Die blydskap en vrede wat Jesus gee

peaceful

‘n Maand nadat ek klaar gemaak het met skool, het ek by die WIMPY gewerk. Die baas se humeur was so wispelturig en onstabiel soos Kaapstad se weer.  Ek onthou hoe hy een oggend by die restaurant aangekom het en ‘n vrolike deuntjie gefluit het.  Hy het gesien dat iemand by die winkel ingebreek het, en het soos ‘n matroos gevloek.  Sy vrede en blydskap het van die omstandighede afgehang.  Volgens Jh.16:16-33 hoef dit nie so te wees vir Jesus se dissipels nie.

 

Blydskap (v.16-24)

Ek het ‘n dokumentêr oor die blouwildebeeste se migrasie in die Serengeti gekyk. Die film het gewys hoe die Serengeti in die droëseisoen aan die brand slaan, asook hoe die vulkansiese Ol Doinyo berg ontplof en sy as oor die vlaktes strooi.  Aanvanklik is beide rampe nadelig vir die natuur.  Maar in die langduur stel dit sekere minerale in die grond vry, sodat die gras beter kan groei.

 

En so het Jesus se kruisdood en hemelvaart vir die dissipels gelyk of dit nadelig is. Maar die voordele wat daaruit voortgekom het, het vir hulle groot blydskap gebring.  Dit is wat Jesus in v.16-24 vir hulle verduidelik het.

 

Hy het vir die dissipels gesê: “‘n Klein tydjie, en julle sal My nie sien nie; en weer ‘n klein tydjie, en julle sal My sien, omdat Ek na die Vader gaan.” (v.16).  Wat het Hy bedoel?  Dit was maar ‘n paar ure voordat Hy gekruisig sou word en die dissipels Hom nie meer sou sien nie.  Maar na sy kruisdood was dit ‘n kort tydjie voordat hulle weer die lewende Christus gesien het.

 

Na 40 dae sou Hy teruggekeer het na die Vader toe, sodat hulle Hom nie meer gesien het nie. Maar kort daarna sou Hy die Gees op hulle uitgestort het, sodat sy werke deur die Heilige Gees sigbaar geword het.  En dan sou almal van hulle voor die einde van die eerste eeu in die hemel gewees het, en weer vir Jesus gesien het.

 

Die dissipels het nie verstaan wat Hy bedoel het nie; hulle was te bang om Hom hieroor te vra. In ‘n sekere sin wou hulle nie verstaan het dat Hy oppad was na die Vader toe nie – dit was vir hulle te hartseer (v.6, 14:1, 28).  Hulle het besluit om dit onder hulleself te bespreek (v.17, Lk.9:44-45, 18:31-34).    ‘Hoe lank is ‘n klein tydjie?’ het hulle gewonder (v.18).

 

‘Ek weet wat julle bespreek’ het Jesus in effek vir hulle gesê (v.19). ‘Julle is verward en bekommerd, omdat julle nie weet Ek bedoel het nie.  Wat beteken dit toe Ek gesê het dat julle My oor ‘n klein rukkie nie meer sal sien nie, en dan oor ‘n klein rukkie weer sal sien?’ (v.19).

 

Die dissipels sou oor die kruis getreur het (v.20, 20:11, 13, 19, 24-25, Mk.16:10, Lk.23:27, 48-49, 24:17), maar in hulle haat vir Jesus sou die wêreld hulle hierin verbly het (v.20, 7:7, 15:18, Mt.27:22-23, 25, 27-30, 35-44, 47, Lk.22:63-65). Die dissipels se droefheid sou egter in blydskap verander het, omdat Jesus uit die dood uit sou opstaan (v.20, 20:20, 21:7, Mt.28:7-10, Lk.24:31-35, Jer.31:13).

 

Hulle sou soos ‘n vrou in ARWYP se kraamsaal gewees het: die kraam- en geboortepyne is erg, maar wanneer die kind ‘n kort tydjie later gebore word, onthou sy nie eers die pyn nie (v.21).  Die nuwe klein mensie wat in die wêreld ingekom het, het die ma se pyn in blydskap laat verander (v.21).

 

Net so oortref die blydskap van nuwe lewe deur Jesus se opstanding die droefheid van die kruis (v.21-22, Jes.26:16-21). Niemand kon hierdie blydskap by die dissipels gesteel het nie, omdat dit in die lewende Christus gegrond was, en nie in hulle omstandighede nie (v.22).  Nie eers vervolging kon die vuur van blydskap in hulle harte geblus het nie (Hd.5:41, 16:25, 2 Kor.6:10, Fil.4:4).

