Armageddon: God se slagdag

Armageddon

In 1998 het Hollywood ‘n film gemaak met die titel van Armageddon.  Dit het gegaan oor NASA en ‘n meteor wat die aarde sou tref.  Die titel het nie eintlik by die film gepas nie, omdat dit niks te doen gehad het met die Bybelse lering oor Armageddon soos wat ons dit in Op.16:12-21 het nie.

 

Die sesde bak (v.12-16)

Die sesde engel het sy bak op die groot Eufraatrivier uitgegiet, sodat dit opgedroog het en die konings van die ooste dit kon oorsteek (v.12).

 

Omtrent 600 jaar voor dit het koning Kores van Persië Babilon binnegeval.  Die Eufraatrivier het die stad omring; Kores het ‘n sloot laat grawe om dit te herkanaliseer.  Toe dit opgedroog het, het hy en sy weermag gemaklik onder die stad se mure deurgeloop en dit binnegeval (sien Jes.44:27-28, Jer.50:38, 51:32, 36).[1]

 

In v.12 het Johannes dieselfde beeld gebruik:  God het die Eufraatrivier laat opdroog, sodat Israel se vyande haar makliker kon binneval.  Hy het m.a.w. die laaste hindernis verwyder, sodat die tempel en die ou verbond in 70 n.C. finaal vernietig kon word.

 

Maar die Eufraatrivier het mos nie in Johannes se tyd opgedroog nie, of het dit?’ wil iemand weet.  Soos in die res van Openbaring, het Johannes ‘n Ou Testamant beeld gebruik om sy punt tuis te bring.

 

[1] Volgens Gn.15:18, Dt.11:24 was die Eufraatrivier die ideale noordelike grens van Israel.  In die Ou Testament het die gevreesde Babiloniërs en Assiriërs van oorkant die Eufraat af gekom en vir Israel binnegeval.

 

[2] Die opgedroogte rivier laat ons ook dink aan God wat die Rooi See en die Jordaanrivier opgedroog het om sy volk van haar vyande te red, en haar in die Beloofde Land in te bring.

 

Die skokkende ding in v.12 is dan dat Hy ‘n rivier opgedroog het om sy afvallige volk se vyande teen haar te bring (v.12).  Daar is ‘n sin waarin dit letterlik gebeur het toe die tiende legioen van die Romeinse weermag van die Eufraatrivier af gekom het om teen Jerusalem te veg.[2]

 

Die beeld van ‘n opgedroogte rivier wys ook vir ons dat Israel en Jerusalem nou soos Egipte en Babilon geword het (v.19, 11:8, hfst.17-18).  Die drie onrein geeste[3] wat soos paddas gelyk het bevestig dit (v.13, Eks.8:1-15, Lv.11:10).  Soos wat die Here letterlike Egipte met letterlike paddas getref het, het Hy geestelike Egipte met geestelike paddas of demone getref (18:2).

 

Die padda-demone het uit die draak (Satan), die dier (die Romeinse Ryk met haar keisers), en die vals profeet (afvallige Israel) se monde uitgekom (v.13).[4]  Met God se toestemming het hulle die konings van die ooste, asook van die hele antieke wêreld (vgl. Lk.2:1, Hd.11:28) teen Israel aangehits (v.12-14, 9:14-15, 1 Kon.22:19-23, Jes.14:4, 12-14, Dn.10:20, Esg.28:2, 12-19).

 

Satan en sy demone het d.m.v. vals tekens die Jode en die Romeine mislei om teen mekaar te veg (v.14, 13:13-14, Mt.24:24, 2 Ts.2:9-12).  So het die Jode tot ‘n val gekom, en het die Romeine God se toorn oor hulleself gehaal.

 

Die slag van Armageddon was dus nie die slim plan van die duiwel, die vals profeet en die Antichris nie; dit was die groot slagdag van die Almagtige God wat Israel se vyande teen haar gestuur het (v.14, 19:17, Jes.10:5-6, 41:25, 46:9-11, Mt.22:7).  Dit was ‘n oorlog tussen Christus en afvallige Israel, omdat sy haar verbond met Hom gebreek het (19:11-21, Dt.28:49-50, 52).

