‘n Liefdeslied vir Jesus

Psalm 45

Die meeste liede wat jy op die radio hoor gaan oor liefde.  Dit is asof die wêreld daarna soek, maar dit nie kry nie.  En hulle sal dit ook nie kry nie, omdat dit net in die Bruidegom, Messias en Koning van Ps.45 gevind kan word.  Net dié wat met Hom getroud is, kan begin om te verstaan wat ware liefde is.

 

Die seuns van Korag het ‘n lied geskryf wat onder begeleiding van die musiekleier op die Koning se troue gesing moes word (v.1).  Dit moes op die wysie van ‘Lelies’ gesing word, omdat die mense van die dag daarmee bekend was (v.1).

 

Die Psalm se inhoud was bedoel om dié wat dit gesing en gehoor het, te onderrig (v.1).  Maar omdat dit ‘n liefdeslied was, moes hulle dit nie as koue feite geleer het nie (v.1).  ‘n Diep liefde vir die koning moes hulle harte gevul het; dit moes selfs trane in hulle oë gebring het (v.2).

 

Vir die psalmis was dit so (v.2).  Hy kon dit nie meer inhou nie, maar moes met elegante woorde sy emosie op papier gesit het en dit aan die Koning voorgedra het (v.2).

 

Hierdie lied is op verskeie konings se troues gesing, maar uiteindelik is dit in die Messias vervul.  Sekere dele daarvan kan op geen aardse koning toegepas word nie (bv. v.7-8), terwyl daar ander elemente is wat nie vir die Messias geld nie (bv. die prinsesse en bruidsmeisies in v.10, 15).  Die res van die Skrif sal ons help om die Psalm reg te interpreteer en toe te pas.[1]

 

Die Bruidegom (v.3-10)

In ons kultuur wag almal vir die bruid wanneer daar ‘n troue is.  Maar in die ou Joodse kultuur was dit nie so nie, veral nie by die koning se troue nie.  Die fokus was op die koning; dit was sý groot dag.  Mense het hom dikwels as die mooiste en aantreklikste man in die land beskou (1 Sm.9:2, 16:12, 18).

 

By Jesus se eerste koms was Hy nie aantreklik nie (Jes.53:2), maar toe Hy in die hemel verheerlik is was Hy die aantreklikste van almal, die skoonste uit 10 000 (v.3).

 

As Hy gepraat het, was die woorde van sy lippe vol van genade; Hy het bemoedigende en opbouende woorde gepraat (v.3, Sp.22:11).  Die genade in sy woorde het gewys wat in sy hart was, en daarom het God Hom vir ewig geseën (v.3, Mt.12:34).

 

Hy was ‘n Magtige Held op sy perd wat met die swaard sy vyande oorwin het (v.4-5, Ps.24:8, Jes.9:5, 49:2, Heb.4:12, Op.1:16, 6:2, 19:11, 15, 21).  Hy het geveg om waarheid, ootmoed [Eng. ‘meekness’] en geregtigheid te bevorder, en nie omdat Hy bloedlustig was nie (v.5).

 

Sy plan was om valsheid en bedrog in die nek te slaan, om diktators tot ‘n val te bring, en om die leeu van ongeregtigheid dood te skiet (v.5).  Sy sterk regterhand sou hiervoor gesorg het (v.5).  Sy vyande sou vreesbevange gewees het vir die swaard in sy regterhand (v.5, 4).

 

Hy was ook ‘n dodelike skut wat met een skoot sy skerp pyle in hulle harte getref het (v.6).  Al die volke sou voor Hom geval het, totdat Hy al sy vyande aan sy voete onderwerp het (Ps.110:1-2, 5-6).  In al hierdie dinge het Hy sy Koninklike heerlikheid en majesteit gewys (v.4-5, Jud.25).

 

Die rede hoekom Hy sy vyande so maklik oorwin het, is omdat Hy nie net ‘n mens was nie, maar God op die troon (v.7).  En omdat Hy God was, sou Hy en sy troon vir ewig bestaan het (v.7, Dn.2:44, 7:14, Lk.1:33, Heb.1:8-12).  Daar sou geen opvolger tot die troon gewees het nie.  Met sy septer sou Hy vir ewig in geregtigheid regeer het (v.7).  Hy het dit immers liefgehad en goddeloosheid gehaat (v.8, 11:7).

 

Om hierdie rede het God Hom gesalf om die Messias te wees (v.8).[2]  Volgens die psalmis het God vir God gesalf (v.8).  Daar is net een God (Dt.6:4), maar uit v.8 is dit duidelik dat daar meer as een Persoon in die Godheid is (Mt.3:16-17, 28:19, Ef.4:4-6).

 

Toe die Messias sy aardse bediening begin het, het God Hom gesalf en vir sy werk afgesonder (v.8, vgl. 1 Sm.16:13).  Hy het Hom met vreugde-olie gesalf (v.8).  Wat beteken dit?

