‘n Dankgebed vir die reën, vergifnis en beskerming

thanking-god-for-rain

Deur die jare het ek gesien hoe Christene in groot getalle saamtrek om vir reën te bid. Ek het al gesien hoe Christene vas dat hulle geliefdes tot bekering moet kom.  Verlede week het ek ‘n kort video gesien waarin ‘n boer vir Angus Buchan vra om die Christene bymekaar te roep om teen plaasmoorde te bid.

 

Ek kritiseer nie hierdie pogings nie. Maar ek het nog nooit gesien dat Christene ‘n massa saamtrek hou om die Here vir die reën, vir sy vergifnis en vir sy beskerming te dank nie.  Jerry Bridges het gesê:  ‘We are anxious to receive but too careless to give thanks.’[1]  In Ps.65 gee Dawid vir ons ‘n voorbeeld van wat dit beteken om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te dank.

 

God se vergifnis (v.1-5)

Ek onthou dat ek jare gelede ‘n klein boekie oor stiltetyd gekoop het. Êrens het die outeur gesê dat ‘n mens die Here elke dag vir jou redding en vir Jesus se kruisdood moet dank.  Ek het besef dat ek dit nie genoeg doen nie, en het van toe af probeer om daarop te let.

 

Dawid het dit ook gedoen. Nog voor hy die Here vir sy beskerming en vir reën gedank het, het hy Hom vir sy vergifnis gedank.  Dit is die sentrale boodskap van die eerste klomp verse.

 

Die Here het verdien dat sy volk Hom met stille bewondering [Heb. dûmîyâh] en lofgesange moes prys (v.1-2).  Hiervoor moes hulle na sy tent in Jerusalem of Sion toe gegaan het (v.2).  Hulle moes die geloftes wat hulle in hulle desperate nood gemaak het (‘Here, as U ons vandag help sal ons…’), aan die Here betaal het (v.2, Pd.5:3-4).  Hulle moes Hom geprys het as die Een wat hulle gebede verhoor het (v.2-3, Lk.11:9-10).  Mense uit alle nasies moes Hom hiervoor geprys het (v.3, 67:4-6, 68:32-33, 86:9, Jes.2:2-3, 56:7, vgl. Mt.21:13).

 

Israel het veral rede gehad om die Here te prys, omdat Hy haar sonde vergewe het (v.4). Toe dit vir Dawid gevoel het of sy sonde te sterk is vir hom (v.4, 38:5), het die Here ingegryp en versoening bewerk (v.4, 79:9).  Dit het Hy in die toekoms gedoen toe Hy ook vir Dawid se sonde aan die kruis gesterf het.  Die Ou Testamentiese offers het dit geïllustreer.

 

Dawid het ook die Here geprys omdat Hy vir Israel uitgekies het om naby Hom te wees (v.5, 33:12). Hulle moes nie gedink het hulle verdien dit nie (Dt.7:7-8), maar moes dit as ‘n voorreg en ‘n seën beskou het dat hulle in die Here se voorhowe met Hom gemeenskap kon hê (v.5, 23:6, 27:4, 84:5).  Hier sou sy goedheid en heiligheid hulle versadig het (v.5).

 

Wat leer ons uit v.1-5 van hierdie Psalm? Ons moet die Here vir ons verlossing prys, en Hom dank dat Hy ons uitverkies het (v.1-5).  Is dit iets waaraan jy gereeld dink, of is jy al so gewoond daaraan, dat jy dit vanselfsprekend neem?  Dalk moet jy jouself weer aan die diepte van jou sondige verlede herinner, sodat jy die Here se vergifnis op Golgota opnuut kan waardeer (v.4, 103:10, 12, 130:3-4).

 

Dalk moet jy ook daaraan dink dat God jou nie gered het omdat jy Hom gekies het nie, maar omdat Hy jou gekies het (v.5, Jh.1:12-13, 6:44, 65, 15:16, Rm.8:29-30, 9:11-18).  Hoekom het die Here vir Israel gekies en nie die ander nasies nie?  En hoekom het Hy besluit om jóú te red:  wat maak jóú so spesiaal dat Hy jou gekies het om naby Hom te wees (v.5, Jer.30:21, 1 Kor.1:26-31, 4:7, Ef.2:12-13)?  Dit is pure genade.  As jy dít onthou, sal jy Hom meer wil prys (v.5, 2, Ef.1:4-6).

