Die probleem met Jesus

jesus-on-trial

Dit is so te sê onmoontlik om ‘n ongelowige daarvan te oortuig dat God sy belange op die hart dra. In sy gedagtes is die Here net teen hom, en wil Hy sy vreugde van hom af wegvat.  Dit is die leuen wat Adam en Eva van die begin af geglo het:  ‘Het God regtig gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?’

 

Maar as daar een plek in die geskiedenis is waar die Here gewys het dat Hy die sondaar liefhet en sy belange op die hart dra, dan is dit Golgota. Dáár het God gewys dat Hy tot die uiterste toe sou gaan om sondaars te red.  Dit is hartseer om te sien dat die mens, ten spyte daarvan, nogsteeds ‘n probleem het met Jesus.  Net die Here kan ‘n mens se opinie van Hom verander (soos wat Hy met Paulus gedoen het).  Mag die Here vandag Jh.18:28-19:16a gebruik om sy liefde vir ons te bevestig.

 

Die klagte (18:28-32)

Ek het al by ‘n vorige geleentheid vertel hoe die koerante in Spurgeon se dag leuens oor hom vertel het. Dit het gemaak dat sommige mense uit nuuskierigheid na sy preke kom luister het, en tot bekering gekom het.  Ek het laasweek gewys hoe God soewerein is oor die mens se sonde.  Nêrens sien ons dit beter as in Jesus se onregverdige verhoor en kruisdood nie.

 

Die Joodse Raad het vir Jesus ‘skuldig’ bevind en Hom voor 06:00 na Pilatus se hoofkwartiere toe gelei (18:28, 19:14, Mk.13:35, Lk.23:1). Dit was vroegoggend toe hulle daar aangekom het (18:28).  Hulle het iemand gestuur om vir Pilatus te roep, omdat hulle nie voor die Fees[1] onrein wou word, deurdat hulle in ‘n heiden se huis ingegaan het nie (18:28, Hd.10:28, Nm.9:1-14).  Hulle het egter nie omgegee oor die onreinheid van die haat in hulle harte nie!

 

Pilatus wou by die Raad geweet het wat hulle klagte teen Jesus was (18:29). Hulle het geen konkrete klagte gehad nie, en het daarom die emosionele kaart gespeel:  ‘As hierdie man nie bose dinge gedoen het nie, sou ons Hom nie aan jou oorgelewer het nie’ (18:30).  ‘Hoekom moet ék Hom oordeel; julle het mos ‘n wet waarvolgens julle Hom kan oordeel?’ het Pilatus gesê.

 

Maar toe die Romeine die land in 6 n.C. oorgeneem het, het hulle die Jode verbied om die doodstraf toe te pas.[2]  Die Joodse Raad het vir Pilatus hierop attent gemaak (18:31), en het in soveel woorde gesê dat Jesus die doodstraf verdien.  ‘Hy mislei die volk en sê dat ons nie belasting aan die keiser moet betaal nie; Hy het ook gesê dat Hy ‘n koning is.’ (Lk.23:2).  Vir die Romeine was hierdie baie ernstige oortredings, en was dit strafbaar met die dood.

 

Maar op dié manier het die Jode reg in die Here se hande in gespeel. Volgens God se plan moes die Jode nie vir Jesus gestenig het nie, maar die Romeine moes Hom gekruisig het (18:32, 12:32, Mt.20:19, 26:2, vgl. Hd.13:27, Jes.53, Ps.22).  Op hierdie manier het Hy in ons plek onder God se vervloeking gesterf (Gal.3:13, Dt.21:22-23).  Dit is tog wat die doringkroon gewys het, nie waar nie (19:2, Gn.3:18)?  Sien jy dan dat Jesus, en nie die Joodse leiers of Pilatus nie, in beheer was?

 

En 2000 jaar later het dinge nie verander nie. Wat ek in die vorige preek gesê het, sê ek weer:  wanneer mense jou kritiseer, valslik beskuldig, en jou onregverdig behandel, is God soewerein daaroor (Gn.50:20, Hd.2:23).  Jy kan met ‘n geruste hart weet dat jou Vader dit oor jou pad gestuur het, en dat Hy iets goed in gedagte het.  Hy sal dit vir jou voordeel uitwerk en jou meer soos Jesus maak (Rm.8:28-29).  Jy kan nie bid om soos Jesus te wees en dan dink dat jy nie vervolg gaan word nie.  As die wêreld Hom vervolg het, gaan hulle jou ook vervolg (15:20).

