Jesus se dood en joune

Dying thief

In sy lied, Another day in Paradise, sing Phil Collins van hoe die ryk mense in ons samelewing die armes ignoreer.  Volgens hom moet ons twee keer dink en dankbaar wees vir die voorregte wat ons het:  ‘O, think twice… just another day for you and me in Paradise.’

 

Maar solank as wat daar sonde in die wêreld is, kan geen aardse rykdom dit in ‘n Paradys verander nie. Om die poorte van die Paradys oop te maak, moes Jesus aan die kruis gesterf het.  Dit is o.a. die les wat ons in Lk.23:39-43 leer.

 

Bespotting (v.39)

As jy vandag vir ‘n Jood vra wie die Beskermer van Israel is, sal hy vir jou sê dat dit die Israeli weermag is. Israel vertrou al lankal nie meer op die Here nie, maar op hulle militêre vernuf.  Dit is ook algemeen bekend dat hulle ‘n militêre Messias verwag.  Dit was ook waar van die misdadiger in v.39.

 

Volgens Mt.27:44 het beide misdadigers vir Jesus uitgelag.  “As U die Christus is, verlos Uself en ons,” het een van hulle in v.39 gesê.  Hy het nie ‘n gekruisigde Messias gesoek nie, maar een wat hom van die Romeine se onderdrukking en van die dood sou red.

 

Vandag nog is daar sulke mense: hulle wil hê dat Jesus hulle van sonde se gevolge moet red (die dood en die hel), maar nie van die sonde self nie.  En omdat Hy nie aan hulle eise voldoen nie, laster hulle Hom en sê hulle dat Hy nie die ware Here, Messias en Verlosser is nie (v.39).  Maar hulle het vergeet dat Hy gekom het om ons van ons sonde te bevry, en nie sodat ons vry kan wees om dit te doen nie.

 

Vermaning (v.40)

Sommige mense se harte word sag wanneer hulle ouer word. Maar daar is ander wat hard word.  Hulle lig hulle vuiste na die hemel toe as dit met hulle sleg gaan (Op.16:9, 11).  Selfs op hulle sterfbeddens is hulle so hard soos graniet, en wil hulle niks met die Here te doen hê nie.

 

‘n Ateïs op sy sterfbed in Glasgow het op John Paton gespoeg toe hy met hom oor Jesus gepraat het. Toe Paton vir hom wou bid het hy gesê:  ‘Pray for me to the devil… I have hated [God] in life, and I hate Him in death!’  Met hierdie woorde is hy die ewigheid in.[1]

 

Een van die misdadigers aan die kruis was so, en hieroor het die ander een hom aangespreek. Die man het tot sy sinne gekom en wou nie meer saam met sy vriend gelaster het nie.  ‘n Paar dinge kon dit veroorsaak het.

 

  • Dalk het hy gesien dat Jesus nie terug gelaster het nie (1 Pt.2:23).
  • Dalk het Jesus se gebed vir sy oortreders hom beïndruk (v.34).
  • Dalk het hy die bordjie bokant Jesus se kop oordink, en besef dat Hy regtig die Koning van die Jode is (v.38).

 

Hoe dit ookal sy, God het sy oë oopgemaak vir die waarheid. Hy wou nie meer deel gehad het aan sy eie of ander se sonde nie, en het daarom sy vriend bestraf en gesê:  “Vrees jy ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is?” (v.40).

 

Sy vriend het onder God se vervloeking aan ‘n kruis gehang (v.40, Dt.21:22-23). Hy was op die randjie van die ewigheid.  Elke hartklop of asemteug kon sy laaste gewees het.  Moes hy dan nie eerder die Here gevrees het (v.40), om genade gesmeek het en hom bekeer het, as om vir Jesus te laster nie?

 

Moenie dink jy kan jou bekering uitstel totdat jy op jou sterfbed lê nie. Jy weet nie eers of jy ‘n sterfbed sal hê nie; dalk gaan jy opslag dood in ‘n karongeluk.  Of dalk het jy op jou sterfbed geen begeerte om tot bekering te kom nie, omdat jy so verhard geraak het soos die rower in v.39.

