Donker dae

Lunar eclipse

Tussen 1347 en 1400 is ‘n derde van Europa se populasie uitgewis.  In sommige lande het die helfte van die bevolking gesterf.  Dit het gebeur deur ‘n siekte-plaag wat die Swart Dood genoem is.  Die Italiaanse digter Petrarch het die volgende oor die plaag geskryf:

 

‘Wanneer sal ons nageslag kan glo dat daar ‘n tyd was toe die land en die hele aarde byna sonder bewoners was?  Sal hulle kan glo dat dit gebeur het sonder vuur uit die hemel of op die aarde, en sonder enige oorlog of ‘n sigbare ramp?  Daar was leë huise, verlate stede, oorgroeide landerye, die aarde wat met lyke oordek was, en oral ‘n groot en skrikwekkende stilte.’[1]

 

Dit was donker dae.  In Jesaja se tyd het Israel en Juda ook sulke tye beleef.  So leer Jes.8 vir ons.

 

Die profesie (v.1-10)

‘n Paar maande gelede het my swaer en sy drie jarige seun iemand raakgeloop en aan die gesels geraak.  Die persoon het dinge gesê wat hy nie moes nie.  My swaer se seuntjie het opgekyk en hom aangespreek.

 

Partykeer gebruik die Here kinders om mense op hulle plek te sit.  Alhoewel dit nie heeltemal dieselfde was in Jes.8 nie, het die Here Jesaja se seuntjie gebruik om die volk aan te spreek.

 

Hy het vir Jesaja gesê om ‘n groot plakaat of tafel te vat en met ‘n mensegriffel daarop te skryf (v.1).  Die punt is dat dit sigbaar en in die volk se taal moes wees.  Hy moes die naam van sy seun wat in die toekoms gebore sou word, daarop geskryf het:  Mahêr-shâlâl-châsh-baz in Hebreeus, of Spoedige-buit-haastige-roof as dit vertaal word (v.1, 3).

 

Ek sal dit later verduidelik.  Vir nou kan ek sê dat die volk sekerlik gevra het hoekom Jesaja vir sy seun so ‘n snaakse naam gegee het.  Dit sou vir hom die geleentheid gegee het om die profesie te verduidelik.

 

Die twee getuies in v.2 (Uria die priester en Sagaria die seun van Jeberégja) het vir die volk bevestig dat Jesaja hierdie dinge voorspel het nog voordat dit plaasgevind het.[2]  Enige saak moes deur die getuienis van twee of drie persone bevestig word (Dt.19:15).

 

Jesaja het na sy vrou toe gegaan (v.3).  Omdat sy geboorte gegee het aan ‘n kind wat letterlik God se Woord aan die volk was, het hy haar ‘die profetes’ genoem (v.3).  Hierdie kind was die voorskou van ‘n ander Kind wat God se Woord aan die volk sou wees (Jh.1:14).

 

Die kind in v.3 se naam het beteken dat die koning van Assirië haastig oppad was om vir Samaria en Damaskus – Jerusalem se vyande in 7:1-9 – aan te val en hulle buit vir homself te neem.  Dit sou gebeur het nog voordat die kind oud genoeg was om ‘pa’ of ‘ma’ te sê (v.4, 7:16, 8-9).

 

Die Woord van die Here het weer na Jesaja toe gekom (v.5).  Hy was nie net teen Damaskus en Samaria nie, maar ook teen Jerusalem wat die hoofstad van Juda was (v.6-8).  Dit het gebeur omdat Jerusalem die rustige waters van Siloa verag het (v.6).  Wat beteken dit?

 

Siloa was ‘n fontein wat aan die suid-ooste kant van Jerusalem gevloei het.  Dit het van buite af na die bad van Siloam toe binne die stad gevloei (7:3-4, Jh.9:7).  Tydens oorloë het Jerusalem se vyande haar water toevoer afgesny.