 

Dit beteken nie dat jy mense se sonde teen jou moet aanvaar, of dat jy moet maak asof dit reg is nie. Maar dit beteken dat jy jouself in sulke tye aan die Here se kragtige hand moet onderwerp, en nie geestelike ‘tantrums’ moet gooi nie (1 Pt.5:6).  Wees nederig genoeg om te besef dat jy nie self die situasie kan hanteer nie.  Om te dagdroom, die persoon terug te kry, iets aan hom of haar te doen, of dit te ignoreer in die hoop dat dit sal weggaan, gaan nie help nie.  Gee dit in gebed vir die Here, al moet jy dit ook 50 keer op ‘n dag doen (1 Pt.5:7).

 

Die ondersoek (18:33-38a)

Rika voel gefrustreerd. Oor die naweek het sy haar ma, vriendin, kollega en baas gebel, maar almal se fone is beset.  Sy het sopas vir Telkom gebel om te hoor wat aangaan, maar (kan jy dit glo!) selfs húlle fone is beset.  Sy wonder hoekom almal se fone eweskielik stukkend is.  Dink jy nie dat sy êrens moet begin wonder of die probleem aan haar kant lê nie?

 

En werk dit nie ook so in die lewe nie? Pilatus en Jesus het verskillende idees gehad oor wat dit beteken om ‘n Koning te wees, oor die waarheid en nog meer.  Êrens moes Pilatus besef het dat dit nie Jesus is wat verkeerd is nie, maar hy.

 

Hy het in sy kwartiere ingegaan en vir Jesus geroep. ‘Is jy die Koning van die Jode?’ het hy gevra (18:33).  ‘Hoekom vra jy?  Is dit omdat hieroor wonder, of omdat ander mense My daarvan beskuldig het?’ het Jesus geantwoord (18:34).  Jesus het eintlik hier gevra of daar getuies vir hierdie klagte was (vgl. 18:20-21).  ‘Moenie slim raak met my, asof ek ‘n Jood is wat onder jou koningskap staan nie.  Jy moes iets verkeerd gedoen het as jou eie volk en haar leiers jou aan my oorgelewer het.’  Dit is basies wat Pilatus in 18:35 gesê het.

 

Jesus het verduidelik dat sy Koninkryk nie van hierdie wêreld is nie (18:36, 6:15, Dn.7:14). As dit was, sou sy diensknegte geveg het om te keer dat Hy aan die Jode se bloedlus oorgelewer word (18:36, kontr. 18:11).  Maar omdat dit nie was nie, het Hy nie vir ‘n aardse koninkryk geveg nie.  Hy was die Goddelike Messias aan wie die Hemelse Koninkryk behoort het; Hy was nie ‘n bedreiging vir die Romeine soos wat die Jode voorgegee het nie.

 

‘So jy is ‘n Koning?’ het Pilatus gesê (18:37).  ‘Jy sê dat Ek ‘n Koning is, maar My en jou verstaan daarvan is nie dieselfde nie,’ het Jesus in effek vir hom gesê (18:37, Lk.23:3).  ‘Ek is as ‘n mens in hierdie wêreld gebore (1:14), maar kom nie van hierdie wêreld af nie.  Ek kom van die hemel af, en het gekom om van die waarheid te getuig.  Ek is die waarheid (14:6).  Dié wat die Vader aan my gegee het sal na die waarheid luister (10:3-5, 27, 1 Jh.4:6).’  Só moet ons Jesus se woorde in 18:37 verstaan.

 

Vir die wêreld is een van die probleme wat hulle met Jesus en die Christelike geloof het, die feit dat ons in absolute waarheid glo. ‘Wat is waarheid?’ wil hulle saam met Pilatus in 18:38a weet.  In hulle gedagtes bestaan daar nie so iets nie.  ‘Alle godsdienste kan reg wees,’ is hoe hulle redeneer.  ‘Jesus is vir jou die enigste weg, maar vir die ateïs, Hindoe en Moslem is dit anders.  Uiteindelik lei alle paaie na dieselfde bestemming toe.’

