‘n Bybelse benadering tot die millennium

Evening in eschatology

Wat op aarde is die millennium?  Dit het te doen met die eindtyd.  Maar voordat ons sê wat die Bybel hieroor leer, moet ons seker maak dat ons die kwessie op ‘n Bybelse manier benader.  Wat ek bedoel is dít.

 

  • Verledejaar het ek op ‘n vriend se aanbeveling ‘n debat oor die millennium op YouTube gekyk. ‘An Evening in Eschatology’ was die titel.  Dit was baie goed, maar twee van die mans het redelik vurig geraak.
  • ‘n Vriend het my eenkeer oor die vingers getik, omdat ek gesê het ek is nie seker wat ek oor die eindtyd glo nie, en dat dit my nie regtig pla nie. ‘God het dit in die Bybel gesit, en daarom moet ons probeer om dit te verstaan,’ het hy gesê.
  • John MacArthur het by ‘n konferensie sy eindtydsiening gepreek, en gesê dat ander verkeerd is. ‘n Baptiste teoloog het ‘n reaksie teen hom geskryf.  Voordat hy egter gesê het hoekom hy nie met MacArthur saamstem nie, het hy in die voorwoord gesê:  ‘John MacArthur is my friend.’[1]

 

Een van my goeie vriende – wat ‘n ander siening as ek het oor die millennium – het die boek vir my gegee en voor in geskryf:

 

Ivor,

 

May we always address our disagreements

with a “friendly response”.

Oh, for more of Christ!

 

Paul

 

Dit is wat ek bedoel wanneer ek sê dat ons die millennium Bybels moet benader.  Ons moenie vurig daaroor stry nie, maar ons moet ook nie sê dat dit onbelangrik is nie.  Ons moet eerder weet wat ons oor die saak glo, en ruimte laat vir dié wat nie met ons saamstem nie.

 

Die definisie

Vir baie mense het die woord millennium in die jaar 2000 populêr geraak.  Dit kom van ‘n Latynse woord af wat ‘duisend jaar’ beteken.  Mille beteken duisend (dalk onthou jy tekkies met hierdie naam), en annus beteken jaar.  Die naam kom van Op.20 se duisend jaar af.

 

In hierdie hoofstuk sien ons dat die duiwel vir ‘n duisend jaar gebind is, sodat hy nie meer die nasies kon mislei nie (v.1-3).  Die dooies wat lewend gemaak is het vir ‘n duisend jaar saam met Christus regeer (v.4-6).

 

Aan die einde van die duisend jaar is die duiwel vir ‘n kort rukkie losgelaat.  Hy het die nasies mislei om teen Jesus en die kerk te baklei, maar is oorwin (v.7-10).  Ná sy vernietiging in die hel, is die dooies opgewek en geoordeel (v.11-15).

 

Wat volg is ‘n opsomming van hoe gelowiges Op.20:1-6 deur die geskiedenis verstaan het.  In die volgende preek sal ek die teks noukeurig ontleed.

 

Die sienings

Meer as tien jaar gelede het ons tydens ‘n Bybelstudie deur die boek Openbaring gewerk.  Ons het o.a. die verskillende sienings van die millennium aangeraak.  Toe ons dit klaar bespreek het, het iemand gesê:  ‘Jy is ‘n amil, sy is ‘n premil, hy is ‘n postmil en ek is ‘n nege mil.’

 

Deur die kerk se geskiedenis het groot manne en vroue van God oor die saak verskil.  Daar is vier basiese sienings wanneer dit by Op.20:1-6 kom.[2]

 

Postmillennialisme

Postmillennialisme beteken dat Jesus ná (post-) die millennium sal terugkeer.  Die meeste postmils in ons tyd glo dat Satan gebind is toe Jesus aan die kruis gesterf het.  Hy sal gebind wees tot net voor die wederkoms, waarna hy vir ‘n kort tydjie losgelaat sal word en die nasies sal mislei om teen Jesus en die kerk te veg.