 

Gebruik dan die kans wat die Here vir jou gee en bekeer jou. Moenie die sonde oortuiging wat jy vandag in jou hart voel uitstel nie, maar reageer daarop.  J.C. Ryle het gesê:  ‘Het jy ‘n neiging om te begin bid?  Stel dit dadelik in plek.  Dink jy daaraan om regtig die Here te dien?  Begin onmiddellik.  Geniet jy geestelike lig?  Sorg dat jy daarvolgens lewe.  Moenie die kanse wat jy het verspeel nie, want anders sal die dag kom wat jy dit wil gebruik, maar nie kan nie.’[2]

 

As hierdie woorde jou hart aanspreek, moet jy vandag in berouvolle gebed na Jesus toe kom. Sê vir Hom van die lelike dinge wat jy gedoen het en van die bose dinge wat in jou hart is (Hy weet buitendien).  Glo dat Hy bekwaam is, en dat sy kruisdood voldoende is om jou te red.

 

Bekering (v.41-42)

David Brainerd vertel van ‘n Indiaan wat gesê het dat God regverdig sou wees as Hy besluit het om haar in die hel te straf. Sy het gesê dat sy niks kon doen om haarself te red nie, en dat sy vir ewig hel toe sou gaan as Christus nie alles vir haar gedoen het nie.[3]

 

‘n Ander vrou het in gebroke Engels vir hom gesê: ‘Me try, me try, save myself, at last my strength be all gone (meaning her ability to save herself)… Den last, me forced let Jesus Christ alone, send me hell if He please… Did not me care where He put me, me lobe [love] Him for all.’[4]

 

Die rower aan die kruis was soos hulle en het vir sy vriend gesê dat hulle hierdie straf verdien (v.41). Hy het sy sonde erken, die skuld op homself gepak, indirek bely dat God regverdig was om hom te straf, en dat hy die verdiende beloning vir sy dade ontvang het (Rm.3:4).

 

Jesus het dieselfde straf as hulle ontvang, maar het niks verkeerd gedoen nie. Die man het dit bely; hy kon uit Jesus se optrede gesien het dat Hy die onskuldige Seun van God is (v.41, 4, 15, 22, 47, Jh.8:46, 2 Kor.5:21, Heb.4:15, 1 Pt.2:22).

 

“Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom,” het hy vir Jesus gesê (v.42). Hy het geweet dat die klag in v.38 waar is, en dat Jesus die Messiaanse Koning van die Jode is.  Hy het ook geweet dat Jesus t.s.v. sy kruisdood op die troon sou sit om as Koning te regeer.

 

Op grond van Jesus se sagmoedige liefde en die gebed in v.34, het hierdie misdadiger die vrymoedigheid gehad om te vra dat Jesus in sy Koninkryk aan hom moes dink. Dit is asof hy gesê het:  ‘Ek weet dat ek nie ‘n plek in die Koninkryk verdien nie, maar al wat ek vra is dat U aan my sal dink wanneer U daar kom.’  Hy het besef dat hy nie iets kon doen om God se guns te verdien nie, maar dat hy geheel en al afhanklik was van sy genade.

 

Om soos die rower gered te word moet die volgende vyf dinge met jou gebeur:

 

[1] Jy moet besef dat jy verlore is. Hoe kan iemand tot bekering kom as hy nie sy nood vir die Verlosser sien nie?  Iain Murray skryf:  ‘No one was converted without knowing that he needed to be.’[5]

 

[2] Jy moet erken dat jy God se straf verdien, en dat Hy regverdig is om jou te straf: jý is skuldig en Hý nie (v.41).  As jy dit nie erken nie, sal jy sy Naam laster wanneer jy in pyn op jou sterfbed lê (v.39).

 

[3] Jy moet God se oordele vrees (v.40). Sal jy op jou knieë voor die Koning val en om genade smeek as jy Hom nie vrees nie?

