Ons land en voorland

Riot

Vrydag se Beeld-opskrif het gesê het dat 2019 ‘n herhaling van 1994 gaan wees.  Maar die politieke doemprofete se voorspellings is net so onakkuraat soos die weerprofete s’n.  As jy ‘n akkurate voorspelling oor die mens se toekoms soek, moet jy na die Bybel toe gaan en hoofstukke soos Jes.3-4 bestudeer.

 

Ons land (hfst.3)

Volgens die Bybel is dit sonde om ‘n palmleser of sterrewiggelaar te besoek, omdat jy die toekoms wil ken.  Dit is egter nie verkeerd as jy die Bybel lees om te sien wat die toekoms inhou nie.  In Jes.3 kry ons ‘n goeie idee van wat op ons land wag indien ons ons nie bekeer nie.

 

A.g.v. Juda en Jerusalem se sonde (3:1), sou die Here haar nie meer met brood en water – die noodsaaklike – ondersteun het nie (3:1, Lv.26:26).  Hy sou alles van haar af weggevat het (3:2-3, 2 Kon.24:14):

 

  • Militêre beskutting:  helde, soldate en offisiere.
  • Nasionale en plaaslike leierskap:  regters, profete, ouderlinge, raadgewers en mense van aansien.
  • Goeie vakmanskap en betroubare dienslewering:  ambagsmanne.
  • Waarsêers en towenaars:  hoe het dit gebeur dat húlle leiers geword het?

 

As die Here Jerusalem se leiers na Babilon toe weggevoer het, sou Hy onervare kinders en jongmense oor hulle aangestel het (3:4, 1-3, Pd.10:16, Dn.2:21).  A.g.v. hulle onbekwame leierskap sou die mense mekaar onderdruk het (3:5, Mg.7:3-6).  Jong mense sou geen respek gehad het vir ou mense nie, en die uitvaagsels van die samelewing sou dié wat eerbaar was verag het (3:5, Lv.19:32).

 

Mense sou in bouvallige huise gebly het en nie kos of klere gehad het nie (3:6-7).  Hulle sou vir iemand met ‘n mooi kleed gevra het om oor die vervalle stad te heers (3:6).  Hy sou egter nie bereid gewees het om die volk se wonde te verbind nie (3:7, 1:6).  ‘Hoe moet ek die volk help as ek nie eers myself kan help nie?’ sal hy sê (3:7).

 

Waar het dinge skeefgeloop; hoekom het die land tot ‘n val gekom?  Dit is omdat hulle in woord en daad teen die Here gesondig het (3:8, Ps.73:9).  Hulle was nie eers skaam daaroor nie; hulle het dit nie eers probeer wegsteek nie, maar het die heerlike God verag, uitgedaag en getart (3:8-9, 65:3, kontr. Gn.3:7-10).  Soos Sodom het hulle hulle sonde openlik gevier en aangekondig (3:9).  Hiervoor sou die Here se wee of straf oor hulle gekom het (3:9).  Hulle eie boosheid het die straf oor hulle gebring (3:9, Rm.6:23).

 

Die regverdige sou die goeie vrugte van sy gehoorsame dade geniet het (3:10, Dt.28:1-14); die goddelose sou teëspoed en wee ervaar het (3:11, Dt.28:15-68).  Wat hy aan ander gedoen het, sou teruggekom het na hom toe (3:11).

 

Jerusalem was ‘n tragedie.  Kinders wat nog onder gesag moes wees het haar onderdruk, en vroue wat deur hulle mans gelei moes word het oor die stad geheers (3:12, 4, 1 Kon.21, Am.4:1).  Jerusalem en Juda het die man-vrou-kind verhouding op sy kop gekeer:  vroue en kinders het as’t ware die aanwysings wat langs die pad was ingesluk en die volk op ‘n dwaalspoor gelei (3:12).

