Die winter van God se oordeel

Biting winter

John Bunyan het gesê dat daar sekere plekke in die wêreld is waar die bome nie vrugte dra nie, omdat daar geen winter is nie.  Net so sien ons in Jes.17-19 hoe God die winter van sy oordeel oor die nasies gestuur het om hulle voor te berei vir die lente van sy seëninge.

 

Sirië (hfst.17)

‘n Oom in ons gemeente het my vertel hoe die bokke in Zimbabwe tussen die bouvallige huise rondloop.  Sirië se hoofstad Damaskus was so:  die Here het dit in bourommel verander (17:1).  Deur die koning van Assirië het Hy die land tot by Aroër in die suide getref het, sodat dit verlate was en mense se kleinvee rustig daar gewei het (17:2).

 

Efraim of Israel het voorheen op Damaskus gesteun om haar teen Assirië te help (Jes.7).  Toe Assirië haar egter verower het (2 Kon.16:9), kon Israel nie meer by haar geskuil het nie (17:3).  En tog was dit nie klaarpraat met haar nie:  in die toekoms sou sy so heerlik soos Israel gewees het (17:3).

 

Maar voordat die Here vir Israel verheerlik het, het Hy haar verneder en sy voorspoedige volk uitgeteer (17:4, 1 Sm.4:21).  Israel sou gewees het soos ‘n kaalgestroopte koringland in die Refaim vallei suid van Jerusalem, soos enkele olywe op ‘n olyfboom nadat dit goed geskud is (17:5-6).

 

God se tugtiging het daartoe gelei dat hulle nie meer op hulle handgemaakte gode vertrou het nie, maar op die Heilige van Israel (17:7-8, Mg.5:12-13).  In die verlede het hulle die Rots van hulle verlossing en beskutting vergeet om op die ‘ingevoerde stiggies’ van Damaskus te vertrou (17:10).

 

Die vestings van Israel se stede het hulle nie beskerm nie; dit het leeg geraak soos toe Josua die Kanaäniete verdryf het (17:9).  Die ‘ingevoerde wingerd’ van Damaskus het hulle ook nie gehelp nie; dit het vinniger gevrek as wat dit opgekom het, sodat Israel pyn en smart beleef het (17:11).

 

En tog het die Here haar teen die dreunende golwe van Assirië en die nasies beskerm (17:12-13).  Toe Hy hulle gestraf het, het hulle soos die Rooi See gevlug, en was hulle soos kaf en stof wat deur ‘n stormwind weggewaai word (17:13, Ps.1:4, 83:14).  Hy het dié wat sy volk geroof en geplunder het in die nag getref, sodat hulle nie die son sien opkom het nie (17:14, 37:36).

 

Vertrou op die Here as jy in die moeilikheid is.  Lê jou sorge in gebed aan sy voete neer, en vra vir ander gelowiges om saam te bid.  Ondersoek die Skrif om te sien wat dit oor jou situasie sê.  Vra ander gelowiges vir hulp as jy nie weet waar om te begin nie.

 

Moenie op jouself, jou vermoeëns, jou salaris, die dr., die ds., of iemand anders vertrou om jou lewe te verander nie.  Ek weet dat die Here soms middele gebruik om ons te help, maar jy kan nie jou absolute vertroue daarin stel en van die Here vergeet nie (17:7-10).  As die Here jou nie help nie, kan niemand anders dit doen nie (Ps.127:1-2).

 

Etiopië (hfst.18)

In 715 v.C. het die Etiopiese koning Piankhi Egipte verower, en die Vyf-en-twintigste Dinastie gevestig.[1]  Kus of Etiopië van ouds het van die horing van Afrika, deur Soedan tot in Egipte gestrek.  Omdat die Nylrivier daardeur gevloei het en daar baie insekte met gonsende vlerke was, het Jesaja dit as die land van riviere en vlerkgegons beskryf (18:1-2).

 

Toe Assirië teen Juda geveg het, het Etiopië boodskappers in gevlegde en geseëlde papirus bootjies teen die Nylrivier opgestuur (18:2).  ‘Ons sal julle beskerm,’ het hulle gesê.  Jesaja het vir hulle gesê om na hulle land toe terug te keer, die land van lang mense met gladde velle (18:2).

 

Alhoewel hulle die gevreesde en magtige Etiopië was, het die Here nie hulle hulp nodig gehad nie:  Hy sou self sy volk se vyande oorwin het (18:2-6).  God se oorwinning sou so duidelik vir die nasies gewees het soos ‘n banier op ‘n berg, of soos iemand wat hard op ‘n trompet blaas (18:3).