 

Op die dag waarin Jesus die Heilige Gees en sy blydskap aan die dissipels gegee het, sou hulle nie meer verward gewees het en vrae gevra het nie (v.23). Hy het juis die Gees na hulle toe gestuur om hulle alles te leer (v.12-13).  As hulle iets wou geweet het, kon hulle Hom in gebed gevra het (v.23).  En wat hulle in sy Naam gevra het, sou die Vader vir hulle gegee het (v.23).  Tot op daardie stadium het hulle nie iets in sy Naam gevra nie, omdat Hy by hulle was en hulle Hom direk kon vra (v.24).  Maar nou moes hulle in sy Naam gebid het, sodat hulle deur hulle gemeenskap met Hom en sy antwoorde op hulle gebede, blydskap kon hê (v.24, 15:11).

 

Dit geld ook vir ons. In Christus kan ons ‘n blydskap hê wat bo ons omstandighede uitstyg.  Dit is ‘n blydskap wat die Heilige Gees vir ons gee (Hd.8:8, 13:52, Rm.15:13), ‘n blydskap wat niemand kan steel nie (v.22).  Om dit weg te vat moet die duiwel en mense die Here by jou kan wegvat, en dit kan nie gebeur nie.  Sonde kan maak dat jou blydskap vir ‘n tyd lank verdwyn.  Maar dan sal die Here jou tugtig, sodat jy jou kan bekeer en vergewe word, en jy weer die vreugde van sy verlossing kan ervaar (Ps.51:14).

 

Hoe kan jy hierdie blydskap behou? Heel eerste moet jy seker maak dat jy nie soos ‘n vrou is wat met ‘n man trou omdat hy geld het, of ‘n man wat met ‘n vrou trou omdat sy goed gebou is nie.  Moenie na Jesus toe kom vir die vreugde wat jy by Hom kan kry nie; moet Hom nie soos ‘n anti-depressant gebruik nie.  As jou groot doel is om blydskap te hê, sal jy dit nie kry nie.  Maar as dit jou doel is om in ‘n nabye verhouding met Jesus te lewe, sal blydskap deel van die pakket wees (v.24, 15:11).

 

Moet daarom nie alewig probeer om in jou hart te kyk of daar blydskap is nie. Om te veel introspeksie of selfondersoek te doen is nie goed nie, omdat jy dan op jouself fokus en nie op Jesus nie.

 

C.S. Lewis het gesê dat ons eerder deur geloof na die objek van ons blydskap moet kyk. As jy bv. na ‘n waterval kyk (het hy gesê) dan geniet jy dit en bring dit vir jou blydskap.  Maar sodra jy op die blydskap fokus om te sien of dit eg is en jy nie meer na die waterval kyk nie, dan verdwyn die blydskap.

 

En so is dit ook in ons verhouding met Jesus. Kyk na Hom en moenie ‘n obsessie met sy blydskap hê, sodat jy eintlik op jouself en jou gevoelens fokus nie.

 

As Hý jou fokus is sal jy met Hom aanhou, selfs wanneer jy nie op die bergtop is nie. En as jy só lewe is dit ook waar dat jy nie vir lank in die donker vallei sal wees nie.  Hy sal jou uitbring, sodat die son van sy blydskap op jou sal skyn.

 

Om gedurig hierdie blydskap te geniet moet jy in gemeenskap met die Here lewe (v.24). Maar om net die Bybel te lees is nie genoeg nie.  Iemand kan elke 6 maande deur die Bybel lees en nie die Here se blydskap ervaar nie, omdat hy dit bloot as ‘n literêre werk bewonder, en nie as ‘n liefdesbrief van sy Vader af nie.  Hy leef nie in ‘n verhouding met die Here nie.  Daarom moet hy die Woord in sy hart bêre en dit gehoorsaam (15:7-11).

 

Dit is ook nie genoeg om net te bid nie. Sommige mense bid baie, maar ervaar nie die Here se blydskap nie.  En hulle sal ook nie, omdat Hy nie hulle gebede beantwoord nie.  Hy antwoord nie hulle gebede nie, omdat hulle nie in sy Naam bid nie (v.23-24).