 

Dit sou so onverwags gewees het soos die wederkoms, soos ‘n dief wat in die middel van die nag by jou huis inbreek (v.15, Mt.24:42-43, 1 Ts.5:2, 2 Pt.3:10).  Indien die gelowiges geestelik waaksaam was en die wit trourok van Christus se geregtigheid aangehad het, sou hulle nie skaam gekry het omdat hulle naak was nie (v.15, 3:4-5, 18, 7:13-14, 19:8, 22:14, Gn.3:7-10, Mt.22:11-12).

 

Volgens Alfred Edersheim het die Jode ‘n gebruik gehad waarin die tempel-offisier wat aan diens was, seker moes maak dat die wagte hulle werk gedoen het.  As hy hulle aan die slaap gevang het is hulle geslaan.  As hulle vir ‘n tweede keer gevang is, het hy hulle klere verbrand.[5]

 

Johannes se idee is dus dat Christus oppad was om Jerusalem te verwoes en die tempel te oordeel (v.15, Mt.16:28).  Dié wat aan Hom behoort het moes geestelik waaksaam gewees het.  As hulle geluister het, sou Hy hulle geseën het en nie soos ‘n dief in die nag teen hulle gekom het nie (v.15, 3:1-3).

 

As hulle egter ongehoorsaam was, sou hulle in die slag van Armageddon gesterf het (v.16).  Die Hebreeuse woord har meğiddô beteken ‘berg van Megiddo’.  Megiddo was omtrent 100 km noord van Jerusalem.  Hier het God sy volk van die Kanaäniete se verdrukking bevry (Rgt.5:19, 4:15).  Maar in 70 n.C. sou Israel oorwin word en getreur het soos toe koning Josia in Megiddo gesneuwel het (Sg.12:11, 2 Kron.35:22-27).

 

Omdat daar nie ‘n berg by Megiddo was nie, is Armageddon waarskynlik ‘n simboliese naam.  Dit verwys na enige oorlog waarin die vyand verneder en verpletter word (soos Hannes wat van sy Getsemane of kruis kan praat, al was hy nie letterlik in Israel toe hy in 2003 deur ‘n baie moeilike tyd gegaan het nie).

 

Armageddon het dan niks te doen met China of Rusland wat in die toekoms teen Israel en ander westerse lande gaan veg nie.  Moet dan nie val vir e-posse, YouTube videos, of kort snitte op Whatsapp wat sê dat Rusland besig is om kernkrag wapens in massa te produseer, ter voorbereiding vir Armageddon of die Derde Wêreldoorlog nie.

 

Mense is sensasioneel en gaan dit rondstuur.  Moet dit nie vir ‘n feit aanvaar net omdat jy dit op Facebook gesien het nie.  Moet dit ook nie vir soetkoek opeet, omdat die persoon wat dit gesê het dinamies is en ‘n Amerikaanse aksent het nie.

 

Maak eerder jou Bybel oop en let noukeurig op wat Johannes in Op.1:1, 3 gesê het:  “Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur… want die tyd is naby.”  Op grond van Johannes se eie getuienis sou hierdie dinge in leeftyd gebeur het.  Vir hóm het Armageddon in die toekoms gelê, maar vir ons is dit in die verlede.  Jy hoef dus nie bang te wees vir wat in die toekoms gaan gebeur nie.

 

Jy moet eerder die God van Armageddon vrees, jou sonde los, en op Jesus vertrou om jou van die komende oordeel te red.  Sorg dat jy deur geloof die wit klere van Christus se geregtigheid aan het, klere wat Hy wit gemaak het deur sy bloed wat Hy aan die kruis gestort het.

 

As Jesus jou só gereinig het, hoef jy nie bang te wees vir ‘n weermag wat in die toekoms oor die Eufraatrivier gaan kom nie.  Jy kan eerder saam met Jesaja en Sagaria uitsien na miljoene mense wat deur opgedroogte riviere gaan kom om die Here in die Nuwe Jerusalem te aanbid (Jes.11:12, 15-16 en Sg.10:6-11).  Jy kan saam met Salomo en Sagaria uitsien na die dag wanneer Jesus al die nasies van die aarde na Homself toe sal wen:  sy Ryk sal strek van see tot see, van die Eufraatrivier tot aan die eindes van die aarde (Ps.72:8, Sg.9:10).

