Die ware weergawe van Jesus se kruisdood

jesus-on-cross

Soos jy seker weet verkondig National Geographic se ateïste, Tukkies se liberale teoloë, Hindoes, Moslems en ander vals godsdienste ‘n weergawe van Jesus se kruisdood wat nie met die Bybel strook nie.

 

Op die ou end gaan dit oor die bron wat jy as gesaghebbend beskou. Vir die wêreld is hierdie bronne godsdienstige boeke, antieke geskrifte uit die 2de en 3de eeu n.C., vals profesieë, en ander buite-Bybelse bronne.  Vir gelowiges is dit die vier Evangelies (Matteus, Markus, Lukas en Johannes), asook die res van die Ou- en die Nuwe Testament.

 

Vandag wil ek op een van hierdie bronne fokus, naamlik Jh.19:16b-37.

 

Die kruis (v.16b-18)

Omdat Jesus in ons plek vervloek en as onrein beskou is, het die Romeine Hom gelei om buite die stad gekruisig te word (v.16-17, Gn.3:23-24, Nm.5:1-4, 15:35-36, Mt.21:39, Heb.13:12).  Hy het self sy kruisbalk[1] gedra (v.17).  Omdat Hy ná sy géseling so baie bloed verloor het, het sy bloeddruk geval sodat Hy flou gevoel het en nie die kruis verder kon dra nie.  Die soldate het ‘n verbyganger genaamd Simon van Cirene gedwing om die kruis agter Hom aan te dra (Lk.23:26, vgl. 14:27).  ‘n Klomp mense het Hom gevolg en die vroue het gehuil (Lk.23:27).

 

Uiteindelik het hulle by ‘n heuwel gekom wat soos ‘n kopbeen gelyk het (v.17, Heb. Golgotha).  Om Hom te verdoof het die soldate vir Jesus ‘n galbitter wyn-en-mirre-mengsel gegee om te drink (Mt.27:34, Mk.15:23).  Hy het dit nie gedrink nie (Mk.15:23), omdat Hy by sy volle bewuste wou wees toe Hy in ons plek gely het.

 

Die soldate het toe die spykers deur sy hande en voete gedryf. Hulle het Hom tussen twee misdadigers gekruisig, om aan te dui dat Hy die hoof misdadiger is (v.18, Ps.22:17, Jes.53:12).  Hy het gebid dat die Vader hulle moet vergewe, omdat hulle nie die erns van hulle sonde besef het nie (Lk.23:34, Hd.3:17, 13:27, 1 Kor.2:8).

 

Die klag (v.19-22)

Toe ek in die kleuterskool was het die juffrou donkie ore gemaak, dit op jou kop gesit, en jou in die hoek laat staan as jy stout was. Sy wou gehad het dat almal moet sien jy het die reëls oortree.  In Jesus se tyd moes mense wat gekruisig sou word ‘n bordjie om hulle nekke gedra het.  Die aard van hulle oortreding het daarop gestaan.  Nadat hulle gekruisig is, is die bordjie bo hulle koppe vasgemaak.

 

So was dit ook met Jesus (v.19, Mt.27:37). Hy is naby die stad gekruisig, en daarom het almal dit gesien (v.20).  Die klagte teen Hom was:  ‘Dit is Jesus van Nasaret, die Koning van die Jode’ (v.19, Mt.27:37).  Volgens die Romeinse wet het iemand wat homself ‘n koning genoem het die keiser teëgegaan, en moes hy gekruisig word (Lk.23:2-3, Hd.17:7).  Die ironie is dat Jesus regtig die Koning van die Jode was (v.20, Lk.1:32-33).  Eintlik was Hy ook die Koning van die Romeine en die Grieke, die Koning van die nasies (v.20, Ps.2:6-8, 22:29).

 

Die owerpriesters was nie tevrede met wat Pilatus geskryf het nie: ‘Moenie skryf dat hierdie indringer en bedrieër die Koning van die Jode is nie, maar dat Hy gesê het Hy is die Koning van die Jode’ (v.21).  Pilatus wou hulle terg en het vir hulle gesê:  ‘Wat ek geskryf het, het ek geskryf.’ (v.22).  God het bepaal dat dit so moes bly, aangesien Jesus regtig die Koning van die Jode was.

