Ongeloof en haar lelike dogters

Cinderella stepmother and stepsisters

Liberale teoloë word nie eintlik geken deur wat hulle glo nie, maar deur wat hulle nie glo nie.  Hulle glo nie dat Gn.1-11 geskiedenis is, dat Jona en Job bestaan het, dat die Israeliete deur die Rooi See getrek het, dat Jesus uit ‘n maagd gebore is, dat Hy wonderwerke gedoen het, dat Hy in die plek van sondaars gesterf het, dat Hy uit die graf uit opgestaan het, dat Hy die enigste Verlosser is, en dat Hy weer kom nie.  Hulle glo nie dat die Bybel die foutlose Woord van God is nie.

 

Die gevolge van hulle ongeloof kan in die morele verval Engeland en Europa gesien word.  Waar liberale teologie ‘n voet in die deur kry, is dit nie lank voordat jy ‘n geestelike begraafplaas het nie.  So was dit ook in Jes.7 toe koning Agas besluit het om nie in die Here te glo nie.

 

Die aanval (v.1-2)

Hollywood hou daarvan om partykeer films in twee of drie dele te maak.  As jy dan die derde deel kyk sonder dat jy die eerste twee gesien het, verstaan jy nie alles nie.  En so is dit ook in Jes.7:  om alles te verstaan, moet jy weet wat in deel 1 en 2 gebeur het.  Die eerste twee dele vind ons in 2 Kon.16 en 2 Kron.28.

 

Koning Agas het vir 16 jaar in Jerusalem geregeer.  Hy het afgode gedien en sy seun aan hulle geoffer.  Om hom te straf het die Here vir Peka van Israel en Resin van Sirië teen hom gestuur.  Hulle het in sy pa (Jotam) se tyd al begin om teen Jerusalem te veg (2 Kon.15:37).

 

Hulle het blykbaar hande gevat om hulleself teen die Assiriese supermag te beskerm.  Toe Juda hulle nie gehelp het nie, het hulle haar hoofstad (Jerusalem) aangeval.

 

Resin van Sirië het ‘n klomp mense van Juda gevange geneem en na die Siriese hoofstad Damaskus toe gevat.  Peka het 120 000 van Agas se dapperste soldate doodgemaak.  Hy het nog 200 000 gevange geneem en hulle Samaria toe gevat.  ‘n Profeet van die Here het hom beveel om hulle na Agas toe terug te stuur.

 

Hy het dit gedoen, maar later weer vir Resin gevra om saam met hom teen Jerusalem te veg (v.1).  Koning Agas, sy gesin en die volk het daarvan gehoor en in hulle harte gebewe soos bome wat in die wind waai (v.2).  Die Here het egter gekeer dat hulle die stad inneem (v.1, 2 Kon.16:5).

 

Ook in die Nuwe Testament kan niemand effektief téén ons wees as God vír ons is nie (Ps.18:30, Rm.8:31).  Niemand is tog sterker as Hy nie, en daarom hoef jy nie bang te wees vir dit wat mense aan jou kan doen nie (Ps.118:6-7).  Hulle kan nie méér doen as wat die Here toelaat nie.  En as Hy dit toelaat, is dit omdat Hy iets goed in gedagte het.

 

Omdat dit so is, moet jy nie soos Agas en die volk toelaat dat jou vrese jou lam lê en oneffektief maak nie (v.2).  Om bang te wees gaan buitendien nie iets aan die situasie verander nie.  Gee dit eerder in gebed en geloof vir die Here, en vra Hom om jou te help (Ps.55:23, Fil.4:6, Heb.5:7, 1 Pt.5:7).

 

Die trooswoord (v.3-9)

Ná die Tweede Wêreld Oorlog is Duitsland in vier verdeel.  Later was daar twee hoofdele:  die ooste het aan die kommunistiese Rusland behoort, terwyl die weste vry was.  Wanneer iemand dan van Duitsland gepraat het, sou jy dadelik gevra het of hy van die ooste of die weste praat.

 

So was dit ook in Israel.  Ná Salomo se dood het dit in twee geskeur.  Die noordelike ryk het aan Israel behoort; die hoofstad was Samaria.  Die suidelike ryk is Juda genoem, en het Jerusalem as hoofstad gehad.  Hierdie inligting sal jou help om nie verward te raak wanneer jy in Jes.7 lees dat Israel teen Jerusalem geveg het nie.

