Wanneer God bid

jesus-praying

Was jy al ooit in ‘n winkel of ‘n restaurant waar jy kon hoor waaroor die mense langs jou gepraat het? Om dit reg te kry moet jy uitblok wat om jou aangaan.  En so wil ek vra dat jy vir ‘n oomblik die dinge wat jou aandag kan aftrek, sal uitblok.

 

Kom saam met my. Jesus en die elf dissipels het reeds die bovertrek verlaat en was oppad Getsemane toe (14:31).  Maar voor Hy in 18:1 daar aangekom het, het Hy die wonderlike gebed van Jh.17 gebid.  Kom saggies nader en sit jou oor teen die grond om te hoor wat Hy daardie aand gebid het, om te hoor hoe dit klink wanneer God bid.

 

Jesus bid vir Homself (v.1-5)

B.B. Warfield was ‘n Amerikaanse teoloog wat in die 19de en 20ste eeu gelewe het. Hy het van Johannes Calvyn gesê dat geen mens ‘n dieper sin van God gehad het as hý nie.[1]  Sy hoë siening van God se heerlikheid het soos ‘n sterk parfuum deurgekom in sy boeke, lesings en preke.

 

En as dit waar is van Calvyn, hoeveel te meer nie van Jesus nie? Hy self is tog God soos wat die inhoud van hierdie gebed vir ons wys.  Maar die feit dat Hy gebid het, wys vir ons dat Hy ook ‘n mens is.

 

Toe Hy klaar met die dissipels gepraat het, het Hy met die Vader gepraat (v.1). As mens het Hy sy onderdanige afhanklikheid van die Vader erken, en in gebed na die hemel toe opgekyk (v.1, 11:41, Ps.121:1-2, 123:1-2).  Die uur van sy kruisdood het aangebreek (v.1).  Hy het vir die Vader gevra om Hom te verheerlik, sodat Hy die Vader kon verheerlik (v.1).  Deur sy dood aan die kruis sou Hy miljoene sondaars gered het, sodat hulle Hom en die Vader (en ook die Heilige Gees) verheerlik het.

 

Die Vader het aan Hom die gesag gegee om dié mense te red wat Hy voor die skepping van die wêreld as ‘n geskenk aan Hom gegee het (v.2, 6, 9, 24, 6:37, 39, 10:29, 18:9, Ef.1:4, 2 Tm.1:9, Tit.1:1-2). Die ewige lewe wat Hy aan hulle gee is nie die onbewustelike ewige bestaan waarin Buddhiste en Hindoes glo nie.  Dit is eerder ‘n intieme en persoonlike kennis van die enigste ware God en van Jesus Christus wat deur Hom na die aarde toe gestuur is (v.3).

 

Terwyl Hy op die aarde was het Jesus die Vader verheerlik deur die taak te voltooi wat Hy vir Hom gegee het (v.4, 19:30, Fil.2:8). Nou was Hy oppad terug na die Vader toe om die Goddelike heerlikheid te ontvang wat Hy gehad het nog voordat die wêreld bestaan het (v.5, 24, 1:1, Sp.8:30, 22-31, Fil.2:6-7).

 

Dit dui weereens vir ons aan dat Hy volkome God is, omdat God nie sy heerlikheid met enige iemand deel nie (Gn.48:11). Toe Hy dus in v.3 gesê het dat die Vader die enigste ware God is, het Hy nie bedoel dat nie God is nie.  1 Jh.5:20 sê dan vir ons dat Jesus, soos die Vader in Jh.17:3, die ware God en die ewige lewe is.  Jesus se bedoeling is eerder dat die Vader vir Hom die enigste ware God is.  Hy het as mens gepraat toe Hy dit gesê het (vgl. Ef.1:3, 17).

 

Wanneer dit by sy Goddelikheid kom, is Christus se heerlikheid vir ons so belangrik soos die Vader s’n (v.1-5, 24). Ook wanneer ons bid moet niks vir ons belangriker wees as dit nie.  Dit beteken nie dat jy nie vir jou geldsake, huwelik, of jou kind se redding mag bid nie.  Dit beteken egter dat God se heerlikheid ook in hierdie dinge vir jou ‘n prioriteit sal wees.

