Die wonderlikste Man in die geskiedenis

Peter swimming to Jesus

Drie Sondae gelede het ‘n klein seuntjie vir my gevra of ek Jesus is. Ek het gelag en mooi vir hom gesê dat ek nie Jesus is nie.  ‘Jesus is God en ek is net ‘n mens,’ het ek vir hom gesê.  As hy oud genoeg was om dié preek uit Jh.21 te volg, sou hy geweet het dat daar ‘n oneindige verskil tussen enige mens en Jesus is.

 

Sy wonderlike voorsiening (v.1-14)

In hfst.20 het Jesus twee keer aan die dissipels verskyn, en in hfst.21 vir ‘n derde keer. Dit het gebeur terwyl hulle by die See van Galilea of Tiberias was (v.1).  Hier is hoe dit gebeur het.

 

Sewe van die dissipels was bymekaar (v.2). Simon Petrus was die nie-amptelike leier.  Dan was daar Thomas die tweeling [Gk. Didumos], opregte Nataniël van Kana in Galilea (1:48, 2:11), die seuns van Sebedeüs (Johannes en Jakobus, Mt.4:21), en twee ander dissipels (dalk Andreas die broer van Petrus, en Filippus die vriend van Nataniël, vgl. 1:41-42, 46).

 

Simon Petrus het vir hulle gesê hy gaan visvang (v.3). Sommige dink dat hy skaam was, omdat hy die Here verloën het, en dat hy daarom na sy ou beroep toe teruggekeer het.  Maar die teks vereis nie so ‘n interpretasie nie.  Miskien het hy besluit om saam met sy vriende vis te vang, terwyl hulle vir Jesus gewag het (Mk.14:28, 16:7).

 

Na ‘n hele nag op die meer, het die dissipels niks gevang nie (v.3). Teen dagbreek het Jesus op die strand gestaan (v.4).  Weens die swak lig en ook a.g.v. hulle geestelike blindheid, het die dissipels Hom nie herken nie (v.4, 20:14, Lk.24:16).  ‘Kinders (soortgelyk aan ‘n rugby kaptein wat sy span boys noem), het julle enige vis gekry?’ het Hy gevra (v.5).  ‘Nee,’ het hulle Hom geantwoord (v.5).

 

‘As julle die nette aan die regterkant van die boot laat sak sal julle iets vang,’ het Hy gesê (v.6). Ek wonder wat hulle gedink het?  Hoekom sou die visse gebyt het as hulle die net vyf meter na regs geskuif het?  Hulle het egter sy raad gevolg (v.6).  Eweskielik was die net so vol van visse, dat die sewe van hulle nie sterk genoeg was om dit in te sleep nie (v.6).

 

Die dissipel vir wie Jesus lief was (Johannes, vgl. v.20-24) het ‘n soortgelyke episode uit die verlede onthou (Lk.5:4-7) en vir Petrus gesê dat dit die Here is (v.7). Om gemakliker te werk het Petrus sy bokleed uitgetrek, maar nou het hy die los ente ingesteek, in die see ingeduik, en na Jesus toe geswem (v.7).  Die ander dissipels het in die boot aangekom en met moeite die net agter hulle aangesleep (v.8).  Hulle was sowat 45 meter van die strand af (v.8).

 

Toe hulle die strand bereik het, het hulle uit die boot uitgeklim (v.9). Jesus het ‘n koolvuur met gebraaide vis en braaibroodjies gereed gehad (v.9).  Waar het Hy dit gekry?  Vir Jesus was dit nie ‘n probleem om vir almal van hulle genoeg brood en vis te voorsien nie (hfst.6!).

 

Die oorvol nette het dit bewys. Jesus het vir hulle gevra om vis uit die nette te haal, sodat almal genoeg kon eet (v.10).  Petrus het op die boot gestaan en die net na die kant toe gesleep (v.11).  In v.6 kon sewe van hulle dit nie insleep nie, maar ons moet onthou dat die vis nou in die vlakwater was en dus nie so maklik in die net kon spartel nie.

 

Volgens v.11 was die net nie vol van klein vissies waarmee ‘n mens niks kan doen nie; dit was vol van groot visse, 153 van hulle. T.s.v. die groot hoeveelheid vis het die net nie geskeur nie (v.11, kontr. Lk.5:6).

 

Ons hoef nie soos party mense ‘n simboliese waarde aan die 153 visse te heg nie. Johannes se punt is eerder om te wys dat hy ‘n ooggetuie was, en dat hierdie ’n geskiedkundige boek is.  En as die episode van die 153 visse so is, kan ons ook sy getuienis m.b.t. Jesus se opstanding glo.