 

As Regter was die Here gereed om Israel en die nasies te vonnis, omdat hulle op die verkeerde pad was (3:12-13).  Die ouderlinge en prinse se passiewe leierskap het dit veroorsaak, en daarom sou die Here hulle geoordeel het (3:14).  Teenstrydig met die wet het hulle die armes verdruk en niks vir hulle oorgelos nie (3:14-15, Lv.19:10).  Hulle het ook die geestelike wingerd van God afgemaai, vertrap en verbrysel  (3:15, 5:1-7, Ps.14:4).

 

En omdat Jerusalem se leiers so was, het haar dogters haar hoogmoedige voorbeeld nagevolg (3:16).  Om die aandag op hulleself te vestig en mans te verlei, het die vroue hulle nekke uitgestrek, hulle oë geflikker, getrippel, en die silwer ringe om hulle enkels laat klingel (3:16).

 

A.g.v. hulle hoogmoed sou die Here hulle koppe skurf laat word het, hulle skaamdele ontbloot het, en hulle versiesels weggevat het (3:17-23, 20:2-4, kontr. 3:9):  hulle

enkel- en armbande, die sonnetjie en maantjie oorbelle en hangertjies wat hulle vir die afgode gedra het (Gn.35:4, Eks.32:2-4, 33:5-6, Rgt.8:21, 26), kopbande, serpe, sluiers, linnegordels, mantels, feesklere, towermiddels, parfuumbotteltjies, seëlringe, neusringe (Gn.24:47, Esg.16:12), handsakkies, spieëltjies, mooi klere, tulbande en meer.

 

Hulle sou soos muf geruik het, en nie meer soos parfuum nie; die growwe tou van slawe sou die linne gordel om hulle heupe vervang het (3:24).  In plaas van mooi klere en lang hare, sou hulle rouklere en kaal koppe gehad het soos ‘n aasvoël (3:24, Klg.2:10, Mg.1:16).  Hulle goed versorgde velle sou gebrandmerk word soos ‘n slaaf s’n (Lv.19:28).

 

Wat die mans betref sou die dapperste onder hulle met die swaard getref word (3:25).  In die stadspoorte sou die leiers op die grond gesit en ween het (3:26, Job 2:13, Jer.14:2).  Dit is asof God die stad omgekeer en uitgeskud het (3:26).

 

Ses uit elke sewe vroue het ‘n weduwee geword (4:1, vgl. 13:12).  Hulle was so desperaat dat sewe van hulle een man gegryp het en vir hom gevra het om met hulle te trou (4:1).  ‘Ons sal vir onsself kos en klere voorsien,’ het hulle gesê.  ‘Trou net asb. met ons dat ons ‘n goeie reputasie kan hê’ (4:1).  Vir hulle was dit ‘n skande om nie getroud te wees nie, veral omdat hulle in die verlede so maklik die mans se aandag kon trek (4:1, 3:16, 18-23).

 

Suid-Afrika is goed oppad om soos Jerusalem geoordeel te word.  Ons doen immers dieselfde sondes as hulle.  Soos in Jerusalem is kinders en vroue in effek besig om die land te regeer (3:4-5, 12).

 

Jongmense se begeertes bepaal die modes, populêre musiekstyle, films, tegnologie, die sosiale media en vermaak.  Ons het vir kinders regte gegee wat verhoed dat hulle gedissiplineer kan word.  Studente bepaal hulle eie studiefooie (indien daar enigsins fooie is).  Ons gee toe aan hulle ‘demands’.  As ons dit nié doen nie, sal hulle kampusse afbrand en standbeelde vernietig.

 

Feminisme het veroorsaak dat mans nie hulle gesinne kan versorg nie, omdat die wet vereis dat vroue eerste die werk moet kry (3:12).  Ook in films is die pa gewoonlik ‘n geskeide idioot wat nie sy kind se hart kan wen nie, en is die ma ‘n regdenkende en suksesvolle besigheidsvrou.

 

Talle kerke het toegelaat dat die kind-vrou-man orde van die samelewing af deursyfer, sodat ons ons musiek- en preekstyle volgens die jongemense se voorkeure ingerig het.  Ons het toegelaat dat húlle besluit in watse die rigting die kerk moet beweeg.  Ons het 1 Tm.2:11-14 in die lig van ons kultuur geïnterpreteer en gesê dat vroue op die ‘kerkraad’ moet wees.

