Skepties oor die opstanding

Sceptic

In die 18de en 19de eeu het mense gesê dat hulle verlig geword het. Vir hulle was die mens se vermoeë om te redeneer alles.  Geen regdenkende mens kon meer in die ‘feëverhale’ van Jesus se opstanding en wonderwerke glo nie.

 

Maar die bewyse van sy opstanding is oorweldigend, sodat die skeptiese mense wat dit verwerp eintlik dié is wat logiese denke by die venster uitgegooi het.  As jy Jh.20:19-31 met ‘n oop kop lees, sal jy dit sien.

 

Jesus en die dissipels (v.19-23)

Ek het eenkeer na ‘n inbel program geluister waarin ‘n ateïs gesê het dat daar meer bewyse vir die bestaan van ‘aliens’ is, as vir God se bestaan. As ‘n Christen negatief hierop reageer, sal hulle hom afskiet en sê dat hy bevooroordeeld is.  Maar as ‘n eks-ateïs soos C.S. Lewis negatief reageer, is dit ‘n ander storie; hulle kan nie sê dat hy bevooroordeeld is nie, omdat hy self op ‘n tyd aan húlle kant van die heining gestaan het.

 

En so is dit ook met die dissipels en Jesus se opstanding. As hulle dit verwag het, kon ons nog gesê het dat hulle gehallusineer het of dat hulle dit opgemaak het.  Maar nie een van hulle het dit verwag of eers geglo toe die vroue dit vir hulle vertel het nie (Lk.24:9-11).  Hulle was skepties en moes sy opstanding met hulle sintuie ervaar het voor hulle dit geglo het.  Ons hoef daarom nie skepties te wees en te wonder of die dissipels se getuienis van Jesus opstanding waar is nie.

*****

Jesus het reeds in v.11-18 aan Maria Magdalena verskyn, en daarna aan die ander vroue (Mt.28:9). In die middag het Hy aan nog twee dissipels verskyn wat oppad was na ‘n dorpie met die naam van Emmaus, en ook aan Petrus (Lk.24:13-32, 34, 1 Kor.15:5).

 

Toe dit aand geword het, was die dissipels bymekaar (v.19). Thomas was nie daar nie, en Judas ook nie (v.24, Mt.27:5).  Die tien apostels was daar, asook ‘n paar ander dissipels en die Emmaus-gangers wat oomblikke tevore daar aangekom het (v.19, Lk.24:33).  Hulle wóú nog vertel het dat hulle vir Jesus gesien het, maar die ander het hulle voorgespring en gesê dat Jesus aan Petrus verskyn het (Lk.24:34).  Daarna het die Emmaus-gangers ook húlle storie vertel (Lk.24:35).

 

Maar die opgewondenheid het nie hulle vrese gekeer nie: hulle was agter geslote deure, omdat hulle bang was vir die Jode (v.19).  As die Jode hulle Leier doodgemaak het, sou hulle sy dissipels nie gespaar het nie.  Maar die vrees in hulle harte kon nie die opgewondenheid demp nie.

 

Terwyl hulle stories uitgeruil het, het Jesus in hulle midde gestaan (v.19, Lk.24:36). Die teks sê nie dat Hy soos ‘n gees deur die muur geloop het nie (kontr. Lk.24:37-39).  Maar dit kan wees dat Hy in sy almag die geslote deur oopgemaak het, en dat die dissipels te ‘blind’ was om dit te sien (Lk.24:16, 32, Hd.5:19, 23, 8:39, 12:10, 18).[1]

 

Jesus het hulle met die tipiese Hebreeuse shâlôm gegroet.[2]  ‘Vrede vir julle!’ het Hy gesê (v.19).  Hy het dit meer as net ‘n blote ‘hello’ bedoel.  Die punt was eerder dat daar deur sy kruisdood vrede tussen God en die mens was (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Die dissipels was nie dadelik bly nie, omdat hulle gedink het hulle sien ‘n spook (Lk.24:37). Jesus het hulle gerusgestel en vir hulle gesê om aan sy hande, voete en sy te vat (v.20, Lk.24:39, 1 Jh.1:1).  Hy het die kruiswonde vir hulle gewys (Lk.24:40).  Hulle was verwonderd en bly (v.20, 16:22), maar het nogsteeds nie heeltemal geglo nie (v.20, Lk.24:41).  Jesus het toe ‘n stuk vis voor hulle geëet (Lk.24:41-43).