 

Jesus het vir die dissipels gesê om nader te staan, omdat die ontbyt gereed was (v.12). Nie een van die dissipels het dit gedurf om vir Jesus te vra wie Hy is nie, omdat hulle geweet het dat dit Hy is (v.12).  Miskien was hulle nogsteeds in verwondering dat Jesus gekruisig is en weer uit die dood uit opgestaan het.

 

Of dalk bedoel Johannes dat hulle geweet het die Man op die strand is Jesus. Sy verskyning na die opstanding, asook die wonderwerk wat Hy nou-net gedoen het, het egter bevestig dat Hy die Here is (v.12).  Niemand van hulle kon dít betwyfel het nie.

 

Hy het brood gevat en vir sy dissipels gegee, en net so ook die vis (v.13). Soos in hfst.13, het die nederige Messias sy dissipels bedien.  Hierdie was die derde keer wat Hy na sy opstanding aan die dissipels verskyn het (v.14).  Dit was nie meer moontlik vir hulle om te twyfel, of om te dink dat hulle ‘n spook gesien het of dat hulle gehallusineer het nie.

 

Jesus is nie meer in sy liggaam by ons teenwoordig nie. Maar sy wonderlike voorsiening wys dat Hy nogsteeds vir ons omgee.  Dit is so dat ons hard moet werk, en dat dit die normale manier is hoe die Here vir ons voorsien (v.3, Eks.20:9, Sp.6:6-11, 10:4-5, 14:23, 28:19, Ef.4:28, 2 Ts.3:6-15).

 

En tog moet ons ook besef ons nie onsself onderhou nie, maar dat Hý die Een is wat in ons behoeftes voorsien (v.3, 6, Mt.6:11). Die hemel, die aarde en die see met al hulle rykdom behoort aan die Here (1 Kron.29:11, Ps.24:1, 50:10-12, Hg.2:8).  Die mens se vermoeë om ryk te word kom van Hom af (Dt.8:18, 1 Kron.29:12, Sp.10:22).

 

Dit is dan dwaas om te dink dat jy nie genoeg sal hê om van te lewe nie, of dat die Here nie in beheer is van jou toekoms, die ekonomie, die weer, jou kinders se opvoeding en die beskikbaarheid van werk nie (Ps.127:2, Mt.6:25-34, Fil.4:19, Heb.13:5). Die Here sal vir sy kinders sorg, selfs wanneer daar ‘n ekonomiese resessie is (Gn.47:4-6, Ps.33:19, 37:19).  Ook as jy in ‘n finansiële krisis is, kan die Here baie maklik gee wat jy nodig het (v.6, 11, Nm.11:21-23).

 

Sy wonderlike vergifnis (v.15-19)

Na die ontbyt het Jesus met Petrus gepraat (v.15). Omdat hy gewankel het en nie rotsvas gestaan het nie (Petrus beteken rots), het Jesus hom ‘Simon’ genoem (v.15-17, vgl. 1:41).  ‘n Paar weke tevore het hy by ‘n koolvuur drie keer vir Jesus verloën (13:38, 18:18).  Nou het hy weer by ‘n koolvuur die geleentheid gehad om drie keer te sê dat hy vir Jesus liefhet (v.9, 15-17).

 

‘Simon, seun van Jona, het jy My lief meer as hulle hier?’ het Jesus gevra (v.15-17). Voor Jesus se kruisdood het Petrus gesê dat hy Hom die meeste liefhet van al die dissipels (Mt.26:33).  Hy het intussen vir Jesus verloën.  Het hy regtig nog gedink dat sy liefde vir Jesus die grootste is?  Dalk wou Jesus ook geweet het of Petrus Hom bo sy suksesvolle vissersbedryf kies (v.15).  Was Jesus vir hom belangriker as tydelike sukses?

 

Petrus het bely dat hy vir Jesus liefhet (v.15-17). ‘U is God en weet alles; U weet dat ek U liefhet’ het hy hartseer gesê (v.15-17, 2:24-25, 16:30).  In die Grieks gebruik Johannes twee verskillende woorde vir liefde.  Ons kan dit soos volg uiteensit:

 

Vers 15: Het jy my lief [agapaō]?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet [phileō].

Vers 16: Het jy my lief [agapaō]?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet [phileō].

Vers 17: Het jy my lief [phileō]?… Ja, Here, U weet dat ek U liefhet [phileō].

 

Volgens party kommentators is agapaō ‘n diep Goddelike liefde, terwyl phileō ‘n sterk gevoel van broederlike liefde is.  In hulle gedagtes het Jesus vir Petrus se totale liefde gevra, maar wou hy nie weer daarin geroem het dat hy vir Jesus só liefgehad het nie.  Gevolglik het hy vir Jesus gesê dat hy Hom broederlik liefhet.  Op die einde het Jesus sy standaard verlaag, en het Hy Petrus se sub-standaard toewyding aanvaar.

