Die armste mense op aarde

Hugging Money

In 1896 het Lord Selbourne die volgende oor die ou Transvaal geskryf:  ‘It is the richest spot on earth.’[1]  Dít en die diamant velde is wat Cecil John Rhodes jare tevore gesoek het, en uiteindelik ook gekry het.  Rhodes se eie woorde was:

 

‘Money is power, and what can one accomplish without power.  That is why I must have money.’[2]

 

Geld en rykdom is ook die rede hoekom Engeland die Anglo-Boere Oorlog begin het:  hulle wou die Transvaal en sy goudmyne vir hulleself gehad het.

 

Maar met al hierdie rykdom was die Britse Regering, Rhodes, Barney Barnato en ander magnate so arm soos kerkmuise.  Soos Jerusalem in Op.18 en die res van die wêreld, was hulle die armste mense op aarde.  Jy sal later verstaan wat ek bedoel.

 

Die vonnis (v.1-8)

Joost van der Westhuizen was een van die beste rugbyspelers wat ons land nóg gehad het.  Sy val was ‘n tragedie; hy het gegaan van hero tot zero.  So was Babilon in Op.18, en het sy binne ‘n kort tydjie gegaan van ‘n koningin tot ‘n weduwee.

 

Johannes het ‘n Engel uit die hemel sien neerdaal (v.1).  Net soos Jesus in Mt.28:18 het die Engel groot gesag gehad, en soos die Here in Esg.43:2 het sy heerlikheid die aarde of land [Gk. ] verlig (v.1).  Dit wys dan vir ons dat die Engel in v.1 dieselfde is as Eks.3:2 se Engel van die Here, en dat Hy m.a.w. die Here self is (vgl. Eks.3:6, 14-15, Op.10).[3]

 

Hy het met ‘n magtige stem uitgeroep dat Babilon die grote – dit is Jerusalem[4]– geval het (v.2, 1:15, 10:3, 14:8).  En hoekom het sy geval?  Sy was veronderstel om ‘n woning vir die Here te wees, maar het die woning van demone en allerhande onrein geeste geword (v.2, hfst.9, Ps.76:3).  Omdat Israel haar nie bekeer het nie, het Jesus gewaarsku dat die bose geslag van sy tyd vol van demone sou wees (Mt.12:43-45).  Sy woorde is in v.2 vervul.

 

Jerusalem se rykdom het die land se handelaars versoek om geldgierig te wees (v.3).  Sy het die nasies en die land se konings dronk gemaak met die wyn van haar geestelike egbreuk (v.3, 17:2, Esg.16, 23).  Hierdie dinge het haar onrein gemaak, en daarom sou onrein voëls en diere aan die stad se lyke kom aas het (v.2, vgl. Lv.11, Jes.13:20-21, 34:11, 14, Jer.50:39, 51:37, kontr. Op.21:27).

 

God het uit die hemel vir sy volk (die kerk volgens 1 Pt.2:9) gesê om uit Jerusalem uit te vlug; as hulle in haar sonde gedeel het, sou die Here hulle saam met haar geoordeel het (v.4, Gn.19:12-13, Jes.48:20, 52:11, Jer.50:8, 51:6, 45, Lk.17:31-32, 21:20-21, Hd.2:40, 2 Kor.6:17).  Hulle het die stad verlaat en Pella toe gevlug.[5]  Voortaan moes hulle van die aardse Jerusalem vergeet het en op die hemelse een gefokus het (Heb.13:12-14).

 

Soos die toring van Babel, Sodom, Babilon en Nineve, het Jerusalem se sonde opgehoop tot by die hemel (v.5, 11:8, Gn.11:4, 18:20-21, Esr.9:6, Jer.51:9, Jon.1:2, 1 Ts.2:15-16).  Anders as onder die nuwe verbond, het die Here haar sondes – die moord op sy kinders (v.20, 24, 16:19, 17:6, 19:2) – onthou en besluit om haar te oordeel (v.5, kontr. Heb.10:17).

 

Hy het vir die Engel gesê om aan Jerusalem te doen wat sy aan ander gedoen het, ‘n dubbele dosis vir al haar dade (v.6, 16:6, Eks.21:23-25, Ps.137:8, Jer.16:18, 50:15, 29, 51:24, 49).  Soos Babilon en Tirus het sy in haarself geglo, was sy hoogmoedig oor haar rykdom, en het sy gedink dat sy ‘n koningin is (v.7, Jes.47:7-8, Esg.28:2-7).

 

Hiervoor sou die Here haar in een dag met die plae van hongersnood en die dood gepynig en bedroef het (v.7-8, Jes.47:9).  Die prostituut sou met vuur verbrand word (v.8, 17:16, Lv.21:9, Jes.47:14).  Dit het gebeur toe die Romeine haar in 70 n.C. verbrand het.  So het die magtige God haar geoordeel (v.8, Jer.50:34).

