Hoe sien God die wêreld?

Planet in eyeball

Die bekendste vers in die Bybel leer vir ons dat God die wêreld liefhet, en dat Hy aarde toe gekom het om ons te red (Jh.3:16-17).  Maar die wêreld verwys ook na goddelose mense wat agter die duiwel aanloop (Ef.2:2, 1 Jh.5:19).  Die wêreld haat vir God, en daarom wil Hy nie hê dat ons die bose sisteem moet liefkry en omhels nie (1 Jh.2:15-16).

 

Die wêreld moenie die fondasie wees waarop ons ons lewens bou nie.  Dit moenie die bankrekening wees waarin ons ons skatte belê nie.  Ons behoort aan die Here, en moet daarom nie wees soos ‘n vrou wat haar man los om emosionele vervulling in iemand anders te kry nie (Jk.4:4).  In Jes.20:1-21:10 sien ons hoe die profeet vir Israel hierteen gewaarsku het.

 

Filistia (20:1-6)

Asdod was ‘n stad van die Filistyne.  Dit was minder as 5 km van die Middellandse See af.  Koning Sargon II (722-705 v.C.) van Assirië het die stad verower, sodat hulle onder sy bewind was en belasting moes betaal.  Toe hulle egter teen hom gerebelleer het, het hy sy generaal – die tartan – met ‘n groot weermag na hulle toe gestuur (20:1).  Hy het teen die stad geveg en die rebelle verbrysel (20:1).

 

Toe dít gebeur het, het die Here deur Jesaja die seun van Amos met Israel gepraat (20:2).  Hy moes sy sandale en die growwe klere van ‘n profeet uitgetrek het (20:2, 2 Kon.1:8).  Vir 3 jaar het hy kaalvoet en naak rondgeloop (20:2-3, Mg.1:8).  Ek is nie seker of hy kaal bolyf was, of hy ‘n onderkleed aangehad het, en of hy totaal en al naak was nie.  Hoe dit ookal sy, hy sou verseker selfbewus gevoel het.

 

Is daar ‘n groter vernedering as dit?  Toe ek in graad 8 was, het ‘n ouer seun my met boeie aan die skool se kennisgewing bord vasgemaak en my broek afgetrek.  Almal het vir my gelag en ek het verneder gevoel.  Hoe moes dit nie vir Jesaja gewees het om vir 3 jaar so rond te loop nie?

 

Sy selfvernedering moes egter vir God se volk gewys het dat dít hulle voorland was as hulle op Etiopië en Egipte vertrou het, en nie op die Here nie (20:3-6).  Jesaja was as’t ware ‘n teken dat die koning van Assirië die ou en jong mense van Egipte en Etiopië op ‘n soortgelyke wyse na sy eie land toe sou wegvoer:  sonder skoene en naak soos iemand met ‘n hospitaal frokkie wat nie mooi wil toemaak nie (20:3-4).  Hulle sou so kaal gewees het soos die land nadat dit verwoes is (20:4, hfst.19).

 

Die Filistyne van Asdod naby die kus sou skaam gewees het dat hulle enigsins op Egipte en Etiopië vertrou het (20:5-6).  En as húlle nie eers teen die Assiriërs kon staan nie, hoe sou die Filistyne dit oorleef het (20:6, vgl. Jer.47:4)?

 

Israel moes daarom nie eers probeer het om op Egipte en haar weermag te vertrou nie (30:3, 5, 31:1, Ps.20:8).  Dit geld vir ons ook.  Wanneer dit met ons sleg gaan, moet ons nie ons volle vertroue in mense of in enigiets anders stel om ons te help nie.  Ons moet ook nie met die wêreld hande vat en dink dat dít die oplossing is nie.

 

Terwyl ons land deur ‘n krisis gaan, kan geen politieke party ons help nie.  As hulle kon, sou almal dit geweet het.  Ons kan nie op die ekonomie vertrou nie, omdat die wêreld en sy rykdom in ‘n oomblik op sy neus kan duik, soos dit tydens die groot depressie in die 1930’s gebeur het.

 

Ons kan nie dink dat die opvoedingsisteem ons land se probleme gaan oplos nie.  Dié wat ander moet oplei dink dat immorele dinge soos seks voor die huwelik, homseksualiteit, aborsie en vals godsdienste moreel is.  Maar al het hulle ook goeie waardes gehad, kan moraliteit nie God se toorn afwend nie.  ‘Morality damns just like immorality,’ het John MacArthur in ‘n preek gesê.  Dit is immers nie moraliteit wat ons in die hemel bring nie, maar geloof in Jesus Christus wat vir sondaars gesterf het en opgestaan het uit die dood.