Postmil

Maar hy sal nie suksesvol wees nie; die Here sal hom vernietig.  Rakende die binding van Satan glo postmils dat hy nie absoluut gebind is nie, maar spesifiek sodat hy nie die verspreiding van die evangelie na die nasies toe kan keer nie.  Rakende die duisend jaar van die duiwel se gebondenheid, glo postmils dat dit ‘n simboliese getal van die tydperk tussen Jesus se eerste en sy tweede koms is.[3]

 

Die groot verdrukking en die Antichris (tekste soos Mt.24 en Op.6-19) is met die verwoesting van Jerusalem en die tempel in die eerste eeu vervul, en lê dus nie in die toekoms nie.[4]

 

Die evangelie het wel klein begin, maar sal deur die Heilige Gees se werk in evangelisasie en herlewings die eindes van die aarde bereik.  Die vrede begin in ons harte, maar soos wat die evangelie versprei en mense tot bekering kom, sal dit o.a. ‘n morele, sosiale, politieke en ekonomiese effek hê.  Omdat daar vrede met God is, sal mense ook in vrede met mekaar lewe.  Uiterlike vrede sal die direkte gevolg van mense se innerlike vrede met God wees.

 

Voor die wederkoms sal die Jode gered word, en sal die res van die nasies na die Here toe draai.  Elke individu sal nie tot bekering kom nie, maar die meerderheid van die mensdom sal die Here aanbid.

 

Op die regte tyd sal Jesus na die aarde toe terugkeer.  Hy sal gelowiges en ongelowiges uit die dood uit opwek.  Dié wat die evangelie verwerp het sal vir ewig in die hel gegooi word, terwyl dié wat hulle bekeer het om in Jesus te glo vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde sal lewe.

 

Amillennialisme

Amillennialisme beteken dat daar nie (a-) ‘n millennium is nie.  Die naam is ‘n bietjie misleidend, omdat hulle wel in ‘n millennium glo, maar nie in ‘n letterlike een op aarde nie.

Amil

Oor die binding van Satan, die simboliese duisend jaar, die loslating van Satan voor die einde, die wederkoms, die opstanding, die finale oordeel, die hemel en die hel, glo amillennialiste dieselfde as die vorige siening.

 

Hulle glo egter nie soos postmils dat geregtigheid uiteindelik die oorhand sal hê nie, maar dat boosheid en geregtigheid soos ‘n trein se twee spore parallel sal loop tot by die wederkoms.

 

Volgens hulle hou die groot verdrukking deur die kerk se geskiedenis aan, en sal daar altyd antichriste wees.  Die verdrukking sal egter intens raak wanneer daar voor die wederkoms ‘n finale Antichris op die toneel verskyn.

 

Terwyl die groot verdrukking plaasvind, is daar ook ‘n simboliese duisend jaar van vrede in gelowiges se harte of in die hemel.  Die millennium is geestelik en nie polities van aard nie.

 

Historiese Premillennialisme

Premillennialisme beteken dat Jesus voor (pre-) die millennium weer sal kom.  ‘Histories’ dui aan dat Christene van die vroegste eeue af hierdie siening gehandhaaf het, en dat Dispensasionele premillennialisme ‘n nuuter verskynsel is (sien die laaste siening hieronder).

Historiese Premil

Historiese premillennialiste glo dat die wêreld drasties sal vererger voor die wederkoms.  Die Antichris sal op die toneel verskyn en die kerk vir sewe jaar lank verdruk en vervolg.

 

Aan die einde van die sewe jaar sal Jesus die Antichris verslaan en die gelowiges wat gesterf het opwek.  Saam met die gelowiges wat nog lewe sal hulle die Here in die lug ontmoet en dan na die aarde toe terugkeer.  Die wegraping en die wederkoms is dus een gebeurtenis.

