Die waarheid oor lewe na die dood

Stairway to heaven

Mense het verskillende idees oor wat met jou gebeur wanneer jy doodgaan. Omdat ek in Jesus glo en die Bybel as sy Woord aanvaar, gaan ek my nie steur aan wat Hindoes en Buddhiste oor reïnkarnasie, die Brahman en Nirvana sê nie.  Ons is bestem om een maal te sterf (Heb.9:27); ons bestaan nie in ‘n eindelose siklus van lewe en dood nie.

 

Ek gaan myself ook nie ophou met ateïste wat sê dat daar niks na die dood is nie. Diep in elke mens se hart het hy ‘n sin van die ewigheid:  “[God] has put eternity into man’s heart” (Pd.3:11, ESV).

 

Ek stel ook nie belang in ‘n Paradys met beeldskone maagde waarna miljoene Moslems uitsien nie. Volgens Mt.22:30 gaan ons nie in die hemel trou nie.  Ek het ook nie tyd vir die Katolieke se vagevuur, waarin die vlamme mense se sonde wegbrand, sodat hulle later hemel toe kan gaan nie.  Die plek waar jy is wanneer jy doodgaan is waar jy bly (Lk.16:26).

 

My kwessie is met dié wat sê dat hulle in Jesus en die Bybel glo, maar sy lering oor lewe na die dood verwerp. My kwessie is met dié wat in sieleslaap glo en dit verkondig.  Dit is immers húlle preke, seminare, boeke, tydskrif artikels en blog inskrywings wat God se kinders verwar.

 

In hierdie preek wil ek wys wat die Bybel te sê het oor lewe na die dood. Deur sy opstanding het ons reeds die ewige lewe in ons harte (Jh.6:47, 17:3), en sal ons dit eendag in ons liggame ontvang (1 Kor.15).

 

As jy in Jesus glo sal jy in alle ewigheid nie sterf nie, maar selfs na die dood saam met Hom lewe (Jh.11:25-26). Dit geld natuurlik vir ons siele voordat dit vir ons liggame geld; daar is talle Bybeltekste wat dit bewys.

 

Lewe na die dood in die Ou Testament

Ek het eenkeer ‘n preek gehoor waarin die man gesê het dat Abraham, Noag en ander Ou Testament gelowiges in limbo of die gevangenis van die doderyk was, en dat hulle ná Jesus se kruisdood bevry is. Maar nêrens in die Ou- of Nuwe Testament is daar ‘n teks wat dit sê nie.  Daar is meer genoeg bewyse dat Ou Testament gelowiges aan die einde van hulle aardse lewe hemel toe is.

 

Alhoewel Henog nie gesterf het nie, het God hom aan die einde van sy reis hemel toe gevat (Gn.5:24, Heb.11:5). Elia het ook nie gesterf nie en is met ‘n strydwa van vuur hemel toe (2 Kon.2:11).  In Lk.9:30-31 het hy saam met Moses (wat gesterf het) aan Jesus verskyn op die berg van verheerliking.  Volgens Lukas het hulle in heerlikheid verskyn:  hulle het uit die hemel uit gekom.

 

Toe Jakob sy asem uitgeblaas het, “is hy by sy volksgenote versamel” (Gn.49:33). Dit het gebeur ‘n paar maande voordat hy begrawe is (Gn.50).  Duidelik het sy siel nie in die graf geslaap nie, en beteken die vers dat hy hemel toe is.

 

Jesus het dit ook geglo. Toe die Sadduseërs Hom oor die opstanding probeer vastrek het, het Hy gesê:  “Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie… En wat die opstanding van die dode betref—het julle nie die woord gelees wat tot julle deur God gespreek is nie:  Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob?  God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes.” (Mt.22:29, 31-32).

 

Die feit dat die Here nogsteeds hulle God was, beteken dat hulle by Hom in die hemel gelewe het. Hoeveel te meer sou Hy dan nie hulle liggame in die toekoms kon opwek nie?  Die Hebreërskrywer bevestig dat hulle pelgrims op die aarde was, en dat hulle oppad was na die hemelse stad toe (Heb.11:10, 13-16).

 

Vir die volle beloning van nuwe liggame en ‘n nuwe aarde moes hulle vir die wederkoms gewag het (Heb.11:39-40). Tot dan sou hulle saam met talle ander gelowiges van die hemelse pawiljoen af moes toekyk hoe dié wat nog op die aarde was hulle wedloop voltooi het (Heb.12:1).  Dié wat dit tot aan die einde volhard se geeste sal volmaak wees in die hemel (Heb.12:22-23).