 

Omdat hulle nogsteeds bang was, het Jesus hulle met sy vrede verseker (v.21). Hy het toe hulle harte oopgemaak om die profesieë oor sy kruisdood en opstanding te verstaan (Lk.24:44-46).  Soos wat die Vader Hóm gestuur het om deur sy kruisdood vrede te bewerk, het Hy sy dissipels gestuur om hierdie boodskap van vrede aan al die nasies die verkondig (v.21, 3:17, Lk.24:47-48, Jes.52:7).

 

Daarna het Hy op hulle geblaas en gesê hulle moet die Heilige Gees ontvang (v.22). Wat het hierdie aksie beteken?  Jesus het nie bedoel dat hulle nou eers tot bekering gekom het nie.  Sy aksie het te doen gehad met die prediking van die evangelie, en nie met hulle persoonlike bekering nie (v.21-23).

 

Soos wat die Here in Gn.2:7 sy asem in Adam geblaas het, het Hy in Jh.20 gewys dat Hy deur die dissipels se evangelie-prediking ‘n nuwe skepping in mense se harte sou bring (v.21-23, 2 Kor.5:7).  Sommige dink dat die dissipels die Heilige Gees hier soos ‘n asem en druppels ontvang het, terwyl hulle Hom soos ‘n rukwind en stortreëns ontvang het op Pinksterdag.

 

Maar in v.21 het Jesus gesê dat Hy die dissipels stuur, terwyl Hy volgens Lk.24:49 en Hd.1:4-5, 8 duidelik gesê het hulle moet vir die uitstorting van die Heilige Gees wag voordat hulle uitgaan.  Dus was Jesus se opdrag in v.21 ‘n voorskou van wat hulle ná sy hemelvaart moes doen.

 

Net so was sy aksie in v.22 ‘n waarborg dat Hy 50 dae later die Heilige Gees oor hulle sou uitstort.  As die vers beteken dat hulle reeds met die Heilige Gees gedoop is, dan was Thomas, die vroue, en baie ander dissipels nie daar om Hom te ontvang nie.

 

Die teks wys eerder dat Christus hulle deur die Gees bekragtig het om in die evangelie God se vergifnis vir mense te bring (v.23, Mt.16:18-19). Vir mense wat in hulle sonde volhard het kon die dissipels gesê het dat Here nie hulle sondes sal vergewe nie (v.23, Mt.18:18, 15-17).  Dié vers het dan niks te doen met Katolieke priesters wat maak asof hulle die volmag het om mense se sondes te vergewe nie.

 

Die punt van hierdie verse is eintlik om vir ons sterk bewyse van die opstanding te gee. Laat my asb. toe om te verduidelik.

 

[1] Soos hierbo genoem, het die skeptiese dissipels Hom gesien en aan Hom gevat. Is dit moontlik dat almal van hulle gehallusineer het – veral as Jesus op verskillende tye aan baie mense verskyn het (Hd.1:3, 1 Kor.15:5-8)?

 

[2] Deur die eeue het Christene wat vir hulle geloof vervolg is, ‘n onverklaarbare en bonatuurlike vrede ontvang (v.21, 14:27, 16:33). Is dit moontlik om op die brandstapel jou lewe vir Jesus te gee en liede te sing, as jy nie seker is dat Hy regtig opgestaan het nie?

 

[3] Mense wie se gewetens hulle gepla het, het vrede ontvang toe hulle in Christus geglo het en vir sy vergifnis gevra het (v.19, 21, 23, 26). Hulle en dié wat hulle ken kan daarvan getuig dat hulle lewens handomkeer verander het.  Ja, die Gees van die lewende Christus het hulle lewens getransformeer (v.22).

 

Wie anders as Jesus kan maak dat depressiewe mense blymoedig geword, dat twisgierige mense vredeliewend word, dat harde mense sag word, dat chaotiese mense ordelik word, dat slegte mense goed word, dat ongeduldige mense geduldig word, dat onrein mense rein word, dat nors mense vriendelik word, dat vuil mense skoon word, dat dronk mense nugter word?

