Die Nuwe Jerusalem

New Jerusalem

Ek het ‘n argitek ontmoet wat al meer as 50 kerke ontwerp het.  Hy het vir my verduidelik hoe die gebou veronderstel is om ‘n boodskap oor te dra.  Die lig wat by die boonste vensters inkom en op die kansel skyn, is simbolies van God se lig wat deur sy Woord na die gemeente toe kom.  Die banke is in die vorm van ‘n amfiteater, sodat jy nie in die mense wat voor jou sit se koppe vaskyk nie.  Jy moet hulle gesigte sien; daar moet ‘n gevoel van warmte wees, omdat die kerk ‘n familie is

 

Net so is die Nuwe Jerusalem ontwerp om ‘n boodskap oor te dra.  Op.21:9-21 gaan nie net oor die lewe hierna nie, maar dit sê ook iets van die kerk hier op aarde.  In Engelse praat ons van ‘the church militant and triumphant’, van die kerk wat nog op aarde teen sonde en die duiwel moet stry, en van die gelowiges wat alreeds oorwin het en in die hemel is.  Op.21 gaan oor beide.  Op die nuwe aarde sal ons die volheid daarvan geniet, maar daar is ‘n sekere sin waarin ons nou al iets daarvan beleef (Heb.12:22-23).

 

Haar heerlikheid (v.9-11)

Engels het twee algemene woorde vir huis.  ‘House’ verwys na die struktuur, terwyl ‘home’ die persoonlike en huislike element beskryf.  Voor ‘n man trou bly hy in ‘n ‘house’ – die huislike gemak pla hom nie eintlik nie.  Maar as sy vrou intrek word dit ‘n ‘home’, omdat sy dit huislik en gemaklik maak.  So is dit ook met die Nuwe Jerusalem.  Dit gaan nie hoofsaaklik oor die strate en paleise nie, maar oor die inwoners; oor Jesus en sy bruid.

 

In hfst.15-16 het God vir sewe engele die sewe bakke van sy toorn gegee.  In 17:1 het een van hierdie engele die groot prostituut of aardse Jerusalem vir Johannes gewys.  In v.9 het een van dieselfde engele vir hom die bruid of Nuwe Jerusalem gewys.  Ek het reeds in v.2 gesê dat die bruid die kerk is (vgl. Ef.5:31-32).

 

Johannes is in die Gees weggevoer om die Nuwe Jerualem te sien (v.10, 17:3).  Toe hy die prostituut gesien het, was sy soos rebelse Israel van ouds in die woestyn (17:3).  Maar toe hy die bruid gesien het, was sy volgens God se Woord op ‘n groot en hoë berg (v.10, Jes.2:2-3, Ps.48:3).  Jesus het van die kerk gesê:  “Julle is die lig van die wêreld.  ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie” (Mt.5:14).

 

Johannes het ook gesien dat die stad heilig of afgesonder is vir die Here (v.10, 1 Kor.1:2).  Sy het uit die hemel van God af neergedaal, om só te wys dat die kerk se verlossing geheel en al van Hóm af kom (v.10, Ef.1:3-14).

 

Soos die vrou in Sp.31:10, was God se bruid soos ‘n skaars en kosbare juweel, soos ‘n pragtige jaspissteen en so helder soos kristal (v.11).  Omdat God se heerlikheid ook so is (4:3), wys v.11 vir ons dat sy dit weerspieël het, net soos wat ‘n goeie vrou haar man se heerlikheid weerspieël (Sp.12:4, 1 Kor.11:7).

 

Wat leer v.9-11 vir ons?

 

[1] Jy is Jesus se bruid.  Om in gemeenskap met Hom te lewe, moet jy deur die Woord, gebed en die kerk tyd met Hom spandeer.

 

[2] Die feit dat die Nuwe Jerusalem of die kerk die hoogste berg is (v.10), beteken dat Bybelse Christenskap die grootste en mees invloedryke godsdiens in die wêreld sal wees.  Dit maak my hoopvol, en spoor my aan om vir herlewing, sending en evangelisasie te bid.

 

[3] As die kerk soos ‘n waardevolle juweel is, wys dit dat sy kosbaar is vir God.  “Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en Ek jou liefhet” (Jes.43:4).  En as Hý die kerk so beskou, moet sy nie ook so wees vir jóú nie?  Moet jy nie jou tyd, toewyding, krag, gebede, gawes, en geld gee, sodat sy kan groei nie?  Sommige mense gee meer aandag aan hulle honde as wat hulle aan Jesus en die kerk gee.  Moenie soos hulle wees nie.

 

Haar ontwerp (v.12-14)

Elke vyf of tien jaar sal iemand in ‘n Bybelstudie vra wie nou eintlik die twaalfde apostel is:  Paulus, of Matthias wat in Judas se plek gekies is; wie van hulle se name is op die Nuwe Jerusalem geskryf?  Die Bybel sê nie vir ons nie, en eintlik maak dit nie saak nie.