 

By die wederkoms sal Jesus die duiwel bind.  Hy sal absoluut gebind word, sodat hy vir die bestek van die millennium glad nie aktief is nie.  Gedurende die duisend jaar (‘n letterlike of ‘n simboliese tydperk) sal Jesus op die aarde regeer en die gelowiges saam met Hom.  Daar sal nog sonde en dood in die wêreld wees, maar oor die algemeen sal dit ‘n tyd van geestelike, sosiale en politieke vrede wees.  Al die nasies sal die knie voor Koning Jesus buig, sommige uit dwang en ander gewilliglik.

 

Aan die einde van die duisend jaar sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word.  Hy sal die nasies mislei om teen Jesus op te staan, maar sal gou vernietig word.  Daarna sal Jesus die ongelowiges opwek en oordeel.  As Hy hulle klaar in die hel gewerp het, sal Hy die aarde nuut maak.  Die dood sal nie meer wees nie, en God se kinders sal vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde woon.

 

Dispenasionele Premillennialisme

Ons het reeds onder die vorige punt gesien wat premillennialisme beteken.  ‘Dispensasionele’ word gebruik, omdat hierdie siening die Bybel in verskillende dispensasies opdeel.  In teenstelling met die vorige drie sienings, glo hulle dat die kerk en Israel verskillende groepe is.

Dispensasie Premil

Dispensasie premils glo in baie opsigte dieselfde as historiese premils.  Maar daar is ook noemenswaardige verskille.  Dispensasie premils glo dat daar ‘n onverwagse wegraping van die kerk sal wees.  Gelowiges wat gesterf het sal uit die dood uit opstaan en saam met dié wat nog lewe weggeraap word om die Here in die lug te ontmoet.  Hy sal hulle hemel toe vat om by Hom te wees, sodat hulle nie die groot verdrukking hoef deur te maak en die Antichris hulle vervolg nie.

 

Ná die wegraping sal die Jode na hulle land toe terugkeer en tot bekering kom.  Die Antichris sal hulle en mense uit ander nasies wat tot bekering gekom het, vir sewe jaar lank verdruk en vervolg (die groot verdrukking).  Aan die einde van die sewe jaar sal Jesus terugkeer om die Antichris te verslaan.  Hy sal die duiwel absoluut bind, sodat hy glad nie meer aktief is nie.

 

Vanuit die aardse Jerusalem in Israel, sal Hy letterlik vir ‘n duisend jaar op sy troon sit en oor die aarde regeer.  Soos met historiese premils, sal daar volgens dispensasie premils nog sonde en dood wees, maar oor die algemeen sal daar ‘n geestelike en politieke vrede op die aarde wees.  Die gelowiges sal saam met Jesus regeer.

 

Aan die einde van die duisend jaar sal Satan vir ‘n kort rukkie losgelaat word om die nasies teen Jesus aan te hits.  Hy sal vernietig word.  Jesus sal die ongelowiges uit die dood uit opwek, hulle oordeel en hulle in die hel gooi.  Hy sal die aarde nuut maak en vir ewig saam met ons wees.

 

Die toepassing

Justin Martyr was ‘n gelowige wat in die tweede na Christus (c.100-165 n.C.) gelewe het.  In sý tyd reeds het Christene oor die millennium verskil.  Volgens hom was daar ware gelowiges wat nie soos hy in ‘n duisendjarige vrederyk ná die wederkoms geglo het nie.[5]

 

Dalk dink jy:  ‘As groot Godsmanne nie eers oor Op.20 kon saamstem nie, hoe kan ek eers probéér om dit te verstaan?’  Hoor ek miskien iemand sê:  ‘Wat maak dit saak?  Terwyl ons oor die millennium stry, gaan ongelowiges hel toe.  Ons moet op evangelisasie fokus en nie op teologiese onbenullighede nie’?  ‘n Paar opmerkings is in orde.

 

[1] Die evangelie is inderdaad belangriker as die millennium.  Paulus het gesê:  “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het,” en dan gaan hy aan om die evangelie op te som (1 Kor.15:3-4).