 

Die Psalmdigters het ook geglo dat hulle na die dood in die hemel sou wees. Dawid het in Ps.23:4-6 gesê dat gelowiges deur die vallei van die dood sal gaan, en dat hulle daarna vir ewig in die Here se huis sal woon.

 

Ps.49 stel ‘n duidelike kontras tussen die dood van gelowiges en ongelowiges. Ongelowiges se siele daal na die doderyk toe neer (Ps.49:15, 20), terwyl God die psalmdigter se “siel loskoop van die mag van die doderyk, want Hy sal [hom] opneem.” (Ps.49:16).  Daar het jy dit:  ongelowiges daal neer, terwyl die Here gelowiges opneem.

 

Asaf het dit ook geglo. Toe hy ‘n groot krisis beleef het, het hy gesê:  “U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.  Wie het ek buiten U in die hemel?  Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie.” (Ps.73:24-25).  Selfs as sy liggaam beswyk het, het hy ‘n erfenis in die hemel gehad (Ps.73:26).

 

In Pd.12:7 lees ons dat “die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.” Iemand het op ‘n video het gesê dat die gees in Pd.12:7 na die mens se asem verwys.  ‘Wanneer jy sterf blaas jy jou asem uit en slaap jou siel in die graf; jy gaan nie na die Here toe nie,’ het hy gesê.   ‘Dit is wat Pd.12:7 beteken.’

 

Maar as hy die hele gedeelte gelees het, sou hy in Pd.12:5 gesien het dat die persoon na sy ewige huis toe gaan.  Moet ons regtig glo dat die graf sy ewige huis is?  Of is dit die hemel vir dié wat die Here ken en Hom vrees (Pd.12:1, 13)?

 

Lewe na die dood in die Nuwe Testament

Satan en mense se sonde verblind hulle, sodat hulle nie die Bybel verstaan nie (2 Kor.3:14-15, 4:4). Die Jehova’s Getuies gebruik bv. Jh.1:1 (‘…en die Woord was God’) om te wys dat Jesus nie God is nie.

 

Net so is daar mense wat die glashelder Nuwe Testament tekste oor lewe na die dood gebruik om te sê dat daar geen lewe na die dood is nie. As jy egter die verse in hulle letterlike en normale konteks lees, sal jy sien dat hierdie mense die kat aan die stert beet het.

 

Ek het in ‘n vorige preek (‘Jesus se dood en joune’) gewys dat Lk.23:43 presies beteken wat dit sê, en dat die misdadiger aan die kruis dadelik hemel toe is toe hy gesterf het:  “En Jesus antwoord hom:  Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”

 

Soek gerus die preek op vir ‘n breedvoerige verduideliking van die vers, asook vir ‘n weerlegging van die Sewendedag Adventiste se verkeerde interpretasie daarvan.

 

In Jesus se vertelling van die ryk man en Lasarus, het Lasarus by sy dood na ‘n plek van vertroosting toe gegaan waar Abraham is (Lk.16:22, 25, vgl. 13:28, 22:37-38). Toe die ryk man gesterf het en begrawe is, het hy na ‘n plek van pyniging toe gegaan (Lk.16:22-25).

 

Sommige mense sê dat hierdie ‘n gelykenis is, en dat ons nie ons teologie oor lewe na die dood hieruit moet neem nie. Maar let asseblief op dat Jesus sy lering teen die geldgierige Fariseërs gemik het (Lk.16:14, 1-13, 19).  As dit net ‘n storie was en daar geen pyniging na die dood is nie, sou Jesus se lering nie tande gehad het nie.  Die Fariseërs sou Hom uitgelag het, omdat daar nie lewe na die dood is nie, en omdat ons siele rustig in die graf sal slaap.

 

Jesus se gebruik van eiename soos Abraham en Lasarus dui aan dat sy lering nie net ‘n storie is nie, maar geskiedenis (Hy het nooit eiename in ‘n gelykenis gebruik nie). Maar al kon iemand ‘n saak uitmaak om te wys dat dit ‘n gelykenis is, moet ons nogsteeds vra of Jesus oor lewe na die dood sou gepraat het as dit nie so was nie?  Sou Hy sy hoorders mislei en verwar het as mense se siele eintlik in die graf slaap?  Sou Hy vals inligting in sy storie ingewerk het, soos om te sê dat daar mense in ‘n plek anderkant die graf is, terwyl hulle geliefdes nog op die aarde is (Lk.16:27-28)?  Wat is enigsins die punt van Lk.16:19-31 as daar nie ‘n hemel of hel is ná die dood nie?