 

Die klere (v.23-24)

Het jy al ooit gedroom dat jy nie klere aan het nie en mense sien jou? Hoe het jy gevoel?  Hoe skaam en verneder moes Jesus nie gevoel het toe die soldate sy klere verdeel het, en Hy naak aan die kruis gehang het nie?

 

Maar dit het nie net oor die vernedering gegaan nie. Jesus het sonder klere gesterf, om die sondige naaktheid van ons siele met sy bloed en geregtigheid te bedek, net soos wat Hy dit in Gn.3:21 met Adam en Eva gedoen het (vgl. Rm.13:14, Op.19:8).  Moet dit nie vergeet wanneer jy v.23-24 lees nie.

 

Nadat die soldate vir Jesus gekruisig het, het hulle daar bly sit om seker te maak dat niemand Hom van die kruis afhaal nie (Mt.27:36). Terwyl hulle waggehou het, het hulle lootjies getrek om sy klere tussen die vier van hulle te verdeel:  sy skoene, gordel, bo-kleed en kopdoek (v.23, Mk.15:24).  Die lang onderkleed was van een stuk materiaal geweef, en daarom wou hulle dit nie geskeur het nie (v.23-24).  Hulle het lootjies getrek om te kyk wie dit sou kry (v.24).

 

So het hulle, sonder dat hulle dit geweet het, Ps.22:19 vervul: “Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.”  Hierdeur het die Here ook gewys dat Hy nie sy Seun se Koningskap van Hom af sou wegskeur soos in die geval van Saul en Salomo nie (1 Sm.15:27-28, 24:4, 1 Kon.11:29-31, 2 Sm.7:15).

 

Die vriende (v.25-27)

Die Joodse leiers, verbygangers, soldate, en misdadigers aan die kruise langs Jesus het Hom uitgelag en met Hom gespot (Mt.27:39-44, Lk.23:35-37).[2]  Maar daar was ook ‘n handjievol van sy geliefdes wat om die kruis gestaan het, wat tot die einde toe lojaal was aan Hom (v.25).  Hy was ook lojaal aan húlle, sodat Hy selfs aan die kruis aan ander se belange gedink het en nie aan sy eie nie (v.26-27).

 

‘n Vergelyking met ander Bybeltekste sal vir ons sê wie hierdie karakters was:

 

[1] Sy ma Maria (v.25). Toe Jesus aan die kruis gehang het, het ‘n swaard deur haar siel gegaan soos wat Simeon jare tevore geprofeteer het (Lk.2:35).

 

[2] Sy ma se suster Salome, die vrou van Sebedeüs en die ma van Johannes en Jakobus (v.25, Mt.27:56, Mk.15:40, 3:17).

 

[3] Maria die vrou van Klopas, die ma van Jakobus die kleine en Joses (v.25, Mk.15:40).

 

[4] Maria Magdalena uit wie Hy sewe demone gedryf het (v.25, Lk.8:2). Ek wonder of enige van die dissipels so lojaal was soos sy (20:1, 11)?

 

[5] Die geliefde apostel Johannes vir wie Hy gevra het om sy weduwee-ma op te pas, aangesien Josef al dood was en sy eie broers nie in Hom geglo het nie (v.26-27, 21:20-24, 7:5). Johannes het gedoen wat Jesus gevra het (v.27).

 

Die voltooiing (v.28-30)

Toe Jesus aan die kruis was, het dit teen 12:00 donker geword. Vir omtrent drie ure het die son nie geskyn nie (Lk.23:44-45).  Om 15:00 het Jesus uitgeroep:  ‘My God, My God!  Waarom het U My verlaat?’ (Mt.27:46).  Onmiddellik het mense sy woorde verdraai en Hom gespot.  ‘Hy roep vir Elia!’ het hulle gesê (Mt.27:47).

 

Jesus het geweet dat Hy die Ou Testamentiese profesieë, skadubeelde, tipes en offers volbring het (v.28, Gk. tetelestai).  Om ‘n laaste Skrif te vervul, en ook a.g.v. ‘n geweldige bloedverlies het Hy gesê:  ‘Ek is dors’ (v.28, Ps.22:16).