 

Die verwoesting (v.9-20)

Waaroor jy treur en waaroor jy bly is, wys iets van jou karakter.  Iemand wat bv. gejuig het oor 9-11, wys iets van hulle karakter.  Die persoon wat vir ‘n week lank depressief is wanneer sy span verloor, wys daardeur wat vir hom belangrik is.  So was dit ook t.o.v. Babilon in v.9-20.

 

[A] DIE AARDE

Konings

Die konings van die land [Gk. ] het hulle geestelike egbreuk in Jerusalem gepleeg (v.9).  Maar nou het haar rook soos Sodom s’n in die lug opgestyg (v.9, 11:8, Gn.19:28).  Toe hulle dit sien het hulle op ‘n afstand gestaan en ween, omdat Jerusalem hulle nie meer kon ryk maak nie (v.9-10).  Wat eeue gevat het om op te bou, het binne ‘n paar oomblikke (‘een uur’) soos die Titanic gesink (v.10).

 

Handelaars

Die land [Gk. ] se handelaars het ook getreur, omdat hulle nie meer ‘n goeie mark gehad het vir hulle besigheid nie (v.11).  Volgens Alfred Edersheim het Jerusalem meer as 118 produkte van die buiteland af ingevoer.[6]  Waar was daar ‘n ander dorp in Israel wat die koopkrag van Jerusalem gehad het?

 

Wie sou nóú die handelaars se juwele, luukse materiaal, duur en geurige hout, waardevolle voorwerpe, speserye, parfume en olies, kos, vee, vervoermiddels en slawe gekoop het (v.11-13, Esg.27:7-25)?  Dit is tragies dat slawe laaste op die lys is:  enigiets anders was belangriker as hulle (Esg.27:13)!  Volgens v.13 het Jerusalem ook slawe van mense se siele gemaak (Mt.23:15, Gal.4:25).

 

Soos Adam en Eva, sou Jerusalem nie die Here se goeie vrugte en rykdom geniet het nie (v.14, Gn.3:22-24, Mt.21:43).  Jerusalem se verlies was ook die handelaars s’n:  hulle kanse op rykdom was daarmee heen.  Gevolglik het hulle soos die konings in v.9-10a, in vrees op ‘n afstand bly staan en hardop gehuil (v.15).  ‘Die groot stad, die prostituut met haar mooi juwele en klere is ‘n oomblik verwoes (v.16, 17:4).[7]

 

Seevaarders

Die skeepskapteine, matrose en almal wat op die see vaar, het van ver af gesien hoe die groot stad se rook opstyg (v.17-18, Esg.27:28-34).  ‘Wie was soos sy; wie het so baie rykdom van die binneland af na die kus toe vervoer (v.18-19)?’ het hulle gekerm.  Volgens die antieke rougebruik het hulle stof op hulle koppe gegooi (v.19, Jos.7:6, Job 2:12, Klg.2:10, Esg.27:30).  Haar skielike verwoesting het hulle diep geskok (v.19).

 

[B] DIE HEMEL

Alhoewel die konings, handelare en seevaarders oor haar getreur het, het die hemel se heiliges, apostels en profete oor haar gejuig (v.20, 19:1-3, Eks.15, Dt.32:43, Ps.58:11, Sp.11:10, Jer.51:48).  Die Here het haar vergeld volgens wat sy aan hulle gedoen het (v.20, Lk.11:49-50).

 

Die toekoms (v.21-24)

‘n Meulsteen het uit twee dele bestaan.  Onder was ‘n reghoekige plat klip, wat omtrent 50 cm lank was.  Die klip se oppervlak was effens uitgehol.  Die koring is hierin gegooi en fyn gemaal met ‘n ander klip wat gemaklik in ‘n mens se hand gepas het.

 

Maar daar was nog ‘n soort meulsteen.  Dit het gelyk soos twee klip wiele wat bo-op mekaar lê.  Die onderste klip was ‘n meter in deursnee; dit het vas op die grond gelê.  Die boonste een het in die rondte gedraai, en het ‘n gat in die middel gehad.  Iemand het koring deur die gat gegooi, sodat dit tussen die twee klippe beland het.  Dit is fyngemaal deur ‘n os of donkie wat in die rondte geloop het om die boonste klip te draai.  ‘n Doek wat op die grond gelê het, het die fyngemaalde koring opgevang.

 

Die groot meulsteen in v.21 verwys na die onderste klip.  Johannes het gesien hoe ‘n ander magtige engel so ‘n klip in die see gegooi het.  ‘So sal die groot stad Babilon met geweld neergegooi word, sodat niemand dit weer kan kry nie,’ het hy gesê (v.21).  Jerusalem het God se kinders laat struikel, en het daarom soos Egipte en Babilon gesink (v.21, Eks.15:5, Neh.9:11, Jer.51:60-64, Mt.18:6).