 

Soos Jesus het Paulus ook geglo dat gelowiges ná die dood hemel toe gaan. Volgens hom was dié wat nog op die aarde gelewe het in die liggaam, en nie by die Here nie (2 Kor.5:6).  As iemand egter doodgaan en sy liggaam verlaat, is hy by die Here (2 Kor.5:8).  Daar is nie iets tussen-in nie.  As jy nie by Jesus in die hemel is nie, is jy in jou liggaam op die aarde en andersom.  Dit leer Paulus ook in Fil.1:22-23 vir ons:

 

“Maar as ek in die vlees moet lewe, dan beteken dit vir my vrugbare arbeid; en wat ek sal kies, weet ek nie. Want ek word van weerskante gedring:  ek het ‘n verlange om heen te gaan en met Christus te wees, want dit is verreweg die beste”.

 

Vir Paulus was dit beter om te sterf en na Jesus toe te gaan, as om in sy liggaam op die aarde te lewe. As sieleslaap waar is, sou Paulus verseker nie gesê het dat die dood beter is as die lewe nie, “want ‘n lewendige hond is beter as ‘n dooie leeu.” (Pd.9:4).  Die dood is ‘n wins, omdat dit hom na Christus toe neem (Fil.1:21).  As dit hom in die graf gelos het, sou dit ‘n verlies gewees het.

 

In Op.6:9-11, 20:4 lees ons van die onthoofde martelare se siele wat in die hemel is.  Heb.12:23 praat van “die geeste van die volmaakte regverdiges” wat saam met Jesus en sy engele in die hemel is.  In Op.7:9-10 praat Johannes van gelowiges uit alle nasies wat in die hemel is.  Dit gebeur voor die wederkoms, die finale oordeel, die opstanding van die dooies, en die nuwe hemel en aarde (vgl. Op.20-22).

 

Ek het vroeër uit Lk.16:22-24 gewys dat ongelowiges dadelik na ‘n plek van pyniging toe gaan wanneer hulle doodgaan. Daar is ander verse in die Nuwe Testament wat dit bevestig.

 

In Jh.17:12 sê Jesus dat Judas die seun van die verderf is, en volgens Hd.1:18, 25 het hy gesterf en ná sy eie plek toe gegaan. As ons die twee verse saam lees is dit nie moeilik om te raai dat hierdie plek die hel is nie.  Dit is tog wat Jesus in Mt.26:24 bedoel het:  “…wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word!  Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.”

 

2 Pt.2:4, Jud.6 praat van gevalle engele wat in die duisternis van die hel vasgebind is met kettings. Soos hierdie engele is die goddelose ook alreeds in die hel.  2 Pt.2:9 in die ESV sê:  “the Lord knows how…to keep the unrighteous under punishment until the day of judgment”.  Jud.7 praat van die bewoners van Sodom, Gomorra en die omliggende stede wat huidiglik “die straf van die ewige vuur ondergaan.”

 

As ‘n misdadiger gevang word moet hy in die tronk sit, totdat sy saak voor die hof kom en hy gevonnis word. So is dit ook met die ongelowiges:  hulle gaan dadelik hel toe wanneer hulle sterf; hulle moet daar wag vir die oordeelsdag om voor God se hof te verskyn en gevonnis te word.

 

Elke ongelowige sal vir ewig gevonnis word (Mt.25:41, 46), maar Judas se straf sal bv. erger wees as keiser Augustus s’n, omdat hy van beter geweet het. Hy het meer lig gehad as die keiser, maar het dit verwerp.  Dit is presies wat verse soos Mt.11:20-24, Lk.12:47-48, 20:47, Jk.3:1, Op.20:12-13 vir ons leer.

 

Lewe na die dood en sieleslaap

‘n Vrou het my eenkeer kom sien oor ‘n artikel wat sy op die internet ontdek het. Die outeur het gesê dat gelowiges nie hemel toe gaan wanneer hulle sterf nie, maar dat hulle siele in die graf slaap.  Hy het ‘n paar tekste aangehaal om dit te ‘bewys’.  Die vrou was verward.  Ons het elke vers in sy konteks gelees en tot die volgende slotsom gekom:

 

[1] Ps.115:17 gaan nie oor sieleslaap nie: “Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal die HERE nie loof nie”.  Die konteks gaan oor mense wat afgode aanbid, en so leweloos soos hulle gode word (Ps.115:4-8).  Húlle is dié wat in die doderyk neerdaal en nie die Here loof nie.

