Hoe moet ons vir Suid-Afrika bid?

Heart hands South African flag

Almal praat oor Saterdag 22 April 2017 se gebedsdag in Bloemfontein. Na my mening is die punt nie of jy teologies op dieselfde bladsy is as Angus Buchan nie, maar dat hierdie ‘n uitstekende geleentheid vir die evangelie is.

 

Ek glo dat elke Christen hierdie golf moet ry en vir die wêreld moet vertel dat Jesus gekom het om die probleme in ons land en wêreld op te los. Volgens 1 Tm.2:1-8 is die primêre probleem nie die regering of die ekonomie nie, en is die oplossing nie die Verenigde Nasies, Amerika of die DA nie.  Die probleem is sonde en die oplossing is Jesus wat deur die evangelie sy kinders se gebede beantwoord – so eenvoudig soos dit.

 

Bid vir alle mense (v.1-2)

Ek het jou al in die verlede vertel van ‘n predikant wat in ‘n erediens vir die huidige regering gebid het. Hiervoor het sy gemeente hom afgedank.  Ek het self het al gehoor hoe mense sê dat hulle nie vir Jacob Zuma kan bid nie.

 

Mense wat dít sê vergeet dat hulle voor hulle bekering net so sleg was soos hy (Tit.3:3). Verder maak hulle ook of 1 Tm.2:1-2 nie op hulle van toepassing is nie.  Kom ons bestudeer die verse om te sien wat die Here van ons vereis.

 

1 Timoteus is geskryf om vir ons te wys hoe die gemeente of huishouding van God ordelik moet funksioneer (3:15). Van eerste belang is dat ons ‘n biddende gemeente moet wees (v.1).  Gebed is die kragtige diesel enjin wat elke ander bediening in die gemeente moet dryf.  Volgens Paulus is dit nie opsioneel nie, en daarom vermaan hy Timoteus om dit te doen (v.1).

 

Om reg te bid moes die gelowiges God vir hulle behoeftes gesmeek het (v.1). Deur gebed moes hulle gedurig met Hom gepraat het (v.1).  Hulle moes ingetree het vir ander (v.1).  En laastens moes hulle God vir sy goedheid en sy antwoorde op hulle gebede gedank het (v.1, Ps.50:23).

 

Op hierdie vier maniere moes hulle vir alle mense gebid het (v.1). Paulus verwys nie hier na elke individu nie, maar na alle klasse en nasies (v.2, 7).  Dit sou konings en hoë amptenare soos keiser Nero ingesluit het (v.2, Esr.6:10).  Volgens Jesus se opdrag in Lk.6:27-28 moes die gemeente vir hulle vervolgers gebid het.

 

Hulle moes gebid het dat God die owerhede se harte sou verander, sodat hulle nie meer die kerk vervolg het nie, maar vir hulle vryheid gegee het (v.2, Sp.21:1, Esr.6:22, 7:27). So kon hulle sonder vrees vir vervolging en met toewyding hulle Christenskap uitgeleef het (v.2).  Soos die res van die samelewing sou ook húlle waardig kon lewe, en nie soos misdadigers behandel word nie (v.2).  Selfs die ongelowiges sou die vrugte van die gelowiges se gebede gepluk het, naamlik ‘n stil en rustige lewe (v.2, Jer.29:7).

 

Dit is nie moeilik om te sien hoe ons hierdie verse moet toepas nie.

 

[1] Om as gemeente saam te bid moet vir ons ‘n prioriteit wees soos wat dit vir die vroeë kerk was (v.1, Hd.1:14, 2:42, 4:24, 31, 12:5, 13:3). Vyf tot agt mense by ‘n biduur (uit ‘n gemeente van 75 lidmate) wys vir my dat gebed by ons nie ‘n prioriteit is nie, en dat ons dink ons het nie die Here nodig nie.

 

[2] Ons is geneig om vir onsself te bid en van ander te vergeet. Maar volgens v.1-2 moet ons vir ander bid en vir hulle intree.  Deur jou gebede kan jy mense bevoordeel, soos wat jy ook (al is jy nie eers bewus daarvan nie) deur ander se gebede sekere voorregte geniet.  Wat Thomas Brooks van persoonlike gebed gesê het, geld ook vir gesamentlike gebed:  ‘let not others suffer by your neglect of private prayer!’[1]

 

Laat ons dan leer om in ons stiltetye, bidure en eredienste vir mekaar, ons geestelike leiers, sendelinge, ons familie en vriende, ons kollegas, ongelowiges, ons vyande, die polisie, die stadsraad en die regering te bid (v.1-2).

 

[3] Maar ons gebede moenie net uit versoeke bestaan nie; ons moet ook die Here dank (v.1, Ps.50:23, Ef.5:20, Fil.4:6, 1 Ts.5:18). Paulus bedoel nie dat ons Hom vir ‘n slegte regering moet dank nie, maar dat ons dankbaar moet wees dat daar nog ‘n mate van wet en orde is.  In Suid-Afrika kan ons ook dankbaar wees vir lopende en warm water, paaie en rioolstelsels, godsdiensvryheid, elektrisiteit en meer.