 

Wyle dr. Martin Holdt het van ‘n man en vrou vertel wat ernstig vir hulle dogter se redding gebid het. Toe daar vir jare niks gebeur het nie, het hulle moedeloos geword en gevas.  Die Here hulle daarvan oortuig dat hulle die verkeerd motief gehad het:  hulle wou hê dat hulle kind gered moet word, sodat sy nie hel toe gaan nie.  Maar eintlik moes hulle gebid het dat die Here haar sou red om Homself daardeur te verheerlik.  Hulle het toe begin om met die regte motief te bid, en ‘n maand daarna het sy tot bekering gekom.

 

Maar wat help dit ons bid as God buitendien in die ewige verlede besluit het wat Hy gaan doen? Dit het nie vir Jesus gekeer nie, omdat Hy geweet het sy Vader gaan hierdie dinge deur gebed tot vervulling bring (v.2, 5, 15, 17, 20-24).  God se soewereiniteit moet ons juis aanspoor om te bid, omdat net Hý dít kan doen wat Hy in sy Woord belowe het (bv. Dn.9:2-3).

 

Jesus bid vir die apostels (v.6-19)

Ouers wat hulle taak ernstig opneem sal alles in hulle vermoë doen om hulle kinders teen slegte invloede te beskerm. Hulle sal hulle kinders leer, waarsku, dissiplineer en liefhê, sodat hulle nie die pad byster raak nie.  Hulle kan dit egter nie waarborg nie.

 

Maar met die Here is dit anders: Hy kan hulle beskerm, sodat nie een van hulle verlore gaan nie.  Hulle mag dalk versoek word en afdwaal, maar omdat Hy in Jh.17 vir hulle gebid het (en volgens Heb.7:25 steeds vir hulle bid) sal hulle nie finaal wegval nie.

 

Terwyl Jesus op die aarde was het Hy die Vader se Naam aan die apostels bekend gemaak (v.6, Mt.13:11). Die Vader het hulle gemaak en aan die Seun gegee om deur die Woord vir Hom te lewe (v.6).  Deur hierdie Woord het hulle geweet dat Hy van die Vader af gekom het, en dat die Vader alles vir Hom gegee het (v.7-8):  hulle (v.6), dié wat in die toekoms gered sou word (v.2, 20, 24), die werk van verlossing (v.4, 18:11), God se woorde (v.8, 12:49-50, 1 Ts.2:13), God se Naam (v.11-12), God se heerlikheid (v.22, 24), alles (v.7, 16:15, 3:35).

 

Omdat die apostels dan aan Hom en die Vader behoort het, het Hy nie vir die ongelowige wêreld gebid nie, maar vir húlle sodat Hy in hulle lewens verheerlik kon word (v.9-10). Hy het vir die Vader gevra om hulle in sy kragtige Naam te bewaar – die Naam wat Hy ook vir die Seun gegee het (v.11, Fil.2:9).  Toe Jesus nog op die aarde was het Hý dit gedoen, sodat nie een van hulle verlore gegaan het nie (v.12, 10:28).  Maar noudat hulle alleen agtergebly het, het Hy vir die Vader gevra om dit te doen (v.11).  So sou hulle as ‘n eenheid tot in die hemel gekom het, net soos wat Hy en die Vader een was (v.11).

 

Judas was die enigste een wat uit die groep uit weggeval het (v.12). Hy was nie een van dié wat die Vader aan die Seun gegee het nie (v.6, 9).  Hy was die seun van die verderf wat aan die duiwel behoort het en in sy diens gestaan het (v.12, 6:70-71, 12:4-6, 13:2, 27, 2 Ts.2:3).  Hy was oppad hel toe (v.12, Hd.1:25).

 

Hy was soos ‘n vlooi op die Leeu se rug: hy het gekies waar hy wou loop – niemand het hom gedwing nie.  Maar met die vlooi op sy rug het die Leeu in die rigting geloop wat Hy van ewigheid af besluit en voorspel het (v.12, 13:18, Ef.1:11).  Die vlooi het nou wel sy bose planne uitgevoer, maar hy kon nie die Leeu se planne omverwerp nie (Lk.22:22, Hd.2:23, 4:27-28, Job 42:2, Jes.46:9-10, Dn.4:35).