 

Omdat ongelowiges vir Jesus verwerp, het hulle nie ‘n benul van die waarheid nie. Satan verblind hulle om sy leuens te glo (8:44, 2 Kor.4:4).  Hulle dat daar nie so iets soos absolute waarheid is nie, maar hulle leef nie so nie.  Hulle is nie konsekwent nie.  Gestel die maatskappy dank hulle af.  Hulle gaan hof toe, en die hof sê vir die maatskappy:  ‘Volgens haar kontrak kan julle haar nie afdank nie.’  Sal die hof dit aanvaar as die maatskappy sê:  ‘Daar bestaan nie so iets soos absolute waarheid nie; vir haar beteken die kontrak dit, maar vir ons beteken dit iets anders’?

 

Net so kan ons nie maak asof alle godsdienste hemel toe lei nie. Jesus en die Bybel staan in direkte kontras met die godsdienste van die wêreld.  As Christenskap waar is, moet die res noodwendig vals wees.  Daar kan nie baie gode en een God wees nie.  Ons kan nie deur geloof alleen gered word, en deur goeie werke nie.  Jesus kan nie die enigste Verlosser wees, en een van baie paaie na die Vader toe nie.

 

Wie besluit wat waar is? Duidelik lê die besluit nie by mense nie, omdat ons nie hieroor kan saamstem nie.  Iemand wat in sy diepste wese waarheid is moet hieroor besluit.  Die waarheid is nie ‘n filosofie of opinie nie, maar ‘n Persoon.  Ondersoek gerus die Bybel om vir jouself te sien dat die dinge wat Jesus oor God, die mens, ons sonde, verlossing, ens. leer, ‘n akkurate weergawe van die werklikheid is.

 

Die uitspraak (18:38b-19:16a)

Toe die Sinode besluit het om homseksuele huwelike toe te laat, was daar baie mense wat gesê het hulle is klaar met die NG-Kerk. Party van hulle het ook opgepak en geloop.  ‘n Tydjie later het die Sinode die besluit omgekeer.  Vir my het dit gelyk of hulle dit gedoen het om die meerderheid tevrede te stel.  Dit is wat Pilatus in hierdie verse gedoen het.

 

Na sy gesprek met Jesus het hy weer buitentoe gegaan. ‘Ek vind geen skuld in die man nie,’ het hy vir die Jode gesê (18:38b, 8:46, Lk.23:4, 1 Pt.2:22).  Die Jode wou Hom dood gehad het, en het gesê:  ‘Oral waar Hy kom veroorsaak Hy oproer, van Judea af tot in Galilea.’ (Lk.23:5).  Omdat Jesus ons skuld op Homself geneem het, het Hy nie op die klagtes gereageer nie (Mt.27:12-14, Jes.53:7).

 

Jesus is na Herodes toe gestuur en weer terug na Pilatus toe (Lk.23:6-11). Pilatus het vir die Joodse Raad en die volk laat weet dat nie hy of Herodes gedink het dat Jesus iets gedoen het om die dood te verdien nie (Lk.23:13-15).  Sou hulle tevrede gewees het as hy vir Jesus ‘n ligte straf gegee het, en Hom daarna volgens die jaarlikse gebruik vrygelaat het (18:39, Lk.23:16)?  Hulle wou niks hiervan geweet het nie.  Pilatus moes eerder die moordenaar en oproermaker Barabbas vrygelaat het, en vir Jesus gekruisig het (18:40, Mt.27:21-25, Lk.23:19-20, Hd.3:14).

 

Pilatus wou nie in die moord gedeel het nie, en het toe sy hande in onskuld gewas (Mt.27:24). Maar as hy onskuldig was, sou hy nie die Jode se versoek toegestaan het nie.  Hy sou ook nie vir Jesus laat gésel het nie (19:1).  Volgens 19:1 en Mk.15:15 het Pilatus voor en na die vonnis vir Jesus laat gésel.  Die eerste géseling of fustigatio was ‘n ligte straf, waarin Pilatus probeer het om simpatie by die Jode te wek, sodat hulle Hom sou vrylaat.

