Soewereiniteit en sonde

sovereignty-and-sin

Omtrent 2½ jaar gelede het ek Gn.38 gepreek. My tema was:  God is soewerein oor sonde.  Êrens in verledejaar het ‘n man – iemand wat ek nog nooit ontmoet het nie – op die preek afgekom.  Hy het daarop gereageer en vir my ‘n brief geskryf.  Vir ‘n paar maande het ons oor en weer vir mekaar geskryf.  Ons het oor hierdie dinge verskil, en tog het ons uiteindelik ‘n vriendelike verhouding opgebou.

 

Ek weet tot vandag toe nie wat die spesifieke ding in die Gn.38-preek was waarmee hy nie saamgestem het nie. Vandag wil ek weer ‘n poging aanwend om uit Jh.18:1-27 te wys dat God inderdaad soewerein is oor die mens se sonde, sonder dat Hy daarvoor verantwoordelik is.

 

Jesus word verraai (v.1-11)

Volvo het al vir baie jare die reputasie dat hulle van die veiligste karre ter wêreld bou. En tog kan hulle nie waarborg dat niemand in ‘n Volvo sal doodgaan nie.  Maar met Jesus is dit anders, omdat Hy selfs ons negatiewe omstandighede kan gebruik om ons veilig tot in die hemel te bring.  In v.1-11 het ons ‘n illustrasie hiervan.

 

Jesus het klaar met die dissipels gepraat en vir hulle gebid (v.1, 17:1). Hulle het saam met Hom na die tuin van Getsemane toe gegaan (v.1).  Om daar uit te kom het hulle die Kidronspruit aan die ooste kant van Jerusalem oorgesteek, en toe teen die Olyfberg opgeklim (v.1).  Hulle het gereeld daar ontmoet, en Judas het dit geweet (v.2, Lk.21:37, 22:39).

 

Toe Jesus in die tuin ingekom het, het Hy vir die dissipels gesê om te bid (Mk.14:32-34, Lk.22:40). Daarna het Hy self verder gegaan en met bloed, sweet en trane gebid dat die Vader, as dit sy wil was, die beker van oordeel by Hom sou wegneem (Mk.14:35-36, Lk.22:43-44).  Dit het Hy drie keer gedoen terwyl die dissipels geslaap het (Mk.14:37-41).

 

Intussen het Judas m.b.v. die Joodse Raad ‘n afdeling soldate en die tempel polisie gaan haal (v.3). Die afdeling [Gk. speira] het bestaan uit enigiets van 200 tot 1000 soldate, en dit het nie eers die polisie ingesluit nie (v.3, 12).  Hulle getal en wapens het gewys dat hulle bang was (v.3, Mt.26:47, 2 Kon.1).  Hulle vakkels en lanterns het aangedui dat dit ‘n bewolkte aand was, omdat Paasfees altyd tydens volmaan gehou is (v.3).

 

Omdat Jesus die alwetende God is, het Hy van hulle bose planne geweet (v.4). Hy het hulle tegemoet gegaan en gevra wie hulle soek (v.4).  ‘Jesus van Nasaret,’ het hulle gesê (v.5).  Judas was gereed om Hom met ‘n soen uit te wys (Mk.14:44).  Maar Jesus het vir hulle gesê dat dit Hy is (v.5), en daarom was dit nodig vir die soen nie.  En tog was Judas se hart so verdraaid dat hy Hom in elk geval gesoen het (Mk.14:45, Lk.22:48, vgl. Sp.27:6).

 

Toe Jesus gesê het dat dit Hý is, het die polisie en soldate teruggedeins en op die grond geval (v.6).  Volgens die Griekse teks het Hy letterlik gesê:  ‘EK IS.’  Dit is die Naam wat God in Eks.3:14 van Homself gebruik het.  Soos in 8:58, het Jesus hierdeur vir hulle gesê dat Hy God is.  Met twee woorde het Hy honderde manne op die grond laat val.  As Hy wou, kon Hy ook 72 000 engele geroep het om Hom te help (Mt.26:53).

 

Jesus het weer gevra wie hulle soek, en weer het hulle dieselfde antwoord gegee (v.7). Dit het Hy gedoen om te wys dat hulle Hom soek, en dat hulle daarom sy dissipels moes uitlos (v.8).  So het Hy die gebed van 17:12 vervul:  “Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie” (v.9).  Die dissipels se geloof was nog nie sterk genoeg om staande te bly in vervolging nie.  God het dus hulle dus bewaar deur nie toe te laat dat hulle saam met Jesus gearresteer word nie (1 Kor.10:13).