 

Johannes se punt met die twaalf stamme en die twaalf apostels in v.12-14, is om te wys dat al die gelowiges in die Ou- en Nuwe Testamente deel is van God se bruid, die Nuwe Jerusalem of die kerk (vgl. Ef.2:11-22).

 

Om te wys hoe veilig dit is, het die stad ‘n hoë en groot muur gehad (v.12).  “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.” (Ps.34:8).  “Rondom Jerusalem is berge; so is die HERE rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.” (Ps.125:2).  “En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.” (Sg.2:5).

 

Volgens Jes.60:18 word die mure ‘verlossing’ genoem.  Niemand kan ons in hierdie lewe of op die nuwe aarde uit God se hand uit ruk nie – ons is veilig (Jh.10:28-29).  Soos gerubs die boom van die lewe opgepas het (Gn.3:24), sal engele by die stad se hekke waghou om te wys dat dit veilig is (v.12).

 

Daar was twaalf hekke – drie in elkeen van die vier windrigtings – met die name van die twaalf seuns van Israel daarop gegraveer (v.12-13, Esg.48:31-34).  Die vier windrigtings wys vir ons dat mense uit alle nasies in die kerk en in die hemelse stad sal inkom (Mt.24:31, Lk.13:29).  Die twaalf stamme se name op die hekke wys dat verlossing uit die Jode is, aangesien Jesus as ‘n Jood gebore is (Jh.4:22, Rm.9:5).

 

Die name van die twaalf apostels was op die stad se twaalf fondasiestene gegraveer (v.14).  Die fondasie beteken dat die kerk vasstaan, en dat sy nie geskud kan word nie (3:12, Heb.11:10).  Die apostels se name wys dat Christus die fondasie van sy lering vir húlle gegee het om vir die kerk te gee (Mt.16:18, Ef.2:20, 1 Kor.3:10-11).

 

Elkeen wat hierdie lering hoor en doen, bou op die fondasie (Lk.6:47-48).  As jy die Bybel hoor en lees maar nie doen nie, het jy geen fondasie of sterk mure om jou teen die storm van God se oordeel te beskerm nie (Mt.7:21-27).  Jy is nog ongered en moet jou bekeer (Jk.1:21-22).

 

As jy nóú in Jesus glo, kan jy vandag al in die hemelse stad ingaan.  Jesus het in Jh.10:9 gesê:  “Ek is die deur; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word”.  Wanneer Jesus weer kom sal jy letterlik deur die stad se hekke loop en Hom van aangesig tot aangesig sien.  Die gedagte hieraan moet jou aanspoor om hier en nou vir Hom te lewe.  Moenie dinge doen waaroor jy skaam sal wees as jy Hom eendag in die oë moet kyk nie.

 

Haar afmetings (v.15-17)

‘n Paar jaar gelede het ek oor die hemel gepreek.  Ek het v.15-17 aangehaal, en gesê dat die hemelse stad vier keer groter as Suid-Afrika is (4.8 miljoen km2, teenoor óns land se 1.2 miljoen km2).  Ek is egter nie meer oortuig dat Johannes letterlike afmetings in gedagte gehad het nie.  Kom ek wys vir jou hoekom ek so sê.

 

Die engel het ‘n goue meetstok gehad (v.15, Esg.40:3).  Hy het die stad se poorte en mure afgemeet om te wys dat dié wat binne-in was, onder God se beskerming is (v.15, 11:1-2, Sg.2:1-5).  In v.16-17 sien ons dat die stad 12 000 stadia hoog, breed en lank was, en dat die muur 144 el was.

 

Ek is nie heeltemal oortuig dat ons die mates in moderne idiome moet vertaal, sodat ons dink die stad is 2200 km hoog nie.  Die engel het juis menslike veelvoude van twaalf gebruik om te wys dat die stad meer as genoeg plek gehad het om die twaalf stamme en die twaalf apostels se ‘nageslag’ te akkomodeer (v.16-17, 12, 14, 7:9, Jh.14:2).

 

Soos die Allerheiligste van die tempel, was die stad ‘n perfekte kubus (v.16, 1 Kon.6:20).  Die punt is dat die kerk en die nuwe aarde met God se heerlikheid gevul sal wees, en dat dit ‘n plek van spesiale aanbidding is.  God se heiligdom is nie meer tot ‘n sekere plek beperk nie, maar is in ons (v.22, Jh.4:20-24, 14:21, 23).

 

Die stad se mure was baie hoog, maar nie naastenby so hoog soos die stad self nie (v.16-17).  Die punt is weer dat God sy bruid in die hemel en op die aarde sal beskerm, en dat haar heerlikheid nie weggesteek kan word nie.

 

As jy deel van Jesus se bruid, die kerk is, sal Hy jou beskerm.  Maar as jy eenkant en op jou eie is, of deur Bybelse dissipline van die gemeente afgesny is, verbeur jy God se spesiale genade, guns en beskerming (1 Kor.5:4-5, 1 Jh.5:18-19).