 

Die sewende bak (v.17-21)

Toe die sewende engel sy bak in die lug uitgegooi het, was daar ‘n groot storm en ‘n aardbewing (v.17-21).  God het met ‘n harde stem van die troon af gesê:  “Dit is verby!” (v.17, 15:1, vgl. Jes.66:6).  Hiermee het Hy die aardse tempel vernietig en die hemelse een gevestig (v.17, 8:5, 11:19, 15:8).

 

Die storm, die aardbewing en die hael moenie net letterlik verstaan word nie, maar ook simbolies.  Soos in Jes.13:13, Jer.10:10, Esg.13:14, Nah.1:5 is die storm, die hael en die aardbewing beelde van God se oordeel (v.18-19).  Volgens die apostel Johannes was daar nog nooit so ‘n groot skudding op die aarde nie.  Om die vers reg te verstaan moet ons twee dinge in gedagte hou.

 

[1] Die Griekse woord vir ‘aarde’ [Gk. ] kan ook ‘land’ beteken.  Omdat hierdie skudding in Jerusalem plaasgevind het, bedoel Johannes dat daar nog nooit so ‘n groot aardbewing in Israel was nie (vgl. Joël 2:2, Mt.24:21, Esg.5:9, Dn.9:12).

 

[2] Toe God die ou verbond op berg Sinaï gemaak het, was daar ‘n storm en ‘n geweldige aardbewing (Eks.19:16, 18).  Toe Hy dit in 70 n.C. met die vernietiging van die tempel finaal tot ‘n einde gebring het, was daar weer ‘n geweldige storm en ‘n groot aardbewing.[6]  God het die ou verbond as’t ware weggeskud om die nuwe een finaal tot stand te bring (Heb.12:26-28, 8:13, 10:9).

 

Wat beteken dit dat Jerusalem in drie gedeel is, en dat die stede van die nasies geval het (v.19)?  Uit v.18 kan ons aflei dat die aardbewing hierdie verdeling veroorsaak het, maar die teks dit nie direk nie.  Dalk het Johannes iets anders in gedagte gehad.

 

Tydens die oorlog in Jerusalem het die Jode in drie faksies verdeel en mekaar doodgemaak.  Ons weet ook dat God sy volk, soos in Esg.5:1-12, op drie maniere geoordeel het:  party is met die swaard doodgemaak, ander het gesterf toe die stad afgebrand is, en ander is deur die Romeine gevange geneem.  Later sou God ook teen die Romeine en hulle stede opgetree het (v.19). [7]

 

Hoekom het die Here vir Jerusalem so streng geoordeel?  Hy het onthou dat sy soos Babilon geword het en die gelowiges vermoor het (v.19, 17:5-6, 18:5, 20, 24, 19:2).  ‘n Vergelyking tussen die ‘groot stad’ en ‘Babilon die Grote’ in v.19, 11:8, 17:18, 18:10, 16, 18-19, 21, sal vir jou wys dat Babilon ‘n skuilnaam vir Jerusalem is.

 

Omdat Jerusalem dan soos Babilon geword het, het God die bitter wyn van sy toorn in haar keel afgegooi (v.19, 14:10).  Dit was so erg dat die berge op land en in die see (die eilande) vir sy toorn gevlug het (v.20, 6:14, 8:8).  Wanneer die Ou Testament profete God se oordele oor Israel en die nasies beskryf, sê hulle dat die berge verdwyn het (Ps.46:3-4, Jes.2:12, 14, 17, 40:4, Jer.4:24, 23-27, 51:25, 42, Esg.26:17-18, Nah.1:5, Hab.3:6, 10).  Dit is duidelik dat Johannes simboliese taal gebruik het toe Hy God se oordele oor Jerusalem beskryf het.

 

In v.21 raak Johannes nóg meer beskrywend:  Jerusalem het haar huweliksverbond met die Here gebreek en geestelike egbreuk gepleeg; daarom het God besluit om haar te stenig (v.21, Dt.22:22, Esg.16, 23).  Omdat sy afgode gedien het soos Egipte, het Hy haar soos Egipte met haelstene getref (v.21, 11:8, Eks.9:13-26).  Elke haelkorrel het 100 pond of een talent [Gk.] geweeg (v.21).