 

Die soldate het ‘n spons vol van goedkoop suurwyn op ‘n hissoptak gesit en vir Hom gegee (v.29, Ps.69:21, Eks.12:22, Ps.51:9). Terwyl Hy gedrink het, het die soldate aangehou gespot:  ‘Wag, kom ons kyk of Elia gaan kom om Hom van die kruis af te haal!’ (Mt.27:49, Mk.15:36).

 

Toe Jesus klaar die wyn gedrink het, het Hy met ‘n harde stem uitgeroep: ‘Dit is volbring!  Vader, in U hande gee Ek my gees oor!’ (v.30, Gk. tetelestai, Mt.27:50, Lk.23:46).  Jesus het nie gesê dat Hy klaar is nie, maar dat Hy die werk van verlossing voltooi het.  Hy het toe sy kop vooroor gebuig en sy laaste asem uitgeblaas (v.30, Lk.23:46).

 

Dit het nie gewoonlik so gewerk met dié wat gekruisig is nie. Hulle het hulle koppe opgetel om nóg ‘n asem te kry.  Sodra hulle die laaste asem uitgeblaas het, het hulle koppe vooroor geval.  Maar met Jesus het dit anders gewerk, omdat Hy uit sy eie besluit het om sy lewe in die Vader se hande oor te gee en sy asem uit te blaas (v.30, 10:18, Lk.23:46).

 

Toe Hy dan sy asem uitgeblaas het, was daar ‘n geweldige aardbewing en het God die tempelgordyn van bo na onder geskeur (Mt.27:51). So het Hy gewys dat die pad na die hemel toe oop is vir dié wat in sy Seun glo (Heb.10:19-22).

 

Die soldate wat by die kruis gestaan het, het die Here geprys en gesê: ‘Hierdie man was werklik die onskuldige Seun van God!’ (Mt.27:54, Lk.23:47).  Die bedroefde skare het na hulle huise toe teruggekeer (Lk.23:48).  Baie van die vroue-dissipels wat van Galilea af gekom het, het op ‘n afstand gestaan en kyk (Mt.27:55-56, Lk.23:49).

 

Die vervulling (v.31-37)

Die Moslems glo nie dat Jesus regtig dood was nie. Sura 4:157-158 in die Qur’an sê:

 

‘…they said (in boast), ‘We killed Christ Jesus the son of Mary, the Messenger of Allah’; – but they killed him not, nor crucified him. Only a likeness of that was shown to them.  And those who differ therein are full of doubts, with no (certain) knowledge.  But only conjecture to follow, for of a surety they killed him not: – Nay, Allah raised him up unto Himself.’

 

Sommige van hulle dink dat Judas Iskariot of Simon van Cirene in sy plek gesterf het. Ander sê dat Hy voor sy dood van die kruis af gekom het en hemel toe is.  Maar as Jesus nie regtig gesterf het nie, is sy opstanding niks meer as ‘n fiktiewe ontwaking uit ‘n diep koma nie.  Die vraag wat ons moet beantwoord is of Jesus regtig gesterf het of nie?  En hiermee help v.31-37 ons.

 

Dit was die dag van voorbereiding vir die Pasga of die Fees van Ongesuurde Brode, asook die voorbereiding vir die Sabbat (v.31, 14, Lk.22:1, 23:54, 56). Dit het reeds aand se kant toe gestaan (Mt.27:57).  Die Sabbat het om 18:00 begin, en geduur tot die volgende aand 18:00.  Die teks sê dat dit ‘n groot Sabbat was (v.31).  Wat beteken dit?

