God se byl

Axe

Jy ken seker die storie van Thor se hamer?  In Noorse mitologie was Thor die god wat met donderweer geassosieer is.  Die naam Donderdag of Thursday is van hierdie naam afgelei (Thor’s Day).  Sy hamer se naam is Mjölnir, en is veronderstel om een van die magtigste wapens op aarde te wees.  Die ou Noorweërs het gesê dat die berge kon platslaan.  Ons weet natuurlik dat Thor nie regtig bestaan het nie, en dat dit ‘n mite is.  Die God van Israel en sy byl is egter nie mite; Jes.10:5-34 praat daarvan.

 

Die val van Assirië (v.5-19)

God was kwaad oor goddelose Israel se sonde, en het vir Assirië as sy staf en roede gebruik om haar te slaan (v.5-6, 9:16).  Hy het nie maar net die Assiriërs toegelaat om vir Israel aan te val nie, maar het hulle beveel soos wat Hy die sneeu en die wind beveel (v.6, vgl. Hab.1:6).  Hy het vir hulle gesê om sy volk dood te maak, om hulle te plunder, en om hulle soos modder in die strate te vertrap (v.6, 8:1-4).

 

Assirië se motief was egter nie om die Here se heilige en regverdige oordele uit te voer nie, maar om sy eie mag te toon en om absoluut te verwoes (v.7).  Sy motief was sondig (v.7), terwyl die Here s’n heilig was (v.5-6).

 

Dit is byna soos ‘n ma wat haar vierjarige dogter met ‘n boodskap na haar boeties toe stuur:  ‘Gaan sê vir jou boeties ék sê hulle moenie so rof met jou speel nie.’  Met die gesag van ‘n grootmens gaan sy na haar boeties toe.  Sy steek vir hulle tong uit en sê:  ‘Mamma sê julle moet dadelik ophou om so rof met my te speel, anders gaan sy julle pak gee!’  Die ma se intensie verskil heeltemal van haar dogter s’n.  So was dit ook met God en Assirië (v.5-7).

 

Assirië was arrogant en het nie erken dat sy mag van die Here af kom nie.  Hy het in homself geroem (v.9-11):  ‘Wanneer ek ‘n nasie oorwin, word hulle koning ‘n leier in my weermag.  Ek het ook die groot stede wat in die strook langs die Middellandse See lê, platgevee.  Van noord tot suid was dit Karkemis, Arpad, Kalno, Hamat, Damaskus en Samaria.  Dit is net logies dat Jerusalem die volgende groot stad in my visier is.  Toe ek my hand uitgestrek het om die nasies vir myself te vat, het nie een van hulle gode my gekeer nie.  Hoe gaan Jerusalem en haar gode my dan keer?’

 

Die onsigbare God van Israel en Juda sou hom gekeer het (2 Kon.19:17-19).  As die Here klaar sy volk getugtig het, sou Hy die arrogante koning van Assirië vir die trots in sy hart en oë gestraf het (v.12, 37:37-38).  In sy arrogantheid het hy gesê:

 

‘Deur my sterk hand en wyse oorlogstrategie het ek al hierdie stede verower en hulle skatkamers geplunder.  Ek skuif lande se grense soos ek wil.  Ek is soos ‘n bul wat rooi sien:  ek bring konings op hulle knieë voor my; ek bring hulle van hulle trone af (v.13).  Ek is soos iemand wat ‘n verlate nes vol eiers kry – ek vat dit vir myself.  Die rykdom van die volke en van die hele aarde is myne.  Soos ‘n bang voël het niemand dit gewaag om ‘n vlerk te flap of te twiet nie’ (v.14).

 

God het vir die arrogante koning van Assirië gelag.  ‘Waar het jy al gesien dat ‘n byl of saag beter is as die een wat dit gebruik?  Sonder die houtkapper is die gereedskap nutteloos.  Tel die staf of roede die man op of andersom?  Die staf is van dooie hout gemaak en kan niks doen nie’ (v.15, 5).

 

Die Here van die Leërskare het besluit om die koning van Assirië en sy dapper soldate met ‘n verwoestende siekte te straf (v.16).  Só het Hy hom en sy heerlikheid in een nag vernietig (v.16-17, 37:36).  Assirië was die doringtakke en die onkruid; God was die vuur wat hulle verteer het (v.16-17, Heb.12:29).

 

God het die Assiriërs gebruik om sy volk soos ‘n woud aan die brand te steek (9:17-18).  Nou het Hy húlle soos ‘n woud aan die brand gesteek (v.16-18).  Hy sou hulle liggaam en siel verwoes het soos wat siekte ‘n mens se liggaam uitteer (v.18, Mt.10:28).  As God klaar die Assiriërs vernietig het, sou hulle soos ‘n woud gewees het waarvan die bome afgekap is.  Die soldate in sy weermag sou m.a.w. so min gewees het, dat ‘n kind hulle kon tel (v.19).