 

Omdat Jerusalem nie meer inwoners gehad het nie, sou daar nie meer vrolike musiek gewees het nie; geen kunswerke sou meer verkoop word nie; die geluid van die meulsteen wat koring fynmaal sou nie meer gehoor word nie; lampe sou nie meer geskyn het nie; die stem van ‘n gelukkige bruid en sy bruidegom sou nie meer gehoor word nie (v.22-23, Jes.24:8, Jer.7:34, 16:9, Esg.26:13).

 

Wat in 70 n.C. in Jerusalem gebeur het, het ook in 586 v.C. in haar gebeur.  In Jer.25:10 lees ons:  “En Ek sal uit hulle laat verdwyn die stem van vreugde en die stem van vrolikheid, die stem van die bruidegom en die stem van die bruid, die geluid van die handmeul en die lig van die lamp.”

 

In 586 v.C. was daar nog hoop dat Jerusalem en haar tempel herstel sou word (Jer.25:11-12).  Maar in 70 n.C. was daar nie hoop nie; die verwoesting was totaal.  Jerusalem sou herbou word, maar die tempel nie.  Sy sou ook nie meer die Here se unieke stad gewees het nie.

 

Sy sou soos Tirus gewees het.  In Esg.26:14, 21, 27:36, 28:19 het die profeet van Tirus se totale verwoesting gepraat.  ‘Sy sal nie weer gevind word nie,’ het hy gesê.  Alhoewel Tirus ‘n paar keer in die geskiedenis geoordeel is, bestaan sy vandag nog.  Esegiël se punt is dan nie dat Tirus nie herbou sou word nie, maar dat die ou stad nooit weer in haar oorspronklike heerlikheid sou bestaan het nie.

 

Só moet ons ook die ‘nooit weer’ stellings in v.21-23 verstaan.  Soos Tirus, is Jerusalem herbou.  Maar omdat die tempel verwoes is, sou sy nie weer haar Ou Testamentiese heerlikheid beleef het nie.  Die vreugde en voorspoed van ‘n stad wat deur God uitgekies is, sou nie meer in haar gevind word nie (v.21-23).  Daardie eer het nie aan die aardse Jerusalem behoort nie, maar aan die hemelse een (21:2, 9, Gal.4:25-26).

 

Hoekom het die Here haar verwoes?

 

[1] Volgens v.23 was haar handelaars die rykste in die land [Gk. ].  Om ryk te word, het hulle peperduur offers in die tempel verkoop.  So het hulle die armes onderdruk en die tempel in ‘n nes van rowers verander (Mt.21:12-13).

 

[2] Soos Nineve en Babilon, het Jerusalem die nasies deur haar towery verlei (v.23, Nah.3:4, Jes.47:9, 12, 2:6, 8:19, Dt.18:10-14, 2 Kron.33:6).

 

[3] Sy het die profete en die heiliges vermoor, en het agter talle ander moorde in die land [Gk. ] gesit (v.24, Lk.11:50-51, 13:33-34, Hd.9:1-2, vgl. Jer.51:49).

 

Wat leer hierdie hoofstuk vir ons?  Johannes het Jerusalem met die heidense stede van die Ou Testament vergelyk:  Babilon, Tirus, Nineve en Sodom.  Israel het soos die wêreld geword, en as ons nie versigtig is nie kan dit met ons ook gebeur.  Daarom waarsku die Bybel ons:

 

  • “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Rm.12:2).
  • “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” (1 Jh.2:15-16).

 

Wêreldsgesindheid is wye konsep, maar soos Johannes in Op.18 wil ek op een aspek daarvan fokus, nl. materialisme of geldgierigheid.  As jy hierdie hoofstuk aandagtig lees, sal jy sien dat geldgierigheid gedurig daarin voorkom (v.3, 7, 9, 11-17, 19, 23).

 

Soos Jerusalem wil ons samelewing jou versoek om meer, nuuter en beter te hê.  Die advertensie bedryf sal jou oortuig dat jy hulle produk nodig het.  Die mense wat dit kán bekostig, sal nie vir lank daarmee tevrede wees voordat hulle iets anders soek nie.  En as jy dit nié kan bekostig nie, sal iemand jou help om skuld te maak wat jy nie kan betaal nie.  Gevolglik is daar mense wat DSTV en ander nuwe goed het, wat sukkel om hulle kinders se skoolgeld en die meenthuis se huur te betaal.

 

Ons samelewing roem in luuksheid en rykdom (v.7).  Soos die ryk mense in Ps.49:19, weet ons nie hoe om voorspoed en rykdom van mekaar te onderskei nie.  Wanneer iemand finansieel wel af is, sê ons dat dit met hom goed gaan, al is sy verhouding met die Here ‘n flop.  Solank jy geld maak, gee die samelewing nie om of jy ‘n dronk word, seksueel losbandig is, en of jou huwelik uitmekaar val nie – darem is jy besig om die korporatiewe leer te klim en ‘goed’ te doen.

