Die ABC van gemeentesang

Congregational singing 2

In ons gemeente beklemtoon ons die suiwer prediking van God se Woord.  Daar is egter ‘n paar gebiede waarin ons sukkel.  Gemeentesang is een van hulle.  Van ons beste musikante het na ander dorpe toe verhuis.  Ons bekwame musiek leier van 13 jaar is op die oomblik buite aksie, en sal hopelik teen Augustus weer by die groep aansluit.

 

Ons maak ook nie die gebou vol nie.  In ‘n gebou wat 160 kan sit, is ons 75 mense in die oggend en 35 in die aand; met ‘n hoë plafon voel ons dit.  En dan het ons nuwe musikante wat nou eers vir ‘n paar maande saam speel.  Daar is nóg een of twee faktore wat maak dat ons sukkel.

 

Maar hierdie probleme is die nr.1 rede hoekom ons sukkel nie.  Ons het Bybelse instruksie nodig.  Wat sê die Bybel oor samesang en hoekom is dit belangrik?  Kol.3:16 sal ons help om hierdie en ander vrae te beantwoord.

 

Die liedboek van gemeentesang

Mense verskil oor gemeentesang.  In ons gemeente is daar party mense wat van Halleluja-liedjies hou, terwyl ander die nuwe liede verkies.  In ander kerke hou sommige mense van kitare, terwyl ander die orrel verkies.  Een gemeente is kontemporêr en ‘n ander een konserwatief.  Wat is die basis waarvolgens ons moet besluit wat reg is?

 

Die Woord van Christus moet die basis van ons gemeentesang vorm.  Die feit dat dit die Woord van Christus is, impliseer dat ons liede op Hom moet fokus; dit moet Christo-sentries wees.  As ‘n ongelowige by die erediens was en tydens die preek geslaap het, moes hy êrens in een van die liede die evangelie gehoor het.

 

Christo-sentriese gemeentesang impliseer verder dat ons liede nie op die mens, sy behoeftes en sy gevoelens fokus nie.  Die liedjie wat sê:  ‘You thought of me, above all,’ fokus op die mens en nie op Jesus nie.  Dit skep die idee dat Hy ons benodig, en dat Hy nie sonder ons kan lewe nie.

 

Christo-sentriese liede weet dat Jesus ‘n Liefdevolle en Getroue Vriend is, maar sing nie asof Hy ons ‘cool pal’ is nie; dit bewonder sy groot liefde, maar sing nie asof Hy ons meisie of kêrel is nie.

 

‘Die Woord van Christus’ impliseer dat die Bybel ons liede se inhoud moet bepaal (Ps.119:54).  Wat moet ons sing?

 

  • Ons moenie net die Psalms sing nie, maar ons moet dit ook nie afskeep nie.
  • Met lofgesange moet ons die Here vir sy Persoon, karakter en dade prys.
  • In plaas van vleeslike liede, moet ons geestelike liede

 

So sal ons sing wat die Here wil hê, en nie maar net liede wat ons lekker laat voel, of liede waarmee mense gemaklik is nie.  Ons moenie bloot die ou koortjies of Hillsong se nuutste treffer wil sing, omdat dit mooi instrumente het, of omdat die wysie ‘catchy’ is nie.  Die vraag moet altyd wees:  ‘Wat sê die Bybel?’

 

Die Bybel sê bv. nié dat Jesus die Heilige Gees se Seun is nie.  Dit was ‘n tikfout in een van ons liede:  ‘Kom O Skepper Gees… Leer my van u Seun…’  Die regte woorde moet wees:  ‘Leer my van die Seun…,’ en daarom het ons dit verander.

 

Die Here wil hê ons moet Hom in waarheid aanbid (v.16, Jh.4:24).  Om bloot te sê jy is opreg is nie genoeg nie.  Ussa was opreg, en tog het God hom laat sterf, omdat hy sy eie reëls gevolg het (2 Sm.6:5-7, 2 Kron.15:2, 15, Nm.4:15, 7:8-9).  Dít is hoe ernstig die Here is dat ons Hom volgens sy Woord moet aanbid.  Maar dis nie al nie.  God wil ook hê dat ons Hom in gees moet aanbid (Jh.4:24).  Hier is wat ek bedoel.

 

Die hart van gemeentesang

Jy ken seker die storie van die man wat Psalm 23 voorgedra het, en mense se applous gewen het?  Toe hy klaar was het hy die mense in die gehoor uitgedaag om dit beter as hy op te sê.