 

Petrus het gedink hy is sterk genoeg, en het ‘n swaard getrek om vir Jesus te verdedig (Lk.22:49, 36, 38).  Hy het Malchus (die hoëpriester se dienskneg) se regteroor afgekap (v.10).  Hy het seker vir sy kop gegaan; die man het gekoes en het sy oor verloor.

 

Jesus het vir Petrus bestraf en gesê hy moet sy swaard bêre, omdat dié wat met die swaard lewe die doodstraf sal kry (Mt.26:52, Lk.22:51). ‘Jy kan buitendien nie met die swaard keer dat Ek die beker van God se toorn drink nie,’ het Jesus vir Petrus gesê (v.11, Jes.51:17, 22).

 

Toe Jesus klaar gepraat het, het Hy Malchus se oor aangeraak en dit genees (Lk.22:51). T.s.v. die wonderwerk het die tempelpolisie en die soldate hulle nie bekeer nie, maar Hom gevang (Lk.22:52).  Dit het gebeur omdat hulle boos was, maar ook sodat die Skrif vervul kon word (Mt.26:54-56, Lk.22:53).  Op daardie oomblik het al die dissipels weggehardloop (Mt.26:56).

 

Jesus word verhoor (v.12-14, 19-24)

Korrupsie is aan die orde van die dag. ‘n Vriend het my vertel hoe hy vir boetes moet begroot wanneer hy Zimbabwe toe gaan.  As jy twee driehoeke in jou kar het, beboet hulle jou omdat jy drie moes hê.  As jou lisensie reg is sê hulle jy moet $200 U.S. betaal, omdat jou nommerplaat te laag is en jou kopligte te hoog.  En as jy met hulle stry, dan wil hulle jou toesluit.  Niks het verander nie.  Dit was so toe Adam en Noag op die aarde was, en dit was so toe Jesus hier was.

 

Die soldate, hulle kaptein, en die tempelpolisie het vir Jesus gearresteer en Hom geboei (v.12). Hulle het Hom eers na Annas toe gelei (v.13).  Hy was die vorige hoëpriester.  Alhoewel sy skoonseun Kajafas die amptelike hoëpriester was, het almal nog vir Annas as die hoëpriester en leier van die Joodse Raad beskou (Hd.4:6).  In ‘n sekere sin het hy en Kajafas saam in die amp gedien (Lk.3:2).

 

Kajafas het in 11:49-50 vir die Raad gesê hulle moet vir Jesus doodmaak. ‘Eerder dít as wat die Romeine sien dat Hy baie volgelinge het en dink ons is besig met opstande.  As hulle dit in die minste vermoed sal hulle Jerusalem en die tempel vernietig.  Dit is beter dat een man vir die volk sterf as wat die Romeine die hele volk uitwis.’  Kajafas het nie eintlik besef wat hy gesê het nie.  Jesus het in die volk se plek gesterf, asook in die plek van die heidene (v.14, 11:51-52).

 

Jesus het voor Annas gestaan. Hy het vir Jesus oor sy dissipels en sy lering uitgevra (v.19).  Om v.9 te vervul het Jesus nie oor die dissipels gepraat nie.  Hy het ook nie vir Petrus verloën soos wat Petrus Hóm verloën het nie.

 

Wat Jesus se lering betref was dit ‘n skande dat Annas niks daarvan geweet het nie, want wat Hy eenkant vir die disspels gesê het, het Hy in die sinagoge en in die tempel gesê (v.20). Hoekom was Annas nie daar om sy Messias en God se lering te hoor nie?  Annas het vir Jesus aangekla sonder dat hy sy lering gehoor het, of enige getuies teen Hom gehad het (v.21).

 

Toe Jesus vir getuies gevra het, het een van die wagte Hom in die gesig geklap (v.22). ‘Is dit hoe jy die hoëpriester antwoord?’ het hy gesê (v.22).  Maar Jesus het niks verkeerd gesê nie – Hy wou net ‘n regverdige verhoor gehad het (v.23, kontr. Hd.23:2-5).  Die man het nie rede gehad om vir Jesus te klap nie (v.23, Sp.17:26).

 

Maar Annas was nie net van plan om Hom te klap nie, maar om Hom dood te maak. Om dit reg te kry moes Hy vir Jesus deur Kajafas, die amptelike hoëpriester, na Pilatus toe gestuur het.  Hy het Hom toe in boeie soontoe gestuur (v.24).  Matteus, Markus en Lukas vertel vir ons van die korrupsie wat dáár plaasgevind het.