 

[4] Petisies, optogte en stakings gaan nie Suid-Afrika se probleme oplos nie – gebed gaan (v.1-2). As ons geregtigheid wil hê moet ons nie na die regering toe gaan nie, maar na die Here toe:  “Daar is baie wat die aangesig van die heerser soek, maar die reg van ‘n mens kom van die HERE.” (Sp.29:26).

 

Bid vir bekering (v.3-8)

‘n Paar weke gelede het iemand vir my ‘n Whatsapp gestuur en gevra dat ek saam met hom vir Julius Malema se bekering moet bid. Ek wonder of ons regtig glo dat hy tot bekering kan kom?  Glo jy dat Jacob Zuma tot bekering kan kom?

 

As jy in die Ou Testament gelewe het sou dit seker moeilik gewees het om te glo dat konings soos Nebukadnesar en Manasse tot bekering kon kom. Maar hulle het (2 Kron.33, Dn.4).  En uit verse soos 1 Tm.2:1-8 en Op.21:24 weet ons dat daar nóg konings en owerhede is wat tot bekering sal kom.

 

Om so vir die regering en vir alle mense te bid is goed in God se oë (v.1-3). Die vrug van hierdie gebede, naamlik dat mense gered word en Hom aanbid, is ook vir Hom aanneemlik (v.2-4).  Hy is ‘n Verlosser wat wil hê dat alle mense gered moet word en tot ‘n persoonlike kennis van die waarheid moet kom (v.3-4, Jh.3:16, 2 Pt.3:9).

 

‘Maar hoekom kom almal dan nie tot bekering as God hulle redding begeer nie?’ wil iemand weet. ‘En hoe versoen ons dit met die Bybelse lering oor uitverkiesing?’  Aan die een kant kan ons sê dat ‘alle mense’ in v.4 na alle nasies en klasse verwys, en dat God wil hê hulle moet gered word.  Dit verwys nie na elke individu nie.  Dit is hoe v.1-2 en 7 dit verstaan.

 

Maar dan moet ons in dieselfde asem sê dat God nie ‘n plesier in die dood van die goddelose het nie, maar wil hê dat hulle tot bekering moet kom (Esg.18:23, 32). Hy begeer dus regtig mense se redding, en tog red Hy nie almal nie, maar besluit Hy soms om hulle volgens hulle verdiende loon te straf (Rm.9:22).  Ek weet nie presies hoe dit werk nie, en kan maar net sê dat daar in God se gedagtes dinge is wat ons nie verstaan nie (Dt.29:29, Jes.55:8-9).

 

Indien mense tot bekering gaan kom kan dit nie deur die godsdiens van hulle keuse wees nie. Daar is immers net “een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus” (v.5, vgl. 1:17, Dt.6:4, Jes.44:6, 45:5-6, Jh.17:3, 1 Kor.8:6-8).

 

Hoekom kan ons net deur Jesus na God toe kom (Jh.14:6, Hd.4:12)? Om ‘n dik en ‘n dun tuinslang aan mekaar te koppel, kort jy ‘n middelstuk wat oor beide tuinslange pas.  En vir feilbare mense om in God se heilige teenwoordigheid in te kom, kort jy ‘n Middelaar wat God en mens is, Een wat sy hand aan beide kante kan lê (Job 9:32-33).  Jesus alleen kwalifiseer, omdat net Hy God en mens is (v.5, Jh.1:1, 14).  Ons kan nie deur engele, Maria, die heiliges, die geeste van ons voorvaders, Mohammed of enigiemand anders na God toe kom nie.

 

Jesus is tog ook die enigste Een wat aan die kruis gesterf het om ons na God toe te bring (v.5). In sy groot liefde het Hy besluit om Homself as ‘n losprys vir alle mense gegee (v.6, 1, 7, Mt.20:28).  Die losprys moes gelykstaande wees aan die waarde van ons siele; dus kon Hy dit nie met geld betaal het nie, en moes Hy sy bloed of lewe gegee het (Mt.16:26, 1 Pt.1:18-19).

 

Dalk wonder jy hoekom iemand anders dit nie kon betaal het nie? Die persoon wat die losprys betaal het moes sonder sonde gewees het, want anders sou hy vir sy eie sonde gestraf moes word.  Buitendien kon geen mens die ewige straf vir iemand anders se sonde betaal het nie, wat nog te praat van miljoene mense se sonde?

 

Die Psalmdigter sê: “Niemand kan ooit ‘n broer loskoop nie; hy kan aan God sy losprys nie gee nie (want die losprys van hulle lewe is te kosbaar en vir ewig ontoereikend), dat hy vir ewig sou voortlewe, die vernietiging nie sou sien nie.” (Ps.49:8-10).