 

Die Here het vir Jesaja gesê om vir Agas by die einde van die boonste dam se watervoor te ontmoet (v.3).  Dit was op die groot pad waar die mense materiaal gebleik het (v.3).  Omdat die vyand oppad was, wou Agas gesorg het dat daar genoeg water is vir die dae waarin hulle Jerusalem beleër het (22:9-11, 36:2).

 

Jesaja moes sy seun Sjear Ja-sjub saamgevat het (v.3).  Die betekenis van sy naam moes vir Agas ‘n les geleer het.  Sjear Ja-sjub beteken ‘’n oorblyfsel sal terugkeer’.  Die Here sou die volk met ‘n harde slag getref het, maar hulle nie totaal uitgewis het nie – ‘n handjievol sou oorleef het (1:9).

 

Die Here het deur Jesaja vir Agas gesê om nie vreesbevange te wees nie, maar stil en rustig (v.4).  Hy moes op die Here vertrou het en nie toegelaat het dat Resin en Peka (die seun van Remalia) se vurige woede hom angstig gemaak het nie.  Hulle was soos smeulende stompe wat besig was om uit te brand (v.4, 6:13).

 

Israel (Efraim) en Sirië het bose dinge teen Jerusalem beplan (v.5).  Hulle het vir mekaar gesê:  ‘Kom ons baklei teen Juda; kom ons maak hulle bang.  As hulle ons nie teen Assirië wil help nie, sal ons Jerusalem vir onsself vat en ons eie koning – die seun van Tabeal – daarin aanstel’ (v.6).

 

Die Here het egter nie toegelaat dat hulle hulle eie koning aangestel het, en so die Messias se koms gestuit het nie (v.6, 14).  Die Here het gekeer dat hulle hulle planne uitvoer (v.7).  Sirië het ‘n menslike hoof en hoofstad gehad:  Resin en Damaskus (v.8).  Dit het ook gegeld vir Israel waar Peka die seun van Remalia die hoof was, en Samaria die hoofstad (v.9).

 

Hoe kon hierdie twee stede en hulle konings dan teen Jerusalem en die Here gestaan het?  God het die koning van Assirië gestuur om vir Resin dood te maak (2 Kon.16:9), en binne 65 jaar het Israel (Efraim) opgehou om ‘n volk te wees (v.8).  In 722 v.C. het die Assiriërs Samaria verwoes, en teen 669 het sy so met die volke ondertrou, dat sy haar nasionale identiteit verloor het (2 Kon.17).[1]

 

Agas en die volk moes die Here vertrou het om hulle te beskerm (v.9, vgl. 2 Kron.20:20).  As hulle dit nie gedoen het nie, sou die hele koningshuis, volk en land gewankel het (v.9).

 

Tensy jou geloof in die Here vas is, sal niks vas wees nie (v.9).  Jou denke en emosies, ander mense, die ekonomie, die wêreld, sielkunde, die kultuur, die weer, jou omstandighede en alles verander.  Niks is vas nie, net die Here.  Hy is ‘n Rots wat nie wankel nie.  Vertrou daarom op Hom en sy beloftes.  Jy het nie iemand anders op wie jy kan vertrou nie.  As jou geloof in die Here nie vas nie, sal niks vas wees nie (v.9, Jk.1:6, 8).

 

Vertrou op Hom om jou te beskerm.  Ja, mense kan jou aanval en die duiwel kan jou versoek.  Maar hulle kan jou nie van God se liefde skei of jou plek in die hemel wegvat nie; hulle kan nie maak dat jy jou redding verloor nie (Job 1-2, Lk.12:4, Rm.8:38-39, 2 Tm.4:17-18).

 

Die teken (v.10-17)

Om Agas van sy hulp te verseker, het die Here vir hom gesê:  “Eis vir jou ‘n teken van die HERE jou God:  sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe.” (v.11, vgl. 37:30, 38:7-8).  Die Here was letterlik bereid om hemel en aarde te versit om sy volk te help.

 

Agas het ‘n vals nederigheid gehad en geweier om vir ‘n teken te vra (v.12).  Hy het besluit dat die Here nie vertrou kan word nie, en het reeds planne gemaak om vir Assirië te vra om hom te help (2 Kron.28:16).  Assirië het hom gehelp… vir ‘n rukkie.  Later het hulle egter teen hom gedraai (v.17-25).