 

Die probleem is geestelik, en daarom moet die oplossing ook geestelik wees.  Ek verwys nie na enige vorm van geestelikheid nie.  Ons kan nie saam met vals leraars en mense van ander godsdienste ‘n gebedsdag hou, en dink dat die Here dit gaan seën nie (2 Kor.6:14-18).  Met ‘n geestelike oplossing bedoel ek dat ons in ware geloof na Jesus Christus toe moet draai.

 

Babilon (21:1-10)[1]

Om C.S. Lewis se Chronicles of Narnia reg te verstaan, sal dit help as jy ‘n basiese kennis van die Bybel het.  En om Jes.21 se eerste tien verse te verstaan, sal dit help as jy iets van Babilon se geskiedenis weet.

 

Sommige kommentators dink dat Jes.21:1-10 die verwoesting van Babilon deur die Meders en die Perse in 539 v.C. voorspel.  Ander dink dat dit Sanherib van Assirië se oorwinning oor die Babiloniërs in 689 v.C. voorspel.  Persoonlik lyk dit vir my of die tweede opsie die regte een is.  Laat my toe om te verduidelik.

 

Die woestyn van die see verwys na die suide van Babilon, naby die Persiese golf.  Soos die warrelwinde wat deur die Negeb woestyn suid van die Dooie See gewaai het, sou die verwoesting skielik oor Babilon gekom het (21:1).

 

God het in ‘n visioen vir Jesaja gesê dat daar harde dinge oppad was (21:2).  Die trouelose Assiriërs het baie nasies verwoes (21:2, 33:1).  Koning Merodag Baladan van Babilon het vir Elam in Suid-Iran en Medië in die noorde gevra om hom teen die Assiriërs te help (21:2).  ‘Ek sal die verdrukking en gesug wat hulle veroorsaak het, tot ‘n einde bring,’ het die koning van Babilon in sy hart gesê (21:2).

 

Toe God dit vir Jesaja gesê het, het hy fisies en emosioneel in ‘n toestand van skok ingegaan, byna soos ‘n swanger vrou wat in kraam ingaan (21:3-4).  Ons kan die rede soos volg opsom.  Merodag Baladan het boodskappers Jerusalem toe gestuur om vir Hiskia na sy onlangse siekte te besoek (Jes.39).  In sy hart het hy gehoop dat Hiskia hom sou help om Assirië se juk af te gooi.

 

Hiskia het die boodskappers met oop arms ontvang en hulle met lekker kos en goeie wyn onthaal (21:5, vgl. 22:13).  Ná die ete het Hiskia met sy rykdom, wapenrusting en skilde by hulle gespog (39:1-2, 2 Kron.32:24-31).  ‘Ons sal maklik die Assiriërs se aanval kan afweer,’ is wat hulle in 21:5 met die gesalfde skilde geïmpliseer het.

 

Omdat Hiskia hoogmoedig was en nie op die Here vertrou het nie, het daar groot toorn oor hom, Jerusalem en Juda gekom (2 Kron.32:25).  Toe hy hom egter verneder het, het die Here hom vergewe en gesê dat Jerusalem ná sy dood eers tot ‘n val sou kom (2 Kron.32:26).

 

Dít is wat vir Jesaja vreesbevange gemaak het:  die eindste Babiloniërs vir wie Jerusalem die regterhand van vriendskap gegee het, sou hulle in 586 v.C. vernietig het (21:3-4, 39:5-7).  Toe Jesaja Jerusalem en Babilon se sonde gesien het, het hy gewens dat die skemer van God se oordeel wil aanbreek (21:4).  Maar toe die Here die detail daarvan geopenbaar het, het dit hom soos magtige golwe oorweldig – dit was erger as wat hy gedink het (21:4).

 

Op God se bevel het Jesaja ‘n wag op die mure geplaas (21:6).  Hy moes die vervulling van God se woorde aangekondig het (21:6).  As die perderuiters in pare en op donkies en kamele aangekom het, moes hy noukeurig geluister het (21:7).  Die wag het uitgeroep soos ‘n leeu wat brul:  ‘Dag en nag sal ek op my pos wees, totdat die Here se woorde in vervulling gaan!’ (21:8, Hab.2:1).

 

Van die uitkyktoring af het die wag gesien hoe die perderuiters in pare aankom (21:9).  Vir dié wat in Jesaja se tyd geleef het, het dit ‘n baie spesifieke betekenis gehad.  Die Arabiere het gewoonlik twee perde in die oorlog ingevat.  Hulle het op een gery, terwyl hulle die ander een saam gelei het.  As hulle gesien het hulle gaan verloor, het hulle van die moeë perd afgeklim en op die ander een gevlug.