 

Wanneer ons dus die Skrif preek, moet ons dit in die regte proporsie doen.  Die Bybel praat bv. op ‘n paar plekke van ouderlinge.  Om dit dan vir ‘n jaar of twee te bestudeer en te preek is nie net ongebalanseerd nie, maar ongesond.

 

So is dit ook met die millennium:  die Bybel praat een keer daarvan, en daarom mag ons nie toelaat dat dit ons gedagtes, navorsing en gesprekke so oorheers, dat dit die evangelie uitskuif nie.

 

Wat baat dit as jy jou siening oor die millennium wil uitsorteer, maar nie gered is nie?  Die duisend jaar van vrede beteken niks as jy nie vrede met God het nie.  As jy jou dae in sonde deurbring, sal jy saam met die duiwel vernietig word en in die hel beland (v.9-10, 15).  Jy sal baie gou agterkom dat Satan, sy demone en al die ongelowiges in die wêreld nie teen Jesus kan kompeteer nie (v.7-10).

 

Moet dan nie verder met jou sonde aanhou nie, maar stop in jou spore.  Hou op om te sê jy het nie tyd vir die Bybel, gebed, die kerk en die Here nie.  As dit vir jou belangrik was, sou jy tyd gemaak het, maar nou verafgod jy ander goed.  Los jou selfgesentreerde lewe van bitterheid, bakleiery, seksuele sonde, wellus, oneerlikheid, luiheid, materlialisme, gierigheid, leuens, hoogmoed, jaloesie en ander sondes.

 

Vertrou dat Jesus sterk en gewillig is om jou te red.  Glo dat die liefdevolle en barmhartige Vader sy volmaakte Seun se lewe, kruisdood en opstanding in jou plek sal aanvaar.  Besef dat Hy jou enigste hoop is, en dat daar sonder Hom geen redding is nie.  Roep uit dat die Here jou sal vergewe en wag geduldig tot Hy jou antwoord.  Hy sal, “Want:  Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.” (Rm.10:13).

 

Eers as dít gebeur het, kan jy jou gedagtes oor die millennium uitsorteer.  Eintlik móét jy dit uitsorteer en nie soos sommige sê:  ‘Maak dit regtig saak of ek Op.20 verstaan of nie?  Op die einde sal alles buitendien uitwerk soos dit moet’ nie.

 

As die Here wou gehad ons moet dit nie verstaan nie, sou Hy dit nie in die Bybel gesit het nie (Dt.29:29).  Maar omdat dit in die Bybel is, moet ons ons beste doen om dit reg te interpreteer en toe te pas (2 Tm.2:15, 3:16-17).

 

[2] Wees soos die Jode in Berea:  toets die preke wat jy lees en hoor – ook hierdie een en volgende week s’n – aan die Skrif (Hd.17:11).  Wat jy lees en hoor moet duidelik sigbaar wees in die teks.  Moenie sê:  ‘Ek sien dit nie eintlik nie; hy het egter vir jare teologie studeer, en daarom móét dit reg wees’ nie.

 

Geen prediker is onfeilbaar nie.  Op die einde van die dag moet jy met ‘n skoon gewete voor die Here staan en sê:  ‘Ek het na die preke geluister en dit aan die Bybel gemeet.  Wat ek oor die millennium en die eindtyd geglo het, het ek in die teks gesien.’

 

Moenie sê:  ‘Ek het verkeerd geglo omdat die ds. (of John MacArthur, William Hendriksen en Iain Murray) verkeerd gepreek en geskryf het’ nie.  Ons vergeet dat lidmate óók verantwoordelik is om die Bybel reg te interpreteer.  Moet dan nie alles wat jy in preke hoor en in boeke lees vir soetkoek opeet nie, maar toets dit aan die Skrif.