 

Die ander elf apostels was nie soos Judas nie. Hulle het Jesus se lering in hulle harte ontvang, en daarom ook sy volkome blydskap ervaar (v.13-14).  Omdat hulle soos Jesus anders was, het die wêreld hulle gehaat (v.14, 15:18-19, 1 Pt.4:3-4).  Jesus het egter nie gebid dat die Vader hulle uit die wêreld moes wegneem nie – dit was nog nie die regte tyd nie – maar dat Hy hulle van die Bose moes bewaar (v.15, Mt.6:13, Lk.22:31-32).

 

Die dissipels was dan in die wêreld (v.15), maar soos Jesus was hulle nie van die wêreld nie (v.16).  Hulle het aan Christus behoort:  Hy het hulle afgesonder om die waarheid van God se Woord te doen en aan die wêreld te verkondig (v.17-18, 1:1, 14, 14:6, 20:21, Mt.28:19).  Hy het Homself eers aan die kruis afgesonder, sodat Hy húlle daardeur kon afsonder om vir Hom te leef en die evangelie te verkondig (v.19, 1 Kor.1:2, 30, 6:11, Tit.2:14, Heb.10:10).

 

Jesus bid vir die kerk (v.20-26)

Ek het al by verskeie geleenthede dié aanhaling van Robert Murray McCheyne gebruik. Omdat dit so goed is, neem ek vrymoedigheid om dit weer te gebruik.  Hy het gesê:  ‘If I could hear Christ praying for me in the next room, I would not fear a million of enemies.  Yet the distance makes no difference.  He is praying for me.’[2]

 

En so maak die verloop van tyd ook nie ‘n verskil nie. Jesus het nou wel 2000 jaar gelede hierdie gebed gebid, maar die effek daarvan ervaar ons vandag nog in ons lewens.  Volgens v.20 het Jesus nie net vir die apostels gebid nie, maar ook vir dié wat in die toekoms deur hulle Woord in Jesus sou glo (v.20, 18-19, Rm.10:14).  Maak dit jou nie dankaar dat Jesus eeue tevore al vir jou redding gebid het nie?

 

En moet ons nie dieselfde doen nie? Laat ons bid, nie net vir ons kinders en kleinkinders nie, maar ook vir húlle agterkleinkinders en vir dié wat oor 250 jaar van nou af gebore sal word.  Ek dink nie ons besef eintlik watse effek ons voorvaders se gebede op ons gehad het, en watse effek ons gebede op Suid-Afrika en die wêreld in die jaar 2450 sal hê nie.

 

Soos wat die Ou Testament gelowiges vir 4000 jaar gebid het dat die Messias moet kom, is elke gebed wat ons bid nóg ‘n druppel in die emmer. Een druppel is nie baie nie, maar kan jy jou indink watse effek dit op die toekoms sal hê as tienduisende van die emmers wat in God se troonkamer staan vol is (Op.5:8, 8:3-5)?

 

Kyk maar na die effek van dit wat Jesus in Jh.17 gebid het. Hy het gebid dat die kerk een sal wees soos wat Hy en die Vader een is (v.21, 10:30, Ef.4:4-6, 1 Jh.1:3).  Die wêreld sien die verskillende denominasies en sê dat Jesus se gebede nie beantwoord is nie.  Hulle sien hoe kerke skeur, en sê dan dat Jesus se gebede misluk het.

 

Maar hulle kyk mis hoe die Vader reeds Jesus se gebede begin beantwoord het. Waar het jy al ooit van ‘n godsdiens of ‘n sosiale klub gehoor wat mense uit soveel verskillende agtergronde en kulture in een liggaam kan saambring?

 

Die Moslems sê dat húlle een is, en dat die Chrístene verdeeld is. Maar dit is húlle wat kort na hulle ontstaan in die Sunni en Shia faksies verdeel het, en nogsteeds onder mekaar veg tot die dood toe.  Dit is in Moslem state wat radikale groepe hulle eie mense doodmaak.