 

Hierdie selfde beeld word nou in 21:9 gebruik.  Volgens die profesie in 21:6-7, het die wag gesien hoe die ruiters in pare aankom.  Net soos wat hulle in die oorlog ingegaan het, het hulle teruggekeer.  Assirië het nie vir Babilon gevlug nie, maar hulle oorwin.

 

‘Babilon en haar gode het geval!’ het die wag uitgeroep (21:9).  Volgens die geskiedenisboeke het Sanherib van Assirië die Babiloniërs geslag en die stad met hulle lyke gevul.  Sy soldate het die Babiloniërs se gode gevat en stukkend geslaan (21:9).  Assirië wou gewys het dat húlle gode sterker is as die Babiloniërs s’n.

 

In die lig hiervan, moes Hiskia en die volk dit nie eers oorweeg het om op Babilon te vertrou nie.  Israel was alreeds soos vertrapte en gedorste koring (21:10).  Hoe kon hulle dan op iemand staatgemaak het wat self deur Assirië vertrap sou word?  Hiskia en Jerusalem moes nie Jesaja se God-gegewe waarskuwing geïgnoreer het nie (21:10).

 

Omdat God die wêreld so swaar gaan oordeel, kan ons dit nie bekostig om kop in een mus met hulle te wees nie.  Ons kan nie om die wêreld se vuur sit nie (Ps.1:1).  Ons kan nie soos hulle lewe nie.  In ons vermaak, musiek, modes, geldsake, seksualiteit, ens., moet ons anders as hulle dink (Rm.12:2).  Moenie op jou eie vermoeëns staatmaak om teen die wêreld en sy versoekings te stry nie (21:5b),  maar vertrou op die Here (1 Jh.5:4-5).

 

Ek bedoel nie jy moet wens dat die Here vir Robert Mugabe, Jacob Zuma, Julius Malema, ISIS, jou persoonlike vyande, en die res van die wêreld moet oordeel nie.  As Jesaja hier was, sou hy vir jou gesê het:  ‘Jy weet nie waarvoor jy vra nie’ (21:3-4).

 

God se Woord sê:  “Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is?” (Ps.90:11).  “Wee die wat na die dag van die HERE verlang!  Wat sal tog die dag van die HERE vir julle wees?  Dit sal duisternis wees en geen lig nie.” (Am.5:18).  “Wie sal standhou voor sy grimmigheid?  En wie sal bestand wees teen die gloed van sy toorn?  Sy gramskap word uitgegiet soos vuur, en die rotse word stukkend geruk voor Hom.” (Nah.1:6).

 

“maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees:  vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!” (Lk.12:5).  “[hulle het] vir die berge en die rotse gesê:  Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op.6:16-17).

 

Vir God se kinders sal die wederkoms ‘n dag van verlossing wees, maar vir dié wat Hom verwerp het sal dit ‘n skrikwekkende dag wees:

 

“aangesien dit reg is by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie.  Hulle sal as straf ondergaan ‘n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo, in daardie dag; want ons getuienis het by julle geloof gevind.” (2 Ts.1:6-10).

 

Die oordeelsdag sal erger wees as enigiets waaraan jy in jou wildste drome kon dink (21:4).  Moet dit nie eers vir jou grootste vyande toewens nie.  Bid eerder dat die Here hulle tot hulle sinne sal bring, sodat hulle gered kan word (Rm.9:2-3, 10:1, 2 Pt.3:9).

 

Sien die wêreld soos wat die Here dit sien.  Sy liefde vir die bose mense wat sy Seun gekruisig het, is dieper en groter as my en jou liefde vir ons lewensmaats, kinders en kleinkinders.  God het juis sy liefde bewys deur Jesus wat vir ons gesterf het (Rm.5:8).

 

Ons was net so hopeloos soos die wêreld, en daarom voel ons jammer vir hulle.  Ons moet egter oppas dat hulle ons nie versoek om weer na hulle toe terug te keer nie.  Ons is soos ‘n eks-dwelmverslaafde wat medelye het met dié wat nog daarin vasgevang is.  Hy is egter ook op sy hoede, omdat hulle hom maklik kan verlei om weer saam met hulle ‘n zol te rook.

 

[1] Jes.21:1-10 is moeilik om te verstaan.  Alec Motyer se kommentaar, The Prophecy of Isaiah (pp.172-179), het my gehelp om hierdie verse te verstaan.