 

Die Een wat dus die losprys betaal het moes so waardevol gewees het soos miljoene mense se siele. Om die ewige straf namens ons te neem moes Hy ook ewig gewees het.  En wie anders kon dit gedoen het behalwe God self?  “Maar God sal my siel loskoop van die mag van die doderyk” (Ps.49:16).

 

Maar omdat God nie kan sterf nie (1:17, 6:16), moes die Een wat in ons plek gesterf het ook ‘n mens gewees het. Omdat net Jesus God en mens is, kon net Hy die losprys betaal het.  Hierdie getuienis van verlossing het God op die regte tyd bekend gemaak (v.6, Rm.5:6, Gal.4:4, Tit.1:3).  Dit het Hy gedoen deur vir Paulus te kies om ‘n prediker, apostel en leraar van die heidene te wees (v.7, Hd.9:15, 2 Tm.1:11, Tit.1:3).

 

Paulus kon met alle eerlikheid gesê het dat hy dit nie vir homself gekies het nie, maar dat die Here hom daarvoor geroep het (v.7). God het hom gestuur om die waarheid van Jesus en die Christelike geloof aan die heidene te verkondig (v.7).  Alle mense moes die evangelie gehoor het (v.7, 1, 4).

 

Die heidene se bekering was egter nie die einddoel nie – die aanbidding van God was (v.7-8). John Piper sê:  ‘Missions exists because worship doesn’t.’[2]  M.a.w. ons deel die evangelie met mense, sodat hulle gered kan word en die Here kan aanbid.  Oral op die aarde moet mense die Here se Naam grootmaak (v.8, Mal.1:11).  Die mans moet hulle gesinne hierin lei (v.8).  Hulle moet dit nie net op Sondae doen nie, maar ook in die week heilig lewe in hulle verhouding met die Here en met ander mense (v.8, Ps.24:4, Jes.1:15).  Dit help mos nie dat ons vir die land bid, as ons eie harte en dade met sonde besoedel is nie (v.8, Ps.66:18, Jes.59:1-2, Mk.11:25).

 

Voordat jy dan vir die land kan bid, moet jy vir jouself bid. As jy nog dink dat jy hemel toe gaan omdat jy in God glo, opreg is, gedoop is, voorgestel en aangeneem is, en jou bes probeer om volgens die Bybel te lewe, is jy op die verkeerde pad.  Jy vertrou nog op jouself en nie op Jesus nie.

 

Los die dinge waaroor jou gewete jou pla, die sonde waarvoor jy so lief is. Glo God se belofte dat Hy die gratis geskenk van sy verlossing sal gee aan dié wat in sy Seun glo en op Hom vertrou om hulle te red.  Glo dat die Vader sy kruisdood in jou plek sal aanvaar, asook dat Hy ‘n Middelaar is wat gesag het om jou in God se teenwoordigheid in te bring.

 

En as jy besef het hoe verlore jy was en hoe die Here jou gered het (1:13-16), kan jy nie sy verlossing vir jouself hou nie. God se begeerte sal joune word, sodat jy ook passievol is oor die bekering van sondaars.  Jy sal nie iemand uit jou gebede uitsluit nie, maar sal bid dat alle mense gered moet word – ook Jacob Zuma (v.1-8).

 

Jy sal wil hê dat die Here die nasies na Homself toe moet bring. Jy sal ‘n hart hê vir sending en evangelisasie, en jy sal iets daaromtrent doen.  Jy sal bid vir ‘n ware herlewing in Suid-Afrika en die wêreld.  Jy sal nie tevrede wees om net te bid dat die plaasmoorde moet ophou en dat die misdaadsyfer moet afneem nie.  Jou doel is immers nie dat ons ‘n morele land moet word, waarin mense beter lewe maar nogsteeds nie die Here ken nie.  Jou gebed sal eerder wees dat mense tot bekering moet kom, sodat hulle hierdie wonderlike Jesus kan ken.  En nadat jy só gebid het sal jy nie kan stilbly nie, maar vir almal van Jesus vertel.

 

En sal die Here dit nie seën as die kerk só op haar knieë gaan en die evangelie met die wêreld deel nie? Hy het dit in 1860 onder Andrew Murray gedoen.  Voor hierdie datum was Suid-Afrika ‘n geestelike woestyn.  In Calvinia kon Nicolaas Hofmeyr bv. vir 6 jaar nie ‘n enkele persoon by die biduur kry nie.

 

Maar toe die herlewing kom het baie gemeentes bidure gehou, het die evangelie versprei, is daar kerke geplant, en moes die kerkgeboue vergroot word.[3]  En kan die Here dit nie weer doen nie?  Wat die psalmdigter vir Israel gebid het, bid ek ook vir ons land:  “Sal U ons nie weer lewend maak, sodat u volk in U bly kan wees nie?” (Ps.85:7).

 

[1] Thomas Brooks, The Secret Key to Heaven, p.186

[2] John Piper, Let the Nations be Glad, p.17

[3] http://frontline.org.za/index.php?option=com_content&view=article&id=1278:andrew-murray-and-the-1860-revival