 

Jesus en Thomas (v.24-29)

Die Jehova’s Getuies het ‘n paar teorieë om te verduidelik hoekom Thomas vir Jesus sy Here en God genoem het. Volgens een teorie het Thomas by die Here God gesweer dat hy nou in Jesus se opstanding glo.  Volgens ‘n ander teorie het Thomas vir Jesus here of mnr. genoem, en daarna vir God aanbid.  ‘n Ander teorie sê dat hy so geskrik het, dat hy ‘Here’ en ‘God’ as vloekwoorde gebruik het.

 

Maar geeneen van hierdie teorieë kan teen die konteks van Johannes, of teen die res van die Skrif opmeet nie. Die botsende teorieë wys ook dat hulle nie ‘n idee het van wat die teks eintlik beteken nie.

 

‘n Vrou wat saam met my suster werk, het vir haar gesê om Johannes te lees. ‘As jy dít doen, sal jy besef dat Jesus nie God is nie,’ het sy gesê.  Die waarheid is dat Johannes presies die teenoorgestelde wil wys.  Min verse wys dit duideliker as Jh.20:28.

*****

Thomas die tweeling [Gk. Didumos] was een van die twaalf (‘n generiese term), maar was nie daar toe Jesus aan die dissipels verskyn het nie (v.24).  ‘Ons het die Here gesien!’ het die ander vir hom gesê (v.25).  Hy het dit nie geglo nie, en het seker gedink dat hulle ‘n gees gesien het.  ‘Tensy ek nie die spykermerke en die sy-wond sien en daaraan vat nie, sal ek nooit glo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het nie,’ het hy gesê (v.25, 4:48, Ps.22:17).

 

Agt dae later – getel van dié Sondag af tot by die volgende een – was die dissipels weer agter geslote deure bymekaar, en was Thomas by hulle (v.26, 19). Soos in v.19 het Jesus op een of ander manier deur die geslote deure gekom en tussen hulle gestaan (v.26).  Weer het Hy hulle met die vrede van God se verlossing gegroet (v.26).

 

Jesus het toe vir Thomas die spykermerke in sy hande gewys en die wond in sy sy (v.27). ‘Sit jou vinger in die spykermerke en jou hand in my sy,’ het Hy vir hom gesê.  ‘Moenie ongelowig wees nie, maar gelowig’ (v.27).  Jesus se kennis van Thomas se geheime woorde en gedagtes het hom laat besef dat Hy God is (v.28, Ps.139:2).  Die opstanding het dit bevestig (v.28, Rm.10:9, Fil.2:9-11).

 

Thomas het toe bely dat Jesus die Here en God van die Ou Testament is (v.28, 1:1, 5:23, Ps.35:23). Hy het dit persoonlik gemaak toe hy van my Here en my God gepraat het (v.28).  Dit kon nie anders gewees het nie, omdat Jesus ook vir Thomas deur sy kruisdood en opstanding gered het.  Jesus het hom aangeprys omdat hy geglo het (v.29).  Daar was ook groot seën vir dié wat nié soos Thomas en die res van die dissipels vir Jesus gesien het nie, maar tog geglo het (v.29, 2 Kor.5:7, 1 Pt.1:8).

 

Dit is nie nodig dat jy vir Plato of Farao moes gesien het om te glo hulle het bestaan nie.  En net so kan ons op grond van die menigvuldige getuienis van ander glo dat Jesus uit die dood uit opgestaan het.  Vir mense soos die Ou Apostels en liberale teoloë, is dit genoeg dat Jesus ‘geestelik in jou hart’ opgestaan het.

 

Maar vir Thomas was dit nie genoeg nie. Hy wou vir Jesus gesien het en aan Hom gevat het.  Vir hom sou die liggaamlike opstanding bewys het of Jesus die Messias en die Seun van God is of nie.  Hy sou nie geval het vir ‘n akteur wat min of meer soos Jesus gelyk het nie.  Vir hom moes die liggaam wat hy gesien het dieselfde een gewees het wat gekruisig is; hy wou die merke in Jesus se hande en sy gesien het.  Maar hy was nie tevrede om dit net te sien nie, want anders kon iemand dit dalk met grimmering nagemaak het:  hy wou aan die wonde gevat het om te voel of dit eg is.