 

God het vir Jesaja gesê:  ‘Ek sal in die hemel sit en so stil soos hitte, dou en die seisoene teen Assirië werk.’ (18:4, 37:36).  Assirië het gedink dat die tyd ryp is om Jerusalem soos druiwe af te snoei.  God het hulle egter voorgespring en Assirië se takke afgekap (18:5).  Daar was so baie lyke dat roofvoëls dit in die somer gevreet het, en wilde diere in die winter (18:6, 37:36).

 

Duidelik het die Here nie Etiopië se hulp nodig gehad nie.  Hulle het sý hulp nodig gehad.  In die toekoms sou die gevreesde Etiopiërs na die hemelse berg Sion toe gekom het om vir God geskenke te bring en Hom te aanbid (18:7).  Dit het begin toe die Etiopiër in Hd.8 tot bekering gekom het.  Deur die kerk se geskiedenis was daar ware gelowiges in Etiopië.  Vandag is daar byna 20 miljoen evangeliese Christene.  In die toekoms sal die land in sy geheel na die Here toe draai (18:7, 2:3, 11:10, Ps.68:32).

 

Dit maak my hoopvol vir Etiopië en die res van ‘donker’ Afrika.  ‘n Zulu petrol joggie het twee weke gelede vir my gevra hoekom ons nie van swart mense in die Bybel lees nie.  Ons doen!  Volgens Nm.12:1 het Moses ná Sippora met ‘n Etiopiër getrou.  ‘n Etiopiër genaamd Ebed-Meleg het vir Jeremia gehelp en ook in die God van Israel geglo (Jer.38:7-13, 39:16-18).

 

Dit is waarskynlik dat die bruid in Hooglied swart was (Hgl.1:5-6).  Simon van Cirene het van Afrika af gekom en was swart (Mk.15:21).[2]  Die Etiopiër wat in Hd.8 in Christus geglo het was swart.  So het die evangelie Afrika bereik voordat dit enige ander kontinent bereik het.  Simeon Niger wat saam met Paulus ‘n leier in Antiochië was, was swart (Hd.13:1).

 

Ja, Afrika is vasgevang in ‘n net van sonde en die gevolge daarvan:  voorvader aanbidding, toordokters, ‘prosperity’ predikers, poligamie, VIGS, korrupsie, misdaad, luiheid, werkloosheid, armoede, diktators, dwelm- en mense handel, en meer.  Maar volgens Jes.18:7 en soortgelyke tekste, sal dit in die toekoms verander.  Die meeste mense sal nie meer soos die Rastafarians glo dat Etiopië se Haile Selassie die Messias, die Leeu van Juda, of die vleesgeworde God is nie.  Hulle sal eerder soos die Etiopiër in Hd.8 bely dat Jesus die Messias is.  Ons moet die Here hiervoor prys en hard stry om die oorblyfsels van rassisme uit ons harte uit te verwyder.

 

Egipte (hfst.19)

Suid-Afrika se gemiddelde reënval is omtrent 450 mm per jaar.  Egipte se gemiddelde jaarlikse reënval is tussen 20 en 200 mm teen die kus, en 0 mm in die res van die land.  Hulle is dus heeltemal afhanklik van die Nylrivier.  Hierdie inligting sal jou help om ‘n groot gedeelte van hfst.19 te verstaan.

 

Die Here het spoedig op ‘n wolk gery om vir Egipte te oordeel (19:1, Ps.104:3).  In Eks.7-12 het Hy die gode van Egipte d.m.v. die tien plae geoordeel (Eks.12:12).  Toe Hy dus weer teen Egipte gekom het, het die mense en gode Hom gevrees (19:1, vgl. 1 Sm.5:2-4).

 

Hy het gemaak dat die Egiptenare teen mekaar baklei (19:2).  Die mense het vir hulle gode en towenaars raad gevra, maar niemand kon hulle help nie (19:3, vgl. 8:19).  Uiteindelik het die Here ‘n streng meester oor hulle geplaas, die konings van Assirië en Babilon (20:4, Jer.46:26).

 

God het ook die Nylrivier opgedroog, en so die land se water voorraad uitgeput (19:5).  Die opdroogte vertakkings en kanale, vrot riete, en walle wat deur wind erosie weggevreet is, het Egipte se landbou, visserye, klere bedryf en ekomomie op sy kop gekeer (19:6-10).  Die boere was depressief, die rykes verpletter, en dié wat vir hulle gewerk het werkloos (19:9-10).

 

Die regering was stomgeslaan; die wysste ministers se raad was dwaas (19:11).  Die land van wyse raadgewers (1 Kor.4:30) kon nie die tekens van die tye gelees het om te sien dat dit Gód was wat hulle gestraf het nie (19:12).  Die seuns van antieke konings (die prinse van die hoofstad Soan en die vorige hoofstad Memfis of Nof) het hulleself en die volk mislei (19:11, 13).