 

Maar jy moenie net op jou eie die Here vir jou verlossing prys nie; jy moet dit ook saam met ander gelowiges doen (v.1-2). Dit moet vir jou lekker wees om saam met die gemeente te vergader om die Here se goedheid te geniet, en om Hom vir sy heiligheid te aanbid (v.5, Ps.122:1, Heb.10:24-25).

 

Ek dink nie ons besef watse groot voorreg ons het om deur Christus in God se troonkamer in te kom nie (Heb.10:19-22). God se kinders in die Ou Testament sou hulle voortande hiervoor gegee het, maar ons neem dit ligtelik op.  Ons bly maklik van die erediens af weg, omdat tant Sannie van Kakamas vir die naweek by ons kuier, of omdat die aanddiens met ons gunsteling TV-program inmeng.  Gelowiges wat vir geen goeie rede van die Here se huis af wegbly nie (v.5, 1 Kor.3:16), sal nie die vervulling van sy goedheid beleef soos dié wat getrou kom nie (v.5).

 

God se verlossing (v.6-9)

Jannie is 5 jaar oud. Sy pa is sy held.  Hy kan ‘n rugby bal oor die huis se dak skop, en het een keer ‘n kwaai hond met ‘n stok weggejaag.  Hy kan ‘n boom afkap, ‘n sak hondekos met een hand dra en vleis braai.  Hy het eenkeer dwarsdeur die nag Kaap toe gery, terwyl Jannie en sy sussie agter in die kar gelê en slaap het (Jannie weet nie dat sy ma ook gehelp bestuur het nie!).

 

Eendag toe boelie ‘n ander kind vir Jannie by die kleuterskool. Hy was baie bang en het nie geweet of iemand hom kan help nie.  Sy vrese het hom verlam.  Hy het skoon vergeet hoe sy pa ‘n kwaai hond ‘gewen’ het.  As hy dit maar net onthou het, kon hy vir sy pa gevra het om die boelie (en sy pa) uit te sorteer.

 

Net so was dit ook met Israel: as hulle die Here se almag in die skepping onthou het, sou hulle geweet het dat Hy hulle ook teen hulle vyande kan beskerm.  Dit is die boodskap in v.6-9.

 

Terwyl Israel in Egipte was, het hulle in hulle nood tot die Here geroep (v.3, Eks.2:23). Volgens sy regverdige karakter het Hy hulle met vreeslike dade gered, om só die God van hulle verlossing te word (v.6, 106:22, Dt.10:21, 2 Sm.7:23).  Deur sy kruisdood in die toekoms sou Hy ook die Hoop en Verlosser van die nasies aan die eindes van die aarde geword het, die nasies oorkant die see (v.6, 3, 22:28).

 

In die begin het Hy sy almag soos ‘n gordel om sy middel vasgemaak, en het Hy die reusagtige berge gevestig (v.7, 93:1). Omdat daar dan geen einde aan sy mag is nie (v.7, Jer.32:17, 26-17, Lk.1:37, 18:27, Ef.3:20), was dit glad nie vir Hom moeite om Israel van haar vyande te red nie (v.6).  Net soos wat Hy die see stilgemaak het (v.8a, 89:10, 107:29, Mt.8:26), kon Hy Israel se vyande stilgemaak het (v.8b, Jes.17:12-13).

 

Die nasies aan die eindes van die aarde het die Here se groot tekens gevrees en hulle daaroor verwonder (v.9, Eks.15:14-16, Jos.2:10-11). Hy is die God wat elke dag blydskap bring wanneer Hy die son laat opkom en wanneer Hy die maan en die sterre laat uitkom (v.9).  As Hy dan die skepping beheer (v.9), is dit glad nie vir Hom moeilik om sy volk te beskerm nie (v.6).

 

Dit beteken nie dat geen gelowige ooit die slagoffer van ‘n plaasmoord of ‘n verkragting sal wees nie. Die Here het immers gesê dat die wêreld ons gaan verdruk (Jh.16:33, Hd.14:22, 2 Tm.3:12).  En tog weet ons dat die Here eendag teen sy kinders se vyande gaan optree.  Hy sal die duiwel, die Moslems, die Kommuniste en elke ander vyand van sy hemelse Bruid oordeel (v.8b).  Al raas hulle nou soos die golwe van see, sal hulle nooit die Here se kerk oorweldig nie (v.8, Mt.16:18).