 

Die Here sou Jerusalem en haar rustige waters teen koning Resin van Damaskus en koning Peka van Samaria beskerm het.  Koning Agas het dit egter nie geglo nie.  Hy het angstig geraak en self planne gemaak om die stad en haar water toevoer te beskerm (7:1-4).

 

Hy het Here geignoreer en só die rustige waters van Siloa verag; hy het vir die koning van Assirië gevra om hom te beskerm (v.6).  Hy was bly toe Assirië ingestem het om hom teen Resin en Peka die seun van Remalia te help (v.6).

 

Maar dit het nie vir lank gehou voordat die koning van Assirië ook teen Jerusalem gedraai het nie.  Omdat Agas en die volk die rustige waters van Siloa verag het, het die koning van Assirië soos ‘n magtige rivier teen Juda gekom (v.7).  Hy en sy weermag was soos die Eufraat rivier wat sy walle oorstroom, en soos ‘n vloed wat alles uit die pad uitvee en aanbeweeg (v.7-8).

 

Juda het byna verdrink, maar omdat Immanuel uit haar gebore moes word, het God gesorg dat sy kop bo water gehou het (v.8).  Maar dit beteken nie dat die verwoesting nie erg was nie.  Die Assiriërs was soos ‘n roofvoël wat sy vlerke oor die land gesprei het om sy prooi te vang (v.8, 36:1, Dt.28:49).

 

Juda moes egter besef het dat Assirië en die nasies God se instrumente was; op die einde sou Hy ook húlle magtige wapens gebreek, vernietig en verpletter het (v.9, Ps.46:10).  Hulle kon dus maar saam teen die Here en sy volk beraadslaag het – hulle planne sou nie uitgewerk het nie (v.10, 7:7, Ps.2).  Die Here was Immanuel in die midde van sy volk (v.10, Rm.8:31).

 

Die reaksie (v.11-22)

In die laat 1930’s het verskeie wêreld lande saamgespan om mekaar in die oorlog te help.  So was dit ook in Jesaja se tyd.  Ek het in Jes.7 gewys hoe Israel en Sirië hande gevat het om die wêreld se nuwe supermag (Assirië) teë te staan.

 

Jerusalem was nie bereid om hulle te help nie, en daarom het hulle teen haar geveg.  In haar benoudheid het sy nie in geloof en gebed na die Here toe gedraai nie, maar vir Assirië gevra om te help.  Assirië het gehelp, maar het uiteindelik ook teen Jerusalem gedraai.  Hierdie agtergrond sal ons help om Jes.8 beter te verstaan.

 

God het sy sterk hand op Jesaja geplaas en vir hom gesê om nie soos die volk te lewe nie (v.11).  Hy moes nie soos hulle bang gewees het vir die sameswering tussen Israel en Sirië (7:2), of betrokke geraak het in Agas se sameswering met Assirië nie.  Jesaja moes nie mense gevrees het nie, maar God; sy vrees vir God moes sy vrees vir mense verdryf het (v.12-13, vgl. 1 Pt.3:14-15).

 

Omdat God die Here van die Leërskare of die hemelse weermag was, kon Hy die volk teen enige aardse weermag beskerm het (v.13).  Die profeet moes Hom dus as die Heilige gevrees en geëer het (v.13, Lv.10:3, kontr. Nm.20:12).  Vir dié wat in Hom geglo het, sou Hy ‘n heiligdom gewees het (v.14, Esg.11:16).

 

Maar vir dié wat Hom verwerp het, was Hy soos ‘n klip waarteen mense hulleself stamp, soos ‘n rots waaroor hulle struikel en verpletter word (v.14-15, Mt.21:44, Lk.2:34, Rm.9:32-33, 1 Pt.2:8).  Hy was soos ‘n strik en ‘n net wat die Noordelike en Suidelike ryke van Israel soos ‘n wilde dier gevang het (v.14-15).