 

Die probleem het so erg geraak dat sommige kerke hierdie voorspoed onder die Christelike vaandel as die ‘evangelie’ verkondig:  ‘God wil hê jy moet ryk wees, en as jy arm is is dit omdat jy nie genoeg geloof het nie!’  Soos die handelaars in die tempel, is hulle besig om die armes se geld te steel.

 

Dit pla hulle nie dat hulle dit doen nie.  Hulle lag al die pad bank toe oor die arme weduwee wat haar man se pensioengeld vir ‘apostel’ so-en-so gegee het.  ‘Hy het gesê dat die Here my tienvoudig sal seën,’ is wat sy vir haar kinders sê.  Sy besef nie dat sy en die res van die mense wat in die strik getrap het, besig is om die ‘gesalfde van die Here’ se S-Klas Mercedes af te betaal nie.

 

Wanneer ek hierdie dinge sê, moet jy asseblief nie die fout maak om te dink dat dit ‘n sonde is om ryk te wees nie.  Die probleem is met die mense wat geld aanbid en in hulle families, huwelike en maatskappy oor geld baklei (Mt.6:24).  Geld is hulle ‘n afgod:  dit beheer hulle gedagtes, werk, toekomsplanne, lewens.

 

En aan die een kant kan ‘n mens dit verstaan, omdat hulle nog nooit van God se rykdom in Jesus Christus gehoor het nie.  Hulle het nog nooit die ware skat van sy verlossing ontvang nie.  Daarom soek hulle vervulling en is hulle tevrede met klein skatte soos ‘n Boerpot van R85 miljoen en ‘n huis in Clifton.

 

Hulle dink nie daaraan dat die wêreld met al sy rykdom sal vergaan, en dat die mense wat die kosbare pêrel van Christus en sy Koninkryk van die hand gewys het, vir ewig gaan arm wees in die hel nie.  Hulle is salig onbewus van die feit dat hulle soos skape sal doodgaan, en dat hulle hulle skatte vir iemand anders gaan moet los (Ps.49).

 

Volgens Sp.23:4-5 sal dit soos ‘n arend van hulle af wegvlieg.  Diewe sal dit steel; roes en motte sal dit verniel (Mt.6:19).  Hulle besef nie dat hulle rykdom so onstabiel soos Zimbabwe se dollar is nie (1 Tm.6:17).  Op die einde gaan God die wêreld en alles daarin verbrand (2 Pt.3:10).  En hoe gaan hierdie mense se rykdom hulle dán help?  “Rykdom baat nie wanneer die Here straf nie” (Sp.11:4, NAV).

 

Hoekom doen jy nie eerder die wil van God nie?  “En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” (1 Jh.2:17).  Soek die ware rykdom van God se ewige verlossing in Jesus Christus.  ‘n Ryk man wat nie die Here ken nie, is armer as die armste Christen in die Filippyne.  Maar dié wat op die lewende Christus en sy kruisdood vertrou om hulle te red, is die rykste mense op aarde.

 

Vir hulle sal die dood nie ‘n verlies wees soos wat dit vir Jerusalem en John D. Rockefeller was nie.  Toe John D. dood is, het iemand vir sy boekhouer gevra:  ‘Hoeveel geld het hy agterlaat?’  ‘Alles,’ het die boekhouer se antwoord.[8]

 

As Jesus die skat van jou lewe is, sal die dood vir jou ‘n wins wees (Fil.1:21).  Jy sal niks wat regtig van waarde is agterlaat nie, maar heengaan om die wêreld se mees waardevolle skat in besit te neem.

 

[1] Martin Meredith, Diamonds, Gold and War, p.366

[2] Ibid., p.163

[3] Vir ‘n verduideliking van die Engel in Op.10, kan jy my preek hieroor opsoek.  Die preek se titel is:  Die Boek wat die wêreld verander het.

[4] Ek het in Op.17 gewys dat Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.  Sien my preek, Die Lam, die Prostituut en die Antichris.

[5] Flavius Josephus, The Wars of the Jews, Book IV, ch.9:1-2; Eusebius of Caesarea, Ecclesiastical History, Book III, ch.5

[6] Alfred Edersheim, The Life and Times of Jesus the Messiah: vol.1, MacDonald Publishing Co., McLean: VA, n.d., p.116 aangehaal in David Chilton, The Days of Vengeance, p.182

[7] Vir meer oor die betekenis van die stad se klere en juwele kan jy my preek oor Op.17 lees.  Sien voetnota 4 hierbo.

[8] Randy Alcorn, The Treasure Principle, pp.17-18