 

‘n Ou man het dit opgesê.  Toe hy klaar was het niemand applous gegee nie; almal het gehuil.  Mense het gevra wat die verskil was.  ‘Die kunstenaar ken die Psalm; die ou man ken die Herder,’ het iemand geantwoord.

 

Net so kan ons in gemeentesang met koue harte die Bybel se reëls volg:  ons kan die Here in waarheid aanbid, sonder dat ons Hom in gees aanbid; die Woord kan in ons koppe wees, sonder dat dit in ons harte is; ons kan die woorde met ons lippe sê, sonder dat dit ons siele raak (v.16, Jh.4:24).

 

As ons dan die Here met opregte wil prys, moet ons seker maak dat ons gered is.  Jy móét besef dat jy sonder Hom meer verlore is as iemand wat in digte mis in die berge verdwaal.  Jy moet op Jesus vertrou en besef dat net Hý jou van die ewige oordeel kan red.

 

Jy moet na Hom toe uitroep as die enigste hoop om vergewe te word.  Jy moet jouself aan Hom toevertrou en glo dat die Vader sý perfekte lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar.  Jy moenie meer vir jouself lewe nie, maar vir Hom.

 

En as jy dít gedoen het, kan jou lofprysing vir Hom aanneemlik wees en kan jy Hom in gees en waarheid aanbid (v.16, 1-15, Jes.1:12-18, Mt.5:23-24, 1 Tm.2:8).  Om die Here in gees te aanbid, moet sý Gees jou hart vul.  Dit kan net gebeur as jy die Boek wat deur die Gees geïnspireer is, indrink soos wat ‘n dronkaard wyn drink:  jy moet baie daarvan inneem (v.16, Ef.5:18).

 

En as jy die Woord biddend in jou hart gebêre het, sal dit vanself in aanneemlike lofprysing soos heuning van jou lippe afdrup, want wat die hart van vol is loop die mond van oor (Mt.12:34).  Doen dan moeite om jou hart en lewe met God se Woord te vul:  luister na Bybelse lering en prediking; lees, bestudeer, bepeins, memoriseer en gehoorsaam die Woord van God (Ps.1:2, 119:11, 97).

 

As jy dít doen, sal die Woord ryklik in jou woon.  Dit sal jou hart, gesindheid, denke, woorde en dade oorheers en deurweek.  Die Heilige Gees sal jou hart in ‘n tuiste vir die Woord van God omskep.

 

Dít is waaroor Geesvervulde lofprysing gaan.  Dit begin nie wanneer jy by die erediens instap nie; jou hele lewe moet met die Woord gevul wees.  Maak veral seker dat jy voor die erediens ‘n tydjie afsonder om jou hart reg te kry.  Bely jou sonde, bid vir hulp om die Woord te verstaan, dank die Here vir sy goedheid.

 

Kom dan met ‘n dankbare hart vol van blydskap na die erediens toe:  “Enter his gates with thanksgiving, and his courts with praise!” (Ps.100:4, ESV).  Moenie onvoorbereid kom soos wat die populêre lied sê nie:  ‘Come, now is the time to worship… Come, just as you are to worship.’

 

Doen alles wat jy kan om die Here uit ‘n Geesvervulde hart te prys.  Sorg dat jy jou definisie van Geesvervulde lofprysing reg het.  Dit het niks te doen met ‘n klomp mense wat in brabbeltale praat, omval, hoendervleis kry, of ‘n ekstatiese ervaring het nie.

 

Om emosioneel te raak wanneer jy sing beteken ook nie outomaties dat die Heilige Gees teenwoordig is nie.  Mense raak emosioneel wanneer hulle die volkslied by ‘n rugby wedstryd sing, of as Bobby van Jaarsveld by ‘n musiek konsert vir hulle soene blaas.

 

Emosie op sy eie kan nooit vir jou ‘n geestelike ervaring gee nie.  Daarom sing ons nie vir 90 minute totdat ons ‘n emosionele ‘high’ bereik het nie.  Ons sing ook nie ‘n reëltjie met vyf woorde vyftien keer oor, totdat ons in ‘n beswyming ingaan en beheer verloor nie.

 

Kerke wat so aanbid fokus op hulleself en nie op die Here nie.  Dit is nie die Heilige Gees en sy waarheid wat hierdie mense help om hulle emosionele ‘high’ te bereik nie, maar die oorverdowende musiek, die eindelose herhaling, die gekleurde ligte, die rookmasjien, die massas wat om hulle skreeu, en die konsert wat op die verhoog aan die gang is.  Dit lyk meer na ‘n sekulêre rock konsert as na ‘n erediens.