 

Wanneer die Jode hulle Feeste gevier het, het hulle sekere dae van die Fees as ‘n rusdag of Sabbat gevier (Eks.12:16). Hierdie Sabbatte kon op enige dag van die week geval het.  As dit egter op ‘n Saterdag geval het, het hulle dit as ‘n ‘groot’ Sabbat beskou.  So was dit toe Jesus gekruisig is (v.31), wat beteken dat Hy op ‘n Vrydag gesterf het.[3]

 

Volgens Dt.21:23 moes mense wat aan ‘n hout gehang het voor sononder afgehaal en begrawe word (v.31). Die Joodse leiers het dus vir Pilatus gevra om die gekruisigdes se bene te breek.  As hulle bene gebreek is, kon hulle hulleself nie opgestoot het om asem te kry nie, en het hulle binne minute weens ‘n tekort aan suurstof doodgegaan (asphyxia).

 

Die soldate het die twee misdadigers se maermerries met ‘n yster hamer stukkend geslaan (v.32).[4]  Toe hulle by Jesus kom was dit nie nodig om sy bene te breek nie, omdat Hy reeds dood was (v.33).  Om dit te bevestig het een van die soldate ‘n spies tussen sy ribbes ingesteek, sodat die bloed en water wat op sy hart en longe was (perikardiale en pleurale vloeistof) uitgestroom het (v.34).[5]

 

Dit het bewys dat Jesus regtig dood was. Dit mag ook ‘n simboliese betekenis hê, naamlik dat ons deur Christus se bloed gereinig is en met die skoon water van wedergeboorte gewas is (3:5, Esg.36:25-27, 1 Kor.6:11, Heb.10:19, 22, 1 Jh.5:6-8).

 

Dit het ook gebeur om die Skrif te vervul. Sonder dat hulle dit geweet het, het die soldate God se raadsplan vervul (vgl. Hd.13:27, 29).  In Eks.12:46 en Nm.9:12 het die Here vir sy volk gesê om nie die paaslam se bene te breek nie.  Omdat Christus ons Paaslam is (1:29, 1 Kor.5:7), het hulle nie sy bene gebreek nie.  Ook in Ps.34:21 het Dawid gesê dat die Here die regverdige se bene bewaar, sodat nie een van hulle gebreek word nie. Jesus is die Regverdige Een van wie Dawid gepraat het.

 

Die soldate het ook Sg.12:10 vervul: “Hulle sal sien in wie hulle gesteek het.” (v.37).  Sg.12 gaan oor Jersualem wat deur haar vyande omring word.  Die Here het gesê dat Hy haar vyande sal verwoes, maar ook dat Jerusalem sou treur omdat sy die Here deurboor het.  Party van hulle sou in smart getreur het, en ander in berou en bekering.  So het die Jode dan in 70 n.C. getreur toe die Here Jerusalem deur die Romeine verwoes het (Lk.23:28-31).  Hulle sal ook in die toekoms ware berou oor hulle sonde hê, en treur dat hulle die Messias gekruisig het (Rm.11).

 

Hoe weet ons dat Johannes se weergawe van Jesus se kruisdood waar is? Hy was daar (v.26), en daarom kan ons weet dat sy getuienis betroubaar is (v.35, 21:24, 1 Jh.1:1).  Tog het hy nie net getuig om vir ons die feite te gee nie, maar sodat ons kan glo dat Jesus die Seun van God en die Messias van Ps.22 en Jes.53 is (v.35, 20:30-31).

 

Glo jy dit? Het jy al op Christus vertrou as die enigste Een wat jou van die komende oordeel van die hel en van jou sonde kan red?  Het jy jou al van jou sonde bekeer?  Het die Here al jou sonde vergewe?  Of is sonde nog jou baas, ‘n harde meester wat jou in jou gewete en in jou drome pla?  Wys die bose dinge waaroor jy dagdroom dat jy ‘n slaaf van die duiwel is?

 

As jy nog nie tot bekering gekom het nie, kan ek met absolute sekerheid sê dat jou hart swart is. As mense jou diepste geheime en jou gedagtes moet ken, sal jy nie meer vriende hê nie.  As jy nie ‘n gelowige is nie, het ek sopas jóú hart beskryf, nie waar nie?

 

As jy bereid is om dit voor die Here te erken, is daar hoop. Die liefde en vergifnis van God in Jesus se kruisdood is baie groter as jou bitter gedagtes en die bose dade van jou verlede.  Kom na die Here toe en sê vir Hom dat jy nie moerbeivlekke van sonde uit jou hart en gedagtes kan was nie.  Sê vir Hom jy is jammer oor die dinge wat jy teen Hom en sy Woord gedink, gedoen, gevoel en gesê het.  Sê vir Hom jy is jammer oor die soort mens wat jy is.