 

Persoonlik dink ek nie dat dit die korrekte interpretasie is nie, aangesien agapaō en phileō partykeer sinonieme terme is.  In 3:35 gebruik Johannes agapaō vir die Vader se liefde vir die Seun, en in 5:20 gebruik hy phileō om dieselfde liefde te beskryf.  Hy gebruik ook beide woorde om Jesus se liefde vir Lasarus (11:5, 36), asook sy liefde vir Johannes te beskryf (13:23, 20:2).  Dus kan ons nie sê dat agapaō noodwendig ‘n spesiale soort liefde is, terwyl phileō ‘n laer vlak van liefde is nie.  Buitendien het Petrus ‘ja’ en nie ‘nee’ gesê, toe Jesus vir hom gevra het of hy Hom liefhet nie.

 

Hoe kon Petrus vir Jesus gewys het dat hy Hom liefhet? Hy moes sy lammers en skape opgepas het en in die groenigheid van sy Woord laat wei het (v.15-17, hfst.10, Ps.23, Jes.40:11, Jer.3:15, Hd.20:28, 1 Tm.4:13, 2 Tm.4:2, 1 Pt.5:1-3).

 

Hy moes ook bereid gewees het om in die toekoms sy lewe vir Jesus te gee, en nie weer sy Naam te verloën nie (v.18-19). Toe Petrus jonk was, was hy vry en onafhanklik; hy het gegaan waar hy wil (v.18).  Maar in sy oudag sou hy sy arms uitgestrek het; hy sou vir die Here se onthalwe gearresteer word en met sy lewe betaal het (v.18, 13:36).[1]

 

Toe Jesus klaar met Petrus gepraat het, het Hy vir hom gesê: ‘Volg My’ (v.19, Lk.5:10-11, 9:23).

 

Wat is die een sonde wat jou gewete pla, ‘n donker geheim wat jy nie kan vergeet nie?  Is dit dalk iets wat jy gesê het, iets wat jy nie kan terugtrek nie?  Het jy dalk iets lelik, skelm of onwettig in die geheim gedoen?  Het jy dalk iets teen iemand anders gedoen waarvan hulle nie eers bewus is nie?

 

Hier is hoe jy dit kan regstel:

 

[1] Geen mens kan self sy sonde bedek en sy gewete reinig nie; net die bloed van Jesus kan (Ps.32:1-5, Heb.9:14, 10:22, 1 Jh.1:7, 9). Bely dus jou sonde aan die Here, hou op daarmee, en vra vir Hom om jou te vergewe.  As jy dit nie wil erken nie en dit wegsteek, sal dit met jou sleg gaan.  Maar as jy dit bely en laat staan, sal die Here barmhartig wees (Sp.28:13).

 

[2] As die Here jou vergewe het, moet jy jou bes doen om nie meer daaraan te dink nie. Vra Hom om jou te help (Ps.25:7).  Onthou ook dat Hý dit nie teen jou hou nie, maar dat Hy jou volkome vergewe het (Ps.103:12, Mg.7:19, Jes.1:18, 43:25, 44:22, Heb.10:17).  Omdat dit so is moet jy nie sê:  ‘Ek kan myself nie vergewe nie.’  Om dit te sê is hoogmoedig, omdat jy indirek sê dat jou standaard hoër is as die Here s’n (Hý het jou vergewe, maar jý kan nie).

 

[3] Bely jou sonde aan die persoon teen wie jy gesondig het. As jy sleg van iemand gedink het, hoef jy dit nie aan hom te bely nie, maar net aan die Here (ons is nie Katolieke nie).  As jy direk teen iemand gesondig het, moet jy dit bely (Jk.5:16).  Maak ook restitusie waar dit nodig is (bv. om die gesteelde goed terug te gee).  As jy voor ‘n groep mense teen iemand gesondig het, moet jy dit voor hulle bely.  Iemand het dit só opgesom:  ‘Secret sins, secret confession.  Private sins, private confession.  Public sins, public confession.’

 

Maar wat as die persoon teen wie jy gesondig het dit nie weet nie? Vra die Here vir wysheid.  In sommige gevalle mag jy dalk jou pêrels vir die varke gooi en wat heilig is vir die honde, as jy dit aan iemand bely wat voortaan alles in sy vermoeë sal doen om jou lewe hel te maak (Mt.7:6).  Só ‘n belydenis verheerlik nie die Here nie.  Maar as dit wat jy in die geheim gedoen het groot skade aan die Here se Naam, jou gewete en die gemeente sal maak indien dit uitkom, moet jy dit bely.