 

Hierdie mense sou nooit so ‘vol van die gees’ gewees het as al die ligte aan was, as dinge ordelik geskied het, as die gemeente se stemme harder was as die dromme en die kitare, as hulle net vier liede gesing het, as elke lied net een keer gesing is, en as die liede se inhoud gelaai was met soliede teologie nie.  Dit wys vir ons dat hulle emosie vleeslik opgewek is.

 

Emosie moet eerder ons reaksie op die waarheid wees.  As die Gees ons harte vul en die Woord ryklik in ons woon (v.16, Ef.5:18), sal God-verheerlikende emosies in riviere van lof oor ons lippe vloei.  Ons harte sal met liefde vir Jesus brand (Lk.24:32).  Ons sal vol van dankbare blydskap wees en die Here met lofgesange prys (v.15-17).

 

Die skool van gemeentesang

‘n Tagtig jarige tannie in ons gemeente het vir my gesê dat sy Totius se beryming van die Psalms geleer het toe sy klein was.  ‘Ek onthou dit vandag nog,’ het sy gesê.  Ons onthou God se Woord makliker as ons dit sing (Dt.31:19, 22, 30, die Psalms).  Daarom moet ons mekaar met Bybelse lofliede onderrig en vermaan (v.16).

 

Die Bybelse woorde van hierdie liede sal vir ons wysheid gee en die waarheid in ons harte vas sement (v.16, 2:3).  Omdat ons die Bybel op hierdie manier leer, sal vals woorde vir jare lank in ons koppe vassit en ons op die verkeerde pad lei.  Sing daarom die waarheid om jouself en ander van die Here te leer, om jou en hulle aan te spoor om Hom beter te volg.

 

Om mekaar goed te onderrig, moet ons weet wat ons sing.  As daar ou woorde is, moet ons dit verduidelik of verander.  Ons liede moet eenvoudig wees, maar dit hoef nie oppervlakkig te wees nie.  Dit is bv. nie verkeerd om te sing:  ‘God is so goed, God is so goed, God is so goed, Hy’s so goed vir my’ nie.

 

Maar ons kan nie net sulke koortjies sing en verwag dat ons aanbidding die hoë pieke van ‘n geestelike Berg Everest sal bereik nie.  Daarom moet ons ook liede met Bybelse substansie sing.  Ons moet bv. sing:

 

In die hemel is die Heer,

en sy glans is soos kristal.

Hy’s die heilige van God,

en Hy heers oor die heelal.

Daar is mag in sy Woord,

soos die waters druis sy stem.

Soos die son op die see se blou,

so die rykdom van sy trou…

Miljoene in gereedheid,

span die eng’le om sy troon.

Verbysterend sy sieraad,

en die weelde van sy kroon…

 

Die skool van gemeentesang vorm tot ‘n groot mate die beeld wat ons van God het.  Daarom moet ons nie vir ons kinders lawwe liedjies oor God, Verlossing, en die res van die Bybel leer nie (bv. die Bybel-liedjies wat hulle op Veggie Tales leer).

 

Ons kan nie verwag dat hulle Jes.6 se heerlike beeld van God moet hê, as ons vir hulle liedjies leer soos die een wat my kinders by ‘n kamp geleer het nie:  ‘Ek spring soos popcorn as ek vir Jesus sing, popcorn sal ek vir Jesus spring, popcorn want ek is baie bly, Jesus het gekom vir jou en my…’

 

Die melodie van gemeentesang

Die meeste mense sal vir jou sê dat die melodie nie belangrik is nie, en dat dit die woorde is wat saakmaak.  Maar mense wat films maak sal vir jou sê dat die melodie baie belangrik is.  Jy kan spanning, blydskap, hartseer, vrees, kwaad, en ander emosies deur die melodie opwek.

 

Daarom moet ons seker maak dat die melodie, die ritme en die instrumente ons lofliede se woorde komplementeer.  Dit moenie die aandag van die woorde af wegvat of daarmee bots nie.  Ons moenie méér beïndruk wees met die wysie as met die God van wie ons sing nie.  En tog moet die musiek ook pragtig wees en iets wys van die God wat dit gemaak het.

 

Ons het ‘n oulike CD vir kinders wat vir hulle Bybelversies leer.  Maar daar is een lied waarvan ek nie hou nie, omdat die melodie die woorde weerspreek.  Die woorde is aangehaal uit die laaste deel van 2 Kor.9:7:  “God loves a cheerful giver.” (ESV).  Maar wanneer die kinders die liedjie sing, sê hulle:  ‘God loves a cheerful giver, ha-ha-ha-ha-ha…’

 

Die vers gaan glad nie oor iemand wat uit sy maag uit lag wanneer hy vir die Here se werk bydra nie.  Ek het nog nooit gesien dat iemand in ons gemeente dit doen nie, en dink dat hierdie liedjie se melodie met die woorde bots.

