assirië die kusgedeeltes oorkant Tirus platgevee.  Die stad het eers 70 jaar later in 630 v.C. weer op haar voete gekom.[3]

 

Deur God se algemene genade het sy weer ryk geword (23:17).  Sy was soos ‘n prostituut wat op haar harp speel en sing om aandag te trek; soos ‘n prostituut het sy met die nasies van die aarde onderhandel om geld te maak (23:15-17).

 

Maar in die toekoms sou sy nie haar rykdom vir haarself gebêre het nie (23:18).  God sou in haar hart gewerk het, sodat sy deel van die kerk of Nuwe Jerusalem geword het (Ps.87:4, Mt.15:21-28, Hd.21:3-6).  Hy sou haar rykdom gebruik het om sy kinders te bevoordeel (23:18).  Op die nuwe aarde sal sy haar rykdom aan die Here se voete neerlê en erken dat dit van Hom af kom (Op.21:24, 26).

 

Wat leer Jes.23 vir ons?  God haat dit as mense in hulle rykdom roem, en maak asof dit van hulleself af kom en nie van Hóm af nie (23:9).  Onthou dat Gód aan jou die vermoeë gegee het om ryk te word (Dt.8:18).  Rykdom en eer kom van Hóm af; Hý is die een wat mense ryk en arm maak (1 Sm.2:7, 1 Kron.29:12, Sp.22:2).  Alles wat jy het kom van Hom af (1 Kor.4:7).  Die braaivleis wat jy eet het Hý vir jou gegee om te geniet, en ook sodat jy dit kan deel met dié wat nie het nie (1 Tm.6:17-18).

 

God gee nie vir jou méér geld, sodat jy soos die ryk man in Lk.16:19 luukser kan lewe nie, maar sodat jy soos Saggeus en die Korintiërs meer kan gee (Lk.19:8, 2 Kor.9:8-11, Ef.4:28).  Hy wil hê dat jy deur jou mededeelsaamheid, goeie werke en die ondersteuning van sendelinge, skatte in die hemel moet bêre (Lk.12:33, Fil.4:15-19, 1 Tm.6:18-19).

 

Moet dan nie in die strik trap wat Satan deur die wêreld en predikers soos Joseph Prince en Joyce Meyer vir jou stel nie.  Dit is nie ‘n sonde om ryk te wees nie, maar dit ís ‘n sonde as jy van God ‘n genie maak om vir jou meer te gee; dit ís ‘n sonde as jy alewig meer soek, en as dit jou lewensdoel is om ryk te wees.

 

“Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang.  Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.” (1 Tm.6:9-10).

 

Moet dan nie toelaat dat geld jou gedagtes, beplanning en gesprekke beheer nie, maar soek na die ewige skat van Jesus Christus.  As jy dít doen, sal Hy ook in jou aardse behoeftes – nie begeertes nie – voorsien (Mt.6:33).

 

Jerusalem en die wêreld (hfst.24)

Toe ek in my eerste jaar was, moes ek vir een klas ‘n hoofstuk opgesom het.  Toe ek die werk vir die dosent gegee het, het hy my op ‘n mooi manier aangespreek en vir my gesê dat ek die hoofstuk moes opsom en nie oorvertaal nie.  Daar is nie genoeg tyd om die hele geskiedenis in detail weer te gee nie.  Daarom bestaan daar hoofstukke soos Jes.24 wat ‘n groot gedeelte van die geskiedenis vir ons opsom.

 

Jes.24 gaan nie oor die finale oordeel nie, maar oor God se oordeel oor Ou Testamentiese volke en stede soos hfst.13-23 vir ons wys.  Dit handel ook oor die inleiding van God se nuwe skepping in die kerk, asook oor die vervulling daarvan wanneer Jesus weer kom (2 Kor.5:17, Op.21).

 

Jesaja se woordkeuse herinner ons aan die eerste skepping, die vloed, en die toring van Babel.  Voordat God die nuwe skepping van die kerk en die hemelse Jerusalem kan inlei, moet Hy die eerste skepping en die aardse Jerusalem oordeel.