 

So het Agas die volk se toekoms verongeluk.  Met sy sonde het hy die Here en mense belas (v.13, 1:14, 43:24).  Omdat hy dan nie op God vertrou het nie, het die Here ‘n teken gekies om te wys dat Hy oppad was om die volk te verlos:  die maagd sou swanger geword het en ‘n seun gebaar het (v.14).  Wat beteken dit?

 

Een van my liberale dosente het gesê dat dit nie na Jesus verwys nie.  In sy gedagtes het die Hebreeuse woord vir maagd [‘almâh] eintlik net ‘jong vrou’ beteken.

 

Maar in Gn.24:43 en Eks.2:8 praat ‘almâh van ‘n ongetroude vrou wat nog nooit met ‘n man geslaap het nie (vgl. Gn.24:16).  Die woord verwys nêrens (binne of buite die Bybel) na ‘n vrou wat getroud is nie.[2]  Martin Luther het ‘n honderd gulde belowe aan die persoon wat kon bewys dat ‘almâh na ‘n getroude vrou verwys.  Nog nooit het iemand die honderd gulde kom afhaal nie.[3]

 

Jes.7:14 is in Christus vervul.  Dié maagd verwys na Maria, en Jesus is Immanuel, God met ons (8:8, 10, Mt.1:18, 23).  Hy alleen is uit ‘n maagd gebore.  Hy is die Verlosser en teken wat uit die hemel na die aarde toe neergedaal het om sy uitverkore volk van haar vyande te verlos – nie net van Peka en Resin nie, maar ook van Satan, sonde en God se oordeel (v.14, 11, Mt.16:1).

 

Maar wat beteken v.15-16 dan?  Jesus is mos nie 65 jaar later gebore nie (v.8)?  Net soos Ps.22 gedeeltelik in Dawid se lewe vervul is en volkome in Jesus s’n, is v.14-16 gedeeltelik in Jesaja vervul en volkome in Christus.  Die maagd en Immanuel in v.14 is glad nie in Jesaja se seun vervul nie, maar net in Jesus (v.3, 8:3-4).

 

A.g.v. Agas se ongeloof het die land van melk en heuning in puin gelê.  Gevolglik het die gespeende kind nie ander kos gehad as dikmelk en heuning nie; hy het arm groot geword (v.15, 22-25).  Nog voordat hy ‘pa’ of ‘ma’ kon sê, en voor hy tussen goed en kwaad kon onderskei, het die koning van Assirië teen Peka en Resin, Israel en Sirië, Samaria en Damaskus geveg en hulle oorwin (v.16, 8, 8:4).

 

Maar as God klaar vir Israel en Sirië vernietig het, sou Hy ook teen Jerusalem geveg het (v.17).  Agas het die koning van Assirië gehuur om hom te help, maar nou sou hy teen hom en Jerusalem gedraai het (v.17, 2 Kron.28:20).  Onder Babilon sou die verwoesting totaal gewees het, en nie gedeeltelik soos toe Israel in twee geskeur het nie (v.17).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas?  Om sy eer te beskerm sal die Here uiteindelik sy beloftes vervul (v.14).  Jou plig is om seker te maak dat jy die voordele hiervan geniet.  Dit kan net gebeur as jy in Jesus glo en Hom liefhet (Rm.8:28, 2 Kor.1:20).

 

As jy ongehoorsaam en ongelowig is soos Agas, sal die Here sy beloftes uitvoer, maar sal dit jou benadeel.  Jy sal die goeie dinge wat joune kon gewees het verbeur (v.10-12, 14).  Jou ongeloof sal ook jou kinders, kleinkinders, en baie ander mense benadeel (v.17-25).

 

Moet dan nie God se beloftes ignoreer en soos Agas dink jy kan jouself uithelp nie.  Die Here wil hê jy moet Hom vertrou en op Hom wag.  Hy wil nie hê jy moet die klippe in brood verander, of vir jouself ‘n lig aansteek as jy nie kan sien wat Hy doen nie (50:10-11, Mt.4:3).

 

As jy net ‘n bietjie vasbyt sal die Here jou uithelp (Mt.4:11).  Moet dan nie op oneerlike maniere geld kry, met ‘n ongelowige trou, of op ander maniere die perske ryp druk, omdat jy nou ‘lank genoeg vir die Here gewag het’ nie.

 

Die inval (v.18-25)

Die Engelse spreekwoord sê:  ‘A picture is worth a thousand words.’  Die vier beelde in v.18-25 bevestig dit.  Elke beeld begin met die frase:  ‘In dié dag’.