 

Wanneer ons saam sing kan ons ook nie ‘n opgeruimde melodie hê wanneer ons oor God se oordele sing, of wanneer ons ons sondes bely nie.  Maar ons kan ook nie ‘n droewige melodie hê as ons die Here vir sy wonderlike verlossing prys nie.  ‘Joy to the World’ moet daarom ‘n ‘Joy to the World’ tipe melodie hê.

 

Na my mening is daar ‘n paar skrywers wat hierdie kuns bemeester het.  As jy van ouer musiek hou, is niemand beter as Isaac Watts en Charles Wesley nie.  As jy hedendaagse gemeentesang verkies, is die Getty’s, Stuart Townend en Bob Kauflin goed.  Ek dink dat Hillsong en Jesus Culture nie die beginsels volg wat ek hierbo genoem het nie.[1]

 

As gelowiges vermy ons sekere style, omdat die wêreld dit gebruik om hulle immorele en goddelose agenda te dryf.  Heavy Metal word bv. gebruik om die werke van duisternis te propageer, en dus is dit nie genoeg om net die vieslike woorde te verander nie.  Die boodskap lê nie net in die woorde nie, maar in die styl.  ‘n Mens kan dus nie ‘n melodie gebruik wat die werke van die duisternis bevorder om Jesus se die lig mee te verkondig nie.  Dt.12:4, 30-31 sê dat ons nie die wêreld se metodes moet gebruik om die Here te aanbid nie.

 

‘Soos in die eerste duisend of meer jaar van die kerk se geskiedenis, behoort ons glad nie eers instrumente te gebruik nie,’ sal ‘n baie konserwatiewe gelowige vir jou sê.[2]  Persoonlik dink ek dat die vroeë kerk verkeerd was.

 

Volgens Paulus moet ons Psalms sing (v.16), en in Ef.5:19 sê hy dat ons dit met melodieë moet doen [Gk. psallō].  Die Griekse woord praat letterlik van iemand wat ‘n snaarinstrument pluk.  En as ons Psalms moet sing, sê Ps.150 dat ons die Here met allerhande instrumente moet prys.  Talle van die Psalms se opskrifte sê ook dat die lied met ‘n instrument begelei moet word.

 

Maar in dieselfde asem is dit nodig om te sê dat die instrumente nie die mense se stemme moet uitdoof nie.  Ons harte en stemme moet die hoof instrumente wees waarmee ons die Here loof en dank.

 

Die cresendo van gemeentesang

Cresendo beteken hoogtepunt of klimaks.  Volgens v.16 is God en sy heerlikheid die cresendo of klimaks van ons gemeentesang.  God het ons geskep en gered om Hom te verheerlik (Jes.43:7, 21, 1 Kor.10:31, 2 Kor.5:9, 15, Ef.1:6, 12, 14).

 

Dit is ook die rede hoekom ons nie soos Moslems, Hindoes en mense van ander godsdienste is nie – ons sing.  Dit kan nie anders nie.  God het ons oë oopgemaak om sy heerlikheid te sien; ons is bly dat Hy ons gered het.  Om dan nié die Here met lofliede te prys nie, is erger as moord en verkragting.

 

Gemeentesang is egter nie die enigste manier hoe ons die Here aanbid nie.  Ek ken ‘n ds. wat by ‘n ander gemeente gaan preek het.  Toe hulle klaar gesing het, het die musikante agter in die kerk op hulle steitjies gaan sit om te slaap.  Hy het voor die hele kerk vir hulle gesê:  ‘Gemeentesang is nie die enigste deel van aanbidding nie; Bybelse prediking is ook aanbidding – sit regop.’

 

‘n Vrou het eenkeer vir my gesê:  ‘As die musiek goed was, gee ek nie om of die preek sleg is nie.’

 

Die ds. in die eerste storie was reg, en die vrou in die tweede een verkeerd.  Ons moet die ABC van gemeentesang ken, sodat ons die Here met opregte harte kan prys.  Ons moet egter nie dink dat gemeentesang die A-Z van aanbidding is nie.  Om die Here reg te aanbid moet jy jou lewe aan Hom toewy (v.17, Rm.12:1).

 

[1] Lees gerus die drie artikels oor ‘The Gospel According to Hillsong’ by http://www.gty.org

[2] N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 1, pp.68-69; Part 2, pp.169-171; Part 3, pp.229-230.