 

Ons moet die Here dank dat geen moord of enigiets anders ons van sy liefde kan skei nie (Rm.8:38-39). Dit kan ons nie uit sy hand uit ruk of ons siele beskadig nie, en daarom hoef ons nie in vrees te lewe vir dié wat die liggaam kan doodmaak, maar daarna niks kan doen nie (Mt.10:28, Jh.10:28-29).

 

Die Here kan en sal selfs die slegte omstandighede tot ons voordeel uitwerk, en dit gebruik om ons meer soos Jesus te maak (Rm.8:28-29). Hy sal ons deur die wêreld se landmyne van sonde lei, sodat ons veilig aan die anderkant uitkom (2 Tm.4:18).

 

Ek probeer nie sê dat jy net vir geestelike beskerming moet bid, en dat die beskerming van jou liggaam onbelangrik is nie. Dis reg dat jy teen plaasmoorde en ander misdade in ons land bid.

 

Maar ons moenie van die beskerming van jou siel vergeet nie. Dit help nie dat jou liggaam veilig is omdat jy nou in Australië bly, terwyl jou siel in gevaar is nie (Mt.16:26).  Moet dan nie nalaat om Mt.6:13 te bid (‘Lei ons nie in die versoeking nie, maar verlos ons van die Bose’), en dan die Here te dank wanneer Hy jou gebede beantwoord nie.

 

God se voorsiening (v.10-14)

In sy goedhartige liefde het die Here ‘n manier om meer te gee as wat ons nodig het. As Hy klaar vir mense kos gegee het, is daar 12 mandjies vol van vis en brood oor wat hulle nie klaar geëet het nie (Mt.15:20).  Ook as Hy vir ons reën gee, loop die damme oor.

 

Ons weet dat Hy soms ‘n goeie rede het vir waarom Hy die reën terughou. Maar sy normale patroon is om met ‘n oop hand vir die skepping te gee:  “U maak u hand oop en versadig alles wat lewe met welbehae.” (Ps.145:16).  Dit is ook hoe Dawid dit in v.10-14 gesien het.

 

Dawid het die Here geprys, omdat Hy die aarde met ‘n oorvloed van reën besoek het (v.10, 2). Hy het die dor en arm aarde ryk gemaak (v.10).  Die rivier of kanaal van God wat deur Jerusalem gevloei het (Ps.46:5, Jes.7:3), het vol geword sodat daar genoeg drinkwater was (v.10).  Daar was ook genoeg water vir die koringlande buite die stad (v.10).  Op hierdie manier het die Here vir sy volk brood voorsien (v.10).

 

Met die oorvloedige stortreën het Hy die geploegde lande goed nat gemaak, sodat die harde klonte en riwwe sag geword het (v.11). Hy het die grond met water deurweek en dit vrugbaar gemaak, sodat dit ‘n geseënde oes opgelewer het (v.11).  So het Hy die jaar met sy oorvloed gekroon (v.12).

 

In v.12 het Dawid gesê dat die Here se spore met vettigheid drup. Hy het bedoel dat daar ‘n oorvloed van kos en water is wanneer die Here met sy reënwolke by ‘n plek verbygaan.  Vertalings soos die ESV sê dat die plaaswaens se spore oorloop.  Die waens is so oorlaai dat die koring in die tweespoor paadjies val, terwyl hulle dit na die skure toe aanry.

 

Soos in Botswana se Okavango Delta, het die reën alles verander. Dit wat altyd ‘n woestyn was, was nou weiding (v.13, Job 38:26-27).  Oral het daar waterpoele gelê (v.13).  Soos Namakwaland in die blommeseisoen, het Israel se heuwels haar vrolike blommerok aangetrek, haar Sondag beste om die Here te verheerlik (v.13).

 

Die groen weivelde het ‘n vuil wit woltrui met bruin en swart knope gedra: oral in die veld het skape en bokke die sappige en voedsame gras geniet wat die Here voorsien het (v.14).  En so het die Here deur die skape en die bokke vir sy volk klere, vleis, melk en kaas voorsien.  Hy het ook die valleie met goudkleurige koring oordek (v.14).  Saam met die res van die aarde het die goue koringare in die wind gedans en die Here met lofgesange geprys (v.14).