 

Wat God se kinders betref sê die Psalmdigter in die volgende vers:  “maar óns sal die HERE prys, van nou af tot in ewigheid.  Halleluja!” (Ps.115:18).  Wanneer ongelowiges doodgaan prys hulle nie die Here nie; gelowiges doen dit wel.

 

[2] Ps.146:4 gaan nie oor sieleslaap nie: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”  Die Psalmdigter se punt is dat ons nie op mense moet vertrou nie, omdat hulle toekomsplanne daarmee heen is wanneer hulle doodgaan (Ps.146:3-4).  Hy sê nie dat daar nie lewe na die dood is nie.

 

[3] Pd.9:5, 10 gaan nie oor sieleslaap nie: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet… Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk waar jy heengaan nie.”

 

Weer moet ons na die konteks kyk. Volgens Pd.9:6, 9 het die mense wat in die doderyk is nie meer deel aan die werk, kennis, wysheid of plesier wat onder die son plaasvind nie.  Salomo se punt is dat ons hard moet werk en beplan terwyl ons nog op die aarde is.

 

Sy punt is dieselfde as Jesus s’n in Jh.9:4: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.”  Niemand dink op grond van hierdie teks dat Jesus na sy dood nie meer kon werk nie.  Hoekom dink ons dit dan wanneer ons Pd.9 lees?

 

Dié wat gesterf het verloor nie hulle identiteit of persoonlikheid nie. Jy bly Joe van Jaarsveld as jy in die hemel is (Lk.16:23).  Jou siel raak ook nie onaktief nie.  Jy sal die Here saam met ‘n groot menigte van hemelwesens en gelowiges prys (Op.7:9-12).  Jy sal die Here se teenwoordigheid, liefde, troos, verkwikking en versorging geniet (Op.7:15-17).  Jy sal nie hartseer wees, pyn hê of sonde doen nie, maar volmaak wees (Op.7:17, Heb.12:23).

 

[4] Hd.7:60 en ander verse wat van gelowiges se dood as ‘slaap’ praat, beteken nie dat ons siele in die graf slaap nie: “En [Stefanus] het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep:  Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie!  En met dié woorde het hy ontslaap.”

 

Volgens Hd.7:55-56 het Stefanus gesien hoe die hemel oopgaan; hy het God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan. Terwyl sy vyande hom gestenig het, het hy uitgeroep:  “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hd.7:59).  Stefanus het geglo dat hy oppad was na Jesus toe vir Wie hy nou-net gesien het.  Vir Stefanus was die dood so skadeloos soos slaap.

 

[5] 1 Ts.4:15 gaan nie oor sieleslaap nie. Paulus sê “dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.”

 

Dit is belangrik om te onderskei tussen wat met ‘n gelowige se liggaam gebeur wanneer hy doodgaan, en wat met sy siel gebeur.  En dit is Paulus se punt.  Dié wat nog by die wederkoms lewe se liggame sal nie voor hulle afgestorwe broers en susters s’n verheerlik word nie (1 Ts.4:16-17).

 

Dié wie gesterf het se siele is egter by die Here.  Wanneer Jesus kom sal hulle saam met Hom na die aarde toe terugkeer (1 Ts.3:13, 4:14, Kol.3:4).  Hy sal hulle liggame opwek en verheerlik, en hulle siele daarmee verenig (1 Ts.4:16, 1 Kor.15:35-55).

 

“Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde,” sê die apostel in 1 Ts.4:18. As die vorige verse oor sieleslaap gaan, kan ons nie vir Karen op haar sterfbed sê:  ‘Jy gaan vir Jesus in sy heerlikheid sien’ nie (Jh.17:24).  Ons sal eerder moet sê:  ‘Lekker slaap.’  En hoe bemoedig dít haar?

 

Sal dit haar nie meer help om die waarheid te hoor, dat elke gelowige by sy of haar dood hemel toe gaan nie? En omdat Jesus die dood oorwin het, hoef sy dit nie te vrees nie (1 Kor.15:55, Heb.2:14-15, Op.1:18).  Dit geld vir almal wat in Jesus glo.

 

As jy nog nie in Hom glo nie wil ek by jou aandring om dit vandag te doen. Jy sal nie spyt wees nie, maar sal wens dat jy dit al vroeër gedoen het.  En as jy die dag op jou sterfbed lê, sal jy saam met die Paulus kan sê:  “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins.” (Fil.1:21).

Advertisements