 

Wat moet ons uit Thomas se ongeloof leer? Ons moet leer dat ons partykeer net soos hy is, en sigbare bewyse soek voordat ons glo.  Maar dis nie altyd nodig vir sigbare bewyse voor ons glo nie (v.29).  Ek bedoel nie dat geloof ‘n blinde sprong in die donker is nie.  Trouens, geloof is gebasseer op Jesus se Persoon en op die historiese feite van sy kruisdood en opstanding.

 

Maar as ons in Jesus wil glo, moet ons die getuienis van mense kan aanvaar wat hierdie dinge met hulle eie oë gesien het, en dit in die Bybel opgeteken het. As ons nie hulle getuienis kan glo nie, sal niks ons oortuig nie (Lk.16:31).  Moet dan nie vir enige bewyse buite die Bybel soek nie, maar lees die getuienis van die vier Evangelies noukeurig om te sien of die apostels se getuienis waar is, en of Jesus regtig uit die dood uit opgestaan het.  Uiteindelik sal jy moet erken dat die Bybel waar is, en dat jy geen gronde het om dit te betwyfel nie.

 

Jesus en jy (v.30-31)

Ek onthou hoe ek 2½ jaar gelede vir een man en vrou gesê het om Johannes te lees. Hulle het teruggekom en geglo dat Jesus die Messias en die Seun van God is.  Hulle kon nie ophou om te vertel hoe wonderlik Hy is nie.  Ek het hulle vir ‘n jaar lank gedissipeleer, en vandag volg hulle nogsteeds vir Jesus.

 

Volgens v.30-31 is dit die rede hoekom Johannes die boek geskryf het, en sewe van Jesus se wonderwerke opgeteken het. Jesus het natuurlik baie meer as net sewe wonderwerke gedoen (v.30, 21:25).  Maar Johannes het dié wonderwerke opgeteken, sodat ons in Jesus kan glo, al het ons Hom nie gesien nie (v.29-31, Rm.10:17).

 

Die wonderwerke is eintlik tekens wat bewys dat Jesus die Seun van God en die Messias is (v.30). Die vermeerdering van die brood wys bv. dat Hy die Brood van die Lewe is (6:35), terwyl die opwekking van Lasarus vir ons wys dat Hy die Opstanding en die Lewe is (11:25).

*****

Wat bedoel Johannes wanneer Hy sê dat Jesus die Seun van God en die Messias is? ‘Seun van God’ beteken dat Jesus gelyk is met die Vader (Jh.5:18 e.v., 10:33, 36,vgl. Kol.1:19, 2:9, Heb.1:3).  ‘Messias’ beteken dat die Vader Hom gesalf of afgesonder het, om deur sy kruisdood en opstanding die Verlosser van sondaars te wees (Jes.53).  Aan dié wat só in Hom glo, sal God die ewige lewe in sy Naam gee (v.31, 3:15-16, 10:10, 17:3).

 

Niemand wat dan Jesus se volkome Godheid en sy Messiaskap ontken, kan die ewige lewe ontvang nie (v.31). Jesus het in 8:24 gesê dat dié wat nie glo dat Hy die God (EK IS) van Eks.3:14 is nie, in hulle sondes sal sterf.  Glo jy dit?  Het jy al sy Goddelike krag en lewe in jou hart ervaar?  Is jy vry van jou sonde, omdat Jesus jou gered het?  Is Hy jou persoonlike Here en Verlosser?  Wat help dit jy glo in sy wonderwerke en in sy opstanding, as jy nog nie die wonderwerk daarvan in jou lewe ervaar het nie?

 

‘n Outeur genaamd Lee Strobel het dit ervaar toe hy moeite gedoen het om Jesus se opstanding te ondersoek. Hy was skepties toe hy begin het, maar moes op die einde die knie voor die opgestane Christus buig.  Sy boek, The Case for Christ gee vir ons ‘n idee van die pad wat hy gestap het.  Ek hoop van harte dat jy hierdie selfde lewe ontvang het, en dat jy nie skepties sal wees oor Jesus se opstanding nie.

 

[1] Wayne Grudem gee ‘n volledige bespreking hiervan op pp.610-613 van sy Systematic Theology.

[2] Johannes het nou wel in Grieks geskryf, maar Jesus sou Hebreeus of Aramees met die dissipels gepraat het.