 

[4] Jy moet erken dat Jesus die Koning en Here is (v.42). Jy moet jouself bereid verklaar om onder sy heerskappy te lewe, en nie maar net ‘n Verlosser soek wat jou van die slegte gevolge van sonde kan red nie (v.39).

 

[5] Jy moet glo dat Hy ‘n liefdevolle Verlosser is, en dat Hy vol van genade is. Iemand wat dit nié glo nie, sal nie die vrymoedigheid hê om Hom vir vergifnis en die ewige lewe te vra nie (v.42).

 

Ek het reeds onder die vorige punt gewys dat niemand so vermetel moet wees om te dink hy gaan op sy sterfbed tot bekering kom nie. En tog leer v.40-43 ook vir ons om nie wanhopig te raak nie; Jesus is instaat om dié te red wat baie erg gesondig het, asook dié wat op hulle sterfbeddens lê.

 

Verlossing (v.43)

Oor die afgelope paar jaar het verskeie mense vir my gesê dat hulle nie meer seker is of God se kinders dadelik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan nie. ‘Kan dit dalk wees dat ons siele saam met ons liggame in die graf sal slaap totdat Jesus weer na die aarde toe terugkeer?’ het hulle gevra.

 

Maar uit v.43 en talle ander Bybeltekste weet ons dat gelowiges se siele dadelik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan. Kom ek wys vir jou wat ek bedoel.

 

In antwoord op die rower se versoek het Jesus gesê: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” (v.43).  Dit is asof Hy gesê het:  ‘Jy hoef nie te wag tot in die toekoms nie.  Ek het vir jou redding gebid en vir jou sonde gesterf (v.34, 1 Pt.3:18); jy sal vandág al saam met My in die Paradys wees.’

 

Daar is mense wat sê dat die Paradys nie dieselfde plek is as die hemel nie. Maar volgens 2 Kor.12:2-3, Op.2:7, 22:14 is die Paradys nie ‘n ander plek as die hemel nie.  Die Griekse woord Paradys [paradeisos] verwys na ‘n tuin of park van plesier, en volgens Op.22 is dit presies wat die hemel is.  Dit is as’t ware ‘n herstelde tuin van Eden – net beter.

 

Ander sê weer dat daar nie leestekens in die Grieks is nie, en dat die vertalers die komma op die verkeerde plek gesit het. Volgens hulle het Jesus nie gesê:  ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’ nie.  Hy het eerder gesê:  ‘Voorwaar Ek sê vir jou vandag:  Jy sal saam met My in die Paradys wees.’

 

Die implikasie is dat Jesus nie vir die man gesê het wanneer hy saam met Hom in die Paradys sal wees nie, maar net dat hy eendag saam met Hom daar sal wees.  Volgens dié wat so glo, het die man se siel saam met sy liggaam in die graf geslaap (of opgehou om te bestaan).  Maar daar is ten minste vyf probleme met hierdie interpretasie.

 

[1] Jesus het nooit gesê: ‘Voorwaar Ek sê vir jou vandag’ nie.  Hy het altyd gesê:  ‘Voorwaar Ek sê vir jou,’ en dan volg wat Hy gesê het.  Hoekom sou Jesus buitendien vir die man gesê het dat Hy vandag iets vir hom sê?  Dit is mos voor die hand liggend dat Hy dit nie gister of môre vir hom wou sê nie.

 

[2] Om in Grieks ‘n woord te beklemtoon, moet jy dit voor in die sin plaas. In dié geval maak dit perfek sin dat ‘vandag’ die eerste woord in Jesus se aanhaling is.  Die man wou baie graag in Christus se Koninkryk gedeel het (v.42).  Jesus het hom verseker dat sy begeerte op dieselfde dag nog vervul sou word (v.43).  Toe die man daardie oggend opgestaan het was hy oppad hel toe, en toe hy teen die aand oorlede is was hy in die hemel!

 

[3] Toe Jesus in v.46 gesterf het, het Hy gesê: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!”  Toe Jesus sy laaste asem uitgeblaas het, het Hy sy oorwinning in die doderyk aangekondig en is Hy hemel toe (v.46, 1 Pt.3:18-20, Ef.4:8-10, Kol.3:15).[6]

 

In die Ou Testament het die hoëpriester ‘n dier se bloed in die allerheiligste ingebring (Lv.16); toe Jesus Homself vir ons geoffer het, het Hy as die hemelse Hoëpriester in die allerheiligste van die hemel ingegaan (Heb.9:24).