 

Jesus word verloën (v.15-18, 25-27)

Ek het van ‘n Christen gelees wat sy vrou gelos het, die huis onder haar uit verkoop het, met ‘n ander vrou in sonde gelewe het, en toe alles verloor het. Hy was oppad om sy eie lewe te neem toe die Here hom gekeer het.  Hy het weer van die Here se ontferming en genade gehoor, hom bekeer, en ‘n toegewyde diaken in ‘n gemeente geword.  Jare later het hy in vrede en oorwinning gesterf, en is hy hemel toe.

 

Die Here verskoon nie gelowiges se sonde nie, en ons moet ook nie. En tog is geen sonde sterker as Jesus se kruisdood nie.  “waar die sonde meer geword het, het die genade nog meer oorvloedig geword” (Rm.5:20).  Geen sonde kan ons van Christus se liefde skei as ons eers tot bekering gekom het nie.  Dawid se egbreuk en moord kon nie, en Petrus se verloëning van Jesus kon ook nie.  Kan jy onthou wat daar gebeur het?

 

Petrus het weggehardloop toe die soldate vir Jesus in die tuin gearresteer het (Mt.26:56). Later het hy suutjies agter Jesus aangeloop (v.15, Mt.26:58).  Hy was bang en het op ‘n afstand gevolg (Mk.14:54).  Een van die ander dissipels (seker Johannes – sien 13:23, 19:26, 21:7, 20, 24) was saam met hom (v.15).  Dié dissipel het vir Annas geken en saam met Jesus in die hoëpriesterlike hof ingegaan (v.15, vgl. 19:26).  Dit is asof hy dadelik jammer was dat hy vir Jesus in die tuin verlaat het.

 

Petrus was nie. Hy het vir sy lewe gevrees en was bang om homself met Jesus te assosieer (v.16, Sp.29:25).  Dit is ook hoekom hy by die deur gewag het, en nie saam met Johannes in die binnehof ingegaan het nie (v.16).  Selfs toe Johannes vir die diensmeisie by die deur gesê het om hom in te laat, het hy buite gewag en gemaak of hy nie vir Jesus ken nie (v.16).

 

A.g.v. die koue lente aand het die diensknegte en tempel polisie ‘n koolvuur in die buitehof gemaak; hulle het daar gestaan om warm te word (v.18, Lk.22:55). Petrus wou nie agterdog geskep het nie, en het daarom saam met hulle om die vuur gaan staan (v.18, vgl. Ps.1:1).

 

Die diensmeisie wat vroeër by die deur was het nou vir Petrus in die vuur se lig gesien (v.17, Lk.22:56). ‘Is jy nie een van hierdie man se dissipels nie?’ het sy gevra (v.17).  ‘Ja, jy is.  Jy was saam met Jesus die Galileër.’ (Mt.26:69, Mk.14:67).

 

‘Nee ek was nie,’ het hy voor almal gelieg (v.17, Mt.26:70). ‘Ek weet nie waarvan jy praat nie vrou.’ (Mk.14:68, Lk.22:57).  Hy het na die hek toe gestap; die haan het die eerste keer gekraai (Mt.26:71, Mk.14:68).

 

Hy het weer na die vuur toe gekom om homself warm te maak (v.25). ‘n Ander diensmeisie het hom gesien en vir die mense om die vuur gesê:  ‘Hierdie man was saam met Jesus van Nasaret.’ (Mt.26:71, Lk.22:58).  ‘Is dit nie waar nie – jy is mos een van sy dissipels?’ (v.25).  Petrus het dit weer ontken en met ‘n eed gesweer:  ‘Man, ek is nie!  Ek ken nie die man nie.’ (v.25, Mt.26:72, Lk.22:58).

 

Omrent ‘n uur later het een van die hoëpriester se diensknegte (‘n familielid van Malchus wie se oor Petrus in die tuin afgekap het) gesê: ‘Het ek jou nie saam met Jesus in die tuin gesien nie?’ (v.26, Lk.22:59).  ‘Jy is tog ‘n Galileër; jou aksent gee jou weg,’ het hy gesê (Mt.26:73, Mk.14:70).

 

Petrus het God se vervloeking oor homself geroep en gesweer: ‘Ek ken nie die man van wie julle praat nie!’ (v.27, Mt.26:74, Mk.14:71).  Terwyl hy besig was om te praat, het die haan ‘n tweede keer gekraai (v.27, Mk.14:72, Lk.22:60).  Jesus het omgedraai vir Petrus in die oë gekyk (Lk.22:61).  Onmiddellik het hy Jesus se woorde onthou:  ‘Voor hanekraai aanbreek (Mk.13:35) en die haan twee keer kraai, sal jy My drie maal verloën.’ (13:38, Mk.14:72).  Hy het die voorhof verlaat, in trane uitgebars, en bitterlik gehuil (Mt.26:75, Mk.14:72).