 

Om op hierdie manier dankbaar te wees is ‘n kenmerk van ‘n ware gelowige (Ps.50:23, Lk.17:11-19, Rm.12:1, Fil.2:14). Kan dit anders wees as die Here jou met soveel oorvloed geseën het?  Hy het jou geseën met alle geestelike seëninge in die hemel in Christus (Ef.1:3).  Hy het jou gekies, gered, vergewe, aangeneem en vir jou ‘n erfdeel in die hemel gegee (v.2-6, Ef.1:4-14).

 

Sy genade is so oorvloedig dat dit al jou sonde bedek (Ps.51:3, Jes.55:7, Rm.5:17, 20). Hy het sy oorvloedige liefde en lewe deur die Heilige Gees in jou hart uitgestort (Jh.10:10, Rm.5:5).  Hy antwoord jou ver bo wat jy kan bid of dink (Ef.3:20).  Die troos wat Hy gee wanneer jy swaarkry is oorvloedig (2 Kor.1:5).  Die reën en kos wat Hy gee is meer as ‘n dag se voorraad, meer as wat jy kan hanteer of nodig het (v.10-14).

 

Die voorregte van die liggaam van Christus, mediese sorg, godsdiensvryheid, die Bybel in ons eie taal, geleenthede om geestelik te groei deur goeie boeke, preke, DVD’s, die internet, konferensies en meer, getuig van die Here se goedheid. Verstaan jy nou hoekom jy nie moet nalaat om die Here te dank wanneer jy in jou stiltetyd bid nie (Fil.4:6, Kol.4:2, 1 Ts.5:17-18)?

 

Mense wat ondankbaar is en alewig kla, dink te veel van hulleself. Hulle dink dat hulle beter verdien, en kla dan as hulle dit nie kry nie.  As jy egter besef dat jy die hel verdien, sal jy dankie sê vir enigiets meer wat die Here jou gee.

 

Om in konstante ondankbaarheid te lewe is ‘n kenmerk van ongelowiges (Rm.1:21). Net soos ons, weet hulle hoe om vir reën en ander dinge te bid wanneer die krisis tref.  Maar wanneer die Here vir hulle deurkom, gee hulle nie vir Hóm die krediet nie.  Hulle prys hulleself en hulle eie vermoeëns, die chirurg wat hulle geopereer het, of die wonderlike tegnologie wat geniale slim mense uitgedink het.  En selfs dít doen hulle nie vir lank voordat hulle weer oor iets anders kla nie.

 

Hulle is soos die minister van water en sanitasie (Nomvula Mokonyane) wat op 7 Nov.2016 vir reën gebid het. Toe die Here op 10 Nov.2016 reën gegee het, toe sê sy:  ‘We didn’t pray for floods, we prayed for rain.  It feels like we were robbed.’

 

So is die wêreld vir jou: wanneer dit droog is kla hulle, en wanneer dit reën kla hulle.  Ek onthou hoe dit heerlik gereën het ná Januarie 2016 se hittegolf.  ‘n Omroeper van ‘n populêre radiostasie in Johannesburg het gekla, omdat ons vir ‘n week nie die son gesien het nie.

 

Moenie soos die wêreld wees nie, maar dank die Here in alle omstandighede – of dit nou te veel gereën het of te min (Ef.5:20, Job 1:21). Laat die Here se antwoord op jou gebede jou aanspoor om Hom te dank, maar ook om te bid dat die Wes-Kaap goeie reën sal kry.

 

Moet asseblief nie dink dat sommige plekke in ons land nog droog is, omdat hulle groter sondaars is as ons nie. “Nee, sê Ek vir julle; maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.” (Lk.13:3, 5).

 

As ons ons nié bekeer en glo dat Jesus Christus die enigste Verlosser van sondaars is nie, sal die lieflike reën wat ons oor die afgelope vier maande geniet het, ‘n getuie teen ons wees op die oordeelsdag. Die reën sal jou daaraan herinner “dat dit [God] is wat die goeie dinge gee:  Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” (Hd.14:17, NAV).

 

Ek wil jou aanspoor om die Here vir sy vergifnis, verlossing en voorsiening te vra. Moet asseblief nie terughou of skaam wees nie; die Here gee graag.  Maar wanneer Hy hierdie dinge gegee het, moet ons nie nalaat om Hom daarvoor te dank nie.

 

[1] The Practice of Godliness, p.101