 

Wat beteken dit om in sy Naam te bid? Dit beteken dat jy besef die Vader sal jou verhoor omdat Jesus in jou plek staan, en nie omdat jy opreg was, lank genoeg gebid het, gevas het, tien mense gekry het om saam te stem, genoeg geglo het, dit uitgespreek het, of vir ‘n maand lank opgehou rook het en dit nou ‘pay back time’ is nie.

 

Om in sy Naam te bid beteken ook dat jy nie vir dinge bid waarvoor Hý nie sou bid nie. Daarom moet jy vir die dinge bid wat Hy in die Bybel belowe het.  En as jy hiervoor bid, sal jy ontvang en sal jou blydskap volkome wees (v.24).  Jy sal bly wees omdat Hy so vrygewig is, en nie omdat jy ‘n nuwe speelding gekry het nie.  Jy mag vir dinge bid wat nie in Bybel staan nie, solank dit net nie teen die Bybel is nie.  Maar in sulke gevalle moet jy sê:  ‘Nogtans nie my wil nie, maar U wil geskied.’ (Mt.26:39).

 

Vrede (v.25-33)

Toe ek uit Jh.13 oor Judas gepreek het, het ek van James Bainham vertel. Vandag wil ek iets byvoeg wat ek nie tóé gesê het nie.  Die Katolieke owerhede het vir Bainham met ‘n ketting aan die brandstapel vasgemaak.  Die stadsklerk het vir die laksman gesê om die biskruit aan die brand te steek.  Die vlam het baie gou nader gekom en binne ‘n paar minute die slagoffer se arms en bene weggebrand.

 

Bainham het egter aan sy Verlosser gedink en uitgeroep: ‘Behold! You look for miracles, you may see one here; for in this fire I feel no more pain than if I were on a bed of down [Afr. donsvere], but it is to me as sweet as a bed of roses.’[1]  Bainham het die Here se vrede in sy hart gehad, ‘n vrede wat Hy aan al sy kinders belowe het.

 

In hfst.14-16, asook in die res van sy lering het Jesus beeldspraak gebruik (v.25, 21, 15:1-8, Mt.13:10-17). Die dissipels het dit nie verstaan nie (2:22, 12:16, 13:7, Mt.13:36), maar deur die Gees sou Hy die Vader aan hulle mistige harte en gedagtes geopenbaar het (v.25, 12-13).  Om die Vader beter te ken kon hulle in Jesus se Naam met Hom gepraat het (v.26).  Dit was nie nodig dat Hy namens hulle moes vra omdat die Vader hulle vir onthalwe verdra het, soos wat ‘n vrou haar skoondogter vir haar seun se onthalwe verdra nie (v.26).

 

Nee, maar die Vader self het hulle liefgehad, en daarom kon hulle met vrymoedigheid na Hom toe gekom het (v.27, 3:16).  Hy het ‘n spesiale liefde vir dié wat glo dat Jesus van die Vader af gekom het, net soos wat ‘n man liewer is vir sy eie vrou en kinders as vir ander mense s’n (v.27-28, 14:21, 23).

 

‘Nóú verstaan ons U!’ het die dissipels vir Hom gesê (v.29). ‘Dit is beter as U nie in beelde praat nie, maar eenvoudige taal gebruik (v.29).  U voorspelling oor U toekoms by die Vader gee vir ons die versekering dat U alles weet, en dat U daarom regtig van God af kom (v.30, 13:19, 16:4, 21:17, 2:24-25, Jes.41:23, 42:9).  En as U alles weet hoef ons U nie te bevraagteken nie (v.30).’  Só moet ons die dissipels se woorde in v.29-30 verstaan.

 

Die dissipels het gedink dat dit nie meer nodig was om vrae te vra nie, omdat hulle Jesus se lering verstaan het (v.23, 29-30).  Jesus het egter vir hulle gewys dat hulle te vinnig gepraat het.  ‘Is julle seker dat julle nou in My glo?’ het Hy in v.31 vir hulle gevra.  ‘Die uur is hier dat almal van julle My gaan verlaat om in julle huise weg te kruip.  Julle sal soos skape uitmekaar spat wanneer die wolwe op hulle afstorm (v.32, Sg.13:7, Mt.26:31).’  Duidelik was hulle geloof in Jesus nie so sterk soos wat hulle gedink het nie.