 

Die olie is simbolies van die Heilige Gees wat Hom vir sy taak bekragtig het (Lk.3:22, 4:18, Jh.1:33, Heb.1:9).  Die vreugde-olie verwys na die Vader se tevredenheid met die Seun, sodat Hy Hom gesalf het om die Messias te wees (v.8, Mt.3:17).  Vir die Vader was Hy ver verhewe bo die res, en was daar niemand anders op die lys van moontlike kandidate nie (v.8).

 

Sy klere het soos parfuum geruik wat van mirre, aalwyn en kassie gemaak is (v.9, vgl. Eks.30:23-24, Sp.7:17).  Mirre was afkomstig van ‘n sekere soort Arabiese balsamboom.  Die boom se geurige rooi-bruin gom is uitgedroog en tot ‘n fyn poeier gemaal.  Ons almal weet wat aalwyn is.  Kassie kom van ‘n geurige boombas af.[3]  Toe die Messias met hierdie geurige mengsel gesalf is, het dit tot op sy skouers afgeloop, sodat Hy lekker geruik het vir sy troudag (v.8-9, vgl. Ps.133:2).

 

Die troue is gehou in paleise wat uitgelê is met ivoor (v.9, vgl. 1 Kon.22:39).  Daar was ook musikante wat met snaarinstrumente by die troue gespeel het (v.9, 33:2, 150:3-4).  Die Koning was wêreld-beroemd, sodat die dogters van konings as eregaste na sy troue toe genooi is (v.10).

 

Die koningin – die kerk volgens Ef.5:32 – het die ereplek aan sy regterhand ingeneem (v.10, vgl. 1 Kon.2:19, Ef.2:6).  Haar trourok is van Ofir se kwaliteit fyngoud gemaak (v.10, Job 28:16, 1 Kon.10:11).  So het sy die Koning se rykdom en heerlikheid weerspieël (2 Kor.3:18).

 

Die Bruid (v.11-18)

Geen fees in ons kultuur is so groot soos ‘n troue nie.  Bittermin mense nooi bv. 150 of 200 mense na hulle verjaarsdae toe.  Ek ken ook nie iemand wat so baie mense na sy of haar huis toe nooi vir Kersfees nie.

 

In die Bybelse kultuur was dit dieselfde, en wanneer Jesus terugkeer sal dit weer so wees.  Ps.45 gee vir ons ‘n idee van hoe groot, ryk en belangrik hierdie fees sal wees.

 

Die Koning het in v.11 vir die koningin gesê dat sy ‘n nuwe lojaliteit gehad het.  Om by Hom te wees, moes sy haar volksgenote en ouerhuis verlaat het (Gn.2:24, 24:58).  Hy moes vir haar belangriker gewees het as haar familie (v.11).

 

As sy dít gedoen het, sou Hy haar skoonheid begeer het (v.12).  Haar toewyding en onderdanige eerbied waardeur sy Hom Here genoem het, was vir Hom belangriker as haar goue rok en uiterlike skoonheid (v.10-12, 95:6, Jes.54:5, 1 Pt.3:3-4, Op.19:7-8, 21:2).

 

Hy was so verhewe, dat ‘n skatryk stad soos Tirus haar skatte aan sy voete kom neerlê het (v.13, Ps.72:10, Jes.49:7, 60:6-7, Mt.2:11, Op.21:24, 26, vgl. Esg.26-28).  Hy het van die skatte vir sy aanstaande gegee, sodat sy haarself daarmee versier het (v.14).  Die prinses van v.14 was oppad om die koningin van v.10 te word.  Haar veelkleurige trourok was met dun goue draad deurweef (v.14-15, 10, vgl. Gn.37:3).

 

Die bruidsmeisies het agterna geloop toe die prinses na die Koning toe gelei is (v.15).  Hulle was bly toe sy by die Koning aangekom het (v.16, Gn.2:22, Jh.3:29, 2 Kor.11:2).  ‘Die Koning sal baie kinders hê; hulle sal saam met Hom oor die land regeer!’ het hulle gesê (v.17, Heb.2:10, 13, Op.5:10).

 

Maar al het hulle so van sy kinders gepraat, sou Hy alleen deur die nasies geprys word en vir ewig onthou word (v.18, 22:31-32, 145:4, Jes.59:21, 1 Kor.11:26, Op.5:9).  Hy was nie net die Messias van die Jode nie, maar van die hele wêreld.

 

As Hy dan moeite gedoen het om sy troue onder die nasies aan te kondig, moet jy moeite doen om dit by te woon.  Moenie op die gratis en ewige feesmaal van die hemel uitmis, omdat jy flou verskonings gehad het vir hoekom jy nie daar kan wees nie (Lk.14:18-20).  Moenie soos sommige mense sê:

 