 

Josefus praat van groot wit stene wat elkeen ‘n talent geweeg het, en vertel hoe die Romeine dit in hulle katapults gesit het om Jerusalem te vernietig.  Maar selfs toe die klippe op die Jode afgekom het, het hulle hul nie bekeer nie, maar vir God gelaster (v.21, 9, 11, Eks.9:34-35).  ‘Hier kom die Seun!’ het hulle gespot.[8]  Terwyl die skip van Jerusalem gesink het, het sy die Here met haar laaste asem gelaster.

 

En as God se oordeel oor Jerusalem so erg was, hoe erg moet die finale oordeel nie wees nie?  Is jy en jou geliefdes gereed om voor die Here van hemel en aarde te staan?  Wat gaan jy vir Hom oor jou sonde sê?  Wat gaan jy vir Hom sê oor jou leuens en jou vuil taal; oor jou bitterheid, seksuele sonde, hoogmoed, wellus, biddeloosheid, vrees vir mense, materialisme, kwaadpratery, rassisme, ongehoorsaamheid, selfsug, selfliefde, skynheiligheid en ander sondes?

 

As jy vir Hom sê dat jou goeie dade swaarder weeg as jou slegte dade, lieg jy en gaan jy hel toe.  Selfs as dit so was, sit jy nogsteeds met ‘n probleem:  jou beste dade is vir die Here soos ‘n vrot lap (Jes.64:4).  Verder vereis die Here ook dat jy ‘n perfekte rekord moet hê (Mt.5:48, Gal.3:10).

 

Moet dan nie eers probeer om op jouself en jou pogings staat te maak nie.  Jy kan nooit jou sondige rekord uitvee deur net harder te probeer nie.  Vergeet van jouself en vertrou op Jesus om jou sondige hart en rekord skoon te was.  Sê vir Hom dat jy nie genoeg meriete het om jou sondeskuld af te betaal nie.  Sê ook vir Hom dat jy nie gereed is om vir ewig daarvoor te boet in die hel nie.

 

Sê vir Hom dat Hy aan die kruis die prys vir jou sonde betaal het, en dat die Vader dit asb. in jou plek moet aanvaar.  Vra Hom om jou hart te verander, sodat jy nie meer jou sonde bo Hom sal kies nie.  Leef dan vir Hom, totdat Hy eendag op die wolke kom om jou te beloon en jy vir ewig saam met Hom op die nuwe aarde sal wees.

 

As jy reeds sy verlossing ontvang het, moet jy vir ander mense vertel dat daar iets erger as Armageddon oppad is, en dat hulle nie meer moet uitstel om hulle lewens met die Here reg te maak nie.

 

[1] Steve Gregg, Revelation: Four Views – A Parallel Commentary, pp.438-442; Leon Morris, Tyndale New Testament Commentaries: Revelation, p.197; G.K. Beale & D.A. Carson, Commentary on the New Testament use of the Old Testament, p.1135

[2] Flavius Josephus, Wars: Book III, 1:3, 4:2, Book V, 1:6, Book VII, 1:3

[3] Hulle onreinheid word daarin gesien dat hulle mense versoek om in hulle denke, woorde en dade onrein te wees.

[4] Vir meer oor die draak, die dier en die vals profeet kan jy die volgende preke opsoek:  [1] Die duiwel se nederlaag, [2] Christene, keiser Nero en die ANC [3], en Oor die vals profeet en die Antichris (of die berugte 666).

[5] Alfred Edersheim, The Temple: Its Ministry and Services as they were at the Time of Jesus Christ, pp.142, 148 – aangehaal in David Chilton, The Days of Vengeance, p.410

[6] Ibid., Book IV, 4:5

[7] Sommige geleerdes meen dat die korrekte lesing van die Griekse teks nie van die ‘stede van die nasies’ in die meervoud praat nie, maar van die ‘stad van die nasies’ in die enkelvoud (vgl. Jay Adams in Steve Gregg, Ibid., p.450).  Volgens my verstaan van Openbaring impliseer dit dat Jerusalem die groot stad en Babilon is met wie die nasies van die aarde geestelike egbreuk gepleeg het (vgl. Esg.16, 23).

[8] Ibid., Book V, 6:3