 

God het gesê dat Hy die aarde woes en leeg sal maak soos ‘n woestyn (24:1, 3, Gn.1:2, Jer.4:23-24).  Soos met die vloed sou Hy die aarde verander het, en soos by die toring van Babel sou Hy die bewoners van die aarde verstrooi het (24:1).  Niemand sou op grond van geslag, of ekonomiese, godsdienstige en sosiale status voorgetrek word nie, maar almal sou dieselfde oordeel ontvang het (24:2).

 

Die aarde en sy belangrikste mense sou soos ‘n blom verlep het (24:4, 23:9).  Dwarsdeur die Ou Testament het Israel en die nasies geen respek vir God se Woord en wet gehad nie; hulle het die aarde met hulle sonde besmet (24:5).  Hulle het God se ewige verbond met Noag, Abraham, Moses en Dawid gebreek (24:5, Gn.9:16, Lv.24:8, 2 Sm.23:5, Ps.105:9-10).

 

A.g.v. Adam, Israel en die nasies se sonde, het God die aarde vervloek (24:6, Gn.3:17-19, Dt.11:26-28, Rm.3:23, 5:12, 8:20).  Hy het besluit om hulle met die vuur van sy oordeel te skroei, sodat daar teen die einde van die Ou Testament min mense oor was (24:6).  Mense sou nie meer met wyn en sterk drank, musiek instrumente en sang partytjies gehou het nie; bier sou vir hulle sleg gewees het (24:7-9, vgl. Jer.7:34).

 

Jerusalem sou woes en leeg gewees het, die stad se hekke platgeslaan, en die huise se deure toe sodat niemand kon inkom nie (24:10, 12).  Omdat die wyn klaar was, het depressie die mense se blydskap vervang (24:11).  Die nasies sou gewees het soos ‘n olyfboom wat goed geskud is, of soos ‘n wingerd wat afgeoes en kaalgestroop is (24:13, 17:6).

 

Maar dit sou nie so gebly het nie.  In die ooste en in die weste sou mense God vir sy heerlike majesteit geprys het (24:14-15, 45:6, Mal.1:11).  Die eilande en die eindes van die aarde sou die Regverdige God van Israel aanbid het (24:15-16, 60:9).

 

Omdat die aarde egter nog boos was en 24:14-16a eers in die toekoms vervul sou word, het Jesaja uitgeroep:  “Ek teer weg, ek teer weg, wee my!  Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.” (24:16b).

 

Die mense se sonde was vir hom baie erg.  Hiervoor sou die Here hulle gestraf het; niemand sou weggekom het nie.  Dié wat sy oordeel gevrees het en gevlug het sou in ‘n put geval het, en dié wat uit die put ontsnap het sou in ‘n strik gevang word (24:17-18, Jer.48:44, Am.5:19).

 

Soos met Noag se vloed, sou God die vensters van die hemel oopgemaak het (24:18, Gn.7:11).  Hy sou ‘n geweldige aardbewing gestuur het om die fondasie van die aarde te skud, te breek en te skeur; dit sou soos ‘n dronk man gewaggel het, en soos ‘n lendelam riethuise in die wind geslinger het (24:18-20).

 

Die mens se sonde het swaar op die aarde gerus, sodat God nie anders kon as om dit te oordeel nie (24:20).  As God die ou skepping so laat val het, sou dit nie weer opgestaan het nie, maar sou Hy ‘n nuwe skepping in die plek daarvan gemaak het (24:20).

 

Dit het begin toe Jesus deur sy kruisdood, opstanding en hemelvaart die koninkryke van hierdie wêreld en die bose magte oorwin het, en hulle as gevangenes in die bodemlose put toegesluit het (24:21-22, 14:9-15, Dn.2:44, 7:13-14, Ef.4:8, Kol.2:15).  Hulle sal vir ‘n lang tyd daar bly en by Jesus se wederkoms die finale oordeel van die hel ondergaan (24:22, 2 Pt.2:4, 9, Jud.6-7, Op.20:1-3, 10-15).