 

As Jesus dan in v.46 in die hemel was, maak dit sin dat Hy in v.43 vir die rower gesê het dat hy saam met Hom daar sou wees.

 

[4] Dit sou nie vir die man ‘n troos gewees het om te weet dat hy eers by die wederkoms saam met Jesus in die hemel gaan wees nie. Die troos het juis daarin gelê dat dit op dieselfde dag nog gebeur het.

 

[5] Die res van die Skrif leer vir ons dat God se kinders dadelik hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan. Vir nou gaan ek net die verwysings gee; in die volgende preek (‘Die waarheid oor lewe na die dood’) sal ek die verse hieronder uitlê, en ook die tekste verduidelik wat skynbaar die dwaallering van sieleslaap verdedig.

 

Verse wat direk of indirek bewys dat gelowiges dadelik hemel toe gaan as hulle sterf is die volgende: Gn.5:24 en Heb.11:5, 2 Kon.2:11 en Lk.9:30-31, Ps.23:4-6, 49:16, 73:24-25, Sp.14:32, Pd.12:7, Mt.22:32, Lk.16:22-26, Jh.17:24, Hd.7:55-60, 2 Kor.5:8, Fil.1:21, 23, Kol.3:4, 1 Ts.3:13, 4:14, Heb.12:22-23, Op.7:9-10, 14:13, 20:4.

 

Tog is die grootste prys nie om hemel toe te gaan nie, maar om by Jesus te wees. Dit is beter om saam met Jesus in die storm te wees, as op droë land sonder Hom; saam met Hom in die woestyn, as in die Beloofde Land sonder Hom; langs Hom aan die kruis, as in die Paradys sonder Hom (v.43).

 

Die groot troos van v.43 is nie ‘die Paradys’ nie, maar ‘saam met My’.  Jesus is die juweel van die hemel.  Dit is Hy wat die hemel hemel maak.  As jy Hom eers ontmoet het sal jy verstaan wat ek bedoel.  Niemand is soos Hy nie.  Waar het jy al ooit iemand ontmoet wat so liefdevol, volmaak, sagmoedig, goed, sterk, barmhartig, vriendelik, goedhartig, nederig, gehoorsaam, lieflik, gaaf, getrou en geduldig is soos Hy?

 

Ken jy enigiemand anders wat ‘n gruweldood deurgemaak het om sy haters van hulle sonde en God se oordeel te red? Wie ken jy wat ‘n geharde misdadiger sal vergewe en vir hom ‘n plek in die hemel sal gee, nadat hy aanvanklik gespot en gelaster het (v.34, 43, Mt.27:44)?

 

Jesus se liefde vir sondaars is soos ‘n kristalhelder fontein wat vir duisende jare aanhou vloei, soos die Vaaldam wat oorloop, soos die sonskyn wat jou omring en die hele hemel ophelder, en soos die suikersoet stroop wat ‘n koeksister deurweek. As jy jou bekeer en in Hom glo sal sy dood die giftige angel uit joune uittrek, sodat jou dood so skadeloos sal wees soos slaap (1 Kor.15:55, Hd.7:60).

 

[1] John G. Paton: Missionary to the New Hebrides, p.44

[2] J.C. Ryle, Holiness, p.182 (vry vertaal)

[3] Jonathan Edwards, Works: vol.2, pp.406-407

[4] Ibid, p.403

[5] Iain Murray, The Old Evangelicalism, p.22

[6] Sommige sê op grond van Jh.20:17 dat Jesus nie na sy dood hemel toe is nie. Sien my preek, Die wonderwerk wat my lewe verander het vir ‘n verduideliking van hierdie vers.  Op dieselfde trant verduidelik D.A. Carson hierdie vers breedvoerig op pp.641-646 van sy Johannes-kommentaar.