 

Met hulle slegte raad het die hoekstene of grootkoppe van Egipte die land laat slinger soos ‘n dronk man wat in sy eie uitbraaksel gly (19:13-14).  God het vir ‘n bose gees toestemming gegee om hulle so te verwar (19:14, 1 Sm.18:10, 1 Kon.22:20-23, 2 Ts.2:11).  Die leiers was die hoë palmbome en die kop, en die volk die lae riete en die stert (19:15).  Nie een van hulle kon egter iets gedoen het om die land te red nie (19:15).

 

In die toekoms sal God sy vuis oor Egipte swaai, en sal hulle soos vroue bewe (19:16).  Hulle sal bang wees vir Juda, en nie andersom nie (19:17).  Hulle sal dink dat die Here téén hulle is, terwyl hulle vrees eintlik die begin van ‘n ware verhouding met Hom is (19:17, Sp.1:7).

 

Ons moet dus nie moedeloos raak wanneer ons sien dat Egipte huidiglik deur Islam oorheers word nie.  In die eerste paar eeue n.C., het ‘n klomp van die kerk se grootste leiers van Egipte af gekom.  In die toekoms sal hulle weer na die Here toe draai.  Vyf van die land se stede – o.a. een wat sterk onder die invloed van afgodery was – sal die taal van Kanaän praat en hulle trou aan die Here sweer (19:18).

 

Uiteindelik sal dit die hele bevolking beïnvloed, en tot by die land se grense uitbrei (19:19, vgl. Gn.28:13, 18).  Mense wat in die land inkom sal weet dat Egipte nie meer afgode aanbid nie, en dat God sy Seun gestuur het om hulle van die vlees, die duiwel en die wêreld te verlos (19:20, 3).

 

God sal Homself aan die Egiptenare bekend maak, en hulle sal Hom ken en aanbid (19:21, 11:9, Heb.8:11).  As hulle sonde doen sal Hy hulle tugtig, en as hulle weer na Hom toe draai sal Hy hulle vergewe (19:22, Heb.12:5-11).  Hulle geloof sal na ander dele van die wêreld toe versprei, sodat hulle saam met die Assiriërs van Iran die ware God sal aanbid (19:23, 2:2-4).

 

Soos met Israel, sal Egipte en Iran ook die Here dien (19:24).  Israel se bekering in die toekoms sal seën vir die wêreld beteken, sodat die nasies na Christus toe draai (19:24, Gn.12:3, Jh.3:17, Rm.11:12, 15).  Israel, Egipte, Assirië, en die res van die nasies wat in Jesus glo, sal sy volk, die werk van sy hande, en sy erfdeel wees (19:25, Ef.1:18, 2:10-22, Tit.2:14, 1 Pet.2:9-10).

 

Ek wil nie die arme perd holrug ry nie, maar ek kan nie vir jou sê hoe hierdie waarheid oor die afgelope 18 maande my gebedslewe beïnvloed het nie.  Dit het my gehelp om groot gebede vir die wêreld te bid, en om nie by my eie lewe en my probleme vas te hak nie.  Dit het my gehelp om hoopvol te wees dat God dinge in Suid-Afrika kan omkeer.

 

As die Here wil, kan Hy bose stede soos Kempton Park, Tembisa, Johannesburg, Soweto, Kaapstad, en ander stede in ons land na Hom toe draai (19:18, Hd.8:8, 9:35, 13:44).  Vir Hom is dit geen moeite om ‘n hele land na Hom toe te trek nie (19:19, Ps.22:28, 86:9, Mt.19:25-26).  Net soos Hy ons in die verlede gebruik het om die res van Afrika en die wêreld met die rykdom van goud en diamante te seën, kan Hy ons gebruik om hulle met die skatte van Jesus, die Bybel en die evangelie te seën.

 

Om dan met dringendheid vir die nasies te bid, sendelinge uit te stuur, en die evangelie met ons landsgenote deel, moet hoog op die lys van ons gemeente se prioriteite wees.  Uit ervaring kan ek sê dat dit nie sonder deeglike beplanning gaan gebeur nie.  Terwyl die winter van God se oordeel in ons land en wêreld byt, moet ons konkrete stappe neem om die grond voor te berei vir die lente.  Natuurlik moet ons nie nét bid nie, maar gebed is verseker die beste plek om te begin.

 

[1] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.161

[2] Moslems het Noord-Afrika ‘n paar eeue na Christus geïnfiltreer.  Moderne Libiërs kom van Arabië af, maar dié wat in Jesus se tyd gelewe het was swart.