 

Een kommentator sê oor hierdie verse:  ‘It is as if a rock were put across a road to block the traveller from danger but, in carelessness or scorn, he refuses the warning and stumbles to his death… The same God in his unchanging nature is both sanctuary and snare; it depends on how people respond to his holiness.’[3]

 

Die Here het vir Jesaja gesê om die boekrol wat hy sopas geskryf het toe te bind, en met klei of was te verseël:  sy woorde was nie dadelik vir almal se ore bedoel nie, maar vir die dissipels s’n (v.16, Dn.12:4).  Vir die huis van Jakob (dit is Israel) was dit geseël (v.16); die gesig van God se guns het nie meer oor hulle geskyn nie (v.17, 54:8, Dt.31:17-18, Nm.6:25-26).  Terwyl dit so was, het Jesaja geduldig op die Here gewag en op Hom gehoop (v.17).

 

Jesaja en die twee seuns wat die Here vir hom gegee het (Heb.2:13) was tekens vir die volk (v.18, 1-4, 7:3, 20:1-6).  Volgens die betekenis van hulle name sou God die volk geoordeel het.

 

As God dan deur Jesaja gepraat het, was Israel en Juda dwaas om die dooies te raadpleeg en waarsêers te besoek (v.19, Dt.18:10-11).  Hulle woorde was so irriterend en onduidelik soos iemand wat piep en mompel (v.19).  Hoekom wou enigiemand buitendien vir die dooies iets gevra het, as hulle nie meer op die aarde gelewe het nie (v.19, 1 Sm.28)?

 

Dit sou beter gewees het om God en sy Woord te raadpleeg, die wet en die getuienis wat Hy deur Jesaja vir hulle gegee het (v.19-20, 16).  Die volk en die waarsêers wat nie volgens God se Woord gepraat het nie, het geen geestelike lig gehad nie (v.20, Ps.119:105).  Hulle het ook geen toekoms gehad nie; hulle sou nie die oggendlig gesien het nie (v.20).  Die son sou nie meer vir hulle opgekom het nie; hulle sou in duisternis gewees het (v.20, 22).

 

Hulle sou as gevangenes na ‘n ander land toe weggevoer word.  Oppad sou hulle honger en angstig deur die land getrek het (v.21).  In hulle toestand sou hulle die koning se naam en die Here s’n gevloek het (v.21).  Hulle sou na die hemel en die aarde toe gekyk het, maar daar sou vir hulle geen hulp gewees het nie (v.21-22).  ‘n Donker en angstige toekoms is al wat op hulle gewag het (v.22, 5:30).

 

Omdat hulle die werke van duisternis liefgehad het (v.19), het die Here hulle daaraan oorgegee (v.22, Mt.22:13).  En tog was daar vir hulle lig aan die einde van die tonnel (v.23).  Maar daarby sal ons volgende keer uitkom.

 

Wat wil die Here in hierdie hoofstuk vir ons sê?

 

[1] Soos in Jesaja se tyd, is God se Woord vrylik beskikbaar in ons land (v.1).  Daar is ‘n kerk op elke hoek, en meer as een Bybel in die meeste van ons se huise.  Byna elke Suid-Afrikaner het die Bybel in ‘n taal wat hy of sy kan verstaan, en dus kan ons nie die flou verskoning gebruik dat ons nie van Jesus geweet het nie.

 

Jesus het gesê:  “En daardie dienskneg wat die wil van sy heer geken het en nie klaargemaak of volgens sy wil gedoen het nie, sal met baie slae geslaan word; maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal met min slae geslaan word.  En elkeen aan wie veel gegee is, van hom sal veel gevorder word; en aan wie hulle veel toevertrou het, van hom sal hulle oorvloediger eis.” (Lk.12:47-48).

 

Dit is bitter gevaarlik om baie van die Bybel te weet en dit nie te doen nie.  Maar dit is ook nie ‘n verskoning om nié te weet nie, veral nie as jy vrye toegang tot die evangelie, die Bybel en die kerk gehad het nie.

 

[2] Die vloed van God se oordeel waarin ons veronderstel was om te verdrink, het aan die kruis van Golgota oor Jesus gekom (v.7-8).  As jy jou van jou sonde bekeer en in Jesus glo om jou te red, sal jy nie onder die vloedwater van sy toorn sink nie, maar droog en veilig wees in die ark van sy genade.  Hy sal die vlerke van sy vergifnis oor jou sprei, sodat die roofvoël van sy oordeel jou nie vang nie (v.8, Mt.23:37).