 

In die Christelike kerk omhels ons dié wat die Here Jesus en sy evangelie liefhet, al stem hulle nie met ons saam oor die uitverkiesing, die geestelike gawes of die doop nie. En dit is hierdie eenheid wat vir die wêreld wys dat Jesus die Seun van God is, en dat ons sy kinders is (v.21, 13:34-35).

 

Die wêreld het vergeet dat Jesus se gebed nog nie finaal beantwoord is nie, maar dat die Vader nog besig is om hierdie eenheid te bewerk.  Hy is besig om Christus se heerlike beeld in ons te vorm (v.22, 2 Kor.3:18, Kol.1:27).

 

Omdat almal van ons dan meer en meer soos Hý word, lyk ons ook meer na mekaar (v.22). Ons is soos troepe in ‘n weermag, waarvan almal eenders lyk.  Wanneer Jesus kom gaan ons almal soos Hý lyk (1 Jh.3:2).  Dán sal ons volmaak een wees soos wat die Vader en die Seun een is (v.22-23).

 

Hierdie eenheid bestaan nie net tussen ons en ander gelowiges nie, maar ook tussen ons en die Here. Deur die Gees wat in ons woon is ons reeds een met die Vader en die Seun (14:21, 23, Mt.28:19, 2 Pt.1:4).

 

Maar wanneer die Here kom sal ons volmaak een wees met Hom (v.23). Ons eenheid met mekaar is eintlik gebasseer op ons eenheid met Hom.  As ‘n huwelik, gesin, familie of gemeente dan verdeeld is, wys dit dat een of meer van die partye nie in ‘n nabye eenheid met die Here lewe nie.

 

Ek hoop dat dit jou help om te sien hoekom die wêreld se beskouing van Jesus tot ‘n groot mate van ons eenheid met mekaar afhang (v.23).  Die beeld wat hulle van God se liefde het kry hulle deur te kyk na hoe ons mekaar liefhet, net soos wat ‘n kind se gedrag vir jou iets van sy ouers sê (v.23).  Waar gemeentes en individuele Christene verdeeld is, is hulle soos ‘n Hollywood film wat die Here se Naam as ‘n vloekwoord gebruik.

 

Wanneer ek aan hierdie dinge dink, verlang ek daarna om by Jesus te wees. As ons eers in die hemel is, gaan ons eie belange en agendas nie meer vir ons belangrik wees nie.  Al wat vir ons gaan saakmaak is om die Vader en die Seun se wonderbare heerlikheid en ewige liefde te sien en te geniet (v.23-24, 5, Jer.31:3, Rm.9:23, Ef.1:4, 1 Pt.1:20).  Kan jy jou indink hoe dit moet wees om in ‘n wêreld van verwondering en liefde te lewe?

 

Ongelukkig is hierdie wêreld nie vir almal bedoel nie. Dit is net vir dié wat die Here ken en wat glo dat die Vader vir Jesus na die wêreld toe gestuur het om sondaars te red (v.25, 3, 3:16-17).  As jy Hom nie ken nie moet jy jousélf kwalik neem.  Jy het geweet dat Hy goed is en dat Hy bereid was om jou te red.

 

As jy jou sonde los en in geloof na Hom toe draai, sal Hy die Vader aan jou hart bekend maak en kan jy nóú al sy Goddelike liefde ervaar en geniet (v.26, 6, Eks.34:5-7, Lk.10:21-22, Rm.5:5, Heb.2:12). As jy Hom egter verwerp sal jy na ‘n wêreld toe gaan waar dit vir ewig nag is, waar mense en duiwels mekaar haat.

 

Ek hoop nie dat enige van my lesers of hoorders na daardie plek toe sal gaan nie. Ek hoop eerder dat jy mooi sal luister en sal sê:  ‘Shhh!  Dit klink of Jesus my naam bid.  Dit is my naam wat ek daar hoor!  Ek weet wat ek sal doen:  ek sal opstaan, my sonde los en terugkeer na my Vader toe.’

 

[1] B.B. Warfield, Calvin and Augustine, p.24

[2] Alexander Smellie, Biography of R.M. McCheyne: A burning light, p.128