 

Toe dit en die ander pogings in 19:2-15 nie gewerk het nie, het hy Hom weer laat gésel.  Die flagellatio of verberatio géseling was onmenslik en brutaal.  Die soldate het ‘n kort sweep met stukkies been en metaal aan die los eindpunte gebruik.  Hulle het die slagoffer om die beurt geslaan, totdat hulle moeg was.  Dit was so erg dat slagoffers dit dikwels nie oorleef het nie.[3]

 

Ná die eerste géseling is Jesus voor Pilatus gebring waar 600 soldate met Hom gespot het (Mt.27:27): hulle het ‘n koninklike rooi-pers mantel oor Hom gegooi en ‘n doringkroon op sy kop gesit (19:2).  Om te wys dat hulle gode is, is antieke konings soms uitgebeeld met ‘n doringkroon wat van die dadelpalm gemaak is.  Dit is hoe die soldate nou met Jesus gespot het.  Hulle het ook ‘n riet in sy regterhand gesit, en gespot asof dit sy septer is (Mt.27:28-29).  Hulle het Hom daarmee oor die kop geslaan, Hom met die vuis bygekom, en sarkasties voor Hom gekniel (19:3, Mt.27:29-30, kontr. Fil.2:9).

 

Pilatus het die vernielde Messias met sy rooi-pers mantel en doringkroon na die volk en haar leiers toe uitgebring en vir hulle gesê: ‘Kyk, die patetiese man!  Hy is glad nie so gevaarlik soos wat julle dink nie, en daarom sal dit nie skade doen om Hom vry te laat nie.’ (19:4-5).  Die Jode wou nie na Pilatus geluister het nie.  ‘Kruisig Hom!  Kruisig Hom!’ het hulle uitgeroep (19:6).  ‘Man, as julle nie my oordeel wil aanvaar dat Hy onskuldig is nie, kan julle Hom self kruisig,’ het hy geantwoord (19:6).

 

Die Jode het volgehou: ‘Jesus het Homself die Seun van God gemaak, en volgens ons wet moet Hy daarvoor die doodstraf kry.’ (19:7, 5:18, 8:58-59, 10:30-33, Mt.26:63-66, Lv.24:16).  Die Hercules-tipe idee wat Pilatus van ‘n seun van die gode gehad het, het hom bang gemaak (19:8, Mt.27:19).  ‘Waarvandaan kom jy?’ het hy weer vir Jesus gevra (19:9, Mt.26:63).  Jesus het hom nie geantwoord nie, omdat Hy dit reeds in 18:36-37 gedoen het.

 

‘So jy wil nie met my praat nie?’ het Pilatus gesê. ‘Besef jy nie dat ek mag het om jou vry te laat of te kruisig nie?’ (19:10).  Die dapper Leeu van Juda het vir Pilatus gesê:  ‘Jy sou geen gesag oor My gehad het as My Vader dit nie vir jou gegee het nie (19:11, Dn.2:21, Hd.4:27-28, Rm.13:1, Op.19:16).  Daarom is Judas en Kajafas wat My aan jou oorgelewer het skuldig aan ‘n groter sonde.  Jy het nie mooi geweet wie Ek is nie, maar hulle weet presies.  Hulle het teen die lig gesondig’ (19:11, 9:41, Lk.12:47-48).

 

Pilatus was nou oortuig dat Jesus onskuldig is. In desperate vrees het hy probeer om Hom vry te laat, maar sy wispelturige persoonlikheid het hom nie toegelaat nie (19:12, Mk.15:15, Hd.3:13).  ‘As jy vir Jesus vrylaat is jy nie die keiser se vriend nie!’ het die Jode geskreeu (19:12).

 

Pilatus het al voorheen in hierdie muur in vasgeloop. Toe hy by ‘n vorige geleentheid droog gemaak het (Lk.13:1), het die Jode hom by die keiser aangekla.  Hy was reeds in die keiser se swartboekies.  As hy weer misgetas het, sou die keiser van hom ontslae geraak het.  Omdat die Jode dit geweet het, het hulle hom hiermee gemanupileer.

 

Vir Pilatus was sy eie posisie vir hom belangriker as geregtigheid. Hy het vir Jesus uitgebring en op sy regterstoel gaan sit om Hom te oordeel.  Ek wonder of hy geweet het dat Jesus hóm in die toekoms sou oordeel (5:22)?