  • ‘Ek wil my kinders en kleinkinders geniet terwyl hulle nog jonk is, en het nie nou tyd om oor die hemel te dink nie – ek sal dit doen wanneer hulle uit die huis uit is.’
  • ‘Ek het dinge wat ek in die lewe wil bereik, en sal later die hemel oorweeg. Ek wil eers geld maak, my jongmens lewe geniet, die wêred sien en trou.  As ek dit klaar gedoen het, sal ek dink oor wat Jesus gesê het.’
  • ‘My lewensmaat en kinders stel nie belang in geestelike dinge nie. As ek heeltyd oor die Here praat, sal ek hulle verloor.  Dalk moet ek wag dat hulle tot bekering kom, gedoop word, by die kerk aansluit en die Here volg.  Dit sal beter wees as ons dit saam doen, en daarom sal ek ‘n bietjie wag.’
  • ‘Die Here het my kind van my af weggevat. Die kerk het my seergemaak.  Die ds. het my nie besoek toe ek in die hospitaal was nie.  Hoekom moet ek dan die Here dien?’
  • ‘Ek werk 14 ure per dag. Om nog op ‘n Sondag my gesin se tyd te steel en in die kerk te sit werk nie vir my nie.  Wanneer ek die dag aftree sal ek oor die Here en die lewe hierna dink.’

 

Op grond van Jesus se woorde in Lk.14:26, 33 wil ek vir jou sê:  ‘Toemaar, moenie jou tyd mors nie.  As jou lewe, persoonlike gemak, jou huweliksmaat, jou kinders, familie, rykdom, werk, toekomsplanne of enigiets anders vir jou belangriker is as Jesus, moet jy Hom nie volg nie.’

 

Volgens v.11 vereis die Koning sy bruid se totale toewyding.  Hy stel nie belang in ‘n bruid wat in haar hart wens dat daar ‘n ander prins op ‘n wit perd na haar toe sal kom nie.  Hy weier om met self, geld, plesier en die afgode wat in ons harte is, te kompeteer (Jk.4:4-5).

 

As ons egter ons lewens aan Hom wy, sal Hy die volle rykdom van sy liefde aan ons openbaar.  Ons sal sy heerlike skoonheid bewonder en bevoorreg voel dat Hy ons gekies het om sy bruid te wees (v.3, 2 Ts.1:10).  Hy sal sagte woorde vir jou sê om jou te bemoedig in die swaarkry wat jy in hierdie wêreld moet deurmaak (v.3, Jes.50:4, Lk.4:22, Jh.1:14, 16-17, 7:46).

 

Hy sal veg om jou teen Satan en die wêreld se aanvalle te beskerm, en het dit eintlik reeds tot die dood toe gedoen toe Hy aan die kruis gehang het (v.4-6, Jh.12:31, 16:33, 1 Jh.3:8, 5:4).

 

Hy sal jou geestelike armoede in rykdom verander, en die lelike eendjie van jou sonde in ‘n beeldskone en weelderige bruid verander; Hy sal vir jou die waardigheid gee wat jy nie in jouself het nie; Hy sal aan jou ‘n ereplek in sy teenwoordigheid gee, sodat jy nie die lof van mense hoef te soek nie (v.10, 13-15).

 

Alles wat jy nog ooit in hierdie wêreld begeer het, kan nie met daardie dag vergelyk word nie.  Dit sal soos die lekkerste troue wees wat al ooit bygewoon het, en dit sal nie ophou nie.  Dit sal nie ‘n huwelik wees wat op die wankelrige fondasie van Hollywood se romanse gebou is, sodat dit soos húlle s’n in die skeihof eindig nie.  Dit sal eerder gebou wees op die rotsfondasie van Jesus Christus se ewige liefde, karakter, verbond en beloftes.

 

Die groot vraag is of jy daar sal wees?  Sal jy die enigste perfekte Bruidegom ontmoet en vir ewig saam met Hom in sy hemelse paleis woon?  Sal die dapper Koning op sy perd as ‘n vriend of ‘n vyand na jou toe aangery kom?

 

Sal die pyle van sy toorn jou hart penetreer en laat bars, omdat jy nie heiligheid liefgehad het en goddeloosheid gehaat het nie (v.8, 97:10)?  Sal Hy sy skerp swaard deur jou siel dryf, omdat jy vir jouself gelewe het en nie vir Hom wat die asem in jou longe, en elke ander goeie gawe vir jou gegee het nie?

 

Hoekom praat jy nie liewer vandag nog dinge met Hom uit nie?  Hy is baie gawer as wat jy dink, en sy liefde vir jou is baie groter as wat jy besef.  Dit is soos ‘n oseaan waarvan die water verdamp en in reënwolke verander.  Die wind van sy Gees waai dit na jou lewe toe, en veroorsaak dat dit in emmers oor die riviere van jou hart reën (Rm.5:5).

 

Wie kan dan keer dat hierdie riviere van liefde vir Jesus terugvloei na die oseaan van sy liefde toe waar dit begin het?  Jou liefdeslied vir Jesus is eintlik maar net ‘n eggo van die liefdeslied wat Hy eerste gesing het.  “Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het.” (1 Jh.4:19).

 

[1] Al kan ons nie elke detail op die Messias toepas nie, maak ek deurgaans van hoofletters gebruik wanneer ek van die Koning praat.  Die Psalm het immers hoofsaaklik betrekking op die Messias.

[2] Messias beteken ‘gesalfde’.

[3] James Orr, International Standard Bible Encyclopedia, inskrywings onder ‘myrrh’, ‘aloes; lignaloes’ en ‘cassia’.