 

Sê vir Hom dat jy nie net die ware weergawe van sy kruisdood wil glo nie, maar dat jy daarop wil reageer. Sê vir Hom dat jy jou ou sondige natuur wil kruisig en nie meer vir jouself wil lewe nie.  Vra vir Hom om die Kaptein van jou skip te wees, en om beheer te neem van jou lewe.  As jy dít doen, sal Hy jou nie weier nie.  “Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” (6:37).

 

Is jy gered maar moedeloos oor jou sonde? Is jy depressief, omdat dit vir jou voel of sonde elke keer die oorhand kry?  Jy het besluit om maar die handdoek in te gooi.  Moet dit nie doen nie, maar kom terug na die kruis toe.  Is dit nie waar jy vir Jesus as die liefdevolle en sagmoedige Verlosser leer ken het nie?  Jou sonde is te sterk vir jou, maar is daar enige sonde wat Hý nie aan die kruis oorwin het nie (1 Jh.1:7, 3:8)?

 

Gebruik jy gereeld die middele wat Hy tot jou beskikking gestel het: die getroue bestudering, verkondiging en toepassing van die Woord, jou eie en ander se gebede, die gemeenskap van gelowiges, die nagmaal, die wapenrusting van God in Ef.6:10-18?  Moenie moed verloor nie my vriend, maar onthou Jesus se belofte dat Hy ‘n geknakte riet nie sal afbreek nie, en ‘n kers wat flou brand nie sal doodblaas nie (Mt.12:20).  Is dit nie hoe jy Hom leer ken het nie?

 

Dalk is jy ‘n ongelowige wat jou nie aan Jesus se kruisdood steur nie, of ‘n belydende ‘gelowige’ wat hardkoppig in jou sonde volhard. Hoe hard moet jou hart nie wees nie, om in die gesig van só ‘n groot liefde jou rug op die Here te draai?  Jy moet seker ‘n hart van klip hê om die bloedbesmeerde Verlosser van sondaars aan ‘n kruis te sien hang, en dan om te draai en weg te loop.  As Jesus se liefde vir sondaars nie jou hart kan smelt nie, is daar vir jou geen hoop nie.  Vir jóú wil ek net een ding sê:

 

“hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot saligheid veronagsaam wat… Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie… hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb.2:3, 10:26, 29).

 

Ek wil nie in jou skoene wees op die oordeelsdag nie. Maar dit is nog nie die oordeelsdag nie; daar is nog tyd om jou te bekeer.  Laat staan jou verdraaide idees oor die kruis.  Ek bedoel nie noodwendig dat jy ‘n verkeerde weergawe van Jesus se kruisdood gehoor het nie.  Dalk weet jy wat die Bybel hieroor sê, maar jy het jou nog nie bekeer en in die gekruisigde Christus geglo nie.  As jy doen wat ek hierbo gesê het, sal jy nie net intellektueel nie, maar uit persoonlike ervaring die ware weergawe van Jesus se kruisdood verstaan.

 

[1] D.A. Carson, The Gospel According to John, p.608

[2] Een van die misdadigers het later tot bekering gekom (Lk.23:39-43).

[3] Baie mense glo dat Jesus op ‘n Woensdag of ‘n Donderdag gekruisig is. Ek handhaaf nie hierdie siening nie, maar glo dat Hy op ‘n Vrydag gekruisig is.  My doel in hierdie preek is nie om die redes hiervoor te verduidelik nie.  Ek het in ‘n vorige preek gesê dat D.A. Carson in sy Johannes-kommentaar (pp.455-458) genoegsame bewyse lewer vir waarom Jesus op die Vrydag gekruisig is, en nie op die Woensdag of Donderdag nie.

[4] Carson, Ibid, p.622

[5] Alexander Metherell (M.D, Ph.D.), aangehaal in Lee Strobel, The Case for Christ, pp.266-267