 

Omdat ons dan God se patroon in die huis, kerk en samelewing geïgnoreer het, het die land in wanorde verval (3:5).  Jongmense het geen respek vir gesag nie, en misdadigers is nie meer bang vir die polisie nie (3:5).  Hollywood en die gay gemeenskap het ons aangemoedig om nie skaam te wees nie, maar om ons sonde te paradeer (3:9).

 

Ons land se leiers onderdruk die armes (3:14-15).  Volgens die regering se sosialistiese en kommunistiese denke moet almal gelyk wees, maar soos in George Orwell se Animal Farm is die regering meer gelyk as die res:  die rykes word ryker en die armes bly arm.

 

Verder help die gratis RDP behuising en die sg. ‘government grants’ nie juis nie, omdat dit mense afhanklik maak van die regering en vir hulle leer om lui te wees.  Sonder dat die land se leiers dit besef (of dalk besef hulle dit), is hulle besig om te maak dat mense nie uit hulle armoede kan ontsnap nie.

 

Ons land het ook ‘n obsessie met die uiterlike; ‘n hoogmoed wat maak dat ons die aandag op ons liggame vestig (3:16-23):  kort kortbroeke, stywe gymklere, oop swemklere, half naakte vroue wat hamburgers, parfuum, horlosies, sonbrille, karre, juwele, en byna enigiets onder die son adverteer.  Ons dogters het model-tipe liggame, maar hulle weet nie hoe om ‘karakter’ te spel nie (1 Tm.2:9-10, 1 Pt.3:3-4, Sp.31:30).

 

Ek sou voorstel dat ons nie net kwaliteit tyd met ons kinders spandeer nie, maar kwantiteit tyd.  Hoe gaan ons hulle beïnvloed as pa en ma vir 10 ure van die dag by die werk is, as ons nie tyd met hulle spandeer nie, as ons nie daar is om vir hulle die Bybel te leer, met hulle te speel, hulle lief te hê, na hulle te luister, en hulle te dissiplineer nie?

 

Ons voorland (hfst.4)

In Kenia se droë seisoen is die veldbrande en vulkaniese aktiwiteit so erg, dat selfs die grond swart is.  Maar as die reën kom verander die Serengeti vlakte in ‘n sebra en wildebees paradys:  uit die swart grond groei sappige groen gras met ‘n maksimum voedingswaarde.

 

So was dit ook op ‘n geestelike vlak in Jerusalem.  Toe die Here haar geoordeel het, was die dogters van Sion so onaantreklik soos gras wat gebrand het (3:16-24).  Maar uit die swartgebrande grond sou die groen Spruit van die Messias en sy heerlike skoonheid gekom het (4:2, 11:1, Jer.23:5-6, 33:15, Sg.3:8, 6:12).  Anders as die volk in 5:1-7, sou Hy goeie vrugte gedra het (4:2, 27:6, Jh.15:1-8).  Dié wat God se oordeel oorleef het sou nie in hulleself geroem het nie, maar in Hom (4:2, 3:5, 16-23, 2:11-22, 1 Kor.1:31).

 

Dis tog Hý wat besluit het om hulle vir Homself af te sonder (4:3).  Nog voordat Hy die wêreld gemaak het, het Hy hulle gekies om heilig te wees; Hy het hulle name in sy Boek geskryf, sodat hulle in die Nuwe Jerusalem kon ingaan (4:3, Ps.87:5-6, Lk.10:20, Rm.9:23, Gal.4:26, Ef.1:4, Fil.3:20, 4:3, Heb.12:23, Op.21:27, 13:8).