 

[3] Iemand het die millennium só gedefinieer:  ‘Dit is ‘n duisend jaar van vrede waaroor Christene graag baklei.’  Dit hoort nie so nie.  God wil hê dat ons mekaar met die eindtyd moet bemoedig.  “Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Ts.4:18), moenie verander word in, “Bestry mekaar dan met hierdie woorde” nie.

 

Die detail van Op.20 moenie skeiding bring tussen Christene nie.  M.b.t. Op.20 en die eindtyd is die hoofsaak dat ons die onderstaande vier punte moet glo:

 

  • Jesus sal in die toekoms vir ‘n laaste keer na die aarde toe terugkeer. Sy koms sal persoonlik en sigbaar wees (Hd.1:9-11).
  • Die dooies sal uit die grafte uit opstaan (Jh.5:28-29, 1 Kor.15).
  • Jesus sal elke mens oordeel (v.11-15, Mt.25:31-46, Rm.2:1-16). Vir ongelowiges sal die oordeelsdag ‘n hofsaak wees waarná die Here hulle sal straf; vir gelowiges sal dit ‘n prysuitdeling wees (v.12-13, 1 Kor.3:12-15).
  • Ongelowiges sal vir ewig in die hel gepynig word, terwyl gelowiges vir ewig in liefde, vrede en blydskap by Jesus sal wees (v.15, 21:3, 8, 14:10-11, Mt.25:34, 41, 46).

 

Mense wat die bg. vier punte verwerp, wyk af van dit wat Christene deur die eeue geglo het en moenie as gelowiges beskou word nie.[6]  Indien hulle dit egter aanvaar en regtig die Here ken, moet ons hulle in liefde verdra, al stem ons nie met hulle saam oor die millennium nie.

 

[4] Jou siening oor die millennium raak nie die egtheid van jou belydenis nie, maar dit beïnvloed die manier waarop jy lewe.

 

Dit beïnvloed jou gebede, of herlewing ‘n prioriteit is in jou gebede.  Dit beïnvloed jou fokus in sendingwerk:  werk jy net vir die bekering van die mense in jou omgewing, of dink jy aan die geslagte wat kom?

 

Dit beïnvloed hoe jy die nuus en wêreldgebeure interpreteer, vernaamlik wat in die Midde-Ooste gebeur.  Dit beïnvloed of jy paranoïes raak oor e-posse en Whatsapp boodskappe wat handel oor die Nuwe Wêreld Orde, die Verenigde Nasies, die Illuminati, die Vrymesselaars, die 666, ens.

 

Vir sommige beïnvloed dit selfs of hulle op Facebook is, waar hulle hulle geld belê, hoeveel kinders hulle het, en of hulle vir hulle kinders Fidget Spinners koop.

 

Die millennium en ander eindtyd gebeure is dan nie onbelangrik soos sommige dink nie.  Maar dit is ook nie nodig om te doen wat ‘n groep Amerikaners met een van ons dosente gedoen het nie.  Toe hulle uitvind dat hy nie soos hulle glo oor die millennium nie, het hulle hele gesindheid teenoor hom verander.  Hulle optrede was nie net ongeskik nie, maar onbybels.

 

[1] Samuel E. Waldron, MacArthur’s Millennial Manifesto, p.1

[2] Daar is variasies in die verskillende sienings, soos wat daar meer as een soort C-Klas Mercedes is.  Ek gaan ‘n generiese verduideliking gee, en nie fokus op die variasies in elke siening nie.

[3] Die diagramme is redelik eenvoudig en bevat nie elke detail van die verskillende sienings nie.

[4] Postmillennialiste glo dat Mt.24 (ten minste v.1-35) in 70 n.C. vervul is.  Nie alle postmils glo egter dat Op.6-19 reeds vervul is nie.

[5] Justin Martyr, Dialogue with Trypho, ch.80 aangehaal in Keith Mathison, Postmillennialism: An Eschatology of Hope, p.26

[6] Ibid., pp.245-248