 

Maar al het hulle Hom ook alleen gelos was Hy nie heeltemal alleen nie, omdat sy Vader met Hom was (v.32, 8:29). Die Vader sou vir ‘n tydjie sy guns onttrek het (Mt.27:46), maar aan die einde van sy lewe het Jesus gebid en gesê:  “Vader, in u hande gee Ek my gees oor!” (Lk.23:46).  Jesus het dan nie gejok toe Hy gesê het dat die Vader by Hom was nie.

 

En soos wat die Vader aan die einde van alles sy vrede aan Hóm gegee het, gee Hy dit ook aan ons (v.33, 14:27). Ons het dit veral nodig as ons in ‘n situasie soos die dissipels s’n is, waarin dit vir ons voel of die Here ons verlaat het (13:36).  Ons het dit nodig wanneer ons verward is en nie weet wat die Here besig is om te doen nie (v.19).  Ons het dit nodig wanneer die toekoms bleker lyk as wat ons besef het (v.32).  Ons het dit nodig wanneer ons diep bedroef is (v.6, 20).

 

Hoe kan ons in hierdie tye die Here se vrede ervaar? Om die vrede van God te hê, moet jy eers vrede met Hom hê.  En dit kan jy net kry as Hy die sonde wat verdeeldheid tussen jou en Hom gebring het, vergewe.  Hoe kan jou sonde vergewe word?  Hoe kan Hy jou sondeskuld afgeskryf?

 

Jesus het aan die kruis gesterf en sy Vader se straf oor ons sonde geabsorbeer, soos wat droë grond water absorbeer. As jy op Jesus vertrou om jou te red en in Hom glo, sal die Vader sy kruisdood in jou plek aanvaar en jou sonde afskryf.

 

Maar omdat daar nou vrede tussen jou en God is, sal die wêreld jou haat (15:18-21). Ons kan sê dat die wêreld se vervolging ‘n gegewe is (v.33, Hd.14:22).  Maar ons kan ook sê dat die vrede van God in ons harte ‘n gegewe is (v.33).  Ons hoef dan nie bang te wees as die wêreld probeer om die Christelike geloof soos ‘n kers dood te blaas nie.  Jesus het die wêreld deur sy kruisdood en opstanding oorwin, en daarom kan die wêreld nie suksesvol wees nie (v.33).

 

Omdat ons in Jesus glo is sý oorwinning oor die wêreld ook óns s’n (Rm.8:37, 1 Kor.15:57, 1 Jh.5:4-5, Op.3:21, 12:11). Dit beteken dat die wêreld ons nie by die Here kan wegvat, of ons erfdeel in die hemel kan steel nie.  Hoe sal hulle dit regkry as die Oorwinnaar, die Here, aan ons kant is (Rm.8:31)?

 

En tog kom die Here se vrede nie outomaties na ons harte toe nie. Ons moet die middele gebruik wat Hy tot ons beskikking gestel het:

 

  • Bid en wees dankbaar (Fil.4:6-7, 2 Ts.3:16, 1 Pt.5:7).
  • Leef in vrede met ander mense (Ef.4:3, Kol.3:15, Heb.12:14).
  • Wees lief vir die Woord en word met die Gees gevul (Ps.119:165, Gal.5:22).
  • Bewaar jou gedagtes en dink reg (Rm.8:6).
  • Bely jou sonde en bekeer jou daarvan (Rm.5:1, Kol.1:20).

 

Kan ek jou reguit vra of jy hierdie vrede het? Nee? Hoekom nie? Is dit omdat jy nog ongered is? Toe my swaer tot bekering gekom het, het hy gesê dat dit vir hom gevoel het soos ‘n las wat van sy skouers afval. Hy het vrede gehad, en jy kan dit ook hê as jy na Jesus toe kom.

 

Is jy gelowige wat nie die Here se vrede in jou hart ervaar nie? Is dit omdat jy nie jou probleme in gebed na die Here toe vat nie? Skeep jy miskien die Bybel af? Is daar ‘n sonde wat jou gewete pla? Moet jy miskien vrede maak met iemand? Maak reg wat verkeerd is.

 

As jy dít gedoen het sal jy nie net vrede hê nie, maar ook blydskap. “those who plan peace have joy.” (Sp.12:20, ESV).

 

[1] J.H. Merle d’Aubigne, The Reformation in England: vol.1, p.101