 

Maar om afgesonder te wees vir die hemelse Jerusalem, moes die vuur van God se Gees eers die dros van Jerusalem se sonde weggebrand het (4:4, 3:16-23, 1:15, 18, 25, 33:14, Esg.36:25, Mal.3:2-3, Mt.3:11-12).  Dit het gebeur toe Jesus aan die kruis gesterf het.  Dit gebeur ook wanneer iemand tot bekering kom.  En laastens sal dit gebeur wanneer God op die laaste dag mense met hulle sonde uit sy heilige teenwoordig uit verwyder.

 

As Hy dit klaar gedoen het, sal Hy vir ewig soos ‘n helder wolk van vuur by ons wees in die heerlike beskutting van die Nuwe Jerusalem (4:5, Eks.13:21-22, Ps.105:39, Op.21:3).  Sy teenwoordigheid sal ons beskerm soos wat ‘n afdak ons teen die son en reën beskerm (4:6, 25:4-5, Ps.27:5, 91:1, 4, 121:5-6, Sp.18:10, Op.7:15-16).

 

Dalk wonder jy hoekom ons in die Nuwe Jerusalem die Here se beskerming nodig het?  Waarteen moet Hy ons beskerm as Hy aan die kruis en op die oordeelsdag ons sonde, die duiwel en die wêreld oorwin het (4:4, hfst.3)?

 

Hy moet ons teen Homself beskerm.  Ons vergeet partykeer dat God gevaarlik is.  Om vir ewig in sy heerlike en heilige teenwoordigheid te bestaan, het ons ‘n Middelaar nodig (1 Tm.2:5).  Ja, selfs in die hemel het ons genade nodig.

 

Dit is nie dat Hy ons nie daar wil hê nie.  Hy wil ons juis daar hê, en daarom het Hy vir Jesus gestuur om ons van ons sonde te reinig, sodat ons in sy teenwoordigheid kan inkom (4:4).  God het mens geword, sodat ons sy heerlikheid kan sien sonder om dood te gaan (Jh.1:14, Eks.33:20, 23).  In die hemel sal Hy ons toelaat om ‘n voller openbaring van sy heerlikheid sien, te geniet en te ervaar (Jh.17:24).

 

Maar selfs in ‘n sondelose hemel waar ons perfek is, is ons nogsteeds skepsels wat nie die kapasiteit het om sy volle heerlikheid te aanskou nie (6:1-2).  Daarom moet die Messias ons met sy teenwoordigheid bedek, soos wat die wolkkolom die Israeliete in die woestyn beskerm het (4:5-6).

 

Die verskil is natuurlik dat ons nie soos hulle op ‘n afstand sal moet bly, sodat ons nie in God se heerlike teenwoordigheid kan inkom nie (Eks.40:35).  Nee, deur die Heilige Gees sal die Vader en die Seun in hulle skoonheid, heerlikheid, voorsiening, verhewenheid, lofwaardigheid, vriendskap, heiligheid, liefde, genade, beskutting, alomteenwoordigheid en almag, nader aan jou wees as wat jy aan jouself is.  As die Vader en die Seun op aarde reeds deur die Heilige Gees in ons harte woon (Jh.14:23), hoe naby sal die Drie-Enige God in die hemel nie aan ons wees nie?

 

Het jy al ooit tydens ‘n biduur, erediens, Bybelstudie, in die skepping of in jou stiltetyd die Here se nabyheid ervaar en geniet?  Ek onthou een stiltetyd waarin die ervaring van God se liefde my hart laat smelt het.  Dit was so soet in my siel soos suiker in warm water.  Dit het my hart oorweldig soos ‘n vertrek met 10 of 20 vensters waardeur die lig inkom.  Dit was te veel om te hanteer.

 

Hoe sal dit dan nie in die hemel wees, wanneer ons die heerlike, heilige, ewige en almagtige God van aangesig tot aangesig sien nie?  Volgens Paulus sal jy in verwondering wees (2 Ts.1:10).  Jou mond sal oophang; jy sal met jou gesig op die grond val en die Here aanbid.

 

As ons ons bekeer en op die gekruisigde en opgestane Christus vertrou om ons van ons sonde te red, sal dít ons voorland wees.  Maar as ons dit nié doen nie, dan wag daar donker dae op ons.