 

Vlieë en bye

Een kommentator skryf:  ‘The flooding of the Nile brought…swarms of flies… The hill districts of Assyria were well known for their bees.’[4]

 

Dit help ons om v.18 te verstaan.  God sou Egipte en Assirië teen Jerusalem gebring het.  Hulle sou so gevaarlik gewees het soos Egipte se steekvlieë en Assirië se heuningbye wanneer hulle op ‘n mens toesak.  Hulle sou so gou gekom het soos ‘n opgeleide hond wanneer sy baas vir hom fluit (v.18, 5:26).  Nie eers die plekke wat vir ‘n 4 x 4 ontoeganklik is, sou God se ‘vlieë en bye’ gekeer het nie (v.19, 2:19, Jer.16:16).

 

‘n Skeermes

Agas het gedink dat hý die koning van Assirië gehuur het (2 Kon.16:17-18), maar eintlik het die Here hierdie gehuurde skeermes van oorkant die Eufraat af teen Jerusalem gebring (v.20).  Hy het die Assiriërs soos ‘n skeermes gebruik om Jerusalem kaal te skeer en te verneder:  die kop (Job 1:20, Esg.5:1), die voete (1 Sm.24:4) en die baard (2 Sm.10:4-5).

 

‘n Koei en twee skape

A.g.v. die verwoesting sou mense net ‘n koei en twee skape oorgehad het (v.21).  Die land van wingerde het in weiding verander (v.25), wat daartoe gelei het dat die koei baie melk gegee het (v.22).  Dag na dag sou die volk melk en heuning geëet het, omdat daar niks anders was nie (v.22-23).

 

Dorings en distels

‘n Duisend wingerde wat ‘n duisend silwer munstukke werd was, sou met dorings en distels oortrek gewees het (v.23).  Dit was ‘n prentjie van die Here wat sy volk vervloek het (5:6, Gn.3:18).  Die dorings sou so erg gewees het, dat ‘n mens met ‘n pyl en boog daar gaan jag het (Gn.27:3).  Jag en nie landbou nie, sou die manier gewees het om te oorleef.

 

Die heuwels waar hulle altyd geploeg en gespit het, sou onbewoonbaar gewees het (v.25).  Die mense sou bang gewees het vir die wilde diere wat in die doringbosse wegkruip (v.25).  Die skape en beeste sou daar gewei het (v.25, 5:5).

 

Blykbaar is die Here baie ernstig oor ongeloof.  Dit is ‘n klap in sy gesig wat sê dat Hy nie vertrou kan word nie.  Dit is ook die moeder van elke ander sonde (Jh.16:9).  Mense word dronk, gebruik dwelms, slaap rond, jaag rykdom na, eet te veel, omdat hulle nie glo die Here kan hulle gelukkig maak nie.

 

Hulle skinder, murmureer, vertel leuens, is hoogmoedig, luister nie vir hulle ouers nie en besoek palmlesers, omdat hulle nie glo dat Hy hulle daarvoor hel toe sal stuur nie.  Hulle mag dalk dat hulle in die oordeelsdag glo, maar hulle leef nie so nie.

 

Mense weier om ander te vergewe, omdat hulle nie glo die Here is ‘n regverdige, goeie en wyse Regter nie.  Hulle raak angstig, probeer om hulleself uit te help, en bid nie, omdat hulle nie glo Hy is almagtig en gewillig om te help nie.  Hulle leef onheilig, omdat hulle nie glo Hy is heilig nie.  Hulle sondig in die geheim, omdat hulle nie glo dat Hy alles sien nie.

 

Maar die dag sal kom wat die Leeu van Juda vir hulle sal brul soos wat Aslan in The Chronicles of Narnia vir die ongelowige dwergie gebrul het.  Dan sal hulle nie meer kan ontken dat Hy en sy beloftes waar is nie.  Hulle ongeloof sal maak dat God se toorn soos ‘n swerm bye op hulle toesak in die hel.  Is dit dan nie beter om jou ongeloof te bely en in Jesus te glo nie?

 

[1] Derek Kidner in D. Guthrie & J.A. Motyer (Ed.), New Bible Commentary: Third Edition, p.569

[2] Alec Motyer, The Prophecy of Isaiah, p.85

[3] E.J. Young, The New International Commentary on the Old Testament:  The Book of Isaiah – vol.1, p.287 n.35

[4] Herbert in Motyer, Ibid., p.89