 

Die stoel het op die mosaïek plaveisel van Gabbata gestaan (19:13). Dit was die dag van voorbereiding vir die Pasga of die Fees van van Ongesuurde Brode (19:14, Lk.22:1).  Dit was die sesde uur (19:14).  As ons soos die Jode van 6 uur af tel, was dit 12 uur in die middag.  Maar as ons soos die Romeine van middernag af tel, was dit 6 uur in die oggend.  Ek gaan met die tweede opsie, omdat Jesus teen 9 uur die oggend gekruisig is (Mk.15:25).

 

‘Aanskou julle hulpelose Koning!’ het Pilatus met die Jode gespot (19:14, 19). ‘Weg met Hom, weg met Hom, kruisig Hom!’ het hulle geroep (19:15, Hd.21:36, 22:22).  Hulle wou nie ‘n ‘Messias’ gehad het wat hulle nie van die Romeine se onderdrukking kon red nie.  ‘Moet ek julle Koning kruisig?’ het Pilatus verder gespot (19:15).  ‘Ons het nie ‘n ander koning as die keiser nie,’ het hulle gesê (19:15).  Hulle het die keiser gehaat, maar sou hom enige dag bo die Messias gekies het (vgl. 1:11, 1 Sm.8:7).

 

En so het hulle hulle sin gekry. Pilatus het vir Jesus aan hulle wil oorgelewer (19:16a).  Hy het dit hoofsaaklik gedoen omdat Hy ‘n ‘people pleaser’ was (Mk.15:15).  Die soldate het die rooi-pers mantel afgehaal en sy eie klere vir Hom aangetrek.  Daarna het hulle Hom uitgelei om gekruisig te word (Mt.27:31).

 

Vandag nog het mense ‘n probleem met Hom. Die wyse waarop hulle die Bybel en Christene vermy, ignoreer, spot, aanval en slegsê, gee vir jou ‘n aanduiding van wat hulle met Jesus sou gedoen het as Hy nog op die aarde was.  As hulle maar net geweet het hoe lief Hy hulle het.  As hulle net verstaan het dat Hy hulle sonde aan die kruis gedra het, en dat Hy in mense soos Barabbas se plek gesterf het (18:39-40, Jes.53:4-6).

 

As Koning, Messias, Seun van God, vlekkelose Lam, Plaasvervanger en Verlosser is daar nie ‘n sonde waarmee Hy nie kan afreken nie. Bring daarom die volle gewig van jou sonde na Hom toe, en erken dat jy dit nie self kan dra nie.  Sê vir Hom dat jy verlore is en dat jy ‘n Verlosser nodig het.  Prys Hom dan dat Hy nie onskuldig gepleit het nie (alhoewel Hy onskuldig was), omdat Hy jou skuld op Homself geneem het.  As jy in Hom glo sal Hy jou sonde vergewe en sy volmaakte geregtigheid op jou rekord plaas.  Nou kan jy die vryheid van sy vergifnis en ‘n skoon gewete geniet, omdat Hý nie op daardie donker dag vrygelaat is nie.

 

In my bediening het ek al te doen gekry met Christene wat ‘n probleem het met Jesus.  Hulle glo die duiwel, die vlees en die wêreld se leuens dat Jesus nie vir hulle omgee nie, en dat Hy van hulle vergeet het.  Ek wil vir jou vra om iets te doen as jy ooit weer so ‘n gedagte kry:  kom na die kruis toe om te sien hoe lief Hy jou het.  As jy lank genoeg by die kruis stilstaan en daaroor nadink, sal jy agterkom dat die probleem by jóú lê en nie by Hom nie.  En is jy nie bly dat Hy jou ten spyte daarvan nogsteeds liefhet nie?

 

[1] Party mense wonder dalk hoekom Jesus en die dissipels al die vorige aand die Pasga geëet het, terwyl die Jode in 18:28 dit eers die volgende dag geëet het. Omdat die Bybel die Woord van God is, hoef ons nie te dink dat dit ‘n fout in die Bybel is nie.  Dit is buite die skopus van hierdie preek om sulke ‘verskille’ op te klaar.  In sy kommentaar op Johannes, gee D.A. Carson ‘n breedvoerige verduideliking hiervan (pp.455-458).

[2] D.A. Carson, The Gospel According to John, pp.590-592

[3] Marvin Vincent, Vincent’s Word Studies, note on John 19:1 en D.A. Carson, Ibid, p.597