 

Om v.5-19 reg toe te pas, moet ons verstaan dat dit oor God se soewereiniteit gaan, en dat Hy oor alles en almal regeer (Ps.103:19).  Hy is soewerein oor bose nasies en hulle konings (v.5-6).  Dit is Hy wat konings aanstel en hulle weer afsit (Dn.2:21).  Al dink ‘n regering of ‘n leier dat hulle in beheer is, is God die Een wat hulle aangestel het (v.5-15, Rm.13:1).  Die mag wat hulle het kom van Hóm af (Jh.19:11).

 

Ons hoef dus nie bang te wees wanneer sekere leiers in ons land arrogant is en praat asof húlle in beheer is nie.  Ons moenie die toekoms vrees nie, maar op die Here vertrou.  Hy is by magte om mense se bose dade te gebruik om sy goeie planne uit te werk (v.5-7, Gn.45:5, 8, 50:20, Ps.105:17, Hd.2:23, 4:27-28).

 

Dit geld ook op ‘n individuele vlak.  Die Here is soewerein as Sarel sy vrou sleg behandel, of as Alicia van haar man skinder.  Hy is soewerein as Gert rebels is en sy ouers se hart breek.  Hy is soewerein as Retha se vyand ‘n leuen oor haar vertel, of as Pieter se kollegas hom kritiseer.

 

Soos met Israel, gebruik Hy mense om ons te verneder en na Hom toe te draai.  Ondersoek daarom jou eie hart om te sien of dinge in jou lewe reg is.  Indien nie, moet jy dit regstel.  Bely jou sonde en bekeer jou daarvan.  Lê stil onder die Here se swaar hand, en wag totdat Hy jou op die regte tyd verhoog (1 Pt.5:6).  Probeer om nie bitter te raak nie, maar gee aanhoudend jou probleem in gebed vir die Here (1 Pt.5:7).

 

Die punt wat ek wil maak is nie dat die Here kop in een mus is met die mense wat teen jou sondig nie.  Sy intensies met jou beproewing is goed, terwyl die mense wat Hy gebruik slegte motiewe het (v.5-7).  Die troos lê egter daarin dat selfs slegte mense nie kan doen wat hulle wil nie.  Die Here sal hulle gebruik om sý planne uit te voer (v.5-15).  En aan die einde van alles sal Hy hulle oordeel vir wat hulle aan sy kinders gedoen het (v.16-19).  Laat ons dan leer om deur geloof en gebed ons probleme in sý bekwame hande te los.

 

Die bekering van Israel (v.20-34)

Het jy al ooit ‘n plant in jou tuin gehad wat jy nie kon uitroei nie?  Sodra jy dink jy het dit uitgeroei, kom dit weer op.  Dit is asof jy dit net nie kan uitroei nie.  Maar as jy hard probeer sal jy dit regkry.

 

Met God se kinders is dit anders.  Al staan al die magte van die hel teen God se kinders op, kan hulle ons nie uitroei nie.  So was dit in v.20-34 met God se volk.

 

Ons onthou uit hfst.7 hoe die konings van Israel en Sirië vir Jerusalem aangeval het.  Jerusalem het vir Assirië gevra om te help, maar op die ou end toe draai hy om en toe veg hy téén haar (1 Kon.16:7, 2 Kron.28:20).

 

Maar in die toekoms sou dit nie so gewees het nie.  Die oorblyfsel van Israel sou nie meer op die koning van Assirië vertrou het nie, maar op die Here (v.20, vgl. die betekenis van Sjear Ja-sjub in 7:3).  Met ‘n opregte hart en in waarheid sou hulle op die Heilige van Israel gesteun het (v.20).

 

Na Israel se ballingskap sou die oorblyfsel van die volk nie net na die land toe teruggekeer het nie, maar na die Here toe (v.21).  Hulle sou dus tot bekering gekom het en in die magtige God van Jakob geglo het (v.21, 9:5).

 

Volgens God se belofte aan Abraham was Israel soos die sand van die see, maar nou het hulle as ‘n oorblyfsel teruggekeer (v.22, Gn.22:17).  Volgens die Here se raadsplan het Hy die volk verwoes en uitgeroei (v.22).  Dit het Hy gedoen omdat Hy vol van geregtigheid was, en die volk vol van sonde (v.22).  Sy besluit om hulle uit te roei was heeltemal heilig en regverdig (v.22).  Sy oordele het nie net vir Israel gegeld nie; die ander nasies sou ook deurgeloop het (v.23).

 

God het die Assiriërs gebruik om vir Samaria te straf.  Hulle sou egter nie suksesvol gewees het teen Jerusalem nie; dit was onnodig dat sy die roede van Assirië gevrees het soos wat sy dit in Moses se tyd onder die Egiptenare gedoen het (v.24, 2 Kon.19:6, Eks.2:11, 23).