 

Sy wonderlike dade (v.20-25)

Terwyl Petrus vir Jesus op die strand gevolg het, het hy omgedraai en die geliefde Johannes gesien wat by die nagmaal naby Jesus gesit het en vir Hom gevra het wie Hom gaan verraai (v.20, 13:24-25). Toe hy hom dan sien het hy vir Jesus gevra:  ‘Maar wat van hom Here?’  Dit is asof hy gesê het:  ‘Johannes is my vriend.  Gaan hy ook ‘n martelaarsdood dood moet sterf soos ek?’

 

Jesus het gesê: ‘My plan is nie dieselfde vir almal nie Petrus.  As Ek wil hê dat hy moet lewe totdat Ek kom, dan is dit My besluit.  Jy hoef nie my planne vir almal te ken nie.  Sorg net dat jy My volg volgens die opdrag en plan wat Ek vir jou gegee het.’  Dit is hoe ons sy woorde in v.22 moet verstaan.

 

‘n Storie het toe onder die gelowiges versprei dat Johannes nie sou sterf nie (v.23). Maar dit is nie wat Jesus gesê het nie.  Hy het gesê:  ‘As Ek wil hê dat hy moet lewe totdat Ek kom, wat het dit met jou te doen?’

 

Dalk het Jesus bedoel dat Johannes nog sou gelewe het as Hy in 70 n.C. in oordeel Jerusalem gekom het (Mt.10:23, 16:28). Of miskien het Hy bedoel dat Hy vir Johannes tot by die wederkoms kon laat lewe het as dit sy wil was.

 

Dit is hierdie Johannes wat dié boek onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het (v.24, 14:26, 16:13-15).  Dit is hý wat ‘n ooggetuie van Jesus se Persoon, lering, wonderwerke, kruisdood en opstanding was (v.24, 20:30-31).  Sy gewete en die Heilige Gees het getuig dat hy die waarheid praat (v.24, 15:27, 19:35).

 

Die dinge wat Johannes oor Jesus geskryf het is nie al wat Hy gedoen het nie (v.25).  Jesus is ook die Een wat die heelal geskep het, wat die wêreld onderhou, en wat baie ander wonderwerke gedoen het (v.25, 1:1-3).  As al die werke van hierdie wonderlike God-mens opgeteken moes word, was die biblioteek van die wêreld nie naastenby groot genoeg nie (v.25, Job 5:9, Ps.40:6).

 

D.A. Carson sê: ‘It is as if John has identified himself (v.24), but is not content to focus on himself… He must close by saying his own work is only a minute part of all the honours due the Son.’[2]

 

En wanneer ons dít besef kan ons nie anders as om hierdie wonderlike Man, hierdie wonderlike God, te volg nie.  Wie is so ryk in sy deernis, liefde, barmhartigheid, genade, ontferming, vergifnis, goedheid, guns en verlossing soos Hy?  Wie is so divers en almagtig in sy dade soos Hy?  Wie kan so volmaak voorsien soos Hy?  Waar is daar ‘n versekeringsmaatskappy, mediese fonds of enigiemand anders wat so persoonlik vir jou welstand en toekoms omgee soos Hy (v.21-22)?

 

Nog nooit in die geskiedenis was daar iemand soos Hy nie, en ook in die toekoms sal daar nie so iemand wees nie. Geen held of wêreldberoemde kan met Hom vergelyk word nie.  Hy is ook nie net ‘n mens met buitengewone kragte soos die fiktiewe Superman en die Avengers nie.  Ons kan ook nie name soos Buddha en Mohammed in dieselfde asem noem as syne nie.  Hy is die unieke, spesiale, een-van-‘n-soort Seun van God (3:16).  Hy is die Messias, die Here wat as die ewige God aanbid moet word (1:1, 5:23, 20:28, 30-31).  En sy Naam is Jesus.

 

[1] Volgens oorlewering is dit presies wat gebeur het. Toe keiser Nero vir Petrus wou doodmaak, het hy uit Rome uit gevlug.  Jesus het langs die pad aan hom verskyn.  ‘Waarheen gaan U?’ het Petrus vir Hom gevra.  ‘Ek gaan om weer gekruisig te word,’ het Jesus geantwoord.  Petrus het toe teruggedraai en is onderstebo gekruisig.  Hy het gesê dat hy nie waardig is om soos sy Here gekruisig te word nie (John Foxe, Foxe’s Book of Martyrs, pp.12-13).

 

Ons kan nie met sekerheid sê dat dit so gebeur het nie. Maar ons kán sê dat Petrus die Here in sy dood vir Christus se onthalwe verheerlik het (v.19, 1 Pt.4:14-16, 2 Pt.1:14).

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.686