 

Om een of ander rede verstaan party Christene dit nie.[1]  Hulle dink dat hulle buite en sonder die kerk van Jesus Christus kan funksioneer.  Hulle respekteer nie die ‘mure’ wat God daargestel het om hulle te beskerm nie.  Hulle soek ‘n berader wanneer dit met hulle sleg gaan, maar verstaan nie dat hulle juis sukkel, omdat hulle nie deel is van ‘n goeie gemeente nie.  Ek probeer nie sê dat mense wat getrou is geen probleme het nie, maar hulle het verseker die middele om dit op te los.  Toe Asaf gesukkel het om sý probleem op te los, het hy hulp gekry toe hy “in die heiligdomme van God ingegaan” het (Ps.73:17).

 

Daarom is die oplossing vir kerklose Christene met probleme nie berading nie, maar bekering van hulle ontrouheid aan die liggaam.  As kerklose mense vir Martyn Lloyd-Jones gevra het om hulle te beraad, het hy gesê:  ‘Kom vir 13 opeenvolgende weke kerk toe.  Luister na die prediking van die Woord en pas dit toe.  As jy aan die einde daarvan nog dink dat jy berading nodig het, kan jy vir my sê.’  Hy was reg toe hy gesê het:  ‘as preaching goes down, personal counselling goes up.’[2]  Moet jouself dan nie in die voet skiet, omdat jy die kerk en God se algemene genademiddele geringskat nie.

 

Haar boumateriaal (v.18-21)

In die afgelope dekade het dit populêr geraak om êrens in jou huis se versiering klip te gebruik.  As jy baie geld het is die klippe eg en nie nagemaak nie.  Hoe moet ‘n stad dan lyk waarvan die mure van jaspis gemaak is (v.18, 11)?  Beter as Salomo se tempel in 1 Kon.6:30, was die stad en sy strate van suiwer goud, so helder soos glas (v.18, 21).  Die goud herinner ons aan die beproewings wat God stuur om ons geloof te suiwer (1 Pt.1:7).

 

Soos die tempel se fondasie in 1 Kon.5:17, was die fondasiestene van die stadsmuur met edelstene versier (v.19-20, vgl. Jes.54:11-12).[3]  Ons het reeds in v.14 gesien dat die name van die apostels daarop gegraveer is.  In Eks.28:17-21 is die stamme se name op twaalf verskillende edelstene gegraveer, en het die hoëpriester dit op sy bors gedra.  Ons kan weereens sê dat die kerk uit die Ou- en Nuwe Testamente in die Nuwe Jerusalem teenwoordig is.

 

Die twaalf poorte is van twaalf pêrels gemaak, elke poort van ‘n enkele pêrel (v.21).  Ons praat nie hier van pêrels wat so groot soos ‘n ertjie is nie.  Die juweel-ryke stad met sy poorte van pêrels sê vir ons iets van die onskatbare waarde van God se kerk en Koninkryk:  “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.  Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.” (Mt.13:44-46).

 

Hierdie verse is veronderstel om jou met jou geldsake te help.  Is jy ‘n ryk gelowige?  Wees vrygewig in jou hulp aan die armes en sendelinge, en maak só vir jouself skatte in die hemel bymekaar (Lk.12:33, Fil.4:15-19, 1 Tm.6:17-19).  Hoekom wil jy in hiérdie wêreld skatte opgaar, as dit buitendien in die toekoms vernietig gaan word (Mt.6:19, 1 Kor.7:31, 1 Jh.2:17)?

 

Is jy ‘n arm gelowige?  Jy is ryker as wat jy besef.  Die Nuwe Jerusalem se rykdom is ‘n prentjie van die heerlike rykdom wat God vir die kerk gegee het (2:9, Rm.9:23, 10:12, 11:33, 2 Kor.6:10, 8:9, Ef.1:3, 18, 2:7, 3:8, 16, Jk.2:5).  God het vir jou die Koninkryk gegee, sodat die hemel met al sy skatte joune is (Mt.25:34, Lk.12:32).

 

Moenie jou rykdom in terme van geld en eiendom meet nie.  ‘Is ek deur my geloof in Christus deel van die Nuwe Jerusalem?’ is die vraag wat jy vir jouself moet vra.  Is jy deur wedergeboorte – nie net op papier nie – deel van die kerk van Jesus Christus?

 

Moenie soos sommige mense ‘n lae siening van die kerk hê nie.  Moet ook nie soos Katolieke die kerk bo Christus en die Bybel verhef nie.  Kry ‘n hoë, Bybelse, en gebalanseerde siening van die kerk.  Sien dit soos Johannes dit in Op.21 gesien het.

 

[1] Ek praat nie hier van mense wat a.g.v. hulle gesondheid wegbly nie, maar van mense wat by die gemeente kán wees, maar nie wíl nie.

[2] Martyn Lloyd-Jones, Preaching and Preachers, p.17

[3] Vir ‘n beskrywing van sommige van die stene, kan jy die volgende preek opsoek:  https://baptistekerkkemptonpark.wordpress.com/2015/09/26/n-spieelbeeld-van-jesus/