 

‘n Kort tydjie na Assirië se aanval op Jerusalem, het die Here hom vernietig (v.25).  So het die eens magtige wêreldryk tot ‘n val gekom, sodat daar vandag minder Assiriërs is as Afrikaners.  Soos wat hy ‘n roede teen Israel was (v.24), sou die Here ‘n sweep teen hom gewees het (v.26, 37:36-38).  God sou hom getref het soos wat Hy in Gideon se tyd die Midianiete getref het (v.26, 9:3, Rgt.7:25).  Die Here sou sy staf oor Assirië gelig het soos Hy dit by die Rooi See oor Egipte gelig het (v.26).

 

Daarna sou Assirië se slawejuk nie meer op Jerusalem se nek en skouers gewees het nie (v.27, 9:3, 2 Kon.18:14, Nah.1:13).  Wat beteken v.27 as dit sê dat die juk a.g.v. die vettigheid vernietig sal word?  Die Hebreeuse woord [shemen] verwys na die salfolie waarmee Israel se konings gesalf is.  Die juk sou dus gebreek word, omdat God ‘n verbond met Dawid en sy nageslag gemaak het (2 Sm.7:14).  Assirië kon dit daarom nie regkry om vir Israel te sink nie.

 

Hy het wel die kleiner dorpies in Juda vernietig, en was van daar af oppad om teen Jerusalem te veg (v.28-32).  Die dorpies wat gelys word is ‘n paar kilometer van Jerusalem af.  Hulle was bang en het na Jerusalem toe gevlug.  Die Assiriërs was oppad om teen Juda se hoofstad (Jerusalem) te veg.  Hulle het egter 2 km van Jerusalem af by ‘n dorp genaamd Nob gehalt (v.32).  Assirië het sy vuis vir Jerusalem gewys, maar God het hom gekeer om teen haar te veg (v.32).

 

Assirië was ‘n byl in die Here se hand (v.15).  Die Here het egter die situasie omgekeer en met almagtige houe die reuse en hoogmoedige boom van Assirië afgekap (v.33, 2:11-13, 17).  Met ‘n geweldige slag sou die boom aarde toe gekom het (Esg.31, 17:24, Dn.4).  Met sy byl het God die boom en die hele bos se takke afgekap (v.34, 18, kontr. v.15).  Babilon was die nuwe byl wat Hy gebruik het om hierdie majestieuse en magtige seder van Lebanon – Assirië – af te kap (v.34, Esg.31).

 

Hoe moet ons hierdie gedeelte toepas?  Vandag is daar bittermin Jode wat in die sterke God van v.21 en 9:5 glo (Rm.9:27-28, 11:5), maar in die toekoms sal baie van hulle tot bekering kom (Rm.11:25-26).  Onthou dat die Jode se bekering groot seën vir die wêreld sal beteken, en dat baie heidene as gevolg daarvan gered sal word (Rm.11:12, 15).

 

Moet dan nie nalaat om vir hulle bekering te bid nie.  ‘n Skotse prediker in die 1600’s het gesê:  ‘They forget a main point of the Church’s glory, who pray not daily for the conversion of the Jews.’[1]  Ek bedoel nie dat ons nie ernstig vir die redding van al die nasies moet bid nie, maar eerder dat ons nie van Israel moet vergeet nie.

 

Nog ‘n les is dat ons nie die vyand hoef te vrees nie (v.24).  Hy mag miskien sterker as ons wees, maar Hy is nie sterker as die Here nie.  God sal hom met ‘n almagtige slag tref en finaal tot ‘n einde bring.

 

Wat Hy in v.24-34 met die Assiriërs gedoen het, sal Hy met elke arrogante regering doen.  Soos groot bome sal Hy hulle afkap.  Die boom van sy Koninkryk sal die grootste wees (Dn.2, Mt.13:31-32).  En wat Hy met die Koninkryke van hierdie wêreld gedoen het, sal Hy ook met Satan en die koninkryk van duisternis doen.

 

Dit help nie dat enige vyand sy of haar vuis teen Jesus en sy kerk lig nie (v.32, Mt.16:18).  Jy kan dan moed skep en weet dat die Here nooit een van sy kinders sal laat val nie.  Niks kan ons van sy liefde skei nie, en niemand kan ons uit sy hand uit ruk nie (Jh.10:28-29, Rm.8:38-39).  Hy het die goeie werk van verlossing in jou begin, en sal dit voltooi tot op die dag wanneer Jesus terugkeer (Fil.1:6).

 

As God aan jou kant is, is sy byl nie gevaarlik nie.  Ek bedoel nie dat dit nooit met jou sal sleg gaan nie, maar dat Hy selfs die beproewing waardeur jy op die oomblik gaan tot jou voordeel sal gebruik.  Sy byl sal vir jou ‘n operasiemes wees wat die kanker van sonde uitsny, en nie ‘n voorwerp van verwoesting nie.

 

[1] Robert Leighton aangehaal in Iain Murray, The Puritan Hope, p.75