 

Hoe moet ons hierdie verse toepas? Jesus het gesorg dat nie een van dié wat die Vader as ‘n geskenk aan Hom gegee het, verlore gegaan het nie (v.9, 17:12).  Die soldate se aggressie in die tuin, die hoëpriester se ondervraging oor Jesus se dissipels, en Petrus se verloëning in die buitehof kon dit nie gekeer het nie.  Geen mens se sonde kan die Here se planne stuit nie (Dn.4:35).  Hy sal selfs ons sonde gebruik om sy planne uit te werk.

 

Maar sy soewereiniteit oor mense se sonde beteken nie dat Hy die outeur daarvan is nie. God versoek niemand nie, en self word Hy nie versoek nie (Jk.1:13).  Hy is eerder die outeur van die outeur van sonde:  Hy het die duiwel gemaak, maar Hy het hom nie boos gemaak nie.  Satan het self besluit om sonde te doen, en so is dit ook die geval met die mens. [1]

 

En tog het God in sy ewige raadsplan besluit om die mens se sonde toe te laat, sodat Hy goeie dinge daaruit kon voortbring, net soos wat Simson heuning uit die leeu se karkas gekry het.

 

Die verhaal van Josef en sy broers, en Jesus se kruisdood wys dit die duidelikste (Gn.45:5, 8, 50:20, Ps.105:17, Hd.2:23, 4:27-28). God is in beheer van die bose dinge wat mense doen en van die dinge wat met hulle gebeur, alhoewel Hy nie direk daarvoor verantwoordelik is nie (Job 1-2, 2 Sm.24:1, 1 Kron.21:1, Jes.37:26, Am.3:6).  Sy intensies is goed, terwyl die instrumente wat Hy gebruik slegte motiewe het (Jes.10:5-7).  Verskeie verse in die Bybel wys dit:

 

  • A.g.v. Farao se hardkoppigheid het die Here Homself in die tien plae en by die Rooisee verhef (Eks.9:16).
  • Uit Juda se losbandigheid is een van die Messias se voorvaders gebore (Gn.38, Mt.1:3).
  • Deur Saulus se vervolging van die kerk het die evangelie versprei (Hd.8:3-4).
  • Omdat Paulus in die tronk beland het, het party van die wagte tot bekering gekom (Hd.16:24-34, Fil.1:12-14).
  • A.g.v. Dawid se egbreuk in 2 Sm.11-12 is Ps.51 in die Bybel opgeteken.

 

Weet dan dat die Here nooit met verbasing op mense se sonde reageer, sodat Hy soos ‘n amateur skaakspeler moet sê: ‘Ek het nie daai een gesien kom nie.’ Hy haat sonde, maar Hy gebruik dit ook om sy groter plan uit te werk. ‘He uses sin sinlessly,’ het iemand gesê.

 

Maar die feit dat Hy ons sonde gebruik beteken nie dat ons dit moet doen nie. Die Here het nie ons sonde nodig om sy planne te bereik nie. En tog troos sy soewereiniteit ons wanneer ons kniediep in die sonde beland soos Petrus. Ons hoef nie te dink: ‘Nou het ek die Here se planne opgemors’ nie.

 

Selfs in sulke oomblikke is Hy sterk genoeg om jou te behou, asook om goeie dinge uit jou sonde uit voort te bring. Hy vereis egter dat jy ware berou moet hê en jou van sulke dinge moet bekeer. En as iemand anders teen jou gesondig, kan jy ook met sekerheid weet dat Hý dit gestuur het, en dat Hy dit vir jou voordeel sal uitwerk (Gn.50:20, 2 Sm.16:10-11, Rm.8:28).

 

Dalk wonder jy hoe sonde enigsins die mens se keuse kan wees as God soewerein is daaroor. Die maklike antwoord is om te sê dat God in sy soewereiniteit gekies het dat die mense sekere keuses kan maak.

 

Volgens Wayne Grudem is dit ‘n bietjie soos William Shakespeare se karakter Macbeth. In die boek het Macbeth vir King Duncan doodgemaak, en tog kan ons ook sê dat Shakespeare, die outeur, die koning se dood veroorsaak het.[2] God is nie heeltemal so nie, omdat Hy nooit die oorsaak van mense se sonde is nie. En tog is Hy soewerein daaroor.

 

[1] Walter Kaiser, Revive Us Again, p.32

[2] Wayne Grudem Systematic Theology, p.322