 

[3] Vir God se kinders is Jesus Immanuel, God met ons (v.8, 10, 7:14, Mt.1:23, 28:20).  Ongeag van wat met jou gebeur, Hy is met jou.

 

[4] God is in beheer van mense wat bose planne teen jou maak en teen jou opstaan.  Hulle kan nie doen wat hulle wil nie.  Hy sal hulle slegte dade teen jou gebruik om sy goeie planne uit te voer, en sal hulle uiteindelik daarvoor oordeel (v.9-10).

 

[5] Moenie soos die deursnee Afrikaner bang wees vir ons land se toekoms nie.  Moenie bang wees vir die politieke samesweringe van mense wat ons wil beskadig nie (v.12, 7:2, Sp.29:25).  Moet ook nie na ‘n beter persoon of party kyk om ons land uit die gemors te red nie (v.12, 2 Kon.16:7-8).

 

Vrees en aanbid eerder die Here (v.13).  Fokus op jou verhouding met Hom en nie op die dinge wat Jacob Zuma en die regering aanvang nie.  Dra ons land se probleme aan die Here op (v.13, 1 Tm.2:1-2).  Lees en oordink die Bybel meer as wat jy die nuus volg.

 

[6] Laat die Here vir jou ‘n heiligdom wees en nie ‘n klip waaroor jy struikel nie (v.14-15).  Laat Hy deur jou stiltetyd en aanbidding saam met ander gelowiges vir jou ‘n tempel wees.  Hy moenie net ‘n tempel wees waarin jy van tyd tot tyd inkom nie, maar een waarin jy jou lewe deurbring.

 

Maak seker dat jy só lewe, en nie soos dié wat alewig die Bybel bevraagteken nie.  Ek verstaan dat gelowiges in sommige gevalle twyfel.  Ons moet egter nie ‘n rebelse hart en gesindheid hê, sodat die evangelie ons affronteer en ons God se Woord bevraagteken nie.  Buig eerder in onderdanige gehoorsaamheid voor God en sy Woord.  As jy dit nié doen nie, sal jy daaroor struikel en in die helse afgrond verdwyn (v.14-15).

 

[7] Soms is alles om jou donker en voel dit of die Here sy gesig vir jou wegsteek (v.17, 22).  Moenie soos die wêreld jou vuis teen die hemel lig en kwaad wees vir God nie, maar wag geduldig op die Here en glo dat Hy vir jou die uitkoms sal stuur (v.17, 21-22).

 

[8] Wanneer dit met jou sleg gaan moet jy nie na ongelowige boeke, beraders, toekomsvoorspellers en vriende toe hardloop nie (v.19, Ps.1:1).  Gaan na God en sy Woord toe; vind hulp in gebed en kry raad by dié wat jou uit die Bybel uit kan lei (v.19-20).

 

[9] Wanneer dit pik donker in jou lewe is, is alles nie verlore nie – daar is hoop (v.22-23, 50:10).

 

Donker dae hoef dus nie die permanente toestand te wees waarin ons lewe nie.  As Christene moet ons nie soos die depressiewe donkie (Eeyore) in Whinnie-the-Pooh wees en dink alles is donker nie.  Ja, ons moet realisties wees en erken dat dinge in ons land en wêreld onderstebo is.

 

Maar ons moet ook besef dat swart en grys nie die enigste kleur is waarmee God die skildery van die toekoms geverf het nie.  Laat ons dan hoopvol wees en saam met Salomo glo dat “die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Sp.4:18).

 

[1] Vry vertaal uit N.R. Needham, 2000 Years of Christ’s Power: Part 2, p.328

[2] Kort hierna het Uria die priester in koning Agas se voetspore gevolg en van die Here af weggedraai (2 Kon.16:10-16).

[3] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.94