 

By die wederkoms sal God die nuwe skepping vervul en sal sy heerlike lig voor die ouderlinge skyn (24:23).  Sy lig sal so helder wees, dat die son en die maan skaam sal wees omdat hulle lig so flou is (24:23, Op.21:23).  God sal op berg Sion en in die Nuwe Jerusalem regeer (24:23).

 

Die kerk is die Nuwe Jerusalem en die hemelse berg Sion, en die lig van God se heerlikheid het reeds by Jesus se eerste koms deurgebreek (Lk.1:78, Jh.8:12, 2 Kor.4:6, Heb.12:22-23, Op.21:9-10).  By die wederkoms sal ons onder die volheid van God se heerskappy lewe en die perfekte lig van sy heerlikheid aanskou (24:23, Op.21:23-24).

 

Hoe moet ons Jes.24 in ons lewens toepas?  Soos die oordeel in Jes.24:2, sal die finale oordeel onpartydig wees (Rm.2:11).  God sal jou nie voortrek omdat jy in die NG, AGS of Baptistekerk was nie.  Jy sal nie voorrang geniet omdat jy ‘n ds. was, Afrikaans gepraat het, in Amerika gebore is, ‘n biljoenêr was, of omdat jy in Soweto groot geword het nie.

 

Om in God se teenwoordigheid in te kom moet jy ‘n perfekte rekord hê en instaat wees om die ewige en ontelbare prys vir jou sonde te betaal.  Jesus is die enigste Een met ‘n perfekte rekord; net Hý het in sy lewe en dood die prys betaal wat ons sonde verdien.

 

Dié wat op Hom vertrou om hulle van hulle sonde en God se oordeel te red, sal nie in God se hof hoef te staan nie (Jh.5:24, Rm.8:1, 2 Kor.5:21).  Hulle sal in hierdie lewe, in die lewe hierna, en op die nuwe aarde jubel en bly wees (24:14-16).

 

Dié wat egter op hulleself, hulle werke, ‘n ander verlosser of godsdiens vertrou, sal tot die skokkende besef kom dat hulle sub-standaard rekord nie vir ‘n heilige God aanneemlik is nie (Mt.7:21-23).  Soos die mense in 24:17-18 is daar baie wat dink dat ‘n God van liefde hulle nie in die hel sal gooi nie.  Maar hulle sal nie wegkom nie.  Waarheen sal hulle vlug; is daar ‘n plek waar God nié is nie?

 

“Al dring hulle deur in die doderyk, my hand sal hulle daaruit haal; en al klim hulle op na die hemel, Ek sal hulle van daar laat neerdaal.  En al steek hulle hul weg op die top van Karmel, Ek sal hulle daar opspoor en weghaal; en al verberg hulle hul voor my oë op die bodem van die see, Ek sal van daar die slang ontbied om hulle te byt.  En al gaan hulle as gevangenes voor hulle vyande uit, Ek sal van daar die swaard ontbied om hulle dood te maak” (Am.9:2-4).

 

As jy deur geloof en bekering in Jesus se Persoon, kruisdood en opstanding skuil, het jy geen rede om te vrees nie, maar elke rede om bly te wees.  Jy sal soos tienjarige Elsie wees wat ‘n vakansie in Disney World gewen het.  Sy kan haar opgewondenheid nie inhou nie.

 

Die aand voor haar vlug droom sy van haar vakansie.  ‘n Paar ure later word sy wakker en klim sy op die vliegtuig Disney World toe.  Haar vakansie was baie langer, helderder en beter as haar droom.  Haar idee van hoe dit sou gewees het was heeltemal te klein.  En so sal dit vir God se kinders wees as hierdie wêreld verby is, en ons vir ewig by die Here is:  jou droom sal ‘n werklikheid word en meer wees as wat jy jou ooit kon indink.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.192

[2] http://www.ancient.eu/article/107/

[3] Motyer, Ibid.